Ander
tekste: Jesaja
5:1-7; Psalm 80:1-2; 8-19 of Jeremia 23:23-29; Psalm 82; Hebreërs 11:29-12:2
Die drie
Skrifgedeeltes vir die volgende drie Sondae in koninkrykstyd is almal
Lukastekste (12:49-56; 13:10-17; 14:1,7-14). Kortliks ‘n geheeloorsig van Lukas
se verhaal: Na die proloog (1:1-4:13), volg ‘n beskrywing van Jesus in Galilea
(4:14-9:50), waarna die reisverhaal (9:51-:19:27) Jesus se weg na Jerusalem skets.
Die Lukasverhaal vertel dan van Jesus in Jerusalem (19:28-24:53), waarvandaan
die opvolgverhaal (Handelinge) wegspring om uiteindelik in Rome te eindig.
Dié drie
evangelielesings (soos ook die vorige twee Sondae se Skrifgedeeltes uit Lukas)
val in die sentrale gedeelte van die evangelie volgens Lukas, bekend as die
Lukaanse reisverhaal (9:51-19:27). Dit spreek vanself dat om 12:49-56 te lees
binne die verband van hierdie reisverhaal (9:51-19:27) van deurslaggewende
belang is vir ‘n goeie verstaan van die teks.
Die vraag
is of daar hoegenaamd ‘n soort organiserende beginsel is waarvolgens die
reisverhaal verstaan kan word. In ‘n uitstekende studie van die Lukaanse
reisverhaal, ‘Lord of the banquet: The literary and theological significance of
the Lukan travel narrative,’ worstel David Moessner met hierdie vraagstuk.
Moessner (1989:2) wys daarop dat bykans die hele reisverhaal bestaan uit
Jesuswoorde en dat dit grootliks gestruktureer en gekomponeer is op grond van
die Jesuswoorde. Vraag is, verduidelik Moessner, of daar hoegenaamd ‘n soort
koherensie is aan die reisverhaal en of dit maar bloot ‘n klompie los insidente
is wat rondom die Jesuswoorde aanmekaar geplak is. Aangesien die reisverhaal
ongeveer 40% van die Lukasevangelie beslaan, sal die hele Lukas-Handelinge met
die reis vanaf Galilea na Jerusalem, na Rome en die uiteindes van die aarde ‘n
geslote boek bly tensy hierdie raaisel opgelos kan word.
Die sleutel
om die reisverhaal oop te sluit, sê Moessner, is geleë in 9:51-10:24 waar Jesus
en die dissipels uitgebeeld word as reisende gaste wat afhanklik is van huise
en huishoudings om hulle te ontvang, te huisves en te voed op hul reis na
Jerusalem. Die hele reisverhaal is deurtrek van taalgebruik wat verwys na
gasvryheid aan reisigers. Hierdie tendens word dan voortgesit in die res van
die reisverhaal. Sentrale begrippe is gasvryheid, huise, huishoudings, eet en
drink, die dien en ontvang van gaste, eenheid in huishoudings ens.
Vanuit ‘n
ander hoek het Elliott (1991:4) reeds baie oortuigend aangetoon dat Lukas die
tempel en die sinagoge teenoor die huishouding stel. Dit beteken egter ook dat
almal wat die tempel en sinagoge verteenwoordig, gestel word teenoor almal wat
huishoudings verteenwoordig. Algaande word die tempel en sinagoges as die
plekke waar God teenwoordig is en gedien word vervang deur die huishoudings.
Hierdie patroon word voortgesit en geïntensifiseer in Lukas se opvolgverhaal
Handelinge. Só begin Handelinge sommer gou met ‘n verwysing na tafelgemeenskap
(1:4) asook die bovertrek as ruimte wat gelowiges soos ‘n huishouding saam bid
(1:13).
Aangaande
huishoudings het Lukas dus baie te sê. In 1:17 word na Johannes se roeping
verwys, “om vaders en kinders met mekaar te versoen, om ongehoorsames op die
regte pad terug te bring en om so vir die koms van die Here ‘n volk voor te
berei.” Hierteenoor word Jesus se roeping by monde van Simeon (2:34, 35)
uitgespel as, “bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n
teken wat weerspreek sal word. So sal die gesindheid van baie mense aan die lig
kom.” Ook in Lukas 14:26 sê Jesus onomwonde, “As iemand na my toe kom, kan hy
nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en
vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe.” Wanneer Jesus
egter in 12:51 vra, “Dink julle dat Ek gekom het om vrede op aarde te bring?”
verwag hy dat die dissipels hierop onomwonde, ja, sou antwoord. Omdat Jesus só
‘n antwoord verwag, antwoord Hy, “Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid.”
Die dissipels het inderdaad voortydige eskatologiese verwagtings gehad. Hulle
word voorgestel as mense wat die onmiddellike vervulling van die beloftes van
verlossing verwag en ook begeer sonder om lyding en verwerping inag te neem.
Hier het
ons dus ‘n oënskynlike teenstelling. Enersyds wys Elliott (1991: 25) hoedat in
Lukas-Handelinge hierdie patroon van, ’domestic relations, and the intimacy and
solidarity it presumes, serves as the decisive model for the identity and ethos
of the Christian community as a whole.’
Andersyds vind ons dat Jesus se koms selfs hierdie huishoudings verdeel.
Dit is duidelik dat hierin ‘n belangrike eksegetiese sleutel geleë is.
Jesus bring
dus verdeeldheid. En Hy bring verdeeldheid tot in die hartjie van die sosiale
strukture van al sy hoorders. Dit word duidelik as ons na die onmiddellike
konteks kyk waarbinne 12:49-56 val. Lukas 12: 49-56 val eintlik in twee
perikope uiteen, te wete verse 49-54 en 55-56. Verskeie geleerdes plaas verse
57-59 saam met hierdie twee perikope omdat hulle eintlik ‘n soort geheel vorm.
Die eerste perikoop (verse 49-54) skets Jesus oorwegend in gesprek met die
dissipels, terwyl die tweede perikoop (verse 55-56) Jesus se hoorders grootliks
as die skare identifiseer (Marshall, 1978: 545). Craddock (1990:166) se opskrif
vir hierdie drie perikope is, ‘Concerning the crisis created by Jesus’
ministry.’ Craddock meen ook dat al drie hierdie perikope dit in gemeen het dat
hulle die kritieke teenwoordigheid van Jesus uitbeeld wat lei tot, ‘’n val en
opstanding van baie…’ (vgl. Luk 2:34). Daarom verdeel die koms van Jesus selfs
die huishoudings. Ook Marshall se opskrif verwys na hierna: ‘The coming
crisis.’ Ander kenners sien die oordeel
weer as sentraal, alhoewel dit eintlik maar op dieselfde neerkom: ‘The coming
judgement’ (Goulder), ‘The time of judgement’ (Tiede).
Die vraag
is hoedat hierdie verdeeldheid wat Jesus bring, verstaan moet word, want dit is
duidelik dat ons hierin die skopus van 12:49-56 vind. Hieruit sal moontlike
preke oor die Skrifgedeelte ook vloei. Lukas 12:52 is ‘n aanhaling uit Miga
7:6. Dit is egter opvallend dat Miga se verdeelde familie bestaan uit die
jonger geslag (seun, dogter, skoondogter) wat opstandig is teenoor die ouer
geslag (pa, ma, skoonma). Lukas se verdeelde huishouding is egter wedersyds
opstandig: Die verskillende generasies teenoor mekaar. Miskien sal die
verdeeldheid beter verstaan word as verse 49 en 50 enersyds, en verse 55-56
andersyds, van nader beskou word.
Jesus wens
dat die vuur wat hy op aarde kom aansteek het al aan die brand was (vers 49). Lukas
maak baie van Jesus as profeet en hierdie is ‘n sinspeling op die profeet Elija
wat met vuur opgetree het teen die Baälprofete (1 Kon 18:36-40) asook die
soldate van koning Ahasia (2 Kon 1:10,12, 14). Verder verwys Hy na die doop
waarmee Hy gedoop moet word (vers 50). Hierdie twee verse is parallel aan
mekaar (Tannehill, 1986: 251) en wil dieselfde boodskap kommunikeer: Wat die
vuur vir die res van die wêreld is (vers 49), is die doop vir Jesus (vers 50).
Beide hierdie beelde asook die verdeeldheid in die huishouding verwys na die
vernietiging en oordeel wat Jesus sal veroorsaak. Hierdie verdeeldheid is deel
van die krisis wat Jesus bring as die een wat lei tot, ‘’n val en opstanding
van baie…’ (2:34). Hierdie krisis sal ‘n hoogtepunt bereik in die passie van
Jesus in Jerusalem.
Craddock
verduidelik dan dat ‘krisis’ nie verwys na ‘n soort noodsituasie nie, maar na
die oomblik van waarheid en die daarmee gepaardgaande beslissingsmoment wat
vereis word: Jesus is die krisis (oordeel) van die wêreld. ‘According to these
sayings, God is so acting toward the world in Jesus of Nazareth that a crisis
is created, that is to say, Jesus is “making a difference,” even within
families. Peace in the sense of status quo is now disrupted’ (Craddock,
1990:16). Dit is hierdie kritieke teenwoordigheid van Jesus wat sy aanvanklike
hoorders, die eerste lesers van die Lukasevangelie en ook ons as sekondêre
lesers, oproep tot ‘n beslissing. Dit is onmoontlik om neutraal te staan tot
hierdie teks. Dit vereis ‘n respons. Marshall (1978:546) sien hierin ‘n
verwysing na die periode waarbinne Lukas se eerste lesers hulleself bevind het.
Die kerk is onder vervolging en so ‘n tyd word gekenmerk deur beslissings
waardeur mense deel word van die kerk van Christus. ‘The saying is thus in effect
a call for men to join the ranks of the faithful servants before its too late.’
Daarom
verwys Jesus na die skare as huigelaars in verse 55-56. Die mense beskik almal
oor die vermoë om die natuur se tekens korrek te interpreteer. En tóg kan hulle
nie die tye beoordeel nie. Jesus sê eintlik vir hulle dat hulle die tye kan
beoordeel maar dat hulle verkies om dit nie te doen nie. Daarom is hulle
huigelaars. Hierdie is mense wat reeds hulle beslissing gemaak het in die
kritieke teenwoordigheid van Jesus.
Jesus roep
sy hoorders dus op tot bekering voordat dit te laat is. Jesus se woorde het
beslis ‘n profetiese dringendheid en passie. Die effek van sy roeping en missie
is nie die soort vrede wat huishoudelike vrede onverstoord laat nie. Trouens,
die doel van die profetiese uitdaging is juis om mense te verdeel. En hierdie
verdelings word veroorsaak deur die verskillende soorte beslissings wat gemaak
word in reaksie op die Profeet Jesus en sy boodskap aangaande die koninkryk van
God.
Daar is
deesdae talle webwerwe op die Internet wat preke voorsien volgens die Revised
Common Lectionary se kalender. Deeglike soektogte na webwerwe van predikers uit
verskillende kerklike tradisies lewer verrassende resultate op. Uit ‘n soektog
wat 11 relatief goeie preke oor Luk 12:49-56 opgelewer het, is daar veral drie
invalshoeke wat in die prediking oor hierdie teks gevolg word. Van die titels
word ook hieronder weergegee omdat dit die hartklop van so ‘n preek goed
saamvat. Uiteraard is daar oorvleuelings tussen die drie moontlikhede.
‘n Eerste
invalshoek is om mense se opvatting van Jesus as ‘n goedige, ‘liewe’ Jesus aan
te vat. Die preek wys dan hoedat Jesus in Lukas 12:49-56 op ‘n radikaal ander
manier as die ‘liewe Jesus’ van ons kindertyd geskets word. Debra Brazzel van
die Duke Universiteitskapel se preektitel vir só ‘n preek is, ‘The God of
fire.’ Vanuit ‘n verstelde uitsig op Jesus beweeg Brazzel dan na die tema van
God se oordeel soos wat so dikwels in die Bybel met vuur uitgebeeld word. Die
vuur van God se oordeel verdeel en oordeel, maar altyd met die doel om te
transformeer. Die vuur wat verdeel is ook die vuur wat verenig. Waar Christus
se woorde verwerp word is daar verdeeldheid en oordeel, maar waar dit aangeneem
word verenig die vuur. Deur God se vuur word ons aan God gebind soos wat
verskillende soorte metaal aan mekaar gebind word deur die hitte van ‘n warm
vuur.
‘n Tweede
benadering is om huishoudings te neem as uitgangspunt. Ned. H Benson van die St John’s
Presbiteriaanse Gemeente se preektitel is, ‘Jesus’ strange family values.’ Daar
kan begin word deur te verwys na die belangrike rol wat huishoudings, families
of gesinne in die hedendaagse samelewing speel. Hierdie verskynsel kom ooreen
met die geweldig sentrale rol wat die familieverband gespeel het binne die
Joodse samelewing. Benson wil in sy preek wys hoedat dit in Lukas 12: 49-56 nie
gaan oor families as sodanig nie maar eerder oor hoe familielede reageer op die
koninkryk van God. In aansluiting by Lukas 14:26 wys Benson hoedat ware familie
nie bloedfamilie is nie, maar familie in Christus. Nie die kerk, die koninkryk
of die evangelie bestaan ter wille van die familie nie. Veeleerder bestaan die
familie om dissipelskap en familietoewyding aan Christus en die koninkryk te
bevorder. Eenheid in families is dan ‘n neweproduk van die regte prioriteite –
wat gesetel is gehoorsame toewyding aan Christus.
‘n Derde
perspektief op die teks plaas die rol van die geloofsbeslissing of keuse
sentraal in die preek. Onder teks en konteks hierbo is daar reeds gewys op die sentrale
belang van die geloofsbeslissing in Lukas 12:49-56. Eintlik behoort die
geloofsbeslissing in enige preek uit hierdie perikoop op ‘n sentrale manier aan
die orde te kom. John C Lentz van Forest Hill Presbeteriaanse Gemeente se
preektitel is, ‘The crisis of decision.’ Fred Craddock het ‘n baie mooi beeld
vir hierdie soort beslissing. Hy praat van twee reëndruppels wat ‘n huis se
gewel tref. Die verdeling wat op daardie oomblik plaasvind kan veroorsaak dat
die twee druppels in twee verskillende oseane eindig. Net so vereis Jesus (as
krisis) ‘n geloofsbeslissing wat radikaal verskillende uitkomste tot gevolg
het.
In hierdie
preekvoorstel word die eerste en derde invalshoeke hierbo gekombineer. Só ‘n preek kan beweeg van ‘n verstelling
van die Jesusbeeld na die geloofsbeslissing wat die kritieke teenwoordigheid
van hierdie Jesus uiteindelik vereis.
Dink aan
die mees onwaarskynlike ding wat iemand kan sê: (Die prediker kan gerus dink aan ‘n paar aktuele
onwaarskynlikhede in sy/haar eie tyd en konteks. Hier volg ‘n paar voorstelle.)
Tiener:
“Ma, ek dink regtig dat ek nie volwasse genoeg is om eers teen middernag terug
te wees nie. Sal Ma nie asseblief ons klokreël na elfuur verander nie?”
Ontvangsdame:
“Gaan reguit na kamer 3. Die dokter wag al vir u.”
Motorwerktuigkundige:
“Dit gaan BAIE minder kos as wat ek gedink het.”
Koningin
Elisabet II: “Ons stel voor dat die monargie beëindig word.”
Uiteindelik,
Jesus Christus: “Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek…Dink julle dat
Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder
verdeeldheid…vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter
teen moeder, skoonmoeder teen skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder.”
Die deel
oor Jesus klink net so onwaarskynlik (of meer!) as die ander onwaarskynlike
gesprekke. En tog, volgens Lukas hét Jesus dit gesê. Maar op ‘n manier klink
dit net nie reg nie. Dit klink nie na die Jesus wat ons ken nie. Dié Jesus wat
ons van kleins af leer ken het as ‘liewe Jesus.’ Vir baie van ons is Jesus iemand wat sagmoedig en goedig is. En
tóg word Jesus hier uitgebeeld as die een wat gekom het om vuur op die aarde
aan te steek. En boonop om nie vrede nie, maar verdeeldheid op aarde te bring.
En dit maak van Lukas 12:49-56 eintlik ‘n baie ongemaklike Skrifgedeelte. Só
ongemaklik dat dit ingesluit word in die boek van die vermaarde
Nuwe-Testamentikus, FF Bruce, ‘The hard sayings of Jesus.’
Miskien het
ons ‘n beeld van God geskep waarmee ons kan maak wat ons wil. ‘n Beeld van God
as ‘n ‘liewe’ Jesus wat ons kan manipuleer en beheer. ‘n Beeld wat God voorstel
as ‘n lekker, beheerbare, liefdevolle God wat ons laat doen net wat ons wil –
wat ons soms miskien so ‘n bietjie oor die vingers tik, maar altyd sag en
goedig.
Iemand het
op ‘n keer geskryf van, ‘the domestication of God’ – die ‘makmaak’ van God. Ons
het God – met respek gesê – as ’t ware ‘mak gemaak’ met die mak beelde waarmee
ons na God verwys.
Maar Lukas
beeld vir ons hier ‘n God uit wat breek deur al ons mak beelde. In hierdie Skrifgedeelte
word ons gekonfronteer deur ‘n Jesus wat spreek en optree in krag en met
oordeel. Hierdie Jesus is nie ‘n mak, veilige en gemaklike God wat deur ons
beheer kan word nie. Hierdie Jesus se teenwoordigheid is kritiek – só kritiek
dat dit selfs huishoudings verdeel. Hierdie Jesus begeer dat ‘n oordeelsvuur
aangesteek word. Hierdie prentjie wat Lukas van Jesus skets is vir baie van ons
verrassend.
Dit laat ‘n
mens dink aan ‘n toneel uit C.S Lewis se boek, ‘The Lion, the witch and the
wardrobe.’ Die verhaal gaan oor twee kinders se reis na ‘n wonderwêreld. In
hierdie wêreld is daar ‘n leeu met die naam, Aslan wat C.S Lewis gebruik om na
Christus te verwys. Vroeg reeds hoor een van die kinders van Aslan. Susan vra,
“Is dit veilig by hom? Ek voel bang om ‘n leeu te ontmoet.”
“Jy sal
maar bang voel, liefie, en moenie ‘n fout maak nie,” sê Mev. Bewer, “as daar
enigiemand is wat voor Aslan kan verskyn sonder dat hulle knieë bewe, moet
hulle dapperder wees as baie of dalk net baie dom.”
“So, dan is
dit nie veilig nie?” vra Lucy.
“Veilig?”
sê Mev. Bewer. “Wie het enigiets van veilig gesê? Natuurlik is dit nie veilig
by hom nie. Maar hy is goed. Hy is die Koning, sê ek jou.”
Hierdie God
kan ons nie manipuleer nie. Hy is die Een wat met vuur kom. Regdeur die Bybel
is vuur ‘n baie betroubare teken van die teenwoordigheid van God. God praat met
Moses in ‘n brandende bos; ‘n vuurkolom begelei die volk Israel deur die nag en
wanneer Moses die berg Sinai opgaan om die tien gebooie te ontvang begin die
berg rook toe die Here in vuur daarheen afkom.
Vuur –
gevaarlik, onvoorspelbaar, kragtig – Jesus sê dat hy gekom het om vuur op die
aarde aan te steek. Wat beteken dit om gekonfronteer te word deur die God wat
vuur bring? In die teenwoordigheid van vuur word skaduwees teruggedruk om dit
wat verskuil word te onthul. Die waarheid oor die lewe, ook oor ons, word
duidelik. Elke deel van ons menswees word bekend vir wat dit is. In die lig van
die vuur word ons geken en geoordeel.
Jesus vra
die dissipels ‘n vraag, “Dink julle ek het gekom om vrede op aarde te bring?”
En hy antwoord die vraag ook sommer self, “Nee, sê Ek vir julle, eerder
verdeeldheid…” Daar is geen manier om die oordeel van Jesus te ontvlug nie. Hy
het gekom om te bepaal wie is aan sy kant en wie is nie. En hierdie vuur van
oordeel dring ook die kleinste sosiale eenheid van ons samelewing binne: die
gesin. Dit is verskriklike woorde wat daar in verse 52 en 53 geskrywe staan.
Ons verwag tog dat die gesin dié plek is waar daar eenheid sal wees. En tog:
Die teenwoordigheid van Jesus skep ‘n krisis. ‘n Krisis wat vra om ‘n
beslissing. Meer nog: Dit is ‘n krisis wat ‘n geloofsbeslissing eis. Hierdie
vuur van God ontmasker ons. Dit is die vuur waarmee God ons wil transformeer.
Soos wat goud in ‘n smeltkroes verfyn word en verander word, word ons onder die
vuur van God se oordeel verander. Die vuur wat Jesus bring, oordeel, maar
dieselfde vuur verlos ook.
Daar word
gesê dat as ‘n mens ‘n padda in ‘n pot koue water sit en dit met ‘n lae hitte
verhit, die padda sal rondswem sonder om agter te kom dat die water warmer en
warmer raak totdat die padda uiteindelik doodgaan as gevolg van die hitte. Soms
is die lewe ook so vir ons. Ons swem al in die rondte in louwarm water, sonder
om agter te kom dat die keuses wat ons maak besig is om die water om ons stadig
warmer te maak. Uiteindelik is dit die oorsaak van ons ondergang.
Maar
wanneer ons gekonfronteer word met die vuur van God, kan ons nie meer
onverskillig wees jeens die gevare wat ons trotseer nie. In die lig van hierdie
vuur kan ons nie meer maak asof dit nie bestaan nie, of die beslissing langer
uitstel om later te besluit hoe ons gaan reageer nie. Hierdie vuur van God skep
in ons ‘n krisis wat ons dwing om ‘n beslissing te maak. Ons moet besluit
waarvoor ons wil lewe en waarvoor ons wil sterwe. Dit is die God wat kom in ‘n
warm, vernietigende vuur om ons te red van ‘n lewe wat dalk besig is om stadig
maar seker te lei tot ons dood.
Jesus het
gekom om vuur op die aarde aan te steek. Of ons besluit om hierdie woorde op te
neem as ‘n dreigement of as ‘n belofte, hang af van die manier waarop ons
reageer op hom. Waar daar verwerping van die evangelie is, is oordeel die
uitkoms. Maar waar daar aanvaarding is, brand die vuur alles weg wat die lewe
uit ons wurg. Dan bind hierdie vuur ons aan God soos wat vuur twee metale in
mekaar kan laat smelt onder ‘n geweldige hoë temperatuur.
Bibliografie
Kommentare:
Craddock,
FB 1990. Luke. Interpretation: A
commentary for teaching and preaching. Louisville: John Knox Press. Evans, CF
1990. Saint Luke. TPI New Testament
Commentaries. Londen: SCM Press. Fitzmeyer, JA 1985. The Gospel according
to Luke (X – XXIV). The Anchor Bible.
New York: Doubleday & Company Inc. Johnson, LT 1991. The Gospel of Luke. Sacra Pagina Series. Minnesota: The Liturgical
Press. Marshall, IH 1978. The Gospel of Luke: A commentary on the Greek Text. The New International Greek Testament
Commentary. Exeter: The Paternoster Press. Tiede, DL 1988. Luke. Augsburg Commentary on the New Testament.
Minneapolis: Augsburg Publishing House.
Ander:
Elliott, JH 1991. Temple versus household in Luke-Acts: A contrast in social institutions. (Toe nog) Ongepubliseerde referaat by die Universiteit van Port Elizabeth se Departement Nuwe Testament. Dié geskrif is later gepubliseer in: Neyrey, JH 1991. The social world of Luke-Acts: Models of interpretation. Peabody: Hendrickson. Moessner, DP 1989. Lord of the banquet: The literary and theological significance of the Lukan travel narrative. Minneapolis: Fortress Press. Tannehill, RC 1986. The narrative unity of Luke-Acts: A literary interpretation. Volume 1: The Gospel according to Luke. Philadelphia: Fortress Press.