Lukas 12:49-56 (André Agenbag)

19 Augustus 2001

Tiende Sondag in Koninkrykstyd

 

Ander tekste: Jesaja 5:1-7; Psalm 80:1-2; 8-19 of Jeremia 23:23-29; Psalm 82; Hebreërs 11:29-12:2

Teks en konteks

Die drie Skrifgedeeltes vir die volgende drie Sondae in koninkrykstyd is almal Lukastekste (12:49-56; 13:10-17; 14:1,7-14). Kortliks ‘n geheeloorsig van Lukas se verhaal: Na die proloog (1:1-4:13), volg ‘n beskrywing van Jesus in Galilea (4:14-9:50), waarna die reisverhaal (9:51-:19:27) Jesus se weg na Jerusalem skets. Die Lukasverhaal vertel dan van Jesus in Jerusalem (19:28-24:53), waarvandaan die opvolgverhaal (Handelinge) wegspring om uiteindelik in Rome te eindig.

Dié drie evangelielesings (soos ook die vorige twee Sondae se Skrifgedeeltes uit Lukas) val in die sentrale gedeelte van die evangelie volgens Lukas, bekend as die Lukaanse reisverhaal (9:51-19:27). Dit spreek vanself dat om 12:49-56 te lees binne die verband van hierdie reisverhaal (9:51-19:27) van deurslaggewende belang is vir ‘n goeie verstaan van die teks.

Die vraag is of daar hoegenaamd ‘n soort organiserende beginsel is waarvolgens die reisverhaal verstaan kan word. In ‘n uitstekende studie van die Lukaanse reisverhaal, ‘Lord of the banquet: The literary and theological significance of the Lukan travel narrative,’ worstel David Moessner met hierdie vraagstuk. Moessner (1989:2) wys daarop dat bykans die hele reisverhaal bestaan uit Jesuswoorde en dat dit grootliks gestruktureer en gekomponeer is op grond van die Jesuswoorde. Vraag is, verduidelik Moessner, of daar hoegenaamd ‘n soort koherensie is aan die reisverhaal en of dit maar bloot ‘n klompie los insidente is wat rondom die Jesuswoorde aanmekaar geplak is. Aangesien die reisverhaal ongeveer 40% van die Lukasevangelie beslaan, sal die hele Lukas-Handelinge met die reis vanaf Galilea na Jerusalem, na Rome en die uiteindes van die aarde ‘n geslote boek bly tensy hierdie raaisel opgelos kan word.

Die sleutel om die reisverhaal oop te sluit, sê Moessner, is geleë in 9:51-10:24 waar Jesus en die dissipels uitgebeeld word as reisende gaste wat afhanklik is van huise en huishoudings om hulle te ontvang, te huisves en te voed op hul reis na Jerusalem. Die hele reisverhaal is deurtrek van taalgebruik wat verwys na gasvryheid aan reisigers. Hierdie tendens word dan voortgesit in die res van die reisverhaal. Sentrale begrippe is gasvryheid, huise, huishoudings, eet en drink, die dien en ontvang van gaste, eenheid in huishoudings ens.

Vanuit ‘n ander hoek het Elliott (1991:4) reeds baie oortuigend aangetoon dat Lukas die tempel en die sinagoge teenoor die huishouding stel. Dit beteken egter ook dat almal wat die tempel en sinagoge verteenwoordig, gestel word teenoor almal wat huishoudings verteenwoordig. Algaande word die tempel en sinagoges as die plekke waar God teenwoordig is en gedien word vervang deur die huishoudings. Hierdie patroon word voortgesit en geïntensifiseer in Lukas se opvolgverhaal Handelinge. Só begin Handelinge sommer gou met ‘n verwysing na tafelgemeenskap (1:4) asook die bovertrek as ruimte wat gelowiges soos ‘n huishouding saam bid (1:13).

Aangaande huishoudings het Lukas dus baie te sê. In 1:17 word na Johannes se roeping verwys, “om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here ‘n volk voor te berei.” Hierteenoor word Jesus se roeping by monde van Simeon (2:34, 35) uitgespel as, “bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word. So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom.” Ook in Lukas 14:26 sê Jesus onomwonde, “As iemand na my toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe.” Wanneer Jesus egter in 12:51 vra, “Dink julle dat Ek gekom het om vrede op aarde te bring?” verwag hy dat die dissipels hierop onomwonde, ja, sou antwoord. Omdat Jesus só ‘n antwoord verwag, antwoord Hy, “Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid.” Die dissipels het inderdaad voortydige eskatologiese verwagtings gehad. Hulle word voorgestel as mense wat die onmiddellike vervulling van die beloftes van verlossing verwag en ook begeer sonder om lyding en verwerping inag te neem.

Hier het ons dus ‘n oënskynlike teenstelling. Enersyds wys Elliott (1991: 25) hoedat in Lukas-Handelinge hierdie patroon van, ’domestic relations, and the intimacy and solidarity it presumes, serves as the decisive model for the identity and ethos of the Christian community as a whole.’  Andersyds vind ons dat Jesus se koms selfs hierdie huishoudings verdeel. Dit is duidelik dat hierin ‘n belangrike eksegetiese sleutel geleë is.

Jesus bring dus verdeeldheid. En Hy bring verdeeldheid tot in die hartjie van die sosiale strukture van al sy hoorders. Dit word duidelik as ons na die onmiddellike konteks kyk waarbinne 12:49-56 val. Lukas 12: 49-56 val eintlik in twee perikope uiteen, te wete verse 49-54 en 55-56. Verskeie geleerdes plaas verse 57-59 saam met hierdie twee perikope omdat hulle eintlik ‘n soort geheel vorm. Die eerste perikoop (verse 49-54) skets Jesus oorwegend in gesprek met die dissipels, terwyl die tweede perikoop (verse 55-56) Jesus se hoorders grootliks as die skare identifiseer (Marshall, 1978: 545). Craddock (1990:166) se opskrif vir hierdie drie perikope is, ‘Concerning the crisis created by Jesus’ ministry.’ Craddock meen ook dat al drie hierdie perikope dit in gemeen het dat hulle die kritieke teenwoordigheid van Jesus uitbeeld wat lei tot, ‘’n val en opstanding van baie…’ (vgl. Luk 2:34). Daarom verdeel die koms van Jesus selfs die huishoudings. Ook Marshall se opskrif verwys na hierna: ‘The coming crisis.’  Ander kenners sien die oordeel weer as sentraal, alhoewel dit eintlik maar op dieselfde neerkom: ‘The coming judgement’ (Goulder), ‘The time of judgement’ (Tiede).

Die vraag is hoedat hierdie verdeeldheid wat Jesus bring, verstaan moet word, want dit is duidelik dat ons hierin die skopus van 12:49-56 vind. Hieruit sal moontlike preke oor die Skrifgedeelte ook vloei. Lukas 12:52 is ‘n aanhaling uit Miga 7:6. Dit is egter opvallend dat Miga se verdeelde familie bestaan uit die jonger geslag (seun, dogter, skoondogter) wat opstandig is teenoor die ouer geslag (pa, ma, skoonma). Lukas se verdeelde huishouding is egter wedersyds opstandig: Die verskillende generasies teenoor mekaar. Miskien sal die verdeeldheid beter verstaan word as verse 49 en 50 enersyds, en verse 55-56 andersyds, van nader beskou word.

Jesus wens dat die vuur wat hy op aarde kom aansteek het al aan die brand was (vers 49). Lukas maak baie van Jesus as profeet en hierdie is ‘n sinspeling op die profeet Elija wat met vuur opgetree het teen die Baälprofete (1 Kon 18:36-40) asook die soldate van koning Ahasia (2 Kon 1:10,12, 14). Verder verwys Hy na die doop waarmee Hy gedoop moet word (vers 50). Hierdie twee verse is parallel aan mekaar (Tannehill, 1986: 251) en wil dieselfde boodskap kommunikeer: Wat die vuur vir die res van die wêreld is (vers 49), is die doop vir Jesus (vers 50). Beide hierdie beelde asook die verdeeldheid in die huishouding verwys na die vernietiging en oordeel wat Jesus sal veroorsaak. Hierdie verdeeldheid is deel van die krisis wat Jesus bring as die een wat lei tot, ‘’n val en opstanding van baie…’ (2:34). Hierdie krisis sal ‘n hoogtepunt bereik in die passie van Jesus in Jerusalem.

Craddock verduidelik dan dat ‘krisis’ nie verwys na ‘n soort noodsituasie nie, maar na die oomblik van waarheid en die daarmee gepaardgaande beslissingsmoment wat vereis word: Jesus is die krisis (oordeel) van die wêreld. ‘According to these sayings, God is so acting toward the world in Jesus of Nazareth that a crisis is created, that is to say, Jesus is “making a difference,” even within families. Peace in the sense of status quo is now disrupted’ (Craddock, 1990:16). Dit is hierdie kritieke teenwoordigheid van Jesus wat sy aanvanklike hoorders, die eerste lesers van die Lukasevangelie en ook ons as sekondêre lesers, oproep tot ‘n beslissing. Dit is onmoontlik om neutraal te staan tot hierdie teks. Dit vereis ‘n respons. Marshall (1978:546) sien hierin ‘n verwysing na die periode waarbinne Lukas se eerste lesers hulleself bevind het. Die kerk is onder vervolging en so ‘n tyd word gekenmerk deur beslissings waardeur mense deel word van die kerk van Christus. ‘The saying is thus in effect a call for men to join the ranks of the faithful servants before its too late.’

Daarom verwys Jesus na die skare as huigelaars in verse 55-56. Die mense beskik almal oor die vermoë om die natuur se tekens korrek te interpreteer. En tóg kan hulle nie die tye beoordeel nie. Jesus sê eintlik vir hulle dat hulle die tye kan beoordeel maar dat hulle verkies om dit nie te doen nie. Daarom is hulle huigelaars. Hierdie is mense wat reeds hulle beslissing gemaak het in die kritieke teenwoordigheid van Jesus.

Jesus roep sy hoorders dus op tot bekering voordat dit te laat is. Jesus se woorde het beslis ‘n profetiese dringendheid en passie. Die effek van sy roeping en missie is nie die soort vrede wat huishoudelike vrede onverstoord laat nie. Trouens, die doel van die profetiese uitdaging is juis om mense te verdeel. En hierdie verdelings word veroorsaak deur die verskillende soorte beslissings wat gemaak word in reaksie op die Profeet Jesus en sy boodskap aangaande die koninkryk van God.

Daar is deesdae talle webwerwe op die Internet wat preke voorsien volgens die Revised Common Lectionary se kalender. Deeglike soektogte na webwerwe van predikers uit verskillende kerklike tradisies lewer verrassende resultate op. Uit ‘n soektog wat 11 relatief goeie preke oor Luk 12:49-56 opgelewer het, is daar veral drie invalshoeke wat in die prediking oor hierdie teks gevolg word. Van die titels word ook hieronder weergegee omdat dit die hartklop van so ‘n preek goed saamvat. Uiteraard is daar oorvleuelings tussen die drie moontlikhede.

‘n Eerste invalshoek is om mense se opvatting van Jesus as ‘n goedige, ‘liewe’ Jesus aan te vat. Die preek wys dan hoedat Jesus in Lukas 12:49-56 op ‘n radikaal ander manier as die ‘liewe Jesus’ van ons kindertyd geskets word. Debra Brazzel van die Duke Universiteitskapel se preektitel vir só ‘n preek is, ‘The God of fire.’ Vanuit ‘n verstelde uitsig op Jesus beweeg Brazzel dan na die tema van God se oordeel soos wat so dikwels in die Bybel met vuur uitgebeeld word. Die vuur van God se oordeel verdeel en oordeel, maar altyd met die doel om te transformeer. Die vuur wat verdeel is ook die vuur wat verenig. Waar Christus se woorde verwerp word is daar verdeeldheid en oordeel, maar waar dit aangeneem word verenig die vuur. Deur God se vuur word ons aan God gebind soos wat verskillende soorte metaal aan mekaar gebind word deur die hitte van ‘n warm vuur.

‘n Tweede benadering is om huishoudings te neem as uitgangspunt.  Ned. H Benson van die St John’s Presbiteriaanse Gemeente se preektitel is, ‘Jesus’ strange family values.’ Daar kan begin word deur te verwys na die belangrike rol wat huishoudings, families of gesinne in die hedendaagse samelewing speel. Hierdie verskynsel kom ooreen met die geweldig sentrale rol wat die familieverband gespeel het binne die Joodse samelewing. Benson wil in sy preek wys hoedat dit in Lukas 12: 49-56 nie gaan oor families as sodanig nie maar eerder oor hoe familielede reageer op die koninkryk van God. In aansluiting by Lukas 14:26 wys Benson hoedat ware familie nie bloedfamilie is nie, maar familie in Christus. Nie die kerk, die koninkryk of die evangelie bestaan ter wille van die familie nie. Veeleerder bestaan die familie om dissipelskap en familietoewyding aan Christus en die koninkryk te bevorder. Eenheid in families is dan ‘n neweproduk van die regte prioriteite – wat gesetel is gehoorsame toewyding aan Christus.

‘n Derde perspektief op die teks plaas die rol van die geloofsbeslissing of keuse sentraal in die preek. Onder teks en konteks hierbo is daar reeds gewys op die sentrale belang van die geloofsbeslissing in Lukas 12:49-56. Eintlik behoort die geloofsbeslissing in enige preek uit hierdie perikoop op ‘n sentrale manier aan die orde te kom. John C Lentz van Forest Hill Presbeteriaanse Gemeente se preektitel is, ‘The crisis of decision.’ Fred Craddock het ‘n baie mooi beeld vir hierdie soort beslissing. Hy praat van twee reëndruppels wat ‘n huis se gewel tref. Die verdeling wat op daardie oomblik plaasvind kan veroorsaak dat die twee druppels in twee verskillende oseane eindig. Net so vereis Jesus (as krisis) ‘n geloofsbeslissing wat radikaal verskillende uitkomste tot gevolg het.

Preekvoorstel

In hierdie preekvoorstel word die eerste en derde invalshoeke hierbo gekombineer.  Só ‘n preek kan beweeg van ‘n verstelling van die Jesusbeeld na die geloofsbeslissing wat die kritieke teenwoordigheid van hierdie Jesus uiteindelik vereis.

 

Dink aan die mees onwaarskynlike ding wat iemand kan sê:  (Die prediker kan gerus dink aan ‘n paar aktuele onwaarskynlikhede in sy/haar eie tyd en konteks. Hier volg ‘n paar voorstelle.)

Tiener: “Ma, ek dink regtig dat ek nie volwasse genoeg is om eers teen middernag terug te wees nie. Sal Ma nie asseblief ons klokreël na elfuur verander nie?”

Ontvangsdame: “Gaan reguit na kamer 3. Die dokter wag al vir u.”

Motorwerktuigkundige: “Dit gaan BAIE minder kos as wat ek gedink het.”

Koningin Elisabet II: “Ons stel voor dat die monargie beëindig word.”

Uiteindelik, Jesus Christus: “Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek…Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid…vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder.”

Die deel oor Jesus klink net so onwaarskynlik (of meer!) as die ander onwaarskynlike gesprekke. En tog, volgens Lukas hét Jesus dit gesê. Maar op ‘n manier klink dit net nie reg nie. Dit klink nie na die Jesus wat ons ken nie. Dié Jesus wat ons van kleins af leer ken het as ‘liewe Jesus.’  Vir baie van ons is Jesus iemand wat sagmoedig en goedig is. En tóg word Jesus hier uitgebeeld as die een wat gekom het om vuur op die aarde aan te steek. En boonop om nie vrede nie, maar verdeeldheid op aarde te bring. En dit maak van Lukas 12:49-56 eintlik ‘n baie ongemaklike Skrifgedeelte. Só ongemaklik dat dit ingesluit word in die boek van die vermaarde Nuwe-Testamentikus, FF Bruce, ‘The hard sayings of Jesus.’

Miskien het ons ‘n beeld van God geskep waarmee ons kan maak wat ons wil. ‘n Beeld van God as ‘n ‘liewe’ Jesus wat ons kan manipuleer en beheer. ‘n Beeld wat God voorstel as ‘n lekker, beheerbare, liefdevolle God wat ons laat doen net wat ons wil – wat ons soms miskien so ‘n bietjie oor die vingers tik, maar altyd sag en goedig.

Iemand het op ‘n keer geskryf van, ‘the domestication of God’ – die ‘makmaak’ van God. Ons het God – met respek gesê – as ’t ware ‘mak gemaak’ met die mak beelde waarmee ons na God verwys.

Maar Lukas beeld vir ons hier ‘n God uit wat breek deur al ons mak beelde. In hierdie Skrifgedeelte word ons gekonfronteer deur ‘n Jesus wat spreek en optree in krag en met oordeel. Hierdie Jesus is nie ‘n mak, veilige en gemaklike God wat deur ons beheer kan word nie. Hierdie Jesus se teenwoordigheid is kritiek – só kritiek dat dit selfs huishoudings verdeel. Hierdie Jesus begeer dat ‘n oordeelsvuur aangesteek word. Hierdie prentjie wat Lukas van Jesus skets is vir baie van ons verrassend.

Dit laat ‘n mens dink aan ‘n toneel uit C.S Lewis se boek, ‘The Lion, the witch and the wardrobe.’ Die verhaal gaan oor twee kinders se reis na ‘n wonderwêreld. In hierdie wêreld is daar ‘n leeu met die naam, Aslan wat C.S Lewis gebruik om na Christus te verwys. Vroeg reeds hoor een van die kinders van Aslan. Susan vra, “Is dit veilig by hom? Ek voel bang om ‘n leeu te ontmoet.”

“Jy sal maar bang voel, liefie, en moenie ‘n fout maak nie,” sê Mev. Bewer, “as daar enigiemand is wat voor Aslan kan verskyn sonder dat hulle knieë bewe, moet hulle dapperder wees as baie of dalk net baie dom.”

“So, dan is dit nie veilig nie?” vra Lucy.

“Veilig?” sê Mev. Bewer. “Wie het enigiets van veilig gesê? Natuurlik is dit nie veilig by hom nie. Maar hy is goed. Hy is die Koning, sê ek jou.”

Hierdie God kan ons nie manipuleer nie. Hy is die Een wat met vuur kom. Regdeur die Bybel is vuur ‘n baie betroubare teken van die teenwoordigheid van God. God praat met Moses in ‘n brandende bos; ‘n vuurkolom begelei die volk Israel deur die nag en wanneer Moses die berg Sinai opgaan om die tien gebooie te ontvang begin die berg rook toe die Here in vuur daarheen afkom.

Vuur – gevaarlik, onvoorspelbaar, kragtig – Jesus sê dat hy gekom het om vuur op die aarde aan te steek. Wat beteken dit om gekonfronteer te word deur die God wat vuur bring? In die teenwoordigheid van vuur word skaduwees teruggedruk om dit wat verskuil word te onthul. Die waarheid oor die lewe, ook oor ons, word duidelik. Elke deel van ons menswees word bekend vir wat dit is. In die lig van die vuur word ons geken en geoordeel.

Jesus vra die dissipels ‘n vraag, “Dink julle ek het gekom om vrede op aarde te bring?” En hy antwoord die vraag ook sommer self, “Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid…” Daar is geen manier om die oordeel van Jesus te ontvlug nie. Hy het gekom om te bepaal wie is aan sy kant en wie is nie. En hierdie vuur van oordeel dring ook die kleinste sosiale eenheid van ons samelewing binne: die gesin. Dit is verskriklike woorde wat daar in verse 52 en 53 geskrywe staan. Ons verwag tog dat die gesin dié plek is waar daar eenheid sal wees. En tog: Die teenwoordigheid van Jesus skep ‘n krisis. ‘n Krisis wat vra om ‘n beslissing. Meer nog: Dit is ‘n krisis wat ‘n geloofsbeslissing eis. Hierdie vuur van God ontmasker ons. Dit is die vuur waarmee God ons wil transformeer. Soos wat goud in ‘n smeltkroes verfyn word en verander word, word ons onder die vuur van God se oordeel verander. Die vuur wat Jesus bring, oordeel, maar dieselfde vuur verlos ook.

Daar word gesê dat as ‘n mens ‘n padda in ‘n pot koue water sit en dit met ‘n lae hitte verhit, die padda sal rondswem sonder om agter te kom dat die water warmer en warmer raak totdat die padda uiteindelik doodgaan as gevolg van die hitte. Soms is die lewe ook so vir ons. Ons swem al in die rondte in louwarm water, sonder om agter te kom dat die keuses wat ons maak besig is om die water om ons stadig warmer te maak. Uiteindelik is dit die oorsaak van ons ondergang.

Maar wanneer ons gekonfronteer word met die vuur van God, kan ons nie meer onverskillig wees jeens die gevare wat ons trotseer nie. In die lig van hierdie vuur kan ons nie meer maak asof dit nie bestaan nie, of die beslissing langer uitstel om later te besluit hoe ons gaan reageer nie. Hierdie vuur van God skep in ons ‘n krisis wat ons dwing om ‘n beslissing te maak. Ons moet besluit waarvoor ons wil lewe en waarvoor ons wil sterwe. Dit is die God wat kom in ‘n warm, vernietigende vuur om ons te red van ‘n lewe wat dalk besig is om stadig maar seker te lei tot ons dood.

Jesus het gekom om vuur op die aarde aan te steek. Of ons besluit om hierdie woorde op te neem as ‘n dreigement of as ‘n belofte, hang af van die manier waarop ons reageer op hom. Waar daar verwerping van die evangelie is, is oordeel die uitkoms. Maar waar daar aanvaarding is, brand die vuur alles weg wat die lewe uit ons wurg. Dan bind hierdie vuur ons aan God soos wat vuur twee metale in mekaar kan laat smelt onder ‘n geweldige hoë temperatuur.

 

Bibliografie

Kommentare:

Craddock, FB 1990. Luke. Interpretation: A commentary for teaching and preaching. Louisville: John Knox Press. Evans, CF 1990. Saint Luke. TPI New Testament Commentaries. Londen: SCM Press. Fitzmeyer, JA 1985. The Gospel according to Luke (X – XXIV). The Anchor Bible. New York: Doubleday & Company Inc. Johnson, LT 1991. The Gospel of Luke. Sacra Pagina Series. Minnesota: The Liturgical Press. Marshall, IH 1978. The Gospel of Luke: A commentary on the Greek Text. The New International Greek Testament Commentary. Exeter: The Paternoster Press. Tiede, DL 1988. Luke. Augsburg Commentary on the New Testament. Minneapolis: Augsburg Publishing House.

Ander:

Elliott, JH 1991. Temple versus household in Luke-Acts: A contrast in social institutions. (Toe nog) Ongepubliseerde referaat by die Universiteit van Port Elizabeth se Departement Nuwe Testament. Dié geskrif is later gepubliseer in: Neyrey, JH 1991. The social world of Luke-Acts: Models of interpretation. Peabody: Hendrickson. Moessner, DP 1989. Lord of the banquet: The literary and theological significance of the Lukan travel narrative. Minneapolis: Fortress Press. Tannehill, RC 1986. The narrative unity of Luke-Acts: A literary interpretation. Volume 1: The Gospel according to Luke. Philadelphia: Fortress Press.