1 Junie 2003

sewende sondag van paastyd/ pinksterweek

liturgiese voorstel

Fokusteks: Johannes 17:6-19

Ander tekste: Handelinge 1:15-17; Psalm 1; 1 Johannes 5:9-13

Inleiding

Na aanleiding van Psalm 27:7,9 word die sewende Paassondag ook Exaudi [ 'luister', "Luister tog na my, Here, as ek roep!" ] genoem [sien basisliturgie vir Paastyd]. Om soos mense van die opstanding te leef, is geen grap nie. Opregte ‘opgewekte’ mense sal altyd weer na God roep om ons as opgewektes in die hierdie wêreld te bewaar. Ons troos is dat die opgewekte Christus, ons Voorspraak is wat vir ons intree soos Hy dit in Johannes 17 doen. Intussen het ons die getuienis van God se mense [in briewe soos 1 Joh 5] dat ons ‘n ewige verhouding met God in Christus het; ‘n sekerheid wat ook en veral deur die water-doop aan ons bevestig is. In ‘n dor en uitputtende wêreld is ons inderdaad soos bome wat langs waterstrome geplant is en vrugte dra op die regte tyd [Ps 1 en Joh 17:18] – die krag kom nie van ons nie, maar van Hom wat ons van die Bose bewaar sodat ons aan Hom toegewyd kan wees.

Volg die voorstel van die basisliturgie. Die volgende response by die aanvangswoord en seëngroet bevestig die storielyn van die tekste:

Aanvangswoord

Voorganger: Ons hulp is in die Naam van die Here,

Gemeente: Wat hemel en aarde gemaak het,

Voorganger: Wat nooit die werk van sy hande laat vaar nie,

Gemeente: Maar trou bly tot in ewigheid.

Voorganger: Dit is die dag wat die Here gemaak het.

Gemeente: Laat ons daaroor juig en bly wees.

Voorganger: Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.

Gemeente: Die Here doen kragtige dade, ek sal nie sterwe nie,

Voorganger: Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword.

Gemeente: Dit is deur die Here gedoen en is ‘n wonder in ons oë!

Seëngroet

Voorganger: Jesus leef! En ons met Hom!

Genade vir julle en vrede van God die Vader ...

Gemeente: Hy sorg vir ons!

Voorganger: ... en van die Seun ...

Gemeente: Hy het waarlik opgestaan!

Voorganger ... en van die Heilige Gees.

Gemeente: Hy leef in ons! Amen.

 

Doopherinnering

Die 1 Johannes 5 gedeelte kan as bevestiging van ons geborgenheid in die lewe van die opgewekte Here, by die doopvont as doopherinnering gelees word.

Skriflesings

Lees eers Johannes 17:6-19 en laat iemand uit die gemeente daarop antwoord met Psalm 1. Psalm 1 kan ook verwerk word om veral ons bewaring [boom by waterstrome] deur die Tora-woord te beklemtoon.

 

 

PREEKSTUDIE – JOHANNES 17: 6-19

Teks

Die Leesrooster se perikoopafbakening vir dié Sondag se lesing uit Johannes 17, volg die indeling van die "Revised Common Lectionary". Dit verskil van die afbakening van twee ander ekumeniese roosters; die Episkopaalse "Book of Common Prayer" en die Rooms Katolieke Leesrooster. Beide roosters se afbakening vir dié Sondag is vers 11b-19. Jesus se laaste gebed in Johannes 17 (Die sogenaamde hoëpriesterlike gebed) bestaan uit drie dele, waarvan verse 6-19 die tweede deel vorm. In verse 6-8 beskryf Jesus die dissipels en sy werk wat Hy onder hulle afgehandel het. In vers 9-19 bid Hy vir hulle (Maloney). Die gebruiklike indeling, wat ook deur die NAV gevolg word, is: a. Jesus se gebed vir Homself (1-5); b. Jesus se gebed vir sy dissipels (6-19), en; c. Jesus se gebed vir die kerk van alle tye (20-26). Dié indeling word deur sommige uitleggers gekritiseer, wat verse 6-11a as die begronding vir die gebed in 1-5 beskou, met die oog op Jesus se dissipels (Burger).

In ‘n eerste lesing van ons afgebakende perikoop, word die leser deur ‘n aantal samehangende woorde en temas getref. Die eerste woord wat opval, is die herhaling van die Afrikaanse woord "bid" (Grieks, erótó) in vers 9. Die Griekse woord verwys na ‘n versoek of ernstige vraag, met die verwagting om ‘n antwoord te verkry. Die subjek van dié werkwoord is Jesus en Hy rig sy versoek (gebed) tot die Vader in die hemel (v 1, 5). Jesus bid vir, rig sy versoek tot voordeel van, spesifieke mense: "dié wat U My gegee het" (v 9). Hy spesifiseer die groep op twee maniere. Hy grens hulle af van ander, en stel hulle in ‘n positiewe verhouding tot God: Hulle is "nie die wêreld nie", en "hulle behoort aan U". Hy bid tot God vir hulle wat aan God behoort en aan Hom (Jesus) gegee is.

Vers 9 raak verskillende woorde en temas aan, wat die outeur later in meer besonderhede uitbou. Veral die Afrikaanse woorde "behoort" en "wêreld" is hier ter sake. Die Afrikaanse uitdrukking "behoort aan U" (Grieks, soi eisin) in vers 9, druk die verhouding tussen Jesus en die mense vir wie Hy bid, asook die verhouding tussen die mense en die Vader uit. In vers 10 word hierdie verhouding verder beredeneer en die intimiteit tussen Jesus, die Vader en die mense wat aan die Vader en aan Jesus behoort, beklemtoon. In vers 11 word die tema van die "wêreld" verder uitgewerk, wanneer Jesus sê dat Hy nou die wêreld verlaat en na die Vader kom, maar dat die mense vir wie Hy bid, in die wêreld sal agterbly. Dit bring die tema van Jesus se vertrek en afskeid weer ter sprake, asook sy oorgawe van die mense wat aan Hom behoort, in die sorg van die Vader.

Die versoek om bewaring van die mense wat aan God behoort (v 11), bring twee verdere temas ter sprake, naamlik: (i) die Naam en gesag van God, en; (ii) die onderlinge verhouding tussen die mense wat aan God behoort. Die onderlinge verhouding tussen die mense wat aan God behoort word beskryf na aanleiding van die verhouding tussen Jesus en die Vader ("..sodat hulle net soos Ons een kan wees…"). Die gedagte van een-wees, is van groot belang. Dit het onder andere ‘n groot rol gespeel in die gedagtegang van die Belydenis van Belhar 1986. Die eenheid tussen die gelowiges waarvoor Jesus bid, is volgens L.W. Countryman niks minder nie as die eenheid van Vader en Seun, voor die skepping van die wêreld. Met daardie eenheid het die evangelie begin, en met die versoek dat die Vader sy dissipels moet invoeg in daardie Goddelike eenheid, kom sy woorde op aarde tot ‘n einde (Maloney). Burger sê ook dat wat die skopus van die hoofstuk betref, daar ‘n sterk saak uit te maak is vir die standpunt dat alles toegespits is op die gebed om die eenheid van die gemeente (11, 21, 22, 23).

In vers 12 word die tema van beskerming en bewaring van die mense wat aan God behoort, verder uitgewerk en die Naam van die Vader as gesagsgrond beklemtoon. In dié verband beklemtoon Jesus sy werk tot redding van almal wat God aan Hom toevertrou het, en wys op Judas Isakariot wat volgens die Skrifte verlore moes gaan. Op grond van die heiligheid van God se Naam, is die versorging en bewaring van die mense verseker, nadat Jesus uit die wêreld na God vertrek. Die tema word weer in vers 13 beklemtoon en aan die gedagte van Jesus se "volkome blydskap" verbind. Alhoewel dit ‘n afskeidsgebed is, is die gemoedstemming van die gebed een van blydskap en vreugde. Die dissipels moet die wêreld met blydskap ingaan, omdat hulle self bewyse is van die Vader se heerlikheid (Maloney).

In vers 14 beklemtoon Jesus nog ‘n funksie van sy aardse lewe, as Hy sê dat Hy God se Woord aan die mense vir wie Hy bid, gegee het. Die tema van die woord word weer in vers 17 opgeneem en in verband gebring met die gebed om toewyding van die gelowiges aan die Vader, asook die tema van waarheid. Jesus beskryf die woord dan as die waarheid. Hy beklemtoon ook die wêreld se verhouding tot die mense wat aan God behoort en sy Woord ontvang het; "…die wêreld haat hulle…" Die rede vir die haat is omdat hulle, soos Jesus, nie tot die wêreld behoort nie (v 16) – nie die woord wat die waarheid is, het nie. Hier word die tema van behoort en assosiasie weer opgeneem, en die verhouding tussen die mense wat aan God behoort teenoor hulle verhouding met die wêreld gestel – wie aan God behoort, is nie eiendom van die wêreld nie. Maar tog bid Jesus nie dat hulle, soos Hy, nou uit die wêreld weggeneem moet word nie (vers 15). Sy gebed is ‘n gebed om "bewaring teen die Bose" terwyl hulle in die wêreld moet agterbly (Brown wys op die persoonlike toepassing van die Griekse woord "ponéros" as beskrywing van die "Bose Een" – die duiwel). Dit is die donker kant van hierdie gebed (Maloney).

Aangesien Jesus op die punt staan om te vertrek, is dit belangrik dat sy dissipels sy gebed vir hulle hoor, omdat hulle weet dat sy gebed altyd verhoor word (vgl 11:41). Bewus daarvan dat Jesus se gebed vir hulle beantwoord sal word, hoef hulle nie bevrees te wees nie. Ten spyte van sy afwesigheid in die konvensionele sin van die woord, bly dit waar dat Jesus op ‘n besondere wyse teenwoordig bly, juis in en deur sy vertrek (Maloney).

Vers 18 bring dan ‘n volgende tema ter sprake, naamlik dié van gestuur-wees na die wêreld. Soos wat die Vader vir Jesus gestuur het om die Woord aan die mense te bring, so stuur Jesus ook die mense wat die Woord aanvaar het, na die wêreld toe. Jesus stel sy sending gelyk aan die sending van die gelowiges. Die dissipels van die post-Paasfees periode moet leer dat hulle Jesus se sending in die wêreld moet voortdra, asook hoe hulle dit moet doen. Die dissipels van die post-Pinkster periode moet met hul taak voortgaan (Maloney). Ter wille van hulle taak as gestuurdes in die wêreld, wy Jesus Homself aan die Vader toe, sodat die gelowiges deur die waarheid aan God toegewy kan wees (v 19).

In hierdie paar verse, as onderdeel van Jesus se laaste gebed, word ‘n aantal temas aangeraak wat vir die kerk van Christus van groot belang is. Wendland wys op die parallelle temas in hoofstuk 13 by die aanvang van Jesus se afskeidsrede: 13:31-32 Heerlikheid 17:1-5; 13:33 Vertrek 17:6-19; 13:34-35 Liefde 17:20-26. Enige van die temas wat hierbo uitgelig is, kan vir die prediking uit dié Skrifgedeelte benut en verder ontwikkel word. Die tema van gestuur-wees of sending na die wêreld, is na my oordeel van groot belang vir prediking tussen Hemelvaart en Pinksterfees. Dit word in die res van die gebed verder uitgewerk, as Jesus ook bid vir "dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom" (v 20), asook die gebed om eenheid en die getuieniskarakter van die onderlinge eenheid tussen gelowiges (v 21). Dit is nie maar net ‘n "ek en God" soort eenheid nie; dit is ook gelowiges se eenheid met mekaar (Maloney). Burger sê: "Beide die gebed om die bewaring (11-16) en die gebed om die heiliging (17-19) van die gemeente kulmineer en vind hulle uiteindelike doel in die eenheid van die gemeente."

Konteks

In ‘n tweede lesing van ons afgebakende perikoop, kom die vraag na die groter verband waarbinne Jesus se gebed vir die mense wat aan die Vader behoort, ter sprake. Die indeling van die inhoud van Johannes se evangelie berus op verskillende faktore (indelingsbeginsels en tegnieke, inhoudelike en formele opbou). Du Rand wys op ‘n uitgebreide studie (Mlakuzhyil) waarin vier-en-twintig verskillende indelings ondersoek word, maar beskryf die mees voor-die-hand-liggende indeling van die Johannesevangelie soos volg:

1:1-18 : Proloog – Overture tot bediening van mensgeworde Woord.

1:19-12:50 : Die Boek oor sy Tekenwonders – Jesus se openbare bediening deur tekens en woorde om

sy Vader bekend te maak.

13:1-20:31 : Die Boek oor sy Heerlikheid – Jesus toon sy heerlikheid deur na die Vader terug te keer.

21:1-24 : Epiloog

Du Rand verdeel die inhoud van die Johannesevangelie in fyner besonderhede, en tipeer 13:1-20:31 onder die opskrif: Jesus openbaar sy heerlikheid aan sy "Eie". Hoofstuk 17 is dan Jesus se gebed vir heerlikheid, sy eie en vir die wat nog gaan glo. In terme van die ontvouing van die plot van Johannes se vertelling, vorm Jesus se laaste gebed deel van die middelgedeelte of verwikkeling van Johannes se vertelling. In hierdie deel van die plot gaan dit om die optrede van die hooffiguur wat deur tekens en redevoeringe, en die reaksie daarop deur sy helpers en opponente, oppad is na die volvoering van sy heerlikheid: "In hoofstukke 13-17 word twee vertellyne (die Jesussending en die dissipelsending)… in die Johannese plot vervleg… Deur Jesus se gebed in hoofstuk 17 word die Johannese plot se universaliteit en aktualiteit verhoog. Die huidige leser voel homself ‘n aangespreekte dissipel wanneer ook gebid word vir diegene wat nog tot geloof sal kom deur die dissipels se woorde. Die plot het dus ontwikkel… tot ‘n eenheid en solidariteit onder sy navolgers oor sy identiteit" (Du Rand).

In die lig van die seisoen van die kerkjaar, Sondag na Hemelvaart in Pinksterweek, behoort die vertrek-motief beslis in die prediking aandag te kry. So word Jesus se gebed op die vooraand van sy vertrek na die Vader, ‘n intieme uitdrukking van sy innige liefde vir hulle wat aan Hom uit die wêreld gegee is. Ten opsigte van die evangelie in geheel, is die plasing daarvan ‘n opsomming nie net van Jesus se beskouing oor dissipelskap nie, maar "vind ons die hoogtepunt van die selfstandige teologie van die vierde evangelis" (Schulz, aangehaal deur Burger). Met die oog op Pinkster, word die weg waarlangs ons ook na God die Vader van ons Here Jesus Christus sal terugkeer, in die gebed van Jesus uitgespel. Dit is die weg van liefdevolle eenheid met die Een wat nooit uit ons lewens afwesig is nie, so lank as wat ons in die Goddelike liefde ingevoeg is – in gemeenskap met en in diens aan mekaar, met ons oë gerig op die heerlikheid wat vir ons as kinders van God bedoel is (Maloney).

Die Ou Testament en Joodse intertestamentêre literatuur gee verdere insig in die posisionering van die hoofstuk. Slotgebede as deel van ‘n finale testamentêre-diskoers van leiersfigure kort voor hulle sterwe, is bekende materiaal (vgl Jakob, Gen 49; Moses, Deut 32-33; Joshua, Jos 23-24; Esra, 4 Es 8:19-36; Barug, 2 Bar 48; Ook Paulus by Miletus, Hand 20: 17-38 – Wendland). Die Paasfees as agtergrond tot die gebeure, maak die plasing nog meer gepas. Die Paasfees word afgesluit met die sing van die doksologiese psalms (Hallel) en word God se magtige dade van redding en verlossing in herinnering geroep. Hierdie liedere is hoofsaaklik nadenkend en retrospektief van aard. Daarenteen open Johannes 17 nuwe perspektiewe deurdat dit voorspellend en antisiperend is.

Oor die sentrale posisie van die eenheidsmotief in die Johannesevangelie kan Burger se samevattende gedagtes en verwysings nagegaan word. Wat wel belangrik is, is sy vier positiewe stellings in antwoord op die vraag na wat Johannes bedoel as hy van die eenheid van die kerk praat: a. Die eenheid van die kerk is ‘n gegewe feit. Dit kom van God, is ‘n geloofsrealiteit; b. Die eenheid kom van God en bestaan in God; c. Jesus bid vir ‘n sigbare eenheid van die kerk, sodat die wêreld tot geloof kan kom wanneer hulle dit sien; d. Die eenheid van die kerk is nie gegrond in die wedersydse liefde van die gelowiges nie, maar kom uiteindelik tot openbaring daarin.

In sy opmerkings oor uitsprake van Berkouwer oor die eenheid van die kerk in Johannes 17, sê Burger onder andere: "In die eenheid van die kerk is beide die beeld van God en die heil van die wêreld op die spel." Dié twee fokuspunte moet deurentyd in gedagte gehou word. Die posisie van hierdie gebed in die Johannesevangelie, rig ‘n onontkombare appél tot die kerk van alle tye. Na hierdie gebed begin Johannes se lydensverhaal, waardeur God se heil vir die wêreld sigbaar gemaak word. Die feitelike verskeurdheid van die kerk in die wêreld word deur Jesus se gebed skerp onder die vergrootglas geplaas.

Burger maak ook ‘n paar opmerkings oor die verhouding tussen eenheid en nagmaal, aangesien hy sy bydrae maak in ‘n bundel preekriglyne oor nagmaalsprediking. Hy stel voor dat die gebruik van die brood en die wyn nie onder die gebod tot eenheid staan nie, maar saamhang met die gebed tot eenheid. Dit is ‘n versoek tot God dat Hy diegene wat die Woord ontvang het, sal saamvoeg sodat hulle God in hul onderlinge verbondenheid sal verheerlik.

C.W. Retief bespreek sy riglyn vir ‘n preek uit Johannes 17:20-23 oor eenheid, versoening en geregtigheid, onder die opskrif "Nie ‘n kerk nie, maar één kerk." Hy wys op die Nederlandse agtergrond van die woord "’n" in Afrikaans en sê dat die afkappingsteken (‘) voor die n, eintlik vir ee staan: "U sien, ‘n kom van een af. Want in Nederlands, waarvan Afrikaans afstam, is alles wat minder as twee is eenvoudig een…" Hy wys op artikel 9 van die Apostoliese Geloofsbelydenis oor die kerk, en sê dat die woordjie "’n" ook hier ingesluip het, waar dit nie moes nie: "Na regte moet ons sê: `Ek glo aan een, heilige, Christelike kerk…’ Die een is geweldig belangrik… Die eenheid van die kerk is net so kenmerkend van die ware kerk as sy heiligheid, algemeenheid (wêreldwydheid) en Christelikheid (Christus-gelykheid). Sonder die eenheid is die kerk nie meer ware kerk nie. Hoekom?"

Retief bespreek vervolgens Israel se geloofsbelydenis (Deut 6:4; 12) en dui aan dat Jesus se gebed in Johannes 17 direk by Deuteronomium 12 aansluit: "Jesus het God se Naam ontvang (v 11-12)". Met Jesus op pad na sy Vader in die hemel, word die dissipels en die toekomstige geslagte dissipels (v 20), nou die Here se aanbiddingsplek op aarde, die Here se tempel. Hulle het deur Jesus Christus die heerlikheid van God ontvang (v 22) en deur God se Naam wat aan Jesus gegee is (v 11-12), word hulle bewaar "sodat hulle net soos Ons (Jesus en sy Vader) een kan wees" (v 11).

Retief vra dan die vraag: "Het ons nie maar al die tyd aanvaar die kerk is ‘n kerk nie? Een van die baie belangrike kerke, een van die kerke langs al die ander baie kerke, een van die NG Kerke langs die ander NG Kerke… Diep in ons harte glo ons nie… die kerk is die een kerk van Jesus Christus nie. Want ons beleef dit eenvoudig nie so nie." Hy wys dan op die Belydenis van Belhar wat ‘n poging is om dit wat ons verkeerd gesê en geglo en geleef het – en nog steeds doen – reg te stel.

Preekvoorstel

Die gedagtes oor die eenheid van die kerk as sentrale tema in Johannes 17, kan nie verbygegaan word nie. In enige preek oor ons afgebakende Skrifgedeelte sal die eenheid van die kerk ter sprake moet kom. Wanneer die gemeente op die Sondag na Hemelvaart nadink oor die heerlikheid van Christus wat by die Vader is, kom die vraag na die verband tussen Jesus se aardse bediening en die kerk se roeping in die wêreld skerp in fokus. Wanneer die gemeente op hierdie Sondag vooruitkyk na Pinksterfees en die seën wat Pinkster vir die kerk beteken nadat Jesus uit die wêreld vertrek het, werp Jesus se gebed die lig op die verband tussen die kerk se sendingopdrag in die wêreld en die eenheid tussen gelowiges as deel van hul getuienis van God se heerlikheid.

In ‘n preek oor ons afgebakende perikoop sal ek die klem op vers 18 plaas, waar Jesus sy eie sending en dié van die gelowiges met mekaar vebind. Die prediker sal helder moet aandui hoe Jesus sy eie sending na die wêreld uitspel en dit in terme van sy verhouding tot die mense wat God aan Hom toevertrou en die funksies wat Hy ten opsigte van hulle verrig het, definieer. Die prediker sal tweedens moet aandui dat dieselfde opdrag nou aan die gelowiges oorgedra word en dat hulle die belofte van God se bewaring en versorging daarvoor ontvang. In dié verband kom die tema van eenheid ter sprake, en sal die gemeente op weg na Pinksterfees uitgedaag moet word om hul getuienis in die wêreld gestalte te gee. Deur Jesus se bediening, en nou deur dié van die dissipels, sal die eenheid wat identies is aan die Goddelike heerlikheid, op ‘n nuwe wyse gerealiseer word. Dit sal in die wêreld met verloop van tyd ontwikkel, na mate meer en meer mense vir Jesus leer ken as die Gestuurde van God. Deur die eenheid tussen gelowiges sal die wêreld weet dat Jesus die een is wat deur God gestuur is (v 23) (Maloney).

In ‘n volgende fase sal die prediker konkreet moet raak en die gemeente moet uitdaag om die eenheid van die geloof op praktiese wyses gestalte te gee, as maniere van getuienis teenoor die wêreld. Maloney se waarskuwing is belangrik as sy sê dat dié eenheid nie maar net ‘n institusionele eenheid is nie, maar iets veel groter. Die eenheid waarvoor Jesus bid is die Goddelike eenheid, en nie enige eenheid wat kenmerkend is van menslike gemeenskap nie: "Still there is a powerful issue of witness involved in this plea for unity: just as it is Jesus’ own oneness with the father that makes of him the road by which others may come to God, so the believers’ loving unity with one another represents our journey back along that road to our divine origin" (Maloney).

Hoe gee die kerk wat die woorde wat Jesus van God ontvang het vandag daaraan uitdrukking dat sy inderdaad op weg is terug na God toe?

Bibliografie

Brown, R 1970. The Gospel According to John XIII-XXI. The Anchor Bible; Burger, C W 1982. Johannes 17:20-23 in Woord teen die lig 4; Du Rand, JA 1990. Johannese Perspektiewe. Inleiding tot die Johannese Geskrifte; Maloney, LM 2000. Seventh Sunday of Easter. John 17:6-19, in New Proclamations (YearB, 2000), pp. 58-59; Retief, CW 1988. Nie ‘n Kerk nie, maar één Kerk, in Eenheid, Versoening, Geregtigheid. Preke rondom die Belydenis van Belhar 1986, pp.41-44; Tasker, RVG 1983. John. Tyndale New Testament Commentaries; Wendland, E R 1992. Rhetoric of the word. An interactional discourse analysis of the Lord’s Prayer of John 17 and its communicative implications. Neotestamentica 26 (1), 59-88.