25 Mei 2003

sesde Sondag van Paastyd

liturgiese voorstel (1)

Fokusteks: Johannes15:9-17

Ander tekste: Handelinge 10:44-48; Psalm.98; 1 Johannes 5:1-6

Inleiding

Na aanleiding van Jesaja 48:20 b word die 6de Paassondag ook Rogate ('roep') genoem. Die tekste (Joh15 en 1 Joh 5) roep ons op om mekaar lief te hê. Net soos die Vader Jesus liefhet en ondersteun, so het Jesus die gelowiges ook lief en moet die dissipels in hierdie liefde bly. Die opdrag van Jesus vir die manier waarop gelowiges moet leef, word in 15:12 opgesom met die woord liefde. Jesus het kom wys dat die essensie van liefde is om bereid te wees om jou lewe vir ander af te lê. In Handelinge 10 word die verhaal vertel van hoe Kornelius, die Romeinse bevelvoerder en ander nie-Jode die Heilige Gees ontvang. So word die evangelieboodskap van liefde versprei en word ook nie-Jode medegelowiges! So breek die Heilige Gees die grens tussen onbesnede, 'onrein' nie-Jode en besnede, 'rein' Jode af. Daarom kan ons saam met die Psalmdigter (Ps 98) 'n nuwe lied tot eer van die Here sing!

GOD vergader ONS VOOR HOM

Aanvangswoord/Votum

"Sing 'n nuwe lied tot eer van die Here... Juig tot eer van die Here, almal op aarde, wees vrolik, juig en sing (Ps 98:1 en 4)"

Seëngroet

Gemeente, ek groet U in die Naam van die Vader, sy Seun Jesus Christus en die Heilige Gees.

Paaskers

Die Paaskers brand reeds tydens die diens.

Loflied

Sing Psalm 98 in die Liedboek (bekende wysie), NSG 113 (Die Heer, die Heer het opgestaan) of enige ander Paaslied

DIENS VAN DIE WOORD

Kindertyd

Vertel die verhaal van Petrov aan die kinders. Petrov was 'n brandarm houtkapper wat sy hele lewe lank die Here baie lief gehad het. Hy het baie getrou elke Sondag kerk toe gegaan. Maar eendag het hy sonder enige rede net opgehou om kerk toe te kom. Van die ander gemeentelede het gesien hoe hy voor kerktyd in die woud instap en eers laat elke Sondagaand weer terugkom. Omtrent dieselfde tyd het die dorpsmense begin agterkom dat Petrov hulle begin vermy en nie meer met hulle gesels nie. Petrov het egter geen verduideliking gegee nie, maar het steeds elke Sondag verdwyn. Een keer het een van die ouderlinge vir Petrov met 'n swart kat onder die arm die woud sien instap en net daar is die hulp van die dominee ingeroep! Daarom skryf die predikant vir Petrov 'n brief dat hy hom moet afsien van die verkeerde en bose dinge waarmee hy besig is, want as hy so voortgaan gaan hulle sy lidmaatskap opsê! Dit het toe ook so gebeur en toe Petrov te sterwe kom weier die gemeente om hom te begrawe (maar gelukkig stem die buurdorp in om dit te doen...) 'n Rukkie na Petrov se dood kom 'n prokureur by die predikant aan met 'n brief wat aan hom geadresseer is. Daarin skryf Petrov dat hy jammer is dat hy die kerk so vinnig moes verlaat, maar dat hy op 'n keer op 'n groepie melaatses afgekom het en besluit het om hulle te help. Omdat hy bang was dat hy die dorpenaars sou aansteek het hy hulle eerder vermy. Hy het vir hulle 'n skuiling gebou, kos geneem en versorg, maar kon net op Sondae gaan omdat hy dwarsdeur die week moes werk om geld te maak om hulle mee te help. En die kat? Omdat die melaatses so behoefte het om iets te streel en te versorg iemand wat nie vir hulle gril nie, het hy die kat vir hulle geneem. En dan kom Petrov se versoek: "Ek vra om vergifnis vir my gedrag. En ek vra julle om tog asseblief na my dood voort te gaan om die melaatses te versorg en my katte kos te gee!" (verhaal geneem uit: Stories vir die Lewe van Piet Naude)

Gebed om die opening van die Woord/epiklese

of

Sing Lied 254 (Spreek Heer)drie keer. Die eerste keer: kinders. Tweede keer: al die dames saam met die kinders. Derde keer: die hele gemeente.

Skriflesing

Johannes 15: 9-17

Prediking

Geloofsbelydenis as antwoord op die prediking.

DIENS VAN DIE TAFEL

Gebruik die basisliturgie vir Paastyd.

Voorbidding

Een van die gemeentelede kan verantwoordelikheid neem vir hierdie gebed.

UITSENDING

Sang

Lied 334 (God is liefde, juig ons harte) NSG 67

Seën

Gemeente, elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is 'n kind van God; en elkeen wat die Vader lief het, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is (1 Joh 5:1). Mag die genade van God die Vader, die liefde wat sy seun Jesus Christus aan ons kom toon het en die wonderlike teenwoordigheid van die Heilige Gees, by elkeen van julle in hierdie week, wees en bly.

Sang

"Amen" Lied 313-315/NSG 355 of 356

 

LITURGIESE VOORSTEL (2)

Inleiding

Hierdie uitbreiding op die basiese liturgie vir Pase, in aansluiting by die fokusteks en die ander tekste, lê die aksent veral op die verhouding van die dissipels tot die gekruisigde en opgestane Heer, wat hulle "wynstok" is. Die Gees as gawe aan die kerk sal self die lewenstyl en gedrag van die gemeente op grond hiervan regeer en bepaal. Die liefde, veral, moet hulle lewens stempel.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Volg basisliturgie.

Psalm 98 (se toepaslike verse) kan ook net gelees word.

Antwoord op seëngroet

Lied 228 gevolg deur Lied 179/NSG 36

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die word/epiklese

Kindertyd

Iemand het onlangs vir my kind n kompas present gegee, vertel iemand. Ek sien die kompas omtrent oral rondlê saam met die res van die speelgoed van my kind in die huis. Niks in ons huis bly blykbaar op dieselfde plek lê nie nie eers daardie kompas nie. maar die kompas weet blykbaar elke keer waar hy is! Elke keer as ek die kompas sien, wys die naald in dieselfde rigting!

Die les van die kompasnaald is dit: ons beleef die Here se liefde elke dag soos die kompas. Sy liefde vir ons staan vas. Hy roep ons om sy kompasse te wees. Wanneer ons elke dag probeer om te midde van n deurmekaar-wêreld, sy liefdesgebod uit te leef. Jy is sy kind. Sy Gees sal jou lei dat jou naald altyd in die rigting van sy "noord" (die liefde) sal wys!

Skriflesing Handelinge 10:44-48

Sang

Lied 189, 204/NSG 175, 206, 218, of 228.

Skriflesing

2 Johannes 15:9-17

Sang

Lied 162:2,3

DIENS VAN DIE TAFEL

Sien basisliturgie.

UITSENDING

Wet

1 Johannes 5:1-6

Sang

Lied 533 of 532 of 311.

Sang

"Amen". Lied 312-316/NSG 355/356

 

PREEKSTUDIE JOHANNES 15:9-17

Teks en konteks

Verlede week se studie oor Johannes 15:1-8 bevat opmerkings wat ook op hierdie week se perikoop van toepassing is. In dié studie konsentreer ons op die tema van vriendskap, en daarom 'n paar opmerkings in die verband.

Die huis van identiteit

Vriendskap is die gom wat die wêreld aan mekaar hou. Dit hoef nie geproduseer te word nie en niemand het dit as besit nie, inteendeel, dit is daar om ontdek te word. Vriendskap is 'n delikate atmosfeer waarin ons leef. Heel dikwels leef ons in die atmosfeer sonder dat ons dit agterkom. Ernst Bloch praat daarvan as die "huis van identiteit".

In ons kinderjare was die wêreld van vriendskap 'n veel groter realiteit. My kinders speel voortdurend by een of ander maatjie, of die maatjies kom speel by hulle. Maar soos wat ons groter word, raak ons vriendekring al kleiner en die kring van vyande en mededingers al groter. Mededingers in ons beroepe, in die mark, op die sportveld, selfs in ons liefdelewe. Daarom raak ons in ons vriendskappe al meer kieskeurig en ook al meer bewus van die mededingers. Toe ons kinders was, het ons maklik vriende gemaak, maar dit raak moeiliker hoe ouer jy word, tot jy op 'n dag ophou om vriende te maak. Want, hoe ouer jy word hoe moeiliker is dit om jou aan iemand te verbind en hoe moeiliker raak dit om jou hart vir iemand oop te maak.

Wat is vriendskap?

'n Paar opmerkings.

Vriendskap is iets wat sonder pretensie is. Die begrip "vriend" dui nie op 'n amp of 'n titel nie. Dit is ook nie 'n funksie wat vervul moet word of 'n rol wat jy in die samelewing veronderstel is om te speel nie. Vriendskap is 'n persoonlike verhouding met "iemand wat van jou hou".

Vriendskap is 'n kombinasie van toegeneentheid en respek. Om 'n vriend vir iemand te wees, beteken nie om die ander te dien of deur die ander gebruik te word nie. In vriendskap het jy jou vriend nodig net soos hy/sy is. As ons toegeneentheid en respek van mekaar losmaak, kan dit maklik gebeur dat jy dalk 'n gerespekteerde persoon is vir wie mense bewonder, maar niemand hou van jou nie. Daarom kyk jy nie op of af na 'n vriend nie, jy kyk hom/haar in die oë.

Vriendskap is nie maar net 'n verbygaande gevoel nie. 'n Vriend is iemand wat getrou is aan die vriendskap en op wie jy kan vertrou. As vriend is jy ook iemand op wie ander kan vertrou. Daarom bly 'n vriend 'n vriend, ook in tye wat dit met jou sleg gaan.

Vriendskap is daarom 'n diep menslike verhouding wat ontstaan in vryheid en wat ook daardie vryheid bewaar. Niemand kan jou in 'n vriendskap inforseer nie. Vriende open vir mekaar 'n ruimte waarin jy kan bestaan. Vriendskap maak jou vry.

Ons het ook vriende nodig om die vreugde en genot van die lewe te smaak. Om in iemand ander se vreugde te deel sonder selfsug en jaloesie, is 'n belangrike kenmerk van vriendskap. Vreugde wat jy deel, skep vriendskap. Hieruit volg natuurlik ook lyding wat jy met 'n ander deel. Ware vriendskap word juis in tye van lyding getoets.

Waar vriendskap bestaan sonder druk van buite en beperkinge van binne, is dit blywend van aard en het dit 'n kragtige uitwerking in ons lewens. Ware vriendskap maak ons oop vir mense en skep lewe.

Ek is nie 'n profeet nie, maar van een ding is ek redelik seker, en dit is dat ons toekoms baie afhanklik is van oop vriendskappe wat deel van al ons verhoudinge behoort te vorm. 'n Voorbeeld of twee. Wanneer die ouer-kind verhouding in 'n gesin verander met 'n kind wat die huis verlaat en onafhanklik raak, is al wat oorbly, vriendskap. Wanneer 'n professionele verhouding tussen mense eindig, soos tussen 'n onderwyser en 'n leerling, is al wat oorbly, vriendskap.

Kan daar net vriendskap tussen gelykes bestaan?

Die ou Griekse wysgeer Aristoteles was daarvan oortuig dat vriendskap net tussen gelykes kan bestaan. Hy druk dit met die begrip filia uit, en is van oordeel dat filia slegs moontlik is tussen dieselfde soort mense, of tussen mense wat 'n gedeelde belangstelling het "voëls van eenderse vere" en "soort soek soort", is spreekwoorde wat ons van hom kry. Daarom bestaan volmaakte vriendskap vir hom waar dieselfde soort mense van mekaar hou op grond van die deugsaamheid van die ander persoon.

Mense wat verskil, kan vriende raak, maar dan is dit op grond van hulle bruikbaarheid of die plesier wat hulle vir jou verskaf. Vriendskap in dié sin, is dus iets eksklusief tussen mense. By implikasie beteken dit dat 'n "vriendskap met die gode" vir hom ook nie moontlik is nie. Die vraag wat nou ons aandag vra, is wat die Nuwe Testament vir ons in dié verband sê? Anders gestel: Is oop vriendskappe moontlik tussen mense wat verskil? Meer as dit, is vriendskap met Jesus en met God moontlik?

Preekstudie

Vriendskap met Jesus

In die Nuwe Testament gebruik die skrywers verskillende titels om die betekenis van Jesus te verduidelik; titels wat Jesus se waardigheid en goddelikheid beskryf. In dié verband is dit veral die Ou-Testamentiese ampte van profeet, priester en koning, wat die skrywers gebruik om die werk van Jesus Christus hier op aarde te verduidelik. As profeet openbaar Jesus die wil van God. As priester verteenwoordig Hy die offer van versoening tussen God en mens, en as koning regeer Hy oor die volkere. Beklee met dié titels van waardigheid, is Jesus aan ons bekend as Iemand met gesag en outoriteit. Die titels beskryf die uniekheid van Jesus, maar skep ook afstand tussen Hom en ons.

Wat ons nie moet vergeet nie, is dat hierdie titels uit 'n outoritêre tyd en gemeenskap kom. Daarom dat dié titels (profeet, priester, koning), wat ook simbole vir die staat was, op Christus oorgedra word om sy heerskappy te beklemtoon. Dit beteken dat dié beelde vir Christus, maklik in 'n samelewing misbruik kan word om die mag en gesag van hulle wat aan bewind is, te regverdig.

Maar nou weet ons dat dit nie is hoe die skrywers van die Nuwe Testament die titels hanteer nie. Want dié profeet van God, was niemand anders nie as die seun van 'n skrynwerker uit Nasaret. Wat 'n profeet! En dié priester van God, is deur die owerhede aan 'n kruis gespyker op Golgota. Die priester wat moes offer, word die offer. Wat 'n priester! En dié koning van God, sien ons met 'n doringkroon vol bloed. Wat 'n koning! So is die kruis die groot paradoks. Wat die owerhede as skande beskou, word die ideaal.

Tog bly die afstand!

Tog, al verstaan ons die paradokse, en herken ons in die lig van Christus se lyding in nederigheid die rykdom van sy armoede, en sy alomteenwoordigheid in sy magtelose ontberings, bly die afstand steeds daar; die afstand tussen God en mens. Christus staan aan God se kant, praat in die Naam van God, sterf volgens God se wil, en regeer op grond van God se liefde. Dié verhewe titels dui op wat Christus vir die mense gedoen en gely het, maar dié titels slaag nie daarin om die gemeenskap wat Hy tussen God en mens moontlik gemaak het, te beskryf nie; die nuwe gemeenskap met God en met die naaste.

Of dit profeet, priester of koning is, en of dit plaasvervanger of verteenwoordiger is, die nuwe gemeenskap met die mens sou steeds die funksie van 'n bo-aardse (transendente) Here gewees het, was dit nie vir 'n ander begrip wat ons in die Nuwe Testament vind, naamlik die begrip "vriend" nie. Let wel, dit is nie 'n titel nie, trouens vriendskap kan nie in 'n titel vasgevang word nie. Hoor wat sê Jesus in dié verband: Johannes 15:15: "Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want 'n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het."

Jesus verklaar Homself 'n vriend van sy dissipels, maar Hy roep hulle ook tot 'n nuwe lewe van vriendskap: "Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel" (Joh 15:13-14). Die offer van jou lewe ter wille van vriendskap, is hier die grootste offer wat jy kan bring. Liefde vind hier uitdrukking in vriendskap (Die Griekse woorde agape en philos hou hier ten nouste met mekaar verband!). Vriendskap is dan ook die motief vir Jesus wat sy lewe opoffer ter wille van sy vriende. Dit is 'n vriendskap wat getrou bly tot aan die einde. En deur Jesus se dood ter wille van vriendskap, raak die dissipels vir altyd vriende. En hulle bly in hierdie vriendskap as hulle Jesus se gebooie gehoorsaam en vriende vir mekaar is.

Weereens spruit Jesus se vriendskap met sy dissipels volgens Johannes voort uit sy vreugde in God en die mensdom. Jesus het so pas gesê (Joh 15:11): "Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees." Jesus kom vanuit die oorvloedige vreugde van God, en gee sy lewe ter wille van die vreugde van die wêreld. Dit is geen wonder dat die dissipels daarna nie meer slawe genoem word nie, maar vriende.

Die verhouding van die mens tot God, is nie meer dié van onderdanige onderwerping van slawe aan 'n meester nie. In die gemeenskap van Jesus, raak die dissipels vriende van God. Nou is God ook nie net meer Here en Vader nie, maar ook Vriend. Daarom is oop vriendskap nou die band in hulle gemeenskap met mekaar en is dit ook hulle roeping in 'n gemeenskap wat gedomineer word deur meesters en slawe, leerders en leerlinge, owerste en onderdane.

Oop en geslote vriendskap

In Jesus se vriendskap kry ons 'n samevatting van die titels waarvan die kenmerke deur die samelewing as eervol gesien word. As profeet van God se Koninkryk vir die armes, word Jesus 'n vriend van sondaars en tollenaars. As hoëpriester offer Hy Homself ter wille van die lewe en redding van andere, en voltrek sy liefde deur sy dood in vriendskap. As verhewe Here, bevry Hy die mens van slawerny en maak hulle vriende van God.

Christus se lewe en werk, gesien vanuit dié perspektief, is 'n lewenstyl van vriendskap en vriende maak. Maar juis daarom kan ons nie afsluit sonder 'n paar kritiese opmerkings oor vriendskap nie. Want as ons dié begrip nie met die regte inhoud vul nie, kan dit misleidend wees, en kan dit ons maklik op 'n dwaalspoor laat beland.

Die gevaar van inklusiwiteit

Die begrip "vriendskap" kan vandag net so misleidend wees as wat die hoogwaardigheidstitels in Jesus se dag was. Die rede hiervoor: vriendskap het altyd die neiging om eksklusief te raak. Aristoteles was die eerste wat dié proses aan die gang gesit het met sy siening van vriendskap as "voëls van eenderse vere". Hoe dikwels gebeur dit nie dat ons by 'n sosiale funksie kom nie, en daar mense vind wat dieselfde lyk, dink, voel en praat? As dit 'n gemengde gehoor is, is die mans gewoonlik een kant, die vrouens ander kant en die kinders voor die TV of rekenaar. Dit kan maklik 'n geslote gemeenskap en geslote vriendskap raak.

Dit is presies hierdie geslotenheid wat Jesus oopgebreek het, nie alleen na die kant van dié mense wat deur die gemeenskap verstoot is nie, maar ook na die kant van God toe. As Jesus by die "soort soek soort" beginsel wou bly, dan moes Hy nooit aarde toe gekom het nie. Maar sy menswording en sy vriendskap het alle kringe van eksklusiwiteit deurbreek. Om presies dieselfde rede kan Christen-vriendskappe nie net geleef word binne die geslote sirkel van uitsluitlik gelowige, vroom mense van eenderse vere nie, maar moet daar ook 'n openlike toegeneentheid en openbare respek vir andere wees. Jesus het vriendskap oopgebreek en daarvan 'n oop sisteem gemaak. Ek is self dankbaar om te sê dat ek goeie vriende het wat ateïste is, agnostici, noem maar op. En hulle slaag suksesvol daarin om my te relativeer en op my plek te hou.

Die skeiding van die openbare en private

'n Tweede ding wat vriendskap in ons situasie kompliseer, is die skeiding van die openbare en private sfere van die lewe. In Jesus se tyd het vriendskap 'n plek gehad in die openbare of publieke sfeer. Vriendskappe is in die openbaar gesmee en die gemeenskaplike vyand was 'n politieke term. Vyandskap leef vandag in die politiek voort, maar vriendskap het verskuif na die private sfeer. Jou vriend het 'n persoonlike vriend geraak, 'n intieme vriend, 'n boesemvriend, met die gevolg dat vriendskap 'n sterk gevoelskant ontwikkel het.

Omdat die skeiding van die openbare en private sfeer van die lewe ons almal raak, het ons ook 'n behoefte aan vriende. Maar dit is dikwels vriendskap binne hierdie romantiese konteks ek krap jou rug en jy myne. Jesus se vriendskappe met sondaars en tollenaars, ken nie die privaatheid en intimiteit van moderne vriendskap nie. Om in vriendskap met Hom te leef, beteken dat ons hierdie romantiese opvatting van vriendskap sal moet de-privatiseer. Vriendskap moet weereens die karakter van openbare beskerming en openbare respek kry.

Kan ons die kritiek ondervang?

Is dit moontlik om dié punte van kritiek te ondervang en te oorkom? Ja, dit gebeur wanneer mense aangegryp word deur die vreugde in God, in die mens en in die wêreld. Waar die Gees van God vaardig raak, begin mense om fees te vier oor die Koninkryk wat reeds aangebreek het. In 'n wêreld waar vriendskap nie net 'n privaat aangeleentheid is nie, raak oop vriendskappe 'n moontlikheid.

En in oop vriendskappe hoef ons nie ons identiteit prys te gee nie. Wat wel gebeur, is dat ons die verhoudings waarin ons dié identiteit ervaar, net verder vergroot. As vriende van Jesus het ons in Hom ook 'n lewende voorbeeld. En as 'n gemeente van vriendskap, het ons 'n wonderlike ruimte van waar ons oop vriendskappe kan ontwikkel en dit kan uitleef.

Mag ek jou vra: Is jy 'n vriend van God? Indien wel, kan ons nie anders as om saam te sê nie: "Wat 'n vriend het ons in Jesus!"

Bibliografie

Sien die bronne by 18 Mei se riglyn.