Ander
tekste: Jesaja 65:17-25; Jesaja 12; 2 Tessalonisense
3:6-13
Luk 21:5- 19 is ‘n deel van die sogenaamde profetiese
rede of Sinoptiese Apokalips wat die hele hoofstuk 21 in Lukas se geval
insluit. Lukas bevat nog twee ander
apokaliptiese redes, te wete 12:13- 39 en 1:20 - 18: 8.
Dieselfde
gedeelte word ooreenstemmend in Matteus 24:1-14 en Markus 13 :3 -13
gevind. By al drie die sinoptiese
evangelies het die profetiese rede van Jesus in hoofsaak dieselfde inhoud. By Lukas maak dit sterker die indruk van ‘n
saamgestelde rede as by die ander twee evangelies. Hoewel Markus sy hoofbron is, het hy waarskynlik ook van ander
Christelike bronne gebruik gemaak. Lukas
is in ‘n sekere sin minder apokalipties as Markus deurdat hy as geskiedskrywer
noukeurige seleksies uit sy verskillende bronne gemaak het ten einde die
huidige situasie in perspektief te stel of te interpreteer in die lig van God
se heerskappy.
Luk 21 : 5
- 19 sou soos volg ingedeel kon word : a. Verse 5 en 6 dien as inleiding en
handel oor die aankondiging van die vernietiging van die tempel; b.
Verse 7 - 11 beskrywe die verskillende gebeure rondom die eindtyd en c.
Verse 12 - 19 die vervolging van die dissipels van buite en van binne die
gemeente.
Dit is
duidelik dat die tempel ‘n belangrike fokuspunt is. In 9:51 begin Jesus met
vas beslotenheid sy reis na Jerusalem met die tempel waarskynlik hoog op sy
agenda. Die tempel het die hoofarena
van intense konflik geword tussen Jesus en die Joodse leiers (Vgl. 2 :1-21:4).
Die tempel
self was ‘n argitektoniese wonder. ‘n
Meesterstuk wat selfs deur die Grieke bewonder is. Dit was ‘n objek van trots vir die Jode. Maar die betekenis van die tempel gaan veel
verder as dit vir die Jode. Dit is
simbool van God se teenwoordigheid en vastigheid vir die volk. Dit is die waarborg dat die volk altyd sal bly voortbestaan, vir
so lank die tempel staan. Daarom het
hulle die ondergang van die tempel (vv. 5 en 6) vereenselwig met die einde van
die wêreld. In hierdie omstandighede
was die woord van Jesus vir hulle ‘n skokkende uitspraak, toe Hy verklaar het
dat die tempel volkome verwoes sou word.
Waarom die
vernietiging van die tempel? Dit
verteenwoordig in die lig van Jesus se geboorte die ou orde van uiterlike
tempelgodsdiens. Indien die reiniging
van die tempel vroeër deur Jesus dan nie genoeg was om die Jode tot inkeer te
bring nie, sal die totale verwoesting van die tempel moontlik die proses bevorder. Die tempel en die Joodse leierskap het
blykbaar vir die Jode belangriker as God self geword. Daarom word Jesus verwerp.
Die verwoesting van die tempel baan dus die weg vir ‘n nuwe begin..
Na
aanleiding van hierdie aankondiging van Jesus vra die dissipels dan ‘n vraag
(7).
Die res van
die verse is Jesus se uitgebreide antwoord op bogenoemde vraag. Jesus gee aan hulle ‘n waarskuwing wat
daarop neerkom dat hulle moet verstaan dat die vernietiging van die tempel
en van Jerusalem nie die einde van die wêreld beteken nie (9). Hierdie waarskuwing berus op twee pilare:
a.) teen valse Messiasse wat sê dis die einde en b.) teen vrees en paniek as gevolg van al die ontstellende
gebeurtenisse in daardie tyd.
Wat die
valse Messiasse betref is die algemene tendens om dit meer algemeen te verstaan
eerder as letterlike persone. Dit gaan
dus hier oor die hele verskynsel van ‘Messiasskap’.
Oorloë,
opstande en skrikwekkende natuurverskynsels en rampe mag dalk lyk na die einde
van die wêreld, “maar dit is nog nie onmiddellik die einde nie” (9). Daarom word die dissipels gemaan om nie
beangs te raak nie. Dit is in ‘n sekere
sin tot troos, want die verwoesting is nie die einddoel nie, maar dit ‘moet’
wel plaasvind binne God se beplanning.
God het dus nog beheer oor die verloop van sake.
Hierdie
verse fokus op die vervolging van die dissipels. Dit is ‘eenmalig’ omdat dit onmiddellik voor die vernietiging van
die tempel plaasvind. Die vervulling
van hierdie verse sou in Handelinge alleen op plekke opgespoor kon word. Byvoorbeeld
9:1; 22:19; 5:17; 5:40.
Die
vervolging kom van oral oor. Dit kom
van buite en binne gemeentegrense; van vyande en familie; van Jode en heidene.
Die vervolging is terwille van sy Naam.
Hulle het hulleself met Sy boodskap geïndentifiseer, gevolglik moet
hulle nou ook identifiseer met sy
lyding.
Te midde
van die vervolging gee Jesus die versekeringe:
Die
vervolging bied ‘n positiewe geleentheid om te getuig van Christus (13). Byvoorbeeld Stefanus in Handelinge 7:54 en verder.
Niks sal
buite God se wil geskied nie (18). Die
woorde van vers 18 lyk op die oog af na teëspraak, maar eintlik is dit maar
‘n troosvolle versekering dat God van
die geringste vorm van lyding bewus is.
Hy sal
hulle help om te volhard tot die einde.
Die dissipels word verseker dat alhoewel vervolging ook op die dood kan uitloop, dit nie die einde van hulle
bestaan beteken nie (12:4-5).
Wat die
konteks betref kan daar onder andere by ‘n preek oor Lukas 21:5-19 van die
volgende kennis geneem word.
Carroll
stel dit dat ’Luke’s community has found the experience of delay and duration
to be an obstacle to living eschatological faith’. Lukas wil dus sy lesers help om in die tussentyd sinvol en aktief
te leef in die lig van die wederkoms.
Die finale triomf is nog uitstaande, maar van die uitslag is ons
seker. Die lewe in die tussentyd is dus
eskatologies gefundeer.
Wat uniek
is aan Lukas is dat die troos ook ‘n sterk Christologiese karakter het. Die volgende aanhaling in die verband uit
Buckwalter bevestig dit: ‘It stands as perhaps the most revealing statement of
Luke’s personal christological estumation of Jesus in the two volumes (Lukas en
Handelinge). It reprents in fact the
only instance in the synoptic tradition where Jesus, before his death, directly
indentifies himself with a post-resurrection work among his disciples as their
exalted Lord’. ‘Futhermore, Jesus
unique self-claim in Luke 21:15 as a prophetic element of the apocalyptic
discourse raises the possibility that, for Luke, the fact of Jesus’s coming
Lordship will itself be “as sign of the times”. The successful mission of the early church reinforces this
claim.’ (vgl. 13)
Te midde
van die aanvegting en vermaning tot standvastigheid wat daarmee gepaardgaan,
word die troos en teenwoordigheid van die Here belowe.
Vervulling
van beloftes en tekens van die tye:
Die vraag
na die vervulling van die beloftes en tekens oor wanneer en hoe dit geskied (of
geskied het) is vir die behoudende eksegeet ‘n uiters moeilike vraag. Vanselfsprekend is daaroor nie
eenstemmigheid nie.
Die
probleem waarvoor Nuwe Testamentici te staan kom, is die vraag na die
verhouding tussen : a.) ‘n vroeë (gedeeltelike?) vervulling van die profesie,
rondom die val van Jerusalem in 70 n.C. en
b.) ‘n latere, meervoudige vervulling
en c.) ‘n eind-eskatologiese vervulling.
König kies
hier vir ‘n tussenstandpunt wat eerstens ‘n vroeë vervulling (vgl. gedeeltes in
Handelinge bv. 9:1; 5:17; 5:40;
6:8; 12:1,2) erken, tweedens wil rekening hou met ‘n
meervoudige vervulling in die loop van die geskiedenis, en derdens met ‘n
afwysing van die dispensasionalisme wat hierdie tekens waarvan Jesus in die
profetiese rede praat, sien as dié tekens wat kenmerkend is van die één tydperk
(dispensasie) tussen Christus se eerste en tweede koms.
“Die tekens
is ‘n staande troos aan gelowiges in
alle tye om Hom en altyd te verwag. Dit
is herinneringstekens aan ‘n reeds (en steeds) nabye wederkoms”. (König).
Lukas
21:5-19 is dus op drie vlakke aktueel en dringend :
dit het vir
dissipels ‘n direkte boodskap ingehou.
Jesus praat nie eeue oor die koppe van die dissipels nie. Hy praat oor dinge wat hulle in hul eie
leeftyd sal ervaar.
Dit is ook
aktueel vir die lesers van Lukas. Soos
reeds bekend het hy van verskillende
bronne gebruik gemaak om ‘n unieke boodskap aan sy lesers vir hul eie situasie
oor te dra. Dit is ‘n boodskap vol dringendheid en aktualiteit vir die kerk
hier en nou ongeag die eeu waarin die kerk leef.
In
aansluiting by König wat die koninkryk van God beskryf in terme van die
verlede, hede en die toekoms kan die preek met die volgende gedagte ingelei
word :
Die
koninkryk van God het gekom in Jesus Christus.
“Hy het gesê : Die tyd het
aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” (Mark 1:15). Jesus
Christus is dus die beliggaming van God se koninkryk. Dit het in Hom gestalte gekry.
Die koms
van die koninkryk van God was met die Hemelvaart van Jesus egter nie ‘n
afgehandelde saak nie. Dit is steeds
besig om te kom as ‘n voortgesette proses deur die werking van die Heilige
Gees. Die Kerk is vandag die liggaam
van Christus. Die koninkryk van God is
dus steeds besig om te kom in en deur die gelowiges. Die kerk staan immers in diens van God se koninkryk.
Met Jesus
se wederkoms betree die koninkryk van God sy derde fase. Dit is dan wanneer die koninkryk van God in
sy finaliteit sal kom en dit ‘n afgehandelde saak sal wees.
Hierdie
siening van die koninkryk van God, bied aan ons as kerk ‘n perspektief op ons
roeping en doel op aarde. Ons bevind
ons tussen die eerste en tweede koms van Jesus Christus, wat bekend staan as
die sogenaamde tussentyd. Die vraag is
dus : Hoe behoort ons te leef in die tussentyd?
a. Die kerk se lewe in hierdie tyd moet
eskatologiese gefundeerd wees. Ons moet
dus leef met verwagting van die nabye wederkoms van Christus. Dit moet ons hooffokus wees. Dit gee die eintlike sin en betekenis aan
ons aardse lewe. Dit gee rigting en
doelgerigtheid aan al ons kerklike aktiwiteite na binne en na buite. Als wat ons doen moet in diens staan van die
komende koninkryk van God.
Die
nabyheid van die koninkryk van God berus egter nie op ‘n sekere tyd nie. Dit is nie maar net naby in ons tyd
nie. Dit was naby in Lukas se tyd en in
die tyd van die dissipels. Dit is
vandag steeds naby. Daarom moet ons
altyd gereed en waaksaam wees. (Vgl.
Matt 25:1-13, Luk 21:34-38)
b. Wie met volle verwagting leef en met ‘n
reikhalsende verlange uitsien (Rom 8:23) na die vervulling van God se
koninkryk, sal ook die dringendheid besef waarmee die evangelie boodskap
verkondig moet word aan alle mense. (vers 13).
Volgens vers 13 sal dit aan geleenthede nie ontbreek nie. Daar is baie positiewe geleenthede soos die
sending, in eredienste en bidure. Ons
moet egter ook nie die geleentheid wat lyding en vervolging terwille van sy
Naam meebring, miskyk nie.
Dit bied
die regte geleentheid om van Jesus te getuig.
Die evangelie is immers die evangelie van Jesus Christus (Mark
1:1). Die Naam van Jesus Christus is
daarom ook prominent in ons teks. Daar
word verwys na valse Messiasse wat onder sy Naam sal optree (vers 8) en
vervolging terwille van sy Naam (vv 12, 17).
Dit is ook Jesus Christus vir Wie ons verwagting.
Gevolglik
moet die kerk aanvaar dat die tussentyd ook ‘n tyd van aanvegting en beproewing
is (vv 12-17). Wie hom of haar met die
Naam van Jesus identifiseer, moet ook identifikasie met sy lyding aanvaar. Let daarop dat die lyding terwille die
evangelie nie net van buite die kerk
kom nie, maar ook van binne (vers 16).
Die vervolging van buite het ‘n uitwerking op die verhoudinge binne die
kerk. Dit veroorsaak spanning,
onsekerheid en verdeeldheid binne die kerk.
Dit moes vir die dissipels seker een van die ontstellendste dinge wees
om van Jesus te hoor. Maar dit mag nie
na hulle as ‘n verrassing kom nie. Die
evangelie raak ook die teerste bande op aarde aan, naamlik dié tussen
gesinslede.
Ons
Skrifgedeelte verseker ons egter ook van die vertroostende teenwoordigheid van
die Here in die tussentyd. (verse 14, 15, 18).
Die besondere betekenis van hierdie verse is dat Jesus hier reeds voor
sy dood ‘bevestig’ dat Hy die dood sal oorwin en as Heer sal heers oor alle
magte. Die dissipels word dus verseker
van sy heerskappy in alle situasies waarin hulle hul mag bevind. Hulle word as ‘t ware vrygespreek van vrees
en kommer.
Die
teenwoordigheid van die Heilige Gees in ons lewe maak van ons verleenthede ‘n
geleentheid vir die bevordering van die evangelie (vers 13). Dit is die wonder van God se
teenwoordigheid. Die skynbaar verlore
toestand waarin al die negatiewe dinge soos vervolging, siekte, dood,
teleurstellings ons werp, word positiewe boodskapdraers in die koninkryk van
God. Die sekerheid van God se
teenwoordigheid in die tussentyd, kan seker nie helderder en duideliker gehoor
word as juis in Matteus 28:20 nie: “En onthou : Ek is by julle al die dae tot
die voleinding van die wêreld.”
Daarom word
ons vandag weer opgeroep tot aktiewe deelname aan die koms van die koninkryk
van God, terwyl ons seker is van sy teenwoordigheid. Die finale triomf is nog uitstaande, maar van die uitslag is ons
seker!
Bibliografie
F W Danker : Jesus and the New Age. D L Tiede : Augsburg Com. on the N.T. J B Green : (N.I.C). F B Craddock : (Interpretation). N Geldenhuys : (N.I.C.). J T Carroll : (Scholars Press 1988). H D Buckwalter : (Monograph Series 89). A König : Jesus die Laaste (Eschatos) deel 2.