12 september 2004

Veertiende sondag in koninkrykstyd

Liturgiese voorstel

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: Lukas 17:1-4(5-10)

Ander tekste: Jeremia 4:11-28; Psalm 14; 1 Timoteus 1:12-17

Sien die inleiding by die liturgiese voorstel vir Sondag 29 Augustus 2004. Ons sou vandag bokant Lukas se reisverhaal kon skryf: Vergifnis; die eis vir mense wat deur God bevry en bemagtig is. Dis die leefstyl van n getuie (dissipel) wat op weg is. In die fokusteks praat Jesus met sy dissipels mense wat reeds omsluit is deur God se grenslose genade. Reeds God se vergifnis ervaar het. Lees ook Douglas Lawrie se preekstudie by hierdie Sondag.

In die lig van die verhaallyn soos deur die fokusteks bepaal, behoort daar op hierdie Sondag besonder klem gelê te word met die wet, skuldbelydenis en vergifnis. Dit sal ook hierdie Sondag goed pas om hierdie elemente voor die diens van die Woord aan die orde te stel. Die teksgedeelte uit Timoteus kom baie goed te pas by al die bogenoemde elemente.

Die teks loop ook logies uit op die tema van die liturgie:

Vergifnis: die eis vir mense wat bevry en bemagtig is.

God versamel ons voor Hom

Votum

Liturg: "Aan Hom wat vir ewig koning is,

die onverganklike, onsienlike,

enigste God,

kom toe die eer en die heerlikheid tot in ewigheid (1 Timoteus 1:17).

Gemeente: Sing lied 312 spontaan terwyl hulle bly sit.

"Amen"

Seëngroet

Liturg: Die Here groet vanoggend sy gemeente met hierdie woorde:

"Ek oorlaai julle met my genade

en met geloof en liefde

wat julle deel is in Christus Jesus" (1 Timoteus 1:14 aangepas).

Gemeente: "En vir jou ook."

Aanvangslied

Lied 159:1 "God is hier teenwoordig . . ."

Skuldbelydenis

Liturg: Ons bely vandag ons skuld uit Psalm 14. In vers 2 staan daar:

"Van die hemel af kyk die Here die mense deur

om te sien of daar één verstandige is . . ."

Gemeente: daar is niemand wat goed doen nie,

selfs nie één nie."

Liturg: "Van die hemel af kyk die Here die mense deur

om te sien of daar is één wat na die wil van die Here vra."

Gemeente: "Ons het almal afgedwaal,

die laaste een het ontaard" (Psalm 14:2 en 3).

Vryspraak

As jy nou eerlik en opreg was met jou belydenis dat jy afgedwaal en ontaard het, is dit my voorreg om in die Naam van die Here te sê dat God jou hoor en daarop reageer, soos Paulus ook in 1 Timoteus 1:13 en 16 getuig.

Liturg: "Maar God is genadig teenoor jou

. . . sodat Christus Jesus aan jou . . .

al sy verdraagsaamheid sal betoon."

Gemeente: "God is aan die kant van die regverdiges . . ." loof die Here (Psalm 14:5a).

Geloofsbelydenis

Kan by die nagmaal gedoen word.

Volg van hier af die voorstel soos in die basisliturgie.

PREEKSTUDIE LUKAS 17:1-4(5-10)

Teks

Lukas 17:1-10 stel vier sake aan die orde: verantwoordelikheid (1-2), vergifnis (3-4), geloof (5-6) en diens (7-10). Dit is nie duidelik of hierdie uitsprake in direkte verband met mekaar of met die res van die konteks staan nie. Baie verklaarders verkies om die vier uitsprake as losstaande eenhede te hanteer. Craddock sê tereg dat van die uitsprake herinner aan spreekwoorde en dat hulle dus in verskillende kontekste gebruik kan word. Dit sou dus nie verkeerd wees om slegs een van die twee temas in vers 1-4 as preekfokus te kies nie. In so n geval hoort die eerste sin (3) eerder by die vorige twee verse as by die res (3 en 4) (so bv. Bovon en Plummer, teenoor Marshall). My aanbeveling is egter dat die gedeelte as geheel behandel word. Albei die temas raak misstappe binne die geloofsgemeenskap. Dat hierdie misstappe vanuit twee hoeke bekyk word, kan in die prediking goed aangewend word. Vers 3a dien dan om die twee dele met mekaar te verbind (so bv. Rengstorf en Tiede).

Daar is parallelle tot hierdie verse elders in die evangelies (Matt. 18:6-7 en Mark. 9:42 kan met 1-2 vergelyk word en Matt. 18:15-17, 21-22, met 3-4). Die bewoording in die parallelle gedeeltes kom egter nie heeltemal ooreen met Lukas se bewoording nie en die konteks verskil ook. Ek sou hierdie gedeelte nie vanuit die parallelle probeer verklaar nie, want die uitsprake het hier n eie fokus. Matteus 18:15-17 gaan byvoorbeeld om die prosedure wat in kerklike tughandelinge gevolg moet word. Lukas gee nie n alternatiewe prosedure nie; by hom val die klem op die vergifnis wat op bekering moet volg.

In die hele gedeelte (1-10) praat Jesus met sy dissipels. Verklaarders stem saam dat dit hier gaan om die gedrag van die geloofsgemeenskap, die kerk. Nogtans klink dit asof Jesus in vers 1-4 nie die "andersheid" van die kerk beklemtoon nie. Dat mense verantwoordelik is vir hulle eie dade en nie ander (of "omstandighede") kan blameer nie, kan n mens ook in die Ou Testament lees. Dieselfde geld vir die gedagte dat jy jou sondige naaste moet bestraf. Verskeie verklaarders wys daarop dat Joodse leermeesters in Jesus se tyd ook dikwels oor die vergifnis wat op bekering moet volg, gepraat het (vgl. Marshall en Nolland). Jesus stel die saak hoogstens meer radikaal. Jesus vra wel van sy dissipels dat hulle die nuutheid van die evangelie nie verkeerd moet verstaan nie. Enersyds is God se nuwe gemeenskap, wat uit genade leef, nie bevry om te sondig "dat die genade meer kan word" (Rom. 6:1) nie. Andersyds kan hierdie gemeenskap nie "gesuiwer" word deur sondaars uit te boender nie. Die verantwoordelikheid om "aanstote" te vermy en om aanstote te vergewe, geld juis vir Christene.

Die Griekse woord wat met "struikelblok" vertaal word (skandalon), het n wye betekenisveld. Dit kan dui op n strik of wip, op iets waaroor n mens struikel of, meer abstrak, op n skandaal of iets wat aanstoot gee. Die kerk moet egter nie alle skandale of aanstote eenvoudig probeer vermy nie. Paulus sê immers dat Jesus se kruis ook vir sommige n aanstoot is (1 Kor. 1:23) en dit is duidelik dat Jesus se optrede dikwels aanstoot gegee het. In die konteks gaan dit spesifiek om die soort "skandaal" wat ander gelowiges tot n val bring.

Oor die "struikelblokke" kan twee dinge gesê word. n Mens kan sê dat ook menslike sonde in God se plan ingereken en opgeneem word en dus op n manier "noodsaaklik" is. Miskien is dit wat Matteus 18:7 wil sê. Die gedagte is beslis teenwoordig in Lukas 22:22 (en Mark. 14:21). n Mens kan ook sê dat die aanstoot van sonde in n sondige wêreld, menslik gesproke, onvermydelik is. Die ietwat vreemde konstruksie by Lukas ("dit is onmoontlik vir die struikelblokke om nie te kom nie") beklemtoon hierdie aspek.

Die "kleintjies" word verskillend verstaan deur verklaarders. In Matteus 18:6 kan dit op kinders dui, omdat kinders in dieselfde konteks genoem word, maar in Lukas 17 is hierdie verklaring onwaarskynlik. Dit is nie eens nodig om aan nuutgedooptes, "kinders in die geloof" (Craddock), of aan besondere swak of kwesbare Christene (Nolland) te dink nie. Die "kleintjies" is eenvoudig die geloofsgemeenskap, wat in die wêreld swak en magteloos is en in hulle afhanklikheid van God soos kinders geword het. Dit is wel moontlik dat die vermaning veral aan leiers (hier: die dissipels) gerig word, omdat juis die gedrag van leiersfigure maklik gewone Christene nadelig kan beïnvloed (Tiede). Tiede wys ook daarop dat die sorg vir die "onbelangrikes", eerder as vir die leiers, tipies van die evangelie is.

Die harde oordeel oor diegene wat struikelblokke bring, kan nie heeltemal letterlik verstaan word nie. Immers, Jesus se boodskap laat altyd ruimte vir berou en bekering, soos vers 3 en 4 juis beklemtoon. Maar Jesus beklemtoon dit dat hulle wat ander laat struikel, in beginsel onder God se oordeel staan. Sulke optrede vereis berou en bekering; dit kan nie afgemaak word as "onvermydelik" en daarom verskoonbaar nie. Christene, nog meer as ander mense, is verantwoordelik vir die gevolge van hulle dade.

Vers 3 en 4 benader die probleem van sonde in die geloofsgemeenskap uit n ander hoek. Daar is ook die versoeking om die sondige medegelowige genadeloos te veroordeel en om Lukas 17:1-2 daarby aan te haal. Die korrekte reaksie is egter vermaning met die doel om berou te wek en vergifnis as daar berou is.

Sommige Griekse manuskripte het "teen jou" (3) voor "sondig", terwyl ander dit weglaat. Die OAV volg die eerste tekstradisie en die NAV die tweede. Die verskil is nie noemenswaardig nie, want die hoofklem val op die plig om te vergewe. Hierdie plig is dalk swaarder as die sonde jou direk raak, maar dit is nie die kern nie.

Volgens vers 4 moet n mens jou medemens tot sewe maal per dag vergewe. Matteus 18:22 praat van sewentig maal sewe keer (sonder verwysing na n enkele dag). Ook hierdie verskil is onbelangrik, want die bedoeling is nie dat ons telling moet hou nie. Die getal sewe dui op volheid daar is eenvoudig geen perk aan vergewing nie (Bovon).

Konteks

"Die hoofkenmerk van God se nuwe volk wat deur Jesus versamel is, is hulle bewussyn van God se grenslose genade" (Jeremias). Elders sê Jeremias: "Die pad na God loop deur n mens se naaste." In ons optrede teenoor ander, wys ons dat ons inderdaad bewus bly van God se grenslose genade en dit nie misbruik of nog erger vergeet nie.

Dat alle groepe politieke partye, families, sportorganisasies geneig is om hulle eie lede se optrede te verskoon of goed te praat, weet almal. Selfs diegene wat stry teen misbruike word meer toegeeflik as dieselfde misbruike in hulle eie geledere opduik. En as n mens eers verskonings begin soek, is hulle maklik om te kry. "In elke kraal is daar n paar swart skape". "Die saak is groter as die persoon. Ons moet die persoon verdedig sodat die saak nie skade ly nie", "Ons is darem nog nie so erg soos julle nie."

Die kerk is nie sommer "enige groep" nie. Ongelukkig beteken dit nie dat die kerk vrygestel is van versoekings nie. Dit beteken eerder dat daar vir kerkmense versoekings is wat saamhang met die eie aard van die kerk. Die kerk is n andersoortige gemeenskap, n gemeenskap van geredde sondaars. In Jesus se tyd het die tollenaars en hoere, die armes en verworpenes, sy boodskap met blydskap aanvaar. God se grenslose genade was vir hulle Goeie Nuus, omdat hulle geweet het dat hulle hulleself nie kon help nie. Die Fariseërs en priesters en almal wat hulleself as heel ordentlike mense beskou het, was oortuig dat hulle self die wa deur die drif kon trek. Van die begin af was die kerk n trop verlore skape, mense wat klaar misluk het, "kleintjies" wat in die wêreld min geag is. Wat Jesus leierskap genoem het, was presies wat ander knegskap sou noem. So anders is die kerk.

"Ons is anders: moet ons nie aan julle standaarde meet nie. Ons is sondaars wat net uit God se grenslose genade leef. Julle het dit dalk nie nodig nie. Ons is kleintjies, n klein kudde skape onder die wolwe. Dus kan ons nie die gang van die wêreld bepaal nie. Dit laat ons aan julle grotes oor. Maar onthou, ons dien n groot Koning, wat wel die laaste woord sal spreek." Sulke woorde lê so naby aan die hart van die evangelie, dat n mens amper kan dink dit is die evangelie. Tog kan daar maklik n trots skuil agter hierdie oormatige nederigheid en n verskriklike onverantwoordelikheid agter hierdie "skulderkenning".

n Vriend het eenmaal gesê dat hy dikwels ongemaklik voel as Christene in besonderhede vertel oor hulle sondige lewe van destyds. Dit klink soms, het hy gesê, asof hulle nie meer bely nie, maar spog. In een van Charles Dickens se verhale (David Copperfield) is daar n karakter, Uriah Heep, wat gedurig vertel hoe nederig hy is. Geen enkele leser glo hom nie. Die nederigheid van God se kerk word sigbaar in verantwoordelike diens aan ander en het geen oordrewe advertensieveldtog nodig nie. Nog minder het God se genade roekelose en skandalige optrede van kerkmense nodig om te floreer.

Lukas 17:1-2 waarsku dat die "sondaarskerk" nie sy oorsprong met sy doel moet verwar nie. God roep inderdaad sondaars tot verantwoordelikheid. As God sondaars bloot tot verantwoording geroep het, was dit met ons klaarpraat. Maar om God se genade te aanvaar en te ervaar, is ook om deur hierdie genade omvorm te word. Die "kleintjies" word geroep om met Jesus te regeer, die "kindertjies" om die werke van hulle Vader te doen. Die diensknegte is ook apostels (gestuurdes) en ambassadeurs. God keer die wêreldorde om juis sodat die slagoffers besluitnemers kan word.

In Paulus se tyd was daar al sommige wat die bevryding uit die sonde verwar het met "bevryding tot sonde". In die geskiedenis van die kerk was daar groepe wat, met beroep op die Bybelwoorde dat alles rein is vir die reines, van roekelose sondigheid amper n sakrament gemaak het. Vandag is Jesus se waarskuwing weer besonder toepaslik. Uit allerlei hoeke word daar aangevoer dat mense uitgelewer is aan hulle omstandighede. Ek bepaal glad nie self my handelinge nie, al mag ek so dink. Wat ek vandag doen, staan lankal geskrywe in my gene, my jeugervaringe, my opvoeding, my sosiale en ekonomiese posisie, ja, in die almagtige strukture van die samelewing. Ek speel bloot die rol wat reeds vir my voorgeskryf is. My lewe, met struikelblokke, skandale en al, is n lank reeks "onvermydelikhede". Ek hoef nie verantwoordelik te wees nie, want ek kan nie verantwoordelik wees nie.

Daar is n mate van waarheid in hierdie siening, maar vir Christene kan dit nooit die waarheid wees nie. Om lang en ingewikkelde argumente kort te knip: Hierdie siening laat die effektiwiteit van God se grenslose genade heeltemal buite rekening. Dalk vertel dit ons hoe ons lewe sonder genade sal lyk, maar dit vertel ons nie hoe ons lewe kan lyk as God se liefdevolle sorg dit aanraak nie. Boonop laat hierdie siening ons sonder werklike kontak met medemense. Elkeen speel n rol op n verhoog waarop ander bloot toevallig teenwoordig is. Maar God se genade, as uitdrukking van liefde, ruk ons uit eensame afsondering en lei ons na n lewe van mede-menslikheid. Ons pad na God loop oor die medemens.

Jesus gebruik daarom die medemens as die fokus in sy vermaning. Die skandale en aanstote is inderdaad onvermydelik (menslik gesproke). Jesus se dissipels is inderdaad mense wat kan en sal struikel. Dit plaas hulle nie buite God se grenslose genade nie. Maar wat van ander om hulle? Party verklaarders meen dat vers 3 spesifiek verwys na dinge wat mense "tot n val bring" in die sin dat dit hulle heeltemal van die evangelie vervreem. Op die duur is hulle stellig reg, want Jesus sê nie dat die sondebokke self bloot deur hulle eie dade tot n val kom nie. Die oordeel word nie oor hulle dade op sigself uitgespreek nie, maar oor die dade as struikelblokke vir ander. Christene let nie op hulleself om daardeur hulle eie verlossing te verseker nie, maar om vir ander die pad na God oop te hou.

Die kerk is dus steeds n nuwe, heel anderse gemeenskap, wat uit genade leef. Hierdie "andersheid" bevry Christene nie van verantwoordelikheid nie; dit bevry hulle tot verantwoordelikheid. Omdat hulle nie met matelose inspanning hulle eie verlossing hoef te bewerk nie, kan hulle na die behoeftes van medemense omsien. Om nog te wil skuil agter "onvermydelikhede", is om te bly vassteek in n orde wat van genade niks weet nie. Die argument dat ek "my saak met God reggemaak het" en daarom aan geen mens n antwoord verskuldig is nie, hoort presies nie in God se nuwe gemeenskap nie (wel dalk in die wêreld van die Fariseër). Hierdie argument op die lippe van sommige voorbokke uit die Apartheidsregering was aanstootlik in die letterlike sin dat dit mense van Christenskap afgestoot het.

n Mens sou hier kon stop met die konklusie dat hierdie verse n uiters hoë eis aan Christene stel (Johnson). Dan kyk n mens egter mis dat die volgende twee verse n nog swaarder eis stel. Dit is lekker om meulstene om skandemakers se nekke te hang. Dit is nog lekkerder om as "kleintjie" geskok vas te stel dat dit eintlik die kerkleiers is wat met hulle skandalige optrede die kerk laat leegloop. As die herders dwaal, sal die skape mos verdwaal! Elke predikant weet van professionele verlore skape wat leiers se misstappe as verskoning gebruik om rustig verlore te bly.

Sommige verklaarders meen dat die gebrek aan vergewensgesindheid die struikelblok is waarvan Jesus in vers 1 en 2 praat. Mense word van die kerk afgestoot omdat Christene nie die vergifnis waaruit hulle leef, uitleef nie. Vir my lyk dit eerder asof Jesus in vers 3 en 4 netjies omswaai en die probleem van "aanstote binne die kerk" uit n ander hoek belig. Die een wat aanstoot gee, is verantwoordelik, maar ook die een vir wie dit n aanstoot is. Dieselfde reël geld vir albei: om uit genade te leef, is om in genade ander in ag te neem en om verantwoordelik teenoor hulle op te tree. Hierdie liefdevolle medemenslikheid soek nie verskonings nie, maar weerhou ook nie vergewing nie.

Die plig om n medemens wat sondig, te vermaan, word reeds in Levitikus 19:17 genoem. Moontlik het Jesus aanvaar dat sy gehoor ook die konteks van hierdie vers sou onthou. Dat die sondaar "vrymoedig" (infinitivus absolutus) berispe moet word, staan daar teenoor ander, onaanvaarbare alternatiewe. n Mens kan ook die sondaar agteraf beskinder en so skade berokken (16) of n onuitgesproke wrok teen die persoon koester en wraak beplan (17 en 18). Deur eerder die sondaar tereg te wys, voldoen n mens aan die eis om jou naaste lief te hê soos jouself (18). Teregwysing is na regte n liefdedaad.

Dit is natuurlik nie n liefdedaad om n medemens genadeloos te roskam nie. Jesus spel daarom die konsekwensies van Levitikus 19:16-18 versigtig uit. Die doel van teregwysing is bekering en die liefdesmotief word bewys deur vergewing. Hier is natuurlik nie sprake van bekering in die sin van die oorspronklike, eenmalige terugkeer tot God nie. Dit gaan om die noodsaaklikheid om keer op keer van die sonde af weg te draai. In hierdie proses het ek my medegelowige nodig om my tot orde te roep. Sonder vergifnis sal dit egter n afgryslike parodie wees. Dit is lekker om te berispe en swaar om te vergewe. Maar diegene wat wil berispe sonder om ook te vergewe, eien vir hulleself God se reg op oordeel toe presies die reg wat God in sy grenslose genade nie uitoefen nie! As n mens so daarna kyk, kan daar geen perk aan vergifnis wees nie. Elke keer wat teregwysing sy doel bereik ongeag hoe dikwels dit is is vergifnis die enigste moontlike uiteinde binne God se nuwe gemeenskap.

Hierdie verse vra verbasende grootmoedigheid van die "kleintjies." Soos Johnson tereg sê, die armes (uitgeworpenes, swakkes) mag hulleself ook nie net as "slagoffers" sien nie. Hulle mag en moet berispe; hulle kan en moet vergewe. So werk God se grenslose genade nie net in hulle nie, maar ook deur hulle. Die "onvermydelikheid" van die struikelblokke verskoon nie diegene wat die skandale veroorsaak nie. Die teenwoordigheid van die struikelblokke verskoon ook nie diegene wat as t ware op hulle afstorm om oor hulle te val nie. Dat die een groep verantwoordelik gehou sal word, beteken nie dat die ander groep alle verantwoordelikheid kan ontduik nie.

Hoe kan ek verantwoordelik gehou word as ander as gevolg van my optrede struikel, terwyl ek self nie anders kan as om te struikel nie? Erger nog, hoe kan ek ander se sondes mateloos vergewe, terwyl elke sonde my in gevaar stel? Eindig die evangelie van God se grenslose genade in hierdie bomenslike eise? Een ding is seker: buite God se grenslose genade om, durf ons sulke eise nie eens noem nie. Dit is nie eise wat ons aan mekaar mag stel nie. Hier praat Jesus. Hy praat met sy dissipels mense wat reeds omsluit is deur God se grenslose genade.

Preekvoorstel

Ons kan dus oor hierdie gedeelte alleenlik preek as ons dit plaas binne die konteks van God se grenslose genade en van die nuwe gemeenskap wat hierdeur tot stand gekom het. Ons kan hierdie verse nie as algemene "lewensreëls" aanbied as ons hulle nie werklik ernstig opneem nie, of as ons bereid is om genadeloos van ander te vra wat ons self nie kan doen nie. Die grootste uitdaging by die preek van hierdie gedeelte is om nie vir een oomblik die indruk te wek dat die prediker hier die wet neerlê nie.

As die prediker daarin kan slaag om die hoorders God se liefde juis in hierdie skynbaar onverbiddelike "wette" te laat sien, is die res nie moeilik nie. Die tema kan wees: Wat nie verskoon kan word nie, moet nogtans vergewe word. Dit is egter nie nodig om hierdie tema aan die begin aan te kondig nie. Ek sou eerder voorstel dat die wending tussen vers 2 en 3 as verrassingslement behou word.

Die preek sal dus begin met die oproep tot verantwoordelikheid (1 en 2): geen verskonings nie! In hierdie gedeelte van die preek is twee dinge belangrik. Eerstens moet dit duidelik gemaak word dat dit nie hier gaan om "werkheiligheid" nie. Die Christen se gedrag word nie hier gemeet aan die wet nie, maar aan die effek wat dit op medegelowiges kan hê. Die besondere klem op verantwoordelikheid teenoor medemense bind immers die hele gedeelte saam en moet vroeg al aandag kry. Terselfdertyd kan n mens dan daarop wys dat hierdie klem juis tuishoort in die evangelie van genadige liefde (en nie in die bedeling van die wetsgeregtigheid nie). Die etiek van die koninkryk is nie (soos by Foucault) "sorg vir die self" nie, maar sorg vir ander. Christene let op hulleself ter wille van andere.

Tweedens moet gewaarsku word teen n neiging om die gedagte van "aanstoot" so te veralgemeen dat die kerk die jabroer van die gemeenskap word. n Kerk wat eenvoudig almal na die mond wil praat, verraai die aanstoot van die evangelie.

Die kort verse gebruik baie algemene taal en ek het my ook daarby gehou. In n preek kan dit nie so gedoen word sonder om oormatig abstrak te wees nie. Die prediker sal konkrete voorbeelde moet kies wat pas by die spesifieke gehoor. Ongelukkig is daar oorgenoeg voorbeelde van hoe kerkmense se skandale die kerk skade berokken het. Die presiese verskonings wat mense gebruik om verantwoordelikheid te ontduik sal ook van gemeente tot gemeente wissel. Die slotsom is natuurlik dat God elkeen van ons bevry om verantwoordelikheid te aanvaar vir mekaar, ongeag ons omstandighede. God se genade red en vernuwe.

Al word hierdie slotsom duidelik getrek, sal baie hoorders nogtans net dink aan ander se skandale veral leiers sn. Hulle sal maklik saamstem met die oordeelswoorde, omdat hulle voel dit raak hulle nie. Die tweede deel van die preek maak dan van hierdie "toeskouers" medespelers. Selfs as ek nie die sondaar is nie, maar die een "teen wie" gesondig word, kan ek verantwoordelikheid vir my medemens nie ontduik nie. Kritiek is nie teregwysing nie en teregwysing is nog nie vergifnis nie. Levitikus 19 kan help om die preek hier meer konkreet te maak. Wie uit vergifnis lewe, moet vergewend lewe, anders bly God se grenslose genade en sy nuwe gemeenskap n klug. God red "kleintjies" om met die grootmoedigheid van konings te lewe.

In die slot moet die element van genade en versoening weer sterk op die voorgrond kom. Dit gaan nie om dinge wat ons menslik gesproke kan doen nie. Die eise geld vir mense wat deur God bevry en bemagtig is. Net hulle wat reeds genade ontvang het en steeds van hierdie genade bewus bly, net "kleintjies" voor God, is groot genoeg vir hierdie take.

Bibliografie

Bovon, F (EKK); Craddock, F B (Interpretation); Du Plessis, I J (KNT); Green, J B (NCOT); Johnson, L T The Gospel of Luke; Marshall, HI (NIGTC); Nolland, J (Word); Plummer, A (ICC); Rengstorf, K H (NTD); Tiede, D L (ACNT); Gouldner, M D, Luke: A New Paradigm; Jeremias, J New Testament Theology.