3 Maart 2002
Derde Sondag in Lydenstyd
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: Johannes 4:5-42.
Ander tekste: Eksodus 17:1-7; Psalm 95; Romeine 5:1-11.
Tema: Die nuwe lewe (sien vorige Sondag, Joh 3:1-17) is beskikbaar vir dié wat glo. Hulle dien God in
Gees en in waarheid. (Die tema van water loop van die Eksodusteks deur na die Johannesteks.)
God is die almagtige "Rots" wat voorsien (Ps 95) – in die fisieke én in die geestelik-ewige. Dit het
Hy vir ons bevestig met die offer van Jesus aan die kruis – die daad waarmee God onteenseglik
sy liefde aan onverdienstelike sondaars bewys (Romeineteks).
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Votum
Psalm 95:1-7a.
Dit kan ook responsories verwerk word:
Liturg: Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig oor die Rots by wie ons redding vind, laat
ons na Hom toe gaan met lof, laat ons Hom toejuig met lofsange, want die Here is die magtige God,
die groot Koning oor al die gode.
Gemeente: Hy is ons God en ons is sy volk.
Liturg: Die dieptes van die aarde behoort aan Hom, die kruine van die berge is Syne.
Gemeente: Hy is ons God en ons is sy kudde.
Liturg: Die see is Syne, Hy het dit gemaak; sy hande het die land gevorm.
Gemeente: Hy is ons God en ons is sy skape.
Liturg: Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper!
Gemeente: Hy is ons God en ons word deur sy hand versorg.
Antwoord op die groet
Apostoliese Geloofsbelydenis.
Verootmoediging
Ten spyte van hierdie belydenis op ons lippe weet ons almal hoe ons eie lewe nie ons belydenis bekragtig nie. Ons
raak stil om met die Here te praat, om oor ons eie lewe na te dink, om ons skuld voor God te bely en om ons opnuut
aan Hom toe te wy.
Vryspraak en genadeverkondiging
Romeine 5:1-1. (Voorstel: Lees voor uit Die Boodskap).
Vredesgroet
"Hierdie vryspraak is ook vir jou!"
Sang
Gesang 130:1, 2, 3, 4/NSG 108.
DIENS VAN DIE WOORD
Skriflesing
Johannes 4:5-42. Laat die gemeente/kinders eers die verhaal vertel/uit hulle geheue rekonstrueer. Vra leidende
vrae soos: "En wat het toe gebeur?"; "Wat sê Jesus toe?"; "Wat het die vrou geantwoord?"; "Hoekom sou Hy/sy so
gesê/so gereageer het?" Lees nou hierdie Skrifgedeelte voor om te kontroleer of die verhaal reg onthou is.
Epiklese
Gesang 307:1, 2, 3/NSG 332.
DIENS VAN DIE TAFEL
Gereedmaak van die tafel
Gesang 328:3/Gesang 325:1, 2/NSG 368.
Lofverheffing
SOM 19:1, 2, 3/Gesang 129:1, 2/NSG 17 kan gebruik word.
UITSENDING
Sang
SOM 43:1, 2, 3, 4, 5/NSG 322.
Teks
Diskoersmateriaal
In Johannes 3 maak die leser kennis met die skrywer se tegnieke van dramatiese ironie en misverstand. In hierdie
hoofstuk kom ’n verdere tegniek na vore, naamlik om onderwerpe wat in die loop van die vorige hoofstukke
aangeraak is tot ’n klimaks te ontwikkel. In hoofstuk 2 verander Jesus water in wyn. In die verduideliking in hoofstuk
3 aan Nikodemus is die werke van God slegs verstaanbaar wanneer ’n mens deur water en Gees gebore word (v
5). Die water van die lewe word nie deur Nikodemus ontdek nie, maar wel deur die Samaritaanse vrou (4:15). Die
nuwe lewe is beskikbaar vir dié wat glo. Hulle dien God in Gees en waarheid (4:23).
Die diskoers oor die tempel in hoofstuk 2 toon ’n bepaalde ontwikkeling.
Ná ’n simboliese verwysing na sy dood (2:21) verstaan die Jode Jesus se woorde letterlik, asof Hy die tempel gaan
afbreek en dit in ’n rekordtyd weer gaan opbou. Letterlik staan daar in die Grieks: "Hierdie dinge het Hy gesê
aangaande die tempel van sy liggaam." God is nie meer in die fisieke tempel teenwoordig nie, maar in Jesus. In
Johannes 3:14-15 het die vernedering en verhoging van die Seun van die mens God teenwoordig kom maak in die
wêreld. In 4:20-24 is ware aanbidding nie aangewese op spesiale plekke soos tempels of stede nie, maar geskied
dit in (v 23) Gees en waarheid.
Daar is ’n ontwikkeling in die begrip oor wie Jesus eintlik is.
In Johannes 2 sien sy ma Hom as wonderwerker (v 4), terwyl die verhaal Hom voorhou as die ware bruidegom. In
die tempelreiniging soek die Jode ’n teken (2:17) wat Jesus die reg gee om op te tree soos Hy opgetree het. Die
Jode is totaal onseker oor Jesus se identiteit. Nikodemus sien Hom as ’n belangrike leermeester in 3:2. Jesus is
egter veel meer as ’n leermeester. Hy is die Seun van die mens wat gekom het om vir mense die weg na God te
wys.
In Johannes 4 is daar ’n verdere ontwikkeling wat plaasvind. Jesus is veel meer as ’n bruidegom, ’n wonderwerker,
’n tempelreiniger, selfs veel meer as die Seun van die mens (3:13 ev). Wie ís Jesus dan? Die Samaritaanse vrou
ontdek langsamerhand dat hierdie Man voor haar méér as ’n gewone Joodse man is, meer as ’n profeet, meer as
die Messias, die Gesalfde van God. Hy is die groot EK IS (4:26); God wat mens geword het (Eks 3:14).
Die temas in die vorige hoofstukke bereik hulle klimaks in Johannes 4.
PREEKSTUDIE - JOHANNES 4:1-26
Konteks
Sitz im Leben
In Johannes 4:9 sê die Samaritaanse vrou vir Jesus dat die Jode hulle nie assosieer met die Samaritane nie. Hier
kom iets na vore van ’n bitterheid of miskien ’n vyandigheid. ’n Lang geskiedenis van onverdraagsaamheid en
geweld lê tussen hulle. Ná die politieke skeur met koning Dawid se dood het die tien noordelike stamme Samaria
as hulle hoofstad beskou. Die twee suidelike stamme het Jerusalem as hulle hoofstad behou. Met die Assiriërs se
vernietiging van Samaria, die wegvoer van ’n groot deel van die bevolking na vreemde lande en die deportasie van
verskillende volkere na Samaria, het daar ondertrouery onder die bewoners in Samaria plaasgevind, sodat die
agtergeblewenes nie meer ’n suiwer Joodse volk was nie.
Die suidelike stamme is later ook weggevoer in ballingskap, maar na Babilon. Ná jare in Babilon is hulle toegelaat
om hulle weer in Israel te hervestig. Die teruggekeerdes van die suidelike ryk wou ’n tempel bou en die Samaritane
se hulp is van die hand gewys. Vyandigheid het tussen hulle ontstaan. In 400 vC het die Samaritane vir hulle ’n
tempel in Samaria gebou, wat in 128 vC deur die Jode verwoes is.
Die gesprek tussen Jesus en die Samaritaanse vrou vind plaas by die put van Jakob met die ruïnes van die tempel
in die agtergrond.
Die finale redaktor het die Samaritaanse verhaal teen die agtergrond van verse 1-4 geplaas om, soos in die geval
van Nikodemus (2:23-25), ’n bepaalde interpretasie aan die gebeure te verleen.
Eksegese
Vers 4 se "moet" sê iets van die redaktor se bedoeling met hierdie stuk. Soos in Nikodemus se geval weet Jesus
wat in die harte van die wonderwerk-bekeerlinge omgaan. Daarom vertrou Hy hulle nie (2:24). Jesus weet ook wat
in hierdie vrou se lewe aan die gang is (v 16).
Die put van Jakob
In die Hebreeuse teks is daar geen verwysing na die put van Jakob nie. Die Targums (die Aramese vertalings van
die OT wat in die sinagogale aanbidding gebruik is) en latere rabbynse literatuur verwys wel na die put. Jakob het
’n vrou in Haran gaan soek en sy teenwoordigheid by die put het ’n wonderwerk laat plaasvind. Water het skielik by
die put begin uitstroom en dit het twintig jaar lank so aangehou. Jesus verwys in vers 14 na die water wat skielik
sal opspring, maar nou uit die mens, en nie uit die put nie.
Aanbidding by Gerisim
Die berg Gerisim, en nie Sion by Jerusalem nie, is die ware plek van aanbidding. Volgens die Samaritaanse teks
van Deuteronomium 12:5 verklaar God dat Hy dié berg as sy aanbiddingsplek gekies het. Ná elke weergawe van
die tien gebooie word ’n paragraaf ingevoeg waarin God opdrag gee dat daar op Gerisim aan Hom geoffer moet
word.
Gerisim kry selfs ’n pre-eksistente betekenis. Dié berg bestaan voor die skepping. Dié berg het die sondvloed
ontkom en sal nie in die oordeelsdag kom nie. Adam is van die stof van hierdie berg gemaak. In die Messiaanse
tyd sal strome van lewende water daaruit borrel.
Preekvoorstel
Daar is verskillende lyne wat ’n mens in die prediking kan volg, omdat die temas wat in die voorafgaande hoofstukke
aangeraak is in Johannes 4 tot wasdom kom.
As voorbeeld kan ’n mens die tema geloof neem, met Nikodemus se onvoldoende geloof teenoor die Samaritaanse
vrou se voldoende geloof.
Geloof is om Jesus raak te sien vir wie Hy is.
Nikodemus se geloof skiet juis hierin te kort. Hy is een van die wonderwerk-bewonderaars van Jesus (2:23; 4:1).
Hy is só beïndruk met Jesus dat hy die risiko loop en Jesus in die nag kom sien. Hy sien Jesus as ’n leermeester
wat van God kom (3:2). In 7:50-52 kom Nikodemus sterk op vir Jesus in die Sanhedrin, sodat sy kollegas selfs
kritiese opmerkings maak oor sy partydigheid vir Jesus. Nikodemus verskaf in Johannes 19:39 selfs ’n groot
hoeveelheid mirre vir Jesus se begrafnis, wat daarop dui dat die verhouding tussen hom en Jesus redelik ontwikkel
het. Dit is egter die aanslag wat die sinagoge op die Christene maak wat laat blyk dat Nikodemus se geloof
onvoldoende is (3:12ev).
Die Samaritaanse vrou se geloofslewe het ook ’n bepaalde ontwikkeling. Sy kom by ’n punt waar sy ’n skuif maak
in haar geloofslewe deur die Samaritaanse godsdiens agter te laat en Jesus raak te sien as die Messias (4:25). ’n
Skuif wat Nikodemus nie wou maak nie en daarom altyd in die nag en duisternis gebly het.
Om hierdie stuk ironie te verstaan moet die vrou se disposisie met Nikodemus s’n vergelyk word.
Op sosiale vlak het die Samaritaanse vrou ’n geweldige agterstand:
Nikodemus is ’n man, sy ’n vrou. ’n Vrou se sosiale posisie was baie swak, net hoër as dié van ’n slaaf en ’n kind.
• Sy is boonop ’n Samaritaanse vrou wat dadelik teenoor Jesus die opmerking maak: "Hoe vra jy, wat ’n Jood is,
vir my, ’n Samaritaanse vrou, iets vra om te drink, want die Jode assosieer mos nie met Samaritane nie?" (vgl
4:9). As ’n Jood met ’n Samaritaan kontak gemaak het, was hy godsdienstig onrein, soveel te meer nog as dit
’n Samaritaanse vrou was oor wie se kop soveel onreinheidswette gehang het.
• Sy is ’n slegte vrou, selfs in terme van die Samaritaanse wet. Sy is vyf keer geskei en bly nou saam met ’n man
(die Samaritaanse wet laat hoogstens drie egskeidings toe).
• Sy kom vanuit die Noorde en Nikodemus vanuit die Suide. Die Noorde staan vir onsuiwer mense, basters,
vermenging. Die Suide staan vir ’n suiwer volk, suiwer tradisies, suiwer godsdiens.
’n Mens sou die situasie kon opsom deur Nikodemus op die hoogste vlak van die sosiale leer te plaas. Sy CV sou
uitstaande wees en een wat jy graag sou wou skryf. Nikodemus is in ’n heel ander klas as die Samaritaanse vrou.
Streng godsdienstig, ’n Fariseër, lid van die Sanhedrin en met ’n reputasie dat hy dié leermeester in Israel is.
Nikodemus leef ’n skoon lewe, ooreenkomstig die noukeurigste praktyke en tradisies van die Fariseërs.
Die Samaritaanse vrou, daarenteen, lê op die laagste vlak van die sosiale leer. Sy is niks en jy sou nie ’n CV vir
haar wou skryf nie. Dit is hier waar die dramatiese ironie ter sprake kom: Hoog op by die mense beteken nie hoog
op by God nie. Laag in die oë van mense beteken nie laag by God nie.
Die rede is: Jesus ken mense.
Jesus kan nie die wonderwerk-bekeerlinge vertrou waarvan Nikodemus ’n verteenwoordiger is nie, maar Hy vertrou
die Samaritaanse vrou (Ek is wat met jou praat; 4:25).
Hy weet wat in mense se harte omgaan (2:23-25). Hy weet dat die wonderwerk-bekeerlinge nie regtig wou weet wie
hierdie Jesus werklik is nie.
Net so weet Hy dat Hy deur Samaria moet gaan (4:4). In 4:16 weet Jesus wat in hierdie vrou se lewe aan die gang
is. Voordat sy nog kan verduidelik, vat Jesus sommer kortpad … Jy bly net by hierdie man. Jy het al vyf mans gehad.
So ken Jesus alle mense: van dié wat die hoogste sport in die lewe bereik het tot dié wat op die laagste vlak van
die lewe lê. Deur die twee uiterste pole te noem beteken dit dat Jesus ook dié ken wat tussen die pole lê. Jy kan
nie ’n masker opsit en Hom probeer flous soos jy met mense doen nie. Hy haal die masker af. Soms direk, soos
met hierdie vrou deur haar lewe op die plek oop te vlek. Soms deur ’n gebeurtenis in jou lewe of, soos in Nikodemus
se geval, deur jou voor ’n uur van beslissing te bring.
Om hoog op te wees beteken jy kan die godsdienstige leer klim tot by die boonste sport, maar dit beteken nog nie
jy is geestelik nie. Geestelik beteken iets anders. Geestelik beteken om deur water en Gees gebore te wees.
Geestelik beteken om by die Fontein van die lewe te gaan drink.
So begelei Jesus die Samaritaanse vrou om by die Fontein van die lewe uit te kom.
Die gesprek begin met die Samaritaanse vrou wat ontdek dat Jesus meer is as net ’n Joodse man wat met haar
praat. Hy bied haar die water van die lewe. Sy aanvaar hierdie uitnodiging, maar Jesus kan nie groter wees as
Jakob nie (v 15). Jesus is klaarblyklik op hoogte van die Samaritaanse teologie rondom die put van Jakob. En Hy
bied meer as wat Jakob se put kan bied. Van Jakob se water, sê Jesus, sal jy weer dors word. Jesus wil aan haar
bied wat Jakob nie kan bied nie. Jesus is groter as Jakob. Wanneer die vrou Hom in vers 15 vra na die water wat
Jesus bied, begelei Hy haar na hierdie water. Eers verstaan sy die water as letterlike water, wat die tipiese
misverstaan-tegniek van die Johannesevangelie is, wat aanleiding gee daartoe dat sy en Jesus die saak verder kan
bespreek.
"Gaan roep jou man," sê Jesus vir haar. Sy kom tot die ontdekking dat Jesus ’n profeet moet wees (v 19) om haar
lewe só te kan ken. Wie is hierdie Jesus dan nou eintlik? Sy waag dit met Jesus. Hy is dalk meer as ’n profeet, maar
kan Hy ook groter as die plek van aanbidding wees?
Gerisim was voor die skepping al daar. Dit is God se uitverkore plek van aanbidding.
Dit is die volgende toetssteen wat sy vir Jesus aanlê, en sy vind dat Hy inderdaad groter is as die aanbiddingsplekke.
Wie Hom aanbid, moet dit in Gees en waarheid doen (4:23). Die aanbidding van God is nie aangewese op plekke
(Jerusalem, Gerisim), geboue (tempel; 2:19 ev), gebruike en tradisies (Jakob se put; 4:12-13), geslag (man/vrou;
4:9), kultuur (4:8), ras (4:8), geletterdheid (Nikodemus; 2:1) of sosiale vlakke nie. Die volgende skuif wat hierdie vrou
maak, is verstommend. Sy los haar tradisie en godsdiensbeskouinge nou agter haar. Sy sluit aan by die Joodse
verwagtinge van ’n Messias wat die Grieke "Christus" noem.
Dan moet Hy die Messias wees, want Hy sal alles vertel. Jesus sê vir haar: Ek is, die Een wat met jou praat. Ek is
die Messias, maar meer as die Messias. Ek is is ’n heenwysing na Eksodus 3:14. Ek is God wat vlees geword het.
Dit is my identiteit. Hier vind ’n hele ontsluiting van Jesus se identiteit plaas. Paasfees gaan mos oor die Ek is. Die
Ek is wat Moses ontmoet het. Die Ek is wat Moses gestuur het om sy volk te bevry. Die Ek is wat sy volk gered het
van die farao. Die Ek is wat sy volk deur die woestyn gedra het. Die Ek is wat sy wet aan die volk gegee het.
Nikodemus het nie die Ek is herken toe Hy met hom gepraat het nie. Daarom dat Nikodemus nie dieselfde skuif
gemaak het as die Samaritaanse vrou nie. Sy kon haar godsdiensopvattings agterlaat toe sy die Ek is ontmoet.
Nikodemus kon nie ’n soortgelyke skuif maak nie. Ironies, nie waar nie? Nikodemus was in ’n baie beter posisie om
hierdie skuif te kon maak. Die Messias kom immers uit die Jode. Geloof vra veel meer as blote bewondering of om
net agter Hom aan te loop. Solank jy uitstel om hierdie radikale skuif in jou lewe te maak sal jou geloof onvoldoende
wees. God se dissipels werk nie in die geheim en ondergronds nie, maar openlik, bogronds.