Lukas 14:1,7-14 (André Agenbag)

2 September 2001

Twaalfde sondag in koninkrykstyd

 

Ander tekste: Jeremia 2:4-13; Psalm 81:1-2, 11-17 of Sirag 10:12-18 of Spreuke 25:6-7; Psalm 112; Hebreërs 13:1-8, 15-16.

Teks en konteks

Prof JJF Durand behandel Lukas 14:7-14 saam met Jesaja 65:13-25 en 2 Petrus 3:13 in Woord teen die lig III/4 wat handel oor die prediking van die Christelike deugde. Durand behandel hierdie perikoop dan onder die tema, ‘Om te droom’.  Kortliks die strekking van sy argument: Lukas 14:7-14 (en die ander twee Skrifgedeeltes) koppel fantasie, droom en ‘n regverdige gemeenskap aan mekaar. Die Bybelse fantasie of droom is anders as ander fantasieë en drome. Dit doen ‘n beroep op die vastigheid van God se eie eskatologiese belofte. Lukas 14:7-14 wil dan nie die toestand van regverdigheid beskryf wat daar by die finale koms van die koninkryk van God sal bestaan nie, maar gee vir ons ‘n aanduiding van die aard van die regverdige dade wat tot deelname aan die koninkryk lei. Dit vertel ons wie die regverdiges is en wat regverdigheid eintlik beteken. In Lukas 14:7-14 word meer as die gewone, aanvaarde regverdigheid gevra. Aanvaarde regverdigheid sou wees om vriende, broers en ryk bure na ‘n maaltyd te nooi.  Dié mense sal dan weer die gasheer en gasvrou na hulle eie maaltye nooi as ‘n vorm van vergoeding. Die regverdigheid waaartoe Jesus in Lukas 14 oproep vra egter meer: Ook diegene wat nie kan vergoed nie behoort genooi te word: die armes, kreupeles, verlamdes en blindes. Durand (1996:76) skryf, “Die droom van die gemeente is daarom ‘n Geesvervulde fantasie wat weier om in die bestaande, in die feitlikhede van die dag, tot rus te kom. In verbeeldingryke, Geesvervulde kreatiwiteit moet die grense van die moontlike oorgesteek en profeties verkondig word. Maar méér nog: die gemeente moet daarna strewe om die metafoor van die einde nou reeds in hul midde waar te maak. Die wolf en die lam moet saam kan wei binne die ruimte van die gemeente, die geregtigheid moet daarin kan woon.”

Lukas 14:1,7-14 val, soos al die Skrifgedeeltes van die vorige vier Sondae in Lukas se reisverhaal (9:51-19:27). In Lukas 14:1-24 vind ons vier verhale wat almal op die sabbatdag rondom die tafel afspeel: Die genesing van die man wat aan water gely het (14:1-6); Jesus se les vir die gaste (14:7-11); Jesus se les vir gashere (14:12-14); Die gelykenis van die groot maaltyd (14:15-24). Ons Skrifgedeelte bevat eintlik twee perikope (14:1,7-11 en 14:12-14). In die eerste verhaaleenheid rig Jesus sy woorde tot die gaste, “...vertel Hy aan die genooides die volgende gelykenis” (vers 7). In die tweede verhaaleenheid het Jesus die gasheer in gedagte, “Hy het ook vir die gasheer gesê...” (vers 12). Die twee verhaaleenhede kan egter steeds in een preek aan die orde kom.

Daar is reeds by die preekstudie van die tiende Sondag in koninkrykstyd gewys op Moessner (1990) se uitstekende studie van Lukas se reisverhaal. Moessner wys hoedat ons reeds in Lukas 9:51-10:24 kan sien hoe Jesus en die dissipels uitgebeeld word as reisende gaste wat afhanklik is van huise en huishoudings om hulle te ontvang, te huisves en te voed op hul reis na Jerusalem. Die hele reisverhaal is vol van taalgebruik wat verwys na gasvryheid aan reisigers. Hierdie tendens word dan voortgesit in die res van die reisverhaal. Sentrale begrippe is gasvryheid, huise, huishoudings, eet en drink, die dien en ontvang van gaste, eenheid in huishoudings ens.

Wanneer ons in 14:1,7-14 vir Jesus saam met ‘n Fariseër by die etenstafel aantref, word ons herinner aan twee soortgelyke geleenthede vroeër in die verhaal (vgl. 7:36-50 en 11:37-54). Let op die volgende ooreenkomste tussen die drie verhale:

By al drie geleenthede is daar konflik tussen Jesus en die Fariseërs.

By twee geleenthede vind daar genesings plaas. Jesus vergewe ‘n vrou haar sondes (7:48) en hy genees ‘n man wat aan water gely het (14:4).

By twee geleenthede word dit eksplisiet gesê dat Jesus fyn dopgehou is (11:54 en 14:1). Dit is duidelik wat die motief van die Fariseërs was om Jesus uit te nooi na ‘n maaltyd saam met hulle.

By twee geleenthede word die aanvaarde etiket rondom tafelgemeenskap die geleentheid om oor die etiket van die koninkryk van God te praat (7:38 e.v. en 14:7 e.v.).

Die unieke van 14:1,7-14 is dat dit ‘n maaltyd is wat op die Sabbatdag plaasvind. Die leser weet nou al dat die tafel gedek is vir groot konflik.

Johnson (1991:225) wys daarop dat die maaltyd in die Hellenistiese literatuur dikwels die ruimte gevorm het waarbinne filosofiese gesprekke plaasgevind het. In die Joodse literatuur word hierdie literêre vorm, genoem die Simposium, met enkele wysiginge oorgeneem. Die wysgere word nou Joodse geleerdes wie se wysheid geïllustreer word deur hul toewyding aan die Tora. Johnson verduidelik, ‘It is part of Luke’s presentation of Jesus as a philosopher as well as a prophet, therefore, to have him so often at table.’

Wie in 14:7-14 blote sosiale kommentaar of gesprekke oor etiket sien, mis die punt van die teks, sê Craddock (1990:176). Die maaltyd word die geleentheid waartydens Jesus ‘n gelykenis vertel. Die gelykenis lyk oënskynlik asof dit handel oor etiket, maar eintlik handel dit oor die koninkryk van God. Tafelgemeenskap word vir ‘n Jesus ‘n geleentheid om iets oor die aard van die koninkryk van God te sê. Net sodra dit lyk asof Jesus vir hooggeplaastes ‘n nuwe tegniek wil leer om by die beste sitplekke uit te kom deurdat dat daar met ‘n skyn van nederigheid in die agterste sitplekke gesit gaan word, keer Jesus die appelkar om. Hy ontmasker daarmee die oppervlakkigheid van die bestaande sosiale sisteem en gedrag.

Die koninkryk word onthul daar waar ware nederigheid is en waar die selfgesentreerde sosiale sisteem deurbreek word om te sorg vir die armes, kreupeles ensovoorts. In plaas daarvan om mense uit te nooi omdat hulle jou later weer kan uitnooi, vereis die koninkryk van God ‘n ander standaard: Nooi diegene uit wat jou guns aan hulle nie kan terugbetaal nie. Die punt is dat God eintlik die gasheer is in sy koninkryk en wie kan God terugbetaal? Jesus roep sy dissipels dus op tot koninkryksgedrag: Nooi as julle gaste mense uit wat geen status het of instaat is om dieselfde weer aan julle te doen nie. Aangesien God ons almal se gasheer is, behoort dié van ons wat gashere (en gasvroue!) is eintlik op te tree soos gaste. Geen wonder nie dat Lukas se viervoudige lys van armes, kreupeles, verlamdes en blindes (vers 13) reeds in die loflied van Maria (1:46-55) asook Jesus se ‘intreerede’ (4:16-30) onthul word as koninkryksmense.

Craddock (1990: 177) herinner ons dat die sinagoge en die kerk tradisioneel verbind is tot die versorging van die armes en gestremdes. Hier doen Jesus egter nie ‘n beroep op gelowiges om te voorsien in die behoeftes van die armes en gestremdes nie, ‘he says to invite them to dinner. This is the New Testament’s understanding of hospitality... Hospitality, then, is not having each other over on Friday evenings but welcoming those who are in no position to host us in return. Nor does the text speak of sending food to anyone; rather, the host and the guest sit at table together’ (1990:178).

Durand (1996:71-78) se invalshoek bied wonderlike moontlikhede vir die prediking. Dit word egter nie hier herhaal nie. Die meeste preke oor hierdie Skrifgedeelte gebruik hedendaagse etiket rondom die maaltyd as die vertrekpunt van die preek. Die volgende preektitels illustreer hierdie tendens baie goed, ‘Manners of the Kingdom’; ‘The cream of the crop, or the skimmed milk of the earth?’; ‘Welcome to the party!’; ‘Mind your manners!’ Die preke poog dan om aan te toon hoedat die etiket van die koninkryk van God haaks staan op die etiket wat aan die orde is in ons sosiale strukture en praktyke. Die prediker kan veelvuldige voorbeelde in sy / haar eie konteks vind van aanvaarbare sosiale gedrag rondom maaltye en dan aantoon hoedat Jesus se koninkryksetiket dit relativeer. Dit is egter baie belangrik om God as die gasheer as organiseringsbeginsel te hê. Hieruit vloei dit voort dat ons nooit vir God kan terugbetaal vir sy gasvryheid (genade, verlossing ens) nie. Koninkryksetiket is om gasheer en gasvrou te wees soos wat God dit is: Gasvry sonder om iets terug te verwag aan mense van wie ons in elk geval beswaarlik iets kan terug verwag. Dit is die soort nederigheid waarvan Jesus in vers 11 praat en wat eintlik opkom vanuit die karakter van God soos verteenwoordig deur Jesus Christus.

Preekstudie

Iemand het gevra, “Etiket? ‘n Etiket is iets wat ‘n mens om ‘n lelike blik sit om dit ‘n bietjie beter te laat lyk.” Tóg weet ons dat etiket darem meer as dit behoort te wees. (Die prediker behoort eintlik ‘n blikkie met ‘n etiket daarom op die kansel te hê. Op die regte oomblik kan die etiket afgehaal word om die vaal ou blikkie te onthul! Later in die boodskap kan die blikkie weer gebruik word)

William Willimon, studenteleraar aan Duke Universiteit in die VSA, vertel hoedat hy die volgende lewensles geleer het by ‘n suksesvolle besigheidsman wat mense moes evalueer en aanstel in diens van die maatskappy: Kyk hoedat iemand eet en dit sal jou alles vertel wat jy wil weet van so ‘n persoon se karakter. Maniere is wat ‘n mens doen, nie vir jouself nie, maar uit agting vir ander. En dan vertel William Willimon die volgende verhaal ten koste van homself (met die tong in die kies!). “Ek het op ‘n stadium aansoek gedoen vir ‘n betrekking aan Yale Universiteit en daar is onderhoude met my gevoer. Die eerste aand het hulle my uitgeneem vir ete by Maury’s. Daar is ek toe van aangesig tot aangesig met vyf Yale professors. My gasheer sê ek móét eenvoudig die Franse Uiesop probeer, wat hy ook toe sommer namens my bestel. En toe kyk hy met ‘n dekadente genot hoedat ek die snelvuur vrae probeer antwoord oor hierdie boek en daardie teorie terwyl ek probeer om ‘n lepel deur die ondeurdringbare kaaskors te kry. As jy op ‘n manier deur die kaaskors breek, skiet dit sop oral oor jou. Toe probeer ek eet, en al wat ek regkry is om kos van bo tot onder oor my das en in my hare te kry. OK. Ek het nie die aanstelling gekry nie.”

Jesus het die mens só goed verstaan. En hy het ook verstaan dat mense se etiket rondom die etenstafel jou alles vertel wat jy wil weet van so ‘n persoon se karakter. Die etiket van hierdie wêreld het dikwels vir Jesus die geleentheid gebied om mense iets te leer van die koninkryk van God se etiket.

Blaai ons deur Lukas se evangelie, vind ons uit hoe dikwels ons Jesus aantref waar Hy aan tafel is, besig om ‘n maaltyd saam met mense te nuttig. En elke keer is die maaltyd ‘n geleentheid vir Jesus om sy luisteraars te leer van die koninkryk van God. Jesus is baie bewus van die feit dat sy tyd min raak. Hy is oppad na Jerusalem waar hy die beker van lyding moet drink, so nou leer hy andere van die lewe rondom die etenstafel. Dit is die sabbatdag en Jesus word deur ‘n Fariseër van alle mense genooi om saam met hulle te eet. Lukas het ons reeds by twee geleenthede vertel van Jesus wat maaltye saam met Fariseërs nuttig, en elke keer spat die vonke! Hierdie keer is die ete boonop op die sabbatdag. So ons verwag die ergste. Die ete begin sommer op ‘n slegte noot vir Jesus se gasheer toe hy ‘n siek man genees by sy huis – boonop op die Sabbatdag. Stel jouself die verleentheid voor! Het hierdie Jesus dan nie respek vir die Wet nie? Lukas vertel ons in vers 6 dat hulle almal maar stilgebly het. Miskien was dit nie baie betaamlik om by ‘n vooraanstaande Fariseër (vers 1) se huis te veel van ‘n ophef oor ‘n ding te maak nie. Maar die atmosfeer rondom die etenstafel is sommer klaar gespanne.

Natuurlik weet ons die belangrike Fariseër het nie vir Jesus uitgenooi omdat hy so baie van hom gehou het of omdat dit die in-ding was om Jesus by jou aan huis te hê nie. Lukas sê dat hulle vir Jesus fyn dopgehou het (vers 1). Hulle wou natuurlik iets teen hom kry wat tot sy ondergang kan lei. Maar Jesus het hulle nóg fyner dopgehou, want hy kom toe agter dat almal die voorste sitplekke aan tafel uitsoek. Jesus sien hoe hulle etiket werk. Daarom besluit Jesus dat dit die ideale geleentheid is om die gaste en die gasheer te leer oor die etiket wat werklik saakmaak en wat lewe gee: Die etiket van God se koninkryk. Jesus vertel vir hulle ‘n gelykenis.

Die prediker kan op hierdie punt die gelykenis oorvertel (vers 8-11). Dit kan aangevul word met ‘n meer kontemporêre weergawe: Dit laat my dink aan ‘n vrou wat by die onthaal van ‘n troue redelik ver van die bruidstafel gesit het. Toe een van die familielede na haar toe gaan en haar vra of sy vir haar ‘n beter plekkie kan kry, antwoord sy, “Nee wat, die bruidspaar se vriende behoort naby aan hulle te sit!” Later het die predikant by haar huisbesoek gedoen en daar bars sy woedend uit, “Ek het ten minste van die vader van die bruid verwag om my te kom vra om nader aan die bruidstafel te sit!”

So dikwels boemerang ons pogings om nederig te wees...omdat ons nie regtig so nederig wil wees nie. Ons sien dit net as ‘n ander manier om goed te lyk. Aanvanklik moes Jesus se gaste gedink het, “Skitterend! Wat ‘n uitstekende tegniek om nader aan die belangrikste gaste te sit! Al wat jy doen is om aanvanklik heel agter te gaan sit en binnekort behoort die gasheer jou uit te nooi om nader te skuif.” Die oomblik wat die gaste so begin dink het, het hulle reguit in Jesus se valstrik in geloop. En hy som dit die beste op, “Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word” (vers 11). Jesus ontmasker die gaste se tafeletiket. (As die prediker van ‘n blikkie gebruik maak, kan dit die ideale geleentheid wees om weer die etiket van die blikkie af te stroop.) Die hele ou spulletjie is toe nie so bedagsaam as wat dit gelyk het nie. Jesus konfronteer hulle wêreldse etiket wat op die uiterlike nakoming van sekere reëls geskoei is (soos die etiket wat ‘n lelike blik moet mooimaak) met die etiket van die koninkryk wat geskoei is op innerlike waardes van die karakter.

Deesdae hoor ons hoedat baie mense pleit vir goeie waardes in die samelewing. William Willimon haal sy vriend, Stanley Hauerwas aan, “Gebruikte motors het waardes, mense nie! Wat mense het is goeie gewoontes, gedrag, maniere. Wys my hoe iemand optree, in die kleinste alledaagse dingetjies, en dit vertel jou wat jy behoort te weet van dit wat die belangrikste is in so ‘n persoon se lewe.”

Vals nederigheid is geen nederigheid nie. Die beroemde Russiese skrywer Anton Chekov skryf in 1879 ‘n brief aan sy jonger broer waarin hy die verskynsel van vals nederigheid baie goed ontmasker. Hy het ‘n brief van sy broer ontvang waarin sy broer die brief onderteken met “van jou niksbeduidende, en obskure klein broertjie.”

“Weet jy,” antwoord Chekov, “voor wie jy jou niksbeduidendheid moet bely?” Hy gaan toe voort om sy eie vraag te beantwoord, “Voor God, as jy wil, voor intelligensie, skoonheid, die natuur, maar nie voor mense nie. Voor mense moet jy wys wat jy werd is. Jy is tog nie ‘n skurk nie, is jy? Jy is mos ‘n eerlike kêrel, nie waar nie? Wel, dan moet jy die eerlike mens in jou respekteer en erken as die eerlike mens wat nooit niksbeduidend is nie. Moenie die proses van jou selfaanvaarding verwar met die erkenning van jou niksbeduidendheid nie.”

Terug by die etenstafel. Hoe ‘n mens eet, vertel wie jy is. En ‘n kind van die koninkryk gaan nie bloot die uiterlike etiket van die etenstafel nakom omdat almal dit so doen nie. ‘n Kind van die koninkryk leef die koninkryksetiket wat diep uit die hart kom en nie terugbetaling verwag nie – soos wat die volgende episode aan die Fariseër se etenstafel illustreer.

Jesus praat nou met die gasheer. En weereens begin hy by die aanvaarbare sosiale gedrag. Dit was heeltemal korrek om jou vriende, broers, familie of ryk bure uit te nooi sodat hulle jou waarskynlik weer uitnooi om jou op dié manier te vergoed (eintlik werk dit nog presies dieselfde in ons eie samelewing!). Weereens sê Jesus eintlik dat die aanvaarbare etiket van die wêreld nie genoeg is in die lig van die koninkryksetiket nie. Van kinders van die koninkryk van God word méér verwag. “Nee, as jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het” (verse 13 en 14).

‘n Bietjie humor op hierdie punt is seker in orde. Stel jouself voor hoe so ‘n ete moet lyk waarheen armes, kreupeles, verlamdes en blindes genooi word. ‘n Amerikaanse Baptiste prediker (Dit is altyd goed om die omstrede stories aan iemand anders toe te skryf!) stel homself die toneel soos volg voor. “Alles is ‘n groot gemors. Hierdie mense het nie ons maniere nie. Hulle eet sommer met hulle hande, hulle slurp die sjampanje op. Die blinde ou steek sy vinger in die sopbak. Die kreupele struikel en mors rooi wyn op die bruid se rok. Die verlamde raak betrokke in ‘n bakleiery met die arm ou en probeer hom met sy wandelstaf slaan. Maar Jesus kyk na alles met ‘n glimlag op sy gesig, want hierdie mense is sy mense.”

Dit is duidelik dat ons etiek, ons etiket, werk met die beginsel van wederkerigheid. Ons doen iets vir ander mense as ‘n poging om hulle sover te kry om weer iets vir ons te doen. Jesus verkondig ‘n radikaal ander etiket – die etiket van die koninkryk van God. Die sleutel vir die verstaan van hierdie etiket is geleë in God se karakter en sy verhouding met ons. God is die eintlik gasheer. Ons is die gaste. Sy gasvryheid jeens ons is niks anders nie as sy genadige verlossing. En ons kan niks doen om dit te verdien nie. Ons is die armes, kreupeles, verlamdes en blindes. God as gasheer wys vir ons hoe ons gasheer en gasvrou behoort te wees. Doen die goeie sonder om enigiets terug te verwag.

Kom ons haal die etiket van die vuil blikkie af. Laat die mense ons maar sien soos ons is. Dit gaan in elk geval nie oor die voorkoms van die blikkie nie, maar oor die manier waarop die blikkie iemand kan dien. Wat wil die blikkie doen? Mooi lyk of bruikbaar wees? Immers, Jesus was die blikkie wat gedien het... en later weggegooi is op die ashoop. “...behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes en rykes met leë hande weggestuur” (Luk 1:53).

 

Bibliografie

Kommentare:

Craddock, FB 1990. Luke. Interpretation: A commentary for teaching and preaching. Louisville: John Knox Press. Evans, CF 1990. Saint Luke. TPI New Testament Commentaries. Londen: SCM Press. Fitzmeyer, JA 1985. The Gospel according to Luke (X – XXIV). The Anchor Bible. New York: Doubleday & Company Inc. Johnson, LT 1991. The Gospel of Luke. Sacra Pagina Series. Minnesota: The Liturgical Press. Marshall, IH 1978. The Gospel of Luke: A commentary on the Greek Text. The New International Greek Testament Commentary. Exeter: The Paternoster Press. Tiede, DL 1988. Luke. Augsburg Commentary on the New Testament. Minneapolis: Augsburg Publishing House.

Ander:

Durand, JJF 1996. Om te droom: Jesaja 65:13-25; Lukas 14:7-14; 2 Petrus 3:13, in Woord teen die Lig III/4: Riglyne vir die prediking oor die Christelike deugde. Kaapstad: Lux Verbi. Moessner, DP 1989. Lord of the banquet: The literary and theological significance of the Lukan travel narrative. Minneapolis: Fortress Press. Tannehill, RC 1986. The narrative unity of Luke-Acts: A literary interpretation. Volume 1: The Gospel according to Luke. Philadelphia: Fortress Press. Tannehill, RC 1986. The narrative unity of Luke-Acts: A literary interpretation. Volume 1: The Gospel according to Luke. Philadelphia: Fortress Press. Scheffler, EH 1991. Die teologie van die die Lukasevangelie in konteks: Bevryding uit lyding, in Roberts, JH et al (Reds), Teologie in konteks. Pretoria: Orion.