15 AUGUSTUS 2004

TIENDE SONDAG IN KONINKRYKSTYD

LITURGIESE VOORSTEL

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks: Lukas 11:1-13

Ander tekste: Jesaja 5:1-7; Psalm 80:9-20; Hebreërs 11:29-12:2

Inleiding

Die beeld van die volk Israel as 'n vrugbare of onvrugbare wingerdstok is 'n bekende Ou-Testamentiese metafoor. So algemeen was dit dat daar selfs 'n wingerdstok op munte in die Makabese tydperk gepryk het. Jesaja 5 is die wingerdlied waarin dit duidelik blyk dat God se verwagtinge van sy wingerd, Israel, teleurgestel is. In Psalm 80 bid gelowiges dat die Here Hom weer oor sy wingerd sal ontferm. In die fokusteks (Luk. 11:1-13) versoek Jesus se dissipels Hom om hulle te leer bid. Jesus leer hulle die Ons Vader-gebed en moedig hulle aan om in gebed te volhard. Die beloftes van verhoorde gebed en die Heilige Gees word gegee. In Hebreërs 11:29-12:2 word die geloofsgalery voortgesit en bemoediging gegee in tye van swaarkry en verdrukking.

GOD VERsamel ONS VOOR HOM

Aanvangswoord

Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet,

ek wil my liefdeslied sing oor sy wingerd:

Hy wat ek liefhet, besit 'n wingerd op n vrugbare heuwel.

Hy het die grond omgespit en die klippe verwyder,

dit beplant met veredelde wingerdstokke (Jes. 5:1-2a).

Sang

Lied 221 "Loof die Heer omdat Hy goed is"

Gerig

Wat is die rede dat dit suur druiwe voortgebring het

Terwyl Ek verwag het dat dit goeie vrugte sou dra?

Ek maak julle nou bekend wat Ek met my wingerd gaan doen:

Ek gaan die doringheining verwyder en verbrand,

sy muur afbreek, sodat die wingerd vertrap kan word.

Ek gaan hom tot niet maak.

Hy sal nie meer gesnoei of geskoffel word nie,

maar ingeneem word deur doringbosse en onkruid.

Ek sal die wolke verbied om daarop te reën (Jes. 5:4-6) .

Gebed

Almagtige God, kyk tog uit die hemel af

en ontferm U weer oor hierdie wingerdstok,

neem hom weer onder U sorg.

Hou in stand wat U met u eie hand geplant het,

die wingerdstok wat U vir Uself gekweek het! (Ps. 80:15-16)

Vers 4 en 5 van Psalm 80 in die Liedboek kan ook gesing of gebid word.

Sang

Lied 273 "Laat my met U verenig lewe"

diens van die WOORD

Epiklese

Psalm 119:113-120

 

Skriflesing

Lukas 11:1-13

Respons

Lied 267 "Ons Vader op die hemeltroon"\NSG 324

Woordbediening

diens van die TAFEL

Nagmaalsepiklese

Gees van die lewende God,

wees die tuinier van my siel.

Hoe lank wag ek nou al op U

stil in 'n koue winter van my siel.

Maar nou, in die kragtige Naam van Jesus Christus,

waag ek om U te smeek:

Hark weg die dooie blare van die verlede.

Vergruis die harde kluite

van my weerbarstige gewoontes en groewe.

Werk diep in my in die ryk kompos van nuwe visie en vreugde.

Plant diep in my siel u lewegewende Woord.

Versorg, gee water, koester my hart

totdat die nuwe lewe in my ontkiem, groei en blom. (Richard Foster)

Nagmaal

Voorbidding

Lied 278 "Hoor ons bid, o Heer" Almal

Lied 279 "Hoor ons sug, o Heer" Mans

Lied 278 "Hoor ons bid, o Heer" Vrouens

Lied 279 "Hoor ons sug, o Heer" Almal

UITSENDING

Geloofsbelydenis

Hebreërs 11:29-12:2

Sang

"Laat, Heer, u vrede deur my vloei" (Lied 284)

Seën

Bykomende voorstelle vir die liturgie

Die psalmteks sluit in dié sin by Lukas 11 aan dat dit gebed in aksie is. Een moontlikheid is om Psalm 80 in die liturgie te gebruik as die gemeente se reaksie op die preek. As gebed om redding is dit ook 'n gebed om die koms van die koninkryk. Dit is dalk meer logies om die Ons Vader self na die preek te bid as die psalm. Jesaja 5:1-7 sluit tematies aan by Psalm 80. Albei werk met die beeld van Israel as God se wingerdstok. In Psalm 80 vra die bidders dat God Hom tog weer moet ontferm oor sy wingerdstok (15). In Jesaja 5 sing God 'n liefdeslied oor sy wingerdstok, maar sy ontferming neem dan die karakter van oordeel aan, want in plaas van reg, dra die wingerd onreg (7). Nog 'n moontlikheid is om Jesaja 5 en Psalm 80 met die eerste beweging van die liturgie (God versamel ons voor Hom) te gebruik. Jesaja 5 kan as aanvangswoord gebruik word om die gemeente (deel van die huidige wingerdstok van die Here) tot skuldbelydenis op te roep. Die gemeente kan Psalm 80 gebruik om hul skuld te bely en God se ontferming te vra. Die teks uit Hebreërs dra die tema van geloof. Dit vertel verhale van geloof (11:29-40) en sluit met die aanmoediging aan die dissipels om die oog op Jesus gevestig te hou, terwyl hulle hul eie geloofswedloop hardloop. Hebreërs 11:29-12:2 kan dus sinvol gebruik word as aanmoedigende woord met die uitsending van die gemeente aan die einde van die liturgie.

 

 

INLEIDING tot DIE EVANGELIE VAN LUKAS (11:37-54 en 12:4-12)

Die oorsteek van grense ("crossing boundaries") is die breë tema en invalshoek vir hierdie twee preekstudies. Dit verwys nie net na die oorsteek van geografiese grense nie, maar ook die sosio-kulturele en godsdienstige (geloof en ongeloof) grense van die samelewing, gemeentes en die kerke. Hierdie tema is geskik, omdat Lukas-Handelinge dikwels beskryf word as `n "reis narratief". Lukas verpak Jesus se boodskap aangaande die koninkryk van God in hierdie eiesoortige narratief. Die oorsteek van grense en dialoog tussen persone word dan dominante elemente binne die narratief.

As deel van die groter narratief, bestaan Lukas 9:51-24:53 uit `n reeks sub-narratiewe. Die twispunt dialoog (Interpreters Bible) word `n draad wat deur elke sub-narratief loop, dit saambind en aandryf. Hierdie soort dialoog reflekteer die dinamiese konteks waarin en prosesse waardeur Jesus die koninkryksboodskap verkondig. So word die oorsteek van grense verbind met die teologiese en sosio-kulturele dimensies van die oorkoepelende narratief aangaande die Koninkryk van God; hoe dit grondvat in en deur Jesus se verlossingswerk en getuienis.

Net die gedeeltes van die literêre struktuur wat van toepassing is, word hier deurgegee om die plot van Lukas se reis narratief uiteen te sit (Kingsbury) en die twee preekstudies in konteks te plaas.

I. 1:1-4:44 Voorbereidingsnarratief

II. 5:1-9:50 Jesus se bediening in Galilea

III. 9:51-19:48 Reis-narratief van Jesus op weg na Jerusalem

A. 9:51-10:37 (a) Inleiding tot die reis-narratief

B. 10:38-11:54 (b) Aanvaarding en verwerping C. 12:1-13:21 (c) Gereedheid vir oordeel

D. 13:22-14:24 (d) Die universaliteit van verlossing

E. 14:25-17:10 (c′) Dissipelskap en bekering

F. 17:11-18:30 (b′) Die koninkryk van God

G. 18:31-19:48 (a′) Slot van die reis-narratief

IV. 20:1-24:53 Bediening van Jesus in Jerusalem

PREEKSTUDIE LUKAS 11:1-13

Teks en konteks

Lukas 9:51 begin waarskynlik 'n nuwe moment in Lukas se verhaal oor Jesus. Van dié vers af is die fokus op Jesus se reis na Jerusalem. Volgens Marshall eindig die reisberig by 19:10 en volgens Berkelbach van der Sprenkel by 19:27. Gedurende die reis gebeur veral twee dinge: Jesus onderrig sy dissipels (10:25-11:13) en het konfrontasie met die Fariseërs (11:14-54). Hoofstuk 10:25-11:13 handel oor die karaktertrekke van 'n dissipel. Die gesprek oor hierdie karaktertrekke word elke keer rondom 'n spesifieke insident gebou. Daar is drie sulke insidente. Die eerste is die vraag van 'n wetgeleerde oor die pad na die ewige lewe (10:25). Hierop volg die bekende gelykenis van die Barmhartige Samaritaan as Jesus se antwoord op sy vraag (26-37). Hierin beklemtoon Jesus die praktiese uitleef van die liefdesgebod as die pad na die ewige lewe. Die tweede insident is Jesus se besoek aan Martha en Maria (10:38-42), waarin Hy die dissipels daarop wys dat hulle ook met oorgawe aandag moet gee aan sy woorde. Die derde insident is die versoek van een van die dissipels dat Jesus hulle moet leer om te bid. Hierop volg dan die lering oor gebed (11:1-13). 'n Mens sou dus kon sê dat die drie insidente rofweg dui op die dissipel se verhouding met die naaste, met Jesus en met God (Marshall).

Ons teks vir dié Sondag handel dus oor Jesus se instruksies aangaande die dissipel se gebedslewe. Die struktuur van 11:1-13 kan soos volg getrek word: Ingelei deur die versoek van 'n dissipel tot onderrig (1), gevolg deur 'n formuliergebed (2-4). Daarna volg 'n gelykenis wat God se gereedheid om gebede aan te hoor beklemtoon (5-8), en 'n verklaring dat God definitief gebede beantwoord (9-10). Vers 11-13 sluit dié deel af met nog 'n argument dat God gebede beantwoord; met baie meer ywer as wat aardse vaders hul kinders se versoeke hanteer (11-13).

Vers 1-4: Lukas plaas Jesus se onderrig oor gebed as 'n reaksie op 'n versoek van 'n dissipel wat Hom sien bid. Dalk was die dissipel diep onder die indruk van Jesus se gebedslewe en sy eie gebrek daaraan. Jesus se reaksie op sy versoek is 'n formuliergebed wat hulle altyd kan gebruik as hulle bid. Dit beteken natuurlik nie dat die Ons Vader-gebed die enigste woorde is wat 'n dissipel hoef te bid nie. Dit is 'n model- en voorbeeldgebed, in die leerskool van gebed. Gebed is deel van die omgang met God. Dit is deel van 'n verhouding. Daarom groei of sterf die gebedslewe soos wat die verhouding self groei of agteruitgaan.

Volgens Marshall som hierdie gebed Jesus se onderrig soos volg op: Dit beskryf die verlange wat die dissipel behoort te hê dat God sal optree om sy koninkryk te vestig. Dit vertel verder van die dissipel se afhanklikheid van God vir sy/haar daaglikse behoeftes en van die nuwe verhouding van versoening wat daar tussen die dissipel en die naaste bestaan. Dit spreek ook die behoefte van die dissipel uit aan krag om teen versoekinge staande te bly.

Dit is uniek dat Jesus sy dissipels leer om God "Vader" (Abba) te noem. Joodse gebede het ook na God as Vader verwys, maar nooit so persoonlik soos hier nie. Jesus leer sy dissipels dat hulle deur Hom in 'n persoonlike verhouding met God staan. Daarom mag hulle Hom "Vader" noem. Dit moes 'n geweldige ondervinding en uitdaging vir die dissipels gewees het om tot so 'n intieme verhouding met God te beweeg. Nou is God nie meer net die God van Abraham, Isak en Jakob nie, maar "my God". En nie net is Hy nou "my" God nie, maar ook "Vader". Dit was die verrassende nuwe ding wat Jesus vir sy dissipels wou leer. So het Hy hulle ingelyf in dieselfde persoonlike en hegte verhouding wat Hy met die Vader het (Marshall). Jesus sê dus vir hulle: "Nie net Ek mag vir God Vader sê nie, maar julle ook." Hulle word in dieselfde verhouding van liefde opgeneem wat daar tussen die Vader en die Seun is. Om God "Vader" te noem, bevestig hulle kindskap. Dissipels van Jesus staan in 'n Vader/kind-verhouding tot God!

Hierdie verhouding gee die dissipel toegang tot God. Daarom mag hulle van Hom dinge vra/smeek. Dikwels word die woord "vra" as sinoniem vir gebed in die Bybel gebruik. Dit is hierdie vra-karakter wat Jesus beklemtoon. Barth noem daarom ook die Ons Vader 'n versoek-gebed. "Deur nederig te vra kom die ware mens voor God te staan: sonder maskers, sonder enige pretensies, met leë hande" (Du Preez) soos 'n afhanklike kind!. Die dissipel van Jesus kry as kind van die verbond die vryheid om in 'n direkte en persoonlike verhouding tot God te staan. Dit is 'n vryheid waarin die dissipel beide mag vra en moet vra (Barth by Du Preez). Hierdie gebed skakel die dissipel as kind van die Vader aktief by die saak van God in. Hy wil nie hê ons moet stomme objekte van sy genade wees nie, maar medewerkers (Lang). Bid is dus nie net 'n wonderlike voorreg vir die dissipel nie, maar ook 'n opdrag.

Die gebed wat Jesus hulle leer, het twee stelle versoeke. Die eerste stel vra dat God sy koningskap sal waarmaak (2b). Die tweede stel is versoeke vir die persoonlike behoeftes van die dissipels (3-4).

Die eerste stel versoeke: Vir die kind van die Vader kom die Vader eerste. Die bede om die heiliging van God se Naam en die koms van sy koninkryk is parallelle versoeke (Marshall). Albei vra dat die koningskap van God sigbaar sal word. En volgens Du Preez is die bede om die koms van die koninkryk die kern-versoek in hierdie gebed waaromheen al die ander bedes roteer. Hy verduidelik dit soos volg: "Waar om brood gebid en vir brood gedank word, daar kom die koninkryk. Waar God mense hul oortredinge vergewe en mense mekaar s'n, daar kom die koninkryk. Waar versoeking weerstaan en mense van die Bose verlos word, daar kom die koninkryk."

Die dissipel is as kind volledig en met oorgawe toegewy aan die Naam en eer van die Vader. Die bede is nie net 'n versoek dat die Vader sal sorg dat sy Naam geheilig word en sy koninkryk kom nie, maar druk ook die persoonlike verbintenis van die kind uit. Deur hierdie gebed te bid, verbind die dissipel haar/hom daartoe om self die Vader se Naam te heilig en sy koninkryk te help vestig. Gebed kan nooit as 'n passiewe handeling gesien word nie veral nie in Lukas nie. Daarvoor lê hy net te veel klem op die sosiale implikasies van dissipelskap. Dit help ons om te onthou dat die instruksies oor gebed voorafgegaan word deur die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan wat ons daartoe oproep om die nood van mense ons nood te maak.

Die tweede stel versoeke: Met hierdie stel versoeke leer Jesus juis die dissipels dat hulle lewens (individueel en gesamentlik) op 'n besondere wyse die terrein is waarin die koninkryk van God sigbaar word. Deur hierdie versoeke uit te spreek erken die dissipel dat hy/sy verstaan dat die persoonlike lewe die plek is waar God se koninkryk in die eerste plek moet kom.

Met die eerste versoek (3) bely die dissipels hul afhanklikheid van God en rus hulle in sy sorg. Jesus leer ons om elke dag se kos te vra "wat ons vir daardie dag nodig het" (Die Lewende Bybel). Die klem lê op daaglikse afhanklikheid. Die versoek het Israel se versorging in die woestyn as agtergrond en verwys waarskynlik spesifiek na die daaglikse optel van die manna (Eks. 16:18) (Marshall). Elke dag vertrou ek die Here. Daar waar die dissipel in algehele afhanklikheid van die Vader lewe en elke dag deur die Vader versorg word, word die koninkryk sigbaar. Die koninkryk van God word ook daar sigbaar waar stukkende verhoudinge heel word. Met die tweede versoek (4) leer Jesus ons om uit die Vader se genade te leef in ons verhoudinge. Die dissipel van Jesus weet dat sonde (oortredinge) alle verhoudinge stukkend breek. In hierdie versoek leer Jesus ons wat ons met ons sonde moet maak. Daar is net een manier waarop sonde uit die weg geruim kan word deur belydenis en vergifnis! In hierdie bede leer Jesus ons om albei te doen. Met hierdie woorde erken die dissipel in die eerste plek die werklikheid van sonde en die noodsaaklikheid dat dit hanteer moet word sodat God se koninkryk kan kom in herstelde verhoudinge. Maar die bede erken ook dat vergifnis die enigste manier is waarop dit gedoen kan word. Bely en vergifnis gaan altyd saam. Wie vergifnis vra, bely. En wie bely, vra vergifnis.

Die tweede deel van hierdie versoek is nie net 'n verklaring van gewilligheid om self te vergewe nie, maar 'n onvoorwaardelike verbintenis daartoe om elkeen te vergewe wat teenoor die dissipel oortree. Die bede sê nie: "Ek onderneem om dit te doen nie", maar: "Ek doen dit in elk geval!" En teenoor almal. Vergifnis is nie 'n opsie tussen opsies nie. Dit is die enigste opsie. Want dit is die enigste weg waarlangs die Vader sonde hanteer. Die dissipel vergewe ook nie selektief net sommige oortreders nie, maar "elkeen". Dit is tog immers wat genade is.

Die derde versoek in die tweede stel versoeke leer ons om te erken dat dissipelskap 'n stryd is. Daarmee bely die dissipels dat daar voortdurend versoekings tot sonde is en dat ons dit nie op ons eie kan weerstaan nie. Dit is 'n gebed om God die Vader se beskerming en krag. En só beklemtoon hierdie laaste versoek die feit dat hierdie hele gebed die gebed van 'n kind is. 'n Kind wat in totale afhanklikheid van die Vader leef en volledig gerig is op die koms van sy koninkryk. Maar ook 'n kind wat self met hart en siel en verstand verbind is tot gehoorsaamheid aan die Vader.

Dit is verder opvallend dat Jesus sy dissipels leer om in die meervoud ("ons") te bid. 'n Dissipel volg nooit vir Jesus alleen nie, maar altyd saam met ander dissipels. Daarom bid hy/sy ook nooit alleen nie. Christelike gebed is 'n gemeenskaplike saak (Smit).

Vers 5-8: Na die formuliergebed volg 'n gelykenis waarmee Jesus sy dissipels aanmoedig om tot hul Vader te bid (vra) en dit met volharding te doen. Dié gelykenis word met die formuliergebed verbind deur die woord "brood". Dit behoort saam gelees te word met die gelykenis van die onregverdige regter in 18:1-8 (Marshall en Jeremias). Die vraer in die gelykenis is in 'n penarie. Hy het 'n laatnag besoek van 'n vriend gekry wat op reis is. Oosterse gasvryheid het van hom verwag om vir sy vriend kos te gee, maar hy het niks in die huis om vir hom voor te sit nie. Hy het net een opsie. Gaan vra vir 'n ander vriend brood. Die klem in die gelykenis val op die lastigheid van die versoek aan die vriend en dat hy ten spyte daarvan tog aan die versoek toegee. Die middel van die nag was die ongemaklikste tyd om iemand in 'n Palestynse huishouding te pla. Vers 7 gee iets van die ontwrigting deur wat die versoek om brood die vriend aandoen. Die versoek ontstel die vriend. Om daaraan te voldoen beteken vir hom en sy hele huishouding 'n klomp beslommernis. Hulle is almal al vas aan die slaap. Dit is donker in die huis, want die olielampie wat deur die nag brand, is maar flou. Almal in die huis lê langs mekaar in die een vertrek en die deur is met 'n dwarsbalk stewig toegemaak. Nou word van hom verwag om in die omstandighede op te staan en brood te gee. Dit gaan almal in die huis wakker maak en hul rus onderbreek. Ten spyte hiervan, sê Jesus, sal hy tog opstaan en alles gee aan die een wat vra. En die rede wat Jesus aangee waarom hy aan die versoek sal voldoen, is die feit dat die een wat die brood kom vra "nie skaam is om aan te hou vra nie". Dit is dieselfde rede wat aangevoer word waarom die regter aan die weduwee se versoek toegee (Luk. 18). Dit is die feit dat die vraer die moed by mekaar kon skraap om sy vriend lastig te val en vrymoedig genoeg was om te klop totdat sy vriend die deur oopmaak, wat maak dat die vriend sy versoek (smeking) beantwoord. Die vrymoedigheid van die vraer (Berkelbach van der Sprenkel) lei daartoe dat sy vriend aan sy versoek voldoen. En so word hy uit sy penarie gehelp.

Die dissipel kan as kind van die Vader met vrymoedigheid bid. Want as 'n vriend in die middel van die nag ten spyte van al die ongerief sal opstaan om 'n ander vriend uit sy penarie te help net omdat hy vrymoedig is om te kom vra, hoeveel te meer sal God die Vader dit nie doen nie! God hoor die roep van hulle wat in nood is en help hulle (Jeremias). Dis verseker.

Vers 9-13: Hierdie verse sluit by die gelykenis aan en kontrasteer God met die brommende vriend in die gelykenis. Die verse bestaan uit twee eenhede. In 9-10 word gebed aangemoedig met duidelike beloftes van verhoring, terwyl 11-13 beklemtoon dat God die Vader die Heilige Gees aan sy kinders gee as hulle daarvoor vra net soos menslike vaders goeie gawes aan hul kinders gee.

Vers 9-10 bestaan uit drie sinonieme uitdrukkings vir bid (vra, soek en klop). Elkeen van hulle word opgevolg met 'n absolute versekering ("sal") dat die versoek deur God beantwoord sal word. Hiermee moedig Jesus die dissipels verder aan om met vrymoedigheid te bid. Die kind van die Vader moet geen huiwering hê om tot Hom te bid nie. En as daar iemand is wat uit ondervinding hieroor kan praat, dan is dit Jesus self.

Alhoewel vers 11-13 ook handel oor die manier waarop God gebed beantwoord, lê die klem hier eerder op die goedheid van die gawes wat Hy gee en nie op die sekerheid van verhoring nie (Marshall). Die vrae wat Jesus in 11 en 12 vra, lok die logiese reaksie uit: "Onmoontlik!" Weereens kontrasteer Jesus, God die Vader, met menslike karakters. Aardse vaders wat sondaars ("sleg") is, gee goeie dinge aan hulle kinders. Hoeveel te meer sal God die volmaakte Vader dit nie doen nie. Matteus praat in sy weergawe van hierdie gesprek oor "goeie gawes" (7:11), terwyl Lukas hier spesifiek na die gawe van die Heilige Gees verwys. Dit hoef nie 'n probleem te skep nie, want is die Heilige Gees dan nie die beste goeie gawe nie? "Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie meer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: `Abba!" (Rom. 8:15), En: "Die Gees staan ons in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie" (Rom. 8:26).

Alles wat Jesus sy dissipels in hierdie gedeelte oor gebed geleer het, is slegs moontlik in en deur die Heilige Gees. Dit is hierdie goeie gawe wat God vir elkeen gee wat daarom vra. Verseker!

Preekvoorstel

Dit is baie gevra om net een preek uit dié gedeelte te maak, aangesien dit so ryk aan inhoud is. Met die oog op die preek kan die volgende oorweeg word:

1. Die hele teks as preekteks: Lukas plaas ons teks in die konteks van Jesus se onderrig oor die karaktertrekke van 'n dissipel. Hierdie onderrig vind in 'n baie intieme gesprek plaas. Dit is in reaksie op 'n versoek van 'n dissipel wat ook graag wou bid en wou weet hoe. Met sy reaksie lei Jesus die dissipel in 'n persoonlike verhouding met God in en moedig hom/haar aan om met vrymoedigheid daarin te lewe. Met dit in gedagte kan die preek daarvan uitgaan om spesifiek met hulle te praat wat met dieselfde verlange as die dissipel, in die erediens sit. Die struktuur van die teks kan gebruik word as struktuur van die preek.

In 'n eerste rondte kan daarop gewys word dat gebed nie net die voorreg van sommige (geleerde, bejaarde, volwasse, ens.) mense is nie, maar die geskenk van God aan al Jesus se dissipels. Sluit hier aan by die groter konteks waarin die teks staan (10:25-11:13). Betrek ook spesifiek die kinders hier. In 'n tweede rondte kan die preek die gemeente inlei in die wonderlike werklikheid wat daarin sit dat ons vir God "Vader", mag sê. Gebruik die opmerkings hieroor in die afdeling Teks en konteks (vers 1-4). Dan kan die gebed se inhoud aan die orde kom. Dit sal kort gehou moet word. Elkeen van die versoeke kan 'n preek op sy eie word. Laastens kan aangesluit word by vers 5-13 om aan te toon dat ons deur Jesus aangemoedig word om vrymoedig te bid.

Die preek kan direk opgevolg word met die saam bid van die Ons Vader. Carolyn Brown stel voor dat die Ons Vader op die volgende twee maniere in die liturgie gebruik kan word: a. Gebruik die Ons Vader as struktuur vir die gemeente se gebedstyd. Die voorganger kan die Onse Vader hardop bid en na elke afsonderlike bede stilte gee, sodat die lidmate hul eie gebede kan bid wat by die bede van die Ons Vader aansluit; b. Maak van die Ons Vader 'n drieledige litaniegebed. Die eerste voorganger lees dan die Ons Vader frase vir frase. Na elke frase bid 'n tweede voorganger gebede wat by die frase en die lewe van die gemeente aansluit. Die gemeente kry ook na elke frase kans om hul eie gebede te bid wat by die frase aansluit.

2. Dit is ook moontlik om liewer met die preek op een moment in die teks te fokus. Staan byvoorbeeld net stil by die aanspreek van God as "Vader". Die voorreg en rykdom van die Vader/kind-verhouding kan beklemtoon word, waarop die gemeente met lof en aanbidding reageer.

3. Of, die gebed kan in sy geheel aan die orde kom vanuit die perspektief van Du Preez, naamlik dat die hele gebed om die koms van die koninkryk roteer.

4. Die preek kan ook fokus op die onvrymoedigheid waarmee ons soms bid. Dan kan vers 5-13 as vertrekpunt geneem word.

5. Die gebed om die Heilige Gees kan ook die fokus wees. Dit sluit goed aan by die feit dat ons nou in die na-Pinkstertyd van die kerklike jaar is. In hierdie geval lê die klem daarop dat die ontvangs van die Heilige Gees voorwaarde is vir gebed en op Jesus se versekering dat die Gees 'n gawe is wat God vrymoedig gee aan elkeen wat vra.

Bibliografie

Berkelbach van der Sprenkel, S F H J 1964. Het Evangelie van Lukas; Brown, C C 1994. Forbid them not: Involving children in Sunday worship. Year C. Abbingdon Press; Du Preez, J 1980. Gebed: 'n Teologiese besinning; Jeremias, J 1972. The Parables of Jesus. SCM Press Ltd; Marshall, I H 1978. The Gospel of Luke: The New International Greek Testament Commentary.