18 APRIL 2004

TWEEDE SONDAG VAN PAASTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir Paastyd gebruik te word.

Fokusteks: Johannes 20:19-31

Ander tekste: Handelinge 5:27-32; Psalm 150; Openbaring 1:4-8

Inleiding

Die fokusteks van vandag speel af kort na die opstanding van Jesus uit die graf waar Hy sy dissipels stuur en die opdrag gee om sondes te vergewe. Saam daarmee is die geloof n sentrale tema. Om te glo is om te sien. In die teks self kom n aantal liturgiese elemente ook voor. Eerstens die vredesgroet van Jesus aan sy dissipels wat verseker vandag in die liturgie gebruik kan word. Naas die vredesgroet sou die toesegging van die vergifnis van God (ook retensie) n regmatige plek in die liturgie kon kry. Dit sou goed kon pas by die uitsending, die moment waar die gemeente gestuur word soos wat Jesus sy dissipels stuur. Met ander woorde, n liturgie wat uitmond in gelowiges wat vergewe is en gestuur word om te getuig van die opgestane Christus. Quasi Modo Geniti sien basisliturgie vir Paastyd oor die benaming van dié Sondag.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangswoord

Seëngroet

Vredesgroet

Die gemeente kry die geleentheid om in lyn met die fokusteks en die wyse waarop Jesus sy dissipels na die opstanding gegroet het, mekaar te groet. Gemeentelede draai na mekaar of loop na mekaar met die woorde "vrede vir jou".

Antwoord

As antwoord kan die Paaskers op Paassondag aangesteek word en n gebed gedoen word.

Sien basisliturgie.

Loflied

Lied 151-181/NSG 322; 352; 345; 343; 327; 44; 38; 160

Gebed

Here, onse God, ons wil U vandag prys, u kragtige dade loof, en u magtige grootheid prys! Trouens, die hele skepping as die teater van u glorie wil saam met ons u roem verkondig! Laat alles wat asemhaal, die Here prys! Van die sterrehemel tot die sand van die see, die voëls in die hemel en die blomme van die veld. Ja, soos die een dag vir die ander n boodskap aangee: U is waardig as die Lewende God, die roemryke God, om ons lof en aanbidding te ontvang.

Ons dank U dat ons aan Jesus Christus mag behoort, en dat ons by Hom veilig is. Ons staan verwonderd dat U, Jesus, leef en sit aan die regterhand van die Vader. Met ons hele lewens bring ons dank en eer aan U, ons genadige Heer. Ons bid maar stamelend u reddende wonderdade na. Saam met die koor van verlostes deur die eeue wil ons u troue sorg roem, die feit dat U, Jesus, die Here is, die enigste Hoof van u kerk, en dat alle eer en heerlikheid van ewigheid tot ewigheid U, die Seun, en ook die Vader, en die Heilige Gees, toekom. Ons gebed is dat ons lewens altyd u eer waardig sal wees, in n lewe van gehoorsaamheid en oorvloedig in goeie dade. Neem ons nou in besit deur die kragtige werking van u Heilige Gees. Amen.

DIENS VAN DIE WOORD

Skriflesings met response

Psalm 150

Openbaring 1:4-8

Handelinge 5:27-32

Gemeente antwoord met Lied 189 "Halleluja".

Johannes 20:19-31

Prediking

Gebed

Sang

Lied 411 "Kom, almal, laat jul stem verrys" /NSG 112. Gemeente sing as antwoord op die prediking.

DIENS VAN DIE TAFEL

Sien asisliturgie.

uitSENDING

Sien basisliturgie.

Dankoffer

Seën

PREEKSTUDIE JOHANNES 20:19-31

Teks

Vers 19: "Sondagaand". Die teks lees in die oorspronklike: eerste dag van die week. Dit was die aand van dieselfde dag wat in 20:1 genoem word.

"Vrede vir julle". Hierdie woorde is die standaard- Hebreeuse groet (hier natuurlik in Grieks weergegee), maar uit die konteks en vanweë die feit dat die werkwoord ontbreek, is dit volgens Brown meer as net `n groet. Dit is nie `n wens nie, maar `n feitelike aankondiging. Dit kom daarop neer dat die opgestane Christus vrede bring, en dit is veel meer as net `n groet. Dit is waarskynlik dieselfde idee wat ge-eggo word in die openingsgroet van die meeste Pauliniese briewe.

Vers 22: Hy blaas op hulle en sê: "Ontvang die Heilige Gees." Volgens verskeie uitleggers is dit Johannes se weergawe van Pinkster (soos bv. 12:27 Johannes se weergawe van Getsemane en 6:53-58 sy weergawe van die instelling van die nagmaal sou wees). Ander verklaar die Gees hier anders as die Heilige Gees, omdat die lidwoord nie gebruik word nie. Dit is egter nie nodig om die antwoord op hierdie soort problematiek te probeer vind nie. Elkeen van die vier evangelies staan in eie reg en gebruik woorde en gebeure in spesifieke kontekste. Wat vir ons belangrik is, is die punt van die verhaal in elke spesifieke geval.

Vers 23: Die uitspraak van Jesus aan die dissipels oor die vergifnis van sonde is bewys van die volmag wat nou aan hulle gegee word om namens Hom op te tree. Dit sluit by die uitstuurbevel aan (einde van 21). As hulle as verteenwoordigers van die verhoogde Here voortaan sondes sal vergewe, en ook die teendeel, `n oordeel sal uitspreek, dan is dit tog nie so dat hulle dit werklik self in eie krag doen nie. Dit kom daarop neer dat in die verkondiging daarvan deur die apostels, Jesus eintlik self spreek. Daarom staan die verkondiging en vergewing van sonde ook in nou verband met die gawe van die Heilige Gees wat in die vorige vers genoem is.

Vers 26: "terwyl die deure gesluit was." Alhoewel die teks lui dat dit gedoen is uit vrees vir die Jode, word Jesus se andersheid, sy nuwe vorm van bestaan, sy Godheid, hierdeur onderstreep (sien preekskets by Sondag 11 April 2004).

Vers 28: "My Here en my God". Dat Tomas Jesus hier Here noem, het `n gelaaide betekenis. Volgens die beste leksikon kan die Griekse woord wat hier gebruik word (kurios) een van vier moontlike betekenisse hê (sien preekstudie by Sondag 11 April 2004). Dit kan beteken: Sir (respekvolle aanspreekvorm), Owner (iemand wat eiendom en slawe besit, met die konnotasie van hoë status en respek), Ruler (iemand wat regeer en mag uitoefen oor ander) en Lord. Volgens die leksikon is die naam Lord `n titel vir God en vir Christus, wat so verduidelik word: one who exercises supernatural authority over mankind Lord, Ruler, One who commands. As Tomas by "Here" ook "God" byvoeg, is dit duidelik dat die vierde betekenis die toepaslike een hier is.

Vers 29: "glo jy". Die Griekse woord wat hier met "glo", vertaal is, kan volgens die leksikon vier moontlike betekenisse hê. Dit is: (1) om te glo dat iets waar is; (2) om te glo tot die punt van volle vertroue en/of om jou vertroue in iemand of iets te stel; (3) om te glo in die goeie nuus oor Jesus Christus en `n volgeling van Hom te word, om `n gelowige, `n Christen te word. Dit kom neer op die gelowige aanvaarding van `n spesifieke stel waarhede en volledige vertroue in `n spesifieke persoon, naamlik Jesus Christus. Dit is die volle Christelike geloof; (4) Om jouself of iets toe te vertrou aan iemand of aan die sorg van iemand. Elke keer wanneer hierdie Griekse woord in die teks van die Nuwe Testament voorkom, moet die vertaler en die leser dus besluit watter een van hierdie vier betekenisnuanses van toepassing is. Dit is nie moeilik om by hierdie vers te besluit dat dit die vierde betekenis is nie.

Konteks

Dat die vierde betekenis van die woord vir geloof in 29 van toepassing is, is hierbo reeds duidelik. Dit is belangrik om te besef dat die klimaks van die hele evangelie in 25 en 29 bereik word. Die kwessie van geloof is een van die deurlopende temas van die hele evangelie. Dit word reeds in die proloog aan die orde gestel (1:7, 12), en dan regdeur die hele evangelie ontwikkel, totdat dit in hierdie twee verse `n hoogtepunt bereik. Dit is byna `n vaste patroon in die evangelie, naamlik dat aan die einde van elke nuwe vertelling daar `n verwysing na geloof is (1:51; 2:11,22,23; 3:18,36; 4:39,41,42,53; 5:44,46,47; 6:40,47,64,69; 7:38,39; 8:30; 9:38; 10:42; 11:42; 12:11,46). Dit vorm telkens `n soort klimaks van die vertelling. Dit is waarop die hele storie uitloop of nie uitloop nie. Dit is veral ook nadat Jesus `n teken gedoen het (2:11; 4:53), of na `n teken die eintlike betekenis van die teken in `n gesprek verduidelik het, wanneer die geloof ter sprake kom (5:44, 46, 47; 6:40,47; 9:38; 11:42). In `n sin is dit waaroor die hele boek handel (kyk 20:30,31).

Dit volg vanselfsprekend dat Jesus in die drie jaar saam met sy dissipels juis ook hulle geloof wou help vestig en versterk. Dit was egter nie so `n eenvoudige taak nie, want telkens wanneer dit gelyk het of die dissipels nou glo (bv. 2:11), het dit weer geblyk dat hulle tog nie werklik geglo het, of in elk geval nie presies die inhoud van hulle geloof verstaan het nie (bv. 6:64; 7:5). Jesus is om die waarheid te sê, dwarsdeur die evangelie besig om aan hulle geloof te werk. Dit is ook uit die teks duidelik dat geloof met volle begrip eintlik eers moontlik was na die opstanding van Jesus en Pinkster (2:22; 7:39). In die meeste gevalle waar van die geloof van die dissipels in die Evangelie sprake is, moet ons dus aanvaar dat die eerste en tweede betekenis van die leksikon van toepassing is. Dit was dus nog nie volle Christelike geloof nie. Dit was natuurlik moontlik dat `n persoon die feite oor Jesus kon glo (betekenis 1) en selfs vertroue in Hom kon stel (betekenis 2), maar tog nog nie tot volle Christelike geloof gekom het nie eenvoudig omdat so `n persoon nog nie besef het wie en wat Jesus eintlik is nie, en dit ook nog nie aan hom/haar geopenbaar is nie. Eers nadat Tomas se geestesoë deur Jesus self oopgemaak is en hy besef het dat hy nie maar net met sy ou vriend nie, maar met God te doen het, roep hy uit: "My Here en my God!"

Wat merkwaardig is, is dat hierdie patroon regdeur die hele evangelie teruggevind kan word, naamlik dat die gevalle waar van volle Christelike geloof sprake is, slegs dié gevalle is waar Jesus Homself aan iemand geopenbaar het en daar `n egte ontmoeting met Jesus plaasgevind het. In dié ontmoeting ontdek die persoon werklik dat Jesus waarlik God is die verlosser van die wêreld (4:41, 53; 9:38; 20:8, 25, 29). Die verstommende feit is dat hierdie persone Hom reeds "geken" en met Hom te doen gehad het. In die een geval het Hy selfs al `n genesingswonder op die persoon toegepas deur sy blinde oë te open (Joh. 9). Tog het hy daarna nog nie "geglo" nie. Sy oë was geopen, maar die eintlike lig het hy nog nie gesien nie. Dit het eers later gebeur toe hy Jesus werklik "ontmoet" het. Die enigste ander gevalle waar hierdie derde betekenis van die woord "geloof" van toepassing is, is wanneer Jesus self in `n gesprek, informasie oor sy ware self gee (6:47; 14:29). Die slotsom is dus dat in die evangelie volgens Johannes, die derde betekenis van geloof die eksklusiewe resultaat van `n outentieke ontmoeting met die ware Jesus, die Seun van God is, ja met God self. Dit is wat nou hier met Tomas gebeur. Dit is waarom die hele evangelie geskryf is en waarvoor dit ook vandag gelees wil word.

Die betekenis wat aan die naam Here geheg moet word, hou volgens die leksikon ook verband met die ontwikkelingsgang wat ons in die evangelie vind. Dit kan op dieselfde wyse nagegaan word dwarsdeur die evangelie. Om die waarheid te sê, dit sou ook gedoen kon word met die begrip "sien" in die evangelie. Om waarlik te sien, en die ware lig te sien, staan teenoor om nie te sien nie (bv. 9:39-41), of om in die duisternis te wandel. Volgens Johannes is om waarlik te "sien", presies dieselfde as om te glo.

Preekvoorstel

Eerste moontlikheid

Tema: Het jy regtig die Here gesien? Hierdie eerste moontlikheid sou selfs by `n begrafnis veral as dit in Paastyd of Lydenstyd is, kon dien.

In Johannes 19 en 20 lees ons die verhaal van Jesus se dood, begrafnis, opstanding uit die dood en hemelvaart. Ons ken die verhale almal baie goed en lees dit dikwels in die Lydenstyd. Maar in die vertelling van hierdie verhaal en die opskrifstelling daarvan deur Johannes is daar een besonderheid wat van die allergrootste belang is en wat ons dikwels nie raaksien as ons hierdie verhaal lees nie. Dit is die een belangrikste besonderheid wat ek wil onderstreep. Hierdie enkele feit, wat terloops nie minder as drie keer hier voorkom nie, is so belangrik dat as dit nie daarvoor was nie, hierdie verhaal nie eers opgeteken sou gewees het nie. Trouens, hierdie een feit is so belangrik dat as u dit nie vandag hoor en vir u self toe-eien nie, dan het ek ongelukkig niks anders om vir u as troos aan te bied nie. Dan het u eintlik verniet na hierdie diens toe gekom.

Wat is hierdie een besonderheid van die verhaal? Dit staan op drie plekke in die verhaal (in 20:18, 25 en 28). In 18 sê Maria vir die dissipels: "Ek het die Here gesien!", in 25 sê die dissipels vir Tomas: "Ons het die Here gesien!" en in 28 roep Tomas self uit: "My Here en my God!" By lewe, dood en begrafnis gaan dit ten diepste om een ding: Het u die Here gesien? Jesus het gesterf en is begrawe. Sy dissipels is nog bedroef en ons lees dat Maria by die graf staan en huil het. Daar is so baie dinge wat Jesus gesê het toe Hy nog by hulle was wat hulle nie verstaan nie. En dan die onverwagte, onbegryplike: Maria ontdek skielik dat Jesus voor haar staan. Opgewonde gaan vertel sy vir die dissipels: "Ek het die Here gesien!" `n Bietjie later gebeur dieselfde ook met die dissipels, agter geslote deure en uiteindelik ook met Tomas: "Ons het die Here gesien!" Let op, hulle sê nie ons het vir Jesus gesien nie, maar ons het die Here gesien. Die Griekse woord wat ons met Here vertaal het, kan volgens die beste leksikon vier moontlike betekenisse hê (kyk hierbo). Sien u wat hier gebeur? Nou, na sy opstanding, noem Maria en die dissipels Hom nie meer Jesus soos `n vriend nie, maar nou is Hy hulle Here. Nou buig hulle voor Hom neer en aanbid en vereer hulle Hom as Here, one who exercises supernatural authority over them.

Dit is baie duidelik dat Jesus na sy opstanding nie sy ou vorm van lewe, wat Hy voor sy dood gehad het, weer opgeneem het nie. Dan sou Maria Hom dadelik herken het en Hy sou voor die geslote deur van die dissipels moes gestaan en klop het. Nee, na sy opstanding het Hy `n totaal nuwe vorm van bestaan ingegaan, nou vergestalt Hy bonatuurlike mag en gesag. Nou is Hy op `n nuwe manier teenwoordig. Om met Hom so in aanraking te kom, Hom so te "sien", verander `n mens se lewe radikaal. Niemand wat die opgestane Jesus "gesien" het, kan ooit weer dieselfde wees nie. Geen wonder nie dat Tomas uitroep: "My Here en my God!" Om die opgestane Jesus te sien, is nie net om sy opstandingskrag te sien nie, maar dit is om sy opstandingskrag wat Hy in my uitstort te ervaar. Dit is wat dit beteken om die Here te sien. Het u die Here gesien?

Die ervaring van die transformerende krag van die opgestane Here is die hart van die Christendom. Reg van die begin van die eerste eeu af was dit die sleutel tot die vrug van die Christendom, tot vandag toe. Die Christene het van die begin af aanspraak gemaak op die ervaring van `n krag wat die menslike verstand te bowe gaan. Van die begin af was dit hulle geheim: Jesus lewe en Hy is by ons sy krag is in ons. Daarvoor en daardeur het die martelare gesterf. Daarvan het Christene geleef tot vandag toe. Daarmee lewe ons vandag en daarmee kan ons mekaar troos en bemoedig. Jesus leef, Hy is by ons en sy krag werk in ons!

Het u al die Here gesien? Leef Hy vir u? Sien u hoe die opstandingservaring mense wat sonder hoop en sonder redding was, se lewens 180 grade omkeer wanneer Jesus hulle pad kruis? Is u `n draer van hierdie blye boodskap van hoop en troos aan die wêreld? `n Wêreld wat smag daarna om kontak te maak met n lewende, persoonlike, vergewende God, wat hulle lewens sinvol kan aanraak en verander? Dat Hy leef, is ons troos, ons hoop, ons krag, ons blydskap, ons boodskap. Dit alleen.

Tweede moontlikheid

Tema: Wat is ware geloof? Is jy bereid om jou volkome daaraan prys te gee?

Dieselfde preeklyn as hierbo kan gevolg word, maar met die fokus op die kwessie van geloof soos dit hierbo uitgewerk is. Daar kan veral ingegaan word op verskillende kategorieë van geloof; die ontwikkelingsproses wat die geloof van die dissipels deurloop het, asook die volle omvang en betekenis van geloof wat eintlik eers ná Pinkster moontlik was. Geloof is ten diepste `n gawe van God, ook volgens Johannes (1:12). Dit is nie `n menslike bydrae of prestasie nie. As daar nie `n bonatuurlike goddelike moment by is nie, dan is dit nie die geloof waarvan Johannes, en die res van die Bybel, praat nie.

In die tyd waarin ons lewe, is leë woorde alleen nie genoeg om die wêreld oortuig, of om self as Christen van te lewe nie. Die enigste antwoord wat ons kan bied, ook aan die kritiese postmoderne mens, is nie argumente oor die maagdelike geboorte, die opstanding of die werklike voorkoms al dan nie van wonderwerke nie, maar presies dieselfde as wat die evangelie volgens Johannes gedoen het. Al wat die evangelie is en wil doen, is om Jesus bekend te stel en te verduidelik wat `n ware lewe en werklike verhouding met Hom behels. Deur die eeue was dit die krag van die Christendom; `n lewende verhouding met die lewende opgestane Jesus. Om sy krag te ervaar en Jesus vir die wêreld te wys. Om sy lewensveranderende en helende krag in die lewens van gewone sondaarmense te demonstreer; as eg en waar te bewys deur alle geslagte en samelewings heen. Ja, tot vir die postmoderne mens met al sy twyfelvrae ook, selfs vir dié wat ná hom mag kom.

Bibliografie

Brown, R E 1972. The Gospel according to John (xiii-xxi). London: Geoffrey Chapman; Du Toit, B A 1991. The aspect of faith in the gospel of John with special reference to the farewell discourses of Jesus, in Neotestamentica 25(2) 327-340; Louw, J P & Nida, E A 1988. Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains. United Bible Society; Ridderbos, H 1992. Het Evangelie naar Johannes. Deel 2. Kampen: Kok; Schnackenburg, R 1982. The Gospel according to St John. Vol 3. London: Burns & Oates.