Ander
Tekste: Josua
5:9-12; Psalm 32; 2 Korintiërs 5:16-21
Soos
verlede week se teks, vorm ook hierdie week se gelykenis deel van Lukas se
weergawe van Jesus se reis na Jerusalem (9:51-19:27). Die reis ‘kruis toe’ vorm die lydenskonteks van hierdie
gelykenis.
Manson het
Lukas 15-19 ‘the gospel of the outcast’ genoem. Jesus se deernis vir uitgeworpenes word veral deur die
gelykenisse in hoofstuk 15 dramaties voor ons geteken.
Verse 1-3
van Lukas 15 word in die RCL lesing ingevoeg ten einde die belangrike
narratiewe konteks van hierdie gelykenisse uit te lig. Twee duidelik identifiseerbare groepe met
wie Jesus dwarsdeur sy bediening te make gehad het, word hier genoem. Aan die een kant was daar die randfigure in
die samelewing, tipies die ‘sondaars en tollenaars’ genoem, wat deur die selfgenoegsame,
nougesette godsdienstiges verag is.
Hierdie mense was egter in staat om die goeie nuus wat Jesus gebring het
werklik te hoor, juis omdat hulle buite die rigiede status quo van die sosiale sisteem geleef het en min of niks gehad
het om te verloor nie. Aan die ander
kant is daar dan die groep wat tipies die ‘Fariseërs en Skrifgeleerdes’ genoem
word. Hulle het ‘n obsessie met
korrekte, ortodokse godsdiensbeoefening, maar word dan deur Jesus ontmasker as
mense wat die radikale boodskap dat God sondaars aanneem nie kan hoor nie,
omdat hulle hulleself mislei en valse sekuriteit vind in hulle eie
wetsonderhouding, wat hulle verblind vir hulle eie sonde-nood.
Na die
gelykenis van die verlore skaap en verlore muntstuk, kom Jesus dan by ‘n
tweeledige gelykenis oor ‘n man wat twee seuns gehad het. Die twee seuns korreleer heel gemaklik met
die twee geïdentifiseerde groepe in verse 1-3 (die jonger seun as die sondaars
en tollenaars en die ouer seun as die Fariseërs en Skrifgeleerdes). Die kontras is tussen ‘hulle wat
(uiteindelik tog) hoor’ en ‘hulle wat mor en kla’. Die twee dele van die gelykenis word byeengebring deur die
eintlike skarnierfiguur in die gelykenis, naamlik die liefdevolle, wagtende
vader. Sonder verdere allegorisering,
is die vaderfiguur tog ‘n duidelike refleksie van God se karakter in terme van
sy openheid, vergifnis, vreugde, vrygewigheid en getrouheid. Die seuns is simbole van die wyse waarop
mense (hier Jesus se gehoor) reageer op God.
Die belangrike selfinsig wat by moderne hoorders moet ontstaan, is dat
ons maar elkeen iets van beide die reaksies op God se genade het. Soms is ons die wegbreek-rebel van ‘n jonger
seun, maar gelukkig reflekteer ons ook soms die berouvolle inkeer van die jonger
seun. Soms egter is ons die selfgenoegsame
ouer seun wat by die huis is maar tog nie die vreugde van ‘tuis wees en tuis
voel’ beleef nie. In elkeen is daar ‘n
komplekse wisselwerking tussen hierdie diep motiewe.
Die jonger
seun gaan op soek na die dinge wat hy, tragies genoeg, reeds in die vaderhuis
het, maar nie raaksien nie. Hy gaan
soek vreugde, sekuriteit, liefde, sy plek in die lewe, kortom: hy gaan soek ‘n ‘home away from home!’ Hy hou geen agterdeure oop om te kan
terugkeer nie en dan tref twee rampe hom gelyktydig: sy geld raak op (wat natuurlik sy eie skuld is) en daar kom
hongersnood in die land (waaraan hy niks kon doen nie, maar wat sy probleme
vererger).
Sy verlange
na die vaderhuis en sy hoop dat die vader wel daar op hom wag, ontspring vanuit
die vreeslike kontras tussen sy huidige situasie en wat hy geken het as kind in
die vaderhuis en selfs wat sy vader se dagloners ervaar. Weliswaar was dit hongerpyne wat hom tot
insig gebring het, maar hy keer nogtans na ‘sy vader’ terug.
Die fees
vir die jonger seun, is die sneller wat blykbaar jare se opgekropte emosies by
die oudste seun laat uitstroom. Sy
woorde dat hy al die jare ‘soos ‘n slaaf’ vir sy pa werk, gee hom weg. Hy verstaan nie wat dit beteken om ‘n seun
te wees nie, waarskynlik omdat hy nie verstaan wat dit is om ‘n vader te wees
nie.
‘n Preek
oor die gedeelte kan op een van die twee seuns fokus of op die Vader (drie of
meer preke is dus moontlik!). Ons kies
om die hele gelykenis aan die orde te stel en die verhaallyn te volg. Die fokus is dan op die verskynsel van ‘tuis
wees of tuis voel’ teenoor net ‘by die huis wees’. Die ouer seun se reaksie geniet in die proses meer aandag.
Nie een van
die twee seuns in die storie het ‘n egte verhouding met die Vader nie. Die jonger seun sien sy vader as ‘n bron van
fondse om die lewe te gaan geniet soos sy luste hom lei. Die vader se goedheid is ‘n
vanselfsprekendheid wat misbruik word.
Dit is dan eers veel later wat verlange na die vader en sy huis uit
diepe nood ontspring. Hierdie keer is
die verlange nie na dit wat in die vader se hand na hom uitgehou word nie, maar
dit wat in die vader se hart is.
Waar die
jonger seun uit berouvolheid terugkom en bereid is om as ‘n slaaf te werk, as
hy tog maar net weer die vreugde van nabyheid aan die vader kan ervaar, is die
ouer seun in elk geval reeds meer slaaf as seun. Hy is deurgaans by die huis, maar vanuit ‘n oordrewe pligsbesef
(tipies oudste kind?) ervaar hy nooit die liefde en warmte van ‘n vervullende
verhouding met die vader nie en word ‘huis’ vir hom nooit ‘tuiste’ nie. Die gelykenis wil ons laat wegbeweeg van
hierdie twee vorme van ‘n bolangse verhouding met God na ‘n outentieke
kind-Vader verhouding. Die jonger seun
ontdek die vader is ‘n vader van tweede kanse en ‘n nuwe begin en die nuwe,
liefdevolle verhouding met die vader word dan ook luisterryk gevier. Die vader poog om ook die ouer seun te
begelei om in te sien dat sy pligsbesef en erns hom van sy vreugde beroof
het. Blykbaar kan afstand met God
geskep word óf deur klassieke ‘sonde’ en rebelse opstand teen God óf op ‘n meer
subtiele manier kan gerebelleer word van binne uit – vanuit nougesetheid wat
lei tot ‘n gevoel van geestelike meerderwaardigheid. Die gelykenis is die verhaal van die ‘playboy versus the snob’ en
beide is ewe ver van die vader af.
Verset teen
God kom dus nie net in sigbare rebellie na vore nie, maar juis ook in
passiwiteit, passiewe verset, ‘n geestelike go-slow’’ ongeërgdheid, gebrek aan
besorgdheid oor mense (daardie ander kinders van God, wat nie broers van my is
nie!), traak-my-nie-agtigheid.
Enkele
eksegetiese kantaantekeninge:
Vers
12: ‘n Vader het soms tydens sy leeftyd
reeds sy besittings verdeel en dan vruggebruik behou. Die oudste seun ontvang twee-derdes van die erfporsie en die
jongste een derde. Die opeis van die
erfporsie skep wel die indruk dat die vader voortydig dood gewens word.
Verse
15-16: Om as Jood ‘n varkoppasser te
wees is uiteraard geweldig vernederend.
Dat hy nie van die varkpeule ‘aangebied’ word nie, probeer waarskynlik
ook iets van die troostelose eensaamheid van die jonger seun verwoord. Niemand gee om of ken sy nood nie. Die varke se welsyn is belangriker as
syne.
Verse
20-24: Die vader sien sy seun ‘toe hy
nog ver aankom’, hy kry hom 'innig jammer’ en hy ‘hardloop’ hom tegemoet. Vir ‘n midde-oosterse vader om na sy seun
aangehardloop te kom, was ongewoon en beslis onwaardig. Die vader se vreugde oorskry egter alle
grense van sy waardigheid. Die seun
word nie kans gegee om sy belydenis te voltooi nie en hy kom nooit by die deel
dat hy soos ‘n dagloner behandel wil word nie.
Die soen is die teken van versoening.
Die kleed, ring en skoene herstel sy status as kind.
Verse
28-29: Die oudste seun is ‘n pligsmens
en nie ‘n dankbaarheidsmens nie. Hy is
nie minder selfgerig as sy broer nie.
Verse
30-31: Daar is ‘n groot kloof tussen
hom en sy broer, soos blyk uit die neerhalende verwysing na ‘hierdie seun van
Pa’. Die vader korrigeer: ‘hierdie broer van jou’.
Vers
32: Die gelykenis het ‘n byna
frustrerende ‘oop einde’. Ons weet nie wat
die ouer broer se reaksie is nie.
Reageer hy en vier saam fees of bly hy vasgevang in sy selfbejammerende,
selfgenoegsame en selfsugtige verontwaardiging? Ons weet selfs nie of die jonger seun toe vir altyd tevrede was
om te lewe in die warmte van sy vader se liefde nie. Die oop einde is egter bemoedigend – daar is nog geleentheid om
te reageer.
Ek sal
opstaan (W.E.G. Louw)
Ek sal
opstaan en na my vader gaan;
opstaan uit
my vodde en my vuil;
opstaan en
onder die volle maan
wat geel
streep oor die vleiland, gaan en huil
aan sy breë
skouer, en hóm saggies vra
om alles te
vergeet, en te vergewe
die
jongkrag van my hoon wat hy moes dra;
dat ek weer
soos ‘n kindjie klein die lewe
vol sonskyn
voel, die vreugde van my werk
in die
wingerd waar pers die swaar korrels hang;
dat ek weer
voel my hande jonk en sterk,
die
voorjaarskoelte saggies teen my wang –
Voorwaar,
onmiddellik na my vader sal
en moet ek
gaan, en aan sy voete val.
Gebed (Koos
du Plessis) kan voorgespeel word met die klem op:
Elke
afdraaipaadjie ken ek
Elke keer
het ek gedwaal
Elke keer
het U my iewers kom haal
Maak dit
Heer die laaste maal
Rembrandt
se werke oor die verlore seun is almal aangrypend. Dit is beskikbaar op die Internet adresse hieronder)
Soms is dit
vir ons sommer baie duidelik dat iemand afgedwaal het, die pad byster geraak
het, sodat ons as kerkmense dit eintlik ons plig ag om na so iemand vinger te
wys, hom of haar te waarsku en terug te roep na ‘n ‘ordentlike’ lewe toe. Dis mos die mense wie se plekke leeg is in
die kerk omdat hulle plekke gevul is op ander plekke van swak reputasie! Dis mos die mense wat ver van God af is,
dink ons asof dit die grootste vanselfsprekendheid onder die son is.
So was die
houding van die Fariseërs en die Skrifgeleerdes ook toe hulle gesien het met
watter soort mense Jesus Hom ophou: die
sondaars en die tollenaars was sy geselskap!
Die uitvaagsels, die bedrieërs, die skuim van die samelewing. Dit het hulle geweldig verontrus en hulle
was verontwaardig dat Jesus so met diesulkes meng, asof hy nie weet hoe ver van
God daardie mense lewe nie, asof Hy nie weet met wie Hy te doen het as Hy Hom
met hulle vereenselwig nie.
Jesus
vertel dan drie gelykenisse oor verlorenheid.
Die verlore muntstuk, die verlore skaap en die verlore seun. In die gelykenis van die verlore seun, gaan
dit dan juis om twee seuns, wat, so wil Jesus ons dit laat besef, albei ewe
verlore was en albei ewe welkom by hulle vader is, soos wat die Fariseërs en
Skrifgeleerdes saam met die tollenaars en sondaars ewe verlore is en ewe welkom
by Hom is.
Henri
Nouwen skryf oor die jonger seun dat dit vir ons baie maklik is om sy
‘verlorenheid’ raak te sien: ‘Often we
think about lostness in terms of actions that are quite visible, even spectacular. The younger son sinned in a way we can
easily identify. His lostness is quite
obvious. He misused his money, his
time, his friends, his own body. What
he did was wrong; not only his family
and friends knew it, but he himself as well.
He rebelled against morality and allowed himself to be swept away by his
own lust and greed. There is something
very clear-cut about his misbehavior.
Then, having seen that all his wayward behavior led to nothing but
misery, the younger son came to his senses, turned around, and asked for
forgiveness. We have here a classical
human failure, with a straightforward resolution. Quite easy to understand and sympathize with.’
Die jonger
seun, in jeugdige voortvarendheid en onvolwassenheid, wil die wêreld in om te
gaan soek na geluk en sin in sy lewe.
Hy eis sy deel van die erfporsie op (waarmee hy tussen die lyne
impliseer dat hy eintlik sy vader doodwens!) en gaan soek na sy plek in die wye
wêreld. Hy eindig tussen die varke –
van die grootste vernederings denkbaar vir ‘n Jood, want varke is onrein. Van hongerte begeer hy die varkpeule, maar
niemand gee eers vir hom daarvan nie.
Niemand gee genoeg om dit te doen nie óf niemand weet eers van sy nood
nie. En daar tref hy uiteindelik die
bodem van die put waarin hy besig was om te val. En die bodem is toe al die tyd sy vangnet, sy fondament wat nog
al die tyd daar was: hy het ‘n vader
wat vir hom wag! Daar ontdek hy weer sy
verlange na die vaderhuis en ontstaan ‘n afkeer in sy eie dwaasheid. Sy voete kom in beweging – die keer in die
regte rigting, naamlik huis toe!
Nouwen
skryf egter dat die ‘verlorenheid’ van die ouer seun vir ons meer verborge
is: ‘The lostness of the elder son,
however, is much harder to identify.
After all, he did all the right things.
He was obedient, dutiful, law-abiding, and hardworking. People respected him, admired him, praised
him, and likely considered him a model son.
Outwardly, the elder son was faultless.
But when confronted by his father’s joy at the return of his younger
brother, a dark power erupts in him and boils to the surface. Suddenly, there becomes glaringly visible a
resentful, proud, unkind, selfish person, one that had remained deeply hidden,
even though it had been growing stronger and more powerful over the
years.’ (The Return of the Prodigal
Son, p. 70-71)
Dit is juis
hierdie ouer seun wat bedoel is om die oë oop te maak van Fariseërs,
Skrifgeleerdes – en vandag se kerkmense wat in ‘Christen-ouerhuise’ grootgeword
het en nooit regtig gerebelleer het en van God of die kerk wou wegloop
nie.
Waar die
jonger seun beplan om terug te gaan en as ‘n slaaf vir sy vader te gaan werk,
is die ironiese dat die ouer seun reeds ‘n slaaf bínne-in die vaderhuis
is! Mens kan blykbaar by die huis wees
sonder om werklik tuis te wees of tuis te voel en die gemaklikheid van kindskap
te beleef. ‘There are many elder sons
and elder daughters who are lost while still at home. And it is this lostness – characterized by judgment and
condemnation, anger and resentment, bitterness and jealousy – that is so
pernicious and so damaging to the human heart.’ (Nouwen, p. 80)
Die ouer
seun laat mens dink aan die stout seuntjie wie se ma hom gestuur het om in die
hoekie te gaan staan. Hy het gegaan,
maar dadelik gebrom: “Hier buiteom my staan
ek, maar hier binne-in my sit ek!” Die
ouer seun het ook al die korrekte dinge gedoen, maar sy hart was nie daarin
nie. Miskien was hy nie net jaloers op
die helde-ontvangs van sy teruggekeerde jonger broer nie, maar dalk heimlik
selfs jaloers dat sy jonger broer die moed gehad het om weg te breek, iets wat
hy dalk ook al wou doen, maar as ‘verantwoordelike’, ‘pligsgetroue’ oudste seun
nooit kon regkry om te doen nie.
Miskien loer baie getroue ‘kerkmense’ oor die muurtjie na die ‘los’ lewe
van die jonger seuns daarbuite en verlang heimlik daarna, en verwens hulle eie
‘pligsgetrouheid’ en gehoorsaamheid wat hulle in die kerk hou. Daarom dat dit makliker is om die wegbrekers
te veroordeel as om jou eie andersoortige verlorenheid in die oë te kyk. Die vreugde en volheid van ‘n opregte
verhouding met die liefdevolle vader ontbreek by albei seuns – nie net by die
jonger een nie. Albei is kinders, maar
leef soos slawe en albei mis die vreugde en oorvloed wat hulle beskore is as
kinders in die vaderhuis.
Daar is ‘n
ware verhaal van ‘n arm man wat per skip van Amerika na Engeland gereis
het. Hy het nie gedink hy kan die
driegang maaltye in die skip se eetsaal bekostig nie en het maar met elke
etenstyd hom teruggetrek in sy kajuit waar hy droë brood geëet het wat hy
saamgebring het. Toe hy by die hawe van
die skip afklim, groet die kaptein hom en vra waarom hulle hom dan nooit
etenstye in die eetsaal gesien het nie.
“Ek kon dit nie bekostig nie,” antwoord die man toe heel eerlik. Die kaptein het geskok uitgeroep: “Maar het jy dan nie geweet nie! Kyk op jou kaartjie! Daar staan:
‘all meals included’”.
[Die
volgende verhaal maak dieselfde punt, en sou in die plek van die vorige verhaal
of op ‘n ander plek in die erediens (dalk as ‘n fokusmoment voor die votum)
gebruik kon word:
‘n Klompie
jare gelede het ‘n paar plaaslike inwoners in Peru naby die monding van die
Amasone-rivier gesien dat ‘n Spaanse skip naby die kus geanker lê. Op die dek het die matrose in ‘n baie
uitgeputte toestand gelê. Die inwoners
het met ‘n bootjie nader geroei en geskree:
“Kan ons julle help?” Die
Spanjaarde het uitgeroep: “Water,
water, ons het vars water nodig!” Die
plaaslike inwoners was verras en het teruggeroep: “Laat sak julle emmers en help julleself!” Die Spanjaarde dog nog ewe die inwoners het
hulle nie mooi verstaan nie. “Nee,
nee,” roep hulle, “ons het VARS water
nodig!” Hulle het dieselfde antwoord
gekry. Uiteindelik laat sak hulle toe
maar hulle emmers en toe hulle die water proe, was dit tot hulle verbasing
vars. Hulle was naby genoeg aan die
monding van die rivier sodat al die water om hulle vars was. Die oorvloed om hulle, maar hulle gebruik
dit nie en wil sterf van die dors. Hoe
tragies!]
Daar is
meer in Christen-wees as om net ‘n getroue kerkganger te wees en teen jou sin
‘n klomp godsdienstige goed te doen en te sê.
Daar wag vreugde, vrede, liefde – die Vader wag daar! Daarom sê Nouwen: “The joy at the dramatic return of the younger son in no way
means that the elder son was less loved, less appreciated, less favored. The father does not compare the two
sons. He loves them both with a
complete love and expresses that love according to their individual journeys. He knows them both intimately. He understands their highly unique gifts and
shortcomings. He sees with love the
passion of his younger son, even when it is not regulated by obedience. With the same love, he sees the obedience of
the elder son, even when it is not vitalized by passion. (Nouwen, p. 80).
Die oproep
van die gelykenis aan sondaars en tollenaars en jonger seuns, maar ook aan
oudste seuns, Fariseërs, Skrifgeleerdes en kerkmense is om nie net huis toe te
kom nie, maar werklik ‘tuis te kom’ by God.
Wat oudste seuns dikwels nie besef nie, is dat daar juis sekerheid en
geborgenheid vir my lê in dié God wat verlore seuns soek en op hulle wag. Want wat die ouer seun nie verstaan nie, is
dat die vader ook op hom sal wag as hy sou wegdwaal, trouens, dat die vader
juis besig is om op hom te wag om in te kom in die vreugde van ‘n egte
vader-kind verhouding.
So ‘n
tuiskoms by God, sal hopelik daarin uitloop dat jy so oorweldig word deur die
Vader se oop arms, dat iets in jou ook soos die Vader teenoor ander wil
word. Ook so vrygewig met tweede kanse,
so vergewend, so liefdevol. Die
tragiese woorde van die ouer seun moet omkeer.
Hy is nie eers bereid om sy broer by die naam of enigsins sy broer te
noem nie. ‘Hierdie seun van Pa’, noem
hy hom veragtend en snedig. Sy Pa
korrigeer: “Hierdie broer van jou was dood, en hy lewe
weer.” Om soos die Vader te word, is om
weer ‘n broer te word en te wees vir die mense wat by die Vader welkom is, maar
nog nie by jou nie.
Dis hoekom
die nagmaal so ‘n intense ervaring behoort te wees, want daar sit almal saam
aan Christus se tafel. En wie aan
Christus se tafel mag wees, ja ook sondaars en tollenaars, moet sekerlik ook
aan my tafel welkom wees. Anders moet
ek myself dit ernstig afvra of ek enigsins self aan Christus se tafel aansit en
nie dalk buite staan, weg van die fees nie.
Ons word nie
vertel of die oudste seun toe ooit ingegaan het en saam gaan feesvier het
nie. Dit lyk amper of hierdie storie se
laaste bladsy uitgelaat is! Maar dis so
bedoel en dis goed so, want dit berus by elkeen van ons om die storie met ons
eie lewens klaar te skryf.
Bibliografie
Woord teen die Lig III/2, p. 195 en II/2, p. 161; Nouwen, H J The Return of the Prodigal Son;
Cilliers, J.H. Daar is ‘n God vir gebrokenes, p.
54; Morris, L. Luke (Tyndale); Liefeld,
W.L. Luke in Gaebelein, F.E. (ed.) The Expositor’s Bible Commentary Vol. 8; Soards et al Preaching the RCL Year C Lent/Easter; Groenewald, E.P. In
gelykenisse het Hy geleer, p. 164-169;
Hunter, A.M. Interpreting the
parables.
Kunswerke
http://www.udayton.edu/~scholars/ASHERLEV/rembrandt.return-prodigal-son.jpg
http://sunsite.icm.edu.pl/cjackson/rembrand/p-rembra15.htm
http://www.bibletreasure.com/museum/rembrandtpages/group5/rmimage30.htm