11 APRIL 2004

PAASFEESDIENS

Liturgiese voorstel

Fokusteks: Johannes 20:1-18

Ander tekste: Psalm 118:1-24; Handelinge 10:34-43; 1 Korintiërs 15:19-26 (1 Kor. 5:6-8)

Inleiding

Die skopus van die tekste vandag is die viering van die opstanding van Christus. God het deur die opstanding die mag van die dood oor ons lewens verbreek. Hierdie twee realiteite, te wete ons magteloosheid en sy magtigheid, moet langs mekaar gestel word: te wete die dissipels en Maria se angs enersyds omdat die Here weg is, en blydskap andersyds as Hy inderdaad lewend aan hulle verskyn. Die toonaard van die erediens beweeg met albei hierdie pole, te wete angs en sekerheid.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Intog

Die gemeente wag eers buite. Dan loop iemand (bv. 地 kind) die kerk binne met 地 brandende fakkel of kers. Iemand gaan saam om die Paaskers met hierdie vlam aan die brand te steek. Die res van die gemeente stap daarna die kerk binne. Alle ligte is op hierdie stadium af. Die gemeente gaan sit. 地 Transparant met die simbool van die opstanding (bv. leë graf/son) sou hier gebruik kon word. Gee tyd vir stilte. Iemand sit die ligte met tussenposes al hoe helderder aan, terwyl die voorganger begin met die aanvangswoord en die seëngroet, waarop die gemeente responsories antwoord. (Sien basisliturgie.)

Die Paaskers

Iemand doen 地 gebed by die Paaskers (sien basisliturgie), waarop die gemeente responsories antwoord.

Daarna sing die gemeente Lied 219 "Laat ons sing van ons Verlosser".

Of die volgende kan as antwoord van die gemeente gebruik word:

Voorganger: My vyande wou my platloop en my ondergang bewerk, maar die Here het my gehelp.

Gemeente: Aan sy liefde is daar geen einde nie!

Voorganger: In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry.

Gemeente: Aan sy liefde is daar geen einde nie!

Voorganger: Nasies het van alle kante op my afgestorm, my omsingel. In die Naam van die Here het ek hulle aanval afgeslaan.

Gemeente: Die Here triomfeer!/ Die Here doen kragtige dade!

Voorganger: Die Here het my swaar gekasty maar my nie aan die dood oorgegee nie.

Gemeente: Dit is die dag wat die Here gemaak het; / laat ons daaroor juig en bly wees!

Almal: Begin die fees! Aan sy liefde is daar geen einde nie!

(地 Praktiese hulp by enige responsoriese gebed is die volgende: 1. laat iemand met 地 mikrofoon die ritme voorpraat en 2. bring skuinsstrepe aan in kopieë van response in die gemeentebulletin.)

DIENS VAN DIE WATER

Doop  

Die voorganger kan kortliks 地 inleiding gee oor die doop in Paastyd (sien basisliturgie).

Voorganger:        Liewe broers en susters:

Deur die sakrament van die doop word ons saam met Christus in sy dood begrawe, sodat, net soos Jesus deur die magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so 地 nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.

Gemeente: Ons glo in Christus: / dat Hy gesterf het en dat Hy opgestaan het.

Voorganger: Soos deur die een mens, Adam, sonde in die wêreld gekom het, en deur die sonde die dood, so het deur die een Mens, Jesus Christus, genade oorvloedig in die wêreld gekom, en deur die genade, die nuwe lewe.

Gemeente: Laat ons God dank vir sy onuitspreeklike liefde.

Voorganger Vroeër was ons ook op die verkeerde pad, maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir ons verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. Ons doop is van hierdie wedergeboorte beide die teken en die seël. Ons word in die doop deur die Heilige Gees van ons sondes gewas en in 地 nuwe oorvloedige lewe ingelyf.

Gemeente: Ons loof die Here / vir die inisiatief wat Hy geneem het.

Voorganger: Julle is dus besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. God het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.

Gemeente: Ons sal roem / in hierdie wonderbaarlike gawe van Bo.

Voorganger: Geliefdes van die Here, julle weet nou dat deur die doop julle sondige bestaan beeïndig is. Julle is nie langer slawe van die sonde nie. Julle moet dus altyd onthou dat julle ook vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.  Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as 地 werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is. Moet u nie skaam vir die evangelie nie. Veg dapper as 地 dissipel van Christus teen die sonde, die wêreld en die duiwel, en bly getrou aan Christus tot aan die einde van jou lewe.

Gemeente: Ons onderneem om dit alles te doen / deur die krag wat Christus gee.

Voorganger: Gebed: Hemelse Vader, deur die krag van u Heilige Gees, gee aan u gelowige kinders die nuwe lewe in die water van die doop. Lei en versterk ons deur dieselfde Gees, sodat ons wat wedergebore is, U sal dien en sal groei tot die volmaakte beeld van u Seun, Jesus Christus, wat leef en heers saam met U in die eenheid met die Heilige Gees, van nou af tot in ewigheid.

 

Sang 

Lied 526 "Waar daar liefde is" Gemeente sing sittende.

Doopouers word opgeroep

Die volgende kan as geheel bykomend gedoen word, of net gedeeltelik:

Vriende, julle het sopas as deel van die gemeente die belydenis aangaande die doop beaam en die onderneming gegee dat julle julle daaraan verbind. 地 Mens sou dit ook soos volg kan vertel:

God het in die Ou Testament al 地 ooreenkoms met Abraham aangegaan (dit word 地 "verbond" genoem). Die goeie nuus? Julle nuwe babatjie is deel van daardie volk van God met wie Hy 地 spesiale verhouding wil hê. Die verbond is eintlik 地 soort testament waarin God 地 erfporsie aan sy kinders bemaak. By die doop bied God hierdie erfporsie aan julle kindjie aan.

Wat behels die erfporsie?

Jou kind word verseker dat God ook sy/haar God wil wees.

Dit beteken: Hy wil jou Vader wees wat vir jou sorg en jou liefhet.

Hy wil as Jesus Christus jou Verlosser en beste vriend wees.

Hy wil as Heilige Gees in jou kom woon en jou 地 nuwe mens maak.

Hierdie geskenk van God kan geen mens verdien nie, want ons sonde, waarmee ons al gebore word, veroorsaak dat ons die dood verdien. Dis Jesus wat die straf vir my sonde op Hom neem en aan die kruis in my plek sterf. Daarom kan Hy nou die Ewige Lewe as geskenk vir my aanbied.

Dat julle baba nog niks hiervan verstaan nie, beklemtoon juis hy/sy kan dit nie verdien nie, maar net ontvang.

Een van die maniere om te verduidelik wat daar in die kerk sal gebeur, is om te sê dis soos 地 opvoering met verskillende karakters.

Dis belangrik om te besef wat elke karakter se rol is.

God. Hy is die hoofkarakter. Hy neem die inisiatief: Hy staan voor julle babatjie met 地 aanbod ("Ek wil jou God wees") en met 地 versoek ("Sal jy my kind wees?), en belowe dat Hy julle kind se God sal wees en dat julle babatjie sy kind word.

Die kind. Hy/sy verstaan nou nog niks nie. Soos hy/sy groter word, moet dit vir hom/haar verduidelik word en hy/sy moet op die punt kom waar hy/sy dit ook aanvaar en sê: "Ja, Here, ek wil u kind wees. Dankie dat U al klaar vir my 地 Vader is."

Die ouer. Die ouer moet self 地 persoonlike verhouding met die Here hê en dit voor die kind leef. By die doop wy die ouer die kind aan die Here. Die kerk help maar net die ouer (bv. met kategese) om hom/haar van die Here te leer. Dit bly egter die ouer se verantwoordelikheid om vir die kind te wys dat die Here leef en hom/haar liefhet.

Die gemeente. Die gemeente is by die doop getuies van julle belofte. Hulle is verder die familie waarby julle babatjie ingetrek word. Hulle is ook julle broers en susters, wat julle moet help met dié groot taak.

Die wêreld. Die een, heilige, algemene, apostoliese kerk wêreldwyd ontvang u kind as gedoopte familie waar u ook al kom. Die doop verenig ons met al die gelowiges dwarsdeur die wêreld, ondanks verskille of geskille.

Daar is verkeerde redes om jou kindjie te laat doop!

Onthou asseblief ook dat die doop nie 地 naamgee-seremonie is nie; die kindjie het reeds 地 naam. By die doop kom bevestig God aan ons dat Hy hierdie kindjie se God is, net soos wat Hy ons God is.

Doopouers se antwoord

Ten eerste: Bely u dat, hoewel ons kinders as sondaars in die wêreld gekom het en daarom onder die oordeel van God staan, hulle nogtans in Christus aan God behoort en daarom as lidmate van sy gemeente gedoop moet word?

Ten tweede: Bely u dat die leer van die Ou en Nuwe Testament, wat ook in die artikels van die Christelike geloof vervat is en in die kerk hier geleer word, die ware en volkome leer van die verlossing is?

Ten derde: Beloof u om hierdie kind, van wie u vader en moeder is, in dié leer na die beste van u vermoë te onderrig en te laat onderrig?

Broers en susters (voorganger spreek gemeente aan):

Ek vra u om saam met hierdie kandidate u Christelike geloof hardop te bely:

Voorganger: Glo u in en vertrou u op God, die Vader?

Gemeente: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

Voorganger: Glo u in en vertrou u op sy Seun, Jesus Christus?

Gemeente: En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria,

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,

van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

Voorganger: Glo u in en vertrou u op die Heilige Gees?

Gemeente: Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan één, heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes;

die opstanding van die vlees en 'n ewige lewe. Amen.

Kindjie word ingebring

Doopbediening

Voorganger (spreek die dopeling aan):

"NN, jy behoort aan God en ons eien al God se beloftes vir jou toe."

(Voorganger kan 地 kruishandeling oor die kindjie doen.)

Voorganger (spreek die gemeente aan):

"Gemeente van die Here Jesus Christus, mag ek u voorstel aan ons nuwe lidmaat, NN"

(Kindjie kan opgetel en aan die gemeente gewys word.)

Gebed (dankgebed en voorbidding)

Sang

Lied 521 "Erkentlik deur die dae" Gemeente sing sittende.

Handdruk en oorhandiging van Bybel en doopkers

(Die idee is dat die doopkers elke jaar met die herdenking van die

kindjie se doopdatum as 地 herinnering aangesteek sal word.)

Klokke lui tydens oorhandiging.

Of

Doopherinnering

Indien daar geen dopelinge is nie, kan die liturgie bloot 地 doopherinnering wees.

DIENS VAN DIE WOORD

Skriflesings met response

Psalm 118

1 Korintiërs 15

Handelinge 10:34-43

Sang

Lied 189 "Halleluja"

Johannes 20:1-18

Vredesgroet

(Sien basisliturgie.)

Prediking

Gebed

God van ons lewe, dit is dae hierdie waarin die laste wat ons dra, ons skouers skaaf, die pad vaal en eindeloos voor ons uitstrek, die wolke grys en bedreigend bo ons hang. Dit is dae hierdie, Here, waarin die musiek in ons lewe stil geword het, ons harte seer en eensaam is, en ons alle moed en hoop verloor. Kom tog, Here; laat u lig weer skyn oor ons pad; hef ons oë op na waar u beloftes teen die horison van die opstanding geskrywe staan; stel ons ore in op die klank van die hoopvolle note van die oorwinning van Christus oor die magte. Gee ons 地 gevoel van een-wees met die geloofshelde wat volhard het tot die einde toe, en deur hulle twyfel en angs heen bly vertrou het op die getuienisse van diegene in die Skrif wat die lewende Jesus ontmoet het. Dan sal ons die moed hê om ander te bemoedig: hulle wat met ons die strawwe lewenspad loop. Ek vra dit tot eer en verheerliking van u heilige Naam.

(Verwerking van Augustinus van Hippo se gebed 5de eeu)

Sang

Lied 411 "Kom, almal, laat jul stem verrys"/NSG 112 (antwoord op die prediking)

DIENS VAN DIE TAFEL

(Sien basisliturgie.)

uitSENDING

(Sien basisliturgie.)

Dankoffer

Seën

Vir 地 volledige nagwaak-diens of 地 sonsopkoms-diens sien: The new handbook of the Christian Year, Hoyt L. Hickman, Abingdon Press, Nashville.

 

PREEKSTUDIE JOHANNES 20:1-18

Teks

20:1 "Die Sondagmôre vroeg": Die woorde in die oorspronklike taal is: "die eerste dag van die week" (Die Griekse woord sabbaton beteken beide sabbat of week. Hier duidelik laasgenoemde).

20:2 Let op die fyn genuanseerde manier waarop die teks van Petrus en Johannes praat. Dit is asof die vertelling wil seker maak dat Petrus die leier is, maar dat die ander dissipel vir Jesus baie liefgehad het. Nooit probeer die ander dissipel die leiding oorneem of die eer van Petrus af wegvat nie, maar as dit by die dryfkrag van die liefde kom, het hy vinniger gehardloop as Petrus. Sou hierdie gedistingeerde manier om die ander dissipel netjies en aanvaarbaar vir die leser voor te stel iemand wat sy plek ken maar wie se hart tog warm klop vir Jesus dalk iets verraai van die outeurskap van die evangelie?

20:12 Dit is opmerklik dat dit twee engele soos by Lukas, en nie een soos by Matteus en Markus was nie. Hulle was nie buite nie, maar binne die graf, by die koppenent en voetenent waar Jesus gelê het. Dit beklemtoon die betroubaarheid van hulle getuienis oor die leë graf, want in die mond van twee of drie getuies staan `n saak vas. Alhoewel die teks dit nie sê nie, is die suggestie tog dat dit hulle is wat die steen weggerol het.

20:17 Die uitspraak "my Vader en julle Vader en my God en julle God" open reeds die perspektief op die nuwe soort relasie tussen Jesus en sy dissipels wat nou begin ontstaan.

Konteks

". . .opvaar na die hemel": Wanneer Jesus sê dat Hy nog nie opgevaar het nie, skakel dit aan by die neerdaal-opvaar skema van die hele boek (1:1-3; 3:3 geboorte van bo; 3:13; 6:62; 10:30; 20:28). Van die begin af word Jesus in Johannes voorgestel as die een wat van bo kom, van die Vader af, self ook God is, en daarom God se enigste legitieme, gesagvolle openbaarder op hierdie aarde (1:18). Hy kom van bo, van God af, openbaar God en sy verlossingsplan en keer dan weer na die Vader terug. Hierdie skema deurbreek die bekende Joodse patroon wat die teenoorgestelde beweging voorstel. Volgens die Joodse skema kan `n mens slegs iets van God te wete kom as hy/sy as 稚 ware van onder af na bo beweeg, byvoorbeeld deur `n visioen of `n droom, of selfs deur `n engel wat instruksies gee (d.w.s. aan `n vreemdeling ten opsigte van die hemelse werklikheid word in `n kort oomblik net `n paar geheime meegedeel). Daarna kan die persoon weer terugkeer en die inhoud van wat "gesien" of "gehoor" is, aan ander meedeel. Johannes keer die patroon om. Deur die opvaar-neerdaal skema te vervang met `n neerdaal-opvaar skema, word die klem heeltemal verskuif. Nou is die beginpunt in die hemel en nie op die aarde nie. Die inisiatief is `n goddelike en nie `n menslike nie, terwyl die aarde, nie die hemel nie, die plek is wat besoek word. God word slegs legitiem bekend gemaak deur `n openbaarder wat self intieme kennis van God het, en in wie God self gemanifesteer is (Joh. 1:18). God kan slegs deur Jesus Christus ontmoet en geken word. Wanneer Jesus opvaar en terugkeer na die Vader, dan is God se openbaring afgehandel en voltooi, en het Hy vir die wêreld (hier onder) gesê en gewys wat Hy wou Jesus se goddelikheid is bevestig.

"My broers" (17) bevestig dat in Jesus se nuwe gestalte, sy dissipels nog steeds sy broers bly (natuurlik volgens die kultuurhistoriese oordrag van toe na nou, ook sy susters), en dat die nuwe intieme familieskap wat Hy kom stig het, voortgaan (Joh. 15:13,14, vgl. ook 19:25-27; Matt. 12:46-50; Mark. 3:31-35; Luk. 8:19-21).

Wat die literêre karakter van die teks betref, is die aard van Johannes se vertellings belangrik, want daarin lê reeds die kern van sy boodskap opgesluit. Dwarsdeur die evangelie volgens Johannes word `n mens getref deur die soberheid en reglynigheid van die vertellings. Dit is een van hierdie evangelie se kenmerke dat die vertellings soms voor die hand liggende gegewens weglaat en ander weer in fyn besonderhede weergee. Slegs wat van belang is vir die doel van die outeur, dit wat hy/sy met die verhaal wil sê (die "punch line" van die verhaal), word gegee en in besonderhede uitgebou. Net soos by ander verhale in Johannes, is dit dus van die grootste belang om ook hier fyn te lees en te kyk wat hy weglaat het, en noukeurig te let op dit wat in besonderhede vertel word. Presies so ontdek ons die fokus van die verhaal en kan dit ons help om die boodskap te ontsyfer.

Dit val op dat die verhaal nie vir ons die probleem opklaar hoe Jesus uit die graf gekom het, of waar Hy nou is nie. Maria se vraag wat sy herhaaldelik vra (20:2, 13, 15), word nie beantwoord nie. Sy staan maar daar by die graf en huil (20:11). Die feit van die leë graf is belangrik, maar die historiese besonderhede daaromheen nie. Die verhaal wil nie die nuuskierigheid en kritiese vrae van "wetenskaplikes" beantwoord nie. Daar word nie gesê hoe nie. Historiese rekonstruksie is nie die punt nie. Wat wel van belang is, is dat die graf leeg is en dat daar meer as een getuie daarvoor is (twee engele, Maria, Petrus en die ander dissipel). Wat juis merkwaardig is, is dat hierdie evangelie (net soos Lukas) twee engele vermeld wat getuies van die leë graf was. Die feit dat `n waarheid in die mond van twee of drie getuies vas staan, is hier belangrik, want op dieselfde wyse word die optrede van beide Petrus en die ander dissipel ook saam bespreek. Wanneer Maria aan die einde van die verhaal (18) vir die dissipels gaan vertel wat met haar gebeur het, was daar dus wel twee getuies wat die gebeure kon bevestig.

Aan die ander kant aksentueer die detail van die verhaal, soos die klip wat op onverklaarbare wyse weggerol was (20:1), waar die doeke was en hoe die opgerolde kopdoek eenkant gelê het (20:5, 6, 7), asook die teenwoordigheid van engele (20:12), die feit dat hier `n hoër hand betrokke was. Die teenwoordigheid van `n hoër hand word verder versterk deur die mededeling dat die ander dissipel gesien en geglo het (20:8), en dat die Skrif reeds daarop gedui het dat Jesus uit die dood moes opstaan (20:9 ons kry nie 創 aanduiding van presies watter Skrifgedeelte bedoel word nie, maar volgens Ridderbos dui dit op die hele Skrif). In die samestelling van die evangelie as `n geheel is albei hierdie laaste twee sake baie belangrik, naamlik die feit dat Johannes die verhaal aan die beloftes van die Ou Testament verbind, sowel as aan die deurlopende tema van die geloof. Op die ou end is die hele evangelie bedoel om die geloof in Jesus te voed en te versterk (20:30,31), terwyl die inhoud van die Ou en die Nuwe Testament die wyse is waarop Jesus in die kerk geken en met Hom as lewende Here geleef moet word. In hierdie dinamika speel die betekenis van die opstanding van Jesus geen geringe rol nie.

`n Volgende uiters belangrike aspek van die verhaal is dat die gegewe van `n leë graf op die vertelling van `n nuwe teenwoordigheid van Jesus uitloop. Dit is ten slotte nie die afwesigheid van `n liggaam wat die vroeë Christene se diepste ervaring was nie, maar `n nuwe heerliker teenwoordigheid. Wat aan die wêreld verklaar moet word, is nie `n afwesigheid nie, maar `n nuwe vorm van teenwoordigheid. Daarin lê die punt van die verhaal. Dit is asof die verteller weer eens die punt wil beklemtoon dat dit nie belangrik is om bewyse te soek wat die historiese feit van die leë graf en die opstanding kan verklaar nie. Hy wil die leser help om op die lewende Jesus te fokus.

Dit is dan ook so dat die aanspraak van Christene later ten opsigte van die opstanding van Jesus nie is dat Hy sy ou vorm van lewe weer opgeneem het nie, maar dat Hy na sy dood in `n totaal nuwe vorm van bestaan ingegaan het, een waarin Hy die krag van God gedeel het en waarin Hy ook daardie krag met ander kon deel. Daar bestaan wel vroeë tradisies oor die oop graf, maar dit vorm nie die hart van die opstandingservaring nie. Die afwesigheid van `n liggaam kan nie op sigself `n gemeenskap bekragtig nie. Dit is `n nuwe vorm van teenwoordigheid wat verklaar moet word, nie `n afwesigheid nie. Dit is waarom dit in die Christendom gaan. Die Christelike geloof was nooit nie aan die begin nie en ook nie nou nie op historiese rekonstruksie van Jesus gebaseer nie, hoewel dit tog altyd sekere historiese aansprake aangaande Jesus behels het. Die Christelike geloof is gebaseer op religieuse aansprake aangaande die teenswoordige krag van Jesus.

Die volgende vlak waarop die verhaal beweeg en net so kardinaal is vir die verstaan van die opstandingsboodskap, is die ervaring van hierdie eerste getuies van die opstanding, wat `n diepe geloofservaring word. Wanneer Jesus Maria op haar naam noem, gaan haar oë oop en besef sy wie dit is wat met haar praat. Daarop antwoord sy: "Rabboeni!", dit beteken leermeester. Onmiddellik daarna (17) begin Jesus met haar praat van sy opvaar na die Vader. Drie maal word na die Vader verwys en twee maal word Hy God genoem. Die teks laat dit deurskemer dat hierdie vir Maria `n ervaring was wat haar hele lewe verander het. Na hierdie ervaring gaan sy na die dissipels en sê vir hulle: "Ek het die Here gesien." Sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het. `n Mens kan aanvaar dat hierdie woorde van Maria gelaaide woorde was. As sy sê: "Ek het die Here gesien" (18) en die woord kurion gebruik, dan kan dit volgens die leksikon van Louw en Nida een van vier betekenisse hê. Dit kan beteken: Sir (as respekvolle aanspreekvorm), Owner (iemand wat eiendom en slawe besit, met die konnotasie van hoë status en respek), Ruler (iemand wat regeer en mag uitoefen oor ander), en Lord. Volgens die leksikon is die naam Lord, hier `n titel vir God en vir Christus. Dit word so verduidelik: one who exercises supernatural authority over mankind Lord, Ruler, One who commands. Uit die teksverband is dit duidelik dat laasgenoemde hier die toepaslike betekenis is miskien die heel eerste keer wat Maria Hom so noem, met die volle betekenis van die woord. (Die ander twee kere wat sy die woord in 2 en 13 gebruik, voordat Jesus Hom aan haar geopenbaar het, moet óf een van die ander drie betekenisse dra óf dit moet in die dinamika van die vertelling dieselfde betekenis kry, alhoewel Maria die volle omvang daarvan nog nie besef het nie.) In hierdie enkele ontmoeting word die opgestane Jesus vir Maria, Lord. Dit is asof dit haar tot `n nuwe toewyding aan die Meester in sy nuwe gestalte bring `n goddelike gestalte. Dit is `n ervaring wat sy nooit sou vergeet nie.

Later het ook dit uit die getuienis van Christene geblyk dat die hart van die Christendom `n ervaring en `n aanspraak is. Die ervaring is een van transformerende, transendente, persoonlike krag in gemeenskappe, wat kortweg as die gawe van die Heilige Gees beskryf kan word. Die aanspraak is dat hierdie krag van Jesus wat gekruisig is, kom, maar wat nou Goddelike lewe het en só uitgedruk word: Jesus is Here! (vgl. 1 Kor. 12:3; 15:14).

Preekvoorstel

Tema: `n Nuwe bestaanswyse vir Jesus en die kerk (`n Opgestane Christus skep `n opstandingskerk). Opstandingsondag is die hoogtepunt van Christene se Paasviering. In `n sekere sin die hoogtepunt van die Christelike feeskalender. Die Christendom in sy klassieke vorm het homself nie in die eerste plek gebaseer op die bediening van Jesus nie, maar op sy opstanding; op die aanspraak dat Hy na sy kruisdood en begrafnis die kragtige lewe van God binnegegaan en dat Hy daardie lewe (en krag), waarvan die Heilige Gees die simbool is, met dié wat dit kan ontvang, gedeel het. Dit is jammer dat dit in ons kerklike tradisie toegelaat is dat Kersfees die eerste posisie onder die feeste ingeneem het. Die verhaal van die opstanding van Jesus in die Johannes-evangelie vorm die hoogtepunt van die Jesusbekendstelling van die evangelie. Een van die belangrikste oogmerke van die vierde evangelie is om Jesus bekend te stel. Johannes 20 vorm in meer as een opsig die hoogtepunt, die klimaks, daarvan. Die betekenis van die opstanding volgens die vertelling van Johannes ook vir vandag kan in die volgende drie punte saamgevat word:

1. Die leë graf stel `n nuwe vorm van teenwoordigheid voor.

Soos hierbo verduidelik moet die punt in die teks baie goed raakgesien word dat Jesus beslis nie na sy opstanding sy ou vorm van bestaan weer aangeneem het nie. Hy het `n nuwe vorm van bestaan binnegegaan. Die eerste deel van die opstandingsverhaal fokus op die leë graf en die getuies daarvan. Die Jesus wat begrawe is, is daar nie meer nie. Die plek waar Hy neergelê is, is leeg. Net die grafdoeke het daar agtergebly. Wie Maria in die tuin ontmoet, is `n nuwe Jesus. So anders dat sy Hom eers nie kon herken nie. Nadat Hy Hom aan haar bekend gemaak en sy Hom herken het, was Hy haar Here een wat bonatuurlike krag besit en aan wie se krag en kontrole sy haarself oorgegee het. Opstanding beteken die roete van die menslike Jesus tot in die krag van God. Dan is dit per definisie nie "histories" as menslike gebeure, in die sin van 創 menslike gebeurtenis in tyd en ruimte nie. Per definisie verhef die opstanding Jesus bo die menslike uit. Hy kan nie langer gedefinieer word deur tyd en ruimte nie. Tog is hy vir mense in tyd en ruimte beskikbaar.

Waarop die kerk van toe af gebou is, is nie die leë graf nie, maar die nuwe teenwoordigheid van Jesus deur sy Gees in die krag van God. Die belydenis en ervaring van die kerk, na Jesus se dood, dat Hy lewe en kragtig by hulle teenwoordig is, was die hart van die vroeë kerk. Dit was natuurlik te veel vir die wêreld om te verstaan en te verwerk. Dat die kragtige teenwoordigheid van die lewende opgestane Jesus mense se lewens so radikaal verander het, kon hulle nie begryp nie. Hierdie oortuiging van die vroeë Christene dat Jesus lewe en kragtig aan die werk in die gemeenskap is, is die implisiete en soms ook eksplisiete voorveronderstelling van die geskrifte van die Nuwe Testament. Is dit nog by ons ook so, of het die kerk so geïnstitusionaliseer geraak dat ons die teenwoordigheid van die lewende Jesus in ons midde nie meer verstaan nie?

2. Die opstanding bied `n nuwe ervaring van Jesus.

Die teks beskrywe iets van die onvergeetlike lewensveranderende ervaring wat Maria daar in die tuin gehad het. Sy kom daar met hartseer en ontsteltenis en verwarring. Sy soek die liggaam van haar Meester en vind dit nie. Tot drie maal in die verhaal herhaal sy: "Hulle het hom weggevat en ek weet nie waar hulle Hom begrawe het nie." Dan gebeur die wonder. Haar geestesoë word oopgemaak sodat sy kan sien dat die man wat voor haar staan, Jesus is. Onmiddellik verander alles. Wat `n blye ervaring moes dit nie gewees het nie. Alles in haar gemoed het verander en radikaal omgekeer. Van hartseer na blydskap, van verterende wanhoop na heerlike sekerheid, van absolute verlatenheid na absolute nabyheid. So geweldig was haar ervaring, dat sy Jesus vasgryp en Hy vir haar moet sê: "Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie."

Sonder twyfel lê die hart van die Christendom opgesluit in `n ervaring. Dit was so in die begin en dit was so deur die eeue. Wat die kerk deur die eeue in stand gehou het, was nie sekere histories bewysbare waarhede nie, dit was nie starre dogmas nie, maar dit was `n ervaring. `n Ervaring van die teenwoordigheid en die krag van Christus in hulle midde. Die kerk begin veragter in die genade wanneer Jesus nie meer in die absolute middelpunt staan van alles wat die kerk doen en sê en beplan nie; wanneer die ervaring van Jesus se teenwoordigheid en van sy krag nie meer die spilpunt van die kerk se bedrywighede is nie, maar die aksent verskuif na die mense in die kerk en die materiële besittings van die kerk en die lopende rekening van die kerk en die hiërargie binne die kerk. As die eer van mense, en die onbuigsaamheid van mense en die selfgeldingsdrang van mense, so na vore begin tree in die kerk dat die ervaring van en met die lewende Jesus in hulle midde, op die agtergrond vervaag, dan is die skrif vir die kerk aan die muur.

3. Die nuwe vorm van teenwoordigheid en die nuwe ervaring word geken deur die geloof.

Die verhaal van Johannes 20 maak geen geheim daarvan dat die nuwe teenwoordigheid van Jesus en die egte ervaring van hierdie Jesus nie `n saak is wat slegs op die vlak van menslike moontlikheid lê nie. Hier is `n element by wat die mens se vermoë oorskry. Hier is die hand van God self teenwoordig. Dit kan slegs geken en aanvaar word deur die geloof en geloof is `n gawe van God. Jesus se verskyning aan Maria en ook al Jesus se latere verskynings, het nie soseer oor die feit dat Jesus "lewend" was, gegaan nie, maar oor die ervaring dat Hy lewe gee. Dit het sy volgelinge bekragtig. Die opstandingservaring wat die kerk gegrondves het, is nie soseer gebaseer op die kortstondige ontmoetings van `n paar mense tydens Paasfees en kort daarna nie, maar op die ervaring van die krag van die opgestane, lewend-teenwoordige, aktief-werkende Jesus, deur geslagte van mense, oor die eeue heen tot vandag. Dit is die ervaring van die veranderde/getransformeerde Jesus as Here wat die Christelike beweging begin het. Die opstanding is die noodsaaklike en voldoende oorsaak van die religieuse beweging. Ook die literatuur wat dit gegenereer het, openbaar oral die persepsie van Jesus, as ervaring van sy transformerende krag.

Die teks in Efesiërs 2:8 wat sê dat geloof `n gawe van God is, is baie bekend, maar Johannes sê dit ook. Trouens, Johannes sê dit al in die proloog (1:12). Dit is juis die vers wat so baie mense presies verkeerd lees asof geloof `n menslike bydrae of prestasie is. Die hoofsin van 1:12 is dat God mag gee om kinders van God te word. Hy gee dit aan hulle (indirekte voorwerp). Die res van die sin kwalifiseer hierdie indirekte voorwerp, aan hulle, naamlik: hulle wat Hom aangeneem het, in Hom glo, en nie deur die drang van `n mens of uit die besluit van `n man nie, maar uit God gebore is.

Die 2 000 jaar van die kerk se bestaan, is nie die prestasie van sy lidmate, die mense van die kerk nie, dit is genade van God.

Dit is hierdie genade wat vandag nog die kerk dra, in stand hou en laat uitbrei, maar dan vra hierdie God onvoorwaardelike toewyding aan die lewende Jesus in ons midde. Paasfees en opstandingsfees het net betekenis as ons die egte opgestane Here ken en aan die wêreld voorhou. Dit alleen, Hy alleen, kan tot vandag toe nog mense hartgrondig verander en die kerk help om die stukkende wêreld waarin ons leef, `n nuwe plek te maak.

Bibliografie

Brown, R E 1972. The Gospel according to John (xiii-xxi). London: Geoffrey Chapman; Ridderbos, H 1992. Het Evangelie naar Johannes. Deel 2. Kampen: Kok; Schnackenburg, R 1982. The Gospel according to St John. Vol 3. London: Burns & Oates; Johnson, L T 1997. The Real Jesus. San Francisco: Harper.