11 Mei 2003

Vierde SONDAG van PAASTYD

Sondag van die goeie herder

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Johannes 10:11-18

Ander tekste: Handelinge 4:5-12; Psalm 23; 1 Johannes 3:16 – 24

Inleiding

Die tekste vir vandag handel oor die sekuriteit en veilige geborgenheid wat in die Herder gevind kan word. Johannes 10 se Goeie Herder het deur die Paasgebeure aan die sekuriteit in Hom 'n nog dieper dimensie gegee. Sigbare herinneringsimbole soos ‘n groot (haak)-kierie en/of ‘n uitbeelding van 'n skaap/lam in die liturgiese ruimte, kan die tema verder versterk.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Aanvangswoord/Votum

Psalm 23 verwerk

Voorganger: Die Here is ons Herder

Manne: Ons sal niks kortkom nie

Voorganger: Jesus is ons Goeie Herder

Vroue: Hy het sy lewe vir ons afgelê

Voorganger: Jesus bly ons Goeie Herder

Almal: Hy het sy lewe vir ons weer opgeneem

Almal: Amen

Seëngroet (Na aanleiding van – Hand 4:12 / Ander teks)

"Ek groet julle in die Naam van Jesus Christus – die enigste Naam wat God op die aarde aan mense gegee het waardeur God ons wil verlos "

Paaskers

Word ingedra terwyl die "Oorwinningslied" of Lied190/N SG 10 gesing word.

Wet, berou, skuldbelydenis en vryspraak

Lees 1 Johannes 3:18 tot 24 (of ander teks)

Sang

Lied 508:1,2 /NSG 44 as lied van berou en skuldbelydenis (ook op melodie van Ou Ges 192) – let op die woorde van vers 2

Vryspraak

"In en deur Jesus se Paasoorwinning vergewe God ons sondes en gee Hy aan ons weer 'n nuwe begin en toewyding aan Hom."

Toewydingslied

Sing Psalm 23 (Enige van die weergawes en melodieë)

Loflied

Lied 525/NSG 154

 

DIENS VAN DIE WOORD

Kindertyd

Die verhaal van die Amerikaanse sendeling wat by ‘n sendeling in Egipte gaan kuier het, kan vertel word. Hulle ry rond in Egipte en sien ‘n skaapwagter wat in die veld loop met al die skape al agter hom aan. Die Amerikaner vra toe vir die Egiptenaar: "Wat gebeur daar ?". Die man van Egipte verduidelik toe dat dit die herder is wat deur die skape gevolg word. Hulle ken hom en weet hulle gaan nou water en voer by die kraal kry as hulle hom bly volg. ‘n Paar dae later ry hulle weer verby ‘n man wat met ‘n sweep, ‘n geskree, klipgooi en stokke, die skape in ‘n rigting probeer kry. Dit is een groot stofwolk om die skape. Die Amerikaner vra toe: "Nou wat probeer die herder nou doen ? Wat gaan nou daar aan ?" Waarop die Egiptenaar antwoord: "Daardie man wat die skape so aanjaag is nie hulle herder nie. Daardie is die slagter (butcher) !

(Vergelyk "huurling " – vers 12,13)

Geleentheid vir doop of doopherinnering

Lied 294/NSG 362

Epiklese

Ewige Herder, U wat u lewe vir ons afgelê het en u eie lewe weer opgeneem het. En so vir ons die lewe in oorvloed gee. Skenk vanoggend vir ons elkeen nuwe lewe deur u Woord en u Gees.

Bybel en Boodskap

Johannes 10:11 tot 18

Gebed

DIENS VAN DIE TAFEL

Geloofsbelydenis

Die geloofsbelydenis kan aangepas word om spesifiek te handel oor die vrug van die opstanding, soos byvoorbeeld

Dood, waar is jou angel?

Hel, waar jou oorwinning?

Christus is opgewek, en jy is oorrompel.

Christus is opgewek, en die duiwels is neergevel.

Christus is opgewek, en die engele jubel.

Christus is opgewek, en die lewe kraai koning.

Christus is opgewek, en geen dooie bly langer in die graf nie.

Want Christus, siende dat Hy opgewek is, het vir ons geword die eersgeborene uit die dood.

Aan Hom kom toe die eer en die krag vir altyd en altyd. Amen.

(St. John Chrysostom)

Uitdeling en kommunie

Christus het gesterwe!

Christus het opgestaan!

Christus regeer in heerlikheid!

Christus kom weer!

Amen! Kom, Here Jesus!

Ons Vader wat in die hemel is,

Laat u Naam geheilig word;

Laat u koninkryk kom;

Laat u wil ook op die aarde geskied,

net soos in die hemel.

Gee ons vandag

ons daaglikse brood

en vergeef ons ons oortredings

soos ons ook dié vergewe

wat teen ons oortree;

en laat ons nie in die versoeking kom nie,

maar verlos ons van die Bose.

Aan U behoort die Koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

Amen.

Paasliedere

Lied 402 – 424/NSG 111, 117, 136 kan hier gepas wees en kerkkore kan hier sing.

UITSENDING

Sang

Lied 163 (Toenadering tot God) /NSG 44

Seën

1 Johannes 3:16 – Ander teks

Die Here sal jou sy liefde gee om soos Hy alle ander mense met jou hele lewe lief te hê.

Amen

Sang

Lied 314/NSG 355 (3x "Amen") kan nou gesing word

 

PREEKSTUDIE – JOHANNES 10: 11-18

Teks

Bloot die inhoudsopgawe van Brown se kommentaar gee mens reeds ‘n goeie verstaan van die plasing van ons teks. In ‘n gedeelte onder die opskrif ‘Jesus and the principal feasts of the Jews’, bespreek hy hoofstuk 5 tot 10. In hoofstuk 5 genees Hy die sieke by die Bad van Betesda op ‘n Sabbat. In hoofstuk 6 vermeerder Hy nie net die brood kort voor die Paasfees nie, Hy is self die brood wat lewe gee. In hoofstuk 7 leer Hy die mense by die huttefees. Op die laaste en belangrikste dag van die fees, wanneer ‘n wateroffer gebring is in herdenking van God se voorsiening in die woestyn, maak Hy die aanspraak dat dorstiges eerder by Hom hul dors moet les en in Hom moet glo, dan sal strome lewende water uit hulle kom. In hoofstuk 8 maak Hy die aanspraak dat Hy die Lig vir die wêreld is en bewys dit deur in hoofstuk 9 ‘n blinde die lig (en Lig) te laat sien. Hoofstuk 10 speel af tydens die wydingsfees. Telkens na sy optrede, ontstaan en verdiep die konflik tussen Jesus en die ‘Jode’, alhoewel sommiges ook tot geloof kom

Dit is duidelik dat Jesus telkens Joodse tradisies en gebruike oorneem om dit met nuwe inhoud te vul. Johannes het reeds met die beskrywing van sy eerste wonderteken (Joh 2:1-12), Jesus se mag hiertoe laat blyk. Telkens wanneer Jesus nuwe betekenis aan die inhoud van hulle gebruike gee, kom sommige tot geloof en ander neem aanstoot – die meeste tot die dood toe. Hy het immers na die wêreld toe gekom om mense voor ‘n beslissing te stel (9:39).

In hierdie studie word 9:1–10:21 as ‘n samehangende geheel beskou. Brown toon aan dat alhoewel die tema van lig in hoofstuk 9 verskuif na ‘n herderstema in 10, daar nogtans ‘n deurlopende lyn in die twee hoofstukke is. Vanaf die huttefees in hoofstuk 7, neem die konflik met die Joodse leiers toe. In hoofstuk 8 word dit selfs gestel dat die Jode kinders van die duiwel is. Hierdie konflik eskaleer verder in hoofstuk 9, tydens die gesondmaking van die blinde. Brown oordeel dat daar geen rede is om aan te neem dat Jesus se hoorders in hoofstuk 9 en 10 nie dieselfde mense is nie, veral omdat die konflik ook in hoofstuk 10 na vore kom. In 9:37 het Jesus Homself aan die blinde bekend gemaak as die Een wat met hom praat. Jesus was die eerste mens wat hy gesien het. Tog het hy hom nie geken voordat Jesus gesê het dat Hy die Een is wat praat nie. Daarop het die man geglo. So is hy die aartsvoorbeeld van ‘n skaap wat nie luister na ‘n vreemde stem nie.

Vanuit 10:1-21 is daar ook ‘n lyn wat na die volgende perikoop (v 22-39) loop. Die fees van die tempelwyding het die herinwyding van die tempel deur Judas Makkabeus herdenk. Tydens die fees is die optrede van die hoëpriesters Jason en Menelaüs, wat meegedoen het aan die ontheiliging van die tempel deur Sirië se Antiogus Epifanes (Dan 8:9-12; 9:27; 11:16, 41; 12:11), in herinnering geroep. Die twee hoëpriesters se optrede om die hoëprieterskap met tempelgeld te koop (betaalde huurlinge?) en hulle onderlinge gekonkel teen mekaar, het Jerusalem en die volk baie leed aangedoen. Hulle optrede het skynbaar Jesus se woorde oor diewe, rowers en huurlinge wat die skape in die steek laat, ontlok.

Baie belangrik is dat Brown ook daarop wys dat die sinagoge Skriflesing op die Sabbat die naaste aan die tempelwyding, skape en herders as onderwerp gehad het. In besonder is Esegiël 34 voorgelees, wat hy dan aantoon as die enkel belangrikste Ou-Testamentiese agtergrond vir Johannes 10. Hierdie Esegiël perikoop het dan as "haphtarah", of profetiese lesing, tydens die wydingstyd gedien.

Vers 1-3a gaan oor die manier waarop die skape genader word en daarom het die verduideliking daarvan die hek as tema. Vers 3b-5 gaan oor die verhouding tussen die wagter en die skape, en die verduideliking het dan die skaapwagter as tema. Net soos wat daar twee interpretasies van die uitspraak "Ek is die hek" is (v 7 en 9), net so is daar twee interpretasies van die stelling "Ek is die goeie herder" (v 11 en 14).

In die eerste interpretasie (v 11-13) is Jesus die model of goeie herder, want Hy is bereid om sy lewe vir die skape af te lê. In die tweede interpretasie is Hy die model herder, omdat Hy sy skape intiem ken. Jesus se optrede is altyd op dié van die Vader gebaseer (8:28) en daarom behoort die leser nie verbaas te wees oor die feit dat Hy sy volgelinge goed ken nie. Vers 16 beklemtoon die doel van hierdie "ken", as om hulle in gemeenskap met mekaar, Jesus en die Vader, te bring (17:21). Die Griekse word "ginóskein" is nie ‘n teoreties-rasionele ken nie, maar moet eerder in Ou-Testamentiese verband verstaan word as ‘n persoonlike band, ‘n be-ken wat tot gemeenskap lei.

Oor vers 16 skryf Brown dat dit waar is dat die kerk eers na "laborious consideration and much opposition" uitsluitsel gekry het oor haar sending na die heidene. Dit sou egter ‘n oorvereenvoudiging wees om hierdie woorde op grond daarvan nie aan Jesus self toe te skryf nie. In die verstaansproses het die kerk breër betekenis aan die uitsprake verleen. In Jesus se tyd kon die bedoeling van "hierdie kraal" bloot na sy volgelinge uit die Jode verwys het.

Die Ou-Testamentiese herders-agtergrond is ryk aan simboliek (sien hieroor breedvoerig Fouche 1990a). Daar word telkens na die aartsvaders, Moses en Dawid as herders verwys. Trouens, die term word ‘n figuurlike term vir die heersers van die Godsvolk. Goddelose konings word as valse herders aangedui (1Kon 22:17; Jer 10:21; 23:1-2). In Esegiël 34 belowe God dat Hy sy volk van hierdie bose herders sal red en dat Hyself hulle herder sal wees.

Die unieke kenmerk van die goeie herder van Johannes 10 is sy bereidheid om sy lewe vir die skape af te lê (in 1 Sam 17:34-35 waag Dawid tog sy lewe ter wille van sy skape, maar lê dit nie af nie). Daar is oorvloedige Ou-Testamentiese agtergrond vir Jesus se uitspraak oor sy model herderskap en noodsaak nie die ponering van Gnostiese bronne daarvoor nie (contra Bultmann; Ook Scnackenburg).

Vers 17 se verbintenis aan die voorafgaande, kan ‘n aanduiding wees dat die ander skape by Jesus s’n sal aansluit net op grond van sy sterwe en opstanding (In 12:20-23 word die bekering van die heidene direk verbind aan die verheerliking van Jesus deur sy verheerliking na sy terugkeer na die Vader). Om ongemaklik oor vers 17 te voel (asof Jesus berekend sy lewe aflê om dit weer op te neem), ‘is a failure to understand that in NT thought the resurrection is not a circumstance that follows the death of Jesus but the essential completion of the death of Jesus’.

Sloyan maak die opmerking dat dit doelloos vir ‘n herder is om sy lewe vir die skape af te lê, tensy die aanvallers nie eers geneutraliseer is nie. Met die herder dood, sal die aanvallers éérs vrye toegang tot die skape hê – tensy natuurlik geloof in Jesus se sterwe en opstanding die lot van die skape verander. In 13:34 word die opdrag gegee dat volgelinge mekaar so moet lief hê, soos wat Jesus hulle lief het, die resiproke lewens vir mekaar aflê, word nie daar uitgespel nie – eers in 15:12-13. In hoofstuk 10 het ons die eerste aanduiding van die krag van Jesus se selfoffer om lewe vir baie te bewerk – die lot van die skape te verander deur sy sterwe.

Vers 18 se "entolé" van die Vader, is ‘n refleksie van die liefde tussen Vader en Seun; dit betrek die sending en gehoorsame sterwe van die Seun; dit bring die ewige lewe (12:49-50, 14:31). Hulle wat die Seun volg, moet ook hierdie opdrag uitvoer en moet die liefde waarna dit verwys, in hulle lewens laat blyk (13:34, 15:12 en 17); dit beteken ook ‘n bereidheid om hulle lewens vir mekaar af te lê (15:13).

Die reaksie op vers 1-5 is onkunde; die reaksie op verse 7-18 is verdeeldheid.

Konteks

Op die vierde Sondag in Paastyd waarna Sondag van die Goeie Herder (Misericordias Domini) vanaf die tweede Sondag verskuif is, is ons tekskeuse voor die hand liggend, indien nie onafwendbaar nie.

Sloyan het, wanneer dit oor die prediking van Jesus as die goeie herder gaan, ongelukkig meer waarskuwings as raad: "The temptations are many. One can find oneself reconstructing a pastoral setting never experienced, complete with murderous brigands setting upon a hapless shepherd who falls in all too willingly with their plan to kill him. Again the hireling can be excoriated in the pulpit for his lack of concern, the chief evidence that he works for pay; and so on." Hy voel dat die ‘brief tales of shepherding speak adequately for themselves’ en ‘they need little exposition beyond a deft hint what to listen for’ (Dit teenoor die versoeking om vir die kinders ‘n uitgebreide ‘object lesson’ van afdwalende weerlose skapies, oortjies gemerk of ongemerk, en wilde wolwe en slegte herders te maak – JCR). Waarna geluister moet word, is die teenstellings en kontraste tussen die goeie herder en die diewe en rowers, en die kontras tussen die goeie herder en die huurling. Volgens Sloyan is die enigste eenheid in die gedeelte, Christologies van aard – Christus maak elke toevoegsel en byvoeglike beskrywings wat deur die prentjie van die skape en herder opgeroep word, op hom van toepassing.

Wat ons teks betref is die Christologiese motief die ‘unparallelled intimacy’ tussen Jesus en die Vader, en die effek daarvan, deurdat Jesus uit sy eie sy lewe vir die skape aflê (Sloyan). Hy sluit sy homiletiese raad/waarskuwings af met: ‘Hearers may not understand John, but they understand all too well the times when John is approached confidently, brashly, without the necessary study or prayer’ (Dit sal predikers ook baat om (weer) Berkouwer (1965:135-180) te lees, asook Van Ruler (sa) 91-94: Verwys ook Fouche 1990a en 1990b. Oor ‘n private Christenskap kan Barth (1974:688-9) weer op sy beste in die fyndruk ervaar word. Sien ook Durand 2002).

Preekvoorstel

Met Sloyan se waarskuwing nog duidelik in sy ore, waag hierdie skrywer tog die volgende. In die preekskets word gepoog om die radikaliteit van Jesus se uitspraak te beklemtoon – enersyds in die radikale goedheid daarvan. Andersyds word gepoog om die aanstoot-faktor wat dit vir ons inhou, te belig. By gebrek aan laasgenoemde sal ons nie aan nog van Sloyan se raad/waarskuwings voldoen nie, naamlik: "The identification of any Christian with Jesus and his cause must be humble and tentative."

Lidmate van die kerk waarvan ek ‘n lidmaat is, sal moet ingelig word oor die Sondag. Dat dit gaan oor Jesus die goeie herder. Die Ou-Testamentiese teks wat dan seker die eerste in ons gedagtes op kom, sal natuurlik Psalm 23 wees, met sy groen weivelde en waters waar daar rus.

Tog moet ons versigtig wees. Klank-af-uitleggers het dié gedagte in ons koppe ingeprent. Die agtergrond waarteen Jesus hierdie uitspraak maak is heel anders. Hoorders kan ingelig word rondom die betekenis van die wydingsfees en die rol wat Jason en Menelaüs in die tussen testamentêre tyd gespeel het (Sien hiervoor onder andere Du Plessis en Lategan; Ferguson; Lohse). Tydens hierdie wydingsfees is die herinwyding van die tempel herdenk en is Esegiël 34 gelees en oordink.

As ons Johannes 10 lees, bevind ons ons nie primêr in die groen weivelde van Psalm 23 nie, maar aanvanklik eerder in die aanvanklik veroordelende atmosfeer van Esegiël 34, waar wrede en harde herders kasty word om ons later in die hoofstuk by die verrassende en troosryke genadeboodskap te bring. Goedskiks kan gedeeltes uit Esegiël voorgelees word. Hoorders van die hoofstuk in die tyd van die wydingsfees het Esegiël se eerste 10 verse op Jason en Menelaüs en derglikes wat soos hulle optree, van toepassing gemaak. Die laaste gedeelte van die hoofstuk was dan ‘n versugting dat daar vir hulle ‘n goeie herder sal kom.

En nou sê Jesus vir hulle Hy is die goeie herder. Hy het gekom. En almal wat voor hom gekom het was diewe en rowers. Ook hulle wat nou hulleself as herders voordoen. Radikaal. Van hieraf kan die preek die teks volg. Hy beskryf sy goeie herderskap aan die hand van twee voorbeelde. Hy is die goeie herder, want Hy lê sy lewe vir die skape af. Is dit nie doelloos nie? Is die skape dan nie nou éérs uitgelewer nie? (Vgl Sloyan hierbo). Tensy Jesus se sterwe natuurlik iets dóén – tot stand bring. Iets aan die skape doen, hulle status verander. Maar ook iets aan die bose aanvallers doen – hulle neutraliseer, vernietig. Jesus se dood maak die bose dood en verseker die lewe van sy skape. Jesus se dood is vir ons ‘n stok en ‘n staf: ‘n stok waarmee die bose doodgemaak is en ‘n staf waarmee die skape bymekaar gehou word.

Hy is ook die goeie herder omdat Hy sy skape ken. Elke nood, elke pyn en elke vreugde. Sy "ken" is nie ‘n kennisneem of net ‘n koue rasionele weet van ons nie. Sy "ken" is so onbeskryflik intiem soos wat die verhouding tussen God en sy Seun is. Sy ken-van-ons, wil hê dat ons Hom intiemer moet ken en met Hom moet saamleef. Sy ken-van-ons skep gemeenskap. Tussen ons en Jesus en tussen ons en die Vader. Maar ook tussen ons en andere (v 16). Ons het mos gesê sy dood is soos ‘n staf waarmee hy die skape, al die skape, wil bymekaar hou. Tog jammer dat die tyd waarin ons leef, ons so geestelik gefragmenteer het, so individualisties gemaak het, ons ons godsdiens laat privatiseer het dat daar nie meer by ons ‘n oor of ‘n oog of ‘n hart vir die ander skape is nie (Durand).

Hy doen dit alles gewillig. Soos wat hy in die volgende hoofstuk letterlik uit sy pad gaan (van oorkant die Jordaan terug na Betanië digby Jerusalem) om Lasarus uit die dood op te wek. Net so gaan hy gewillig uit sy pad om doelgerig die kruisdood te sterf. Uit sy eie.

Goddank ons het so ‘n herder. Want ons beur maar weg van mekaar. Jesus se goeie herderskap vra dat ons een trop sal wees. Nog meer, as hy ons vriend en herder is, vra dit dat ons mekaar sal lief hê. Lief hê tot die punt dat ons ons lewe vir die ander skape sal aflê (15:12 en 13).

Een trop wil ons nie wees nie.

Een trop? Wat sal van ons pensioenfonds word, vra die herders van vandag.

En Jesus sê: "Julle moet mekaar tot die dood toe lief hê."

Een trop? Wat sal van ons erediens word, vra die lidmate.

En Jesus sê: "Julle moet mekaar tot die dood toe lief hê."

Een trop? Wat sal van ons taal word, vra die puriste.

En Jesus sê: "Julle moet mekaar tot die dood toe lief hê."

Een trop? Wat van ons kerkmusiek, vra die orreliste.

En Jesus sê: "Julle moet mekaar tot die dood toe lief hê…"

Goddank ons het ‘n goeie herder wat hiertoe bereid was. Vir ons, teen ons eie boosheid in. Goddank hy lei ons steeds. Ons het dit nodig.

Bibliografie

Barth, K (1956)1974. The doctrine of reconciliation, part 1 (Church Dogmatics Vol IV); Berkouwer, G C 1965. The work of Christ. Grand Rapids (Studies in dogmatics); Brown, R E 1966. The Gospel according to John. Volume 1; Du Plessis, P J en Lategan B C 1983. Agtergrond en geskiedenis van die Nuwe Testament; Durand, J 2002. Ontluisterde wêreld; Ferguson, E 1987. Backgrounds of early Christianity. Grand Rapids; Fouche, H L 1990a. Esegiël 34:1-15 in Burger, C W, Müller, B A en Smit, D J (reds), Riglyne vir prediking oor vrede (Woord teen die lig 111/1); Fouche, H L 1990b. Esegiël 34: 17-31 in Burger, C W, Müller, B A en Smit, D J (reds), Riglyne vir prediking oor vrede (Woord teen die lig 111/1); Lohse, E 1976. The New Testament evironment; Schnackenburg, R 1980. The gospel according to St John. Volume 2; Sloyan, G S 1988. John; Van Ruler, A A (sa). Ik geloof.