22 Desember 2002

Vierde Sondag van Advent

Liturgiese voorstel

Fokusteks: Lukas 1:26-38

Ander tekste: 2 Samuel 7:1-11, 16; Lukas 1:47-55; Romeine 16:25-27

Tema: God is by ons en oorskadu ons met sy krag

God vergader ons voor hom

Nadat die vierde adventkers aangesteek is, word in die adventsaankondiging beklemtoon dat die gemeente op hierdie Sondag liturgies in besonder die magtige teenwoordigheid van God moet beleef, waarop hulle hul tot beskikking in sy diens moet stel. Daarom neem die votum die vorm van n tweegesprek aan: die liturg lees Lukas 1:28b, 35b en 37 waarop die gemeente met 38b antwoord. Psalm 89:2, 3 (n parallelle lesing dié Sondag) dien as drumpelgebed. Hierna loof die gemeente God se teenwoordigheid met Lied 159, 280, 358 of NSG 343, 52, 92. Gebruik Psalm 89:31-35 as verootmoediging waarna die genadeverkondiging aan die hand van Romeine 16:25, 26 plaasvind. Die missionêre aksent daarvan word onderstreep met Lied 486 of NSG 186.

Diens van die Woord

Na n vrye epiklese volg die Skriflesing en preek Lukas 1:26-38.

Diens van die tafel

Uit die nagmaalsformulier word die viering van Christus se teenwoordigheid en die missionêr-eskatologiese reikwydte van sy versoeningswerk beklemtoon. Die credo word gevolg deur stilgebed waarin elkeen hom/haar tot beskikking stel van en voorberei op die werklike teenwoordigheid van die Gasheer aan die tafel. Na die offergawe, bestem vir n sendingprojek, word die intersessie gedoen vir hulle wat nog in die duister is.

Uitsending

Na Lied 488 of NSG 192 word Romeine 16:27 gebruik as seën.

 

PREEKSTUDIE LUKAS 1:26-38

Algemene inleiding tot Lukas se geboorteverhaal

Oor hierdie deel van die Lukasevangelie is reeds baie geskryf, want daar word gereeld elke jaar Advents- en Kerspreke gehou, met Lukas ongetwyfeld een van die gewildste teksvoorsieners in hierdie verband.

In die riglyne vir Adventsprediking, Woord teen die Lig I/1, is 'n hele paar studies oor die teksgedeeltes uit Lukas geskryf. Professor Dirkie Smit was daarvoor verantwoordelik en hy het ook sommer 'n inleiding waarin hy die waarde van die verskillende kommentare wat op daardie stadium (1981) beskikbaar was, daaraan toegevoeg. Die meeste van hierdie werke wat hy aanhaal en in sy riglyne gebruik, is werke wat óf die taal van die teks (grammaties en semanties) deeglik bespreek óf wat die homiletiese moontlikhede van die teks uitlig.

Omdat hy daardie paadjie reeds op 'n besonder deeglik en uitnemende manier bewandel en dit geboekstaaf het, gaan ek met die drie preekstudies vir hierdie bundel, doelbewus uit 'n ander hoek na die gedeelte kyk. Hoewel ek ook na die kommentare wat professor Smit in sy studies noem, gekyk het, en veral vir Schürmann (wat in die Herder reeks verskyn het) groot bewondering het, het ek my in hoofsaak by Du Plessis se narratiewe ontleding van die Lukasevangelie wat ná die publikasie van Woord teen die Lig I/1 verskyn het, aangesluit.

Uiteraard sal predikers wat uit verskillende hoeke na 'n teks kyk, nie verbysterend anders daaroor preek nie. 'n Teks het nou eenmaal sy eie stem. Ongeag van watter eksegetiese of hermeneutiese metodes die prediker gebruik maak, as sy die teks aan die woord stel, sal die hoorder dié stem die een of ander tyd wel herken.

Tog is daar ook beduidende verskille. Professor Smit het byvoorbeeld besluit dat die perikoop waarin die geboorte van Christus aangekondig word, nie anders as Christologies gepreek behoort te word nie. Du Plessis wat die groter verhaal narratief ondersoek, lê die klem weer eerder teologies as Christologies. Die preek hieronder eksperimenteer 'n bietjie met daardie moontlikheid. Maar eers iets oor wat met 'n narratiewe lees van die teks bedoel word.

As 'n mens 'n storie vertel, en jy doen dit goed, ryg jy die afsonderlike, kleinere gebeurtenisse of episodes op so 'n manier aanmekaar, dat dit een groot geheel vorm en alles saam sin maak. 'n Entoesiastiese leser sal dalk een van hierdie episodes so geniet dat sy telkens daarheen terugkeer om dit net nog 'n slag te lees. Dit is haar reg. Maar as sy by die leeskring oor jou boek moet gesels, sal sy meer moet doen as om net te vertel hoe lekker daardie toneeltjie vir haar is. Sy sal moet aantoon wat jou doel met daardie spesifieke episode is, hoe dit in die groter geheel inpas en hoe dit tot die ontwikkeling van die verhaal bydra.

Uit Lukas se boek is die geboorteverhaal so 'n weer-en-weer-lees besondere gunsteling "vir die hele volk" (om die engel nou buite konteks en bedoeling aan te haal).

Maar dit is tog goed om, as jy die gemeente as groter "leeskring" wil help om die verhaal nog meer te geniet, rekening te hou met Lukas se verwikkelingsplan of intrige (die gewilde Engelse woord daarvoor is "plot").

Hiermee help IJ du Plessis se kommentaar ons goed, want hy het die ontleding van die verhaal as belangrikste eksegetiese instrument ingespan om die evangelie te verstaan. Hy het die verwikkelingsplan van die evangelie só geformuleer: "Die heilsplan van God vir universele verlossing wat in en deur die lewe, dood en opstanding van Jesus tot uitdrukking kom."

Dit beteken onder andere dat, wanneer Lukas oor Jesus se lewe praat, hy eintlik oor God praat. En God is besig om in Jesus, 'n eeue oue plan tot uitvoering te bring, en al sy beloftes aan Israel te vervul. Hierdie plan en vervulling het die doel om die hele wêreld se mense te red. As ons dit onthou wanneer ons die geboorteverhaal lees, val ons oog veral op die God wat handel, en hoe mense daarop reageer.

Die geboortegeskiedenis kan skematies soos volg uitgebeeld word:

1:5-25 Die aankondiging van Johannes se geboorte

1:26-38 Die aankondiging van Jesus se geboorte

1:39-45 Die lofsang van Elisabet

1:46-56 Die lofsang van Maria

1:57-66 Die geboorte van Johannes, besnydenis en naamgewing

1:67-79 Die lofsang (profesie) van Sagaria

1:80 Samevattende opmerking oor Johannes

2:1-20 Die geboorte van Jesus

2:21-24 Besnydenis, voorstelling, reiniging

2:25-39 Profesie van Simeon en Anna

2:40 Samevattende opmerking oor Jesus

2:41-51 'n Bewys van Jesus se wysheid en seunskap

2:52 Tweede samevatting van Jesus se jeug

Wat opval van hierdie skema, is dat daar 'n deurlopende parallel tussen die verhaal van Johannes en die van Jesus se geboorte is. Die Johannes-gedeeltes gaan nie vanjaar in ons prediking ter sprake kom nie. Maar ten spyte van die noue verbintenis wat hulle met ons preektekste het, hoef ons ons ook nie te erg daaroor te kwel dat hulle op die kantlyn bly staan nie. Want hulle funksie is hoofsaaklik om aan te dui dat Jesus soveel meer as Johannes is. Vir die doel van hierdie preekstudies, is ons nie daarin geïnteresseerd nie.

 

Teks

Die teks is redelik eenvoudig. Daar is nie werklik ernstige vertaalprobleme in nie en die meeste goeie kommentare help jou gou om die betekenis van die teks helder te kry.

Die verhaal vertoon ook 'n redelik eenvoudige opbou:

A. Setting: Tyd, plek en karakters word vermeld (1:26-27)

B. Die engel se begroeting - Maria se reaksie (1:28-29)

C. Die engel se aankondiging - Maria se reaksie (1:30-34)

D. Die engel se antwoord - Maria se reaksie (1:35-38b)

E. Die engel vertrek (1:38c)

Dié opbou maak ons daarop attent dat Maria se reaksie 'n belangrike rol speel in die verhaal wat vertel hoe God sy beloftes vervul en die Verlosser vir die wêreld skenk.

Konteks

Iewers het een van die kommentare oor hierdie gedeelte gesê dat ons hier nie in 'n klaskamer waar daar lesse geleer word, instap nie, maar in n erediens waar 'n lofsang gesing word. En as jy die gedeelte lees en herlees, word die waarheid daarvan duidelik. Dit is daarom eintlik onvanpas om 'n preek oor hierdie teks te benut as 'n geleentheid om die gemeente 'n lessie te leer oor die twee nature van Christus, of om 'n gesprek oor die moontlikheid al dan nie van die maagdelike geboorte te voer.

Omdat laasgenoemde probleem egter in die laaste tyd so aktueel is, moet die prediker dalk net in die verbygaan daaroor iets sê. Dit kan jy selfs net voor die Skriflesing doen, en jy sou, as jy wou, dit in die vorm van 'n persoonlike getuienis met die gemeente kan deel (Bygesê: as jy self daaraan glo. Ek persoonlik is van harte oortuig dat as jy eenmaal die keuse gemaak het om die opwekking van Jesus te glo, en Hom dus ernstig neem as Seun van God, dit vreemd sal wees om nou skielik allerlei bedenkinge oor die maagdelike geboorte te hê. So 'n selektiewe siening oor waartoe God in staat is, maak vir my eenvoudig nie sin nie. Maar om 'n hele preek oor hierdie teks daaraan af te staan, mis die punt.)

Du Plessis se opmerking dat dit in die teks oor God gaan, vind vreugdevolle weerklank in my hart. Maar, en dit moet ons baie mooi raaksien, ons ontdek God hier in sy omgang met 'n spesifieke mens. Teen wil en dank vestig die teks ons aandag op haar reaksie. Selfs al ken jy die verhaal hoe goed, kan jy dit eintlik nie lees sonder om telkens met spanning op haar reaksie te wag nie.

Die prikkel wat tot die preekvoorstel hieronder aanleiding gegee het, is die geweldige afstand tussen die Grote God en die (amper nog) dogtertjie wat voor sy aangesig staan. Want Maria was waarskynlik nie veel ouer as twaalf of dertien toe die engel aan haar verskyn het nie. In ons kultuur sou sy nog op laerskool gewees het.

Wat van God boeiend in hierdie konteks is, is dat Hy haar uitkies vir 'n besondere taak, maar nie sonder om haar te ken in die saak nie. Hy vra nie toestemming nie, maar Hy benader die hele gesprek op so 'n manier dat Hy nie voortgaan met die wonder vóór sy nie ingestem het nie.

Uiteraard kom dit nie regtig by een van ons op dat sy selfs daaraan sou dink om teë te stribbel nie, al onthou ons hoe ou Sara sinies gelag het toe God die wonderlike geboorte van 'n kind vir haar en Abraham aankondig. En vir een skrikwekkende oomblik doem die moontlikheid dat sy dalk kan weier voor jou op. Maar net vir 'n oomblik, want wat God hier vir Maria aanbied is so oorweldigend, dat sy nie kan "nee" sê of lag nie. Tog is Hy die sagte, bedagsame, weerlose God, wat die hele verlossingsgeskiedenis vir 'n oomblik tot stilstand bring totdat hierdie jong dogter eers gesê het: "Dit is goed so."

Die preekvoorstel probeer iets daarvan verwoord en probeer daarom op 'n eie manier om 'n loflied te sing oor God wat só met mense omgaan.

Natuurlik het ook 'n loflied etiese implikasies. Want selfs as jy die indikatief van die heil uitsing, is jy die heeltyd bewus van die imperatief wat selfs na die tyd soos 'n deuntjie wat jy nie kan vergeet nie, in jou kop bly maal.

Die respek waarmee die grote God hierdie "onbeduidende" meisietjie uit Nasaret benader, het ontsaglik baie te sê vir die manier waarop ons die heil aan ander oordra. Maar dit gaan ook veel verder. Dit het ook iets te sê vir mans wat soms hulle fisiese krag of posisie misbruik om 'n vrou te dwing of te oordonder.

Daarom mag dit sinvol wees as die prediker (veral as hy 'n man is) in die week voor die preek gelewer moet word, saam met 'n groepie vroue gaan sit om hierdie aspek van God se geaardheid te bedink.

Preekvoorstel

Normaalweg is dit goed om voor jy begin preek maak, die boodskap in een enkele sin te formuleer. As jy hierdie "Wat wil ek sê?" vraag beantwoord het, is die volgende vraag wat baie keer vergete bly, die "Hoekom?" vraag. Hoekom moet die gemeente dit hoor? Of anders gestel: "Wat wil hierdie teks met die gemeente bereik? Hoe gaan die gemeente lyk as die teks se boodskap in hulle harte en lewens gestalte vind?"

Die preekvoorstel hier onder het uit die volgende antwoorde op hierdie twee vrae gegroei:

Vraag 1: Wat wil ek sê? Antwoord: God stel Homself weerloos voor ons keuses, maar Hy oorreed ons deur die oorvloed van die erfenis wat Hy ons aanbied.

Vraag 2: Wat wil die teks met die gemeente bereik? Antwoord: Die teks wil hê dat ons God moet glo en 'n lofsang vir Hom moet sing. En as ons eenmaal die heerlikheid van God se weerlose bedagsaamheid aanskou het, sal dit ook ons optrede teenoor veral die (fisies) swakkere mense om ons bepaal.

Geleerde mense wat die ontstaan van die aarde bestudeer sê dat alles met 'n geweldige oerknal begin het. Hulle reken selfs uit dat die gebeurtenis billjoene jare gelede plaasgevind het. Dit is seker gepas dat so 'n enorme, indrukwekkende gebeurtenis met die woord "knal" beskryf word. Ons het mos al geleer dat deurslaggewende gebeurtenisse met groot lawaai of fanfares gepaard gaan.

Groot oomblikke knal egter nie altyd nie.

Want in die loop van die geskiedenis van die mensdom was daar 'n klompie gebeurtenisse wat van deurslaggewende aard was, al het sommige van hulle amper geluidloos verloop. Sommige was toe hulle plaasgevind, so onopvallend dat dit eers 'n latere geslag mense was wat die betekenis daarvan ten volle gesnap het. Ander weer is dadelik met 'n gedruis aangekondig as historiese mylpaal. Dink maar byvoorbeeld aan 11 September 2001. Of die wêreld werklik soos die koerante gebulder het, daarna vir altyd anders geword het, is sterk te betwyfel.

Tog, met of sonder geskal of geknal, daar is oomblikke waarop die geskiedenis soos 'n groot skip op die see van die tyd, beduidend en onherroeplik van koers verander.

Maar in ons teks lees ons van 'n beslissende oomblik waar die skip van die geskiedenis nie koers verander nie. Sy koers was immers juis een wat die Kaptein voor die aanvang van die reis reeds gekies het, en ook herhaaldelik aangekondig het. Maar dit is asof hierdie skip wat nog nooit vir 'n oomblik gestuit is nie, kort voor die ingang tot die hawe van sy bestemming tot stilstand gebring word, sodat die Kaptein een van die mees onbeduidende en onwaarskynlike passasiers se instemming kan kry voor Hy verder gaan.

Vir 'n vlietende oomblik is dit asof die hele reis in die weegskaal mag wees, terwyl Hy wag op die antwoord.

Want God het van die begin af nie mense se besluite vir hulle geneem nie. Hy het Homself doelbewus beperk deur hulle keuses ernstig te neem. As Hy sy Seun na die wêreld stuur, doen Hy dit nie sonder om eers die vrou uit wie hierdie Seun gebore moet word, in die saak te ken nie.

Vir 'n oomblik stol die geskiedenis en al die passasiers wat deur die eeue heen op hierdie skip gereis het en oor sy bestemming gedroom het, die hele wolk van getuies waarvan Hebreërs praat hou vir 'n oomblik asem op, hou hulle hart vas, vries daar waar hulle is.

Eva se hand huiwer voor sy die verbode vrug pluk. Kain se ewige swerftog om weg te kom van sy broer se bloed wat na hom roep, word onderbreek. Noag hou op uitkyk vir die duif om terug te keer met 'n blaartjie in sy snawel. Abraham vries 'n oomblik voor hy die bok keelafsny wat in Isak se plek voorsien is. Jakob hou op worstel met die man by Jabbok. Moses steek vas waar hy van die berg af kom en sy vingers word wit soos hy aan die twee kliptafels met die wet op, vasklou. Dawid huiwer voor hy die klippie in sy slingervel sit. Salomo vergeet vir 'n oomblik lank om die koningin van Skeba te probeer beïndruk. Jesaja wonder vir 'n sekonde of hy moet aanbied om te gaan terwyl hy die soom van die Here se kleed in die tempel aanskou en die heilig, heilig, heilig van die engele se uitroep hoor. Jesaja se penpunt word droog voor hy die lied oor die lydende kneg kan skryf. Was dit nie dalk soos die prediker sinies gekla het, alles tevergeefs nie? En vir 'n oomblik staan die grote God, met 'n selfopgelegde magteloosheid voor 'n kind van 13 jaar oud. Net vir 'n oomblik hou die engele in die hemel op om te roep heilig, heilig, heilig, is die Here. Die prediker skrik hom boeglam by die gedagte dat alles dalk regtig tevergeefs, 'n gejaag na wind kan wees.

Vir 'n oomblik hang die intog in die beloofde land af van 'n kind wat amper nog nat agter die ore is en kort onlangs maar nog vir die eerste keer nat van menstruasiebloed was.

Aan die anderkant is dit ook weer nie so erg vreemd dat God homself en die vervulling van sy plan so blootstel nie. Hy het dit al meermale gedoen. Soms selfs met byna rampspoedige gevolge, soos toe Eva en Adam die boom van die lewe geïgnoreer en die verbode vrugte gekies het. Hy het immers besluit om mense en hulle keuses ernstig te neem, en nie met ons om te gaan soos 'n marionettemeester nie.

Aan die ander kant het Hy elke keer wanneer dit oor die erfenis gaan wat Hy vir mense voorberei en aan hulle wil skenk, nie net beveel nie, maar die kluisdeure van die hemel se skatkamers oopgemaak vóór Hy gevra het of hulle wil erf.

Abraham vaar die vreemde in. Maar wie kan nou in daardie tyd nee sê vir die belofte van 'n land en 'n groot nageslag? En word hy boonop die vader van die gelowiges genoem!

God is soos iemand wat vir jou, wanneer jy na 'n woestynreis vergaan van die dors, 'n heerlike fontein wys en dan wil weet of jy aan Hom gehoorsaam wil wees en 'n slukkie water wil vat.

Hy is 'n Herder wat vir sy skape 'n groen weiveld wys en hulle nooi om gehoorsaam te wees en daarvan te vreet.

Daarom kan ons vir 'n oomblik wonder: Gaan Maria instem. Maar net vir 'n oomblik. Want wie kan nee sê vir die grootste geskenk, die geskenk van die lewe?

Maria sou teoreties nee kon sê vir die grootste eer. Sy sou dalk kon weier. Maar op 'n sekere vlak is dit mos onmoontlik. Want as jou oog eenmaal vir die erfenis oopgegaan het, kan jy geensins nee sê vir die uitnodiging om erfgenaam te word nie.

Daarom kan Paulus later vra: "Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit." (Rom 3:27). En weer: "Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie" (1 Kor 1:29), en: "Dié wat wil roem, moet in die Here roem" (1 Kor 1:30).

Daarom kan almal van ons gerus maar 'n bietjie in die Here oor Maria roem. As daar in die hemel blydskap is oor een sondaar wat hom bekeer, (Luk 15:7) is daar sekerlik ook 'n engelekoor wat sing wanneer 'n mens met God se plan om die mensdom te red, instem.

As ons ja sê vir God se weg met ons, het nóg Maria, nóg ons, iets om op te roem. Tog word ons geprys!

Só is God. Hy dwing nie. Hy oorlaai ons so met sy liefde dat ons selfs by die varkhokke kan onthou van die vaderhuis. Hy stuur ons soos engele uit om mense te vertel van die erfenis wat hy reeds vir hulle aan die gee is.

Maar daarom mag ons ook met groot vryheid van Hom getuig en van sy liefde en gawes vertel. Ons hoef niemand te dwing of te manipuleer tot 'n antwoord nie. Ons is net die boodskappers.

Maar as ons God so leer ken, as die oorwinnaar wat mense se keuses ernstig neem, beïnvloed dit nie net ons sendingwerk nie. Dit beïnvloed ook ons omgang met mekaar. Veral die omgang van mans met vroue. Want vroue het dikwels rede om te kla dat mans hulle krag of posisie misbruik om ten spyte van die vrou se teenkanting, te kry wat hulle wil hê. In ons samelewing het dit 'n siekte geword.

Geen man wat egter God se optrede teenoor Maria gesien en bedink het, sal ooit weer daaraan kan dink om oor 'n vrou se wense en begeertes te loop nie. As die Almagtige die hele verlossingsgeskiedenis vir 'n oomblik laat huiwer omdat Hy eers wag op die instemming van n jongmeisie, Maria, dan het dit geweldige implikasies vir ons optrede teenoor dié teenoor wie ons in magsposisies verkeer. Veral teenoor vroue en kinders.

Kom ons wees bly oor Maria.

Kom ons wees bly oor elkeen wat in die loop van eeue gesê het: "Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het."

Kom ons sing 'n loflied vir 'n God wat ons menswees ernstig neem.

Kom ons leef 'n loflied vir hierdie God deur mekaar se menswees en keuses, ernstig te neem.