18 MEI 2003

vyfde SONDAG vaN PAASTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Johannes 15:1 tot 8

Ander tekste: Handelinge 8:26-40; Psalm 22:25 – 31; 1 Johannes 4:7 – 21

Inleiding

Die tekste vir vandag spreek die tema aan van bly in Christus en neem dit dan verder na die persoonlike vlak van wat maak dit van my as ek in Christus bly ! Tafeldruiwe (nav die fokusteks) kan (a) verduidelikend gebruik word tydens die prediking of (b) simbolies tydens die diens van die tafel uitgedeel word of (c) in die plek van die sjokolade paaseier tydens kindertyd gebruik word. Die liturgie behoort net soos die tekste ‘n sterk Christologiese klem en Paasvreugde te dra. Want sonder die Paasgebeure sou ons niks wees nie en niks kon doen nie (Joh 15:4-6; Hd 8:35; 1 Joh 4)

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Votum

"Gemeente van die Here, dit is Paastyd!

God het Jesus uit die dood laat opstaan!

Elkeen van ons was vas, maar nou’s ons vry

Amen"

Seëngroet

Voorganger: Halleluja!

Gemeente: Halleluja!

Voorganger: Liewe Gemeente! Christus het opgestaan!

Gemeente: Christus het waarlik opgestaan!"

Paaskers

Met die inbring of aansteek van die Paaskers kan die volgende gesê word:

Voorganger: Die kruis is kaal! Die graf is leeg!

Begin die fees!

Halleluja!

Gemeente: Halleluja!

Loflied

Lied 407/NSG 119

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Kindertyd

Gebruik ‘n groot sjokolade paaseier en vra allerhande voor-die-hand-liggende kindervragies oor paaseiers. Verduidelik dan dat paaseiers simbolies van lewe is wat oënskynlik dood lyk – daarom het dit Paassimbool geword. Die eier herinner ons aan die graf van Jesus en die kuiken wat nuut begin lewe uit die eierdoppe uit, aan Jesus Christus se opstanding. Breek die eier in stukkies en gee vir ‘n paar kinders elkeen ‘n stukkie sjokolade. Jy kan dan sê: "Jesus sê in Johannes 15 ons moet in Hom bly en die lewe (wat deur die dood gebreek het – soos deur die sjokoladedoppe wat Hy vir ons gee) – ontvang en daaraan vashou."

Skriflesing en Prediking

Johannes 15:1 – 8

Gebed

Sang

Lied 292 /NSG 32

Doop of Doopherinnering

As daar doopkerse aan dopelinge gegee word kan dit by die Christuskers (Paaskers) aangesteek word.

Geloofsbelydenis

Die Twaalf Artikels of ander Belydenisse

DIENS VAN DIE TAFEL

Gereedmaak van tafel

Nagmaalepiklese

Tafelbediening

Dankgebed

Sang

Lied 198 /NSG 20

UITSENDING

Sang

"Hy’s die Een wat ek liefhet in die môre ….Hy’s die wynstok ek is die rankie … "

Seën

Mag die liefde van God, die genade van Jesus Christus en die werking van die Heilige Gees in elkeen van julle wees en bly.

Sing Amen

Enige variant van die (3x) "Amen"-liedere kan nou gesing word/NSG 355/356

 

PREEKSTUDIE – JOHANNES 15:1-8

Teks en konteks

Inleidend

Hierdie Sondag se teks (15:1-8) en volgende Sondag se teks (15:9-17), vorm eintlik een perikoop. Daarom hanteer ek in die teks en konteks hieronder die hele perikoop, maar werk twee afsonderlike preekvoorstelle uit.

Die tema van wedersydse inwoning, waarvan ons reeds in hoofstuk 14 kennis neem, kom in hoofstuk 15 by wyse van die allegorie van die wingerdstok en die lote aan die orde. Jesus is die wingerdstok, die dissipels die lote en die Vader die boer. Om in Jesus te bly, is soos 'n loot wat sy lewe vanuit die moederstok ontvang. Om getrou te wees in die lewe is soos 'n loot wat vrugte dra. Die teendeel is ook waar: om ontrou te wees, lei daartoe dat jy afgesny en in die vuur gegooi word. Dit is 'n eenvoudige maar aangrypende allegorie, waarin die gedagte van die inwoning in Jesus baie prominent is. Op geen duideliker manier kon Johannes uitdrukking gee aan die sentraliteit van Jesus se lewe wat voortgaan in die lewe van sy volgelinge nie.

Johannes 15:1-8: Die allegorie

In vers 1 en 5 vind ons Jesus se laaste "Ek is"-uitspraak in Johannes. Soos in al die ander "Ek is"-uitsprake, dien dit as selfverklaring van Christus se identiteit. Ons moet versigtig wees om nie te veel in die allegorie te wil lees nie. Dit is belangrik om te besef dat dit nie soseer gaan oor Christus wat soos 'n wingerdstok is nie, maar dat dit eerder oor 'n teenoorstelling gaan. Christus word met ander woorde hier geplaas teenoor alle bekende wynstokke of ander denkbare lewensbronne. Dit is ook die funksie van die woord "ware", want dit beklemtoon Jesus se uniekheid; Christus is dié Wynstok. Die agtergrond van die beeld van die wynstok help ons om die betekenis nog beter te verstaan, want daar is 'n duidelike aansluiting by die Ou Testament. Dit beteken dat Christus in die plek kom van Israel as die ware, vrugdraende wynstok wat die Vader vir seker nie sal teleurstel nie.

Ons het wel groter duidelikheid oor die betekenis van die wynstok, maar hoe moet ons die lote verstaan? Dit is duidelik dat ons hier 'n gerigtheid op Jesus se dissipels en by implikasie dan ook 'n gerigtheid op die gemeente vind. Met ander woorde, dit wat Christus is, is Hy ter wille van sy dissipels en die gemeente. Jesus bied Homself aan as dit waarna die wêreld onwetend soek, naamlik die lewe. Wanneer Jesus vir hulle sê: "Julle is die lote", beteken dit dat hulle in die bevoorregte posisie is dat hulle nie net deur Christus uitgekies is nie, maar ook reeds aangestel is.

Christus sorg egter dat daar by sy dissipels geen onsekerheid oor sy uiteindelike doel en plan is nie. In lyn met die beeld van die wynstok, gee Hy vir hulle die opdrag om in Jesus te bly, soos wat Hy in hulle bly. Dan sal hulle vrugte dra. Indien hulle dit nie doen nie, kan dit die einde van hulle lewens beteken. Dis 'n waarskuwing dat stagnasie reeds afvalligheid beteken. Die bestaan van die gemeente word gekenmerk deur beweging en groei. Daarom het die woord "vrug" 'n omvattende betekenis. Om in Jesus te bly (v 7), beteken dat sy woorde ook in hulle bly. Om in Jesus te bly en vrugte te dra (om mekaar lief te hê), dien as teken van die Vader se teenwoordigheid en verheerlik sy Naam.

Die "bly in my" van vers 4, is 'n sleutelbegrip in die Johannes-evangelie, en beskryf presies dit wat God van ons verwag. Die klem val hier op die dringende noodsaaklikheid van die lewende gemeenskap met Christus. Ons Skrifgedeelte verduidelik dat hierdie gemeenskap ten alle koste bewaar en verinnig moet word. Dit is duidelik dat dit vir die toekomstige bestaan van die gemeente, vir die lewe van die dissipels na die Hemelvaart, lewensnoodsaaklik is dat die band met Christus nie gebreek word nie. Dit is interessant dat hierdie laaste "Ek is"-uitspraak van Jesus, verder gaan as net sy eie identiteit, maar dat dit hier ook oorgaan na die gemeente se identiteit. Die beeld wat ons van die gemeente in Johannes 15:1-17 het, kom baie ooreen met Paulus se beeld van die kerk as liggaam van Christus. Ons sou kon sê dat dié wesenskenmerk van die kerk van Jesus Christus is dat hy sy bestaan vind in sy lewende verbondenheid met Christus self.

Johannes 15:9-17: Verdere implikasies

In Johannes 15:9 verduidelik Johannes op 'n ander manier wat die implikasies van die inwoning in Jesus is. Hier verduidelik hy dat die inwoning ook verband hou met 'n inwoning in sy liefde. Maar 'n inwoning in Jesus se liefde, beteken ook gehoorsaamheid aan sy opdragte, net soos wat Jesus se inwoning in die Vader beteken dat Hy die Vader gehoorsaam en in die Vader se liefde gebly het (v 10). Dit is duidelik dat Johannes die veelsydige dimensies van die "inwoning in" volledig ontgin het.

In hierdie voortdurend uitkringende spiraal van gedagtes, bespreek Johannes in vers 11 die tema van blydskap as 'n verdere stap as die vrede wat Jesus in Johannes 13:27 beloof het. Dit is dus 'n vreugde wat die dissipels kry op grond van Jesus se eie vreugde. Direk daarna word die tema van vreugde weer deel van die tema van liefde (15:12-17). Die opdrag dat hulle mekaar moet liefhê, word hier in ietwat ander woorde herhaal. Johannes beskryf die opdrag tot liefde op verskillende maniere:

In die eerste plek is dit 'n liefde wat bereid is om sy lewe vir sy vriende af te lê. Die uiterste waartoe hierdie liefde bereid is om te gaan, is die inhoud van die vergelyking van die dissipels se liefde met Jesus se liefde. Jesus gaan binnekort ook illustreer tot watter uiterste hierdie liefde werklik bereid is om te gaan.

Tweedens gaan hierdie liefde ook verder as die verhouding van baas en ondergeskikte. "Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want 'n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het." Jesus is dus nou sy dissipels se vriend en nie hulle baas nie. Dit is die geval omdat die dissipels weet wat Jesus besig is om te doen. Wedersydse liefde los dus alle pligte en verpligtinge op, en knoop bande van hartlikheid en toegeneentheid. Wanneer ons die uitsonderlike liefde van die kruis verstaan, is hierdie transformasies die resultaat.

Kyk ons rondom ons, is dit duidelik dat die samelewing besig is met 'n eksperiment. En hierdie eksperiment is 'n poging om sonder Christus klaar te kom. Dit beteken dat daar baie mense is wat as 't ware "afskeid van die Christendom" geneem het. Mense gee vir Christus in hul hart op, verbreek hul verhouding met Hom, verbreek die gesprek met Hom en hou selfs op om aan Hom te dink. In Johannes 15:1-17 besweer Christus ons as 't ware om by Hom te bly. En Hy doen dit om ons ontwil! Baie duidelik sê Hy: "Sonder My kan julle niks doen nie. Wat julle doen sonder My is niks!"

Ons sou hierdie woorde ook as slotsom vir al die "Ek is"-uitsprake kon neem. Sonder die groot "Ek is" van Christus, sterf die klein "ek is" van honger, verdwaal ek in die duisternis, vind ek nie die ingang na die lewe nie, dwaal ek koersloos sonder Leier, bly ek onder die heerskappy van die doderyk, vind ek nie die weg, die waarheid en die lewe nie, en ruk die storms van die lewe my rond omdat ek nie 'n anker het nie. Kortom, sonder die "Ek is" van God se Seun, "is" ek nie, is ek "niks"!

Die "Ek is"-uitsprake help ons dus om vanuit die identiteit van God se Seun, ons eie identiteit te herontdek. Wanneer ons erns maak met hierdie ingrypende uitsprake, lig dit ons nie net in nie, maar verander dit ons ganse lewe. Wanneer God deur die inwoning van sy Gees ons lewens verander om al meer gelykvormig te word aan sy "Ek is" Seun, kry my eie "ek is" ook nuwe betekenis en nuwe lewe. Dan begin ek leef met die energie van die "Lewensbrood" in my are, lewe ek in die "Lig", vind ek die "Ingang" na die lewe, kry ek koers op die "Lewenspad", ken ek die "Lig", lewe ek vanuit die "Opstanding" en is ek veilig geanker in die "Ware Wingerdstok". Maar dan nie ter wille van myself nie, maar ter wille van God en sy wêreld. Aan die "Ek is" van God kom toe al die lof en die eer en die aanbidding.

Preekvoorstel

Donsskimmel

Vakansietyd in die Kaap, bring besoekers na die mooiste deel van ons land. Dit is ook lekker om familie en vriende as Kapenaars te ontvang, omdat daar so baie is om te doen en te sien. Dikwels gebeur dit ook dat ons besoekers ons op plekke bring waar ons self nie normaalweg heen gaan nie. So was dit ook met ons gesin 'n tyd gelede. Een van die plekke wat ons nog nie voorheen besoek het nie, was House of JC le Roux, net buitekant Stellenbosch. Hoog bo in die Devon vallei, is hierdie bekende wynlandgoed geleë. Hulle is veral bekend vir die sogenaamde Suid-Afrikaanse sjampanje wat hulle vervaardig. So 'n besoek is nie alleen insiggewend wat betref al die prosesse om uiteindelik die produk in die bottel te kry nie, maar dit is ook smaakvol en uiteindelik genotvol.

Nietemin, een van die dinge wat my opnuut getref het, was die groot gevaar wat menige wynboer in die gesig staar, naamlik die druifsiekte bekend as donsskimmel. Volgens die dame wat ons op 'n toer deur die kelder gevat het, werk dit baie soos muf. Dit kom veral voor wanneer daar heelwat reën geval het en daar nie onmiddellik wind waai nie. Dit klink my hierdie gevreesde siekte kom oornag voor en binne twee dae kan ‘n hele oes daarmee heen wees. Die bakterie onttrek blykbaar die vog uit die druiwekorrels, sodat dit binne 'n paar dae pikswart word en afval. Volgens ons toergids was daar die afgelope seisoen boere in die Stellenbosch-omgewing, wat tot 100% van hul oes as gevolg van dié siekte verloor het. Verder is dit so dat die gif wat gebruik word om die druiwe te bespuit, geweldig duur is. As die boere dit dus enigsins kan voorkom, spuit hulle nie vooraf die gif nie. Dit het egter weer bepaalde risiko's.

Wingerdstok en lote

Ons teks van vanoggend hou juis verband met 'n boer, 'n wingerdstok en lote. Voordat ons kyk na die gevare van wat ek wil noem, geestelike donsskimmel, is dit eers belangrik om iets oor die agtergrond van dié beeld te verstaan.

Dit gaan hier natuurlik oor die tema van wedersydse inwoning, waarvan ons ook in hoofstuk 14 lees. Jesus gebruik die beeld as 'n allegorie, wat niks anders is nie as 'n uitgebreide vergelyking. Jesus is die wingerdstok, die dissipels die lote en die Vader die boer. Om in Jesus te bly, is soos 'n loot wat sy lewe vanuit die moederstok ontvang. Om getrou te wees in die lewe, is soos 'n loot wat vrugte dra. Die teendeel is ook waar: om ontrou te wees lei daartoe dat jy afgesny en in die vuur gegooi word.

Dit is 'n eenvoudige maar aangrypende allegorie waarin die gedagte van die inwoning in Jesus baie prominent is. Op geen duideliker manier kon Johannes uitdrukking gee aan die sentraliteit van Jesus se lewe wat voortgaan in die lewe van sy dissipels en ander volgelinge nie.

'n Ek is-uitspraak

In hierdie verse vind ons ook die laaste "Ek is"-uitspraak in die Johannes-evangelie. Die verskillende Ek is-uitsprake in Johannes, dien telkens as 'n tipe selfverklaring van Jesus. Telkens maak Christus iets van sy identiteit aan ons bekend deur hierdie uitsprake.

Dit is belangrik om te besef dat dit nie soseer gaan oor Christus wat soos 'n wingerdstok is nie, maar dat dit eerder oor 'n teenoorstelling gaan. Christus word met ander woorde hier geplaas teenoor alle bekende wynstokke, of ander denkbare lewensbronne. Dit is ook die funksie van die woord "ware" (ek is die ware wynstok), want dit beklemtoon Jesus se uniekheid – Christus is dié Wynstok – daar is nie nog een soos Hy nie!

Ou-Testamentiese-agtergrond

Die wyer agtergrond van die beeld van die wynstok, help ons om die betekenis nog beter te verstaan, want daar is 'n baie duidelike aansluiting by die Ou Testament. Kortliks kom dit daarop neer dat Christus in die plek kom van Israel as die ware, vrugdraende wynstok wat die Vader vir seker nie sal teleurstel nie.

Noudat ons weet wie die wynstok is, hoe moet ons die lote verstaan? Dit is duidelik dat dit hier oor Jesus se dissipels, en by implikasie ook oor die gemeente gaan. Met ander woorde, dit wat Christus is, is Hy ter wille van sy dissipels en die gemeente. Jesus bied Homself aan as dit waarna die wêreld onwetend soek, naamlik die lewe. Wanneer Jesus nou vir hulle sê: "Julle is die lote", beteken dit dat hulle in die bevoorregte posisie is dat hulle nie net deur Christus uitgekies is nie, maar ook bestem is om vrugte te dra.

Uiteindelike doel

Christus sorg dat daar by sy dissipels, by jou en my, geen onsekerheid is oor sy uiteindelike doel en plan nie. In lyn met die beeld van die wynstok, gee Hy vir sy dissipels die opdrag om in Hom te bly, soos wat Hy in hulle bly. Dan sal hulle vrugte dra. Indien hulle dit nie doen nie, kan dit die einde van hulle lewens beteken. Dis 'n waarskuwing dat stagnasie reeds afvalligheid beteken. Die bestaan van die gemeente, van elke gelowige, word dus gekenmerk deur beweging en groei.

Daarom het die woord "vrug" 'n omvattende betekenis. Om in Jesus te bly (vers 7), beteken dat sy woorde ook in sy dissipels (in jou en my) bly. Om in Jesus te bly en vrugte te dra (om mekaar lief te hê), dien as teken van die Vader se teenwoordigheid en verheerlik sy Naam.

Gevaar: Geestelike donsskimmel

Soos wat die boere in Stellenbosch verlede jaar met donsskimmel gesukkel het, sukkel ons Hemelse Vader-boer ook met geestelike donsskimmel in sy wingerd. Die groot woord wat ons daarvoor gebruik, is sekularisasie, 'n lewensinstelling waarin die werklikheid en teenwoordigheid van God in ons lewens, geminag en selfs ontken word. Prof Jaap du Rand praat in sy nuutste boek hiervan as die ontluistering van die wêreld.

Nou lyk dit vir my asof hierdie geestelike donsskimmel op verskillende maniere God se wingerd, vir jou en my, op 'n slegte manier kan tref. Net soos gewone donsskimmel kan dit ons geestelike vrug uitdroog, sodat dit soos swart korrels op die grond val, los van die wynstok.

Wrange vrugte

Daarom is die eerste tekens van hierdie geestelike donsskimmel in ons lewens, wanneer ons inderdaad begin agterkom dat die korrels wat veronderstel is om die vrug van ons lewens te wees, swart, onbruikbaar, suur en droog is. Los van die wynstok, op die grond, waar dit niks vir niemand kan beteken nie. Inteendeel, waar dit 'n suur stank in die lug gee, en die brommers en vlieë lok.

En wanneer ons begin ondersoek instel, kom ons agter dat die probleem eintlik op 'n dieper vlak lê. Daar is 'n rede waarom die druiwekorrels swart word, die donsskimmel het reeds die lote uitgedroog. En nou sê Jesus, sulke lote word weggegooi. Meer as dit, daar is mense wat sulke lote bymekaar maak en dit in die vuur gooi, sodat dit kan verbrand. Dit is niks werd nie!

En wanneer dié bekommernis jou beetpak, begin jy nog dieper soek. En dit is wanneer jy agterkom, dat die donsskimmel ten diepste daarin geslaag het, om die lewensap van die moederstok te blokkeer. Die lewensnoodsaaklike voedsel kom nie by die lote uit nie.

Ons diepste voedingsbron

Geestelike donsskimmel, sekularisasie, is dus 'n proses waarin die waardes van die samelewing op 'n subtiele manier daarin slaag om die lewensap na ons diepste voedingsbron af te sny; na die ware wynstok Jesus Christus.

Bespuiting

Nou is die vraag: Is daar bespuiting, is daar 'n geneesmiddel wat hierdie proses kan teëwerk? Bestaan daar 'n teenmiddel vir geestelike donsskimmel?

Dit lyk tog vir my, of daar so iets bestaan. Dit is nie verniet dat vers 4 as die sleutelvers van ons perikoop beskou word nie. Want die "bly in my" van vers 4, is nie net 'n sleutelbegrip in dié perikoop nie, maar in die hele Johannes-evangelie, en beskryf presies dit wat God van ons verwag. Johannes laat die klem val op die dringende noodsaaklikheid van die lewende gemeenskap met Christus. Ons Skrifgedeelte verduidelik dat hierdie gemeenskap ten alle koste bewaar en verinnig word. Dit is duidelik dat dit vir die toekomstige bestaan van die gemeente, vir die lewe van die dissipels na die Hemelvaart, lewensnoodsaaklik is dat die band met Christus nie gebreek word nie.

Identiteit

Daarom is dit so interessant dat hierdie laaste "Ek is"-uitspraak van Jesus, verder gaan as net sy eie identiteit, asook dat dit hier oorgaan na die gemeente se identiteit. Die beeld wat ons van die gemeente in Johannes 15:1-17 vind, kom baie ooreen met Paulus se beeld van die kerk as liggaam van Christus. Ons sou dus kon sê dat dié wesenskenmerk van die kerk van Jesus Christus is dat hy sy bestaan vind in sy lewende verbondenheid met Christus self. Sonder Christus is die bestaan van die kerk nie moontlik nie, sonder Christus is jou en my bestaan 'n siek bestaan, 'n bestaan vol geestelike donsskimmel.

Kan ons self genees?

Maar is dit nou moontlik, om self hierdie middel teen geestelike donsskimmel toe te dien? Kan ons dit self aanmaak en self die spuit hanteer?

Genadiglik nie. Want as ons self hierdie middel moes aanmaak, sou dit eweneens dalk 'n lekker gemors wees. Vir my eie lewe sit ek net 'n paar druppels van die gif in met 'n spuit so hier en daar, maar vir ander gooi ek sommer die hele botteltjie in, en spuit sommer gesellig – net om doodseker te maak.

Nee, hier beweeg ons op God se terrein. Ons het hier met die werk van die Gees te make. God weet presies watter middel ek nodig het, hoe ver ek al die siekte onder lede het en hoeveel hy van sy eie geneesmiddel moet gebruik om die siekte teë te werk.

Dit is nie in ons hande nie, nie omdat ek probeer vroom klink nie, maar omdat ons teks dit vir ons sê. Vers 5 sê dit so pragtig: "sonder My kan julle niks doen nie". Sonder God se Gees, sonder God se betrokkenheid, gaan ons met teenmiddels mors. Trouens, dit kan selfs gebeur dat ons die geestelik donsskimmel net kan vererger, as ons probeer om te doen wat net God kan doen.

Grootste troos

Maar dit is nog nie die grootste troos in ons teks nie. Die grootste troos rondom God se betrokkenheid in die bevegting van geestelike donsskimmel, vind ons in vers 7: "As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry."

Is dit nie 'n aangrypende trooswoord nie? Wanneer God 'n greep kry op hierdie siekte in ons lewens, genees Hy dit nie net nie, Hy nooi ons ook uit. Wanneer die teengif van sy woorde in ons are begin vloei, val dit nie net die dodelik selle van die siekte aan nie, maar maak dit ook die kanale oop sodat ons kan vra wat ons nodig het.

God nooi jou uit om jou oop te stel vir die genesing wat Hy vir jou in gedagte het. Hy verwag nie dat jy dit self moet doen nie – jy gaan dit ook nie regkry nie. Al wat Hy van jou verwag, is om in afhanklikheid te aanvaar dat Hy dit kán doen. Om jouself telkens op dié plekke te plaas waar Hy met sy genesingswerk kan voortgaan:

met geknakte knieë saam met jouself in jou binnekamer,

met oopgestrekte arms saam met jou gesin rondom die Bybel

met gevoude hande saam met medegelowiges hier in die erediens,

met reguit bene saam met kollegas by die werkbank in jou daaglikse arbeid.

Telkens wanneer ons dit regkry, beloof die Here Jesus: "My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is." Geestelike donsskimmel hoef nie jou lewe te versuur en te ontsier nie. God wil dit nie so hê nie. Kom ons vra dat Hy ons met die bestryding daarvan sal help sodat ons die ware vreugde van die lewe in oorvloed kan geniet, net soos wat die klap van 'n sjampanjeprop die fees laat begin.

Bibliografie

Burger, C W (et al) 1982. Riglyne vir nagmaalsprediking: Woord teen die Lig 4; Du Rand, J A 1995. Terwille van liefde: Johannes, die Woord vir die mense; Roberts, J H (et al) 1990. Teologie in Konteks; Soards, M (et al) 1993. Preaching the Revised Common Lectionary. Year B; Smith, D E & M E Williams 1996. The Storyteller's Companion to the Bible: John.