24 Februarie 2002

Tweede Sondag in Lydenstyd

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Johannes 3:1-17.

Ander tekste: Genesis 12:1-4; Psalm 121; Romeine 4:1-5, 13-17.

Tema: Christus maak ons nuut vir die koninkryk.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Gemeentesang

Gesang 131:1/NSG 107.

Skriflesing

Stem 1: Johannes 3:3b: "As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien

nie."

Stem 2: Johannes 3:5b: "As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van

God kom nie."

Stem 3: Johannes 3:16: "God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat

in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê."

Gemeentesang

Gesang 131:2, 3/NSG 107.

Votum

Psalm 121 (responsories):

Liturg: Ons kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir ons hulp kom?

Gemeente: Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het.

Liturg: Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie; Hy wat jou beskerm, slaap nooit nie.

Gemeente: Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie.

Liturg: Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare. Bedags sal die son jou nie steek nie

en snags sal die maan jou nie kwaad doen nie. Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe

sal Hy beskerm.

Gemeente: Hy sal jou beskerm waar jy ook al gaan, nou en vir altyd.

Seëngroet

Genesis 12:3: In Genesis 12 hoor ons hoe die Here vir Abraham geroep en aan hom n seën-belofte gegee het: "Ek

sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees." Dit

geld ook vir ons, Abraham se geestelike nageslag: Genade, barmhartigheid en vrede ... (Trinitaries).

Lofsang

SOM 43:1, 3, 4, 5/NSG 322.

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Ons Vader, ons het as u kinders in u teenwoordigheid saamgekom

om aan U ons lof en ons dank te bring

om u Woord te hoor en te ontvang

om die behoeftes van die wêreld voor U te bring

om vergifnis vir ons sonde te vra

om u genade te soek

om ons aan u diens te gee ...

Maak ons lewe nuut.

Maak dit alles in ons lewe waar

deur u Gees wat in ons werk.

Amen.

Solosang (sonder begeleiding)

SOM 47.

DIENS VAN DIE TAFEL

Geloofsbelydenis

Nicea.

Gereedmaak van die tafel

Gesang 207:3, 4, 5.

Verootmoediging

Gesang 122:1, 3, 4, 5/NSG 103 (gebruik n solis om verse 3 en 4 sonder begeleiding te sing).

Genadeverkondiging

Romeine 4:1-5, 13-17.

Lofverheffing

Gesang 99:1, 3/NSG 78.

UITSENDING

Sang

SOM 1:1-4/NSG 100.

Teks

1. Strukturele opbou

Johannes 1-12 is opgebou uit sewe wondervertellings, opgevolg deur sewe redevoerings. Hierdie redevoerings wil

meer vertel oor Jesus, die Seun van God, wat hierdie wonders verrig het.

Hoofstukke 2:1-4:42 vorm n eenheid binne die groter konteks van hoofstukke 1-12. In hoofstukke 2-4 het elke teks

n ko-teks. So is die ko-teks van die wynwonder (2:1-11) die gesprek met Nikodemus (3:1-21), en die tempelreiniging

se ko-teks is die gesprek met die Samaritaanse vrou in hoofstuk 4. Die ko-teks (redevoering) wil betekenis

(semeion) gee aan die wonder wat plaasgevind het.

In hierdie hoofstukke word oud met nuut vervang. Die een wat die inisieerder is van die nuwe is die Seun van God.

So vertel Johannes van die ou reinigingsgebruike wat met die nuwe wyn van God se ryk vervang word, die ou

PREEKSTUDIE - JOHANNES 3:1-24

tempel met die nuwe in die opgestane Jesus, die ou water van Jakob se put met die lewende water van Christus

en die aanbidding in Jerusalem en Gerisim met die aanbidding in Gees en waarheid.

Die opbou van Johannes 3

Hoofstuk 2:23-25 (redaksionele invoeging) vorm die agtergrond waarteen hoofstuk 3 verstaan moet word. Hierdie

verse dui op onvoldoende geloof wat ontstaan op grond van die wonders wat Jesus gedoen het. Hierdie

wonderwerk-bekeerlinge sien nie waarheen hierdie tekens wys nie, omdat hulle nie regtig verstaan dat hierdie

tekens na Jesus wys nie. Om hierdie rede vertrou Jesus nie die wonderwerk-bekeerlinge nie. Die onvoldoende

geloof van genoemde bekeerlinge word gekorrigeer deur op die werklike betekenis van die tekens te wys (vv 13-

21).

Die indeling van die teks

Vers 1 sluit direk aan by die voorafgaande gedeelte. Jesus se gesprek met Nikodemus eindig in vers 11. In vers 11

praat Jesus met Nikodemus in die tweede persoon enkelvoud ("Ek sê vir jou ...") terwyl die tweede persoon

meervoud in vers 12 voorkom: "As Ek vir julle " Die "julle" verwys hier na 2:23. Verse 13-21 blyk kerugmatiese

deklarasies te wees wat in die Johannese kerk die rondte gedoen het. Hierdie deklarasies dui op die kern van die

Evangelie van Johannes. Hierdie deklarasies is redaksioneel bygevoeg om sodoende die teks aktueel te maak vir

die nuwe situasie.

2. Die Sitz im Leben van die teks

Die Christene se volhardende gebruik om Jesus as die Messias in die sinagoges te verkondig, het die situasie

tussen die Jode en die Christene só laat versleg dat die sinagoge-owerheid die Christene uit die sinagoges verban

het (9:22; 12:42; 16:2). Hierdie gedeeltes dui moontlik op n algehele uitbanning van die Christene uit die sinagoges

en die Joodse sosiale lewe. Die sinagoge-owerheid het die birkath ha-minim aanvaar as n byvoeging tot die

twaalfde seëngebed, naamlik die vervloeking van die ketters. Dié gebed het onder meer gelui dat die Nasareners

in n oomblik vernietig sal word en dat hulle name uit die boek van die lewe gehaal sal word. Hierdie gebed is elke

dag in die sinagoges gebid en ook elke oggend deur godsdienstige Jode. Van die Christen-Jode het ná hierdie

sinagogebesluit geheime Christene geword (soos Nikodemus), omdat hulle nie die moed gehad het om Jesus

openlik te bely nie. Nie lank ná hierdie sinagogebesluit nie is nog n besluit geneem wat die doodstraf gevra het vir

mense wat sou aanhou om Christus te bely.

3. Simboliese universum

Die situasie waarin die Christene hulle nou bevind het, het hulle gedring om tot nuwe Christologiese formulerings

te kom. Die pre-eksistente Christus het die wêreld van God (bo) met die wêreld hier onder kom verbind (3:13-15).

Die rede hiervoor is dat God hierdie wêreld so liefgehad het dat Hy deur sy Seun hierdie verbinding bewerkstellig

het.

Die wêreld van bo staan teenoor die wêreld van onder. Die rede vir hierdie spanning is dat die wêreld van onder

deur die magte van die Bose beheer word, wat die wêreld van God vervreem.

Hierdie vervreemding lei tot die verwerping van die Seun van die mens. Jesus is God se reddingstou vir die wêreld

wat Hy suiwer op grond van sy liefde na die wêreld uitgooi.

Die simboliek wat hierdie twee wêrelde beskryf, is lig en duisternis. Die mensdom word in twee groepe verdeel: Dié

wat Jesus as die Seun van God aanvaar, is kinders van God. Dié wat Jesus nie aanvaar nie, is kinders van die

duisternis wat deur hulle daad van verwerping van God se Seun onder die oordeel van God staan.

4. Eksegetiese opmerkings

Oor die dubbele betekenis van die term "verhoog", sien Woord teen die Lig I/2, bladsy 84 en volgende, asook

Leesrooster 2000, bladsy 119.

Konteks en preekvoorstel

1. Christus, en Christus alleen. Die inisieerder van vernuwing, die middelpunt van vernuwing en die afloop van

vernuwing.

Die geïnstitusionaliseerde godsdiens van die Jode het die mense verblind om die vrymagtige werking van God en

sy unieke verlossingsplan raak te sien. Nag het hier n simboliese betekenis om kontras aan te dui: "... the darkness

of the world (and the established) and the light of the world found in Jesus" (Kayser 1984:26).

Verse 3-8 impliseer dat die Joodse godsdiens soos verteenwoordig deur Nikodemus, as Fariseër, lid van die Joodse

Raad en dié leermeester van Israel, onvoldoende is. Die Joodse godsdiens bring die mense nie by die koninkryk

van God uit nie. Daar moet afstand en diskontinuïteit met die Joodse godsdiens kom. Selfs die toegewyde,

godsdienstige Jood is nie in staat om die koninkryk in te gaan nie. In hedendaagse terme sou n mens die skuif wat

hier beoog word as n paradigmaskuif kon uitdruk.

Wat beteken n totale vernuwing soos hier voorgestel?

Hier word nie kosmetiese veranderinge verander n bietjie hier en daar, maak n paar aanpassings, kikker die

aanbidding in die tempel op of verskuif net die duiweverkopers na n ander plek veronderstel nie

Nee, dit gaan hier oor n algehele vernuwing.

Die middelpunt van hierdie vernuwing is Christus. Die wynwonder simboliseer die herskepping van die Joodse

geloof. Die tempelgebeure vertel dat God teenwoordig is in Jesus en nie in n klipgebou nie. Die gesprek met

Nikodemus maak dit duidelik dat slegs n radikale, nuwe verhouding met God (soos deur Jesus tot stand gebring)

Jesus se tekens en verlossingswerk verstaanbaar maak.

In die opbou van hoofstuk 3 kom die sentralisering van Jesus duidelik na vore.

Hierdie Johannese deklarasies (vv 16-21) is n latere toevoeging en verwerking van die Johannese geskrif. Verse

14-15 is n stukkie Ou-Testamentiese geskiedenis wat op Jesus van toepassing gemaak is. Soos die kyk na die

slang op die paal lewegewend was, so is die kyk na die verhoogde Christus lewegewend. So vorm verse 14-15 die

skakel tussen die dialoog tussen Jesus en Nikodemus en die deklarasies (vv 16-21). Sentraal staan die

vernederde/verhoogde Christus. Deur sy dood aan die kruis maak Hy weergeboorte moontlik, en n keuse vir die

verhoogde Seun van die mens is n keuse vir die ewige lewe. Die hele teologie van Johannes, soos aangetoon,

draai om Christus: verhoog aan die kruis en verhoog as gevolg van sy opstanding. Johannes 3 is n voorbeeld van

hoe die hele Evangelie van Johannes opgebou is rondom die Christologie. Alle ander temas in die

Johannesevangelie, soos saligheid, eskatologie, ekklesiologie, pneumatologie en kosmologie, is aspekte van die

Christologie. Dit gaan vir Johannes om Hom en Hom alleen. Paasfees moet hierdie gedagtegang beklemtoon.

Ons fouteer dikwels net soos die Jode en hulle godsdiens van Jesus se tyd. Dit gebeur so maklik dat dinge sentraal

in ons lewe en in die kerklike lewe kom staan. Dinge soos ou gebruike, gewoontes, tradisies en geboue kom staan

in die sentrum van die kerklike lewe en van gelowiges se lewe. Die radikaal nuwe lewe wat Jesus bring, moet altyd

lewendig bly in ons lewe en nadenke oor Christus en godsdiens.

Dikwels is dit nie so nie.

Op die mees sigbare vlak kom dit na vore waar kerkraadslede in kerkraadsvergaderings ure lank sal argumenteer

oor die kleur wat die kerk geverf moet word, oor die verkoop van boeke in die kerk se voorportaal of nie, oor die

handhawing van gemeentelike gebruike terwyl alles eintlik om Christus moet draai. Dinge, geboue en tradisies

staan in diens van Christus.

Selfs rituele soos die doop het al n doel op sigself geword. Daarom suggereer König dat die tradisionele kerke n

ruk moet ophou met die kleindoop en dat die grootdoopkerke moet ophou met die grootdoop, want in albei gevalle

het die doop moontlik net n kultuuraksie geword (1986:4).

Burger skryf oor die winspunte maar ook die gevare verbonde aan die institusionalisering van godsdiens: " die

uiterlike gelaat van die godsdiens in stand hou, maar die gees daarvan verloor het " (1999:279).

Paasfees wys uit dat dinge só diep gewortel kan raak dat dit n doel op sigself word en dít waarheen dit moet wys

of wat dit moet simboliseer, nie meer bestaan nie. Dit wys uit dat dinge so belangrik word dat dit enigiets in die pad

daarvan uit die weg sal ruim, selfs die Seun van die mens. Paasfees wil dinge weer op hulle plek sit en Christus in

sy staat van vernedering en verheerliking raaksien.

2. Onvoldoende geloof

Die laat invoeging van 2:23, asook vers 16 en die volgende verse, gee aan n mens n sterk aanduiding wat die

redaktor aan die Johannese gemeenskap wou sê.

Dit moet as n geweldige skok vir Nikodemus gekom het om te hoor dat om in die kerk en in die verbond groot te

word, nie die koninkryk van die hemel vir jou oopsluit nie. Kerklik grootgeword, en tog verlore.

As kind is Nikodemus op die agste dag besny. Op 12-jarige ouderdom is hy kategese toe om in die wet geskool te

word. Hy ontvang n kaartjie by die voltooiing van sy kategese om te sê: Jy is nou n volwaardige lidmaat van die

gemeente.

Nikodemus is daarvan oortuig dat God hom geroep het en hy wil graag vir God werk. Hy slaag die streng kursus

van die Fariseërs. Die aand by die oorhandiging van die diploma (terloops, met lof geslaag) word dié opmerking

teenoor sy ouers gemaak: "Julle kind gaan dit nog ver bring." Dit is toe ook net so. Nikodemus studeer verder,

moontlik nog aan die voete van Gamaliël. Hy is oral bekend en groei in statuur, in so n mate dat Jesus na hom

verwys as dié leermeester van Israel (v 12). Hy geniet wye erkenning vir sy wysheid en bekwaamheid, sodat die

opgang wat hy in die samelewing maak respek by vriend en vyand afdwing (Joh 7), wat daartoe lei dat hy n lid word

van die uitgelese groep mense wat tot die Sanhedrin behoort.

Tog word Nikodemus se geloof as onvoldoende bevind. Jesus sê vir hom dat hy wat Nikodemus is God se werke

nie verstaan nie. Ten spyte van al sy kwalifikasies in godsgeleerdheid. Nikodemus het grootgeword met die

verbondsidee dat hy by wyse van geboorte en deur n skoon lewe outomaties deel van God se ryk is. Die geloof

onder die Jode het mos wyd geloop dat n mens deel is van God se koninkryk, jy moet net nie iets

onverantwoordeliks en onsinnigs aanvang nie. Hou by die wet, doen die wet en leef die wet en jy is gered.

Hoekom is Nikodemus se geloof dan as onvoldoende bevind?

Johannes 2:23 vertel dat Nikodemus n groep mense verteenwoordig het wat n wonderwerkgeloof gehad het.

Mense soos Nikodemus is aanvanklik deur die wonderwerke van Jesus aangespreek, maar dit het nie tot n

diepgaande geloofsverhouding met Jesus gelei nie.

Aanvanklik het Nikodemus Jesus sterk gevolg. In Johannes 7:50-52 het hy só sterk vir Jesus opgekom dat die lede

van die Raad hulle bedenkinge oor Nikodemus begin uitspreek het. Hy het sy posisie in die Raad gebruik om vir

Jesus in die bres te tree.

In Johannes 19:39 het Nikodemus die oorvloed speserye gekoop vir Jesus se begrafnis. Hierdie Nikodemus wat

nou in die openbaar optree, moet die skrywer ons net weer daarop wys, is dieselfde Nikodemus wat in die nag na

Jesus toe gekom het. Dit lyk of Nikodemus tot geloofsvolwassenheid gekom en die beeld van geheime dissipelskap

afgeskud het. n Literêre lees van die teks sou n mens by so n antwoord kon uitbring (Schneiders 1987:2), terwyl

n historiese lees n mens by n teenoorgestelde antwoord uitbring. Nikodemus het uiteindelik ook getel onder dié

wat die Christelike geloof afgesweer het. Nou hoe dan so? sou n mens kon vra.

Die verhouding tussen die Christene en die sinagoges het só versleg dat die Christene uit die sinagoges geban is.

n Bylaag is by die twaalfde seënbede gevoeg wat gelui het dat die Christene vervloek is en geban word uit die boek

van die lewe.

Elke Jood het hierdie gebed elke dag gebid en dit is elke dag in die sinagogale liturgie gebid. Hierdie ontwikkeling

het Nikodemus tot n punt van beslissing gedryf. Hy, as verteenwoordiger van die geheime Christene (2:23; 3:1),

moes besluit: Dit is óf Christus óf uitbanning. Johannes sê: Geheime Christenskap is uit, undercover Christenskap

bestaan nie.

Die afbreek van die gesprek met Nikodemus in vers 11, die ons-weet-waarvan-ons-praat by monde van Jesus, wys

na n laat redaksionele verwerking van die teks. In vers 12 verwys die julle na dié in 2:23 wat bloot n

wonderwerkbekering/-geloof gehad het, en toe die geloof moes uithaal en wys, het dit geblyk onvoldoende te wees.

Vers 13 en die volgende verse, wat n latere toevoeging is, wil beklemtoon dat daar net twee soorte mense is: Jy is

n kind van God, hier en nou (vgl Johannes se gerealiseerde eskatologie) en jy dien Hom openlik, elke dag, oral (v

21). Of jy is verlore. Jy is in n stroom wat hel toe vloei (vgl simboliese universum). God gooi die reddingstou

(Christus) na jou toe uit. Jy gryp die tou en word gered. Of jy los die tou en daardeur is jy klaar veroordeel.

n Tussenposisie is daar nie. Daar bestaan geen geheime Christenskap, geen nag-Christene, geen undercover

Christene nie. Jy is n Christen, of jy is nie n Christen nie.

n Mens kan Nikodemus egter nie so maklik kwalik neem vir sy keuse nie. Om alles waarvoor jy soveel jare lank

gewerk het jou loopbaan wat jy gevestig het, jou vordering tot by die kruin van jou beroep, jou optrede wat oor die

jare heen respek, agting, aansien en opsien van mense verdien het skielik te verloor ...

Die oomblik dat Nikodemus Christus as die Here bely, word hy uit die sinagoge geban en staar hy selfs die dood in

die gesig. Die Jode het immers op die teregstelling van Christene aangedring omdat hulle as ketters beskou is.

Nikodemus het mos die kruisiging en die verminkte lyk van Jesus gesien. Hy het dan self n klomp geld vir die mirre

betaal.

Om te tuimel van belangrik-wees na niks-wees, van bo in die top range tot onder waar jy niks is nie.

Sien jy kans om só gedegradeer te word? Is jy bereid om hierdie prys te betaal?

Om sulke radikale dinge te kan doen moet daar n paradigmaskuif in jou plaasvind. God alleen kan dít doen. Dit

moet n ingrype van bo wees wat jou lewe radikaal verander. Paasfees kom stel Christus sentraal in die weergebore

mens se lewe.

Bibliografie

Brown R E (Anchor); Barrett C K (SPCK); Beasley-Murray G R (WBC); Bultmann, The Gospel of John. Du Rand,

Johannese perspektiewe. Kaysar R, The fourth Evangelist and his Gospel. Smalley, Evangelist & Interpreter.

Leesrooster 2000, pp 119-121. Woord teen die Lig I/2, pp 83-89.