6 April 2003

Vyfde Sondag in Lydenstyd

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks : Johannes 12: 20-33

Ander tekste: Jeremia 31: 31-34; Psalm 51: 1-18; Hebreërs 5: 5-10

Storie van die liturgie

Dit gaan in hierdie liturgie om opnuut die ervaring te beleef dat ek God wil dien en volg, maar dat my sonde dit verhinder, en die besef: Jesus het my kom wys hoe. Hy het dit vir my moontlik gemaak. Dit is n liturgie wat begin by die woorde: "laat my U weer met toewyding dien" (Ps 51: 14) en eindig met "wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo my liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou." (Joh 12:25) Daarom is die momente van skuldbelydenis en toewyding van groot belang in die verloop van die liturgie. n Mens sou kon sê dat kernwoorde in hierdie liturgie is: gehoorsaamheid, toewyding, dien God, volg Jesus.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Moment van Bewuswording

Gemeente: Vader in die hemel Lied 179:1, 2 en 3/NSG 328: Vader, ons aanbid U

Aanvangswoord

Voorganger: Here, U verwag opregtheid diep in n mens se hart; laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe. Skep vir my n rein hart, o God. Amen.

(Na aanleiding van Psalm 51: 8 en 12)

Seëngroet

Voorganger: Die Verbondsgod groet sy gemeente: Ek het my woord op julle harte geskryf en dit in julle gedagte vasgelê. Ek is julle God en julle is my volk.

(Na aanleiding van Jeremia 31: 33)

Lofprysing en aanbidding

Gemeente: "Deurgrond my, Heer" Lied 25:1 en 2; Ps 25/NSG 265:

"Halleluja, loof die Heer" Lied 138:1 en 2; Ps 138/NSG 19:!

Bewuswording van ons sonde

Voorleser: (iemand wat gevoelvol en met betekenis kan lees) lees Psalm 51:3-7; 9-12.

Gemeente: "My God, ek het niks as my hart" Lied 25: 4/NSG 256:

Bewuswording van Jesus se offer

Voorganger lees Hebreërs 5: 7-10 uit Die Boodskap se vertaling. Dit lui soos volg:

Toe Jesus destyds op aarde was, het Hy God baie mooi gevra om Hom uit die dood te red. Hy het baie ernstig met trane in sy oë daarvoor gebid, omdat Hy geweet het dat God dit kan doen. En God het dit gedoen omdat Jesus Homself met soveel oortuiging in God se hand geplaas en Hom gehoorsaam het. Al was Jesus sy Seun, het Hy ervaar wat dit beteken om regtig gehoorsaam te wees deurdat Hy na God bly luister het, al het dit met Hom hoe swaar gegaan. Nadat Hy gewys het dat Hy aan God en net aan Hom gehoorsaam is en nooit iets doen waarvan God nie hou nie, kon Hy die ewige lewe uitdeel aan almal wat na Hom wou luister.

Voorganger: Laat ons dan na Hom luister wat sê: "Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit, en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. As iemand My wil dien, moet hy My volg."

Gemeente: Lied 541:3 (Dit sal goed wees as die gemeente reeds die lied opgesoek het, sodat dit sonder aankondiging gesing kan word. Dit begin met die woorde "Ons wil U volg, Heer Jesus")/NSG 268:1 : Doen net u wil, Heer

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord/Epiklese

Voorganger: Here Jesus, om U te volg is ons hele lewe. Ons wil die lewe ook vir ewig behou. Laat ons luister na U Woord en Gees sodat ons kan lewe. Amen.

Woordbediening

Lees ten minste die Ou-Testamentiese gedeelte uit Jeremia 31 en die evangelie uit Johannes 12. Bedien dan die Woord aan die hand van die fokusteks.

Dankgebed en voorbidding

Voorganger, gaan voor in n vrye gebed. Onthou om voorbidding te doen vir diegene wat dit moeilik vind om te glo en daarom opgehou het om Jesus te volg.

DIENS VAN DIE TAFEL

Gebruik die voorstelle in die basisliturgie.

UITSENDING

Offergawes

Antwoordlied

"Aan Jesus, Koning, al die eer" Lied 223: 1, 2 en 3: /NSG 194: "Jesus het reg op heerskappy"

Seën

Voorganger: Die woorde van Numeri 6: 24-26

Gemeente: Lied 534: 1, 2 en 3: Here Jesus, ek is klein/NSG 284

 

Preekstudie Johannes 12:20-33

Teks

Inleidend

Skynbaar is ons hier besig met Jesus se "suksesverhaal" wanneer daar na die opwekking van Lasarus n groot toeloop na Jesus plaasvind (sien 11:45, 56; 12:11, 17). Daarby kom die triomfantelike intog van Jesus in Jerusalem waarna die Fariseërs met wrewel opmerk: "Kyk, die hele wêreld gaan agter hom aan!" (12:19). Hy word inderdaad op aarde "verhoog", op n pedestal geplaas. Hoewel nie deur almal nie. Dieselfde gebeure wek ook heftige teenstand wat uitloop op n vasbeslote komplot om Jesus dood te maak (11:53, 57).

Vers 20-22: die "suksesverhaal" bereik n soort van klimaks as Grieke, moontlik proseliete, verteenwoordigers van die nie-Joodse wêreld, vra om Jesus te "sien". Sou daarby ook die begeerte wees om te glo (n tipiese kombinasie by Johannes: vgl 20: 8, 29); sou dit die eerste teken wees dat Jesus uiteindelik deur sy dood die oor die hele aarde verspreide kinders van God versamel (sien 11:52)? En is dit simbolies dat hulle toegang tot Jesus sou verkry via die dissipels, soos Bultmann dit sien?

Verse 23-24: gee n vreemde, half ontwykende antwoord op die soekendes se vraag. En tog is dit die enigste antwoord op hulle dringende soektog: ja, julle soek Hom in die uur van verheerliking. Maar dit is n vreemde verheerliking, n spanning-gelade uur want dit lyk asof dit die uur is waarin sy vyande en die Satan triomfeer. Dit is die uur waarin die Saad van die Koninkryk in die grond sal val om te sterwe. Dit is die uur wat nou aanbreek (vgl die "nog nie" van 7:30; 8:20); dit is die uur waarin Hy sy eie mense tot die uiterste toe liefhet en sy lewe vir hulle gee (13:1; 15:13). Sterwend sal dit egter vrug dra, vrug waarin Hy en sy Vader verheerlik sal word (28; sien 15:8; 17:1). Schnackenburg sê tereg: "met die term verheerliking word die hele heilswerk van Jesus onder een noemer gebring." En tot die verheerliking van die vader sal uiteindelik behoort die missionêre byeenbring van sy gemeente van die eindtyd. Dus: "dat betekent voor de Grieken die Hem wilden zien, dat zij moeten wachten: straks als de gestorven en opgestane Heer, zal Jezus voor hen zichtbaar (geloofbaar) zijn, dán zal Hij allen tot zicht trekken (vs 32)" (Van Leeuwen).

Verse 25-26: die "sien" van Christus se heerlikheid is nie n goedkoop, rustige toeskouersaangeleentheid nie. Om Hom te sien en in Hom te glo, beteken om al sterwend vrug te gaan dra, om sy lewe nie bo Christus lief te hê nie. Om te sien en te glo, beteken om in Christus se diens te staan, en daar te wees waar Christus is, tot liefde bereid (sien 15:8-9). Dus: dat Jesus sy lewe gee, het eksistensiële en etiese gevolge, as dit n totale lewensoorgawe vra. Om Christus te sien en te glo, is gevaarlik: "when Christ calls someone to be His disciple, He calls him and her to die" (Bonnhoefer)

Verse 27-30: vertel van n verontrustende vraag van Christus of Hy uit hierdie uur "gered" sou kon word. Die vraag dui minder op n psigologiese onrus of menslike angs (teenoor Brown); dit is eerder n soeke na die helder betekenis van hierdie uur, naamlik om in hierdie uur sy roeping te volbring sodat Hy aan die einde van die uur kon uitroep: "dit is volbring" (19:30). Die bede: Vader, verheerlik u Naam (28) is niks anders nie as: "Laat u wil geskied" (Mark 14:36). Dit gaan in hierdie uur om die "wedersydse verheerliking van die Seun en van die Vader" (Schnackenburg).

Verse 31-33: die uur van die verheerliking, die uur van die verhoging aan die kruis (sien 33) is ook die uur van God se beslissende oorwinning oor die owerste van hierdie wêreld, die Satan (sien die nou nou van 31). Die teenstander van Christus, (sien 14:39), die teëspeler van God verloor aan die kruis sy gesag oor die wêreld (Brown). Wel sal hy altyd nog tot die kwaad aanstig, maar sy mag is in beginsel verbreek! In hierdie verhoging gee Christus hulle wat in Hom glo n aandeel in die oorwinning; in die oordeel oor die Bose trek Hy hulle wat glo,uit die oordeel uit (32; sien 3:18 in vorige week se lesing).

Die konteks

Die aanbreek van die beslissende uur is n kernwoord in die perikoop en n keerpunt in die evangelie maar ook in die geskiedenis van die hele mensdom, van wie die Grieke verteenwoordigers is. Die terme "die uur van verheerliking" en "verhoging" van Christus dui by Johannes op die een groot gebeure van die kruisdood, opstanding en hemelvaart. Op hierdie vyfde Lydensondag, die Sondag voor Palmsondag, moet dit duidelik onderstreep word dat die weg van Jesus alleen deur die dood heen, deur die sterwe van die graankorrel, na die opstanding voortgaan. En alleen só dra dit vrug in die verloop van menselewens en van die geskiedenis. In hierdie simboliese uur is alles op die spel, die volle heil, extra nos, pro nobis! En slegs só kan Hy alle mense optrek in sy verhoging, optrek uit die sonde en optrek uit die oordeel. Hierdie beslissende uur word op die vyfde Lydensondag her-denk, weer beslissend bedink.

Die uiterste en radikale etiese implikasies van Jesus se lydensweg word in hierdie perikoop gesien (die Tora-lesing vir hierdie Sondag in Ps 119:9-16). Wie Jesus wil sien en gelowig volg, moet saam met Hom op die weg van die selfverloënende dienende liefde gaan; moet nie aan eie gemak of voordeel dink nie, maar trou bly tot in die dood (sien Luk 9:23). Prediking in die lydenstyd moet verder beweeg as die rustige aanskoue van Christus aan die kruis en aanvaarding van die verworwe heil, extra nos tot waar dit diep in ons lewe insny, waar ons opgelig word tot daar waar Christus is: aan die kruis (12:26).

Die kosmies-eskatologiese aspek van die uur van verheerliking is van groot belang, veral in ons tyd waarin ons telkens bewus word van die deurwerking van die kwaad en magte van die duisternis: ja, 11 September 2001, maar ook in allerlei vorme van sinnelose geweld, verkragting, uitbuiting, korrupsie Ons moet die verhoging aan die kruis nie net soteriologies verstaan nie. Immers deur die kruis het Christus die bose magte ontwapen, van hulle krag beroof (sien Kol 2:15; ook 1:13). Teen die mag van die liefde, uitgedruk in sy vrugdraende dood, kan die Bose nie standhou nie. Hieraan kan gelowiges vashou, ook wanneer twyfel en wanhoop hulle oorval. Christus verlos hulle van hul valse sekerhede, maar ook van hulle wanhoop. Christene is immers wedergebore tot n lewende hoop (vgl 1 Pet 1:3) om draers van hierdie hoop te wees. En juis as draers van hierdie hoop sal hulle ook ervaar dat die bose in hulle én in hulle omgewing oorwin word deur die hoop en die geloof en die liefde wat God se Gees in hulle harte uitstort (Rom 5:4-5).

Die verheerliking van God, die doen van wat Gód wil, die weg van diens en liefde, staan haaks op die strewe na sukses. Dit is vir baie mense vreemd. Want ons Westerse konsumpsiegerigte en welvaartbeluste strewe na sukses, na gemak en gewin, na mag met al sy liefdelose, ontmenslikende, natuur- en medemens uitbuitende kultuur, staan fel teenoor die weg van die liefde, diens en offerbereidheid. Laat ons eerlik wees: as gelowiges is ons dikwels meer kinders van hierdie wêreld, vasgevang deur allerlei egoïstiese drange. Ook dit moet op hierdie Lydensondag bedink word en in onsself oorwin word. In die skuldbelydenis tydens die erediens kan dit op hierdie dag aan die orde kom.

Preekvoorstel

Inleidend sou gevra kon word: wat beteken sukses vir ons, hoe jaag ons dit na? Is dit ongebreidelde soeke na selfvervulling, selfverruiming en selfverryking? Waar plaas ons selfverloënende liefde en diens ons op hierdie weg na sukses (vgl II.4 hier bo). Daarna kan, aan die hand van eksegese, verwys word na die skynbare hoogtepunt in die "suksesstorie" van Jesus; na die moment wanneer die hele wêreld agter Hom aanloop en Hom opsoek. Hoe hanteer Hy dit?

Hy sien dit as die beslissende uur wat in sy lewe aanbreek om God se plan vir die wêreld te volbring. Daarvoor moet Hy die weg van die koringkorrel gaan, die weg van die dood, die weg van liefde tot die uiterste van die kruis, loop. Daardeur en so alleen sou Hy vrug dra en alle mense na Hom trek, optrek vir die oordeel, vir die dood tot die ewige lewe (Joh 3:16). Wie Hom soek, in Hom wil glo, moet Hom daar soek. Ook hierdie vyfde Lydensondag is n beslissende uur

Daardeur, deur die sterwende graankorrel, word gelowiges beny tot n liefdediens wat alles ontvang wat die graankorrel gee, maar ook alles gee wat Hy vra. Die uur van sy verheerliking is ook die beslissende uur vir hulle wat wil volg: dit sny diep in hulle lewe in, teen hulle natuurlike liefdes (liefdes bo Hom: sien vers 25), teen die gangbare gebruike en kultuur waarin ons lewe (vgl Teks en Konteks hierbo). Op hierdie Sondag word almal wat glo, opgetrek na Hom toe vir die oordeel ja, maar tot Hom aan die kruis: om daar te wees waar Hy is (vers 26!).

Paradoksaal: wat lyk na bevryding tot die dood van die kruis, blyk bevryding tot die hoop te wees! Juis aan die kruis word die magte van die dood, van die versoeking, van die verslawing, van die verontregting, van die teenstand teen God deurbreek (sien II.3 bo). Wie Jesus sien, wie Jesus volg, wie Jesus dien,, sien die wêreld anders: as die terrein waarop hulle draers van die liefde, en so draers van die hoop word ook as hulle mense en stukke van hierdie wêreld aan die mag van die bose ontruk en hulle onder die heerskappy van God plaas.

Bibliografie

RE Brown, The Gospel according to John I XII (Anchor Bible); R Bultmann, The gospel of John; R Schnackenburg, The gospel according to St. John; Th.M. van Leeuwen, Woord in beweging 6, 47-56.