25 Desember 2001
Kersfees
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: Johannes 1:1-14.
Ander tekste: Jesaja 9:2-7; Psalm 96; Titus 2:11-14.
INLEIDING
’n Kersdiens is nie ’n "gewone" erediens nie, maar ’n feesdiens. Om daaraan die karakter van ’n feesdiens te gee
behoort daar genoeg aandag aan simboliek, sang, drama en uitbeeldings gegee te word. Indien moontlik behoort
koorsang gereël te word.
Die kleur van Kersfees is wit. Dit dui op reinheid en die koms van die Lig. Geel en goud is aanvullend. ’n Tikkie rooi
en/of groen kan die betekenis van die koms van Christus verder illustreer. ’n Goeie simbool om in die kerk aan te
bring is ’n krip. Dit kan tot die Sondag ná Epifanie (of die eerste Doopsondag van die nuwe jaar) daar gelos word.
Die koms van die Lig kan ook uitgebeeld word met die aansteek van ’n kers – die Christuskers.
Met ’n Kersdiens moet die liturg bedag wees daarop dat daar ’n beduidende aantal besoekers in die erediens mag
wees. Dit is mense wat nie die gebruiklike liturgie van die gemeente sal ken nie en moontlik nie die aanloop in vorige
eredienste meegemaak het nie. Nogtans behoort die liturgie die eiesoortige karakter van die gemeente te
weerspieël en die gaste ruim geleentheid kry om deel daarvan te word. Die besonderse aktualiteit van Adventstyd
moet vandag tot ’n hoogtepunt gevoer word. Spesifieke aktuele temas wat aangeraak is, kan weer samevattend
genoem word.
Ons stel voor dat die tekskeuses van die Leesrooster in volgorde in die erediens aan die woord kom. Die fokusteks
word sentraal gestel deur dit te gebruik as deel van die votum en deur ’n alternatiewe metode van Skriflesing voor
te stel. Die ander Skriflesings word gevier deur gemeentelike deelname.
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Voorbereidende Kersmusiek of Kerssang, onder meer "Hoor die blye eng’lelied", "Kom alle getroues" en "Ere aan
God".
Inleiding
In die begin was die Woord daar,
en die Woord was by God,
en die Woord was self God.
Hy was reeds in die begin by God.
(Verposing. Die persoon wat die kers gaan aansteek, staan gereed.)
Alles het deur Hom tot stand gekom:
ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.
In Hom was daar lewe,
en dié lewe was die lig vir die mense.
Die lig skyn in die duisternis,
die duisternis kon dit nie uitdoof nie (Joh 1:1-5).
(Met die lees van die laaste sin word die laaste kers aangesteek.)
Sang
Gesang 96:1-3: "Stille nag" – sonder aankondiging.
Toetreegebed
God en Vader, Skepper van alles wat leef,
U het ons na u beeld geskape
en u Seun gestuur om mens te word soos ons.
Skenk ons wat in Hom weer gebore is
op sy geboortedag
die genade om daagliks te ondervind dat alles in Hom nuut gemaak is,
want Jesus leef en regeer met U en met die Heilige Gees.
Groet
Sang
SOM 25:1: "Jesus bring vreugde ..."
DIENS VAN DIE WOORD
Epiklese
Here, verlig ons denke en ons harte
deur die krag van u Heilige Gees
sodat ons mag hoor en jubel
wanneer die evangelie van die geboorte van Jesus, ons Verlosser,
weer in herinnering geroep word.
Skriflesing met gemeentelike respons
(Skriflesings word deur verskillende voorlesers behartig.)
Liturg: Lees Jesaja 9:2-7.
Gemeente: Sing verse uit Psalm 96 of Psalm 98.
Liturg: Lees Titus 2:11-14.
Gemeente: Sing (verkieslik sonder aankondiging) Gesang 85:1-3: "Redder van ons lewe ..."
Lees Johannes 1:10-14 soos volg:
Liturg: Hy was in die wêreld
Gemeente: die wêreld het deur Hom tot stand gekom –
Liturg: … en tog het die wêreld Hom nie erken nie.
Gemeente: Hy het na sy eiendom toe gekom
Liturg: … en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.
Gemeente: Maar aan almal wat Hom aangeneem het
Liturg: … dié wat in Hom glo …
Gemeente: ... het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
Liturg: Lees Johannes 1:13.
Liturg: Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.
Gemeente: Ons het sy heerlikheid gesien,
Liturg: … die heerlikheid wat Hy, as enigste Seun,
van die Vader het, vol genade en waarheid.
Koorsang
Preek
Gebed
Lewende God,
dat U ons geskep het, is ’n wonder, o God.
Nog groter is die wonder dat U ons wil herskep.
Gee dan dat ons, herbore in Hom wie se geboorte ons nou vier,
Jesus, u eie Kind en ons Lewe,
van dag tot dag sal groei
in verbondenheid met U.
U wat u Woord aan hierdie wêreld gegee het
as belofte van goedheid en menseliefde,
in Jesus, die mens van genade,
leer ons om in Hom mense van die Lig te word
wat lig bring aan elkeen wat in duisternis lewe
vandag
en tot aan die einde van ons lewe.
UITSENDING
Sang
Gesang 103:1-3/NSG 77: "O die goeie tyding ..."
Seën
Teks
"The stage is set." Die drama is gereed om te begin. Dit is nie sommer net ’n gewone storie nie. Dit is die verhaal van
’n god wat aarde toe kom. As inleiding vir die verhaal kies die storieverteller ’n tegniek in die Griekse drama wat bekend
was by sy tydgenote. Die verhaal word ingelei deur die koor wat in ’n poëtiese proloog die aksie wat in die drama gaan
volg, verduidelik. Terselfdertyd gee hy in dié proloog detail wat nie aan die karakters in die opvoering bekend is nie.
Die proloog in die Evangelie van Johannes het ’n soortgelyke doel. In poëtiese vorm gee dit vir ons die ware aard
van die leidende karakter in die verhaal. Die verteller doen dit sodat ons as hoorders en lesers dié persoon sal
verstaan op ’n manier wat vir die ander karakters in die verhaal nie toeganklik is nie. Soos die verhaal vorder, kom
ons agter dat dit nie oor ’n gewone mens gaan nie, maar oor God wat in menslike vorm gekom het.
Daarom is die Johannese proloog eintlik ’n verhaal op sigself. Dit vertel van die oorsprong van ’n Goddelike wese
in die hemel, sy afdaal en koms na die aarde, en die reaksie van dié wat op die aarde is. Dit is geskryf in ’n poëtiese
vorm bekend as parallelisme, ’n styl wat ons veral in die Hebreeuse poësie aantref en waarvan die Psalms ’n goeie
voorbeeld is. Parallelisme beklemtoon gedagtes deur die herhaling of kontrastering van gedagtes. Verse 1-2 het vier
frases wat almal variasies van dieselfde tema bevat, ook bekend as sinonieme parallelisme. Dieselfde gedagte
herhaal in opeenvolgende reëls met verskillende woorde wat die skrywer gebruik. Vers 3 is nog ’n voorbeeld van
sinonieme parallelisme. In verse 4-5 vind ons egter ’n ander vorm van parallelisme waar die tweede reël ’n herhaling
is van dieselfde gedagte maar ook nuwe informasie byvoeg. Ons sou die proloog in verskillende "stansa" (in Engels
"stanzas") kon verdeel:
Stansa 1 (vv 1-2) praat van die begin toe slegs God en die Woord daar was. Die verhaal begin dus by die begin
van tyd, toe die Woord saam met God bestaan het. Geen verduideliking word gegee van hoe die Woord daar saam
met God gekom het nie, ook nie waarom daar ’n ander wese saam met God is nie. Dit is duidelik dat ons die
agtergrond van dié gedagtes in die Joodse wysheidsliteratuur moet gaan soek. In Spreuke 8 lees ons hoe wysheid
gepersonifieer word, teenwoordig is saam met God in die begin en deelneem aan die skepping. Die oordrag van
die begrip "wysheid" na die begrip "woord" geskied deur ’n goeie eksegetiese maneuver. In Genesis 1:1 praat God
voordat die skepping plaasvind. Vir die antieke eksegeet het die woord dus bestaan voor die skepping. Wanneer
dié begrip oorgedra word na die wysheidsteologie, is die "Woord" gepersonifieerde "Wysheid".
In stansa 2 (vv 3-5) begin die skeppingshandelinge. Net soos Genesis sê, kan niks sonder die "woord/Woord" van
God tot stand kom nie. Maar net soos in Genesis die geval was, vind die skepping plaas binne die konteks van
konflik. Waar die lig van die duisternis in Genesis geskei word, word die lewe en die lig hier gelykgestel aan morele
waardes wat die Woord gebring het. Hulle teenoorgestelde is duisternis, ’n bose krag wat probeer om hulle te
onderwerp maar nie daarin slaag nie. Die konflik wat daar tussen die lig en die duisternis was by die skepping word
nou oorgedra na die menslike sfeer en kom weer voor in die Jesusverhaal.
In stansa 3 (vv 6-9) skuif ons van die wêreld van die Goddelike na die wêreld van die mens. Hier word ’n menslike
karakter vir die eerste keer deel van die verhaal: Johannes die Doper, die voorloper van die Een wat moes kom. Dit
berei die verhoog voor vir ’n beweging in die verhaal van die vlak van die Woord na die vlak van die mens. Die tema
PREEKSTUDIE - JOHANNES 1:1-14
hier vertel reeds iets wat later in die verhaal van Johannes die Doper beklemtoon sal word, naamlik dat alhoewel
hy deur God gestuur is, hy nie die "lig" was nie, maar slegs van die "lig" getuig het.
Stansa 4 (vv 10-11) praat van die eerste fase van die Woord se koms na die wêreld. Hier het die "wêreld" ’n
negatiewe kommunikasie. Alhoewel die wêreld sy bestaan aan die Woord te danke het, herken dit Hom nie. Selfs
nog negatiewer is die beeld van "sy eiendom", aangesien hulle Hom nie aangeneem het nie. Hierdie gedagte sal
nog meer kere in Johannes se verhaal beklemtoon word, dat Jesus na sy eie mense toe kom, "die Jode", en dat
hulle Hom verwerp. Die term "die Jode" moet simbolies verstaan word as verteenwoordigend van alle aardse
vyande van Jesus, aangesien die gemeenskap waarvoor Johannes skryf ook uit Jode bestaan. Die verhaal van
hierdie verwerping word in hoofstukke 1-11 vertel tot ons die oorgang in 11:54 vind waar daar geskrywe staan:
"Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode rondgegaan nie …"
Aan die ander kant is Jesus deur die gemeenskap van gelowiges aanvaar, wat na hulleself in stansa 5 verwys (vv
12-14). Hulle is die mense wat Hom "aanneem" en "in Hom glo" en word daarom kinders van God genoem. Dit is
ter wille van hulle wat die Evangelie geskryf is, en dit is hulle stem wat ons hoor wanneer ons in vers 14 lees dat
die Woord mens geword "en onder ons kom woon" het. Dit is hulle wat, wanneer hulle te doen kry met die paradoks
van die Woord wat vlees geword het, in staat is om sy "heerlikheid te sien". Dit is ’n belangrike metafoor vir die
Christelike geloof in Johannes, want die gelowige is konsekwent die persoon wat die "heerlikheid" van Jesus "sien".
Hierdie verhaal word dwarsdeur Johannes vertel, spesifiek in die verhale waarin daar konflik is, waarin die
gelowiges ter wille van hulle geloof vervolg word, ’n geloof wat gegrond is op die "tekens" van Jesus.
Die hoogtepunt van die gedig word bereik toe "die Woord mens geword het". ’n Parallel-stelling volg direk daarop:
"en onder ons kom woon". Die konsep is diepgaande – die essensie van die Goddelike verlaat die Goddelike wêreld,
kom na die mens se wêreld, en leef onder die mense in menslike vorm terwyl die Goddelike status behou word. Dit
is die basiese teks vir die leerstuk oor die inkarnasie. Dit is terselfdertyd die bewys dat Johannes nie ’n gnostiese
teks is nie, want so ’n teks sou sê dat "Hy (slegs) in menslike vorm verskyn het". Johannes sê "die Woord hét vlees
geword" waarmee hy die aardse bestaan van Jesus wou beklemtoon.
Die gedig sluit af met stansa 6 (vv 15-18) wat terselfdertyd ’n oorgang is na die verhaal van Johannes en ook ’n
teologiese konklusie gee waarin die genade en waarheid met die wet van Moses gekontrasteer word.
Konteks
Die proloog van Johannes vertel die verhaal van die koms van die Logos vanaf die Goddelike domein na die
wêreldse domein. Die basiese buitelyn van die plot is verwant aan die standaard mitologiese temas van daardie tyd
en het dus verskeie variasies gehad. Ons vind dit in die Joodse wysheidsliteratuur, in die Griekse filosofie en in die
gnostisisme. Deur die gebruik van ’n antieke verhaal, plot en terminologie is Johannes in staat om sy Evangelie te
begin op ’n vlak wat onmiddellik deur die antieke leser herken sou word. Hy slaag dus daarin om komplekse
filosofiese en teologiese konsepte van sy dag in die figuur van Jesus te verenig.
Die woord Logos is ’n Griekse term wat ons in Afrikaans vertaal met "Woord", maar die volle betekenis van dié
woord kan ons nie met dié vertaling vasvang nie. Dit het ’n ryke verskeidenheid gebruike gehad in die Griekse
filosofiese spekulasie, waar dit dikwels gebruik is vir die konsep wat ons vertaal met "die rede", wat natuurlik die
belangrikste Griekse deug was. Die Joodse filosoof Philo gebruik ook die begrip "Logos" om te verwys na die God
van die Ou Testament. Maar die gedagte van ’n gepersonifieerde entiteit wat teenwoordig was by God met die
skepping word die beste verstaan teen die agtergrond van ’n ander bron, naamlik die Joodse wysheidsliteratuur,
soos ons vind in Spreuke 1-9. Hier is die gepersonifieerde Wysheid saam met God by die skepping teenwoordig en
kom ook af na die aarde om die boodskap van wysheid aan die dwase mensdom oor te dra. Dit is dus duidelik dat
een van die radikale kenmerke van die Johannese teologie, naamlik dat daar ’n ander wese saam met God by die
skepping was en oor wie ons anders praat as oor God, op ’n Bybelse konsep gefundeer is.
Die sterk kontras in Johannes tussen hierdie wêreld en die Goddelike wêreld, tussen lig en duisternis, en tussen
kinders van die lig en kinders van die duisternis is betekenisvol in die verhale van Jesus en in dié van die vroeë
kerk. Dit was ’n visie wat sin gemaak het in ’n tyd waarin die kerk ’n vervreemding ervaar het van haar wortels in
hierdie wêreld. Maar wanneer dit oorbeklemtoon word, ontwikkel so ’n teologie in die dwaalleer van gnostisisme,
soos ons weet op grond van historiese terugskou. As ’n korrektief op hierdie siening sou dit ons help om Johannes
1:14 in gedagte te hou: "Die Woord het mens geword …" Net soos daar van die Woord verwag is om ten volle
betrokke te wees in die wêreldse sake om redding te bewerk, so is dit ook vandag die taak van die kerk om haar
missie uit te klaar.
Preekvoorstel
Die fliek Chocolat wat vroeër hierdie jaar in ons teaters te sien was, speel af in 1960 in ’n klein dorpie in Frankryk.
Dit gaan oor Vianne Roscher en haar dogter Anouk wat in die dorpie kom woon en ’n sjokoladewinkel oopmaak.
Hulle tydsberekening is egter nie baie goed nie, want dit is aan die begin van Lydenstyd, ’n tyd waarin daar van al
die inwoners verwag is om te vas. Vir die dorpie se nougesette en rigiede burgemeester, Comte de Reynaud, is dit
’n groot krisis. Daarom doen hy ook sy bes om die winkel te laat sluit. Met Vianne se warm persoonlikheid, haar
gasvryheid en heerlike sjokolade slaag sy egter daarin om die guns van die dorpie se inwoners te wen.
Dit is interessant om te sien hoeveel mag die burgemeester vir hom toe-eien. Hy skryf selfs die jong (en nuwe)
plaaslike priester se preke. In die proses misbruik hy ook die jong man om Sondae sy rigiede moraliteit van die
preekstoel af op die mense af te forseer. Sy siening van God as Iemand wat straf en oordeel, ons met arendsoë
dophou en elke oortreding raaksien, bepaal ook die manier waarop hy oor mense dink en reken wat vir hulle goed
is. Daarom is daar geen plek vir enige persoon wat afwyk van s_ en ’n klompie navolgers se siening van sake nie.
Uiteindelik swig hy voor die hoë morele standaarde wat hy aan die inwoners stel deur hom in die vertoonvenster
van Vianne se winkel oor te gee aan die heerlike sjokolade. Dit is die oggend van Paassondag. Dit gee aan die jong
priester die eerste keer die geleentheid om sy preek te lewer sonder inmenging van die burgemeester. Sonder om
te aarsel beklemtoon die jongman hoe belangrik dit is om te verstaan dat Jesus se sterwe en opstanding direk
verband hou met sy menswording. "Die Woord het mens geword en onder ons kom woon …" (Joh 1:14).
Dit is so belangrik dat ons op hierdie dag mekaar bly herinner aan die Woord wat mens geword het. Daar is maar
by ons almal die ingebore neiging om aan God se kant te wil staan, soos met die burgemeester in Chocolat gebeur
het. Wanneer ons so saam met God van "bo af" kyk, is dit maklik om ander se sonde en verkeerdhede raak te sien.
Wanneer ons duidelikheid het oor wat ander alles verkeerd doen, maak ons maklik reëls om hierdie verkeerdhede
reg te stel. Trouens, ons gaan verder. Ons begin mense manipuleer om in te pas en te gehoorsaam wat ons reken
hulle nodig het en wat vir hulle belangrik is.
In dié verband help die feit dat Jesus mens geword het ons op ’n besonderse manier. Ons kry die versekering dat
Jesus God se gedagtes baie goed verstaan het. "In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God. Hy
was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder
Hom tot stand gekom nie" (Joh 1:1-2).
Ons het dus nie nodig om aan God se kant te gaan staan wanneer ons met mekaar besig is nie. God het aan ons
kant kom staan deur volledig mens te word. Ons lees hoe Johannes in die mooiste poëtiese taal hierdie gebeure
vasvang: "In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis
kon dit nie uitdoof nie …" (Joh 1:4-5).
Die ironie in die optrede van die burgemeester in Chocolat is dat hy dit juis vir ander duister gemaak het in die kerk
deur sy voorskriftelike invloed op die priester. Die kerk, as die plek waar die mense die boodskap van verlossing
moes hoor, het ’n donker plek van morele swaarmoedigheid geword. Daarenteen het Vianne die lig van lewe, van
medelye, van blydskap en vreugde vir mense in haar sjokoladewinkel gebring. Dit was in die besonder dié wat
swaar gekry het, wat eensaam was en wat deur die samelewing uitgestoot is wat dáár ’n heenkome gevind het.
Interessant dat Johannes vir ons sê dat toe Jesus in die wêreld gekom het, die wêreld Hom nie erken het nie. Terwyl
Hy na sy eiendom toe gekom het, het hulle Hom nie aangeneem nie (Joh 1:10-11). Dit herinner ’n mens nogal aan
die swanger Maria en Josef se gesukkel om ’n plekkie te vind waar hulle kon tuisgaan in die donkerte van ’n afgeleë
dorpie. Maar dan word die Jesuskind in ’n stal gebore en bring die lig van ’n ster die skaapwagters (uitgestotenes)
en besoekers (vreemdelinge) vanuit die ooste om "sy heerlikheid te sien".
Verder verbind Johannes op ’n betekenisvolle manier waarheid en genade aan mekaar. Die waarheid van wat God
van ons verwag, ’n gehoorsame lewe in die lig van sy Seun, waarvan Johannes die Doper getuig, is vol genade.
Die Jesuskind het nie gekom om te oordeel nie, maar om te red; nie om reëls op te stel nie, maar om lief te hê; nie
om mense in groepe te verdeel en te onderskei nie, maar om bymekaar te maak en te verenig. Kortom, die Woord
het mens geword en onder ons kom woon.
Die verhaal van Chocolat eindig waar al die karakters aan die einde hulle foute ontdek en hulle kortsigtigheid erken.
Die oomblik toe dít begin gebeur, raak dit moontlik om al die inwoners by die feesvieringe van die dorpie te betrek.
En waar die lig deurbreek en deelname kom, is dit nie meer nodig vir suspisie en agterdog, vir verdagmakery en
moddergooi nie. Dan ontstaan spontaniteit en kan verskille gevier word.
Op hierdie Kersdag herdenk ons nie net die feit dat die Woord mens geword het nie, maar saam met Johannes jubel
ons dit ook uit: "Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol
genade en waarheid" (Joh 1:14). Wie dít ontdek, vier fees, Kersfees, die fees van die Lig, die fees van die Woord
wat mens geword het.
Bibliografie
Du Rand, J A 1995. Ter wille van liefde: Johannes, die Woord vir die mense. Roberts, J H et al 1990. Teologie in
konteks. Soards, M et al. 1993. Preaching the Revised Common Lectionary. Year A. Smith, D E & M E Williams
1996. The Storyteller’s companion to the Bible: John.