Ander
tekste: Habakuk 1:1
- 4, 2:1 - 4; Psalm 119:137 - 144; 2 Tessalonisense 1:1 - 4, 11 - 12
Daar is min
Christene wat nie die verhaal van Saggeus reeds as kind leer ken het nie. Dit het dan ook direk tot kinders gespreek
want net soos Saggeus wat so kort was, sukkel ook hulle om tussen al die
grootmense te kan sien wat gebeur. En
watter kind identifiseer nie met Saggeus se nuuskierigheid om Jesus deur die
skare te sien loop nie? Ek kan my dus goed voorstel dat benewens Saggeus daar
ook kinders in die boom geklim het om Jesus beter te kon sien.
Maar soos
met alle Bybelverhale, kan ‘n te maklike identifikasie met die figure daarin,
ook net so maklik die werklike sin by ons laat verbygaan. Daar moet dus noukeurig gelees en goed
nagedink word voordat die ‘bekende verhaal’ (mooi storie!) begin oopgaan en die
boodskap ‘vrygestel’ word. Miskien is dit
goed om onsself hier te herinner aan wat Fred Craddock in dié verband oor die
verstaan van die Bybelteks gesê het: ‘Understanding is a matter not only of
intelligence but of character and readiness, and therefore the Scripture
releases itself over a lifetime, as we are able’(12). Hy beveel dan ook aan dat in die voorbereiding nie net die
perikoop of die breër verband van die ‘reisverhale’ gelees word nie maar die
hele evangelie van Lukas. Alleen dan
kom ‘n mens agter dat die redaksionele hand van Lukas in hierdie perikoop
verskeie sleutelgedagtes saamvoeg om as ‘t ware ‘n beknopte oorsig /samevatting
van die boodskap van dié evangelie te gee.
Ter wille
van die verstaan van die voorgeskrewe perikoop, word hier net enkele kort
aantekeninge gemaak.
Vers 1 berig dat Jesus op pad na Jerusalem besig
was om deur Jerigo te gaan. Die uitdrukking ‘besig om deur te gaan’ kom dikwels
by Lukas voor. Dit beklemtoon die
gedagte van op reis te wees. Die
perikoop behoort derhalwe tot die sogenaamde ‘reisverhale’ wat, volgens Danker,
in vier fases ingedeel kan word (9:51-13:21; 13:22-17:10; 17:11-18:30;
18:31-19:27). Die perikoop 19:1-10
behoort tot die slotgedeelte van die vierde fase. In Lukas se redaksionele verwerking van die verhale is ‘n mate
van ‘n opbouende lyn waar te neem. Dit
word bevestig deurdat sekere sentrale gedagtes telkens herhaal of vanuit ‘n
ander gesigshoek toegelig word. Dit
bring dus mee dat by die eksegese van ‘n perikoop ook goed rekening gehou moet
word met die verband, veral met wat reeds op die reis gebeur het.
Jerigo,
bekend vir sy palmbome en lekkerruik olies, was ‘n belangrike stad op die
karavaanroete van Damaskus na Arabië. Dit word vertel dat Antonius aan die
verleidelike Kleopatra die opbrengste van die balsemplantasies gegee het.
Jerigo was ook op die hoofroete van die pelgrims vanuit Galilea na Jerusalem.
Hier het die pelgrims gerus of oornag voordat die steil pad na Jerusalem
aangepak is. Dit was dus ‘n plek waar baie mense deurbeweeg het en lewendig
handel gedryf is.
Vers 2-4 funksioneer in die verhaal soos ‘n
spoedwal. Terwyl pas gesê is dat Jesus
besig was om deur die stad te gaan, word die aandag skielik van Jesus en die
groep wat saam met Hom beweeg, weggeneem en op een van die bekende/berugte
inwoners van Jerigo gefokus. Uit wat volg, klink ook iets van ‘n fyn humor
deur. Hierdie man uit Jerigo het die besondere naam van ‘Saggeus’ wat ‘skoon’,
‘onskuldig’ beteken. Die naam ‘Saggeus’ is ‘n vergrieksing van die Hebreeuse Zakkai (Neh7:14; Esra 2:9). Dit sê dus dat Saggeus ‘n Jood was – iemand
wat volgens sy geboorte tot die ‘huis van Israel’ behoort het. Saggeus was egter die hooftollenaar en ‘n
ryk man. Met net hierdie paar woorde slaag Lukas daarin om ons in te lei in die
spanningsvelde in en om hierdie mens en die gemeenskap in Jerigo. Hy was dus nie soos sy naam gesuggereer het
so ‘onskuldig’en ‘skoon’ nie. Veral wat
die Joodse gemeenskap betref, was hy onaanvaarbaar, ‘n uitgeworpene! Hy het naamlik tot die gehate
tollenaarsberoep behoort. Die tollenaars was verantwoordelik om allerlei
heffings en tolgelde namens die Romeinse oorheersers in te samel. En hier in Jerigo waar talle handelsroetes
saamgekom het, was juis dít ‘n groot bedrywigheid. Hoe hoog die spanning rondom die persoon van Saggeus was, kan
enigsins besef word as ons onthou dat die tolgelde en belastings een van die
belangrikste oorsake vir die Romeins-Joodse oorlog van 66-74 was. Vir die Jode was die hele sisteem polities
vernederend en godsdienstig ‘n gruwel. Die munte waarmee die tolgelde betaal
moes word, het die beeld van die keiser op gehad en dit het volgens die Jode,
die eer van God aangetas. Hulle wou dus
niks daarmee te doen hê nie. Bowendien
het daar ook dikwels korrupsie voorgekom waardeur die tollenaars hulleself ten
koste van die burgers verryk het. Dat
Saggeus hom met dié stelsel ingelaat het en deel was van ‘n sisteem wat op die
Joodse gemeenskap afgedwing is, was onvergeeflik. Dat hy selfs aan die hoof gestaan het van die korrupte sisteem,
het sy skuld soveel groter gemaak.
Saggeus was
egter nie net ‘n tollenaar nie, hy was ook ryk. Hy was dus in ‘n dubbele sin ‘n
onaanvaarbare persoon (‘n persona non
grata). Vir die Joodse gemeenskap het sy beroep hom ‘n uitgeworpene gemaak
en wat die koninkryk van God betref, soos deur Jesus verkondig, het sy rykdom
hom uitgesluit. Die gesprek met die ryk en gesiene jongman kort tevore, het dié
ontstellende feit fel belig (Vgl. 18:18-30).
Die Lukas evangelie lê deurgaans klem op die regte/regverdige gebruik
van rykdom en in Jesus se prediking word telkens gewaarsku teen die
verblindende mag van geld/rykdom.
Maar op
hierdie dag gebeur die ongehoorde.
Saggeus wat seker heelwat van Jesus en sy vreemde boodskap gehoor het,
het begeer om Jesus te sien. Toe die
berig versprei dat Jesus, wat pas ‘n blinde man aan die buite wyke van die stad
gesond gemaak het, die stad binne gekom het, is Saggeus ook na die plek waar
die mense langs die straat begin saamkom het.
Maar omdat hy kort van gestalte is, kon hy nie mooi vanuit die
saamdromming van mense sien nie. Nadat
hy vasgestel het presies watter roete die Jesus-groep sou volg, hardloop hy
vooruit en gaan klim in ‘n wildevyeboom.
Van hieruit kon hy mooi kyk sonder om self te veel aandag te trek.
Vers 5-6: Dit is egter ‘n dag van die een verrassende
gebeure op die ander. Wanneer Jesus
regoor die boom kom waarin Saggeus is, gaan hy staan, kyk op na hom en sê: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet (dei me) vandag (sêmeron) in jou huis tuis gaan (menei).” Die verstommende is, Jesus noem hom op sy
naam! Dis egter nie al nie. Soos wat
dit later sal blyk, is die kort sinnetjie gelaai met ‘heilswoorde’,
verlossingstaal. Ook wag Jesus nie op ‘n uitnodiging van Saggeus nie maar nooi
Homself na dié se huis. Terwyl Saggeus
die inisiatief geneem het om Jesus te sien, neem Jesus die inisiatief om by
Saggeus uit te kom. Daar is ‘n
kenmerkende dringendheid, ‘n noodsaak, in Jesus se woorde ‘Ek moet’. Eintlik loop hierdie dringendheid soos ‘n
goue draad deur die Lukas evangelie (2:49; 4:43; 9:22; 13:16,33; 15:32; 17:25;
22:37). ‘n Tweede lyn wat Jesus se
optrede gekenmerk het en hier en in vers 9 tot uitdrukking kom, is die woord
‘vandag’ (sêmeron). Hierdie oomblik,
‘nou’, is belangrik! Dit is die ‘tyd
van genade’, die ‘beste tyd’ en hang onlosmaaklik saam met Jesus se optrede. Dit wil benadruk dat die werklikheid van God
se koninkryk in Jesus se optrede aanwesig is. Daarom is dit belangrik om te let op wat hier gebeur. Jesus gaan
doelbewus na die huis van ‘n ryk man en nie na die van ‘n arm man nie; na ‘n
tollenaar en nie na ‘n gewone burger nie; na iemand wat as uitgeworpene, as
sondaar bekend gestaan het en nie na ‘n regverdige nie (Fitzmeyr). Op hierdie
inisiatief van Jesus, reageer Saggeus onmiddellik. Hy het haastig afgeklim en
Jesus met blydskap in sy huis ontvang. Ongelooflik! Jesus in die huis (en per
implikasie aan tafel) van ‘n tollenaar en by alles, die hooftollenaar!
Vers 7: Wat hier gebeur, het skerp reaksie van die
Jode uitgelok (Vgl ook 5:30). Hulle het
ernstig, dit is luidrugtig en beledigend, beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by
‘n sondige man tuis!” Jesus se optrede
is vir die godsdienstige Jode sowel ondenkbaar as sosiaal en eties
onaanvaarbaar! Dit kom dus nie in hulle
gedagtes op dat dié Jesus wat nou in Saggeus se huis instap om by hom oor te
bly, dieselfde Jesus is wat met sy aankoms aan die buitewyke van Jerigo die
blinde se oë geopen het en dus ook Saggeus tot nuwe geestelike insig kan bring
nie. In hulle skema van rein en onrein,
van aanvaarbaar en verwerplik, is daar geen ruimte vir die verlossende en
vernuwende krag van God nie. Hulle verdoeming van Saggeus is uitsigloos, sonder
‘n deur van hoop. Hulle is blind vir die genade uitreiking van Jesus na die
‘uitgeworpenes’ van die samelewing. In
hulle denke is die kategorieë waarin hulle die samelewing ingedeel het, finaal
en onveranderlik. Daarteenoor handel
die ‘reisverhale’ wat Lukas byeengebring het, soveel keer oor die vrymakende
krag van die evangelie dat dit deur sommiges “die evangelie aan die uitgeworpenes”
genoem word. Van dié ‘goeie nuus’ vir
tollenaars en rykes, weet die mense van Jerigo nie!
Vers 8: Weereens gebeur die ondenkbare en
onmoontlike! Die ontmoeting met Jesus
het ‘n dramatiese uitwerking op Saggeus.
Hy wat so ingestel was op geldmaak, hy wat so dikwels sy posisie gebruik
het om mense te verneder en te verontreg, hy tree navore as iemand wat bereid
is om reg te maak wat verkeerd is, om hom met sy medemense te versoen. Ja, hy is bereid om restitusie te doen en in
sy vergoeding baie meer te doen as wat die wet vereis (Lev 5:16; Num 5:7). Hy
is bereid om oorvloedig te gee en is daarmee volgens die Lukas evangelie ‘n
voorbeeld van wat ‘bekering en berou’ beteken (3:8, 12,13). Die ironie is dat hierdie tollenaar se
ontmoeting met Jesus hom grondig laat verander het terwyl die Jode in hulle
posisies en houdings van veroordeling, al verder verhard het. Dis asof die gelykenis van die Fariseër en
die tollenaar wat gaan bid het hier foutloos opgevoer word (18:9-14).
Vers 9 en 10: Die verhaal loop op na ‘n aangrypende
hoogtepunt as die ruimte van God se reddende genade rondom hierdie
‘uitgeworpene’ oopgaan en hy herbevestiging kry dat hy ‘n kind van Abraham is,
dit is, ‘n lid van die geloofsgemeenskap van alle tye! “Vandag (sêmeron) het daar redding(sôtêria)
vir hierdie huis(huishouding) gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham”
(Vgl. die komplementerende genesing van die gebreklike vrou op die Sabbat
13:16). Die reikwydte van God se genade
word nie bepaal deur menslike voorkeure, afkeure, vooroordele, of skemas van
aanvaar of nie aanvaar te wees nie. ‘Vandag’, die hede, het eskatologiese
klanke. God se toekoms is hier! En
hierdie toekoms verskil so ingrypend van die ou bedeling dat dit ‘n radikale
herrangskikking van waardes en verhoudinge meebring.
Kenmerkend
van die nuwe bedeling is die reddende liefde van God wat alle fasette/terreine
van die mens se bestaan omvat. ‘Heil/redding’ hier te verstaan as omvattende
gesondmaking van wat siek is; regmaak van wat verkeerd/omgekeer is;
verlos/vrymaak van wat vasgeloop, verstrik, gebind is sodat mense weer voluit
in diens van God se koninkryk kan lewe.
“Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore
is.” In Saggeus se lewe sowel as in dié van sy huis word hierdie doel bereik
met Jesus se besoek. Helaas word dié
blydskap nie deur die Joodse gemeenskap van Jerigo verstaan of gedeel nie.
Ironies word die rolle ook hierdeur omgeruil.
Dié wat roem dat hulle volgens natuurlike afstamming kinders van Abraham
is, word nou ontbloot as buitestaanders wat nie tot die geloofsgemeenskap
behoort nie. Daarteenoor word Saggeus wat as ‘n uitgeworpene beskou en behandel
is, deur sy aanvaarding van Jesus se boodskap in die openbaar bevestig as deel
van dié geloofsgemeenskap wat leef uit God se genade/vrye guns.
Die verhaal
sny op hierdie hoogtepunt uit. Maar nie as ‘n einde nie. Vir Saggeus het ‘n nuwe lewe begin! Die vraag van 18:8 is beantwoord. Wanneer die Seun van die mens kom, sal
blindes, tollenaars en sondaars, rykes en ander uitgeworpenes wat hulle bekeer
het, Hom tegemoet gaan.
Tema: ‘n Kameel kán deur die oog van ‘n
naald!
Gedurende
elkeen van die voorafgaande twintig Sondae het ons aan die hand van
verskillende gedeeltes uit die Bybel, bewus geword van hoe ingrypend die
koninkryk van God ‘n mens se lewe raak.
In elke Skrifgedeelte was dit asof dit ons eie lewensverhaal is wat
vertel word.
Gelukkig
gaan dit darem vanoggend nie weer oor ons nie. Dit is tog die verhaal van ‘n
ryk tollenaar daar in Jerigo. Ons kan dus lekker terugsit en luister, in ons gedagtes
soos toeskouers kyk na dié humoristiese toneeltjie wat daar in die strate van
Jerigo afspeel. ‘n Kort mensie hardloop met koddige treetjies die straat af tot
by die groot wildevyeboom. Daar sukkel hy uitasem om die naaste tak by te kom.
As hy na ‘n paar keer se spring eindelik ‘n tak beetkry, trek hy homself in die
boom op. Haastig klouter hy na die sterkste tak aan die straatkant. Blaas blaas
stoot hy die dun takke en blare weg sodat hy ‘n goeie deel van die straat kan
sien. Hoër op hoor hy die stemme van ‘n groep mense wat aankom in sy rigting.
Hy het al ‘n ent terug saam met die klomp mense langs die straat probeer kyk
hoe die Jesus lyk van wie daar so baie praatjies in die stad in omloop is.
Hulle het juis vertel dat Jesus so pas weer ‘n blinde man, net hier aan die
begin van die stad, gesond gemaak het sodat hy weer kan sien! Van dié wat dit
sien gebeur het, kan nou nog nie ophou om daaroor te praat en God te prys nie.
Al die verhale het hom laat besluit om self te sien hoe Jesus lyk en te hoor wat
hy sê. Maar tussen die mense kon hy
egter niks sien nie. Die langer mense is so ongeskik en het aanmekaar voor hom
ingeskuif. Hy het dit ook weer aangevoel dat baie hom doelbewus probeer weghou
het van ‘n goeie uitsig. Hy ken die vyandigheid van die gemeenskap maar al te
goed. Gelukkig het hy onthou van hierdie boom verder af in die straat en daarom
is hy nou hier. Opgewonde wag hierdie kort mannetjie met die mooi naam van
Saggeus, dit beteken ‘onskuldig’ en/of ‘skoon’, dat die optog moet naderkom.
Gelukkig sal hy goed kan sien sonder om self gesien te word. Die meeste mense sal ook so na Jesus loop en
kyk en met mekaar wedywer om beter te kan sien, dat seker min hom sal raaksien.
Eintlik voel hy maar baie bewus daarvan dat juis hy wat hoof is van die tollenaars
en by alles ‘n ryk en dus gesiene persoon, nou hier in die boom staan. Hy kon maklik van sy mense gestuur het en
Jesus na sy huis genooi het. Die
vooroordeel in die gemeenskap teen hom as hooftollenaar en rykman is egter so
heftig dat hy dit liewer nie pobeer het nie. Hy is ook seker dat die
profeet/prediker nie na hom sal wil kom nie. Wat ‘n verleentheid sal dit nie
wees as Jesus die uitnodiging van die hand wys nie?
Maar wag,
hier is hulle nou… Ja, hy kan Jesus
mooi sien. Wonderlik, Jesus gaan staan mooi regoor hom! Fantasties! Perfek, dit kon nie beter nie.
Vasgenael staar hy na Jesus. En dan kyk Jesus na hom. Hy noem Saggeus op sy
naam en beveel hom om gou af te kom want “Ek moet vandag in jou huis tuis
gaan.” Saggeus snak na sy asem. Hy kan nie glo wat hy hoor nie! Hy is oorstelp
van blydskap. Hy kan nie vinnig genoeg uit die boom kom om Jesus na sy huis te
begelei nie.
Terwyl hy
met Jesus oppad is na sy huis, volg die skare al protesterende en skellende:
“Hy gaan by ‘n sondige man tuis!” Hulle neem Jesus erg kwalik dat Hy by hierdie
gehate mens aan huis gaan. Is Hy dan nie ‘n profeet wat weet met wie Hy te doen
het nie?
Wanneer
Saggeus egter met Jesus instap in die rykmanshuis met al die duursame en
weelderige meubels en besittings, word hy skielik bewus van sy skuld en die
beperkte waarde van aardse besittings. Dis asof sy lewe ‘n volledige omkeer
maak. Wat vir hom absolute waarde het, dinge wat hy met al sy krag en met enige
metode nagejaag het, lyk hier in die teenwoordigheid van Jesus skielik
waardeloos en laat hom selfs skuldig voel.
En tog sê Jesus nie ‘n woord nie.
Maar sy teenwoordigheid laat Saggeus alles in ‘n ander lig sien! En
terwyl die mense nog buite raas en lelik skree, staan Saggeus op om te praat.
Hy kan nie langer stilbly nie. Hy moet dit sê!
Hy moet dit vir die Here sê! Hy
het in die paar oomblikke ontdek dat hy voor die Here staan wat met Sy oë deur
al die slim planne en skemas sien! Ja,
die Here sien in al sy rykdom die duisende mense wat te kort gedoen is, sommige
wat dit nie eers kon bekostig nie, is gedwing om tolgeld te betaal of van hulle
eiendom te verpand. Hoe meedoënloos was hy nie in sy eise teenoor die arm
weerloses nie! Waar dit hom voorheen
nooit soveel gepla het nie, hoor hy nou weer al daardie mense se gesoebat om
hulle tog tegemoet te kom. Ja, hy wat die naam ‘skoon’/ ‘onskuldig’ dra, is
vuil en skuldig. Ja, skielik brand dit in sy gewete in dat Jesus hom daar by
die boom op sy naam genoem het. Jesus was tog nie sarkasties toe Hy hom só
genoem het nie? Nou waarom pla sy eie
naam hom nou? ‘Skoon/ onskuldig’. Nee
dit kan nie, nie voor die Here nie, maar ook nie voor die mense nie. O! al hierdie goed, eens sy trots en
onlesbare begeerte, nou sovele beskuldigende vingers! Skielik word sy huis met al die geriewe en beskerming waar hy hom
kon terugtrek van die venynige kyke en hatige skelwoorde van die samelewing, ‘n
benouende en bedreigende vasgekeerdheid!
Dit word in hom ‘n oorweldigende wete wat soos ‘n vuur in sy binneste
brand. Dit is sy uur van waarheid – sy kairos!
Hy moet sake nou, vandag, regstel.
En dan
staan hierdie man op en hy praat, nie met die mense wat hom beskuldig en aan
wie hy soveel skuld nie, maar met die Here:
“Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets
van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” Sommige van die gaste –
self tollenaars – het seker gewonder of die man nie van sy wysie geraak het
nie. Hy is tog seker nie ernstig nie! Nie net verklaar hy homself skuldig nie
maar hy gaan ook baie verder as wat die wet (thora) voorskryf omtrent
regstellende vergoeding. Waar het jy al ooit gehoor dat enige mens, laat staan
nog ‘n ryk mens, bereid is om die helfte van sy goed vir die armes te gee? Dit is nie net onnodig nie, dit is
dwaas! As hy dan wel so skuldig voel,
waarom bly hy dan nie maar by die voorskrifte van die wet nie?
Maar
Saggeus is vry. Die dodelike greep wat geldgierigheid vir soveel jare op hom
gehad het, is skielik gebreek. Hy is
vry om te gee, om terug te gee. Nie te gee soos die wet vereis nie of omdat die
wet dit eis nie, maar te gee omdat God se liefde hom vry gemaak het. Hy is ook vry van wat mense van hom sê en
dink. Saggeus se antwoord is nie ‘n
woordryke belydenis nie, maar ‘n plan van aksie! Dit sê wat hy gaan doen! Dit wat hy gaan doen, sal sigbaar uitspel
wat hy glo!
Vir ‘n
oomblik is dit stil in die ruim en deftige huis. Wat gaan Jesus sê? wonder almal. Dan praat Jesus: “Vandag het
daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham.” Vandag, van hierdie oomblik af, is hierdie
huishouding ingesluit in God se reddende liefde. Nou is Saggeus se naam nie meer ‘n aanklag teen hom nie, maar
beskryf dit sy nuwe toestand onder die dekking van Jesus se vryspraak. Hy is
nou in waarheid ‘onskuldig/skoon’! Hy
is ‘’n kind van Abraham’, want hy is deel van die gemeenskap van mense wat uit
die geloof lewe!
Wat ‘n
meesterlike vertelling en wat ‘n aangrypende verhaal! Dit eindig nie hier nie maar staan oop, want vir Saggeus het ‘n
nuwe lewe begin.
En terwyl
ons regmaak om die slotsang te sing en huis toe te gaan, hoor ons Jesus weer
praat. Hy was dus nog nie klaar nie,
nie met Saggeus, sy gaste en huishouding nie en ook nie met ons wat vanoggend
na hierdie verhaal geluister het nie. Jesus het nog ‘n belangrike aankondiging
om te maak: “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat
verlore is.” Dit is die kern van die
Nuwe-Testamentiese evangelie! Dit is
die grondreël van die koninkryk van God.
Ja, daarom
is Jesus deur Jerigo, daarom is Hy in Saggeus se huis, daarom is Hy vanoggend
hier in die erediens en om daardie rede gaan Hy saam met elkeen van ons na ons
huis en kamer.
Jesus kyk
reguit na my en jou en sê:
“Skoon/onskuldig, Ek moet vandag in jou huis tuis gaan!”
Bibliografie
Craddock, FB 1990. Interpretation. Danker, FW 1988. Jesus and the New Age. A Commentary on St Luke’s Gospel. Fitzmeyr, JA 1985. Anchor Bible. Geldenhuys, JN 1961. Commentary on the Gospel of Luke (NLCNT). Gollwitzer, H 1979. Die Freude Gottes. Greijdanus, S 1955. Korte Verklaring. Groenewald, EP 1973. Die Evangelie van Lukas. Just, AA Jr 1993. The ongoing feast. Table fellowship and eschatology at Emmaus. Morris, L 1989 Tyndale. Tiede, DL 1988. Augsburg. Bavinck, JH 1952. Mense rondom Jesus. Malan, JH 1981. Die Woord wat gebeur. Smelik, EL 1956. Gevraagde Postille. Vicedom, GF 1970. Gepredigt den Völker.