15 Februarie 2003

sesde sondag na epifanie

liturgiese voorstel

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir die Sondae na Epifanie gebruik te word.

Fokusteks: Lukas 6:17-26

Ander tekste: Jeremia 17:5-10; Psalm 1; 1 Korintiërs 15:12-20

n Moontlike verhaallyn vir die liturgie: "Dissipelskap en vertroue loop hand aan hand".

Geloof in die opgestane Christus is die sleutel tot vertroue en die lewe.

Die preekteks, Jeremiateks en die Psalmteks vir hierdie Sondag het n baie duidelike verband. Nie alleen lê die woordgebruik van die drie skrywers baie naby aan mekaar nie, maar in al drie die tekste gaan dit om vertroue op God en wat dit vir die een wat in die regte verhouding met God staan, beteken. Terwyl die lot van die een wat nie op God vertrou nie, ewe duidelik in die kontras na vore kom.

In Lukas 6:17-26 gaan Lukas voort om te vertel van alles wat Jesus sê en doen. Wat in Epifanietyd in dié teks belangrik is, is dat alles wat Jesus hier sê en doen, in die konteks van die roeping van die eerste dissipels, en later die twaalf dissipels staan. Die gedeelte eindig daarmee dat Jesus die hele skare tot dissipelskap roep. Hy doen dit deur op die gevolge van getroue dissipelskap te wys, naamlik dat mense wat op Hom vertrou en Hom volg, uit hulle samelewing uitgeskuif word daarom die saligsprekinge.

Tydens Epifanie vra gelowiges opnuut na die manier waarop ons ons roeping as dissipels uitleef. Die teks roep gelowiges op om aan God getrou te wees, aan Hom die eintlike Een wat aan sy dissipels getrou bly.

Vir die verband en die konteks van die evangelielesing sien Jan Cloete se preekstudie by hierdie Sondag.

Jeremia 17:5-10: Die sentrale tema deur hierdie hele Ou-Testamentteks is vertroue. Ons kan vers 7-10 as afsonderlike gedig lees. Dit val in drie dele uiteen: vers 5-6, 7-8 en 9-10. Vers 5 en vers 7 begin elk met n stelling oor vertroue. 5: Die mens wat op mense vertrou, is daarmee heen. 7: Die mens wat op God vertrou, is verseker van die lewe. Vers 9-10 praat oor die belangrikheid van die mens se hart en dat ons moet weet God deurgrond die mens se hart.

Lukas sê dat mense wat dissipels is en vir Jesus volg, soos n boom is wat by n waterstroom staan. Alhoewel daar n droogte is, is die boom by die water geseënd.

Jeremia sê die mens wat op God vertrou, is geseënd soos n boom wat by die waterstroom staan.

Die taal en beelde van Psalm 1 ook lê baie naby aan die taal van die gedig in Jeremia 17:7-10.

In 1 Korintiërs 15:12-20 sê Paulus eenvoudig: Ontken jy die opstanding van Christus uit die dood, ontken jy die grond van die evangelie. Die krag van God wat die opstanding van Jesus bewerkstellig, is dieselfde krag wat mense se lewens in die wêreld verander. Die Korintiërs se ontkenning van die realiteit van die opstanding is in wese n ontkenning van God se bemoeienis met die lewe self. Paulus sê die mens wat as Christen wil leef, maar nie glo in die opstanding nie, is ellendig tot niks in staat as gelowige nie.

Votum

"Die Here is dié mense goedgesind

wat altyd in sy woord hul vreugde vind:

Wie dit oordink, soos sap vloei in die bome

geplant langs sterk waterstrome,

hul dra hul vrug gereeld op hulle tyd

en ken droogte of onvrugbaarheid" (Psalm 1: 2, beryming T.T. Cloete).

Skuldbelydenis

Liturg: "Ek deurgrond en toets hart en verstand

Daar rus n vloek op die mens

wat sy vertroue in mense stel,

en van My af wegdraai," sê die Here (Jeremia 17:10 en 5).

 

Gemeente: Ek wil my in die wet van die Here verheug

en sy wet dag en nag oordink (Psalm 1:3 na die beryming van Bonaventure Hinwood).

 

PREEKSTUDIE LUKAS 6:17-26

Teks

Soos wat Handelinge 1:8 die program van die boek Handelinge aankondig en die program dan sistematies uitgebou word, so het Lukas ook met sy evangelie gewerk. Aan die hand van 4:18-19 word die program aangekondig en daarna in werking gestel, wanneer Jesus die randfigure in die samelewing genees en mense roep om Hom te volg; die besetene van Kapernaüm en `n vrou (Petrus se skoonmoeder), terwyl mense uit `n beroep (vissermanne) aan die onderpunt van die ekonomiese en sosiale skaal geroep word.

Die eerste aantal hoofstukke van Lukas vertoon `n bepaalde patroon:

Wonderwerke: besetene (4:31-36) en `n vrou (Petrus se skoonma 38-41).

Roeping: Petrus (5:1-11).

Wonderwerke: genesing van `n melaatse (5:12-16) en `n verlamde (5:17-26).

Roeping: Levi (6:27-32).

Wonderwerke: man met gebreklike hand (6:6-11).

Roeping: verkiesing van twaalf (6:12-16)

Wonderwerke: genesing van mense (Jood en nie-Jood).

Roeping: Roeping van skare.

Die inleiding tot Jesus se preek op die vlakte (6:17-19) wys dat daar `n groot skare mense teenwoordig was toe Hy sy preek gelewer het (7:1), asook dat die preek nie uitsluitlik vir sy twaalf bedoel was nie. Die feit dat die wonderwerke bloot in die algemeen genoem word (afgeskaal), voor die volgende roeping van mense tot navolging, is `n aanduiding dat die Here aan die Woord is. Vanaf 5:1 lê Lukas klem op Jesus wat aan die Woord is. Die skare moet antwoord op Jesus, die Woord van God. Dié wat die Woord hoor, moet antwoord.

Lukas brei sy program met betrekking tot dié wat op Jesus se roepstem moet antwoord, stelselmatig uit. Aanvanklik roep Jesus enkelinge (Petrus, Levi), daarna die twaalf en uiteindelik die skare. Lukas wil daarmee aantoon dat dit nie goed genoeg is om Jesus te sien wonderwerke doen nie. Dit is selfs nie goed genoeg om net agter Jesus aan te loop nie. Daar kom `n dag dat die geroepenes moet antwoord op wat hulle sien en hoor. Die preek wat nou volg, sê vir die skare hoe die antwoord wat hulle sal moet gee, behoort te lyk. Om agter Jesus aan te loop, vereis `n antwoord van geloof.

Konteks

Die eerste deel van die rede op die plein (6:20-26) handel oor die onbenydingswaardige posisie waarin Jesus se navolgers hulleself bevind het, omdat hulle op sy Woord geantwoord het. Dié posisie mag `n sosiaal neerdrukkende effek hê, maar eintlik is sy navolgers geseënd, want God sal self hul nood aanspreek.

Lukas 6:20-26 kan in twee kontrasterende dele verdeel word: Seën oor die een groep mense wat arm is, onderdruk word, maar op God hoop om hulle nood aan te spreek. Die arm-wees moet egter nader kwalifiseer word. Dit kan na materieel arm mense verwys, maar dit is egter nie hier die geval nie. Die groep mense na wie hier verwys word, is mense wat Jesus volg en deur die samelewing uitgeskuif word. Geseënd is julle wanneer die mense julle haat, isoleer, beledig en uitgooi. Hoekom doen mense sulke dinge?

Die antwoord is eenvoudig: Die mense wat gehaat, geïsoleer en wie se naam beswadder word, is mense wat in Jesus glo, hulle bande met hul oorspronklike groep verbreek het en nou uitgewerp is. Die wêreld waarin die eerste-eeuse mense geleef het, was die wêreld van die groepsmens. Daar is sterk onderskeid getref tussen die groep en buitestanders. Absolute lojaliteit is van `n groepslid vereis. As die individu nie deel van die groep was nie, is hulle as buitestander beskou. Buitestanders het eenvoudig nie getel nie. Wanneer iemand die groep verlaat het, was hy/sy ook die vyand van daardie groep, en is die persoon uitgesny van alle voorregte en beskerming. Die oproep om te volg, hou verband met die losmaak van die hegte sosiale bande en strukture waarin die mense van daardie tyd gebind was. Navolging van Jesus het beteken dat Petrus sy beroep gelos het. Dit het ook vir die ander dissipels gegeld, asook vir diegene wat gewik en geweeg het om dissipels te word (vgl. 9:57-62). In 9:57-62 word uitdruklik van lede verwag om hulle sekuriteite op te offer, tradisie te deursny en familiebande te breek.

Om `n volgeling van Jesus te word, vra `n duur prys. Dit gaan dus nie oor armoede as deug, of armoede wat as sodanig God se seën bring nie. Dit is mense wat in Jesus glo, as die Woord van God, wat gevolglik die afsnyding met die gemeenskap en die spot (6:25) van die gemeenskap tot gevolg het.

Wanneer mense Jesus volg en uiteindelik die band met hulle families moet breek, verkeer hierdie mense onder geweldige druk. In `n samelewing wat totaal anders as ons moderne samelewing funksioneer, beteken dit dat hierdie mense doodeenvoudig afgeskryf en vyande van hulle vorige families word. Alle beskerming en voordele wat hulle geniet het in die familieverband, word verbeur. Wanneer mense só ontwortel is, kan hulle slagoffers van armoede word: honger en trane kan nou `n wesenlike deel van hul daaglikse bestaan raak. Terwyl julle honger en huilend (praesens participium) is. Dié gedagte (voortgaande bestaanswyse) word verder beklemtoon deur die gebruik van die woordjie "nou" (Gr. nun) in die saligsprekinge, asook die vervloekinge.

Goedkoop dissipelskap, lidmaatskap, het `n geweldige prys gekos. Bonhoeffer het die swakheid van die kerk toegeskryf aan goedkoop dissipelskap.

Vandag?

Die brug tussen die teks en die betekenis daarvan vir vandag kan geslaan word deur te vra na die uitdaging van dissipelskap in ons dag. In `n humanistiese samelewing, met die klem op menseregte en die sterk gevoel van individualisme, hou dissipelskap nie dieselfde sosiale radikale gevolge in vir die Westerse mens as vir die mense in die eerste-eeuse Mediterreense gebied nie. Is dit dalk dat ons net nie meer die radikaliteit van hierdie boodskap oor navolging goed verstaan nie? Daar is genoeg voorbeelde in ons tyd wat wys dat die prys wat navolging van Jesus vra, steeds net so hoog is. Dink aan Bonhoeffer, Beyers Naudé, Johan Heyns Dink aan die sakepersoon wat iets onder die tafel moet deurstoot, of die kontrak verbeur.

Gaan ons kerklik nie te lig om met dissipelskap nie? Alles moet gedoen word om vir mense die kerk aantreklik te maak; van sang tot kerkkantoor, kategese , noem op. Verbeter dit die betrokkenheid van lidmate? Nee, ongelukkig nie!

Vervloekinge handel oor `n ander groep mense wat alles het wat nodig is, populêr is, maar onder God se oordeel val. Die vervloekinge het die karakter van vroeg kerklike kommentaar op die saligsprekinge (6:20-23). Wanneer Lukas skryf, is dit aan die derdegeslag-Christene, in wie se lewe die volle impak van die boodskap nou deurgewerk het. Die Christene is fisiek arm en geïsoleer. Hulle het die voorwerp van bespotting (uitlag/met genoegdoening lag 25) deur die samelewing geword. Maar God gaan die bordjies verhang. Kyk maar na Lasarus en die ryk man (16:20). Kies nou die maklike weg, maar betaal later die duurste prys denkbaar.

Preekvoorstel

Om die Woord te hoor en te volg of nie te volg nie. Om te volg veronderstel bepaalde keuses met verreikende implikasies op die terrein van die sosiale, ekonomiese, gemeenskaps- en gesinslewe. In die prediking sou `n mens kon begin deur te wys hoe Lukas by die preek in die vlakte uitkom. Die aanloop van wonderwerke en die roeping van individue wat uitkring na die roep van die twaalf, en uiteindelik die roep van die skare.

Die skare moet hoor wie aan die Woord is. Op hierdie Woord van God na die mens moet die skare antwoord. God soek `n weerwoord op sy Woord.

Die antwoord het egter verreikende implikasies vir mense wat besluit om te volg. Is die mense bereid om te leef met die impak van hul besluit? Hier kan mens ruimskoots gebruik maak van die uitleg van die saligsprekinge en vervloekinge, in die verband waartoe dit tot mekaar staan (sien hierbo).

Bibliografie

Joubert, S et al 1995. Vensters wat die Woord laat oopgaan; Kingsbury, J 1991. Conflict in Luke; Marshall, I H 1978. The Gospel of Luke; Malina, B 1992. Social-science commentary on the Synoptic Gospels; Müller, BA 1987. WTL II/2, p.268.