Lukas 13:10-17 (André Agenbag)

26 Augustus 2001

Elfde Sondag in Koninkrykstyd

 

Ander tekste: Jeremia 1: 4-10; Psalm 71: 1-6 of Jesaja 58: 9b-14; Psalm 103: 1-8; Hebreërs 12:18-29.

Teks en konteks

By verlede week (Die Tiende Sondag in koninkrykstyd) se uiteensetting van teks en konteks word daar verskeie opmerkings gemaak oor die Lukaanse reisverhaal (9:51:19:27) as die konteks waarbinne ook Lukas 13:10-17 verstaan moet word. Lesers kan dit gerus weer raadpleeg vir meer agtergrond.

Hierdie verhaal van die genesing op die Sabbatdag verskyn slegs in die Lukasevangelie en dit roep ‘n soortgelyke insident in 6:6-11 in herinnering. Die ruimte waarbinne hierdie genesing afspeel, asook die verskillende rolspelers verdien besondere aandag. Elliott (1991:4) het reeds baie oortuigend aangetoon dat Lukas die tempel en die sinagoge met al die agente wat dit verteenwoordig stel teenoor die huishouding en agente wat huishoudings verteenwoordig. Algaande word die tempel en sinagoges as die plekke waar God gedien word en teenwoordig is vervang deur die huishoudings as die ruimtes waarbinne God waarlik gedien word. Hierdie patroon word voortgesit in Handelinge.

Dit is opvallend dat hierdie unieke genesing wat slegs by Lukas te vinde is, die genesing van ‘n vrou is. Nie alleen is die sinagoge die ruimte waarbinne hierdie wonderverhaal afspeel nie, maar dit stel ook die verteenwoordiger van die godsdienstige status quo (die hoof van die sinagoge – ‘n man) teenoor iemand aan die heel ander kant van die godsdienstige spektrum (‘n vrou – boonop gebreklik). Daar is reeds dikwels aangetoon dat dit Lukas se plan is, “om die evangelie te teken as ‘n respons van Jesus op hierdie lyding met die oog op die opheffing of verligting daarvan, nie slegs deur God en Jesus nie, maar ook deur die hoorders van die Evangelie by wie hy poog om ‘n deernis vir die lydendes te wek” (Scheffler, 1991:62). En hier in Lukas 13:10-17 vind ons dat Jesus die lyding van iemand aan die verste uiteinde van die godsdienstige leer genees om daarmee in konflik te kom met iemand heel bo aan die leer.

Baie belangrik is Tannehill (1986:132) se waarneming dat Lukas dikwels van manlik-vroulike pare gebruik maak. ‘n Manlike karakter sal dus dikwels afgewissel word met ‘n vroulike karakter in dieselfde situasie. Uiteindelik wys Tannehill (1986:135) dat die twee genesings op die Sabbat (13:10-17 en 14:1-6) so ‘n paar vorm, alhoewel die een nie onmiddellik op die ander volg nie. Die twee genesingsverhale het heelwat in gemeen:

Beide is genesings op die Sabbatdag.

Beide karakters benodig genesing en word op dieselfde manier bekend gestel in die Grieks, “En daar was ‘n man/vrou...”

As verduideliking van sy genesing op die Sabbat, verwys Jesus in beide die verhale na die wyse waarop diere behandel word op die Sabbat.

Beide die verhale sluit af met verwysings na die skare wat óf skaam gekry het óf nie kon antwoord nie.

In die een verhaal (13:10-17) genees Jesus ‘n vrou en in die ander verhaal (14:1-6) genees Jesus ‘n man. Tannehill verduidelik dat hierdie dubbele patroon belangrik is omdat dit aantoon hoedat vroue deel in wat Jesus bied en dat vroue se ervaring ewe geldig is as toegang tot Jesus se boodskap.

Dit lyk asof die vrou nie na die sinagoge gekom het om genesing te ontvang nie. Dit is amper asof sy ongesiens wou inglip want in haar tyd het siekte vir die Jode gewys op groot sonde. Sy vra nie om genesing nie. Maar Jesus genees haar. Wanneer die hoof van die sinagoge sy ongelukkigheid oor die genesing uitspreek, rig hy sy opmerkings aan die skare. Hy is waarskynlik nie ontevrede met die plek waar die genesing plaasgevind het nie, maar met die Sabbatdag waarop dit gebeur het. Dit lyk asof hy beswaar maak op grond van die Joodse idee dat dade soos genesings nie op die Sabbat mag plaasvind nie, tensy lewe bedreig is. Die vrou het agtien jaar gely en kon sekerlik nog ‘n dag langer wag. Jesus se antwoord wys egter daarop dat die koninkryk van God nie sal wag nie. Jesus sien huigelary in die leier se opmerkings en veroordeel almal wat met hom saamstem. Heelwat word gemaak van die wyse waarop Jesus argumenteer. Die hele twisgesprek wat op die wonder volg is ‘n spel met die begrippe, ‘losmaak’ en ‘bind’.  Jesus lê die geweldige ironie bloot. Hy mag die vrou wat gebind was deur die Satan nie op die Sabbatdag losmaak nie, maar die mense mag hulle donkies wat aan die krip vasgebind is losmaak en weglei. Let op hoedat Jesus die vrou as ‘n kind van Abraham stel teenoor ‘n blote donkie om die ironie net verder te verhoog.

Smit (1987: 213-220) pleit dat die prediking van die wonders moet kennis neem van die breëre, sistematiese verbande waarin die kerk die wonders verstaan het en steeds probeer verstaan. Hy gee dan vier sulke verbande wat kortliks hier saamgevat word.

Die wonders moet verstaan word in verband met die koninkryk van God. Die wonders is tekens dat God se koninkryk reeds aangebreek het in Christus, maar terselfdertyd ook tekens dat dit vas en seker sal kom. In dié sin vervul die wonders primêr ‘n troostende of parakletiese rol.

Dit is verder belangrik om te onthou dat die koninkryk in Christus kom. Christus is die outobasileia, die koninkryk self, die koninkryk-in-gestalte. In sy persoon, woorde, werke, lewe en lot, breek die koninkryk aan. In dié sin vervul die wonders primêr ‘n missionêre, getuigende, werwende of geloofskeppende rol.

In die wonders word iets van die aard of karakter van die koninkryk van God sigbaar. Die wonders openbaar nie slegs die feit dat die koninkryk kom nie, maar ook iets van hoe die koninkryk is. Dit is die koninkryk van genade, goedheid, liefde, heil en vreugde. Die wonders moet eintlik gesien word as paradigmas van God se genade. In die wonders leer ons hoedat Jesus alle mense sien in die skaduwee van die dood en wil Hy hulle daaruit bevry. Hierin word dit duidelik hoedat God Homself skaar aan die kant van die lydende mens. Wat die aanskouers en hoorders die meeste beïndruk, is dus nie die aanskoulikheid of die bonatuurlikheid nie, maar die goedheid. In dié sin vervul die wonderverhale tegelyk ‘n vreugdevolle en voorbeeldig-inspirerende rol.

Die wondervertellings demonstreer ook die wyse waarop die koninkryk ontvang word. Die aard van geloof kom telkens ter sprake. In dié sin vervul die wonderverhale ‘n pastorale of geloofversterkende rol.

Uit die derde sistematiese verband hierbo word dit duidelik dat Lukas 13:10-17 wonderlike moontlikhede inhou om die aard of karakter van die koninkryk van God sigbaar te maak. En in Lukas 13:10-17 skaar God Homself inderdaad op ‘n besondere manier aan die kant van die lydende mens. Vir die prediking van hierdie gedeelte is dit die moeite werd om kennis te neem van Walter Brueggemann se perspektief op die teks as ‘kontrateks’.  Hiermee maak Brueggemann dit moontlik om die deurbreek van die koninkryk van God in wonderverhale soos dié een in Lukas 13:10-17 vir die prediking (en die ‘gewone’ leser / luisteraar) toeganklik te maak.

Brueggemann (1994:13) skryf oor die rol van verbeelding as die menslike vermoë, ‘to picture, portray, receive, and practice the world in ways other than it appears to be at first glance when seen through a dominant, habitual, unexamined lens.’ Die mens se verbeelding is ‘n geldige manier om te ken. Só voorsien die Skrif dan ‘n paradigma waarmee gelowiges hierdie verbeelding beoefen. Hier is dit verhelderend om te dink aan Paulus se oproep aan Christene in 1 Korintiërs 7:29-31 om te lewe as of... ‘The problem with “as if” is that the phrase clearly acknowledges that the practice of faith is contrary to fact. That is, act other than life really is’ (1994:14). Wanneer Paulus die gelowiges dan oproep om te lewe “as of’ hulle vry is van die sorge van die wêreld, bedoel hy dat hulle hul status as vry mense moet aanvaar om dan daarvolgens te leef – al word mens volgens jou stand in die samelewing as ‘n slaaf omskryf.

Hierdie ‘as of’ het twee funksies. Enersyds vervul dit ‘n kritiese, negatiewe funksie. Dit verwerp as vals die ‘as of’ wat tot nou toe as algemeen waar aanvaar is. Andersyds vervul dit ‘n positiewe funksie. Dit bevestig ‘n nuwe ‘as of’ en maak eintlik daarvan ‘n ‘is’. ‘It accepts an alternative construal of reality as a legitimate and valid one, thereby displacing another “as” that is the imposed work of some other act of imagination’ (1994:14).

Die gebreklike vrou se sosiale konteks het haar anders omskryf – as gebreklik, disfunksioneel en waardeloos. Sy het hierdie ‘as of’ oor haar lewe aanvaar en daarmee saam geleef. Lukas 13:10-17 is ‘n ‘kontrateks’ in dié sin dat dit Jesus uitbeeld as die een wat haar ou ‘as of’ bestaan teenstaan en haar werklikheid anders verbeel. Sy aanvaar hierdie kontra-uitspraak oor haar lewe en “...sy het onmiddellik regop gestaan en God begin prys” (vers 13). Jesus weier om die gegewe werklikhede van die samelewing te aanvaar en verwoord ‘n ander werklikheid. Die nuwe ‘as of’ wat Jesus oor haar lewe uitspreek is, “...hier is ‘n vrou, ‘n kind van Abraham...” Jesus gee haar ‘n ander identiteit. Haar ‘as of’ word ‘n nuwe ‘is’.  Dit is hier waar die deurbreek van die koninkryk van God sigbaar word. Dit is die ‘kontrateks’.

Preekvoorstel

‘n Preek oor Lukas 13:10-17 behoort erns te maak met die vrou se genesing as teken van die inbreek van die koninkryk van God haar lewe. Hierdie preekstudie wil fokus op die naam wat Jesus uiteindelik aan die vrou toeken na hy haar genees het, ‘dogter van Abraham’. Die naamgewing simboliseer dan die inbreek van die koninkryk in die vrou se lewe op ‘n baie konkrete manier. Haar ‘naamsverandering’ vertel van haar verandering in status. Sy verander van ‘n blote gebreklike vrou heel onder aan die sosiale leer na ‘n ‘dogter van Abraham’ wat deel in al die beloftes en voorregte van die volk van God.

Die preek kan begin met ‘n beeld wat die belang van name illustreer:

Die jong paartjie was besig om doelgerig te blaai deur ‘n boek met lang lyste name, hulle oorspronge en betekenisse. Hulle verwag ‘n baba en hulle weet dat hulle keuse van ‘n naam baie kan beteken vir hulle kind. Ons almal het vriende wat ons baie moeilik kan indink met ander name. En tog kies ons nie self ons name nie. Ons ouers kies dit vir ons. En dan groei ons as ’t ware in daardie name in. Veral vroeër jare toe mense nog baie graag familiename uitgedeel het, was dit asof die draer van die familienaam gegroei het in ‘n sekere soort karakter in: Hy is nou ‘n regte Johannes Cornelius. Dit is veral wanneer dit by byname kom dat ons besef dat ons nie self ons name kies nie. Ons name kies ons. Dikwels is dit name wat ons hoegenaamd nie vir ons self sou kies nie. Soms word hierdie name gekies uit liefde vir iemand en soms om seer te maak. Wie ken nie iemand wat as volwassene vir jou ‘n storie sal vertel wat soortgelyk is aan die volgende nie? Hy vertel jou hoedat hy ‘Vettie’ genoem is op skool en toe alles in sy vermoë gedoen het om tog net nooit weer oorgewig te lyk nie. En wanneer jy na sy storie luister, besef jy dat daar baie seerkry in sy bynaam opgesluit was. Dit maak ‘n verskil wat ons genoem word. ‘Give a dog a bad name and he’ll hang himself,’ lui die bekende Engelse spreuk.

Vandag se verhaal vertel van ’n vrou. In my Bybel word sy in die opskrif ‘n naam gegee: ‘’n gebreklike vrou’. In ‘n ander vertaling word sy ‘the bent woman’ genoem. Hoe sal jy daarvan hou om só verewig te word in die Bybel? “Sy was krom getrek en kon glad nie meer regop kom nie” (vers 11). Sy word nie ‘n naam gegee nie. Waarskynlik het sy die straat af geloop met haar krom liggaam en dan het mense nie gesê, “Hier kom Hester” of “Kyk daar loop Maria” nie. Hulle het gesê, “Hier kom daardie krom vrou, die gebreklike een”.

Dit was asof daardie vrou se hele bestaan opgeneem was in haar naam. Haar naam het vertel wat haar verlede is en, ongelukkig ook, wat haar toekoms sou wees. Die enigste naam wat hierdie vrou het, is een aan haar gegee deur die dorpsmense, en dit is ‘n naam geskoei op haar gebrek. Sy beskik oor geen ander identiteit nie as dié van ‘n slagoffer.

Hierdie vrou is daar vir almal wat gebukkend gaan onder soortgelyke name: Sy is ‘net ‘n dronklap’, ‘gebreklik’, ‘stadig’, ‘stupid’, ‘’n nerd’, ‘vreeslik oorgewig’, ‘blind soos ‘n mol’, ‘plain net kommen’.  Sy word raakgeloop deur Jesus. En kyk hoe Jesus na haar verwys. Hy genees haar en dit is wonderlik. Vir die eerste keer in haar volwasse lewe kan sy weer regop staan, reguit vorentoe kyk en herstel word tot ‘normaal’. Maar net so wonderlik is die manier waarop Jesus met haar praat, wat hy oor haar sê. Hy noem haar nie gebreklik, gestremd, abnormaal of ‘n slagoffer van die onreg van die lewe nie. Jesus vind dit hoegenaamd nie nodig om haar ‘n professionele slagoffer te maak sodat haar gebrek haar hele lewe omskryf nie. Jesus noem haar, ‘dogter van Abraham’.  Dit is baie betekenisvol. Maar wat beteken dit? Wie was Abraham? Abraham was die groot-groot oupagrootjie van Israel. Abraham was die een aan wie ‘n belofte op ‘n sterbeligte nag gemaak is. God het belowe om ‘n groot nasie uit Abraham voort te bring, ‘n nasie waardeur al die nasies van die aarde geseën sou word.

Wanneer die vrou ‘n nuwe naam kry, word dit duidelik dat die koninkryk van God nou ‘n werklikheid geword het in haar lewe. ‘n Nuwe werklikheid, die koninkryk van God, is oor haar lewe uitgespreek en dit is tot seën van almal wat daar was en daarna daarvan kon getuig.

Hierdie vrou is ‘n dogter van Abraham. Sy is ‘n erfgenaam van God se seëninge. Meer nog: as dogter van Abraham word sy ook geroep om tot seën van die hele wêreld te wees. Sy is bedoel om meer te wees as wat haar naam op so ‘n kru, oppervlakkige en beperkende manier tot nou toe van haar gesê het. Sy is, as ‘n gebuigde mens, deel van God se groot verlossing van die hele wêreld.

Sy staan regop. Selfs as haar rug nie deur Jesus genees is nie, sou sy regop kon staan. Haar lewe is nou opgeneem in God se beloftes aan die wêreld. Haar lewe het ‘n nuwe naam gekry, nie meer as ‘n lang verhaal van onreg, hartseer en beperkings nie, maar as deel van die groot drama van God se verlossing. Kom ons onthou haar nie as net nog ‘n hartseer slagoffer nie, maar as ‘n dogter van Abraham.

Jesus wil vir jou en my ook nuwe name gee. Hy wil nie hê dat ons moet toegee aan die name wat die wêreld op ons lê nie. Julle is kinders van Abraham. Jou lewe is bedoel om iets te beteken. Jou lewe het ‘n rol om te speel op die verhoog van God se groot verlossingsdrama.

Dit is waarom ons in die kerk die naam van ons kindertjies noem wanneer ons hulle doop. En dan, alhoewel die ouers die kind ‘Nadia’, ‘Johan’ of ‘Marietjie’ noem, lê ons nou op daardie kind ‘n baie meer bepalende en onthullende naam: ‘Christen’. Ons voorspel dat daardie kind se lewe ‘n lang verhaal gaan wees waarin hy / sy sal ingroei in daardie naam, sal inleef in God se genadige droom vir ons.

Fred Craddock vertel van ‘n ontmoeting wat hy gehad het met iemand in ‘n restaurant.

“Is jy ‘n prediker?” vra die man.

Ietwat verleë antwoord Fred, “Ja.”

Die man trek ‘n stoel nader en kom sit aan Fred se tafel. “Prediker, ek sal jou ‘n storie vertel. Daar was eendag ‘n jong seun wat baie hartseer grootgeword het. Die lewe was baie moeilik want my ma het my gehad sonder om ooit getroud te wees. Weet jy hoe ‘n klein dorpie in die staat Tennessee sulke mense verwerp? Weet jy wat julle kinders noem wat nie ‘n pa het nie? Wel, ons het nooit kerk toe gegaan nie. Niemand het ons in elk geval ooit saamgenooi nie. Maar om een of ander rede het ons een nag die kerkie besoek toe daar ‘n soort herlewingsdiens was. Daar was so ‘n groot, lang prediker, aangetrek in ‘n swart pak, wat die spreker was. Hy het die klein kerkie behoorlik geskud met sy bulderende stem. Ons het heel agter gesit, Ma en ek. Ek kan nie eens onthou presies waaroor die prediker gepreek het nie. Na die diens toe ons by die agterdeur wil uitglip, voel ek die groot prediker se hand op my skouer. Ek was baie bang. Hy het afgekyk na my, my in die oë gekyk en gesê:

‘Seun, wie is jou pa?’

‘Ek het nie ‘n pa nie,’ het ek met ‘n bewerige stemmetjie geantwoord, ‘Ek het nie ‘n pa nie.’

‘O ja, jy het,’ bulder die groot prediker, ‘jy is ‘n kind van die koninkryk, jy is duur gekoop, jy is ‘n kind van die Koning!”

‘Daarna was ek nooit weer dieselfde dieselfde nie. Prediker, preek dit.’

Die man het sy stoel weggetrek, sy hand uitgesteek na Fred en homself bekend gestel. Fred Craddock sê die naam het ‘n klokkie gelui. Hy was die legendariese oud-goewerneur van die staat Tenessee.

Jy is ook ‘n seun of dogter van Abraham. Jou naam, wat ookal mense jou mag noem, is ‘Christen’.  Staan regop, leef nou so. Gaan in vrede.

 

Bibliografie

Kommentare:

Craddock, FB 1990. Luke. Interpretation: A commentary for teaching and preaching. Louisville: John Knox Press. Evans, CF 1990. Saint Luke. TPI New Testament Commentaries. Londen: SCM Press. Fitzmeyer, JA 1985. The Gospel according to Luke (X – XXIV). The Anchor Bible. New York: Doubleday & Company Inc. Johnson, LT 1991. The Gospel of Luke. Sacra Pagina Series. Minnesota: The Liturgical Press. Marshall, IH 1978. The Gospel of Luke: A commentary on the Greek Text. The New International Greek Testament Commentary. Exeter: The Paternoster Press. Tiede, DL 1988. Luke. Augsburg Commentary on the New Testament. Minneapolis: Augsburg Publishing House.

Ander:

Brueggemann, W 1994. Texts under negotiation: The Bible and postmodern imagination. Minneapolis: Fortress Press. Elliott, JH 1991. Temple versus household in Luke-Acts: A contrast in social institutions. (Toe nog) Ongepubliseerde referaat by die Universiteit van Port Elizabeth se Departement Nuwe Testament. Dié geskrif is later gepubliseer in: Neyrey, JH 1991. The social world of Luke-Acts: Models of interpretation. Peabody: Hendrickson. Tannehill, RC 1986. The narrative unity of Luke-Acts: A literary interpretation. Volume 1: The Gospel according to Luke. Philadelphia: Fortress Press. Scheffler, EH 1991. Die teologie van die die Lukasevangelie in konteks: Bevryding uit lyding, in Roberts, JH et al (Reds), Teologie in konteks. Pretoria: Orion. Smit, DJ 1987. Die prediking van die wonderverhale in die evangelies, in Woord teen die Lig II/2: Riglyne vir die prediking oor die gelykenisse en wonderverhale. Kaapstad: Lux Verbi.