23 Maart 2003

Derde Sondag in Lydenstyd

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Johannes 2: 13 - 22

Ander tekste: Eksodus 20: 1 - 17; Psalm 19; 1 Korintiërs 1: 18 - 25

Tema

Die kerngedagte is (W)woord: God se woord as algemene openbaring, Torah (wet) en Jesus Christus, maar ook die woord as taal. Liturgiese taal as by uitstek die taal van die kunste, van poësie, van metafoor en simbool, wat help om iets teenwoordig te stel van God (se (W)woord). Van die God wat ons ken deur die algemene en besondere openbaring.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Oop gesprek

Lees "erediens" van Daniël Hugo en vra gewoon mense se reaksie daarop.

die Here is in sy heilige tempel

spreek hy die votum eerbiedig uit

swyg voor Hom o ganse aarde en buite

begin balhorig 'n bokmakierie fluit

Sang

"Middelpunt van ons verlange" Lied 393/ NSG 108

Aanvangswoord

"Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense" (1 Kor. 1: 25).

Seëngroet

"Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, deur die werking van die Heilige Gees!"

Antwoord

Here, ons loof u grote Naam Lied 19 (Antjie Krog se berywing van Ps. 19)/NSG 8:

Doopherinnering

Gaan staan by die vont en lees van Wyk Louw se "Vroegherfs". Doen daarna saam met die gemeente hardop die geloofsbelydenis.

Die jaar word ryp in goue akkerblare,

in wingerd wat verbruin, en witter lug

wat daglank van die nuwe wind en klare

son deurspoel word; elke blom word vrug,

tot selfs die traagstes; en die eerste blare val

so stilweg in die rookvaal bos en laan,

dat die takke van die lang populiere al

teen elke ligte môre witter staan.

O Heer, laat hierdie dae heilig word:

Laat alles val wat pronk en sieraad was

of enkel jeug, en ver was van die pyn;

laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort

my waan, tot al die hoogheid eindelik vas

en nakend uit my teerder jeug verskyn. (N.P. Van Wyk Louw)

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord/Epiklese

Here, dit was u bedoeling in u wysheid, dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van U sou kom nie. Daarom het U in u goedheid besluit om deur die prediking die te red wat glo. Daarom vra ons U vanoggend weer opnuut om ons ore en harte oop te maak deur u Gees te stuur. Amen.

Skriflesing

Johannes 2: 13 - 22 (laat een van die lidmate lees)

Kindertyd

Hongerdoek / Via Dolorosa [Vgl lydensbasis]

Prediking

Antwoord

Jesus, o dink aan my Lied 384/NSG 215: Jesus, rots vir my geslaan

DIENS VAN DIE TAFEL

Indien dit nog nie in julle gemeente gebruik is nie kan julle gerus lopende nagmaal probeer. Laat diegene wat aan die nagmaal wil deelneem vorentoe loop na die tafel om daar die elemente te ontvang. Indien julle 'n groot gemeente is kan van verskillende bedieningspunte/tafels gebruik gemaak word.

Formulier

Uittreksel uit nagmaalsformulier oor Gemeenskap.

Nagmaalsgebed

Sien basisliturgie.

Sang

"Eet die brood" Lied 303/NSG 370: U het die brood gebreek

Dankoffers

Vra as afwisseling 'n kind om die gebed na die offergawes te doen

UITSENDING

Wet

Eksodus 20

Skuldbelydenis

Voorganger: Wie sien sy eie dwalinge raak?

Moet my tog nie straf vir sondes wat ek onwetend gedoen het nie.

Weerhou my van opsetlike sondes,

Laat hulle nie oor my heers nie.

Dan sal ek onberispelik wees

En vry van hierdie groot sonde.

Mag wat ek sê en wat ek dink

Tog vir U aanneemlik wees,

Here, my Rots en my Verlosser.

Gemeente: Amen (Ps 19: 13 - 15)

Sang

Heer, wees ons genadig Lied 247/NSG 233: Kyrie Eleison

Genadeverkondiging

Lees daarna die volgende gedig van Rudolf Willemse getiteld "St. Mary's Anglican Church"

dit lyk asof God

hierdie kerk self gebou

self die klippe gekap

en vasgemessel het

asof Hy self die plante beveel het

om teen die mure op te rank

hier waar my ou meisie

nou die orrel speel

en ek en jy

noukeurig oplet na

die cheese-cutters op die klipmuurtjie

die dogtertjie wat jisses sê

en Christus wat homself helaas

in beeldvorm teen 'n muur en 'n houtkruis

laat ophang het

hier waar kerse brand

waar kinders kaalvoet kerk toe kom

en die priester of iemand

oor die sunday times

good morning sê

kyk ek op

dan sien ek die Christuskind glimlag

in die geel en rooi arms

van die maagd in die vensterraam

Bulletin

Slotsang

"Is dit, is dit my Koning" Lied 389: /NSG 97

Seën

"Die Here seën jou en beskerm jou, Hy sal tot jou redding verskyn en jou genadig wees, en Hy sal al jou gebede verhoor en aan jou vrede gee!"

Amen gesing

Lied 312/313/314/315

Seëngroet:

NSG 355 en 356

 

PREEKSTUDIE JOHANNES 2:13-23

Teks

Die Leesrooster se teksafbakening vir hierdie Sondag volg dié van die Revised Common Lectionary en stem ooreen met die afbakening van die Episcopal Book of Common Prayer. Die Roman Catholic Lectionary se afbakening sluit egter vers 23-25 in. Brown hanteer verse 13-25 as `n eenheid, maar op grond van sy verstaan van die literêre struktuur van Johannes se evangelie identifiseer hy `n duidelike oorgangsparagraaf na elke toneel in Jesus se openbare optrede. Daarom hanteer hy vers 13-22 as beskrywing van `n bepaalde toneel in Jesus se openbare lewe, terwyl vers 23-25 as oorgang funksioneer na `n volgende toneel.

Die vertaling van die New International Version (NIV) maak, anders as die vertaling van die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV), die paragraafverdeling by vers 12 en nie by vers 13 nie. Die NIV maak ook nie die verdeling tussen vers 22 en 23 nie. Dit lyk asof die NIV se afbakening gebaseer is op die verandering in plek en tyd wat in vers 12 aangedui word, naamlik Kapernaüm teenoor Kana, plus die tydsaanduiding "hierna" (Gr. meta touto; vlg Tasker kondig dié uitdrukking dikwels in Johannes se evangelie `n nuwe afdeling aan), asook die aanduiding van beweging na Kapernaüm toe waar Jesus vertoef het. Dieselfde oorwegings is klaarblyklik nie ter sprake wanneer die verband tussen verse 12 en 13 bepaal word nie. In dié verband bied Brown se indeling `n sinvolle oplossing. Hy dui vers 12 as oorgangsteks tussen die bruilofstoneel en die tempeltoneel aan.

Verskillende merkers in die teks self, ondersteun die stelling dat vers 13-25 `n afgeronde eenheid vorm. Vers 13 bevat `n duidelike tydsaanduiding, asook `n plek-ruimtelike aanduiding wat dié perikoop van die voorafgaande onderskei. Die verwysing na die Paasfees (Gr. to pascha) van die Jode (v 13), dui aan dat die volgende toneel binne die konteks van `n ander fees plaasvind as die bruilofsfees (2:1) van die voorafgaande perikoop. Die verwysing na Jerusalem grens hierdie perikoop ook plek-ruimtelik af van die voorafgaande. Daar was Kana in Galilea die plek-ruimtelike konteks vir Jesus se openbare optrede, terwyl Kapernaum (v 12) die plek was waar Jesus eers gerus het voor sy volgende openbare optrede. Die verwysing na die Paasfees en Jerusalem in vers 23, bind vers 23-25 tematies aan dié perikoop. Die uitdrukking "na Jerusalem toe gegaan" (Gr anebé eis Ierosoluma) dui beweging van een punt na `n ander aan. Daarmee word die ruimtelike verandering in toneelopset geografies uitgebeeld.

`n Tweede merker in die teks wat die afgerondheid van dié perikoop ondersteun, is die verwysing na die tempelplein (Gr tó hieró) in v 14, as die stel waarop die geantisipeerde toneel gaan afspeel. Dit verwys na die groot voorhof of tempelplein, waar mans, vroue en heidene toegelaat is Die herhaling van die woord "tempel" (v 15) beklemtoon die sentrale betekenis van die tempel as ruimte vir die toneel van Jesus se volgende openbare optrede. Die tempel bevestig sy rol as tema vir die res van die perikoop, maar die outeur gebruik voortaan ander woorde en beelde met verwysing na die tempel: die huis van my Vader (Gr oikon tou patros mou, v 16); nie `n besigheidsplek (Gr mé oikon emporiou, v 16); u huis (Gr to oikou sou, v 17); hierdie tempel (Gr ton naon touton, v 19; ho naos outos, v 20); sy liggaam (Gr tou naou tou sómatos autou, v 21). Die Griekse woord naos verwys na die "inner shrine or sanctuary" (Tasker). Groenewald wys daarop dat Johannes se verwysing na "die huis van my Vader" (v 16), die eerste keer is dat Jesus van God as sy Vader praat.

Johannes se beskrywing van die tempelreiniging as eerste openbare daad van Jesus in Jerusalem, laat egter `n vraag by uitleggers ontstaan. Aangesien die eerste drie evangelies die reiniging van die tempel as die laaste openbare daad van Jesus beskryf, word gevra of daar histories twee tempelreinigings was, of net een. Groenewald voer aan dat Johannes die tempelreiniging as historiese gebeurtenis bevestig, maar dit vroeg in die evangelie plaas om aan te dui dat Jesus gekom het om vernuwing te bring. Sy optrede bring skeiding onder mense: sommige kom tot geloof (v 11), en ander in verset (v 18ev)

Met die ontwikkeling van die tempel-tema in die perikoop, word die leser bewus van die progressiewe patroon van die gebeure wat in dié perikoop beskryf word. Die outeur vertel `n verhaal oor Jesus se openbare optrede op die tempelplein. Vanuit die grafiese beskrywing van Jesus se fisiese doen en late, beweeg die outeur na `n simboliese vlak waarop die materiële tempel as `t ware die onderrigmedium word om iets dieper as die sigbare werklikheid te kommunikeer. Die gebeure op die tempelplein word `n metafoor vir Jesus se liggaam en sy lyding as gevolg van mense se sonde.

Die progressiewe patroon van dié perikoop word gedra deur die verhalende karakter van die vertelling, asook deur die ontwikkelende lyn vanaf die begin deur die middelpunt, na die afloop van die gebeure. In `n tipe kantaantekening herinner die outeur sy lesers in vers 22 daaraan dat die dissipels self, eers ná Jesus se opstanding uit die dood, die betekenis van Jesus se beeldspraak en toepassing van die tempelgebeure op Homself, verstaan het. Hierdie perikoop is maar een voorbeeld van hierdie spesifieke retoriese tegniek wat in die Johannesevangelie ontplooi word, naamlik `n soort "object lesson" deur Jesus na aanleiding van `n praktiese openbare gebeurtenis. Jesus gebruik die fisiese werklikheid (tempel, water, brood) om iets oor Homself (sy identiteit) te kommunikeer (vgl Jesus se Ek is-uitsprake waarna in die preekstudie by die derde Sondag in Advent, 15 Des 2002, verwys is).

`n Volgende merker in die teks wat die eenheid van dié perikoop aandui, is die verwysing na die wonderteken (Gr. sémeion) in vers 18 en 23. In terme van die opbou van die vertelling (begin-middel-slot) verteenwoordig die woord "wonderteken" `n klimaks of draaipunt in die perikoop. Dit is asof die Jode se aandrang op `n wonderteken, die aanleiding daartoe is dat Jesus met sy beeldryke toepassing begin. Hier soek die Jode `n teken as bewys dat Jesus inderdaad die gesag het om te doen wat Hy pas op die tempelplein gedoen het. Wie gee aan Hom die reg om die daaglikse gebeure in die tempelruimte te ontwrig? Waarin setel sy gesag vir dié optrede? `n Wonderteken sou vir die Jode die bewys van Jesus se gesag wees. Jesus se optrede bring die Jode in verset, terwyl die dissipels (vers 17) diep onder die indruk van die gebeurtenis kom. Hulle besef dat `n Messiaanse voorspelling in vervulling gaan (Groenewald). In dié verband word Psalm 69:10 aangehaal: "Die liefde vir u huis verteer my."

Die woord "wonderteken" word in vers 23 herhaal, maar dan in verband met die woord "geloof" (Gr pisteuó). Die kommentaar van vers 24 dui egter aan dat Jesus die opregtheid van die mense se motiewe en die egtheid van hul geloof in Hom, skepties beoordeel en afwys. Hulle geloof wat gebaseer is op die sien van Jesus se wondertekens, openbaar dieselfde gebrek aan insig wat die Jode (v 18), in hul aandrang op `n wonderteken om Jesus se gesag te bevestig, demonstreer. Jesus reageer nie met `n wonderteken nie, maar met `n woord. Hy antwoord met `n woordbeeld oor Homself sy roeping en identiteit wat die wonderlikste gevolg het vir mense wat soos die dissipels, die Skrif (Gr té graphé) en die woorde (Gr tó logo) van Jesus glo (v 22). Hiermee word `n sentrale Johannese tema beklemtoon, naamlik die gesproke en geskrewe woord (ook v 17). In vers 22 word die Skrif en die woorde van Jesus die middel waardeur die dissipels tot geloof kom.

 

Konteks

Die vraag oor wat die fokus van die prediking vanuit dié perikoop op dié Sondag behoort te wees, moet ten minste vanuit drie kontekste beantwoord word: (i) die literêre konteks waarbinne die perikoop in Johannes se evangelie staan; (ii) die tussen-tekstuele beweging (die teks self en invloede buite die teks) wat die verstaan van die boodskap beïnvloed, asook; (iii) die konteks van die kerklike jaar waarbinne die Sondag val, waarop dié perikoop gepreek sal word. Die literêre konteks is dié van Johannes se boek oor Jesus se tekenwonders (Du Rand) en die konteks van die kerkjaar is die derde Sondag van die seisoen van lydenstyd. Oor laasgenoemde konteks en Hanson se gedagtes daaroor, kan die preekstudie vir die eerste Sondag in lydenstyd (9 Mrt 2003) weer geraadpleeg word. Die tussen-tekstuele beweging fokus op die vraag na die wisselwerking tussen die teks self en die wêreld van die leser of hoorder daarvan.

Oor die literêre konteks enkele gedagtes. By die preekstudie op die derde Sondag van Advent (15 Des 2002) is reeds aandag gegee aan die verdeling van die Johannes evangelie in onder andere die boek oor Jesus se tekenwonders (1:19-12:50). Groenewald wys daarop dat die teken in hierdie deel van die evangelie gewoonlik as uitgangspunt vir die gesprek dien. Tekens en gesprekke word ineengevleg, met die gesprekke as belangrikste deel van Jesus se self-openbaring. Daar is sprake van sewe wondertekens wat tussenin deur sewe gesprekke onderskei word. Hierdie hoofdeel word verder gekenmerk deur die godsdienstige feesdae van die Jode, asook die toenemende vyandigheid van die Jode.

Ons perikoop vorm deel van hierdie besondere deel van Johannes se evangelie. Die Jode se aandrang op `n wonderteken om Jesus se gesag te bevestig (v 18), asook die verwysing na die mense wat in Jerusalem tot geloof in Jesus gekom het deur die wondertekens wat hulle Hom sien doen het (v 23), word dus deur die literêre konteks beklemtoon. Du Rand beskryf egter die inhoud van Johannes se boek oor Jesus se tekenwonders opsommend met die woorde: "Jesus se openbare bediening deur tekens en woorde om sy Vader bekend te maak." Du Rand se verwysing na die uitdrukkings "woorde" en "Vader" in sy samevatting van dié deel van Johannes se evangelie, roep ook die tema van woorde (v 22) en Skrif (v 17, 20) op. Die literêre konteks beklemtoon dus die temas van wondertekens, woorde en Skrif.

In terme van die mens se sintuiglike waarneming, val die fokus dan op die mens se sien en hoor funksies. Volgens Du Rand vertel die middelgedeelte van Johannes se evangelie (2:1-17:26) van die hooffiguur se optrede deur tekens en gesprekke om sy identiteit as Seun van God verder te illustreer. In die lig daarvan behoort die prediker te vra wat daar vanuit die teks op die sintuiglike vlak van sien en hoor waarneembaar is, rakende Jesus se identiteit as Seun van God, asook van wie die Vader is. Die lydenskonteks van die kerklike jaar plaas hierdie vraag binne `n bepaalde raamwerk. Die prediker moet ook vra wat dié perikoop spesifiek aandui met betrekking tot die lyding van die Seun van God en hoe sy identiteit juis in die lydenstyd, op `n unieke wyse beklemtoon word.

Die derde konteks is dié van die tussen-tekstuele beweging van die perikoop. Vers 25 bring die wêreld van die mens ter sprake, as die outeur skryf dat Jesus self geweet het hoe mense is. Daarmee word die wêreld van die mense vir wie daar op die derde Sondag in lydenstyd oor die identiteit van die Seun van God gepreek sal word, as `t ware in die teks ingetrek. Die wêreld van elke nuwe hoorder word van buite die teks na die teks toe getrek, om in die lig van en in konfrontasie met die teks, hulleself te ondersoek en die basis van hul geloof opnuut te bevestig. Glo hulle op grond van wondertekens wat hulle sien, of op grond van die Skrif en die woorde van Jesus wat hulle hoor?

Hanson se voorstel vir prediking oor dié perikoop lê op die tussen-tekstuele vlak. Hy plaas die fokus op Jesus se profetiese standpuntname teen die magstrukture van Jerusalem, of selfs Jesus se profesie oor die opstanding, en sê dat ons nie almal profete is nie. Almal maak nie dramatiese gebare van openbare protes nie, maar dit weerhou ons nie daarvan om op te staan vir wat reg is nie. Jesus het die waarheid gepraat te midde van menslike wangedrag. Hy het sy vinger geplaas op die maghebbers se misbruik van mense en die vernietiging van hulle geloof deur `n valse gees van godsdienstige aanbidding te stimuleer. Jesus reageer hierteen, omdat Hy die aanbidding van die Vader op die hart dra. Daarvoor het Hy mens geword en vir daardie boodskap sou Hy sterf.

Ter ontsluiting van dié teks met die oog op prediking in die lydenstyd, kies ek vir die aansluiting by twee sleutels in die perikoop: die verwysing na die Joodse Paasfees (v 13, 23), asook Jesus se woordbeeld (v 19) oor die afbreek van "hierdie tempel" en sy oprigting daarvan in drie dae. Die Paasfees waarna dié perikoop verwys, is één van drie Paasfeeste in Johannes se evangelie (ook 6:4 en die laaste voor die kruisiging in 11:55; 12:1; 13:1. Daar is ook nog die "fees van die Jode" in 5:1, wat as `n Paasfees verstaan kan word). Die ander evangelies verwys na slegs een Paasfees elk en plaas die toneel van die tempelreiniging direk voor Jesus se gevangeneming om gekruisig te word. Johannes se plasing van dié toneel saam met die eerste verwysing na `n Paasfees in dié evangelie, plaas dit chronologies dus twee jaar voor Jesus se gevangeneming. Anders as die ander evangelies, voeg Johannes nog die gesprek tussen Jesus en die Jode oor die afbreek en opbou van die tempel by sy weergawe van die verhaal, asook die kommentaar oor die verband daarvan met Jesus se opstanding (v 18-22). Dit het tot gevolg dat hy die toneel oor die tempelreiniging aan die lydensverhaal koppel, al plaas hy die verhaal in `n vroeëre tyd (Hanson).

Teenoor die interpretasie in sekere Christelike tradisies dat hierdie verhaal `n aanduiding is van Jesus se teenkanting teen die offerpraktyk van die tempel tradisie, stel Hanson dit dat Jesus se optrede in die tempel nie gerig was daarop om die offerspraktyk te termineer nie, maar as `n protes teen handeldryf in die heilige ruimte waar die geloofsgemeenskap veronderstel was om tot eer van God te sing, te bid en te offer (v 16). Binne die Johannesevangelie stel die verhaal die raamwerk vir die voortgaande konfrontasie tussen die Jerusalem leierskap en Jesus. Die misverstand by Jesus se hoorders wat sy beeldspraak letterlik opneem, bied die geleentheid om die leser vir die lyding en opstanding van Jesus (v 18-22) voor te berei. Die prediker kan hierby aansluit.

Preekvoorstel

Vir `n preek op die derde Sondag in lydenstyd oor ons teks, is daar veral drie aspekte waaraan ek persoonlik aandag sou wou gee. Die eerste is die drie kontekste waarna hierbo (Konteks) verwys is. Die tweede is Jesus se openbaring van Homself, beide deur sy dade en sy woorde. Derdens, hoe die mense in die teks op Jesus se openbare optrede reageer, asook die appél wat hierdie gebeure op gelowiges vandag maak.

Met betrekking tot die drie kontekste waarna hierbo (Konteks) verwys is, die volgende: Die literêre konteks beskryf `n bepaalde toneel waarin iets van Jesus se identiteit geopenbaar word. Hy vertoon `n besondere ywer vir die tempel en identifiseer Homself met God, as Hy na die tempel verwys as die "huis van my Vader". Binne die konteks van die kerklike jaar word hierdie gebeure heils-histories as deel van Jesus se lyding op aarde geïnterpreteer. Die verwysing na die Paasfees in die teks, word binne die kerklike jaar uitgeskuif na `n fase in Jesus se aardse lewe, wat chronologies veel later sou plaasvind. Met nog drie Lydensondae voor Goeie Vrydag, kan hierdie element juis as `n profetiese stem benut word ter voorbereiding vir die Groot Lydensweek.

Die wisselwerking tussen die teks en die wêreld van die leser (tussen-tekstuele konteks), maak `n appél op elke nuwe leser of hoorder van hierdie gebeure. Die literêre verwysings na die invloed van die tempeltoneel op verkillende mense, asook Jesus se uitspraak oor mense in die algemeen (v 25), dwing ons om opnuut te reageer op Jesus se toepassing van die gebeure op Homself. Hoe verstaan ons sy beeldspraak? Hoe raak ons verstaan ons diens aan God en die inrigting van ons godsdiens?

Beide in Jesus se optrede op die tempelplein, én in sy beeldspraak, word sy identiteit geopenbaar. Jesus se toornige optrede oor die Jode se handeldryf op die tempelplein, roep by die dissipels die woorde van Psalm 69:10 op: "Die liefde vir u huis verteer my" (v 17). Sy intieme verhouding met God word ook beklemtoon met die woorde van vers 16: "Moenie die huis van my Vader `n besigheidsplek maak nie." Hiermee word Jesus se verset teen die ontheiliging van die tempel beklemtoon en juis daardeur ontbloot Hy die Jode se huigelary. Hulle wat so gesteld was daarop dat niks wat onheilig is die tempel mag binnekom nie, sluit hulle oë wanneer dit om geldelike gewin gaan. Jesus keur die gebruik af dat die tempel `n plek vir `n mark word. Die huis van die Here moes afgesonder bly as `n huis van gebed (Mrk 11:17).

In die teks word verskillende reaksies van mense beskryf. Wat die dissipels betref, maak die gebeure op die tempelplein `n diep indruk op hulle, met die effek dat daar by hulle besondere herinneringe opgewek word (v 17). Later sou hulle nog beter verstaan wat in hierdie toneel voor hulle oë afgespeel het (v 22). Die dissipels het wel iets begryp van Jesus se woorde, maar eers na sy opstanding word sy hele lewe en leer in die regte perspektief gestel en vanuit die opstandingsgebeurtenis vertolk. Belangrik is dat die dissipels Jesus se woorde aanvaar as van dieselfde gesag as die Ou Testament. Hulle het tot die oortuiging gekom dat Hy die Woord van God is en bring.

Teenoor die dissipels se ontwakende insig in Jesus se identiteit, word die Jode se verstarrende ongeloof gestel. Hulle bevraagteken Jesus se gesag en interpreteer sy uitspraak oor die afbreek en opbou van die tempel letterlik. Dan is daar ook nog die mense wat op grond van die tekens wat Jesus gedoen het, tot geloof in Hom kom, maar Hy vertrou hulle nie. `n Verdere kategorie is die algemene mensheid. Die natuurlike karakter van die mens is in Jesus se gedagte: "Hy het self geweet hoe mense is" (v 25). In die lig van hierdie karakterisering, word ons ook opgeroep om te glo, en uitgedaag om die grond vir ons geloof bekend te maak.

Die appél van hierdie perikoop lê in Jesus se beeldspraak oor die tempel. Die Jode het Jesus se woorde letterlik verstaan. In hulle ongeloof vra hulle hoe Jesus die gebouekompleks in drie dae kan oprig. Johannes wil enige misverstand oor Jesus se uitspraak ("hierdie tempel") uit die weg ruim, en voeg `n verklarende nota (v 21) daaraan toe. In Jesus se verklaring dat Hy daarmee sy eie liggaam bedoel het, wil Hy sê dat in sy liggaam die vervulling gegee word van alles wat deur die tempel afgebeeld word. Sy sterwe sou die offerdiens oorbodig maak, en sy opstanding sou die tempel self oorbodig maak. Hiermee word die kerk uitgedaag om sy verstaan van Christus en die rol van die plek van aanbidding in ons godsdiens, opnuut te beoordeel.

In Jesus se reaksie op die Jode se aandrang op `n teken om sy gesag te bevestig, spreek Hy hulle aan met woorde wat `n bedekte betekenis het. In die ander evangelies verwys Jesus die Jode na die teken van Jona (Matt 12:36-40; 16:1-4) as hulle van Hom `n teken eis. In Johannes word dieselfde antwoord gegee wanneer Jesus praat van die tempel wat afgebreek word en deur Hom in drie dae weer opgerig sal word. In hierdie beeldspraak lê dubbele betekenis opgesluit. Op Jesus se lippe kry dié uitspraak, in aansluiting by die tempelgebou, `n dieper betekenis wat op die liggaam van Jesus self, toegepas word.

In die imperatief "breek af", word die betekenismoontlikheid van toekomstige optrede geopen ("al sou julle afbreek"). Dan is dit `n heenwysing na die toekomstige optrede van die Jode wanneer hulle Jesus sal uitlewer om gekruisig te word. Die dag kom wanneer hulle self sal meewerk aan die teken dat Jesus die Christus is (sy sterwe waarop die opstanding sal volg). Dit gaan inderdaad ook oor die afbreek van die tempel (Gr naos) self, die afgeslote heiligdom waar die offers gebring word. Daardie plek van offers sal afgebreek word, omdat die volkome offer in die liggaam van Jesus gebring sal word. Daarmee verrys die nuwe tempel, die geestelike tempel. Daardeur word gelowiges gedwing om rekenskap te gee van die basis waarop hulle geloof in Christus, en diens aan God, gebou is.

Op die derde Sondag van lydenstyd word die kerk herinner aan Jesus se noodwendige sterwe, sodat die verwringing van die godsdiens van sy verbondsvolk binne `n nuwe raamwerk geplaas kan word. Christus se lyding het egter nie aan die kruis tot `n einde gekom nie. Elke keer as ons vandag sy gesag bevraagteken en die waarheid van sy uitsprake onder verdenking stel, word die rede vir sy lyding opnuut oopgevlek, "want Hy het self geweet hoe mense is."

Bibliografie

Brown, R 1970. The Gospel According to John XIII-XXI. The Anchor Bible; Du Rand, JA 1990. Johannese Perspektiewe. Inleiding tot die Johannese Geskrifte; Groenewald, EP 1980. Die Evangelie van Johannes; Hanson, K.C. 1999. The Season of Lent, in New Proclamations (Year B, 1999-2000). Fortress Press, pp.159-162; Hanson, K.C. 1999. Third Sunday in Lent. John 2:13-22(25), in New Proclamations (YearB, 1999-2000). Fortress Press, pp. 195-197; Tasker, RVG 1983. John. Tyndale New Testament Commentaries.