29 augustus 2004

twaalfde sondag in koninkrykstyd

liturgiese voorstel

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: Lukas 11:37-54

Ander Tekste: Jeremia 2:4-13; Psalm 81; Hebreërs 13:1-16

Inleiding

Wanneer Lukas, wat ook self nooit vir Jesus gesien het nie, sy evangelie op skrif stel, is dit reeds aan die begin van die derde geslag nadat Jesus gebore is. Lukas is ook die een evangelieskrywer wat 地 besondere oog vir die armes, siektes en verdruktes gehad het. Lukas wys ook dat Jesus self 地 besondere passie vir die randfigure van die samelewing gehad het. Hy was immers self in seker sin ook maar 地 randfiguur: word in 地 geleende krip gebore en sterf saam met boosdoeners. Hierdie evangelie voer in Jaar C die botoon. Daar is net vier of Sondae in Jaar C waar daar nie 地 Lukasteks gelees word nie.

Die gedeelte waaruit die volgende drie Sondae se tekste kom, is deel van die reisverhaal waarin Lukas vertel van Jesus wat op pad is na Jerusalem om te sterf.

Op pad het Jesus sy dissipels bepaalde dinge geleer oor die koninkryk wat op hande is. Die krisis wat sy koms na die wêreld en die volgende gebeure, sy sterwe en opstanding, sou veroorsaak, maak dit vir die dissipels noodsaaklik om gereed te wees. Terwyl dit nou al twee geslagte later is, gebruik Lukas hierdie vertellings om by die kerk 地 lewendige verwagting vir die tweede koms van Jesus te kweek. Die groepie (klein kuddetjie) wat Jesus reeds ken en volg, moet voortdurend daaraan dink en gereed wees vir daardie dag. Dit beteken dat hulle in die tussentyd 地 bepaalde leefstyl van wag en gereed wees, moet handhaaf om te verseker dat die dag van die Seun van die mens hulle nie oorval nie. Ons sou vandag bokant Lukas se reisverhaal kon skryf: Die leefstyl van die kerk wat wag.

Jesus praat deur Lukas in seker sin doodgewoon met 地 groepie mense wat, soos ons vanoggend, in die kerk is. Mense wat Hom ken, gereed is en op sy wederkoms wag.

David Simon sê in sy preekstudie dat van hierdie teks geld: "Op weg na Jerusalem bied die gesprekke tussen Jesus en die Fariseërs, Jesus en sy dissipels, Jesus en ander mense, hulle almal die geleentheid om te verander en om die omvattende reinheid van God se Koninkryk te omhels en daarvolgens te leef." Sy preekvoorstel dien gemaklik as verhaal vir die hele erediens vandag.

Afgesien van die Psalmteks, werk die ander tekste vir hierdie Sondag ook met 地 saak wat Jesus op sy reis na Jerusalem aan die orde gestel het, naamlik nederigheid, maar dit pas nie in by die tema van vandag se teks nie. Psalm 81, met sy baie bekende melodie, behoort, veral soos in die nuwe beryming klink, as lofsang gebruik te word. Terwyl sekere dele by die uitsending, veral as opdrag van God, oor hoe ons behoort te lewe, baie goed te pas kom.

diens van die tafel

Die hele gesprek wat Jesus in Lukas 11:37-54 gevoer het, het rondom die eettafel plaasgevind. Daar kan dus van die preek af direk oorbeweeg word na die tafel.

Geloofsbelydenis

Liturg: Lees die Geloofsbelydenis van Nicéa.

Gemeente: "Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid."

Gebruik die eucharistiegebed in plaas van die nagmaalsformulier. Sluit net voor die instelling van die tekens aan by die slotsin van die preek: "... die gesprekke ... bied aan almal die geleentheid om te verander en om die omvattende reinheid van God se koninkryk te omhels en daarvolgens te leef". Sonder om met die gemeente te raas, verwys na dit wat Jesus in vers 41 aan die Fariseërs sê: "Gee liewer wat in (eie kursivering) die borde is, vir die armes dan sal alle dinge vir julle rein wees ... Dit is die praktiese pad om "rein" te word, soos ons in die preek gehoor het.

 

uitsending

Wet

Liturg: "As broers moet julle mekaar altyd liefhê. Moenie nalaat om gasvry te wees nie ... Dink aan die gevangenes ... en aan dié wat mishandel word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar ... wees tevrede met wat julle het. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike nie. Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie" Hebreërs 13: 2a, 3a, 4b, 5b, 9a, 16a.

"Daar mag vir julle geen ander god wees nie,

julle mag voor geen vreemde god neerbuig nie.

Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het" Psalm 81:10.

of

"Dien geen ander God.

Luister, wees gehoorsaam.

Eer dan my gebod.

Wat jy vra van My

sal jy van My kry,

volop en genoegsaam." Psalm 81:5 (beryming T.T. Cloete)

Gemeente: "Die Here is my helper,

Ek ken geen vrees nie ...

 

PREEKSTUDIE LUKAS 11:37-54

Teks en konteks

Die maaltydtonele en gasvryheid voorsien die hoofraamwerk (Heil) vir Lukas se verhaal van die dinge wat onder ons gebeur het (1:1). Dit word deur verskillende literêre genres, soos wonderwerke (9:10-17) en gelykenisse (15:1-32) uitgedruk. Die maaltyd-toneel in Lukas 11:37-54 vorm `n narratiewe eenheid binne die gedeelte oor Jesus se "Aanvaarding en Verwerping" (10:38-11:54). Lukas plaas dit binne sy breë verhaal. Daarmee wys hy dat die konflik tussen Jesus en die godsdienstige leiers deel van die verhaal is. In hierdie tweede maaltyd-toneel (7:36-50, eerste maaltyd met Fariseërs) bereik die konflik `n hoogtepunt.

`n Sosio-narratiewe benadering (Gowler) beklemtoon die verhouding tussen literêre en sosiologiese analise van `n narratiewe teks, en dié tussen sosio-kulturele en godsdienstige (teologiese) dimensies. Vir die uitleg van die twee preekstudies funksioneer eer/skande en reinigingsreëls as sosio-kulturele simbole (scripts) (Gowler gebruik nog `n tweedeling, familieskap/oikos en patronaat-kliënt/Beperkte Goedere). Met die simbole ontleed Gowler die Fariseërs as karakters in Lukas-Handelinge. Die simbole is die kern van wêreldbeskouings wat die interaksies tussen mense begrens en bepaal. Hulle verskaf dus die nodige inligting oor die narratiewe wêreld, die Mediterreense wêreld as die breë konteks van Lukas. Dit is `n wêreld waar kultureel-godsdienstige simbole rigiede grense bepaal; wie en wat ingesluit en uitgesluit word in groepe en instansies. Aspekte van hierdie wêreld en gebeure word uitgebeeld in Lukas. Jesus se gedurige konflik met die Fariseërs en wetgeleerdes word deur die maaltyd in Lukas 11:37-54 geskets (Kingsbury). Eer/skande en reinheidsreëls dryf die konflik aan. Die maaltyd word die ruimte waar die kultureel-godsdienstige inhoud, waardes en persoonlikhede van die karakters (Jesus, die Fariseërs, die wetgeleerdes, die dissipels en ander mense) kontekstueel ontbloot en aangespreek word.

Lukas kyk terug na die geskiedenis van die vroeë kerk en vertel aan sy "ekumeniese" gehoor "heiden" Christene en Joodse Christene (Penney) onder watter omstandighede en hoe Jesus die verlossingsboodskap eerstens aan Israel verkondig het.

Jesus begin sy bediening in Galilea en reik uit na Jode in sinagoges, in huise en op straat. Die inwoners van 地 dorp van die Samaritane wou Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem op pad was (9:53). Hy het dus " vasbeslote die reis na Jerusalem begin" (9:51). Op pad is hy in dorpe as gas ontvang, en het ook die geleentheid gebruik om mense te leer (10:38). Op ander plekke het hy duiwels uitgedryf (11:14-23). Sommige wou " Hom op die proef stel deur van Hom `n wonderteken uit die hemel te vra" (11:16). Dit is (dalk) een van die redes waarom Jesus onmiddellik uitgenooi word om by een van die Fariseërs te eet (11:37).

Twee frases baken die perikoop af: "Hy het toe in sy huis ingegaan ..." (11:37); "Toe Hy uit die huis weggegaan " (11:54). Die verhaal begin waar `n Fariseër dringend met Jesus wou praat. Net toe Jesus klaar gepraat het (Terwyl Hy besig was om te spreek), is hy genooi. Die Fariseër het sekerlik al gehoor en gesien wat Jesus tot dusver gedoen het. In die vorige perikoop (11:33-36) het hy geluister wat Jesus oor die oog as die lamp van die liggaam gesê het. Net voor sy uitnodiging het Jesus die metafoor afgesluit met `n voorwaarde en uitdaging aan sy gehoor: "As jou hele liggaam verlig is en nie `n enkele donker plekkie het nie, sal dit heeltemal verlig wees soos wanneer `n lamp jou met sy skynsel verlig" (11:36). In kort, die toestand van die oog (sleg of goed) bepaal die toestand van die liggaam (sonder lig/onrein of verlig/rein).

Reiniging wat begrens en beperk

Die konflik in die storie draai rondom Jesus wat nie sy hande voor die maaltyd was nie, die gasheer se verwondering, en Jesus se reaksie daarop. Dit is meer as `n konflik tussen persoonlikhede. Die konflik word gevoed deur teenstrydige reinigingsreëls en is dus `n konflik tussen wêreldbeskouings binne verskillende raamwerke. Jesus en die Fariseërs se reinigingsimbole verskil drasties. Dit trek verskillende grense wat bepaal wat eer en skande in gemeenskappe is. Eer, net soos identiteit, kan nie (bloot) deur reinigingsreëls bekom word nie. Eer en identiteit word toegeken en verwerf (Wuthnow). Jesus word eer toegeken: "Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word." God sal Hom die troon van Dawid gee en Hy sal dus as koning heers tot in ewigheid (1:32-33). In en deur die konflik met die Fariseërs verwerf, verdiep en verbreed Jesus se toegekende eer en identiteit (Gowler). Aan die ander kant is beide die toegekende en verwerfde eer en identiteit van die Fariseërs as leiers op die spel.

Die metafoor van die oog as lamp van die liggaam (11:33-36) word nou verbreed deur `n ander metafoor en verder toegepas op die Fariseërs as groep. Jesus se metafoor van "bekers en borde" (39) beklemtoon dat die Fariseërs net skoonmaak waar die oog kan sien (die buitekant), maar dit wat verberg is (die binnekant) word nagelaat. Hulle " maak die buitekant van bekers en borde skoon, maar nie die binnekant nie" (39). Die tweede gedeelte van die metafoor (die binnekant van die bekers en borde is vuil) is weggelaat om die Fariseërs direk aan te spreek: "maar binnekant is julle self vol inhaligheid en gemeenheid." Die inhaligheid en gemeenheid word blootgestel as die diepste motivering vir dit wat hulle doen (Nolland). Jesus se retoriese vraag tas hulle toegekende en verworwe eer en identiteit as leiers aan. Die buite- en binnekant is ewe belangrik, het God nie albei gemaak nie? Julle dwase, as leiers behoort julle dit te weet. Soos dit tans is, is julle binnekant nutteloos.

Omvattende reinheid steek grense oor

Die toegekende en verworwe eer en identiteit van Jesus behels omvattende reinheid wat grense oorsteek in die interaksies met God en medemens. Die Fariseërs word uitgedaag om hierdie omvattende reinheid na te spoor.

Die binnekant van hulle bekers en borde (die inhoud) is wel bruikbaar, mits hulle dit vir die armes gee (41). Vers 42 wys dat die gee van tiendes (apodekatoute), `n klassieke uitdrukking van Joodse piëteit, nog steeds belangrik is vir Lukas. In geheel reflekteer die gee van tiendes die innerlike die verhouding met God en ander (Nolland). Lukas oordryf `n bietjie met die uitdrukking "gee van elke soort kruie", om sy punt te beklemtoon. Met "die gee van elke soort kruie" bedek die Fariseërs die innerlike. Soos enige oppervlakkige en niksbeduidende praktyk is hierdie soort gee van tiendes nietig, dit is soos die was van die bekers en borde se buitekant terwyl die binnekant vuil bly (Nolland). Die binnekant van die mens is egter belangrik, daarom gee die teks in Matteus primêr aandag daaraan. Die teks by Lukas beklemtoon die innerlike sowel as die invloed op die uiterlike (Nolland).

As `n uitvloeisel van inhaligheid en gemeenheid is die nietige gee van tiendes in konflik met die gee van die innerlike, dit is die geregtigheid (krisis) en liefde (agapé) vir God (42). "Die geregtigheid van God" (tén krisiv Theou) beteken nie die oordeel van God nie. Dit verwys na die geregtigheid van God soos deur Jesus en andere in sosiale verhoudings nagestreef word, veral in verhoudings met randfigure. Die inhaligheid, gemeenheid en nietige gee van tiendes wat daarmee saamhang, veroorsaak dat die Fariseërs se optrede teenoor die (regte van) armes, die "geregtigheid van God" staan (Marshall; Stein). In hierdie konteks kan twee misvattings oor die "liefde van God" (agapé tou Theou) met mekaar verbind word. Die Fariseërs verontagsaam om God self lief te hê, want in hulle verhouding met die randfigure verontagsaam hulle die soort liefde wat God vereis (Marshall).

In die lig van die regte soort "geregtigheid en liefde vir God", kry "alle ander dinge" (ta panta) betekenis en dit moet dus nagestreef word: die verandering van die binnekant van die Fariseërs in vers 39; die gee van tiendes (42), die gee van die borde en bekers se inhoud vir die armes (41). As dit alles nagekom word, "dan sal alle dinge rein wees" (panta kathara). In kort, so is ware reinheid iets anders as die reinheid van die Fariseërs. Reinheid word deur Jesus se lering gemaksimaliseer verbreed en verdiep. Die reinheid waarvan Hy praat, het `n sterk sosiale komponent. Met "liefde vir God" as die bron en dryfkrag word reinheid verbind met barmhartigheid en geregtighied in die godsdienstige en sosiale sfere. Die uitdaging vir die Fariseërs, vir lidmate en gemeentes vandag is: Omvattende reinheid (alle dinge word rein) behels: liefde, barmhartigheid, geregtigheid, dit steek rigiede grense oor en omhels randfigure.

Met hierdie agtergrond pas die laaste verse (45-54) makliker in die preek (volg laaste gedeelte van riglyne vir preekvoorstel).

Preekvoorstel

Om die wêreld van die teks en gemeente bymekaar te bring en sodoende die probleme en uitdagings rondom die tema aan te spreek, behoort die prediker hom/haar binne die gemeente en lidmate se identiteit, waardes, etos/lewenstyl, hulle kultureel-godsdientige raamwerk te plaas en dit deur die teks te laat aanspreek. `n Preek oor Lukas 11:37-54 kan `n negatiewe of positiewe benadering volg. In beide gevalle kan die vloei van die teks gevolg word. Riglyne vir hierdie preekvoorstel volg die sterk negatiewe en veroordelende toon van die teks. Die prediker sou wel kon kies vir `n meer positiewe benadering en die ander toon inwerk. So kan sy/hy rondom die tema van omvattende reinheid tekstematies preek en elk van hierdie uitsprake as riglyn gebruik. Die tema: "Die geregtigheid en liefde vir God sal alle dinge rein maak", veronderstel dat die prediker die riglyne positief sal benader, sonder om die sterk negatiewe gevoel van die konfrontasie en oordeel ("Wee julle) prys te gee. `n Benadering, soos: "Geseënd is julle wat die geregtigheid en liefde vir God nastreef, vir julle sal alle dinge rein wees", sou `n gepaste vertrekpunt kon wees vir die feestelike aard van die erediens. Dit kan die gemeente se verbeelding aangryp en laat besef dat, ten spyte van elke "Wee julle", is daar `n ander werklikheid ("Geseënd is julle") van God se koninkryk. Die ses oordeeluitsprake behoort `n spieël vir die gemeente te wees.

Soggens staan ons voor `n spieël en maak seker dat alles in plek is. Ander tye vra ons vir iemand anders, wat ook as spieël optree: hoe lyk my gesig, hare? Hoe skoon, netjiesen rein is ek? Die Fariseërs en wetgeleerdes se doen en late en Jesus se ses profetiese uitdagings ("Wee julle"), word `n spieël waarin elkeen na haar/homself, na ander en mekaar in die gemeente, kan kyk. Ek sien ses krake in die spieël: is die krake `n refleksie van hoe ek/ons voor God, voor en met ander leef? Jesus se ses uitsprake spreek en konfronteer ons reguit.

Wat die gasheer in die teksgedeelte sien laat hom verwonder. Jesus kom nie die gebruik tydens `n ete na nie; eers hande was en dan eet (38). Die Fariseërs het die reinheidsreëls vir die tempel op alle vlakte van die samelewing begin toepas. Vir hulle was handewas nie maar net om higiëniese redes nie. Dit was `n simboliese reinigingsritueel binne `n gevestigde kultureel-godsdientige raamwerk. Die Fariseër het gesien of dalk self gehoor, hoe Jesus `n duiwel uitgedryf het uit iemand wat nie kon praat nie (11:14). Nou sien hy Jesus was nie sy hande voor die ete nie. Dit was vir hom `n ernstige saak. Handewas was vir hom `n dryfveer van die simboliese raamwerk waarbinne hy geleef het. Dit het tot `n groot mate bepaal wat hy gesien het, sy ingesteldheid, en hoe hy sou optree teenoor Jesus, die gas, se gedrag.

Die rigiede lens van die reinigingsreëls en eer/skande waardesisteem beperk die Fariseërs se verstaan en uitleef van omvattende reinheid. Jesus sien hulle as dwaas. Sy ses oordeelsuitpsrake "Wee julle" vernietig beide die Fariseërs en wetgeleerdes se eer, status en identiteit as leiers. Vir hulle is dit "Wee julle". Wat van ons? Is dit "Wee julle!", of "Geseënd is julle!" (die prediker kan dit met verskillende metodes verduidelikings en voorbeelde uitbrei).

"Wee julle!""Geseënd is julle!"?

Tiendes is nie noodwendig verkeerd nie. Hulle gee tiendes, maar verontagsaam omvattende reinheid (41). Die Fariseërs se reinheidsreëls veroorsaak dat hulle nie hierdie omvattende idee van reinheid verstaan en uitleef nie. Omvattende reinheid behels liefde en barmhartigheid en geregtigheid wat rigiede grense oorsteek en randfigure omhels.

"Wee julle!" "Geseënd is julle!"?

Die reëls bepaal ook die grense oor wie waar sit in die sinagoge. Wat `n kontras: dié wat die buitekant skoonhou en die binnekant nalaat, hou van die ereplek in die sinagoges (43). Hulle eien die ereplek; dit word nie aan hulle toegeken nie. Hulle aanvaar die eer en identiteit as godsdienstige leiers as vanselfsprekend, en dus hou hulle ook daarvan om op straat eerbiedig te word.

"Wee julle!" "Geseënd is julle!"?

Die Fariseërs word met "grafte" (44) vergelyk. In vergelyking met die oordeel van Jesus as onrein omdat hy onlangs duiwels uitgedryf het en nie hande voor die maaltyd gewas het nie, is Jesus se aanval verdoemend. Hy val hulle simboliese wêreld en reinheidsreëls direk aan, wat hulle hunkering na eer en status voed. Hulle is so onrein soos die grafte kan wees, nogtans beweeg hulle tussen mense, hou van ereplekke en wil met eerbied gegroet word op straat (43). Die "hou van die ereplek" terwyl die binnekant onrein is, is 地 vorm van skynheiligheid (masker dra). Dit versteek hulle identiteit, daarom is hulle "soos onherkenbare oop grafte" waaroor mense loop. Met die godsdienstige maskers bedrieg en maak hulle eintlik die mense onrein. Die Fariseërs versteek hulle ware identiteit oënskynlik het hulle "uiterlike gepaste gedrag", maar in werklikheid is hulle "innerlik korrup" (Marshall).

Hulle kom met alles weg, want die mense is onbewus dat hulle binnekant self vol inhaligheid en gemeenheid is (39). Onbewus van wie hulle werklik is, hou die mense kontak met hierdie onherkenbare grafte. Gemeet aan die reinheidsreëls oor kontak met grafte wat die Fariseërs streng navolg, behoort die mense hulle eintlik te vermy.

Die wetgeleerdes is eintlik reg as hulle voel dat Jesus (Meneer) hulle ook beledig (45). Dit is nie maar net `n saak van "guilty by association nie". Van die wetgeleerdes was lede van die Farisese party. Tweedens, hulle sit ook op ereplekke en wil ook op straat eerbiedig gegroet word (Marshall). Derdens, hulle het `n groot verantwoordelikheid gehad dat leiers en mense die reinheidsreëls, in die lig van die wet, sou uitleef binne en buite die tempel (Nolland). Dus, weens hulle eer en status wat ook op die spel is, reageer hulle op Jesus.

"Wee julle!" "Geseënd is julle!"?

Die wetgeleerde se reaksie gee Jesus die geleentheid om die godsdienstige rol wat die wetgeleerdes vervul in die vierde tot sesde "Wee julle", aan te spreek. Hulle rol skiet ver te kort as tussengangers van of sleutel tot God se koninkryk. Anders as Jesus, maar net soos die Fariseërs, verloor die wetgeleerdes aansien en het geen noemenswaardige rol nie. Hulle persoonlikheid, gesag en eer is ook in die gedrang.

Lukas gebruik die reaksie om Jesus se konflik met die wetgeleerdes as leiers aan te dui. Die mense word in die eerste plek deur hulle belaai met ondraaglike laste van die wet (46). Dit is die gewone mense, insluitende die randfigure, wat onder die rigiede en genadelose verstaan en toepassing van die wet ly. Die ergste kritiek is dat die wetgeleerdes "geen vinger verroer om die laste te dra nie" (46).

"Wee julle!" "Geseënd is julle!"?

Die profete wat hierdie praktyke teenstaan, is deur die wetgeleerdes se voorvaders vermoor (47). Hulle kyk nie krities na die rigiede en genadelose toepassing van die wet deur hulle voorvaders nie en ook nie waarom die profete vermoor is nie. Sonder enige gewete "bou hulle grafmonumente vir die profete".

Daardeur keur hulle, as die huidige geslag (50), die dade van die voorvaders goed (48). Daarom is hulle ook "skuldig aan die bloed van al die profete wat vergiet is" (50). Nie eens hulle eie reinigingsreëls en ere/skande kodes kon verhoed dat die profeet Sagaria tussen twee heilige plekke, "tussen die altaar en die tempel", vermoor word nie (51). Dit alles, die doodmaak en vervolging van die profete en apostels, is in die verlede deur "Die Wysheid van God" voorspel (49).

"Wee julle!" "Geseënd is julle!"?

In vers 52 verwys "die sleutel van die kennis" (gnōsis) vanselfsprekend na God se verlossingsplan (Stein), "die koninkryk van God as `n teenwoordige realiteit" (Marshall). Twee gedagtes word terselfdertyd aan die woord "van die kennis" (t駸 gnōsis) gekoppel: die sleutel behels die wysheid van God en lei na die wysheid van God (Marshall). Beïnvloed deur verblindende tradisies en reinigingsreëls, hou die wetgeleerdes God se wysheid, soos dit gestalte kry in die verlossingsplan, weg van die mense af. Dié tradisies en reinigingsreëls was ook die struikelblok wat dit vir hulle onmoontlik gemaak het om te besef dat ervarings met die verlossingsplan kan dien as sleutel tot "God se wysheid". Dit was `n struikelblok vir die wetgeleerdes, want hulle het self nie ingegaan nie en die ander, wat wou, het hulle verhinder (52).

Vers 53 en 54 gee `n aanduiding waarom die Fariseër Jesus genooi het en hoe hulle opereer. Hulle het strikvrae aan hom gestel, en fyn opgelet wat hy sê, sodat hulle hom kan vastrek en verder kon aanval. Hiervandaan, soos Jesus voortgegaan het op weg na Jerusalem, het sy konflik met hulle meer intensief geword.

Op weg na Jerusalem bied die gesprekke tussen Jesus en die Fariseërs, Jesus en sy dissipels, Jesus en ander mense, hulle almal die geleentheid om te verander en om die omvattende reinheid van God se Koninkryk te omhels en daarvolgens te leef.

Bibliografie

Endo, S. 1980. Silence. Taplinger Publishing Company; Green, J B 1997. The New International Commentary on the New Testament: The Gospel of Luke. Eerdmans; Gowler, B D 1991. Host, guest, enemy, and friend: potraits of the Pharisees in Luke and Acts. Peter Lang; Heil, J P 1999. The Meal Scenes in Luke-Acts: An audience-oriented approach. Society of Biblical Literature; Kingsbury, J D 1991. Conflict in Luke: Jesus, authorities, disciples. Fortress Press; Marshall, I H 1978. The New Testament international Greek testament commentary: The Gospel of Luke. The Paternoster Press; Newbigin, L 1993. Preface, in James M Phillips en Robert T Coote (eds.), Toward the 21st century in Christian mission. Wm. B. Eermans, 1-6; Nolland, J 1993. Word Biblical commentary (Volume 35B). Word Books; Penney, J M 1997. The missionary emphasis of Lukan pneumatology. Sheffield Academic Press; Stein, R H 1992. The New American Commentary: An exegetical-theological exposition of the Holy Scripture (Volume 24, Luke). Broadman Press; The Interpreter痴 Bible (Vol IX). Abingdon Press; Wuthnow, R 1993. Christianity in the 21st century: Reflections on the challenges ahead. Oxford University Press.