2 MEI 2004

VIERDE SONDAG VAN PAASTYD arbeidsondag

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir Paastyd gebruik te word.

Fokusteks: Johannes 10:22-30

Ander tekste: Handelinge 11:1-18; Psalm 23; Openbaring 7:9-17

Inleiding

Die herderskap van God verbind hierdie tekste met mekaar. Daarom staan hierdie Sondag ook bekend as "Goeie Herder Sondag". n Herder versorg en beskerm en lei. Mense wat die Here Jesus as hulle herder het, is baie gelukkig en tevrede. Om hierdie geluk en tevredenheid te beleef en te vier is die fokus van vandag se liturgie.

Daar sal op n paar plekke van Psalm 23 gebruik gemaak word. Moontlik mag jy oordeel dat dit in elk geval so n bekende psalm is dat die betekenis daarvan al heeltemal verslete geraak het. Onthou dat daar ook in die bekende n stuk bevestiging en vaslegging is. Gebruik dus maar vir hierdie slag die baie bekende psalm.

Jubilate Sien vir die benaming van dié Sondag die basisliturgie vir Paastyd.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Bewuswording

Vertoon op n skerm n beeld van n herder. (Daar is pragtige skilderye of ander prente op die internet te kry. Gaan kyk maar o.a. by google.com.) Hierdie beeld moet reeds op die skerm wees as die eerste mense die kerkgebou binnekom. Verskillende verwerkings en/of koorsang van Psalm 23 kan deur die orrelis en koor uitgevoer word, of op CD gespeel word. Doen vir ten minste hierdie Sondag die aankondigings op skrif en as iemand iets moet sê, laat dit gebeur by die geleentheid vir die gee van offergawes. Dus, sonder enige onderbreking en terwyl die beeld van die herder steeds vertoon word, begin ons met die aanvangswoord.

Aanvangswoord

Voorganger: Lees die hele Psalm 23.

Gemeente: Sing Psalm 23:1-3.

Voorganger: Amen! Die lof en die heerlikheid, die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte behoort aan ons God tot in alle ewigheid. (Openbaring 7:12)

Gemeente: Sing Lied 312 "Amen"/NSG 355/356.

Seëngroet

Die Here, ons herder, sorg vir julle, lei julle en beskerm julle. En Hy gee die ewige lewe aan julle.

Verootmoediging en skuldbelydenis

Ons misken dikwels ons herder se stem. Ons volg nie sy leiding nie. Ons smag nie na sy versorging nie, maar probeer vir onsself sorg, met katastrofiese gevolge. Laat ons dit voor Hom bely:

Voorleser: (n Persoon met wie vooraf gereël is en wat gevoelvol kan voorlees sonder om dramaties te wees, lees die volgende gebed van Calvyn)

Here God, almagtige en ewige Vader, ons bely en erken, sonder geveinsdheid, voor U heilige Majesteit, dat ons nikswerd sondaars is. Ontvang en gebore in ongeregtigheid en verdorwenheid, geneig om kwaad te doen, onbekwaam tot enige goed. En dat ons vanweë ons verdorwenheid sonder ophou u heilige gebooie oortree. Deur dit te doen bring ons die verderf en ondergang oor ons wat u regverdige oordeel vereis.

Maar Heer, ons mishaag onsself omdat ons U beledig het en ons veroordeel ons en ons sondes met n ware berou, terwyl ons hoop dat u genade ons rampspoed te hulp sal kom.

Sal U nie met ons mededoë hê nie, o God en Vader, vol van barmhartigheid, in die Naam van u Seun Jesus Christus, ons Heer.

Wanneer U ons sondes en smet uitwis, laat ons die vryheid beleef en vermeerder van dag tot dag die genadegawes van u Heilige Gees; sodat ons met ons ganse hart ons ongeregtigheid bely en ons ontroer word met mishae, wat n ware berou in ons opwek, wat ons laat sterf aan alle sondes en wat in ons die vrugte van geregtigheid en heiligheid laat voortkom, wat vir U aangenaam is deur Hom Jesus Christus, ons Here. Amen.

Vryspraak

Lees Openbaring 7:13-17 as vryspraak.

Lofprysing en aanbidding

Lied 597:1-5/NSG 142.

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord

Voorganger: Vrye gebed waarin veral die genadewerk van die Heilige Gees versoek word om ons te help om die Woord te hoor en te glo.

Gemeente: Sing Lied 257:1-3/NSG 332.

Skriflesing en Woordbediening

Aangesien die ander tekste redelik volledig in die liturgie gebruik word, kan volstaan word met die lees van net die fokusteks.

Dankgebed en voorbidding

DIENS VAN DIE TAFEL

Maak gebruik van die voorstelle in die basisliturgie.

UITSENDING

Offergawes

Antwoordlied

Lied 577:1-5/NSG 406

Seën

Die Here Jesus, ons Herder, ken julle en niemand sal julle uit sy hand ruk nie. Amen.

Sang

Lied 317/NSG 355/356 of "Amen" (Kies enige van Lied 312-315).

 

PREEKSTUDIE JOHANNES 10:22-30

Teks

Die Leesrooster se teksafbakening vir hierdie Sondag volg dié van die Revised Common Lectionary en die Book of Common Prayer Lectionary, maar verskil van die Roman Catholic Lectionary (10:27-30). Die Leesrooster-afbakening verskil ook van sekere Bybelvertalings. Die 1933- en 1983 (NAV)-vertaling van die Afrikaanse Bybel hanteer vers 22-42 as eenheid, maar verdeel hoofstuk 10 in twee perikope. Ook die New International Version (NIV) verdeel oofstuk 10 in twee perikope, terwyl The New King James Version (NKJV) die hoofstuk as eenheid hanteer. Ons perikoop is dus `n onderdeel van `n groter eenheid binne hoofstuk 10.

`n Eerste leidraad vir die Leesrooster se teksafbakening lê in die vertalings se opskrifte vir die onderskeie perikope as aanduiding van die sentrale tema van hoofstuk 10, asook van die vertalers se motivering vir hul indeling. Die vertalings beklemtoon die herder-tema in 1-21 (NAV; 1933-vertaling; NKJV, hele hoofstuk; NIV, 1-21). Die pastorale tema word ook in die tweede deel van hoofstuk 10 beklemtoon (NAV, 22-42). Die 1933-vertaling kies `n omvattende opskrif: "Op die fees van die tempelwyding verklaar Jesus op `n vraag van die Jode dat Hy die Messias, die Seun van God, is. Hulle wil Hom stenig. Hy gaan oor die Jordaan." Die opskrif beskryf drie opeenvolgende, maar onderskeie handelinge (van Jesus en die Jode). Die NIV vat 22-42 saam: "The Unbelief of the Jews," met die klem op die Jode se geloof (ongeloof) oor Jesus se messianiteit. Daarmee kom geloof as sentrale motief ter sprake en dui die opskrifte van vertalings aan dat ons perikoop binne `n groter eenheid pas en deel vorm van die tema van hoofstuk 10, naamlik: die verhouding tussen Jesus en sy volgelinge.

`n Tweede leidraad vir die Leesrooster-teksafbakening word deur die teks self gebied. Vers 22 begin met `n tydsaanduiding (egeneto tote) wat in die NAV vertaal word met: "Dit was daardie tyd " Daar bestaan onsekerheid oor die oorspronklike lesing van die uitdrukking. Geleerdes handhaaf verskillende interpretasies van die tydsaanduiding. Tasker oordeel egter dat alternatiewe interpretasies van die tydsaanduiding nie die funksie van die verse verskraal nie. Dit vorm `n skakel tussen die voorafgaande gelykenis en die daaropvolgende verhaal oor die opwekking van Lasarus. Die tyd word op drieledige wyse nader beskryf: (a) `n sentrale Joodse fees, die fees van die tempelwyding (ta engkainia); (b) die plek waar die fees plaasvind, Jerusalem, asook; (c) die seisoen van die jaar, " dit was winter" (Rossing). In 23 en 24 word die tyd-ruimtelike afbakening verder ontwikkel, met `n beskrywing van die "setting" (die tempel in die pilaargang van Salomo), asook die karakters in die toneel (Jesus en die Jode).

`n Derde leidraad (ook in die teks self) vir die Leesrooster-afbakening lê opgesluit in die optrede van die karakters. In 24 drom die Jode rondom Jesus saam in die pilaargang van Salomo en daag Hom, na aanleiding van sy herder-diskoers (10:1-21), oor sy identiteit uit: "As u die Christus is, sê dit reguit vir ons." Jesus reageer op hul uitdaging, maar nie direk bevestigend nie, deur hulle aan die woorde wat Hy gespreek (eipon) en die wonderwerke (ta erga) wat Hy in die Naam van sy Vader gedoen het (25), te herinner. Sy nie-direkte antwoord val op dowe ore wanneer die mense nie die werke wat deur Hom as verteenwoordiger van die Vader gedoen word, as bewyse van sy verhouding tot die Vader erken nie (Tasker). Die Fariseërs kan steeds nie insien dat hul Skrifte in Jesus vervul is nie: "It is indeed the `winter of their discontent. In consequence, they are not only untrustworthy shepherds of Gods people, but are showing that they ought no longer to be classed among the sheep that pay attention to His voice" (Tasker).

Die outeur gebruik `n tipies Johanneïse tegniek (Rossing) wanneer Hy die rolle omkeer en sy ondervraers van ongeloof (ou pisteuete) beskuldig, omdat hulle nie van sy skape (ouk este ek tón probatón tón emón) is nie (26). Dit bring vier sentrale temas van ons perikoop aan die orde: geloof, woorde, wondertekens en skape. Geloof is die voorwaarde vir verstaan van sy woorde en wondertekens, asook identifisering met Hom as Herder van die skape. Wanneer die ongelowige Jode buite die kudde van God bly staan, kom ander skape in om die seëninge wat die Goeie Herder vir hulle bied, te geniet (Tasker).

Jesus gaan verder met twee belangrike uitbreidings. Eerstens stel Hy `n teenstelling (27) wanneer Hy van "My skape" (ta probata ema) praat, in onderskeiding van "julle wat nie van my skape is nie". Die kenmerkende eienskappe van Jesus se skape word in 27-29 beskryf. (Hulle luister na Jesus se stem; Hy ken hulle; Hulle volg Hom; Hy gee aan hulle die ewige lewe; Hulle sal in ewigheid nie verlore gaan nie; Die Vader het hulle aan Jesus gegee; Hulle is die belangrikste van almal; Niemand kan hulle uit die Vader se hand ruk nie.) Tweedens beklemtoon Hy sy verhouding met die Vader: "Ek en die Vader is een" (egó kai ho pater hen esmen). So word die verhouding tussen Homself en die skape, asook tussen die skape en die Vader, beklemtoon. Vers 30 was `n sleutelvers in die vroeë kerk se kontroverse oor die Triniteit. Aan die een kant (Monargiane) is Jesus se uitspraak verstaan as "een persoon", terwyl die ander kant (Ariane) die teks in terme van morele eenheid en wil verstaan het (Brown).

Vers 31 beskryf `n volgende handeling van die Jode, en bied `n verdere grond vir die perikoopafbakening. Die Jode het weer klippe opgetel om Jesus te stenig. Na aanleiding daarvan stel Jesus `n volgende vraag, wat aan die gesprek oor sy identiteit `n nuwe wending gee. Jesus wil weet of enige van die goeie dade wat Hy hulle laat sien het (32), sy identiteit as die Christus weerspreek, terwyl die Jode die identiteitsvraag oor die boeg van godslastering gooi: " omdat jy, wat `n gewone mens is, jou as God voordoen" (33).

Konteks

Met die oog op prediking van ons perikoop op die Sondag behoort ten minste drie kontekste in gedagte gehou te word: (a) die groter literêre konteks van die Johannesevangelie; (b) die konteks van die kerklike seisoen (Paastyd) waarbinne die Sondag val; en (c) die konteks van die mense in die gemeente vir wie die preek voorberei word. Deel van die derde konteks is die fokus op Arbeidsondag, met die perspektief van Christus se heerskappy op die mens se werk.

a. Die posisie van ons perikoop binne die Johannesevangelie kan in terme van die "mees voor-die-hand-liggende-indeling van die inhoud van die Johannesevangelie" beskryf word (1:1-18 Proloog; 1:19-12:50 Boek oor sy Tekenwonders; 3:1-20:31 Boek oor sy Heerlikheid; 21:1-24 Epiloog) (Du Rand 1990). Ons perikoop vorm deel van die "Boek oor die Tekenwonders". Hoofstuk 1-12 bestaan uit vervlegte tekenvertellings (sewe) en voorafgaande of daaropvolgende verduidelikende redevoering, deur dialoog verbind: "Die tipiese in die samestelling van die Johannesevangelie is: tekens, redevoeringe en die selfbekendmakende Ek is-uitsprake van Jesus" (Du Rand 1990b). In die "Boek oor sy Tekenwonders" maak Jesus se tekens en woorde, as deel van sy openbare bediening, sy Vader bekend (Du Rand 1990). Die sewe wondervertellings beklemtoon, elkeen op unieke wyse, die nuwe lewe gesetel in geloof in die geopenbaarde Seun van God. Drie van Jesus se selfopenbarende Ek is-woorde benadruk die betekenis van die wondervertellings (6:35; 8:12; 11:25), terwyl die ander vier ook nog beklemtoon dat die nuwe lewe in Jesus aangebreek het (10:7, 9; 10:11; 14:6; 15:1) (Du Rand 1990b).

Coetzee lê klem op Johannes 20:30-31 as kernvers van die Johannesevangelie, waarin beide die doel van die skrywer en die sentrale tema van die prediking van die boek geformuleer word. Na aanleiding van die verse lig Coetzee drie elemente van die eintlike boodskap van die geskrif uit, wat ook hier belangrik is: (a) Jesus is die Messias en Seun van God; (b) Die boodskap van die geskrif moet geglo word; en (c) Wie glo in Jesus as Messias-Seun, het in Hom die lewe. Die deurlopende motiewe van sy evangelie bestaan dus in die tekens (sémeia) wat hy gekies het om te beskryf, terwyl `n sémeion vir Johannes elke daad van Jesus is, wat sy Messiasskap en Seunskap openbaar.

In sy kommentaar verdeel Brown "The Book Of Signs" in vyf onderdele: (1:19-51 The Opening Days of the Revelation of Jesus; 2:1-4:54 From Cana to Cana; 5:1-10:42 Jesus and the Principal Feasts of the Jews; 11:1-12:36 Jesus Moves Toward the Hour of Death and Glory; 12:37-50 Conclusion to the Book of Signs). Hiervolgens val ons perikoop (10:22-30) in die derde deel van die "Boek oor sy Tekenwonders", met die klem op die belangrikste Joodse feeste (5:1-47 Sabbat; 6:1-71 Paasfees; 7:1-8:59 huttefees; 9:1-10:21 Gebeure na die huttefees; 10:22-39 tempelwyding; 10:40-42 Samevatting van sy openbare bediening).

Ons perikoop verteenwoordig die laaste deel van Jesus se openbare optrede. In die "Boek oor sy Tekenwonders" is dit die laaste woorde waarin Hy sy Vader bekend maak; na die laaste wonderwerk (9:1-21 Genesing van die Blinde man), voordat Hy sy lydensweg aandurf. Volgens Brown se indeling strek hoofstuk 10 oor twee tydperke (10:1-21 Gebeure na die huttefees; 10:22-39 tempelwyding). Die fees van die tempelwyding (Hanukkah) vier die Makkabese oorwinnings oor die Siriërs, wat die tempel in Jerusalem vir drie jaar (167-164 v.C.) ontheilig het, met die oprigting van `n beeld van Baal op die brandofferaltaar. Judas Makkabeus het die Siriërs uit die tempel verdryf, `n einde aan die ontheiliging van die tempel gebring, `n nuwe altaar gebou en die tempel aan God her-toegewy. Die fees van die tempelwyding is jaarliks gevier as her-toewyding van die altaar en die tempel (Brown). Die Griekse woord engkainia beteken letterlik "hernuwing", as vertaling van Hanukkak, wat "toewyding" beteken.

Die prediking in Paastyd moet beslis die element van hernuwing van geloof en toewyding aan God ter sprake bring. Die opstanding van Jesus uit die dood is immers die sentrale simbool van God se nuwe begin met die skepping. Op Arbeidsondag word gelowiges ook uitgedaag om die hernuwing van geloof in God en `n toegewyde lewe aan Hom, binne die konteks van die arbeidslewe te realiseer.

In die laaste woorde van sy openbare bediening praat Jesus oor sy identiteit as ingang tot die skaapkraal, die goeie herder (10:1-21), en Homself as Messias-Seun van God (10:22-39). In dié verband is die kernspreuk van Jesus in die Johannesevangelie belangrik, naamlik die Ek is-uitsprake (egó eimi). In Hoofstuk 10: "Ek is die ingang " (9), én: "Ek is die goeie herder" (11 en 14). Daarmee word die appèl van Jesus se oproep aan die Jode tot toewyding aan God en hernuwing van hul geloof deur Jesus as Messias te erken, binne die konteks van die fees van tempelwyding skerp in fokus gebring; `n appèl wat ook tot ons kom en reeds na verwys is.

Coetzee wys op die belangrike verskynsel in Johannes se evangelie dat die sentrale motief van die ewige lewe, ook in die tegniese gebruik van die woordgroep zóé-zaó (lewe-leef) voorkom. Die woordgroep word dikwels saam met die Ek is-uitsprake gebruik. In ons perikoop kom die lewe-leef-woordgroep ook in die konteks van die Ek is-uitsprake (10:9, 11, 14) voor: "Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in ewigheid nooit verlore gaan nie" (28). Volgens Coetzee is een van die opvallendste aspekte van woordgebruik in die Johannesevangelie dat die woord "lewe", zóé (en die werkwoord, záó) konsekwent op "ewige lewe" dui; `n lewe kwalitatief anders en meer as die van die gevalle mens wat aan die sonde, duiwel en verganklikheid onderworpe is.

Met die uitdrukking beklemtoon Johannes twee dimensies: die lewe wat eie is aan die eeu (aión) wat in Jesus aanbreek, asook lewe tot binne-in die komende eeu (aión). Daarmee word die toekomsperspektief op die "ewige lewe" beklemtoon, asook dat Christus weer kom om die werke van God tot volheid te bring (Coetzee). Hierdie toekomsperspektief is `n belangrike aspek van die Paasprediking. Die hoop wat daardeur geopen word, plaas ook ons aardse arbeid binne die betekenisvolle raamwerk van God se nuwe hemel en nuwe aarde wat aan t kom is.

In ons perikoop word God in sy verhouding tot Jesus geopenbaar. Volgens Rossing ontwikkel Johannes 10:28-38 `n hoë Christologie, waardeur hy daarop aanspraak maak dat Jesus die messias en herder is (ook 10:24-27), asook dat Hy aan God gelyk is (10:30). Hulle is gelyk in terme van Jesus se mag oor die dood; sy eie dood (10:18) en dié van sy volgelinge (10:28). Die ewige lewe is `n gawe van God wat hier deur Jesus vir sy volgelinge aangebied word. In die Persoon en werk van Jesus breek `n radikaal nuwe bedeling van God aan, deur Johannes gekarakteriseer as die bedeling van die (ewige) lewe, wat deur geloof ontvang word (Coetzee).

b. In terme van die seisoen van die kerkjaar adem die vyftig dae van Paastyd `n gees van blydskap en vreugde; `n tyd waarin die opgestane Christus as lewende werklikheid in ons wêreld gesien en gevier word (Rossing). Die vierde Sondag van Paastyd staan bekend as Sondag van die Goeie Herder. Waar die klem die voorafgaande Sondag op die uitnodiging om Christus se skape op te pas en te laat wei (Joh. 21:1-19) geval het, keer ons perikoop nou die rolle om. Die lesers moet self skape word wat die beskerming van `n liefdevolle herder ervaar. Deur skape te word, leer ons om ons vertroue volkome in ons liefdevolle herder, Jesus, te stel (Rossing).

Die Ek is-uitsprake en die verband daarvan met die lewe-leef-woordgroep is in die konteks van die Paasseisoen ook in die verband daarvan tot die opstanding van Jesus uit die dood belangrik. Jesus maak sy uitspraak dat Hy die opstanding en die lewe is (11:25e.v.), by Lasarus se graf. Dit moet in die konteks van die groot teken van die opwekking van Lasarus uit die dood verstaan word, asook Jesus se voorafgaande preek oor die Goeie Herder: "Jesus as die Goeie Herder, lê sy lewe af vir sy skape (10:11), want Hy het gekom sodat `hulle lewe (zóé) en oorvloed kan hê (10:10). Hy het die mag (eksousia) om sy lewe af te lê en Hy het mag om dit weer op te neem (10:18). Dit wys heen na sy eie opstanding (anástasis). Hy is die opstanding (vgl. 10:18 en 11:25). Só gee Hy aan sy skape die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie (10:28)." Dan volg die groot teken wat dié aanspraak van Jesus sigbaar verkondig: Lasarus staan op uit die graf! (Coetzee)

In die Paasseisoen word die kerk daaraan herinner dat Jesus die eerste Een is wat werklik uit die dood opstaan; uit eie krag en vir ewig. Die ware opstanding word hier deur Jesus geopenbaar, naamlik die mag om die lewe weer uit die greep van die dood te neem, en dit aan die skape van sy kudde te gee. In Jesus se Ek is-uitsprake maak Hy beide `n Godsaanspraak én `n verlossingsuitspraak. In sy Godsaanspraak sê Jesus dat Hy een met die lewende God is, en met sy verlossingsuitspraak openbaar Hy Homself in verhouding tot hierdie wêreld. Hy is die Messias vir die mense, die Goeie Herder wat sy skape versorg (vgl. Coetzee).

c. `n Derde konteks wat in die prediking verdiskonteer moet word, is dié van die gemeente vir wie die preek voorberei word, asook die wêreld van werk en ekonomie, wat op Arbeidsondag in fokus kom. Hierdie derde konteks open `n breër spektrum van hoorders, en daag die prediker uit om die herder-beeld van ons perikoop in nuwe omstandighede toe te pas. Die herder-beeld waardeur Jesus geïdentifiseer word, was volgens Rossing `n ryk beeld wat `n breë spektrum van lesers aangespreek het. Die woord "herder" was onder andere `n politieke term waarmee heersers of leiers in beide die Israelitiese en die Grieks-Romeinse tradisies beskryf is.

In die Bybel word die herder-beeld beide positief (Dawid, 1 Sam. 17:15) en negatief (Eseg. 34; Jer. 23; Sag. 11) gebruik. In negatiewe sin kla die profete van Israel oor die slegte politieke herders wat die kudde uitbuit. Brown wys op die Ou-Testamentiese agtergrond waarvolgens die herder simbool was vir die Dawidiese koning. In die lig hiervan sou Jesus se aanspraak dat Hy die herder is, vir die Joodse owerhede duidelik wees. Indien die hoorders dan nie vir Jesus volg nie, werp dit geen refleksie op die feit dat Hy die herder is nie, maar is dit `n sterk aanduiding daarvan dat hulle nie sy skape is nie. Waar die Fariseërs in 1-21 met diewe, huurlinge en boewe vergelyk is, word hulle nou aangedui as nie deel van die skape wat die Vader aan Jesus gegee het nie.

Rossing maak die belangrike onderskeid tussen goeie en slegte herders, asook tussen ware en valse skape. In die lig van die Goeie Herder-diskoers in Johannes 10, moedig Rossing predikers aan om ernstig na te dink oor die idee van die "ware skape" van die goeie herder. "Ware skape" ken die herder se stem, verheug hulle daarin en stel hul vertroue in die ryke genade wat die herder aan sy skape bied. Indien die outeur van die Johannesevangelie die herder-beeld van Johannes 10 gekies het met die doel om `n breë spektrum van hoorders te bereik (Samaritane, Heidene, Jode), elkeen met `n ryke assosiasie van die beeld wat op verskillende vlakke toegepas kan word, kan die uitgebreide uitnodiging van die herder weer vandag ontgin word; beide vir die gelowiges en gemeente van Christus, asook mense vanuit diverse agtergronde in die werksplek en ekonomie.

Preekvoorstel

In die lig van die voorafgaande bespreking, kies ek twee fokuspunte vir die prediking: (a) Jesus se identiteit as herder en messias: en (b) die geloofsreaksie van diegene wat deur Jesus gekonfronteer word. Vanuit die fokuspunte kan die onderskeidinge (paragraaf c onder konteks) gebruik word om die gemeente se aandag op verskillende kontekste van die leefwêreld te rig.

Die vraag na Jesus se identiteit (24): "As u die Christus is, sê dit reguit vir ons," is `n vraag wat dikwels, selfs deur "goeie kerkmense" gevra word. Soms ietwat verskillend geformuleer. Annes Nel se boek "Op soek na God buite die kerk? bevestig die stelling. Ook die titel van Philip Yancey se boek "Church: Why bother?" formuleer die kritiek op wat die kerk is en wat daarin aangaan. Dit is egter nie slegs kerklike praktyke wat afgewys word nie. Die boodskap van die kerk kom self in die gedrang, terwyl die Een aan wie die kerk behoort, Jesus Christus die Goeie Herder, self nie die kritiese oordeel oorleef nie.

In die lig van mense se kritiek op die kerk is die uitdaging aan die kerklike prediking oor Jesus as Goeie Herder en Messias-Seun van God, groot. Die vraag na wie in die kerkbanke sit om die boodskap te hoor, is deurslaggewend. Daar kan tydens gemeentelike eredienste mense in die kerkbanke sit wat nog nie deel vorm van die skape wat die Vader aan Jesus gegee het nie. Vir hulle is Jesus se Messiasskap belangrik en moet gehelp word om die roep van die herder te hoor. Aan die ander kant kan daar mense wees wat reeds erken dat Jesus die Christus is, maar nog nie luister na sy stem in die daaglikse lewe nie. Vir hulle is dit belangrik om te verstaan wat dit prakties, ook in die arbeidswêreld, beteken om na die stem van die herder te luister.

Waar die identiteitsvraag leerstellig op die Christologie val, asook op die toe-eiening van Christus as Verlosser, wil die fokus op die geloofsreaksie ons aandag op die etiek van Jesus se kudde vestig. Beide Nel en Yancey argumenteer dat die probleem van die kerk en haar boodskap op die vlak lê, naamlik op die vlak van die praktiese uitlewing van die geloof in en belydenis oor, die identiteit van Christus. Die prediking vanuit Johannes 10:22-30 behoort nie by die Christologie vas te steek nie. Dit moet deurgetrek word na die vleeswording van die Christus-belydenis, binne die geloofsgemeenskap en die wêreld.

Wat beteken Jesus se uitspraak: "Ek is die ingang vir die skape" (7), en: "Ek is die goeie herder" vir die kerk van Christus, beide ten opsigte van persoonlike keuse, onderlinge sorg in die geloofsgemeenskap, én die fokus op die wêreld? Op Sondag van die Goeie Herder word elkeen wat Jesus se stem hoor, uitgedaag om nuut te luister en uitgenooi om in geloof te reageer. Dit gaan immers om die nuwe lewe wat deur die Messias-Seun van God aangekondig is en in die lewe en wêreld deur sy skape gestalte moet vind.

In die kerk se reaksie op die boodskap, sal dit duidelik word of sy self `n betroubare herder is vir die mense wat deur God geroep word om Jesus as Goeie Herder te volg. Toegespits op die arbeidslewe, sal Jesus se skape moet demonstreer of die nuwe lewe in Christus ook die werksplek insluit. Die kerk as missionêre gemeenskap, sal deur Christene wat leiersposisies in die wêreld beklee, ook hier en nou inhoud aan hulle verstaan van die herder-beeld vir vandag moet gee. Deur hul konkrete gedrag in die wêreld, sal die kerk as skape van die Goeie Herder self moet wys dat hulle werklik glo dat Jesus wel die Christus is.

Bibliografie

Brown, R 1970. The Gospel According to John XIII-XXI. The Anchor Bible; Coetzee, J C 1990. Die teologie van die Johannesevangelie, in Handleiding by die Nuwe Testament VI, p. 37-72; Du Rand, J A 1990. Johannese Perspektiewe. Inleiding tot die Johannese Geskrifte; Du Rand, J A 1990b. Die Evangelie volgens Johannes, in Handleiding By Die Nuwe Testament VI, p. 1-36; Rossing, B R 2001. Fourth Sunday of Easter. John 10:22-30, in New Proclamations (YearC, 2001), pp. 36-39.