Ander
tekste: Filippense
2: 5 – 11; Psalm 31: 9 – 16 en Jesaja 50: 4 – 9a
In hierdie
gedeelte neem Lukas ons van die paasmaaltyd tot die graf. Die een gebeurtenis
lei tot die volgende. Ook kan die verskillende gedeeltes nie afsonderlik
funksioneer nie. Hulle vorm saam ‘n komplekse maar goed gekoördineerde geheel.
Alhoewel
hierdie gedeelte baie ooreenstemmings het met die ander evangelies, het Lukas
tog sy eie, unieke styl waarmee hy hierdie baie belangrike lydensgebeure in die
lewe van Jesus beskryf. Dit gaan vervolgens uitgewys word en een so ‘n gedeelte
gaan dan gekies word vir ‘n preekvoorstel. Dis ‘n te gedetailleerde vertelling
om in sy totaliteit oor te preek.
Soos wat ‘n
mens deur hierdie aanbieding van Lukas lees, verdien die volgende sake aandag.
Alhoewel
Jesus baie daarna uitgesien het om hierdie laaste Paasmaaltyd saam met sy
apostels te geniet voordat Hy sou ly, het Hy nie. Die brood en die wyn verwys
nie net na sy kruisdood nie, maar meer nog, na die koms van Gods koninkryk.
Eers dan sal Jesus weer daarvan gebruik maak omdat God se koninkryk dan sy
volle betekenis sal hê. Die tyd tussenin, so wil Jesus ons leer, sal ‘n sterk
eskatologiese aksent hê.
Jesus se
bekendmaking van sy verraaier het onenigheid tussen die dissipels gebring.
Hulle wou skielik weet wie van hulle die belangrikste is.
In die gees
van die laaste Paasmaaltyd leer Christus hulle dat ware grootheid in diens en
nederigheid lê en nie in posisies of die uitoefening van gesag nie. Daarom moet
ons Jesus se dood as 'n absolute vorm van diens sien. Sy grootheid lê juis
daarin!
Later aan
die kruis spot die mense Hom omdat Hy ander gered het, maar Homself kwansuis
nie sou kon red nie. Wie met geloofsoë kyk, sal weet Hy kon, maar Hy het nie
omdat Hy tot die dood gehoorsaam was aan die wil en werk van God ter wille van
verlossing vir die mens.
Jesus leer
ook in die teken van die Nagmaal, anders as in Markus of Matteus, sy dissipels
baie intensief. Jesus bewys Hom as ‘n ware profeet. Hy voorspel Simon Petrus se
optrede presies soos dit sou gebeur. Later voor Pilatus het Jesus se vyande Hom
egter as ‘n vals profeet beskuldig. Daarna het die soldate Hom geslaan en gesê
Hy is geen profeet nie. Weer eens, wie met geloofsoë kyk, weet dat Christus dié
ware profeet was.
Alhoewel
Christus op sy weg na die kruis is, tree Hy deurentyd met groot gesag op. Die
volgende dien as voorbeelde.
Jesus
voorspel Simon Petrus se verloëning, dat Satan daarop aangedring het om die
dissipels soos koring te sif, maar dat Hy vir Petrus sou bid sodat hy hom kon
bekeer, sy geloof staande kon bly en hy sy broers kon versterk.
Op die
Olyfberg het Jesus en sy dissipels hulle afgesonder vir gebed.
Toe Jesus
gearresteer word, het Hy vir Judas gekonfronteer, sy gewelddadige dissipels
berispe, die oor van die slaaf van die hoëpriester wat afgekap is, terug gesit,
en die mense wat Hom in hegtenis geneem het, beskuldig van lafhartigheid.
In die
binneplaas het Jesus vir Petrus aangekyk nadat hy Hom verraai het, maar self
tog sterk gestaan ten spyte van wat op Hom gewag het.
Voor die
Joodse Raad trotseer Jesus sy vraestellers en konfronteer hulle met die feit
dat hulle Hom tog nie sou glo as Hy sou sê Hy is die Seun van God nie. Nadat
hulle Hom daarna gevra het, erken Hy dat Hy die Seun van God is.
Christus
het baie min met Pilatus gepraat, maar voor Herodes was Hy doodstil. Volgens
Jesus se oordeel was Hy geen antwoorde meer aan enigiemand verskuldig nie.
Op pad na sy kruisiging het Jesus die vroue
wat oor Hom gehuil en getreur het, getroos en gewaarsku.
Terwyl
Jesus aan die kruis gehang het, het Hy gebid vir vergifnis vir dié wat nie
geweet het wat hulle doen nie.
Aan die
kruis het Jesus die bespotting van die omstanders verdra, selfs van die een
misdadiger aan die kruis. Vir die ander een beloof Christus dat hy saam met Hom
die paradys sou binnegaan, omdat hy vir Jesus gevra het om aan hom te dink
wanneer Hy in die koninkryk sou kom. Christus vergewe en red tegelyk.
Terwyl
Jesus sterf, haal hy ‘n gedeelte uit Psalm 31 aan om sy volkome vertroue in God
te demonstreer.
Samevattend
kan ons sê dat Lukas se styl rakende die lydensgeskiedenis van Jesus het dus ‘n
sterk eskatologiese element bevat. Ons leer ook dat Jesus in die teken van die
nagmaal voorsiening maak vir sy dissipels om enduit aan Hom getrou te bly en
dat Hy self tot die dood gehoorsaam was aan die wil van God ter wille van
verlossing vir die mens.
Soos reeds
aangedui, word ‘n mens oorweldig deur die inhoudelike rykdom van hierdie
gedeelte. Eintlik behoort ‘n mens niks te sê as jy hierdie gedeelte klaar
gelees het nie, maar as jy dan moet, is dit beter om op ‘n enkele aspek te
fokus. Die feit dat Jesus vir Petrus sê dat wanneer hy hom bekeer het, moet hy
sy broers versterk (Luk 22:31-34), het na my mening ‘n belangrike boodskap vir
die moderne kerkganger op hierdie Sondag.
Die Here
Jesus is hier aan die woord en in vers 32 sê Hy vir Petrus: “ … Ek het vir jou
gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet
jy jou broers versterk.”
Hierdie
woorde op die vooraand van Jesus se kruisiging, was baie ernstig bedoel. Dit
blyk uit die feit dat Hy Petrus in vers 31 ‘Simon, Simon’ noem. Hierdie wyse
van aanspreek het geïmpliseer dat Petrus moes besef dat hy ‘n mens vol swakhede
was en nie Petrus die rots van krag nie! Net soos in Job se geval sou God die
Satan toelaat om sy dissipels te beproef. Om die waarheid te sê, Satan het
daarop aangedring om hulle soos koring te sif, en Jesus het geweet hulle sou
die toets nie slaag nie.
Natuurlik
was Petrus so seker van homself, van sy krag en lojaliteit, dat hy hierdie
vermaning van Christus eintlik nie hoor nie. Moontlik het Jesus vir ‘n oomblik
terug gedink aan die dag toe Petrus op voortvarende wyse uit die skuit geklim
en op die water na Hom geloop het – hoe sy geloof hom begeef het en die vrees
in sy oë toe hy begin sink het.
Juis om
hierdie rede bid Christus vir Petrus dat sy geloof hom nie (weer) moet begeef
nie. En dan spreek Christus daardie uiters interessante gedagte uit: “As jy
weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” In die Ou
Bybelvertaling staan daar: “En as jy eendag bekeerd is …”
Die vraag
wat natuurlik dadelik ontstaan met die lees van hierdie vers, is: Was Petrus
dan nie bekeerd nie? Hy was dan ‘n dissipel. Hy het juis ‘n dissipel geword
omdat hy tot inkeer gekom het. En boonop was Petrus 'n dissipel by
uitnemendheid. 'n Mens dink hier terug aan die geleentheid toe Christus vir sy
dissipels gevra het wie Hy is, en Petrus, terwyl die ander gedink en gewonder
het, dadelik geantwoord het: "U is die Christus, die Seun van die lewende
God." En toe het Jesus vir Petrus gesê: “Gelukkig is jy … Ek sê vir jou:
Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou … Ek sal aan jou die
sleutels van die koninkryk van die hemel gee … “ (Mat 16).
Nou weet
ons tog, so iets word nie vir enigiemand gesê nie. Dit wil lyk of Petrus ‘n
besondere dissipel was, kom ons sê,
dissipel nommer een – hy het immers die sleutels van die koninkryk van
God ontvang! Tog kom Jesus in die gedeelte wat ons saamgelees het en sê:
“Petrus, as jy eendag bekeerd is …”
(OAV) Het Christus dit werklik
bedoel? Het Hy nie maar ‘n soort geestelike verdieping in gedagte gehad nie?
Nee, Hy het bedoel wat Hy sê. Nou hoe
moet ons dit verstaan?
Miskien
moet ons begin deur te kyk na Petrus se reaksie. Dit wil lyk of hy glad nie
Jesus se woorde verstaan het nie. Hy het nie eers gevra na die bedoeling
daarvan nie. Hy het ook nie eens verbaas geklink oor sy onbekeerde toestand nie. Trouens, ‘n mens
kry die indruk dat hy Jesus eintlik nie eers gehoor het nie. Of miskien, as hy
gehoor het, het hy nie geluister nie. Soos so baie van ons ook maar. Ons hoor
Sondag na Sondag, maar luister ons werklik? Gaan ons na die Here om na sy stem
te luister, of om ons eie saak te stel.
Petrus
luister nie. Hy hoor nie, want hy is te haastig om te praat. Petrus se hart en
gemoed was so vol van sy eie planne en sake, dat hy nie hoor dat Jesus vir hom
gebid het nie. Hy was so gefokus op homself dat hy ‘n kans op bekering mis.
Ja, ‘n mens
kan sê jy is bekeerd, jy kan sê jy leef in afhanklikheid van die Here, maar
intussen is jy so gefokus op jou eie krag, dat jy eintlik God-vreemd optree.
Daarvan wil die Here jou nog bekeer!
‘n Mens kan
bekeerd wees, maar onbekeerd in jou hantering van mense. Jy kan sê jy het die
Here lief, maar intussen is jy nog geweldig onsensitief teenoor jou man of jou
vrou of jou medemens. Die hardheid in jou hart maak dat jy dinge vir ander sê
wat hulle verskriklik seermaak. Daarvan wil die Here jou nog bekeer.
Die
Christelike kerk moes dit ook leer. Hy moes telkens tot bekering kom. Dink maar
aan kwessies soos slawerny, die posisie van die vrou in die kerk en apartheid.
En steeds is hierdie proses nie voltooi nie. Nog steeds kom Jesus by sy kerk
staan en sê: “As jy eendag bekeerd is …”
Wat Jesus
vir Petrus, maar ook vir ons wil leer, is dat bekering nie ‘n eenmalige
gebeurtenis is nie, maar ‘n voortgaande proses.
Hoe maklik
praat ons nie? Hoe maklik bely ons nie? Petrus moes hom bekeer, maar so vinnig
antwoord hy: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te
gaan.” Merk u: dis presies wat Christus nie wou hoor nie! Hy wou nie hoor
waartoe die sterk Petrus in staat is nie. Hy wou net hê Petrus moes luister en
hom bekeer.
Onthou u
nog Petrus se optrede toe Christus die eerste keer sy dood aangekondig het?
Petrus het Hom nie daaroor uitgevra nie, maar Hom bestraf. Hy het die Seun van
God eenkant geneem en vir Hom gesê: “Mag God dit verhoed.” En dan is dit asof
Petrus self God speel as hy sê: “Dit sal beslis nie met U gebeur nie.” (Mat
16:21-23) Petrus verstaan so min, want hy luister nie. En dan sê Jesus vir hom:
“Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is ‘n struikelblok …”
Ons sien dus,
Petrus dink anders. So wêrelds dat hy ‘n ander ryk sien. Hy sien ‘n sterk
koning wat sal heers en vyande voor Hom sal wegvee. Hy sien nie ‘n lydende Here
nie, maar ‘n kragtige, seëvierende heerser. Daarvoor wil hy veg en daarvoor
trek hy sy swaard in Getsemané. As hy dan saam met die Here moet sterf, dan
moet dit tog nie aan ‘n vernederende kruis wees nie, maar vegtende. Want so sterf ‘n man!
Petrus
besef nie dat bekering begin met luister, met weerloosheid, met bereidheid om
te sterf, met sagmoedige onderwerping aan die wil van God nie. Dis wat Christus
vir Petrus, maar ook vir ons wil leer. Ons krag, ons (eie)wysheid, ons
selfversekerdheid, ons veglus het Christus nie nodig nie. Aan die voet van die
kruis is dit onvanpas. Hy wil hê ons moet in nederigheid ten volle van Hom
afhanklik wees. Hoe swaar leer ons nie hierdie les nie?
Petrus was
taai. Hy het soveel kanse op bekering laat verbygaan, maar gelukkig is die Here
geduldig. Hy hou aan totdat ons leer om te luister. Hy het met Petrus aangehou
totdat hy in Kajafas se tuin stil geword het. Al wat hy daar gedoen het, was om
te huil. En uiteindelik bely hy volgens die Johannes-evangelie: “Here U weet
alles, U weet dat ek U liefhet.” (Joh 21:17) Só praat ‘n bekeerde hart.
Jesus het
vir Petrus ‘n wonderlike ding gesê – hy moes sy broers versterk. Wanneer
Christus ons teregwys, is dit om ons op te hef en ons te gebruik. Petrus wat
nie wou luister nie, wat ‘n instrument in die hand van Satan was, wat sy eie
swakhede nie geken het nie, wat Christus verraai het, hy moes sy broers
versterk omdat hy deur die meul gegaan het. Dit kom op dieselfde neer as wat
van Jesus gesê is: “Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat
versoek word.” (Heb 2:18)
Allan
Boesak sê dit so mooi: Petrus moes sy dirigentstok verruil vir ‘n herderstaf.
Hy moes sy swaard neerlê. Ja, Petrus word herder. Hy moes die lammers laat wei,
die skape oppas. Hy moes sorg vir die gemeente.
In Johannes
10 is Christus die Herder. In Johannes 21 word Petrus die herder. Van berou, na
bekering, na geloof, na liefde! “Here U weet alles, U weet dat ek U liefhet.”
En hierby sluit Paulus so mooi aan: “Al praat ek die tale van mense en engele,
maar ek het geen liefde nie, het ek ‘n stuk klinkende metaal, ‘n galmende
simbaal geword. Al het ek die gawe om God se boodskap te verkondig en ken ek al
die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge
te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek
het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem,
maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks.”
Ook u en ek
moet herder word. Ook ons moet die lammers laat wei en die skape oppas. Dit kan
net gebeur as ons ons stroop van ons eie krag en soos ‘n koringkorrel aan
onsself sterf, as ons ons (eie)wysheid en veglus aflê, as ons ons dirigentstok
verruil vir ‘n herderstaf, as ons weerloos word, as ons ons afhanklikheid van
die Here besef en vol van sy liefde word.
Bibliografie
Boesak, A. 1996. Naby jou is die woord, pp. 97-108. Craddock, F.B. (et al). Preaching through the Christian year: year C: a comprehensive commentary on the lectionary, pp. 172-173. Geldenhuys, N. 1977. The Gospel of Luke, The new international commentary on the New Testament, pp. 566-569. Soards, M. Dozeman, T. McCabe, K. 1994. Preaching the revised common lectionary: year C: pp. 79-83.