Lukas 20:27 – 40 (Phil Robinson)

11 November 2001

Twee En Twintigste Sondag In Koninkrykstyd

 

Ander tekste: Haggai 1:15b - 2:9; Psalm 145:1 - 5, 17 - 21; 2; Tessalonisense 2:1 - 5, 13 - 17

Die opstandingslewe is nie ‘n voortsetting van die aardse lewe nie.

Teks

Vers 27 stel ons bekend aan een van die godsdiens groepe in Jerusalem, te wete die Sadduseërs.  Sommige dink dat hulle bestaan teruggaan na Sadok wat deur Salomo as priester aangestel is in die plek van Abjatar (I Kon 2:35).  Die Sadduseërs het mettertyd ‘n party gevorm wat in die tyd van die Makkabeërs navore getree het.  Hulle hoof strewe was die bewaring van die priesterlike regte en voorregte soos onder andere die uitleg van die Wet (Thora).  Teenoor die Fariseërs wat besig was met allerlei opdaterings van die Wet vanuit oorleweringe, het die Sadduseërs volstaan met die Wet soos dit geskrywe staan in die Vyf Boeke (Pentateug). Dit was vir hulle die finale maatstaf en bron van gesag.  Hulle het dus met groot kommer die ontwikkelinge soos gedryf deur die Fariseërs dopgehou en veral reageer teen al die nuwerwetse beskouinge wat deur laasgenoemde ingevoer is, soos byvoorbeeld die bestaan van engele en geeste, die gedagte van loon en straf  in die hiernamaals en die opstanding. Veral laasgenoemde het hewige debat ontlok. ‘n Baie ou oortuiging was dat die mens voortleef in sy ‘saad’  sy manlike nageslag. Hieraan het die Sadduseërs vasgehou.  Van ‘n persoonlike opstanding na die dood wou hulle niks weet nie. ‘n Mens kan dus verstaan dat al drie Sinoptici na hulle verwys as diegene ’wat ontken dat daar ‘n opstanding uit die dood is’ (Vgl. Matt 22:23; Mark 12:18).

Vers 28-33.  Hierdie groep kom na Jesus en spreek Hom aan as ‘Meneer!’ (Grieks: ‘didaskalos’,  dit is ‘een wat ander leer’). Sommige meen dit is spottend bedoel, veral deur Jesus hier te stel teenoor Moses, die eintlike gesagvolle leermeester van Israel. Om gewig en gesag aan hulle argument te verleen, verwys hulle na Moses se voorskrif oor die leviraatshuwelik (Deut 25:5-6). Die slim uitgedinkte vraag handel oor ‘n getroude man wat voordat daar vir hom ‘n seun gebore kon word, te sterwe kom. Volgens die voorskrif van Moses moet in so ‘n geval die man se broer, as hy een het, vir hom ‘n erfgenaam by die vrou verwek. In die opgemaakte storie waarmee die Sadduseërs na Jesus gekom het, was daar sewe broers. Nadat die oudste broer gesterf het, het een na die ander van die broers volgens die leviraatsgebruik die vrou geneem om vir hulle eerste broer ‘n naamdraer te verwek. Maar al sewe het gesterf sonder dat daar ‘n kind verwek is. Uiteindelik het ook die vrou gesterf. Die strikvraag is nou: In die opstanding, waarvan die Fariseërs praat, wie van die sewe mans sal haar dan as vrou hę?

Vers 34-36.  Lukas laat die teregwysing van Jesus soos opgeteken deur Markus 12:24 weg, naamlik dat die Sadduseërs met hulle argument verraai dat hulle nie net die Skrifte nie maar ook nie die krag van God ken nie.  Waarskynlik wil Lukas nie ‘n opening vir ‘n verdere argument oor die Ou-Testamentiese bewys vir die opstanding skep nie (Danker). Nietemin kom die argumente wat Jesus aanvoer in hoofsaak op dieselfde neer.

As eerste argument wys Jesus daarop dat die Sadduseërs nie rekening hou met die feit dat sosiale gebruike van ‘hierdie węreld’ nie in die ‘toekomstige węreld’ gekontinueer word nie. Hulle opvatting oor die dood en die lewe na die dood, is dus foutief.  Hierdie bedeling word nie in die volgende bedeling voortgesit nie. Daar is ‘n diepgrypende verskil tussen die twee werklikhede. Die toekomende is volledig anders!  Daarom is die opstanding op geen manier ‘n voortsetting van die aardse bedeling nie (Vgl. ook Paulus in I Kor 15:50-55). Terwyl die huwelik en die verwekking van kinders tot hierdie bedeling behoort, is dit nie die geval in die volgende bedeling nie. In die opwekking uit die dood in die toekomstige węreld sal nie meer getrou of in die huwelik uitgegee word nie. Omdat diegene wat daaraan deel het nie meer sterwe nie (Gen 6:3), het hulle nie meer die instelling nodig waardeur die voortbestaan in ‘n nageslag gewaarborg word nie. In die feit dat hulle nie meer trou nie en nie meer sterf nie is hulle ‘soos die engele’.  Dit beteken nie dat hulle in die opwekking engele word nie. Nee, hulle is slegs ‘soos die engele’ (‘isangelloi’ as byvoeglike naamwoord).  Hulle is ‘seuns(inklusief vir ‘kinders’) van God’, omdat hulle ‘seuns/kinders van die opstanding’ is, dit wil sę, uit die dood opgewek is.

In Jesus se antwoord is daar twee belangrike kwalifikasies ten opsigte van die opstanding.  Eerstens gaan dit om ‘die wat waardig geag is’.  Volgens 14:14 is dit hulle ‘wat reg gedoen het’ (OAV. ‘die regverdiges’).  By implikasie is daar dus ook diegene wat nie waardig geag word nie. Daarmee word die belangrikheid van ‘n leefwyse volgens die wil van God in hierdie węreld duidelik beklemtoon (Matt. 7:21-23).  Die tweede geval is die uitdrukking ‘seuns(kinders) van God’ wat eweneens impliseer dat hulle waardigheid nie in hulleself geleë is nie maar in die feit dat hulle uit God gebore is.  Hulle ontvang dus nie die gawe van die opstanding omdat hulle dit verdien nie.  Nee, die enigste grond vir dié begenadiging is die feit dat hulle mense is wat uit die geloof lewe, met ander woorde, in volledige afhanklikheid van God. Die inisiatief vir die opwekking uit die dood(anastasis) berus dus by God. Vir hulle wat in God glo, is ‘onsterflikheid’ dus nie geleë in die verwekking (eksistęmi) van ‘n aardse nageslag nie, maar wel daarin dat hulle bestaan en voortbestaan veranker is in die Vaderskap van God (Danker). Die opwekking deur God in die ewige lewe vervang dus die verwekking van ‘n nageslag deur ‘n menslike persoon(Patte by Matteus l.C.). Tereg maak Ridderbos die gevolgtrekking dat die geloof in die opstanding nie berus op ‘n bepaalde teks wat met rabbynse spitsvondigheid beredeneer moet word nie maar dit is ingesluit in die basis van God se heilswerk wat gerig is op die vervulling/voltooiing van sy koninkrykswerk.

Jesus het dus die Sadduseërs se beroep op die Pentateug (vyf boeke) om hulle argument te versterk, aangegryp en dieselfde bron gebruik om hulle sieninge te weerlę.

Verse 37-38.  Jesus kon met die voorafgaande volstaan het, maar Hy dring steeds dieper in die tuisveld van die Sadduseërs in. Hulle sę hulle ken die Wet (Pentateug) en baseer daarop hulle sienings van leer en lewe. Hulle handhaaf die Pentateug as die hoogste bron van gesag.  Maar, wil Jesus dan van hulle weet, wat bedoel Moses as hy in ‘die deel oor die doringbos’ van ‘die Here’ praat as ‘die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’? (Eks.3:6). Wat beteken dit anders as dat die dooies opgewek word?  God is nie “‘n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal” (Vgl. ook Jes 26:19; Dan 12:2; Eseg 37).  Dan sou daar moes staan ‘ Hy was die God van Abraham, ensovoorts.’  Die teks sę egter ‘Hy is..’ (teenwoordige tyd). Ten einde die teenstelling te versterk, word besondere nadruk gelę op die twee genitief-konstruksies: ‘van die dooies’ – ‘van die lewendes’. Sommige verklaarders meen dat die woorde ‘by(vir) Hom leef hulle almal’ berus op uitsprake van Eleazar, ‘n gesiene skrifgeleerde en ‘n afstammeling van Aaron. In 4 Makkabeërs 7:19 en 16:25 lees ons: “wetende dat mense wat sterf vir God, leef vir God soos Abraham en Isak en Jakob en al die vaders, leef ”. Die kern van Jesus se argument kan dus saamgevat word as die geloof in die God van die lewendes.

Verse 39-40. Met hierdie antwoord was die Sadduseërs verleë maar die Fariseërs in hulle noppies.  Terwyl eersgenoemdes nie verder iets kon sę nie,  kry die Fariseërs ‘n laaste hou teen hulle in deur Jesus te prys met sy goeie antwoord. Die feit dat niemand dit verder gewaag het om ‘n vraag aan Hom te vra nie sterk die vermoede dat ook die Fariseërs besef het dat ook hulle grondig gekorrigeer is.

Konteks

By die eksegese van hierdie gedeelte moet in gedagte gehou word dat dit deel is van die groter verhaal van Jesus se optrede in Jerusalem waartydens Hy betrek is by ‘n aantal woordbotsings met skrifgeleerdes, priesters, Fariseërs en Sadduseërs. Voorbeelde hiervan was die woordestryd oor sy gesag (20:1-8); die betaal van belasting (20:20-26) en die kwessie oor die opstanding.  In al die debatte het die teenstanders duidelik tweede gekom. Dit het die woede teen Hom laat oplaai.

Dit is bekend dat Lukas gebruik gemaak het van die Markus weergawe.  Hoewel hy baie dele net so oorgeneem het, het hy ook weer betekenisvolle veranderinge aangebring. In hierdie gedeelte laat hy byvoorbeeld die skerp teregwysing van Markus 12:24 weg waar Jesus vir die Sadduseërs sę: “Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag van God nie?” Hierdie wysiging is juis opvallend omdat ook Matteus die Markus-bewoording hier behou het (22:29). Terwyl die Markus-weergawe eindig met die woorde van Jesus: “Julle is dus heeltemal aan die dwaal!” vervang en versag Lukas dit met die woorde “want by Hom leef hulle almal”(v28). Hy laat ook nie soos Markus die vraag oor die grootste gebod direk hierop volg nie – hy het dit reeds eerder in die gedeelte oor die barmhartige Samaritaan gebruik – maar vertel van die reaksie van die Fariseërs en Sadduseërs (39-40).  ‘n Ander interessante wysiging wat Lukas aangebring het, is sy aansienlike uitbreiding (v35,36) op Markus 12:25. Daarmee is die teenstelling tussen die lewe in ‘hierdie węreld’ en dié in die ‘toekomstige węreld’ skerper getrek. Terselfdertyd word ook die kwalifikasie ‘soos engele’ breër omskryf.

In die woordestryd moet onthou word dat dit vir die partye nie net gegaan het om met Jesus te debatteer en sy kennis en insigte te bevraagteken nie, maar hulle het ook met mekaar ‘n byltjie te slyp gehad. Die Sadduseërs wou graag in die openbaar punte aanteken teen die Fariseërs wat geglo het dat die huwelik in die lewe na die dood voortgesit word. Vir die Sadduseërs was die debat oor die opstanding ‘n uitstekende geleentheid om die Fariseërs se dwaling te weerlę. Sonder om dus direk met die Fariseërs swaarde te kruis, kon hulle deur die debat met Jesus te voer die ‘dwaling’ van die Fariseërs behoorlik aan die groot klok hang.  Daarteenoor het ook die Fariseërs gehoop dat Jesus hulle sal gelyk gee en die Sadduseërs op die neus laat kyk. Vandaar ook hulle kommentaar in v39.

Die moeiliker hermeneutiese vraag is egter hoe hierdie spesifieke debat aan die gemeente van vandag as betekenisvol en aktueel oorgedra kan word. Dit is dus nodig om kennis te neem van wat en hoe mense – ook kerkmense – oor die dood en die lewe na die dood dink en sę. Verskillende bronne kan hiervoor geraadpleeg word.  Van die beskikbaarste en dikwels ook mees openbarende is doods- en in memoriam berigte in koerante en tydskrifte. Digters, romanskrywers, skrywers van wetenskapfiksie, verslae van polisie- en gevangenisdienste, kliniese sielkundiges, pastors en geneeskundige dienste, vakkundiges en leke dra almal by tot ‘n byna onoorsigtelike verskeidenheid van menings oor die lewe na die dood. Deur dit alles loop egter twee duidelike lyne. Enersyds is daar die wat die lewe na die dood bloot as voortsetting van die bestaan in hierdie węreld sien. Die radikaliteit van die dood word dus op verbeeldingryke wyse versag en verbloem. Eintlik is dit hoegenaamd nie ernstig nie, ‘ons stap net oor!’  Verhoudinge en verbande soos ons dit hier gehad het, word daar weer opgebou en voortgesit. Andersyds is daar weer dié wat met kliniese kilheid die dood as die finale einde sien en dit hard en duidelik sę. Enige gedagte van lewe na die dood word as absurd en onwetenskaplik verwerp. ‘n Mens sou kon sę dat die twee lyne tot ‘n redelike hoogte verteenwoordig word deur die sieninge van die Fariseërs aan die een kant en die Sadduseërs aan die ander kant.

Omdat die vraag oor die opwekking uit die dood verweef is met ‘n netwerk uiters sensitiewe bestaansvrae, moet die prediking met groot liefde en pastorale takt – soos trouens by Lukas se wysigings getoon word – Jesus se opruiming van foutiewe en futiele sieninge probeer tuisbring. Daarom kan dit vrugbaar wees om juis die gang van die verhaal te volg in die ontwikkeling van die boodskap. Dit gee aan die hoorder die geleentheid om eers vanuit ‘n objektiewe posisie die gesprek tussen Jesus en die Sadduseërs te volg.  En soos wat die verhaal dieper sny, kan die prediker ook ‘ons’ onhelderheid, misvattings, konstruksies betrek.  Die Sadduseërs dwaal maar ook die Fariseërs en ons!

Preekvoorstel

Tema:  Alleen God het die sleutels van die doderyk en die dood.

Die vraag oor die lewe na die dood lę by die meeste mense, veral in die kerk, baie diep en na aan die hart. Die geloof dat ons in die opstandingslewe sal deel, is ‘n laaste anker.  Wanneer ons dus soos die psalmdigter dit stel, deur ‘donker dieptes’ gaan (23:4) hoef ons nie te vrees nie, want sę die digter in Psalm 49, al verdwyn alle mense met al hulle sekuriteite in die doderyk, kan diegene wat in God glo, bely:

Maar vir my sal God loskoop

uit die mag van die dood;

ek sal aan Hom behoort.” (16)

 

Dit is dus skokkend om te hoor dat die Sadduseërs as ontwikkelde geestelike leiers en mense uit die boonste laag van die volk van God met soveel stelligheid kan sę dat daar nie ‘n opstanding is nie.  Maar, dit is nie net dat hulle nie glo nie. Hulle val ook diegene, veral die Fariseërs, aan wat glo in die opstanding!  Hulle is juis nou daar rondom Jesus saamgedrom om Hom ook in hulle strydkwessie met die Fariseërs te betrek.  Kan dit wees dat mense só kortsigtig, só dwaas kan wees? – wil ons vra.  Ten einde hulle punt te maak dat die hele gedagte van ‘n opstanding eintlik belaglik is, kom hulle met ‘n gemaak-ernstige probleem na Jesus.  Hulle is gewapen met Moses se voorskrif oor die leviraatshuwelik (Deut 25:5-6) wat bepaal dat indien ‘n getroude man sterf sonder dat daar vir hom ‘n manlike naamdraer verwek is, dan moet sy broer sy vrou neem en vir hom wat gesterf het ‘n manlike kind verwek. Volgens die verhaal het sewe broers die rol gehad maar sonder dat daar ‘n kind gebore is. Uiteindelik het ook die vrou gesterf.  Die probleem is nou, in die opstanding, wie van die sewe mans se vrou sal sy wees?  Daarmee vat hulle die Fariseërs wat geglo het dat die aardse huweliksverhouding in die opstandingslewe voortgesit word, direk aan.

In die antwoord wat Jesus vir hulle gee, word ‘n hele paar basiese foute in hulle manier van dink en glo, blootgelę.  Eerstens, as hulle dink dat die sosiale verhoudinge, soos onder andere die huwelik, wat in hierdie węreld geld, in die toekomstige węreld voortgesit word, dan maak hulle ‘n groot fout. ‘Hierdie węreld’ en die ‘toekomstige węreld’ vorm twee radikaal verskillende bedelings. Daar bestaan nie ‘n gelykmatige oorgang van die eerste na die tweede nie. Getroudes wat hier saamgeleef het, daag nie aan die ander kant op as getroudes nie.  Die huwelik is beperk tot hierdie węreld.  Diegene wat dus waardig geag word om deel te hę aan die opstanding en die toekomstige węreld, trou daar nie meer nie. Tweedens, die wat deel het aan die toekomstige węreld kan ook nie meer sterwe nie, hulle is soos die engele.  Juis die sterflikheid het die huwelik noodsaaklik gemaak. Die huwelik moes die verwekking van ‘n nageslag waarborg en so die mens se sterflikheid oorwin. Maar in die toekomstige węreld kan die mens nie meer sterwe nie. Hulle is ‘kinders van God’ omdat hulle uit die dood opgewek is. Die kindskap van God word direk verbind met die opwekking uit die dood.  Derdens  is die opwekking van die dooies nie ‘n agterna plan van God nie.  Dit is gegee met wie God is. Hy is die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob. Hy is nie ‘n God van dooies nie maar van lewendes, want by Hom leef hulle almal.  Van die opwekking tot die lewe is die mens die begenadigde ontvanger en God die genadige bewerker.  Dit is ‘n geskenk wat niemand kan verdien nie. Jy kan dit net ontvang.

Wanneer Jesus dus die dwalinge rondom die feit van die opstanding aanspreek, is dit duidelik dat die opwekking van die dooies nie ‘n konstruksie (ontwerp) van die mens se fantasie (verbeelding) is nie maar ingebed lę in die Bybelse boodskap van Wie God is. Om deel te hę aan die opstanding is onlosmaaklik verbind aan die geloof in die lewende God, die God van die lewendes. Wie in hierdie węreld in God glo, ontvang ook die belofte dat Hy wat die Sadduseërs en Fariseërs se strydvrae beantwoord het, self die antwoord is op die nood van ons sterflikheid. 

 

Bibliografie

Sien vorige preekstudie.  Verder:  Bolkestein, MH 1966.  Het Evangelie naar Marcus (PNT).  Ladd, GE 1975.”Resurrection” in A Theology of the New Testament.  Patte,D 1987 The Gospel according to Matthew.  Ridderbos, HN 1950. De komst van het Koninkrijk. Lüthi, W/ Thurneysen, E.  Der Erlöser. Predigten.  Traub, H 1976. Hören und Frägen 5. Blank, WJ  1970 in Vicedom/Klessmann/Becker: Gepredigt den Völker, Band 5