25 DESEMBER 2002

KERSFEESdiens

liturgiese voorstel

Fokusteks: Lukas 2:1-20

Ander tekste: Jesaja 62:6-12; Psalm 97; Titus 3:4-7

Inleiding

Op Kersdag breek die fees aan waarvoor die gemeente hulle vier weke lank voorberei het. Gedurende die weke van advent het ons Jesus beleef as die Verlosser wat steeds aan die kom is. Op hierdie dag wil ons nie alleen vir God eer omdat Jesus gekom het nie maar ons wil sy geboorte herleef asof dit weer plaasgevind het: ons wil oor sy koms steeds ewe opgewonde wees. Die liturgies-rituele viering wil daarom veel meer as herinnering wees. God se inkarnasie word opnuut as geloof- en lewenswerklikheid bevestig. Jesus kom as mens weer. As komende Messias bly Hy steeds die inspirasie vir ons hede sowel as ons toekomsverwagting.

Christelike Kersfeesviering bou egter ook aan en op `n lewendige historiese bewussyn. Ons Verlosser is die lankverwagte Messias, gebore soos die goddelike beloftes van die profete dit bekend gemaak het. Jesus is die kulminasie van al God se werk in die geskiedenis. Ons vier sy koms as `n historiese werklikheid. Ons vier nie net `n dag nie, ons vier die aanbreek van God se teenwoordigheid in ons tyd. Ons verwagtings mag nie minder opgewonde wees as die van die profete en gelowiges van ouds nie. Jesus is steeds aan die kom.

Om die diens `n karakter van feestelikheid te gee, mag sang en musiek nie afgeskeep word nie. Ander kunsvorms kan ook ingespan word om lof aan Jesus te bring.

Die liturgiese kleur van Kersfees is oorheersend wit.

Hoe heerlik sal dit nie wees nie as vakansiegangers ontdek dat die vakansie-gemeentes met dieselfde Advents- en Kersvierings besig is as hulle tuisgemeentes!

Die liturgiese verhaal

Aan die hand van die tekste van die leesrooster ontvou `n verhaal waarin ons ons feestelik gaan verdiep.

Die viering begin wanneer die gemeente by die dramatiese skets van Jesaja 62 aansluit. Die teks laat die opgewonde geroep van mense hoor wanneer die Messias nader kom. Die dag het aangebreek! Hy kom! Dit is "realiserende eskatologie". Met hierdie teks word adventstyd afgerond. Ons feesvierings laat hierdie opgewonde uitroepe in ons eie taal en met ons eie liedere weerklink.

Psalm 97 gee verder kleur aan die gedruis. Die psalm val in 2 dele uiteen: die eerste gedeelte getuig van die oordeel wat aanbreek met God se koms, die tweede van vryspraak. Die tweesnydende Woord weerklink in die "diens van die water" oftewel die doopherinnering. Ook die lesing van die wet in die Reformatoriese tradisie bou op die skeidende funksie van die Woord. Ons word telkens opnuut getref dat sonde uitgewis word in die selfde optrede van God waardeur Hy die genade laat triomfeer. Met Christus se geboorte erken ons dieselfde werk van God. So staan die gemeente verstom voor die grootheid van God wat oordeel terwyl Hy ons nogtans red. Vir die gereddes word die jubeling steeds meer.

Lukas 2 verhaal die gebeurtenis waarom dit eintlik gaan. So kom die viering by sy hoogtepunt. Die gemeente vertoef `n wyle by die verhaal tydens die preek en response.

Titus voltooi vir ons die prentjie met die Nuwe-Testamentiese blik op Jesus, ons Verlosser. Dit is soberende, gelade woorde. Dit roep ons op om Jesus in ons lewens te bly ontvang. So leef ons, skryf Titus: met hierdie verwagting en geloof in Jesus.

Sommige gemeentes sal verkies om nagmaal te gebruik. Daar is noulinks `n beter manier om die realiteit van sy fisiese teenwoordigheid te vier. Omdat die Kersdiens egter op `n weeksdag val, kies ons om nie `n nagmaalsviering as deel van die Kersvierings voor te stel nie maar wel vir een van die volgende Sondae.

Die volgende feesliturgie behoort sonder aankondiginge of ander onderbrekings te verloop.

GOD VEgader ONS VOOR HOM

Vooraf: musiek of orrelspel moet opgewondenheid verklank. Die rumoer van skares moet gehoor word. Alle Kersliedere is nie ewe geskik hiervoor nie. Voor die kerkklok lui, word die musiek geleidelik sagter totdat dit in afwagting verstil.

Geen verwelkoming hier nie!

`n Klein tafereel (deur kinders opgevoer) kan sonder woorde `n gedeelte van Lukas se Kersverhaal uitbeeld met of sonder beweging. Dansers kan ook gebruik word. Agtergrondmusiek of voorlesing uit die toepaslike gedeelte (Luk) kan daarmee gepaard gaan. Hierna kan `n paar oomblikke stilte gepas wees.

Aankondiger: "Jesaja 62. Dit is Jerusalem. Baie jare voor Jesus se geboorte. Sy koms word met

opgewondeheid afgewag."

Voorleser 1: Jesaja 62:6

Voorleser 2: Jesaja 62:7

Voorleser 3: Jesaja 62:8 -9

Intreelied

"Want so lief het God die wêreld gehad" (Lied 331)

Voorleser 1: Jesaja 62:10

Voorleser 2: Jesaja 62: 11

Voorleser 3: Jesaja 62:12

Die Christuskers word aangesteek terwyl die begeleiding van die lied reeds begin.

Sang

"Hoor die blye eng’lelied" (Lies 365:1,3)

Groet

Voorganger: Mag die Here by julle wees.

Gemeente: Mag die Here by jou / u ook wees.

Voorganger: Die Here het waarlik na ons toe gekom.

Gemeente: God was goed vir ons.

Voorganger: Die Here sal weer in heerlikheid na julle toe kom.

Gemeente: Die Here se liefde is sonder perke.

Voorganger: Laat ons vandag sy koms met blydskap vier.

Gemeente: Loof die Here. Amen.

Sing

"God is liefde, juig ons harte" (Lied 334:1,4)

DIENS VAN die WATER

Gebed

"U het na u wêreld toe gekom.

U eie mense het U nie verwelkom nie.

Ons is vol sonde en duisternis,

blind vir u heerlikheid.

Tog het U aan ons geloof geskenk om U te erken,

Jesus van Nasaret,

Seun van God, gebore uit die maagd Maria.

Deur die doop het U bevestig dat ons in U sal lewe.

Laat ons u grootheid opmerk,

U wat in heerlikheid verskyn."

Aankondiger: "Psalm 97. Ons word weer verplaas na Jerusalem waar gelowiges hulle in die tempel vir die koms van die Messias gereedmaak."

Voorleser 1: Psalm 97:1-7

Sing : "Vanuit die hemel is gebring" (Lied 360)

Voorleser 2: Psalm 97:6-12

Sing "’n Kindjie is gebore" (Lied 357)

 

DIENS van die woord

Gebed (epiklese)

Sonder woorde het u gekom,

met babataal wat die lof van die Vader verkondig;

wyl ander monde bespiegel en profeteer

en engele in lofsang uitbreek.

Dieselfde tong het God se Koninkryk geskilder

en strome van lewende water in harte uitgestort.

U woorde is `n vloed wat die wêreld oordeel en red,

Die bron van lewe.

Amen.

Aankondiger: "Lukas 2. Naby Jersualem in Betlehem gebeur dit uiteindelik."

 

Skriflesing

Lukas 2

Sing

"Halleluja".

Preek (dalk nie te lank nie!)

Sing

"Stille nag" [348]

DIENS VAN DIE TAFEL

Die Voorganger(s) staan by die Nagmaalstafel.

Gebed

Lof en dank aan U, Here Jesus Christus.

U het U vir ons kom leef

en vir ons kom sterf.

Deur brood en wyn deel ons die lewe wat aan U behoort.

Ons verlustig ons in U.

Aankondiger

"Titus 3. `n Woord van die Here vir alle gelowiges sedert Jesus se geboorte."

Lees

Titus 3:4-7

Gemeente respondeer hardop (`n Geloofsbelydenis na aanleiding van Titus 3)

" Al wás ons op die verkeerde pad

het God se goedheid en liefde aan ons verskyn.

Hy het ons verlos.

Deur die wedergeboorte het Hy ons sondes afgewas.

Deur se Gees het Hy vir ons nuwe lewe gegee.

Uit genade is ons gered

Ons is erfgename van die ewige lewe."

Sing twee of drie maal met afwisseling of beurtsang: "Ere aan God" (Lied 369)

UITSENDING

Sang

"Loof God, o Christen, Hy is groot" [337:1,2]

Seën

Sang

"Amen"

 

 

preekstudie – Lukas 2:1-20

Teks

Volgens Du Plessis kan die opbou van die verhaal oor Jesus se geboorte en jeug sintakties en narratief, in sewe dele ingedeel word:

1. Die geboorte van Jesus (2:1-7)

2. Die skaapwagters bevestig Jesus se geboorte (2:8-20)

3. Besnydenis en naamgewing (2:21)

4. Gebeure in die tempel van Jerusalem (2:22-39)

5. Samevatting van Jesus se jeug (2:40)

6. 'n Bewys van Jesus se wysheid en seunskap (2:41-51)

7. Tweede samevatting van Jesus se jeug (2:52)

Die eerste vraag wat vir ons eksegese van die teks van belang is, is of ons die eerste twee dele van hierdie indeling, saam in een preek kan laat spreek. Normaalweg hanteer predikers 'n kleiner tekseenheid per geleentheid uit hierdie groter geheel.

So byvoorbeeld het professor Dirkie Smit oor Lukas 2:1-2 in Woord teen die Lig I/1, 'n baie mooi riglyn vir die prediking geskryf. Professor P J Robinson het in dieselfde reeks, III/1, oor Lukas 2:14 geskryf. Ook sy voorstel vir die prediking is baie sinvol en bruikbaar. 'n Deeglike eksegese van die gedeelte laat 'n mens ook gou besef dat jy moeilik in een preek uitgepraat gaan raak oor alles wat in die teks skuil.

Tog is daar die moontlikheid om op die narratiewe lyn te konsentreer en dan die hele gedeelte as eenheid te hanteer. Uiteraard is die eksegetiese beslissings oor die kleinere punte wat in die verskillende kommentare ter sprake kom, dan nie so geweldig belangrik nie. Nie dat 'n mens ooit mag preek sonder deeglike eksegese nie, maar in so 'n preek gaan 'n hele klomp dinge wat jy tydens die eksegese wys geword het, nie kans kry om saam te praat nie.

Met die oog op die preekvoorstel wat hier aangebied word, word slegs die volgende twee sake uitgelig: (i) Die NAV se vertaling van 2:1 ("In daardie tyd het keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig dat ’n volkstelling in die hele ryk gehou moet word.") interpreteer die teks korrek. Maar wat letterlik daar staan, is dat die sensus van die hele bewoonde wêreld geneem moet word. So vertaal die meeste van die meer letterlike Bybelvertalings dit ook getrou. Die punt is egter dat die Romeinse Ryk as die hele wêreld beskou is. Iets van die Here se opdrag in Handelinge 1:8 ("... en tot in die uithoeke van die wêreld.") moet daarin meegehoor word. Daarom kan JL de Villiers in sy kommentaar op Handelinge by hierdie teks skryf: "Handelinge 1:8 bied ook aan ons die program waarvolgens die verkondiging van die evangelie in Handelinge verloop: die evangelie word eers in Jerusalem en Judea verkondig, hoofstukke 1–4; dan in Samaria, hoofstuk 8, en met die roeping van Paulus gaan dit verder die wêreld in, van Cesarea af na Rome, hoofstukke 10–28, wat die hoofstad van die Romeinse ryk was. Wie die hoofstad van die Romeinse ryk verower het, het ook die heerskappy oor die verste uithoeke daarvan verwerf."; (ii) Die tweede teksgedeelte wat 'n opmerking regverdig is die engel se aankondiging van Jesus se geboorte by die herders. Sonder lidwoord word Jesus aangedui as Soter, Christos en Kurios. "Die gebruik van hierdie titels vir Jesus," skryf Du Plessis, "verhoog die kontras in die verhaal tussen die dekreet van die keiser aan die wêreld en die aankondiging van God dat 'n kind gebore is wat Verlosser, Messias en Here vir die mensdom sal wees."

Konteks

Hierdie episode oor Augustus se wêreldwye mens-tellery en Christus se universele Heer-skappy as Verlosser van die mensdom, is 'n bydraende onderafdeling van die groter verhaalopset waarin Lukas wil aantoon dat God sy beloftes nakom, en dat Hy met Jesus se geboorte, lewe, dood en opwekking die heil vir die hele wêreld in die oog het.

Verder help die verhaaldeel om ons daarop attent te maak dat Christus die Dawidsvors is. Dit word nie net deur die rol wat Betlehem in die geboorteverhaal speel, uitgelig nie, maar ook deur die herders as eerste getuies. Ook hulle rol is hoofsaaklik om ons aan Dawid, wat in daardie omgewing skaapwagter was toe hy tot koning gesalf is, te herinner. Meer as een kommentaar waarsku dat ons nie te veel moet maak van die latere Rabbynse negatiewe uitsprake oor die herders nie. Vele preke het in die verlede al tot tema gehad dat die Here die mins-belangrikes tot getuies van die geboorte nooi. Maar dit is waarskynlik nie Lukas se bedoeling met die invoeging van hierdie stukkie vertelling nie.

Die oomblik as jy sê "Dawid", moet jy sommer ver terugdink. 'n Groot deel van die Ou Testament is immers deur middel van 'n voortgaande herinterpretasie so gestruktureer, dat die lyne van die aartsvaderverhale af, op Dawid moet uitloop.

Elemente uit hierdie verhale word subtiel in die geboorteverhaal in herinnering geroep. So is Elisabet se onvrugbaarheid, en Maria se wonderbaarlike swangerskap, 'n eggo van die groot spanning tussen belofte en vervulling in Genesis.

Want God het vir Abraham 'n groot nageslag en 'n land beloof. Albei hierdie beloftes het op verskillende maniere vir baie jare in die weegskaal gehang. Met die Eksodus was die groot nageslag-belofte al vervul (Gen 50:20 en Eks 1). Maar dit is eintlik eers in Dawid se tyd wat die vervulling sy hoogtepunt bereik.

In Van Eden tot Rome, deur Deist, Vosloo, Pretorius en Du Plessis, som Wil Vosloo die verhaallyn so op:

 

Abrahamtyd

Mosestyd

Dawidtyd

Die nageslag

Belofte

'n Bedreiging vir Egipte

'n Groot nasie

Die land

Belofte

Bevryding en intog

Beheersing en uitbreiding

Die kultus

Belofte

Ordening

Vestiging

Met hierdie agtergrond in gedagte, en die universele titels wat aan Christus toegeken word, raak Augustus se tellery van die hele (Romeinse) wêreld se mense 'n gelade gebeurtenis. Dit laat 'n mens dadelik dink aan die seën waarmee die Abraham-belofte in Genesis 12 afsluit: "In jou sal al die volke van die aarde geseën wees." Dit is die klanke van die loflied wat in die geboorte- én die herdersepisode gehoor word: God se beloftes gaan in vervulling.

Van besondere betekenis in hierdie geskiedenis is die feit dat Augustus, soos Kores, sonder sy medewete 'n dienskneg van God word. Du Plessis vat die boodskap van die gedeelte só saam: "Selfs die heidense keiser, magtigste man van sy tyd, word 'n instrument in die hand van God om sy heilsplan met die wêreld uit te voer. Vir die gelowige beteken dit dat hy niemand, selfs nie die mees uitgesproke ateïs, buite rekening mag laat wanneer die heilsboodskap van God verkondig word nie."

'n Mens sou egter kon vra of dit genoeg is om die rol wat Augustus hier speel, net daartoe te beperk dat 'n ateïs nie buite rekening gelaat mag word wanneer God se boodskap verkondig word nie. Sou dit nie beter wees om as deel van die boodskap te snap dat God se heilsplan nie net afhanklik is van die gehoorsame gelowiges wat sy getuies is nie? Dat hy selfs die magtigste mense op aarde kan inspan om sy doel te bereik sonder dat hulle daartoe instem of selfs daarvan bewus is nie. Dat ons die ongerief en frustrasie wat ons dikwels as pionne wat deur die magte van hierdie wêreld heen en weer op die skaakbord rondgeskuif word beleef, ook gelowig moet bekyk. Alles werk mee ten goede vir die wat Hom liefhet. Ons sal ook kan sê: vir die wat Hy liefhet, of soos die engelekoor dit stel: die in wie Hy 'n welbehae het. Die wêreldsending hang dus nie net van ons af nie, God maak ook sy skuiwe. Dit beteken dat ons kan ontspan oor die uitslag terwyl ons ons inspan vir die opdrag.

Kersfees kan so maklik 'n gesinsgebeurtenis word. 'n Fees wat ons in die kleine vier. Ons dink veral aan die mense om ons. Aan hulle wat vir ons dierbaar is, veral aan die kinders. Maar die teks wil met sy openingswoorde en met die engel se aankondiging ons aandag geheel en al op die groot toneel vestig. Soos Augustus moet ons begin tel. Wie nie tel nie, neem nie die Kurios, Soter, Christos, van die engel se aankondiging ernstig nie. Wie die engel nie ernstig neem nie, staan nie met genoeg verwondering voor die krip nie.

Tel is in ons dag dalk makliker as in die tyd van Augustus, al is die wêreld groter as wat dit destyds was. Die volgende tabel en die verklaring onderaan, is net so aangehaal uit die 1993 uitgawe van Patrick Johnstone se boek Operation World. Ek vermoed dat daar waarskynlik reeds 'n nuwer uitgawe bestaan, maar kon ongelukkig nie my hand daarop lê nie. Al is die syfers effe ouer as 'n dekade, bied dit steeds 'n goeie prentjie van hoe die hele wêreld vandag lyk as die mense getel word:

 

 

Region

Population

in millions

1990 1995

Affiliated

Christian Percentages

Total Prot Evang

Total

No. of

Peoples

Peoples in Region World

A B C

AFRICA

480.8

557.9

48.1

20.2

13.2

3,168

1,074

975

1,119

ASIA

2,940.3

3,209.3

7.3

3.9

3.1

2,658

1,607

503

548

CARIBBEAN

35.3

37.8

69.2

16.5

11.1

287

15

83

189

EURASIA

280.6

290.5

45.8

1.1

0.9

596

306

104

186

EUROPE

507.9

514.8

77.2

18.3

2.8

1,083

120

176

787

LATIN AMERICA

412.7

455.8

90.9

12.1

11.1

1,233

96

261

876

MIDDLE EAST

330.8

378.1

4.6

0.6

0.4

889

558

159

172

NORTH AMERICA

276.6

284.8

70.7

40.6

27.9

427

28

48

351

PACIFIC

26.5

28.4

66.8

37.0

15.8

1,533

111

237

1,185

WORLD

5,291.7

5,757.3

30.1

9.2

5.7

11,874

3,915

2,546

5,413

World A The unevangelized/unreached world where %E <50% for constituent peoples.

World B The evangelized non-Christian world where %E >50% and all Christians <60%

World C The broadly Christian world where All Christians in people are >60%

Preekvoorstel

Normaalweg is dit goed om voor jy 'n preek begin maak, die boodskap in een enkele sin te formuleer. As jy hierdie "Wat wil ek sê?" vraag beantwoord het, is die volgende vraag wat baie keer vergete bly, die "Hoekom?" vraag. Hoekom moet die gemeente dit hoor? Of anders gestel: Wat wil die teks met die gemeente bereik? Hoe gaan die gemeente lyk as die teks se boodskap in hulle harte en lewens gestalte vind.

Die preekvoorstel hieronder het uit die volgende antwoorde op hierdie twee vrae gegroei: Vraag: Wat wil ek sê? Antwoord: Kersfees is die dag waarop ons die mense van die wêreld moet tel, want God wil nie dat een van hulle wegraak nie. Vraag: Wat wil die teks met die gemeente bereik? Antwoord: 'n Gemeente wat hierdie teks verstaan en leef, sal met Kersfees nie net juig oor hulle eie verlossing nie, maar sal in die verloop van die wêreld en sy politiek, tekens soek van God se voortgesette bemoeienis met die wêreld. Hulle sal ook biddend wonder hoe hulle by hierdie God se bemoeienis met die wêreld betrokke kan raak.

Preekskets

Daar is 'n grappie oor die man wat wou weet wat 'n sensus is.

"Hulle tel al die mense.,." was die antwoord.

"Hoekom?" wou hy verbaas weet, "is daar dan een weg?"

"God," het Jesus in 'n gelykenis gesê, "is soos 'n herder wat sy skape tel. As een weg is, gaan hy dadelik op soek na die verlore skaap tot Hy hom kry. As hy hom kry, is daar 'n fees."

Kersfees is die moeder van daardie feeste wat gereeld in die hemel gevier word.

Want Kersfees het ook begin met 'n tellery.

Maar nou sal iemand dalk lus voel om te protesteer: "Dit is mos nie God wat hier in die teks tel nie! Dit is 'n heiden. Boonop 'n heiden wat homself as god laat vereer het. Hy het nie getel om te red nie, hy het getel om wins te maak. Want sy tellery het om belasting gegaan. Omdat hy wou weet hoeveel mense daar is en hulle vir belastingdoeleindes laat opskryf. Byna asof hulle pionne op 'n skaakbord is, wat maar na sy begeerte heen en weer geskuif kan word."

Dit is nogal 'n ervaring wat mense soms het. Baie mense in die wêreld het al deur die eeue die gevoel gehad dat daar oor hulle besluit word, dat die magte wat oor hulle gestel is – ja selfs die demokraties verkose magte – met hulle maak soos hulle luskry. Ons ken daardie gevoel. Ons brom dikwels oor die manier waarop dinge selfs in ons eie land gebeur.

Dit is waar. Maar op 'n vreemde manier het Augustus se plan om mense te tel en die lastige bepaling dat almal na hulle geboortedorp moet gaan 'n belofte in vervulling laat gaan wat God al lank te vore gemaak het. As jy so daaroor begin dink, wonder jy skielik wie die pion op die skaakbord is.

Maar God, anders as Augustus of die magte wat deur die eeue heen mense se lewens versuur het, se bedoeling is om mense se lewens te red. Hy wil hulle seën. Dit het hy reeds vir ou Vader Abraham duidelik gemaak. Dit is om hulle te seën wat Hy sy Seun stuur. Hy is besorg oor al die mense wat Augustus wil tel. Hy is besorg oor mense wie se statistiek ons oral in swart en wit in boeke het.

Daarom maak Hy nog steeds soos hy in Josef se dae gemaak het. Josef het eeue van te vore reeds gesien hoe God mense se bose bedoelings kan omdraai in heil vir daardie mense met die verkeerde bedoelings self. Vir die broers wat hom as slaaf verkoop het sê hy: "God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte (Gen 45:8).

Kersfees wil ons daaraan herinner dat God die verlossing van die mens laat gebeur. Kersfees wil ons oë oopmaak sodat ons dieper kyk as die wêreldgebeure. Kersfees wil ons laat verstaan dat die evangelie nooit 'n verlore saak in die wêreld is nie. Kersfees wil ons laat glo dat die onverstaanbare verloop van die wêreld 'n dieper geheim het as wat die regeerders met hulle besluite weet.

Daarom kan ons ten spyte van die oorloë en die gerugte van oorloë saam sing aan die lied van die engelekoor: Daarom kan ons weet van mense in wie Hy 'n welbehae het, al vertel al wat koerant is vir ons hoekom ons hulle as teëstanders moet beskou. Daarom kan ons sing van vrede en God prys.

Maar daarom kan ons ook nie maar net Kersfees vier asof ons eie verlossing en die heil van ons gesin die eindpunt van die evangelie is nie. Ons kan nie feesmaal eet sonder om te wonder oor ons taak ten opsigte van die mense wat nog nooit die liggaam en bloed van Jesus geëet het nie. Daarom kan ons nie vir mekaar duur geskenke koop, terwyl daar mense is wat honger het of terwyl daar nie genoeg geld is vir die sending nie.

Want solank daar skape is wat gevind moet word, rus die Herder nie. Omdat Hy 'n herder is, roep Hy herders om getuies te wees van sy Seun se sending.

En dit is net as herders wat sy soektog deel, wat ons by die krip kan kom kniel.