29 DESEMBER 2002

sondag na kersfees

liturgiese voorstel

Fokusteks: Lukas 2:22-40

Ander tekste: Jesaja. 61:10-62:3; Psalm 148; Galasiërs 4:4-7

Inleiding

Hierdie diens vul die Kersfeesvierings van 25 Desember aan. Die erediens het `n feestelike karakter en wentel uitsluitlik om vreugde. Die tekskeuses van die leesrooster is gekies om hierdie tema voluit in ons te laat leef. Anders as die Kersdiens skuif die klem effens weg van die historiese gebeure. Dit is die vreugde wat voortleef. Gemeentesang (en koorsang ) word voluit benut. Die feestelike versierings van Kersfees kan ook onveranderd in die kerk gelaat word.

Die volgende voorstel bou die erediens uit 'n samestelling van die volgende tekste in die volgende orde:

Jes – Ps – Gal – Luk – Gal – Ps – Jes.

Die tema van vreugde begin reeds in Jesaja 61:10: "Ek is baie bly in die Here …" Die woorde bied `n skitterende vertrekpunt, vol verwagting, vir die erediens. Die gemeente berei hulle immers voor vir `n nuwe tydperk vol afwagting waarin die bediening van Jesus nageleef sal word en vars insigte en krag sal kom vanuit die getuienis van alles wat Hy op aarde kom doen het.

Psalm 148 hervat die jubeling. Dit herinner sterk aan die engelesang tydens Jesus se geboorte.

Galasiërs 4 herinner ons wie ons is en waarvandaan ons kom. Wanneer ons met hierdie teks omgaan, kry Kerstyd `n besonder kleur. Dit versober die vreugde vir `n paar oomblikke om `n groter realisme te bring. In skrille kontras met die vreugdevolle verwagting en jubelsange, raak ons bewus van geweldige pyn en hartseer in die wêreld en in veral die gemeente se eie omgewing. As verbondsvolk wat in soveel vreugde en belofte deel vergeet ons nooit die wêreld waaruit ons geroep en gered is nie. Die somber toon van sonde en verlorenheid klink op die agtergrond van die "diens van die water", die herinnering aan die afwassing van ons sondes. Ons kies dus hier `n lied wat die duisternis noem en bid as verloste sondaars tot God om genade vir die wêreld vir wie Jesus gekom het.

Die Woordbediening uit Lukas 2 vestig die gemeente se aandag weer volkome op die beloftes wat in en deur Jesus verwerklik word.

Die diens van die tafel sal eweneens van vreugde getuig. Dit is by uitstek die geleentheid om klem op die beloftekarakter van die nagmaal te lê. Die viering sluit aan by die vreugdevolle gedagte van Galasiërs dat ons kinders van God is – dus as kinders aan sy tafel sit.

Ten slotte herinner God ons daaraan dat ons inderdaad sy kinders is deur Jesus

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Aanvangswoord/Votum

Jesaja 61:10-11.

Groet

Voorganger: Mag die Here by julle wees.

Gemeente: Mag die Here by jou/u ook wees.

Voorganger: Die Here het waarlik na ons toe gekom.

Gemeente: God was goed vir ons.

Voorganger: Die Here sal weer in heerlikheid na julle toe kom.

Gemeente: Die Here se liefde is sonder perke.

Voorganger: Laat ons sy koms met blydskap vier.

Gemeente: Loof die Here. Amen.

 

Lees

Psalm 148:1-2

Sing

"Vol vreugde sing die eng’leskaar" [362] of Herders op die ope velde" [364/NSG 70]

DIENS VAN DIE WATER

God hernu sy verbond met ons

God het vir die mense in hulle duisternis kans gegee om uit hulle sonde weg te breek en tot sy eer te leef. Die wet wat Hy deur Moses gegee het, is ook nie swaar om te onderhou nie. Dit het uit net tien eenvoudige reëls bestaan:

"Aanbid God alleen.

Moet Hom nie volgens jou beeltenis probeer maak nie.

Eer sy Naam, Rus in Hom.

Eer jou ouers.

Moenie moor nie, nie egbreek pleeg nie, nie steel nie, nie vals getuienis aflê nie.

Moenie begeer nie."

Niemand kon dit nog doen nie; behalwe Jesus.

Laat ons ons vuilheid voor God erken in persoonlike, stil gebed en laat ons die afwassing van ons sonde aangryp.

Stil gebed

Lees

Galasiërs 4:4-5 (Moontlik selfs 2 maal)

Sang

"Die Heiland is gebore" [335:1-2]

Gebed

Vir (spesifieke) nood in die wêreld met belydenis van ons eie aandadigheid.

(Verkieslik deur twee persone beurtelings voorgedra):

Here, ons dink hier voor u troon aan

………………..…

Ons bely dat ons mense nie slaag nie.

U het ons goed gemaak, maar ons het nie goed opgetree teenoor u skepping en teenoor mekaar nie.

Ons het ons nie teenoor U goed gedra nie. Ons doen dit steeds nie.

Ons mense laat alles skeef loop.

Vergeef ons. (Vergeef ons.)

U het alle rede om vertroue in ons te verloor. Selfs die bestes onder ons, skitter nie soos die hemelwesens nie.

U sou met engele meer kon uitrig, maar U het ons liefgehad.

Ons dank U daarvoor.

U het u vertroue in ons bewys deur self mens te word.

Moenie nou met ons tou opgooi nie.

Help ons ons eie menslike waarde ken. Help ons ons potensiaal vir U bereik.

Amen.

Sang

"Heer wees ons genadig" NSG 233

Diens van die woord

Gebed om die opening van die Woord

Skriflesing

Lukas 2:22-40

Sing

"Halleluja." Lied 228

Preek

Sang

"Welkom, o Stille nag van vrede" [Lied 358:1-3]

DIENS VAN DIE TAFEL

(Sien ook opmerkings oor die diens van die tafel by die basisliturgie vir Sondae na Epifanie)

Dankoffers

Gereedmaak van tafel

Geloofsbelydenis

Lees

Galasiërs 4:4-7

Eucharistiegebed (vervang die formulier)

Voorganger:

"U kom ons dank toe, Here ons God,

oral en altyd

deur Jesus Christus, ons Heer.

’n Nuwe dag is gebore.

U toekoms het begin.

Toe die aarde nog donker was

het ons u lewenslig aanskou:

die hemel gaan vir ons oop

en u heil kom binne ons bereik,

Uself word ons naaste

en ons vrede word u eer.

Daarom, Here ons God,

verhef ons ons stem

om saam met engele, herders en wyses

met die vroue, manne en kinders

wat u lig ontdek het as hulle lewenslig

U diep uit die hart die lof toe te sing.

Gemeente: Sing "Ere aan God" [Lied 367/NSG 12]

Voorganger: Lofgebed.

Lof aan U, ons Vader,

en lof aan Jesus wat in u Naam gekom het

want Hy het in ons nag verskyn as blink morester

in stralende lig

wat niks en niemand kan uitdoof,

wat tot in die diepste donkerte reik.

In Hom is ons broers en susters in die nuwe lewe.

Vervul, Gees van God, u Woord

wanneer ons doen wat U ons opdra.

Gemeente: Amen.

Voorganger:

In die nag waarin Hy oorgelewer is,

Het Hy brood geneem,

en nadat Hy God daarvoor gedank het

dit gebreek en aan sy dissipels gegee en gesê:

"Neem, eet, dit is my liggaam wat vir julle gegee word,

Dink dan aan My".

Gemeente:

Ons herdenk u koms as mens na die aarde.

Ons herdenk u lyding en dood.

Ons bely ons eenheid met U en met mekaar.

Voorganger:

Net so het Hy ook na die ete die beker geneem,

God daarvoor gedank,

dit omgestuur en gesê:

"Drink almal daaruit.

Hierdie beker is die nuwe verbond wat met my bloed bevestig word

tot vergewing van sondes.

Dink elke keer aan My

wanneer julle daaruit drink".

Gemeente:

Ons herdenk die verlossing waaraan ons deel kry.

Ons bely u opstanding.

Ons verwag u toekoms.

Maranata.

Voorganger:

In herinnering aan U

nader ons U, o God,

met hierdie brood en hierdie wyn

en bid ons:

Laat ons ons eenheid met die liggaam van Jesus ter harte neem.

Laat sy gebroke liggaam ons bemoedig

wanneer ons van ons eie swakheid pynlik bewus word.

Laat sy bloed ons vry maak om ook ons lewe te gee

wanneer dit vir iemand anders lewe mag gee.

Stuur u Gees in ons midde

en versterk die hoop en die liefde in ons almal

sodat ons lig kan bring waar duisternis heers

en self durf voortgaan

die grote toekoms tegemoet

waarin dit uiteindelik waar sal wees:

Vrede op aarde.

Voorbidding:

Nou wil ons u eer

saam met al die ander aan wie ons voor U dink:

…………………. (name van lidmate en ander wat voorbidding nodig mag hê)

en saam met almal wat ons vooruit is

vir wie ons lief was

vir wie ons mis

………………… (name van ontslapenes)

en saam met almal wat geheilig is

en die ontelbare vergete mense –

U hele menslike bevolking

wat na u maal genooi is.

Geseënd is U, ons God,

wat is en wat was en wat kom;

Geseënd hier en nou

en tot in lengte van dae

deur Jesus Christus, ons Here,

Amen.

Sang

"Ons Vader" [Lied 266]

Instellingswoorde.

Uitdeel en gebruik.

(Agtergrondmusiek kan Kersliedere of `n kersoratorium wees.)

Sang

"Loof die God van ons verlange" [Lied 343:1-2]

 

UITSENDING

Lees

Jesaja 62:1-3

Sang

"O die Goeie Tyding"[Lied 344]

Seën

Jesaja 62:3

Sang

"Amen" Lied 312, 316/NSG 355/356

 

PREEKSTUDIE – LUKAS 2:21-40

Teks

Soos met die vorige gedeeltes uit Lukas se geboortgeskiedenisK van Jesus, is dit ook in hierdie geval moontlik om die preekteks tot 'n kleiner eenheid te beperk. So het prof Dirkie Smit byvoorbeeld in Woord teen die Lig, I/1, sy preek beperk tot verse 34-35.

Andersyds is dit ook moontlik om die hele gedeelte te neem en as onderdeel van die vertelling te preek.

In Lukas 2:21-40 loop ons die wet en die profete raak. Jesus se ouers vervul noukeurig die voorskrifte van die wet ten opsigte van hulle eersgeborene. Die teks word daardeur omraam. En in die middel daarvan kry ons twee profete wat die kindjie herken en oor sy betekenis praat.

Konteks

Van dit wat normaalweg onder konteks ter sprake sou moes kom, is die meeste reeds op die een of ander manier in die inhoud van die preek hieronder vervat. Ek sou die preek kan reduseer tot ‘n preekskets en die inligting oorskuif na "konteks" óf die preek net so laat staan en afsien van "konteks". Ek het gekies vir laasgenoemde, omdat jy moeilik iets uit kan haal en dan nog steeds gaan verstaan wat die preek wil sê.

Preekvoorstel

Wat wil die teks sê? As ons nie meer kan hou om te wag op God se hulp nie, skep ons vir ons afgode. Daarom is die Christus wat God gee, vir baie tot 'n val en 'n opstanding.

Hoekom? Sodat die gemeente nie moedeloos word nie, en glo.

Hoe lyk 'n gemeente in wie se lewens die teks waar word? Hulle leef die heel eerste vraag en antwoord van die Heidelbergse Kategismus: Wat is jou enigste troos in lewe en sterwe?

Preek

Ons leef nou al 'n geruime tyd saam met die spanning wat daar tussen die Palestyne en die Israeli’s bestaan. Kort-kort hoor jy van nog 'n selfmoord-bomaanval. Waarop die Israeli’s weer met woede en wrewel wraakneem. En as hulle wraak geneem het, is die Palestyne weer 'n slag kwater en bind een van hulle weer ‘n bom om die lyf vas en gaan blaas 'n klomp Jode op. En word die bose kringloop al boser. Palestina het een groot slagveld geword.

Selfs in die omgewing van Betlehem, waar die engele destyds gesing het: "vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het", klap die skote en ry die pantserkarre.

Dat nasies so met mekaar maak, is mos ooglopend teen God se bedoeling. Want God het 'n ander plan vir hulle in gedagte. Dit het in die tempel duidelik geword, toe 'n ou man die maand en 'n half oue baba Jesus, sien. Want Lukas sê dat die Heilige Gees op Simeon was. Hy het geprofeteer en die baba "'n Lig tot verligting van die nasies" genoem, en gesê dat die baba God se verlossing is wat Hy gereed gemaak het voor die oë van ál die volke.

Die plek waar Simeon gestaan het toe hy dit alles gesê het, is vandag nog daar in Jerusalem. Maar die tempel is weg. Al wat daarvan oor is, is 'n stukkie fondament – die Jode se klaagmuur. En daar staan ook twee moskees van die Moslems. Intussen glo nóg die Jode, nóg die Moslems, dat hierdie kindjie – van wie Simeon sulke wonderlike goed gesê het – die Messias is. Maar Simeon het dit voorspel. Want hy het Jesus ook genoem: "'n Teken wat weerspreek sal word."

Daarom is dit vir ons goed om hierdie verhaal van die groepie mense in die tempel, Simeon, Anna, Josef, Maria en Jesus, ná Kersfees te lees. Want so kan ons na die gedeelte luister en daaroor dink, sonder dat ons verwar word deur die sentiment van kleurige liggies en die troos van onnodige presente.

Met die lees van en die dink oor die verhaal los van Kersfees, het ek weereens besef dat ons as mense voortdurend voor een groot beslissing geplaas word. Jy kan hierdie een beslissing in verskillende woorde formuleer, maar dit bly basies dieselfde beslissing: Óf jy probeer jou eie lewe red, óf jy laat toe dat God jou deur Christus red.

'n Mens kan hierdie waarheid ook anders sê: Óf jy word gevind deur die ware God, óf jy fabriseer vir jou 'n afgod. Of jy kan dit nog 'n slag anders sê: Jesus is vir jou 'n val, óf Hy is vir jou 'n opstanding. Om te verduidelik wat dit beteken, wil ek 'n verhaaltjie vertel, en dit dan uitlê. So in die loop van dit alles, hoop ek, sal dit duidelik word hoe ek die Woord van die Here in hierdie teks gehoor het.

Die verhaal wat ek wil vertel is sover ek kan vasstel, die waarheid. Dit het meer as 'n honderd jaar gelede, in 1870, om presies te wees, in die VSA afgespeel. Dit was in die tyd toe die stoomenjin maar pas ontwikkel is, en treine was die wonderlike uitvloeisel daarvan. Die treine het vir baie mense werk gegee. Want spoorlyne moes gebou word, en tonnels moes gegrawe word.

By een so 'n tonnel wat in aanbou was, het 'n swartman gewerk, wat bestem was om 'n legende in Amerika te word. Sy naam was John Henry, en hy was lid van die span wat die "Big Bend"-tonnel moes bou. Hulle taak was om gate in die rots te boor, sodat dinamiet daarin gestop kan word. So is die pad van die tonnel, stukkie vir stukkie deur die berg oopgeskiet.

Hierdie boorwerkers was geweldig sterk. Want dit was voor die dae van lugdrukbore. Hulle moes eenvoudig met 'n swaar voorhamer die boorpunt in die rots inkap. Hulle het dit ure aaneen, dag vir dag gedoen.

Toe, eendag, kom daar 'n stoomboormasjien op die spoorlyn aan – 'n eksperimentele model. Die maatskappy wou dit uittoets, want hulle het vermoed dat die masjien effektiewer gate sal kan boor as wat die hamerslaners kan doen.

Die klompie werkers was hoogs ontsteld. ‘n Mens kan dit ook begryp, want hulle het gevoel dat hulle werk in die gevaar is: "As die masjien regtig die werk beter, vinniger en goedkoper kan doen as ons," het hulle vir hulleself gesê, "sit ons op straat." Dit is toe dat John Henry besluit om die masjien uit te daag.

Waar hulle gewoonlik met tien pond hamers gewerk het, het hy twee twintigponders geneem – een in elke hand. Hy moes 'n baie groot en sterk man gewees het om dit te kon doen. En vir die volgende vyf en dertig minute het hy die masjien die stryd aangesê. Aan die een kant het die masjien geboor. Aan die ander kant het Henry soos 'n besetene gewerk – en gewen! Want na vyf en dertig minute het hy twee gate van sewe voet elk uit die rots gekap, en die masjien het maar een van nege voet diep uitgeboor.

Tot vandag toe nog is hy 'n legende.

Sy vertoning van krag het hom of sy vriende egter niks gehelp nie. Want die probleem is dat die masjien kan aanhou en aanhou. Hy hoef nie soos mense te rus nie. Die ergste van alles is dat John Henry net na sy oorwinning van uitputting gesterf het. Hy het sy lewe probeer red deur die masjien te klop en só sy lewe verloor. In hierdie gebeurtenis is daar 'n les wat op vele terreine van ons lewe van toepassing is.

Die meganisme agter hierdie fout wat 'n mens in sy eie, persoonlik lewe kan maak, en wat selfs 'n volk in hulle politiek of ekonomie kan maak, het vir my duidelik geword in 'n boek wat deur 'n gelowige ekonoom in Nederland geskryf is. Dit is een van die boeke wat in my geestelike lewe vir my die meeste beteken het. En die titel daarvan is: "Idols of our Time" – afgode van ons tyd. Die skrywer, Bob Goudzwaard, was op 'n stadium minister van finansies in Nederland, en later professor in ekonomie aan die Vrye Universiteit van Amsterdam. Hy was nie 'n teoloog nie, maar 'n gelowige met 'n wonderlike insig, dit was hy wel.

Goudzwaard het met sy hart verstaan wat Luther bedoel het toe hy gesê het: "Das Glaub ist ein mächtig ding. Es macht Gott oder Abgott." Die geloof is 'n magtige ding. Dit maak vir ons god of afgod. Luther het bedoel dat enige iets op aarde die plek van God in ons hart kan inneem. Dit gebeur telkens wanneer ons ons vertroue op iets of iemand anders as God, rig. Daardie iets word ons afgod. God bly net ons enigste God as ons al ons heil van Hom verwag.

In daardie trant skryf Goudzwaard oor ons afgode. Hy begin deur te verduidelik hoe primitiewe mense, afgode gemaak het. Hulle het iets uit God se goeie skepping geneem (bv 'n boom). Hulle het dit losgemaak uit die verband waarin God dit geplaas het (hulle het dit afgekap). Hulle het dit dan so 'n bietjie vorm gegee, en dan het hulle daaraan die mag toegeken om hulle te red. Hulle het hulle hulp van die beeld, of afgod, begin verwag. "Die probleem is net dat so 'n afgod dadelik begin om offers van jou te vra," sê Goudzwaard. 'n Afgod vra gewoonlik dat jy dit wat hy vir jou moes beskerm, aan hom moet offer.

Primitiewe mense wou byvoorbeeld graag meer kinders hê. Daarmee moes die afgod help. Uiteindelik het hulle juis hulle kinders aan die afgod geoffer. So werk dit nog steeds vandag by gesofistikeerde, geleerde mense ook. Goudzwaard wys in sy boek hoe dinge soos kapitalisme, kommunisme, nasionalisme en nog vele ander op hierdie manier vir mense afgode word. En die afgode wil altyd hê dat jy juis dit wat hulle vir jou moes beskerm, aan hulle moet offer.

Daarvan is John Henry vir my 'n goeie voorbeeld. Sy werk was sy lewe. Toe kom die stoommasjien, en hy het geglo dat sy eie krag hom teen die masjien sou "beskerm". Maar om te kon wen, moes hy sy lewe opoffer. Terwyl dit juis sy lewe was wat hy wou red.

Waarskynlik is dit met Israel ook so. Chaim Potok, 'n bekende Joodse skrywer en filosoof vertel in een van sy boeke dat sommige van hulle, toe die staat Israel in 1948 geskep is, prontuit gesê het: Ons het nou opgehou wag vir die koms van die Messias. Die staat Israel is ons Messias. Dit is hy wat ons gaan beskerm teen die wrede vervolginge wat ons tot dusver moes beleef. Daar sal ons kinders veilig wees. En nou vra hierdie afgod sy offers.

Ek sê dit met hartseer en glad nie uit die hoogte nie. Want ons is die laaste mense op aarde wat 'n vinger na iemand anders kan wys. Ons het ook mos gesing "ons sal offer wat jy vra" en toe ons kinders grens toe gestuur. Dit is die soort tonnel waarmee jy jouself al dieper in die duisternis ingrawe. Partykeer probeer mense mekaar troos deur van 'n lig voor in die tonnel te praat. Maar dit is wensdenkery. God voorsien 'n Lig vir die nasies. As ons self ons lewe wil red, gaan ons dit verloor.

Die probleem met God, is net dat Hy meesal so oneindig lank wag voordat Hy help. Dan bid ons 'n paar keer, en word moedeloos, en as ons moedeloos word, begin ons ons elders hulp soek, en kort voor lank het iemand of iets anders God se plek in ons hart ingeneem.

Daarom het Jesus, volgens Lukas, eendag 'n gelykenis vertel waarmee Hy vir ons wou aanmoedig om aan te hou bid, en nie moedeloos te word nie. Dit is die gelykenis van die weduwee en die regter wat ons in Lukas 18:1–8 vind.

Die weduwee het 'n teenparty gehad wat haar 'n groot onreg aangedoen het. Sy het hulp nodig gehad van die regter. Destyds het die regter in die stadspoort sake verhoor. Maar daar was nie 'n streng lys waarvolgens sake afgehandel kon word nie. Dit was aan die regter oorgelaat om te besluit watter saak hy volgende sal verhoor. Party van die regters, soos die een in Jesus se verhaal, was korrup. Hulle het omkoopgeskenke aanvaar. As jy kan betaal, word jou saak verhoor. As jy nie kan betaal nie, moet jy maar jou beurt afwag. Vir die weduwee het dit gevoel of haar beurt nooit kom nie. Want sy was arm en het niks gehad waarmee sy die regter kon omkoop nie. Toe het sy maar dag vir dag aangehou met roep. "Uiteindelik," sê Jesus, "het die regter moeg geword van haar geroep en toe maar gehoor gegee."

"God," het Jesus gesê, "is mos nie soos die regter nie. Hy is nie korrup nie. Wat meer is, ons is sy uitverkorenes. Daarom sal Hy – al voel dit soms vir ons asof Hy darem baie lank vat om te reageer – vir ons skielik, plotseling, help.

Dit bring ons weer by ons teks, die teks wat ons gelees het. Die verhaal van Simeon, Anna, Josef, Maria en Jesus in die tempel.

Simeon en Anna was al baie oud. Anna was boonop 'n weduwee soos die een in Lukas 18 se verhaal. Hulle word in hierdie teks die verteenwoordigers van Israel wat vir eeue gewag het op die koms van die Messias. Soos hulle twee deur die Heilige Gees geweet het dat die Messias kom, en dag vir dag gebid het dat Hy moet kom, so het die vromes in Israel deur die eeue gebid dat Hy moet kom en geweet dat Hy sal kom. Maar hulle moes wag tot amper op die randjie van die graf, voordat God Hom laat kom het. Toe, uit die bloute, kry hulle Hom as babatjie in die tempel.

Skielik word eeue se gebede van 'n volk verhoor. Skielik word 'n leeftyd se gebede van twee vroom bejaardes verhoor – skielik!

Maar ons leer God hier nie net ken as die Een wat so lank kan wag voor Hy help dat mense dreig om daarvan moedeloos te word nie. Ons leer Hom nie net ken as die Een wat sy beloftes uitvoer en plotseling help nie. Ons leer Hom ook ken as die Een wat sy hulp so byna onopmerklik gee. Só onopmerklik dat dit 'n teken is wat weerspreek kan word, en wat vir haastige mense wat gróót dink, daarom 'n struikelblok word.

Dit is wat hierdie toneeltjie in die tempel so ongelooflik boeiend maak. As jy na die woorde van Simeon se profesie luister en na Anna se vreugde kyk, besef jy dat die baba wat daar in die tempel is, die hele wêreld se toekoms in sy hande hou. Sonder Hom is daar net 'n groeiende duisternis vir die nasies van die aarde. Want as hulle aan hulleself oorgelaat word, sal hulle hulp soek by afgode wat offers vra. Die afgode maak die toekoms al donkerder en donkerder.

Maar hierdie kindjie is 'n "Lig vir die nasies". Lig is lewe. Lig is groei. Lig is vreugde. In die helder lig ontdek jy die futiliteit daarvan om enige iemand anders of enige iets anders as jou troos en hulp te begin glo.

Juis hierdie toneeltjie waar daar oor die Lig vir die nasies; die eer van Israel; die verlossing van Jerusalem gepraat word, speel byna onopvallend af. Dit is op die wêreldtoneel soos 'n saadjie wat onopgemerk iewers op 'n groot saailand val. Byna niemand kom dit eers agter nie.

Waarskynlik het 'n stroom van mense by hierdie groepie in die tempel verbygevloei sonder om die Lig te sien. Tog word die Grote God se bedoeling met die wêreld en met die eeue hier aangekondig! Dit is asof Hy, wat die hemel en harde geskape het, daar sy hartsgeheime in die ore van 'n paar uitverkorenes fluister. "So lief het ek die wêreld," sê Hy daar.

As jy dit eenmaal raakgesien het, is die volgende gedagte wat spontaan in jou hart opkom: Hy doen dit seker om ons te laat verstaan hoe belangrik die sending is. Hy wil ons hier uitstuur om die wêreld van Jesus te gaan vertel.

Dat God wil hê ons moet die wêreld van Jesus gaan vertel, staan bo alle twyfel vas. Daar is baie plekke in die Bybel wat ons daartoe aanmoedig. Lukas vertel hoeka in die opvolg deel van hierdie verhaal hoe Jesus die sendingopdrag vir sy dissipels gee.

Maar dit lyk tog of dit nie hier sy bedoeling was om ons tot sendingwerk aan te moedig nie. Hier in die tempel, waar die baba Jesus volgens die wet, tot beskikking van die Here gestel word, is daar geen opdragte nie. Nie eens by implikasie nie. Want hier val die lig nie op iets wat enige mens moet doen of selfs kan doen nie. Hier val die lig geheel en al op wat God aan die doen is. Hier val die lig op die antwoord wat God plotseling, op die nippertjie gee. Die antwoord op eeu se gebede.

As ons hoegenaamd hier van iets wat ons moet doen, wil praat, sal dit wees in die sin van "Julle moet bly wees." Maar dan funksioneer die "moet" in hierdie sinnetjie nie soos die moet wanneer die juffrou vir die kinders sê: julle moet hierdie somme vir môre doen nie. Nee, dit is eerder soos die moet waarvan 'n meisie praat as sy met sterre in haar oë by 'n vriendin aankom en sê: "Ek het iets wat ek vir jou moet vertel. Kan jy dit glo, hy 't my raakgesien!"

Kan jy dit glo? Hy 't ons raakgesien. Almal van ons. Al die nasies van die aarde. Maar ook vir ons elkeen afsonderlik soos vir Simeon en Anna. Kan jy dit glo? Ja, jy kan! Ja, jy moet; ja, jy mag.

Daarom het ons nie afgode nodig nie. Ons hoef nie van ons krag, ons intellek, ons werkvermoë, ons land, ons geld, ons beplanning, ons volk, ons taal – ons hoef nie van enige iets 'n afgod te maak nie. Ons hoef nie ons lewe ten alle koste te probeer beveilig nie. Ons hoef nie self teen die meedoënlose masjiene van hierdie wêreld te veg tot ons van vermoeienis sterf nie. Jesus is die teken van God se trou. Van sy liefde. 'n Liefde waarvan niks en niemand ons kan skei nie.

Maar Jesus is nie 'n maklike teken nie. Jy moet kan glo. Want Hy is steeds 'n teken wat weerspreek word. Óf jy sien in Hom die God raak wat jy met jou lewe kan vertrou; óf jy skep vir jou 'n afgod aan wie jy jou lewe sal moet offer.

Jesus is steeds 'n teken wat weerspreek word. Óf jy vertrou Hom goed genoeg om selfs jou lewe om sy ontwil te verloor, en ontvang dit daarna as 'n geskenk van Hom terug. Óf jy veg self om jou lewe ten alle koste te behou en verloor dit juis daarom.

Israel en die Palestyne is in 'n oorlog gewikkel wat nie een van hulle kan wen nie. As hulle maar iets verstaan het van die Messias wat gesê het dat jy jou lewe eers moet verloor voor jy kan vind, sou daar vir hulle uitkoms wees. Maar selfs ons wat glo, sukkel om dít reg te kry.

Gelukkig is die lig wat die Messias bring op die duur nie van ons geloof afhanklik nie, maar van God.