Ander
tekste: Psalm 33;
Jeremia 52:1-27; Hebreërs 11:1-3,8-16
Die
tekskeuse van die leesrooster is ietwat problematies omdat dit nie die
perikoopindeling van die vertalings volg nie.
Verder is dit eintlik onmoontlik om die teks van ons leesrooster los van
die voorafgaande gedeelte en die daaropvolgende gedeelte te lees. Die gedagte van die koninkryk van die Here
word in 12:22-31 (eintlik tot 34) aangespreek en die gereedheid vir die koms
van die Seun van die mens word voorgesit in 12:41-48. Die preekteks moet dus albei verbande vashou.
Die gedagte
wat reeds in die vorige preekstudie genoem is, is ook van uiterste belang,
naamlik dat die Lukaanse gemeenskap se verwagting van die wederkoms van
Christus ’n ietwat ander aksent het.
Scheffler se opmerkings by die vorige preekstudie is dus belangrik. Daarby is die volgende opmerkings deur hom
ook belangrik vir die verstaan van ons gedeelte: “As gevolg van die vertraging
van die wederkoms het die Christene wanhopig geword.” As deel van die derde geslag het die Christene van Lukas se dag
die 'vertraging van die wederkoms' ervaar. Lukas se weergawe van die gelykenis
van die waaksame dienskneg (12:35-48) gee nie net blyke van hierdie ervaring
nie, maar probeer dit ook aanspreek (vgl. ook 17:20-37). Die uitbly van die
wederkoms het moontlik aanleiding gegee tot onsekerheid en wanhoop omdat die
verwagting dat Christus se koms naby is (Mk 9:1 en Lk 9:27), teleurgestel het.
Die verskeie vorme van lyding wat die Christene beleef het, het sekerlik ook
daartoe bygedra dat die teenwoordigheid van Christus nie ervaar is nie en dit
het tot wanhoop bygedra. Die realiteit van Christus se opstanding is ook
moontlik bevraagteken. Hierdie gevoel van wanhoop onder die lede van sy
gemeenskap is heel moontlik verwoord deur Lukas in die Emmausverhaal toe hy die
gemoedstoestand van die Emmausgangers beskryf het as 'bedroef, 'ontsteld',
'onverstandig' en 'traag van hart' (24:17,22-25)... Ryker Christene het begin verstrik raak in 'n hoogmoedige,
materialistiese, hier-en-nou-bestaan.’
12:32-34:
Hierdie gedeelte sluit direk aan by die gedagte van die gerigtheid wat
Jesus se dissipels op die koninkryk van die Here moet hê (12:22-31). Hierdie gerigtheid staan direk teenoor die
besorgdheid oor die hier-en-nou bestaan van baie mense en hulle kommer oor
aardse besittings. JP Versteeg het na
aanleiding van hierdie gedeelte die volgende baie belangrike opmerkings gemaak. In 12:22-31 word melding gemaak van die voëls
(kraaie) en die lelies wat deur God versorg word. Versteeg sê dat die lelies nie daarin belangstel om méér te doen
as waarvoor hulle geskep is nie. Hulle
is nie geskep om tipiese vroue-werk (klere maak) te doen nie. Hulle moet net aan hulle doel om te blom,
beantwoord. Daarvoor sorg God. Die kraaie hoef nie meer te doen as waarvoor
hulle geskep is nie. Hulle is nie
geskep om tipiese mans werk te doen nie (saai en oes). Hulle moet net aan hulle doel beantwoord,
naamlik om te vlieg en uit God se hand te leef. Op dieselfde manier kan mense hulle moeg maak oor goed wat nie
hulle skeppingsdoel is nie. So kan
hulle hul lewe probeer verleng en hul toekoms probeer verseker, maar dis nie
hulle doel nie. Hulle doel is om hulle
vir God se koninkryk te beywer. God sal
vir die res sorg.
Die
uitdrukking ‘klein kuddetjie’ kom net hier in die Nuwe Testament voor en dui
waarskynlik op sorg wat die klein groepie ware dissipels uit die hand van hulle
Herder moet aanvaar (Morris). Juis daarom moet die brose mense van die Here nie
bang wees nie. God sal aan hulle die
koninkryk gee. Dis sy geskenk aan
hulle.
Om hierdie
rede behoort verknogtheid aan besittings nie die lewenstyl van dissipels te
kenmerk nie. As jy ’n die koninkryk as
geskenk ontvang, het jy immers alles.
Dis waar jou hart behoort te wees.
Aan hierdie skat kan die verganklikheid nie vreet nie: ‘The moth is
mentioned because one common form of wealth in ancient times was expensive
clothing, or because the moth might attack the purse. Again there is the
implied contrast with earthly treasure and its corruptibility, which is made
explicitly in Mt.’ (Marshall). Dis duidelik dat 12:33,34 die parallelle gedagte
van Matteus 6:19-21 deurgee. Op hierdie skat moet ons onverdeelde aandag
toegespits wees. Dis wat ’n rein hart
ten diepste beteken: onverdeelde aandag op die koninkryk van God.
Die
verwysing na die ‘onuitputlike rykdom in die hemel’ laat die vraag ontstaan wat
dit is. Marshall se gedagtes is
verhelderend: ‘Jewish writings indicate that almsgiving was a means of storing
up a good deposit for the day of adversity
(Tob. 4:7-11; Sir.
29:11f.); the person
who practises righteousness
treasures up life for himself with the Lord (Ps. Sol. 9:9). Similarly, in 16:9
the proper use of mammon makes friends for the disciples so that they may be
received into the eternal dwellings. The suggestion is that the person who
ceases to trust in material things and places his trust in God is promised
spiritual blessing in heaven from God. (34) If a person seeks such heavenly
treasure, the implication is that his heart, i.e. his affections, is directed
in the right way, whereas if a person piles up earthly treasure, the evidence
shows that his affections are earthbound and hence his heart is not truly
related to God. Hence the saying provides a motive for the preceding command,
by showing that the person who continues to hold on to earthly wealth and does
not fulfil the command in v. 33 is not really seeking after the kingdom of God.
The two attitudes are mutually exclusive.’
12:35-40: In
hierdie paar verse vind ons ’n ‘opsomming’ van twee gelykenisse van Matteus in
die profetiese rede van Jesus, naamlik van die tien meisies en die waaksame
slaaf (Mat 24:45-25:13). Of Lukas by
Matteus ‘afgeskryf’ het en of hulle van ’n gemeenskaplike bron gebruik gemaak
het, is nie regtig van belang nie.
Lukas rangskik egter sy stof heeltemal anders as Matteus. Die skrywer betrek eskatologie en ekonomie dus
weer bymekaar (soos by die ryk dwaas).
Die basiese tema wat in hierdie gedeelte aangespreek word, is dié van
gereedheid vir die koms van die Seun van die mens. Dis duidelik dat die gedagtes van Scheffler (die wanhoop oor die
wederkoms wat gelei het tot ’n hier-en-nou besorgdheid oor besittings), hier
baie belangrik is. Wie die koms van die
seun van die mens verwag is gereed.
Hierdie gereedheid impliseer ’n bepaalde lewenstyl. Uit die voorafgaande gedeelte blyk dat
gereedheid onverdeelde aandag op die koninkryk vereis, teenoor ’n beheptheid
met besittings. Uit die gedeelte wat
hierop volg, word hierdie lewenstyl gekontrasteer met ’n ‘baasskap’ oor ander
omdat die Heer talm om te kom. Die
Lukaanse gemeenskap moet mooi verstaan dat hulle ’n kerk in die ‘tussentyd’ is
– tussen die hemelvaart en die wederkoms van Christus. Die gevaar is lewensgroot dat die kerk in
hierdie tyd die spoor byster kan raak deur ’n lewenstyl van eiebelang.
In die
prediking oor hierdie gedeelte sal die lewenstyl van wagtende Christene die
toon aangee. Wat beteken dit om ’n
‘wagtende’ Christen/kerk te wees? Die
teksgedeelte beklemtoon dat ’n wagtende kerk of ’n kerk wat gereed is (hierdie
sake is twee kante van dieselfde munt), deur ’n onverdeelde gerigtheid op die
koninkryk van God gekenmerk word. In
die gelese gedeelte verkry hierdie gerigtheid op die koninkryk ook die dimensie
van ’n aktiewe verwagting van die wederkoms van Christus. Hierdie verwagting het sowel vertikale as
horisontale dimensies.
Die
horisontale moment word opgeneem in die vertikale versekering dat God sy
koninkryk as geskenk aan sy kinders gee.
Dit bevry ons van ’n angstige soeke na eie sekuriteite en die
voortdurende geneigdheid om ons toekoms op een of ander manier te
‘verseker’. Ons het ons hart verloor op
God en sy wil vir die wêreld. Daarom
maak ons ons nie meer moeg om hierdie wêreld te ernstig te neem nie. Alles in hierdie wêreld het relatiewe
waarde, gemeet aan die onuitputlike rykdom wat in die hemel is. Die oproep van Paulus in Kolossense 3:1-4
het, naamlik dat ons ons gedagtes moet rig op die dinge daarbo, waar Christus
is, word ook in ons gedeelte aangetref.
Maar is ons
regtig ernstig daaroor? Is God se sorg vir ons nie maar niks anders ’n
agterdeur nadat ons eie sorg in ’n doodloopstraat beland het nie? Ons sing maklik: Niks van hierdie wêreld,
goed robyn of pêrel, sal my hart verkneg” (Ges. 181:2), en “Sou ons werklik ons
vertroue aan verganklikheid verpand?
Toekomsdrome, strewe huise, bou op fondament van sand?” Maar is dit nie maar ‘kerklike taal’ wat
geen wesenlike invloed op ons dag vir dag lewe uitoefen nie? Intussen gaan ons voort om ons eie
sekuriteite op te hoop omdat dit vir ons baie ongemaklik is om net uit die
‘beursie van die hemel’ te lewe.
’n Ander
vertikale aspek van die teksgedeelte wat ons horisontale lewe bepaal, is die
wederkoms van Christus. Beker
(1980:255) het in sy werk oor Paulus duidelik aangetoon dat die imperatief by
Paulus ook in die futuristiese indikatief van die laaste oordeel en finale
oorwinning van God gegrond is. Die
wederkoms van Christus ‘trek’ ons tot dade van liefde soos die sorg van God in
die hede ons ‘stoot’ om vir die koninkryk van die Here te lewe. Ons onverdeelde aandag op die koninkryk van
die Here word dus nie net gemotiveer vanuit die sorg van die Here in die hede
en Christus se verlossingswerk nie, maar dit word ook gemotiveer uit die
toekoms van sy wederkoms. Volgens die
Skrifgedeelte is ons aangeraak deur die versekering dat ons Heer nie sy
beloftes vergeet het nie, dat Hy weer kom en hierdie wêreld nuut sal maak. Juis daarom kan ons geduldig en aktief wag
op sy koninkryk.
Wat beteken
dit dus om gereed te wees? Die
lewenstyl van so ’n kerk is niks anders as ’n sorgsame kerk nie. Hoewel Jesus
nie besittings op sigself veroordeel nie, is dit duidelik dat die verhouding
met jou besittings eers reg is as jy bereid is om daarvan afstand te doen. Die afstand doen van jou besittings is egter
nie ’n passiewe besluit nie, maar het vir die skrywer ’n aktiewe dimensie,
naamlik om dit aan die armes te gee (12:33).
Dis heel
moontlik om te dink dat jy nie meer te veel waarde aan jou besittings heg deur
nie ryk te lewe nie. Jy kan selfs in ’n
vrekkerige lewenstyl verval, maar dis nog nie wat Jesus hier in gedagte het
nie. Dis net suinigheid. Wat Jesus in gedagte het, is die
volgende: deel jou rykdom met ander. Eers dán staan dit nie in die weg van jou
onverdeelde aandag op die koninkryk nie.
Om gereed te wees vir die koms van die Seun van die mens het dus sosiale
implikasies. Dis om die nood van die
wêreld ernstig te neem. Dis om te weet
dat jy aktief besig moet wees om die middele tot jou beskikking te gebruik om
ander te dien.
Hierdie
gedagte staan lynreg teenoor die baasspelery van die slaaf wat die koms van sy
heer nie ernstig geneem het nie en toe begin om sy medemens te onderdruk
(12:45-46). Hierdie horisontale
dimensie in die lewenstyl van koninkryksmense is volkome is ooreenstemming met
Lukas se sterk beklemtoning van ’n delende gemeenskap (Scheffler). Hierdie gemeenskap, met Jesus as bevryder
aan die hoof, is mense wat elke aspek van die nood (fisies, geestelik, polities
en andere) ernstig neem en iets daaraan doen.
In die Matteusevangelie word die omvattende sorg aan mense in nood die
toetssteen vir die gereedheid van gelowiges vir die koms van die koninkryk (Mat
25:31-46).
Dit is
slegs omdat die koninkryk ’n vrye geskenk is, omdat die Here sy sorg belowe,
omdat ons skat nie kan tot niet gaan nie, dat ons die liefde na buite kan
uitdra. Anders is ons hulp aan ander
niks anders as humanistiese hulpverlening nie.
Hierdie horisontale dimensie van wagtende Christene en mense wat gereed
is vir die koms van die Seun van die mens word natuurlik ook by Paulus
aangetref. ’n Klassieke voorbeeld
hiervan vind ons in 1 Timoteus
6:6-19. Ook hier is eskatologie
en ekonomie baie nou by mekaar betrek.
’n Preek
oor hierdie gedeelte kan begin word deur die vraag wat rykdom werklik is. ’n Baie mooi verhaal word vertel oor ’n pa
wat sy gesin ’n deel van die land gaan wys het waar daar baie arm mense woon. Hy wou hê dat die sy gesin moes sien hoe arm
mense lewe. Hulle het ’n dag en nag by
’n arm gesin op ’n plaas deurgebring.
Toe hulle terugkom, vra die pa vir sy een seun hoe hy die besoek ervaar
het. “Wonderlik!” het die seun
geantwoord. “Wat het jy geleer?”, vra
die pa. Die seun het geantwoord: “Hulle
het vier honde en ons net een. Ons het
’n groot swembad, maar hulle het ’n meer.
Ons het ingevoerde lampe en ligte in ons tuin, maar hulle het die
sterre. Ons het ’n groot tuin, maar
hulle tuin is tot by die horison.
Dankie, pa, dat jy vir ons gaan wys het hoe arm ons is!” Rykdom is
inderdaad ’n baie relatiewe begrip!
As ’n mens
na Lukas luister, lê rykdom vir Christene ’n ander vlak. Die rykdom van Christene is allereers die
koninkryk wat hulle ontvang het en gaan ontvang. Die Skrifgedeelte maak dit baie duidelik dat die Here sy
koninkryk as ’n geskenk aan sy kinders gee.
Daardeur kry ons ’n nuwe identiteit.
Ons het burgerskap van die hemel.
Daarom behoort daar met passie gewag te word op die finale koms van
Jesus Christus. En terwyl ons hiervoor
wag, het ons die versekering dat die Here sorg neem vir ons daaglikse
behoeftes. Hy hou die lewe van sy kerk
in stand. Die woorde van Luther is
pragtig: “Rykdom is die kleingeestigste en mees waardelose geskenk wat God aan
die mens kan gee. Hoe vergelyk dit met God se Woord, met liggaamlike gawes soos
skoonheid en gesondheid; of met geskenke van die gees, soos begrip, vaardigheid
en wysheid? Tog swoeg die mens om rykdom dag en nag, en neem nooit rus nie.”
Maar almal
wag nie met dieselfde passie op die koms van Jesus Christus nie. Een van my vriende het altyd gesê dat die
wederkoms vir sy vrou nou baie ontydig sal wees omdat sy nog ’n paar draaie in
die wêreld wil gaan maak! Op ’n
ernstiger noot kan die geweldige ywer waarmee kerke en Christene soms hulle eie
toekoms probeer verseker krities aangeraak word. Die hartseer van die kerk is dat ons soms so ryk is dat ons die
eskatologie nie nodig het nie. Dis
maklik om oor die hemel en sy skatte uit ’n bevoorregte posisie te praat. Toe Karl Barth eenmaal in ’n huis van een
van sy vriende in die Switserse alpe gaan bly het, het hy die opmerking gemaak
dat daar by hierdie huis geen plek vir die eskatologie is nie. Alles is te mooi. Alles is daar. Wat bly
vir die hemel oor om te bewys? Om in so
huis oor die hemel te praat en die ‘voorreg’ van arm mense om die ooptes en die
hemelse sterre as ligte te hê, is maklik.
Rykdom kan jou uitsig op die rykdom van die koninkryk baie sterk
verduister.
Aan die
ander kant is die hartseer van die kerk dat ons so in ons eie armoede vasgevang
kan word dat ons nie kan glo dat daar nog iets beter kan wees nie. In ’n tyd waarin baie kerke en gemeentes
finansieel begin noustrop trek is dit ’n baie moeilike vraag hoe hierdie
gedeelte van toepassing is op ons. Kan
ons Jesus se woorde ernstig neem dat ons skat in die hemel is, terwyl ons nie
ons predikant kan betaal of die onderhoud aan ons kerkgeboue kan doen nie? Moet ons dan steeds ons besittings verkoop
en maar uit die hemelse beursie leef?
Arm gemeentes kan natuurlik ook ongehoorsame gemeentes wees. Ons kan so bang wees vir die toekoms dat ons
alles vir onsself begin hou en nie meer sosiaal betrokke is nie. Ons eie armoede kan ons by die nood van
ander laat verbykyk. Weens ons armoede
kyk ons maar wat ons nou hier kan doen om kop bo water te hou. Armoede en gebrek kan ook maak dat mense
hoop verloor en nie meer die koninkryk van die Here verwag nie.
Vir Lukas
is dit duidelik dat mense wat die koninkryk van die Here as geskenk ontvang
het, onverdeeld by die koninkryk van God betrokke is. Deur die koms van Christus is ons toekoms verseker en wag ons met
groot verlange op Jesus se koms. Wat
beteken dit dat ons aktief en met passie wag?
Die prediker kan hier voortgaan om die nadruk te lê op dit wat aan die begin
van die bespreking onder die konteks
aangeraak is. Christene wat hulle
rykdom in Christus besef en verstaan, kerke wat dit verstaan, is mense wie se
harte nie aan hulle besittings opgehang is nie, maar wat geleer het om die nood
van die wêreld raak te sien.
Dissipelskap bestaan daarin dat die kerk sy skatte met die wêreld sal
deel en nie sal probeer om haarself te dien nie: Marshall sê: ‘Freed from worldly cares through trust in the
fatherly care of God and hope in the coming of the kingdom, the disciples are
not to let themselves be enticed by the temptations of the world to laziness,
self-indulgence and self-assertion, but are to spend their time profitably and
in readiness to serve the Son of man when he appears.’
Hoe dien
ons die Seun van die mens? Deur die
mense van die Seun te versorg – op elke terrein van die lewe. Te lank het die kerk of die vertikale of die
horisontale aspekte van die evangelie te ernstig geneem. Die kerk het dikwels die mense sonder kos en
huise probeer troos met die ewige koninkryk se skatte wat vir ons wag sonder om
aktief betrokke te wees by die verligting van die nood van mense. ’n Kerk wat haar bestemming ernstig neem
deel ook die sorg van God met mense wat nie versorg is nie.
Julian
Müller het jare gelede die volgende baie toepaslike storie vertel. Dit kan as ’n baie goeie afsluiting vir die
preek dien: ’n Swembad moet goed
onderhou word, anders is dit meer 'n las as 'n plesier. Aan die beginjare, net
nadat Mnr Kerkstein in die huis met die swembad ingetrek het, het hy nogal baie
gesukkel. Kort-kort was die water groenerig van die alge wat so vinnig
groei. Mettertyd het mnr Kerkstein
geleer dat daar net een oplossing is. Die swembad kan net mooi gehou word as jy
onthou om die regte soort chloor met die regte tussenposes in te gooi. Nooit
mag jy oorslaan nie. As jy ’n swembad so in stand hou, is hy 'n heerlike
plesier. Om die waarheid te sê, mnr Kerkstein het skoon verlief geraak op sy
swembad. Die kristalhelder water, die skoon bodem en die blou skynsel as jy op
’n afstand daarna kyk, het by hom ’n gevoel van trots en wellewendheid
gebring. Soos wat die jare aanstap en
mnr Kerkstein se kinders groter word, het hy hulle, asook sy vrou en sy
bediendes almal betrek by die versorging van die swembad. Diakoné, sy dogter,
het byvoorbeeld in 'n onverbreekbare roetine gekom om elke oggend voordat sy
skool toe vertrek, eers ’n draai by swembad te maak en een koppie chloor
(presies afgemeet) versigtig en stadig in die water te gooi. Altyd terwyl die
swembadpomp werk. Dit was weer ouboet (genoem Oudste) se werk om elke Saterdag
die blarefilter skoon te maak en die filtreerstelsel terug te spoel. Hy mag
nooit een Saterdag oorslaan nie. Mevrou Kerkstein het weer laat soggens, net
voor die kinders van die skool af kom, met die lang steel net die blare wat van
die bure se boom af ingewaai het, afgeskep.
Vir die hele Kerkstein-gesin was die swembadskoonmakery geen las nie.
Hulle het algaande agtergekom dat die bietjie moeite, as al die werkies gereeld
gedoen word, glad nie opweeg teen die genot van die heerlike koel, skoon water
waarin hulle kon swem nie. Almal het mettertyd mnr Kerkstein se filosofie
gedeel: 'n swembad vereis is ’n goed geordende bestaan. 'n Gedissiplineerde
lewe, en bowenal moet hy gebruik en geniet word. In ’n sin kan 'n mens sê dat
hulle swembadaanbidders geword het. Op
die Kerkstein se rustige en aangename swembad gesentreerde bestaan is daar
selde inbreuk gemaak. Hulle was ’n geïsoleerde gesin wat nie onnodig kontak met
bure en andere gesoek het nie. Rondom die swembad was daar 'n mooi en goed
versorgde tuin met hoë, netjiese mure tussen hulle en die bure.
Daarom het
hulle maar vaagweg kennis geneem van die nuwe mense wat onlangs langsaan
ingetrek het. Af en toe, wanneer mnr of mevrou Kerkstein met hulle duur motor
vir 'n oomblik moes wag vir die outomatiese hek om groot genoeg oop te gaan
sodat hulle kon inry, het hulle 'n flitsende blik gekry op die buurman of een
van sy gesinslede. Hulle het so ontsettend arm voorgekom, so asof hulle nie pas
in die buurt nie … Maar daar het maande verbygegaan sonder dat hulle mekaar
ontmoet het. Een oggend toe mevrou
Kerkstein die meterleser van die stadsraad by die hekkie moes inlaat om die
waterlesings te kom neem, het dié met ’n ontstellende storie vorendag gekom:
die stadsraad was verplig om die bure se watertoevoer af te sny. Hulle kon nie meer die waterrekening betaal
nie. Dit was so omtrent twee dae later, toe mevrou Kerkstein eintlik al vergeet
het van die waterstorie, dat die klokkie by die hek gelui word. “Ja”, vra sy
oor die interkomstelsel. "Dit is mevrou Naas", klink die krakende
stem. "Ons woon langsaan. Ons het nie water in die huis nie en ek het
gewonder of u vir ons ’n emmertjie water kan gee?"
Mevrou
Kerkstein was uit die veld geslaan en moes vinnig dink. “Ja seker, ek stuur die
bediende.” Die aand het sy vir haar man van die voorval vertel en hoewel hulle
vir mekaar gesê het dat hulle maar sal moet help, was daar tog ’n vae
onrustigheid dat hulle veilige en aangename bestaan bedreig word. Dit het inderdaad
’n daaglikse ritueel geword dat die klokkie gelui word met dieselfde storie. En
elke keer het mevrou Kerkstein die bediende met die emmertjie water
gestuur. Toe die waterrekening die
einde van die maand kom, het mnr Kerkstein, wat goed van alles boekhou, geskrik
vir die effense styging en besluit dat iets gedoen sal moet word. Hy kon egter nie heeltemal so ver om sy vrou
te verbied om die water te stuur nie. Die saak het maar so aan gesloer. Dit was
die Sondag toe die hele gesin, soos gebruiklik, in die swembad ontspan, dat die
keerpunt gekom het. Die bediende het kom sê dat die klokkie gelui het en dat
dit weer die vrou van langsaan is. "Ons is nou besig, sê ons kan nie help
nie”, was mnr Kerkstein se vinnige
antwoord. Daarmee was die saak afgehandel en het die familie die oggend verder
in en om die heerlike swembad deurgebring. Hulle het nie gemerk hoedat ’n paar
kindertjies met verlangende oë oor die muur loer nie – so baie helder skoon
water, hoekom swem die mense daarin in plaas van om dit te drink?! Na daardie Sondagoggend het die Naas-mense
gelukkig nie weer kom pla vir 'n emmertjie water nie. Dit was eers omtrent 'n
week later, toe mnr Kerkstein juis besig was om aan sy swembad aandag te gee,
dat iemand weer die klokkie gelui het. Dit was die maatskaplike werker wat ’n
noodoproep ontvang het na die bure en besluit het om eers by mnr Kerkstein aan
te klop en te vra of hy haar nie sal vergesel nie. Dit is baie vriendelik van
haar, het hy geantwoord, "maar ek is op die oomblik regtig baie besig met baie
noodsaaklike werk." Sy moet maar later laat weet as hy enigiets kan
doen. ’n Paar dae later het hulle vroeg
een oggend ’n ambulans in die straat opgemerk en later die oggend, toe mevrou
Kerkstein na 'n vriendin se tuin-teeparty (langs haar swembad) ry, en sy weer
die maatskaplike werker by die hek sien staan, het sy tog stilgehou en navraag
gedoen. Twee van die kinders is die oggend weens dehidrasie in die hospitaal
opgeneem. Hulle toestand is ernstig. Vir die res van die familie is daar blyplek
elders gekry. "Ons is tog so dankbaar dat daar 'n heenkome gevind is"
het mevrou Kerkstein gesê en haar gehaas om betyds by haar teeparty uit te kom…
Bibliografie
E H Scheffler: Die teologie van die Lukasevangelie in konteks: bevryding uit lyding, in Teologie in konteks, J H Roberts, W S Vorster, JN Vorster, JG van der Watt (reds). Pretoria. Orion, 1991, 62-92. I H Marshall: The Gospel of Luke. Paternoster Press. Exeter, 1978. L Morris. Luke. Leicester. IVP. J P Versteeg: Bijbelwoorden op de man af. Kampen. Kok, 1987.