29 Maart 2002

Goeie Vrydag

LITURGIESE VOORSTEL (1)

Fokusteks: Johannes 19:17-42.

Ander tekste: Jesaja 52:13-53:12; Psalm 22; Hebreërs 10:16-25.

INLEIDING

Die voorstelle in verlede jaar se Preekstudies met liturgiese voorstelle kan myns insiens feitlik onveranderd gebruik

word. As variasie kan die volgende gebruik word:

Om die gemeente te help om op die kruisiging van Christus te fokus sal dit goed wees as n kruis voor die diens by

die kerk ingedra word. Die gemeente kan óf die kruis van buite af die kerk in volg óf hulle kan opstaan wanneer die

kruis ingebring word. n Lied wat gepas is vir hierdie geleentheid, byvoorbeeld SOM 1/NSG 104, kan gesing word

terwyl die kruis ingedra en op n prominente plek in die liturgiese ruimte neergesit word.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Votum

Hiervoor kan Psalm 22:2-6 gebruik word.

Seëngroet

Antwoord op groet

Die gemeente sing Gesang 120/NSG 105.

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Here Jesus, vandag word ons weer in verbystering stil voor u liefde: dat U gekom het na die wêreld toe om te sterf.

Ons is verbyster daaroor, Here, want dis nie soos ons is nie. Dankie dat U nie soos ons is nie, Here. Dankie dat U

Uself gegee het tot in die dood. Dankie dat U ons Verlosser geword het.

Ons aanbid U, Here Jesus, Koning van die kerk en van ons lewe. Wil U tog op hierdie dag opnuut Uself aan

ons verbind; wil U ons asseblief deur u Heilige Gees verander dat ons soos U kan word, U kan navolg,

onsself kan aflê. Word U tog meer in ons, Here Jesus, sodat dit nie meer ons sal wees wat lewe nie, maar

U in ons!

Seun van God wat gekom het om u lewe vir ons af te lê, hoor ons gebed!

Skenk ons die visie, o Vader, om soos U na die wêreld te kyk. Om nie die wêreld te sien as n probleem nie, maar

as mense wat u liefde en u genade nodig het, as mense wat iewers langs die pad die spoor byster geraak het, sodat

U in Christus Jesus hulle weer kom soek het. Vergewe ons dat ons net dié liefhet wat vir ons liefhet, dat ons net vir

hulle bid wat naby ons staan, dat ons tevrede is om met ons eie klein kringetjie gelowiges voort te gaan.

O Vader wat nie behae het in die dood van die sondaar nie, maar daarin dat hy hom bekeer en kan lewe, hoor ons

gebed!

En nou, o Gees van God, bid ons dat U in ons sal werk, sodat Christus in ons lewe verheerlik sal word. Bly met ons

besig, o Gees, totdat die dag kom waarop elke knie voor Christus sal buig en elke tong sal bely: Jesus is Here!

Dit alles vra ons met die gebed dat U verheerlik sal word in ons.

Amen.

Skriflesing

Johannes 19:17-37 (vv 38-42 is ook deel van die Leesroosterteks en kan ook gelees word indien dit verkies word).

Prediking

Antwoord op die prediking

Die gemeente kan nou uitgenooi word om op n sigbare manier hulle skuld aan Jesus se kruisdood te bely deur die

sonde(s) wat hulle wil bely op n stukkie papier te skryf en (met wondergom) aan die kruis in die liturgiese ruim te

kom vasplak. Vir hierdie doel moet daar vooraf genoeg papiertjies en potlode gereed wees, asook balletjies

wondergom. Wees rustig en gee die lidmate genoeg tyd baie sal nie van die geleentheid gebruik maak nie, maar

baie sal wel.

Nadat die skuld klaar teen die kruis vasgeplak is, kan n paar diakens dit afhaal en in n draadmandjie gooi. Die liturg

steek dan die papiertjies aan die brand en sê: "Jesus se bloed reinig van alle sonde. So seker soos die woorde wat

jy op die papiertjie geskryf het, weggebrand is, so seker is jou sonde aan die kruis weggewas."

DIENS VAN DIE TAFEL

n Volledige nagmaalformulier sou myns insiens hier onvanpas wees.

Gereedmaak van die tafel

Die gemeente sing Gesang 115 of Gesang 122/NSG 103 terwyl die tafel gereed gemaak word.

Hierna lees die liturg Hebreërs 10:19-23 (of v 25, afhangende van wat in die preek aan die orde was).

Nagmaalepiklese

Berig (1 Kor 11)

Instelling

Uitdeling

Kommunie

Lofverheffing

In plaas van die gebruiklike lofverheffing (Ps 103) wat in die formulierboek staan, kan Jesaja 53 vanoggend gebruik

word. Die liturg kan dit self voorlees, maar n begaafde lidmaat wat hierdie hartroerende gedeelte gevoelvol kan

lees, sal dalk die gemeente beter dien.

UITSENDING

Sang

Gesang 130/NSG 108.

Seën

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Toetreelied

Psalm 84:1, 5.

Votum

Liturg: Ek sien die berge en ek vra: Waar kom my hulp vandaan?

Gemeente: Die Here hoor my aan: Hy sal my vóór ek struikel dra;

sy waaksame ontferming bied teen gevaar beskerming. Amen.

LITURGIESE VOORSTEL (2)

Seëngroet

Loflied

Psalm 33:1, 5, 7.

Wet

Sang

Psalm 119:2.

Skriflesing

Deuteronomium 6:4-9.

Sang

Psalm 119:4, 8.

Skuldbelydenis

Vryspraak

Bevrydingslied

Gesang 230.

Geloofsbelydenis

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Gebed

Sing

Psalm 119:26-27.

Skriflesing

Johannes 19:17-42.

Preek

Gebed

UITSENDING

Dankoffers

Lied

Seënbede

Sing

Psalm 134:1-2.

Sing

Amen.

Liedere uit nuwe Liedboek.

Teks

Die kruisverhaal bevat vier aangrypende tonele: die vier dobbelende soldate (Joh 19:23-24); die drie vroue (19:25-

27); Jesus blaas sy laaste asem uit (19:28-30), en die steek in Jesus se sy (19:31-37).

Die voorgestelde perikoop is groot in omvang (Joh 19:17-42). Vir een preek is dit te veel. Daarom kies ek n korter

eenheid uit die ontroerende verhaal, naamlik Johannes 19:17-27. Oor dié gedeelte maak ek enkele eksegetieshermeneutiese

aantekeninge.

Nadat die regter die veroordeelde oorgegee het, word Hy deur die soldate geneem na die plek waar die vonnis

voltrek is (Joh 19:16b-18). Meestal word die veroordeelde gedwing om self die swaar dwarsbalk (patibulum) te dra

(Haenchen 1984:192). Die kruispaal (staticulum) is reeds op die teregstellingsplek opgestel (Van Houwelingen

1997:367). Hoewel Jesus in alle opsigte die slagoffer van sy teenstanders is, bly Hy die hoofkarakter in die verhaal.

Die kruis is vir Johannes die merkpaal van die mens se skuld en God se "verhoging" van die Gekruisigde

(Schnackenburg 1975:313-314). Hy neem self sy kruis en dra dit na Golgota. Die opvallende swye oor Simon van

Sirene kan moontlik toegeskryf word aan die verteller se oogmerk om Jesus Christus voor te stel as die gehoorsame

Seun wat sy lyding vrywillig aanvaar (Brown 1972:917). Hy is die nederige Seun van God. Jesus dra sy kruis self

omdat niemand anders dit vir Hom kan doen nie (Morris 1995:711; Schnelle 1998:283).

Golgota was n bekende teregstellingsplek, vlak buite die stad (Joh 19:20). Tans is Golgota waarskynlik binne die

Heilige Grafkerk in Jerusalem. Jesus kry die erekruisplek: in die middel (Schnackenburg 1975:314; Schnelle

1998:284). Die twee ander kruiselinge is Selote. Die aanhangers van die Selote-party het hulle opgehou met geweld

en opstand (Theissen 1990:198-200, 216). Die twee kruiselinge vorm die twee doodsflanke. Kruisiging was n

barbaarse marteling en staan bekend as een van die gruwelikste maniere om iemand te laat sterf. (Vir n beskrywing

van die kruisdaad, vgl Morris 1995:712-713; Van Houwelingen 1997:368; Schnelle 1998:284-285).

Al het Pilatus sy hande in onskuld gewas, is sy rol nog nie klaar gespeel nie. Sy woorde het in n verklaring gestol.

Meer as dit: sy woorde kry n teologiese en soteriologiese betekenis wat hy in sy wildste drome nooit voorsien het

nie. Só kan God alles op die kop staanmaak. In Johannes 19:19-22 word vertel van die opskrif (titulus) wat Pilatus

aan die kruis laat sit het. Die opskrif lui: "Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode". n Mens kry die indruk dat

Pilatus sy laaste seggenskap oor die Jode wil bewys deur Jesus aan die kruis te bekroon met die titel van Jodekoning.

Miskien wou Pilatus ook aan die Jode te kenne gee dat hy gedwing is om die omstrede koning van die Jode

te laat kruisig (Joh 19:14-15; Schnackenburg 1975:315). Die beskuldiging teen Jesus was immers dat Hy voorgegee

het om die gesalfde koning te wees (Luk 23:2). Gee dan aan dié man die ereplek! Die Joodse karikatuurkoning is

net so magteloos soos die twee kruiselinge wat soos slap vlerke langs Hom hang.

Johannes gee die volledige kruisteks. Nasaret verwys na Jesus se afkoms in Galilea (Joh 1:35-39, 45-49). Hy is

maar n gewone Jood uit Nasaret. Die uitdrukking "Koning van die Jode" neem die koningsmotief op (Schnelle

1998:286). Hierom draai alles: Wie is ware koning? Die opskrif was volgens Johannes in Hebreeus/Aramees, Grieks

en Latyn. Hebreeus/Aramees was die volkstaal in Israel, Grieks is die wêreldtaal en Latyn is deur die Romeine as

amptelike taal gebruik. Meertalige tekste was nie ongewoon nie (Schnackenburg 1975:315; Beasley-Murray

1987:346; Van Houwelingen 1997:369). Pilatus beoog dat alle oë die boodskap moet lees. Almal wat by die

kruisplek, digby die stad, verbygaan, sien die woorde. Die Vrydagmôre was weens die pasga buitengewoon druk.

Die priesterhoofde maak amptelik beswaar teen Pilatus se opskrif. Hulle sien hulleself as die ware verteenwoordigers

van die Jode. Jesus het dit net van Homself gesê. Die opskrif moet afkom, maar Pilatus gee nie toe nie.

Hy het die laaste woord. So word die koningstitel gehandhaaf, nie as pretensie van Jesus nie, maar as amptelike

proklamasie van Pilatus. Die titulus word n eretitel van die gekruisigde Koning. Sy koninklike hoogheid word op

Goeie Vrydag publiek en amptelik gepubliseer. Jesus van Nasaret is die Koning van die Jode, al ontken hulle dit

(Schnackenburg 1975:315). Hy is terselfdertyd die Koning van die hele wêreld. Pilatus se opskrif bevestig, getuig:

Jesus is die Koning wat van die kruis af heers (Schnackenburg 1975:315; Brown 1972:919).

Johannes skilder twee tonele aan die voet van die kruis. Die eerste gaan oor die vier soldate (Joh 19:23-24). Saam

vorm hulle die eksekusiepeloton aan wie as reël die besittings van die gekruisigde toekom (Beasley-Murray

1987:347; Van Houwelingen 1997:370). Terwyl die kruiseling met die dood worstel, is die soldate al besig om sy

klere (die bokleed, die gordel, die sandale en die kopdoek) in vier te deel. So word die sterwende Koning

"ontmantel". Die onderkleed is as lyfrok gedra. Dit was naatloos en uit een stuk geweef. Daarom moes die soldate

die kledingstuk aan die beslissing van die lot oorlaat.

Hierdie lotery is nie toevallig nie. Johannes sien hierin die vervulling van Psalm 22:19 (volgens die Septuaginta).

Dáár klink die klag van n sterwende wat moet toesien hoe sy persoonlike besittings onder sy vyande verdeel is. Die

meervoud word deur Johannes in die enkelvoud verander omdat alles hier om Jesus draai. Jesus kyk toe hoe sy

klere verdeel word asof Hy al gesterf het. Daar is talle spekulasies oor die naatlose onderkleed (vgl Brown

PREEKSTUDIE - JOHANNES 19:17-42

1972:920-922; Schnackenburg 1975:317-318; Morris 1995:715; Schnelle 1998:287). Dit maak meer sin om dit as

toespeling op Johannes 13:4 te sien. By die voetwassing het Jesus die uittrek van sy bokleed gesien as n teken

van selfvernedering (Van Houwelingen 1997:371). By die kruis raak Hy al sy klere kwyt. Hy hang ontbloot en naak.

Hy gee alles wat Hy het prys ook sy lewe (Schnackenburg 1975:318).

Die tweede toneel (Joh 19:25-27) bestaan uit n groepie van vier vroue. Dié vier vroue staan teenoor die vier soldate

(Schnackenburg 1975:323). Die vroue staan Jesus in sy lyding by. Twee se name word genoem Klopas se vrou,

Maria en Maria Magdalena (Joh 20:1, 11-18); die ander twee se name bly onbekend. Maar onbekend is nie

onbemind nie. Want die onbenoemdes is sy moeder en sy moeder se suster. Dan is daar nog die geliefde dissipel.

Hier by die sterfbed word bande gebind en verhoudings gestig. Maria en Johannes word as moeder en seun aan

mekaar verbind. Jesus vervul sy laaste lewenstaak die plig van n volwasse seun teenoor sy moeder (vgl Eks

20:12). Met n dubbele wilsverklaring (Schnackenburg 1975:323) dra Jesus Maria as t ware oor aan sy leerling en

vriend Johannes. Sy kry n seun en hy kry n moeder. (Oor die verskillende verklarings van Maria en Johannes, vgl

Brown 1972:922-927; Schnackenburg 1975:325-328; Beasley-Murray 1987:349-350; Van Houwelingen 1997:372-

373). Jesus se terugkeer na sy Vader beteken dat sy aardse bande beëindig word. Maar Hy verbreek nie sy

verhouding met sy volgelinge nie. Hulle word nou familie van die Koning (vgl Van der Watt 2000). Daarom het hulle

ook n verantwoordelikheid teenoor mekaar.

Konteks

In vergelyking met die Sinoptiese Evangelies kom talle tonele nie in die Johannesevangelie voor nie. Hier kan ons

dink aan die ontmoeting met Simon van Sirene, die drink van wyn voor die kruisiging, die uitroep van Godverlatenheid

en die begeleidende natuurverskynsels. Die verskille het te doen met die eie aard en aksente van die

Johannese vertelling. By Johannes kry ons as n eie toneel die inspraak van die Jode by Pilatus (Joh 19:20-22)

die konfrontasie van die hoëpriester herinner aan Markus 15:31 en die gesprek van die Gekruisigde met sy

geliefde dissipel (Joh 19:26 ev).

Die konteks is reeds in die voorafgaande deel bespreek. Hier word net enkele byvoegings gemaak. As aanstigter

tot die gebeure wat in Johannes 19:17 en volgende verse vertel word, troon Pilatus lewensgroot. Hy lewer Jesus

oor om gekruisig te word (Joh 19:16). Hy gee die deurslag en is net so n verraaier soos Judas, al sê Jesus dat

Judas groter skuld het as hy (Joh 19:11). Naas Jesus is Pilatus n hoofrolspeler in Johannes 18:28-19:37. Die toneel

wat voor ons oë afspeel, is n tragiese komedie. Pilatus skarrel heen en weer tussen Jesus en die Jode. Ironies vra

Pilatus die relevante vrae en gee die regte antwoorde: "Wat is waarheid?" (Joh 18:38); "Dit is die mens!" (Joh 19:5);

"Hier is julle koning!" (Joh 19:14); "Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode" (Joh 19:19). Selfs die onregverdige

regter is ironies genoeg en in waarheid n betroubare getuie.

Preekvoorstel

Die hemel het n swart spieël geword. n Goewerneur buig voor die bloeddors en haat van die straat. Die onskuldige

word skuldig bevind. Soos n misdadiger word Hy met n kruis toegerus. Die vonnis is gevel. Jesus loop voor om dit

te gaan uitvoer. Al sugtend onder n kruis. Met sy galg op sy skouer. Daar is darem één troos. Hy is nie alleen nie.

Twee ander is saam met Hom op pad na hulle kruise.

Pilatus het n grafskrif geskryf: "Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode". Die kruiseling kom uit Nasaret. n Eenvoudige

plekkie sonder aansien. Jesus was maar net n gewone Jood uit die stofstrate van Nasaret. Maar Hy was

ook die Koning van die Jode. Dít het die Jode se oë laat rek. Veral ook omdat alle oë dit kon lees. In Hebreeus,

Grieks en Latyn het die woorde dit aan al die bevolkingslae uitgeblaker. Golgota was digby Jerusalem. Daarom het

alle voete verby Golgota geloop. En die opskrif het alle oë aangetrek. Dit was soos n advertensie of n koerant se

opskrif in swart letters. Die tonge was los oor die opskrif. Dit was waansinnig om te skryf dat die kruiseling die

Koning van die Jode was. Daarom het die hoëpriesters na Pilatus opgeruk. Hierteen het hulle beswaar gemaak. Dit

kon tog nie. Maar Pilatus was onversetlik. Miskien wou hy hulle in eie munt terugkry. Want hulle het hom gedwing

om n onskuldige doodskuldig te verklaar.

Johannes wil ons oë op hierdie Goeie Vrydag oopmaak. Kom ons kyk na die opskrif. Laat ons dit woord vir woord

lees. Goeie Vrydag se teks is: Jesus uit Nasaret is Koning. Al lê sy spore in die stofstrate van Nasaret, al is Hy

sonder menslike aansien, is Hy Koning. Of Hy nou erken word of nie. Die kruisteks plaas ons voor n keuse, n

lewensoriëntering: Lees wat daar staan. Jesus is Koning. Aanvaar dié teks. Aanvaar Jesus as Koning. Leef onder

Hom as Koning. Dan is dit Goeie Vrydag.

Aan die kruis wurg drie kruiselinge. Intussen is soldate al besig om die een se besittings uit te deel, asof Hy al dood

is. Al wat nog van Hom oorbly en vir hulle saak maak, is sy goed. Die lot beslis wie die naatlose onderkleed kry.

Hierdie "ontkleding", vernedering, blootstelling is n prysgawe van Jesus se lewe. Hy het Hom laat ontklee om ons

te klee. Jesus het Hom laat verneder, ja, tot in die dood, om ons te verhoog.

By die sterfbed van Jesus kom n ontroerende huistoneel voor. Jesus gaan wel na sy Vader toe terug, maar Hy laat

sy volgelinge nie aan hulle eie lot oor nie. Trouens, Hy maak hulle lotgenote van mekaar. Met n wilsverklaring gee

Hy sy moeder en geliefde volgeling aan mekaar. Die Seun maak ons God se familie. In God se gesin is ons

huisgenote. Ons kry n heenkome, n tuiste. Johannes sê dat die Vader vir sy gesin sorg. Hy laat ons aan sy tafel

sit. Daar gee Hy aan ons brood en wyn wat ons aan Hom en sy Seun verbind. Hy vra van ons liefde, trou, diens.

Aan Hom as Vader én aan mekaar.

Die pad na die Vaderhart loop oor Golgota. Daarom beteken Goeie Vrydag dat swerwers n heenkome kry. n Tuiste.

n Vader.

Bibliografie

Beasley-Murray, G R 1987. Word Biblical Commentary (Vol 36) John. Texas: Waco. Haenchen, E 1984. John 2. A

commentary on the Gospel of John, chapters 7-21. Philadelphia: Fortress Press. Morris, L1995. The Gospel

according to John (revised edition). Grand Rapids: Eerdmans. Raymond, E & Brown, S S 1972. The Gospel

according to John. (xiii-xxi). London: Chapman. Schnackenburg, R 1975. Das Johannesevangelium III. Teil. Herder:

Freiburg, Wien: Basel. Schnelle, U 1998. Das Evangelium nach Johannes. (Theologischer Handkommentar zum

Neuen Testament Bd 4). Leipzig: Evangelische Verlagsanstalt. Theissen, G 1990. Ik moest van Pilatus achter Jezus

aan. Verslag van een speurtocht. Ten Baarn: Have. Van der Watt, J G 2000. Family of the King: dynamics of

methapor in the Gospel according to John. (Biblical Interpretation series, vol 47). Leiden: Brill. Van Houwelingen, P

H R 1997. Johannes: Het evangelie van het Woord (Commentaar op het Nieuwe Tesament). Kampen: Kok.