22 AUGUSTUS 2004

ELFDE SONDAG IN KONINKRYKSTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: Lukas 11:21-26

Ander tekste: Jeremia 1:4-10; Psalm 103; Hebreërs 12:18-29

Inleiding

Maak seker dat u weer die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik vir hierdie Sondag se erediens. Die opmerkings en voorstelle wat hier volg, is suggesties vir hoe u die liturgiese tekste kan gebruik en liedere wat oorweeg kan word.

Skrifgebruik

Ons fokusteks (Luk. 11:21-26) is besonder geskik vir prediking in oninkrykstyd. Dit handel oor die koningskap van Jesus in die lewe van die gelowige. Die beeld wat ten grondslag van dié teks lê, is dat die mens 'n huis/woonplek is. In die man wat Jesus bevry het, het 'n bose gees "gewoon" wat hom stom gemaak het. Jesus bevry die man en dryf die bose inwoner uit. Nou is die bevryde man weer soos 'n skoongemaakte en vakante huis. In ons preekteks beklemtoon Jesus dan die noodsaaklikheid daarvan dat Hy die nuwe intrekker in dié huis moet wees.

Die liturgie kan by hierdie beeld aansluit en die gemeente help om Jesus vanmôre, in hul eie lewens en in die kerkgebou en hul families en die wêreld buite die kerk, te verwelkom as inwonende Hoof. Die erediens sluit dan aan by die volgende belydenis en verbintenis: Jesus het die Bose verslaan en uit ons lewens en die wêreld uitgedryf ons onderwerp ons aan Hom as Koning. Rig die liturgiese momente rondom hierdie tema in.

Die ander liturgiese tekste kan soos volg gebruik word

Jeremia 1:4-10 kan by die doopbediening of by die uitsending gebruik word. By die doopbediening kan dit gelees word om die geroepenheid van elke gedoopte te beklemtoon. By die uitsending kan dit gelees word om die gemeente te fokus op hul roeping in die wêreld.

Ps 103 kan in die eerste beweging van die liturgie (God versamel ons voor Hom) gebruik word om die gemeente in hul skuldbelydenis te lei. Die psalm getuig van God se genadige liefde. Dit kan in sy geheel gelees en dan opgevolg word met die skuldbelydenis van die gemeente. Of dit kan as loflied gelees word na die skuldbelydenis. U kan dit ook soos volg gebruik: Die voorganger lees vers 8-13 en dan volg die gemeente met die lees van vers 1-5.

Die psalm kan egter ook by die nagmaal gebruik word as lof na die kommunie.

Hebreërs 12:18-29 beklemtoon die eenmaligheid en finaliteit van God se spreke deur Jesus. Dit lê ook sterk klem op die oomblik van die uur waarin ons leef. Dit sluit dus sterk aan by die fokusteks se gelykenis as deel van die groep gelykenisse wat op die uur klem lê en onmiddellike en dringende aksie vra (Jeremias). Maar waar Lukas 11:21-26 op die individu fokus as woning vir God of die Bose, rig Hebreërs 12:18-29 ons op 'n ander woning, naamlik God se stad, die hemelse Jerusalem (v. 23). Dié teks beklemtoon die feit dat die gelowige reeds in God se teenwoordigheid gekom het by Hom woon. Daarom kom die oproepe tot die regte soort lewe: "Pas op ..."(v. 25-27) en "Laat ons ..." (v. 28-29). Die teks kan dus saam met die fokusteks gelees word om die preek te ondersteun. Of dit kan by die uitsending gelees word om die gemeente aan te moedig tot die regte soort lewe in die week.

Die volgende liedere kan vir die liturgie oorweeg word

Liedere wat die Here nooi om by die gelowige te kom woon of Hom bely as woning:

NSG 72, 111, 175, 181, 204, 208

Lied 72, 406, 432, 470 (veral vers 4), 599, 602

Liedere vir lof en aanbidding vanuit die belydenis van sy teenwoordigheid

NSG 1, 16, 39, 52

Lied 159, 169, 449

 

 

Liedere wat Jesus as Koning bely en oorgawe aan Hom uitdruk

NSG 107, 128, 130, 147, 151

Lied 177, 216, 470

Liedere by die uitsending

NSG 194, 201

Lied 311, 505, 533/534

PREEKSTUDIE LUKAS 11:21-26

Teks en konteks

By Lukas 11:14 begin 'n nuwe moment in Jesus se reis na Jerusalem. Die fokus begin toenemend val op die teëstand wat teen Jesus opbou (Berkelbach van der Sprenkel en Marshall). Van hier af tot by 11:54 is Jesus in 'n onderonsie met die Fariseërs en wetgeleerdes gewikkel. Die onderonsie word ingelei deur 'n wonderwerk van Jesus waarop mense verskillend reageer. 'n Stom man begin weer praat nadat Jesus 'n duiwel uit hom gedryf het (14). Sommige is sommer net in verwondering. Maar ander vra vrae oor Jesus se gesag: "In wie se naam het Hy dit gedoen?" Daar is net twee name moontlik: Beëlsebul, die aanvoerder van die duiwels of Jahwe, die God van Israel, wat met allerlei wondertekens in die geskiedenis van sy volk se lewe bewys het dat Hy heers en ook mag het oor die Bose. Jesus was onder beheer en in diens van óf Beëlsebul, óf God. Diegene wat geweier het om te aanvaar dat Hy van God kom en in sy diens staan, het vir mekaar gesê: "Hierdie man is goeie vriende met die duiwel self. Daarom luister die bose geeste na Hom" (Die Boodskap).

In sy reaksie (v. 17-20) toon Jesus met twee argumente aan dat dit eintlik verskriklik onlogies is om sy wonderwerk aan die duiwel toe te skryf. Want sou dit dan beteken dat die duiwel teen homself veg (17-18a) en dat sy teenstanders se eie volgelinge ook duiwels in die naam van die duiwel uitdryf (18b-19). Hiermee beskou Jesus die argument as afgehandel en bly daar eintlik net een logiese verklaring vir sy optrede oor, naamlik dat Hy "deur die vinger van God" optree (20)(NAV). Hier is 'n interessante verskil tussen Lukas en Matteus se weergawes van die woorde van Jesus. Volgens Lukas sê Jesus dat Hy deur God se "vinger" optree en volgens Matteus sê Hy dat Hy deur die "Gees van God" die duiwels uitdryf (Matt. 12:28). Die uitdrukking "vinger van God" is in die Ou Testament 'n tipiese verwysing na God self wat optree (vgl. Eks. 8:19; 31:18; Ps. 8:4; Dan. 5:5), as 'n ander vorm van die uitdrukking "hand van God" met dieselfde betekenis as "Gees van God". Daar is dus wat betekenis betref, geen verskil tussen Lukas en Matteus se weergawes nie (Marshall). Deur die uitdrukking "vinger van God" te gebruik definieer Jesus sy eie sending in terme van die bevryding (Eksodus) uit Egipte (Brown). En dit beteken dat die koninkryk van God self in sy dade deurbreek.

In verse 21 en 22 vertel Jesus 'n gelykenis waarmee Hy duidelik wil maak hoe sy optrede met die uitdrywing verstaan moet word en waarmee Hy ook die Fariseërs en skrifgeleerdes uitdaag om hul houding teenoor Hom te verander. Die "sterk man" in 21 verwys na die duiwel/bose gees en die "sterker een" in 22 na Jesus self. Hiermee toon Jesus aan dat Hy inderdaad gekom het om die duiwel(s) te ontwapen en hul besitreg en mag om te beheer, te ontneem. Sy genesing van die stom man is die bewys daarvan dat Hy besig is om Beëlsebul en sy duiwels die stryd aan te sê en hul mag te breek. Dit beteken dat die uur met Jesus se optrede aangebreek het waarop God met die Bose slaags raak. En daarom is elkeen wat nie Jesus se goddelike gesag aanvaar nie by implikasie teen die koninkryk van God en besig om die Messias se werk te dwarsboom. Die "bymekaarmaak van die skape" is 'n tipiese Ou-Testamentiese verwysing na dit wat die Messias sou kom doen. Dus sê Jesus: "Geen neutraliteit rondom my is moontlik nie" (23). Hiermee probeer Jesus ook sy teenstanders se oë daarvoor oopmaak dat dit eintlik hulle is wat aan Beëlsebul se kant veg en nie Hy nie. Hy maak die skape bymekaar en hulle verstrooi hulle. Volgens Jeremias maak die gelykenis deel uit van die groep gelykenisse wat te doen het met die uitdaging wat die uur bring. In sy optrede, sê Jesus, breek die koninkryk van God deur. Dit beteken dat die uur die oomblik van waarheid en keuse aangebreek het. En die enigste regte keuse is om vir Hom te kies.

Verder wys Jesus daarop dat uitdrywing en bevryding van die duiwel nie genoeg is nie (24-26). Waarskynlik was hierdie woorde direk tot die bevryde stom man gerig en dus aan elkeen wat Jesus se bevryding/genesing beleef. Weereens beklemtoon Jesus 'n daadwerklike keuse vir en verbintenis tot Hom. Dit is nie genoeg om net van die ou bose meester ontslae te raak nie. 'n Nuwe meester (Jesus) moet intrek en die vrygemaakte se lewe reël. Volgens Jeremias is dit tipies van die "gelykenisse van die uur" dat dit ook die waarskuwing inhou om nie iets halfpad te doen nie. En volgens hom hou hierdie gelykenis dieselfde waarskuwing in as die gelykenisse in 14:28-32. Dit is 'n berekende keuse wat gevra word; 'n keuse waarin die beheer van die lewe doelbewus en met oorgawe aan die beheer van Jesus oorgegee word. Want die bevryde lewe is alleen veilig indien Jesus wat die Bose uitgedryf het ook die beheer daarvan oorneem. Anders kom die duiwel terug en bring nog ander duiwels saam om weer intrek in die bevryde te neem. En dan is hy/sy nog meer as voorheen gebind. Die stryd tussen Christus en die Bose in die lewe van die mens, vind nie sonder die mens se deelname plaas nie. Ons is nie objektiewe waarnemers van die stryd nie, maar is self aktief deel daarvan. Jesus bevry! Hy maak die huis skoon vir 'n nuwe intrekker Homself. Maar dan neem Hy nie as 'n nuwe despoot en diktator intrek nie. Ons moet Hom verwelkom en ons aan sy heerskappy onderwerp. Neutraliteit is onmoontlik en eintlik 'n keuse vir die Bose.

Dat hierdie onderwerping 'n voortdurende proses en 'n stryd met die Bose is en bly, word deur Paulus beklemtoon (Gal. 5 en Ef. 6). Die duiwels kom nie net een keer kyk of my huis leeg staan nie. Hulle kom aanmekaar. Op meesterlike wyse beskryf CS Lewis in The Screwtape Letters die strategie van die Bose om ons van 'n lewe van bekering weg te hou. In sy voorwoord rig hy dié waarskuwing: "There are two equal and opposite errors into which our race can fall about the devils. One is to disbelieve in their existence. The other is to believe, and to feel an excessive and unhealthy interest in them. They themselves (die duiwels) are equally pleased by both errors and hail a materialist or a magician with the same delight." In beide van hulle se lewe is Jesus Christus, aan wie alle mag gegee is (Matt. 28:18), afwesig. Lewis se waarskuwing is ewe geldig in ons dag. Baie lidmate lewe volgens die oortuiging dat die duiwel nie eintlik regtig bestaan nie en dat daar te veel duiwels agter elke bos gesoek word. Dit is natuurlik waar dat daar gelowiges is wat in hul ywer vir geestelike oorlogvoering soms 'n ongesonde neiging het om bose geeste en besetenheid oral te wil diagnoseer so asof dit eintlik die duiwel is wat hierdie wêreld regeer en nie Jesus nie. Die ander gevaar is ewe groot, naamlik dat ons die bestaan van die Bose en duiwels ontken en met sy subtiele werking in ons lewens en die wêreld nie rekening hou nie. Jesus erken die bestaan van die Bose. Hy ken sy vyand en het gekom om hom te oorwin en alle mag te ontneem. Juis daarom sê Hy moet ons op Hom fokus en sy heerskappy oor ons lewe en die wêreld erken. Sy inwoning in ons lewens en 'n lewe van toewyding aan Hom (daagliks) is die enigste beskerming teen die Bose.

Berkelbach van der Sprenkel en Marshall reken dat vers 27-28 'n gepaste afsluiting is vir die voorafgaande gesprek. Jesus benut die vrou uit die skare se uitroep om sy kritici daarop te wys dat hulle eerder sy woorde moet aanvaar en gehoorsaam as om sy magtige werke te bevraagteken (Marshall). Jesus sê dat die regte reaksie op Hom nie 'n loflied is nie, maar gehoorsaamheid aan sy woorde (Hegermann).

Preekvoorstel

Die beeld van 'n huis wat Jesus in ons teks gebruik, is besonder geskik om die waarheid wat Jesus wil tuisbring ook vir ons hoorders verstaanbaar te maak. Meeste van ons weet van uittrek en intrek. Ons weet wat dit is om 'n huis skoon te maak na ou inwoners getrek het en nuwe intrekkers inkom. Ons ken ook uitsettingsbevele. Ons weet ook wat met 'n huis gebeur wat leeg staan. Benut hierdie beeld in u preek. Wees net versigtig om nie die beeld te gebruik om meer te sê as wat die teks wil sê nie of om te veel te wil sê nie.

Moenie net oor bekering preek nie. Jy hoef selfs nie eers die woord "bekering" te gebruik nie. Bekering is iets wat gebeur as Jesus voor jou te staan kom en jou met Homself konfronteer. Dit is iets wat met jou gebeur as Jesus jou oproep tot 'n keuse vir Hom vir die eerste maal of by vernuwing. Die uitdaging is dus om só te preek dat jou hoorders Jesus self met hulle hoor praat en hulle oproep tot 'n keuse vir Hom en oorgawe aan Hom.

Jy kan van die volgende gedagtes benut as jy wil.

Die keuse van 11:21-26 as teks vir hierdie Sondag gee aan die preek 'n spesifieke fokus. Hierdie verse lê klem op die deurbreek van God se koninkryk in Jesus. As die "sterker Een" wat as Bevryder kom om die Bose te ontwapen en uit elke "huis" te dryf, bevestig Hy God se heerskappy (21-22). Die feit beteken noodwendig dat elke mens op aarde met Jesus se koms op net een van twee plekke te staan kom: jy is óf aan Jesus se kant, óf teen Hom. Jy werk óf saam met Jesus om die "skape bymekaar te maak", óf jy verstrooi hulle saam met Satan (23). (Een van die woorde waarmee in die Nuwe Testament na die Satan verwys word, is "die een wat verstrooi" Gr. Diabolos.) Rondom Jesus is geen neutraliteit moontlik nie. En jou reaksie op en teenoor Jesus bepaal in wie se diens jy staan: God of Satan sn. Die implikasie vir die Fariseërs en skrifgeleerdes is dat Jesus hulle ernstig en kragtig daartoe oproep om hul houding teenoor Hom te verander. Sy woorde is 'n oproep tot bekering! 'n Mens sou selfs kon sê dat Jesus met hierdie gelykenis en die gesprek oor die duiwel se terugkeer (24-26) eintlik verduidelik wat bekering is en dat Hy ook almal daartoe oproep. Dit is die aanvaarding van Jesus as Bevryder dat God self in Hom gekom het. Dit is die erkenning dat die koninkryk van God in Hom gekom het. Dit is die uitroep: "Waarlik, Hy is die Seun van God." Wie dit hartgrondig erken en bely, staan nie net aan die kant van Jesus nie, maar van God self. Wie Jesus herken en erken, buig voor God self! In die onvoorwaardelike aanvaarding van Jesus vind die eerste tree van bekering plaas. Elkeen wat tot hierdie daad van aanvaarding gekom het, is van die Bose bevry net soos die stom man.

Kom ons druk dit uit met die beeld van die gelykenis in 21-22: 'n ontruimde en skoongemaakte huis. Die Bose is uit jou uit. Nou is jou lewe soos 'n skoongemaakte en nuut geverfde huis. Die vorige inwoner(s) is uit. 'n Nuwe eienaar kan nou intrek. Die eerste tree van bekering is gegee. Maar daar is nog 'n tree nodig. Die nuwe eienaar moet intrek en woning maak (24-26). 'n Skoongemaakte huis is wel skoon, maar steeds leeg. 'n Skoongemaakte huis is wel "bevry" van die vorige (Bose) inwoner(s), maar dan sonder inwoner leeg. En 'n leë lewe (huis) sê Jesus, is in groot gevaar. Die bose gees(te) wat uitgedryf word met die aanvaarding van Jesus as "God se vinger", soek 'n "rus(bly)plek". Iewers moet hul gaan woon. En as die bevryde se lewe leeg bly, is die gevaar altyd daar dat die bose gees kan terugkom. Vind hy sy vorige blyplek steeds leeg, gaan haal hy van sy ander mede-swerwende bose geeste om saam te kom intrek. En dan is daar nie net een bose gees woonagtig nie, maar agt. En die ander sewe wat bykom, sê Jesus, is slegter (boser) as die oorspronklike een. En die uiteinde is dat die bevryde en skoongemaakte lewe (huis) slegter af is as voorheen. Dus: Moenie leeg (neutraal) bly nie. Verwelkom jou Bevryder (Jesus) as jou nuwe Eienaar in jou lewe!

Openbaring 3:20 eggo hier. Dit is die noodsaaklike tweede tree van bekering. Die gewillige en heelhartige onderwerping van jou lewe aan Jesus self. Dit is die oopgooi van jou "deur", sodat Hy kan inkom en die lewensfees laat begin wat uiteindelik uitloop op die "bruilofsmaal van die Lam" (Op. 19:9). Met hierdie woorde roep Jesus vir Israel (met die Fariseërs en skrifgeleerdes as verteenwoordigers) daartoe op om in die gesindheid van uitbundige vreugde en met die woorde van Psalm 24 Hom as "die Here die Almagtige Koning" in hul lewens en in die hele wêreld met blydskap te verwelkom.

Dít is bekering: twee treë. Om Jesus te aanvaar (in Hom te glo) en vir Hom kant te kies én om jou lewe aan Hom te onderwerp. Maar eintlik is dit nie net twee treë nie. Dis 'n wedloop 'n marathon van dissipelskap (Heb. 12). Dis 'n lewe van "hoor en doen" (11:28). Daagliks! Die gehoorsame navolging van Jesus Christus oomblik vir oomblik as die Sterker Een wat by jou inwoon.

Bibliografie

Berkelbach van der Sprenkel, S F H J 1964. Het Evangelie van Lukas; Brown, C C 1994. Forbid them not: Involving Children in Sunday worship. Year C. Abbingdon Press; Du Preez, J 1980. Gebed: 'n Teologiese besinning; Jeremias, J 1972. The Parables of Jesus. SCM Press Ltd; Marshall, I H 1978. The Gospel of Luke: The New International Greek Testament Commentary.