20 April 2003

PAASFEESdiens

liturgiese voorstel

Fokusteks: Markus 16:1-8

Ander Tekste: Jesaja 25:6-9; Psalm118:1-24; Johannes 20:1-18

Inleiding

Paasfees is by uitnemendheid 'n ekumeniese fees. Jesus wat uit die dood opgewek is, is die 'hart' van die Christelike geloof en daar behoort al meer moeite gedoen te word om die fees ekumenies in jou omgewing te vier. Ons glo nie in "die opstanding" nie, menende ‘n koue stuk dogma nie, maar in die aanwesigheid van die lewende, opgestane Christus. Te midde van die realiteit van die dood, breek God kragtig en reddend in ons wêreld in. Dís wanneer geslote deure oopgebreek word, ou persepsies van wat moontlik en onmoontlik is, deurkruis word, en gelowiges aan die wurggreep van die mag van die dood ontruk word. ‘n Heeltemal nuwe radikale lewensstyl word moontlik. Psalm 118:23 "Dit is deur die Here gedoen en is ’n wonder in ons oë! " Die vier tekste van vandag getuig daarvan.

Paaskers

Die Paaskers is ‘n besonder belangrike visuele simbool. Dis ‘n baie groot wit kers wat op ‘n hoë staander staan. Soos die Môrester wat nie ondergaan nie, stel dit die opgestane Here voor wat skyn tot in ewigheid. Soos die vuurkolom die Israeliete deur die nag begelei het, skyn die Paaskers voort as ‘n herinnering dat die verrese Heiland steeds lewend in ons midde teenwoordig is. Die hele verhaal van die Exodus lê opgesluit as agtergrondsverhaal in die Paaskers. As die kerk ook in die groot misterie van die opstanding wil inkom, is die aansteek van die Paaskers op Paassondag aan te bevel. [Sien die kort liturgie hiervoor in "Gebedeboek met liturgiese voorstelle", Sinodale Eredienskommissie [Lux Verbi], p16]

Opstandingsdiens (om en by 6 vm.)

Vir gemeentes wat nog nie die Paaskers gebruik nie, word aanbeveel dat ‘n tradisie begin word met ‘n Nagwaak-diens of ‘n Sonsopkoms-diens op Paassondag, wanneer dit nog donker genoeg is om die betekenis van die Paaskers te beleef. Min kerke by ons gewone eredienste is donker genoeg om die volle effek van die kerse te kan beleef. (Vgl die Morawiese liturgie heel aan die einde waar die gemeente vergader by die begraafplaas met hul gesigte na die opkomende son, terwyl die basuinekoor speel, en gedurende die diens die name van die afgestorwenes van elke gemeente hardop voorgelees word.)

Tydens die Nagwaak-diens kom die gemeente om middernag bymekaar. Met die vroegoggend Sonsopkoms-diens word die mense weer gevra om in die rigting van die opkomende son te vergader. Aangesien die doop sterk funksioneer in hierdie tyd, kan ‘n plekkie by die see of langs ‘n rivier aanbeveel word. Die simboliek van opkomende lig, asook die herinnering aan die doop, wat gepaard gaan met bekeringstories wat gedeel word en Paasliedere wat gesing word, wys alles heen na donkerte en duisternis wat deur lig uitgedoof en uitgedryf word!

Die brandende Paaskers word op Paassondag die kerkgebou ingebring, waar dit bly brand elke keer wanneer die gemeente die vyftig dae tot en met Pinkster saamkom. (Party gemeentes laat die Paaskers deur die jaar brand, en fokus so op die lewende Here wat elke Sondag by ons is.) Wanneer u besluit oor die grootte van die kers, hou in gedagte dat hy lank sal moet brand. Deel die gegewens oor die Paaskers op skrif voor die tyd uit.

Die Nagwaak-diens of Sonsopkoms-diens: Dis tydens hierdie diens waar die gemeente die opstandingsverhale herbeleef, soos byvoorbeeld die verhaal van die Rooi See (met ‘n paar rolspelers), die droë bene-verhaal van Esegiël (met ‘n paar regtige bene of selfs ‘n geraamte!), die evangelies, asook die bekeringstories wat gedeel word deur almal wat informeel rondom ‘n kampvuur sit.

‘n Sonsopkomsdiens het in ‘n gemeente soos volg verloop: 1. Gelowiges kom om 06:00 bymekaar en stap na ‘n afgespreekte plek terwyl hulle Paasliedere sing. 2. Die voorganger heet almal welkom, ‘n openingsgebed word gebid en daarna word gelees uit van die talle Paasverhale in die Bybel. 3. Iemand kan vertel wat die oorsprong is van die sonsopkoms-diens. 4. Mense draai in groepies of twee-twee na mekaar toe en deel bekeringstories. (Indien dit ‘n kleiner groepie is, kan ‘n vuur aangesteek word). 5 Voorbidding word gedoen vir die wêreld. 6. Klippe word (by die see) opgetel, wat gebruik word om die klip wat weggerol is van die graf te simboliseer, en uitgedeel. 7. Die doop kan bedien word indien daar nuwe dopelinge is of ‘n doopherinnering kan gehou word. 8. Daar word na die kerkgebou beweeg. 9. ‘n Ritueel speel hom af voor die kaal kruis: en die Here word geloof dat Hy opgestaan het! 10. Die nuwe bekeerlinge lê belydenis van geloof af. 11. Die nagmaal word gevier. 11. ‘n Paasontbyt (met paasbolletjies) word genuttig.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Die opening kan met die volgende begin as moontlikheid:

"Watter hoofstuk in die Bybel is presies in die middel van die Bybel? Antwoord: Psalm 118. Hoeveel hoofstukke is voor Psalm 118 en daarna? Antwoord: 594 en 594. Wat kry jy as jy hierdie twee syfers optel? Antwoord: 1 188. Wat is die middelste vers van die Bybel? Antwoord: Ps 118:8 ’Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou.’"

of:

Daar kan by die psalm van die dag aangesluit word. Die psalm van die dag praat die taal van iemand wat die noue ontkoming gehad het om uit 'n noodlottige ongeluk te ontsnap,of wat bevry is van die moontlikheid om aan 'n ongeneeslike siekte te ly of wat vrygespreek is van 'n ernstige aanklag teen hom. Vir enigiemand wat so bevry is, skyn die lewe weer nuut soos lig in die donker en lente na die winter. So iemand kan nie anders nie as om God te loof, want God het sy Woord gehou. Daar sê die Psalm :14 "Die Here is my krag en my beskerming."/ "Dit is Hy wat my red."/ :15 "Die Here doen kragtige dade."

Votum

(na Jes 25)

Liturg: Kyk daar, dit is ons God, ons het op Hom vertrou, Hy het ons gered.

Gemeente: Ons het op Hom vertrou. Laat ons bly wees en juig

Liturg: Op hierdie berg het Hy die doek verwyder,

Gemeente Die doek wat oor al die volke gegooi was,

Liturg: Hier het die Here God die dood vir ewig vernietig,

Gemeente: en die trane op almal se gesigte afgevee.

 

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die woord/epiklese

Eerste Skriflesing

Jesaja 25:6-9

Psalmrespons

Psalm118:1-24

Tweede Skriflesing

Johannes 20:1-18

‘n Lied word gesing

Een van die "Halleluja’s": Lied 189,204,206,218,228.

Skriflesing uit die Evangelies

Markus 16:1-8

Kindertyd

Paaseiers

Wys vir die kinders ‘n buitengewoon groot paaseier van sjokolade. Vra of hulle die paaseier herken. "Het julle baie hiervan oor die Paastyd geëet?" Vra verder: "Wat gebeur met ‘n rêrige eier?" Verduidelik dan: "Eiers het ‘n simbool van Pase geword omdat eiers lewe bevat. Eiers herinner ons aan die graf van Jesus, wat nie dood nie, maar lewe, bevat; van ‘goeie nuus’ naamlik dat Jesus weer lewe! Ons ontvang gawes van eiers op Paassondag, en kort voor lank is hulle weg, klaar, op; maar Jesus het vir ons op hierdie dag ‘n baie spesiale gawe gegee, die gawe van sy liefde en sy lewe en dit hou vir altyd." Breek dan die eier in stukkies en deel dit uit vir al die kinders om te eet.

of:

Skoenlapper

Wys en vertel byvoorbeeld ook vir die kinders die oorgang van dood na lewe in die ontwikkeling van die skoenlapper.

of:

Wonderkers

Kry ‘n wonderkers wat aanhou brand al blaas jy dit uit. Vertel die storie van Jesus se lewe, hoedat mense sy lewe telkens wou uitblaas: Herodus, die Fariseërs, Pilatus, en die Sanhedrin. Na elke persoon se naam genoem word wat Jesus wou doodmaak, blaas die kers uit, en sê hoedat elkeen gedink het:"ja, nou, het ons van Hom ontslae geraak!" Terwyl die wonderkers weer aankom, wys daarop hoe hulle nie in hulle doel geslaag het nie. Uiteindelik, hoe hulle op Goeie Vrydag gedink het: dis klaar! Maar...

of:

Kry ‘n kunstenaar om ‘n groot versierde eiervormige houer te maak. Vertel vir die gemeente hoe ons op verskillende wyses Paasgeskenke in so ’n eier kan verpak en dan daaruit kan uitdeel. Jy kan van plastiese eiers gebruik maak met jeleiboontjies tot duurder versierde eiers wat die Russiese tsaars ontvang het. Maak jou eie paaseier oop wat ‘n klein Nuwe Testamentjie bevat. Verduidelik dat die heel eerste Paasgeskenk die Paasverhaal was. Verduidelik dat dit daarop neerkom wat ons maak met iets, of dit nou ‘n teleurstelling is en of dit ‘n groot geskenk is. Mense in die Bybel het ook verskillend reageer op die Paasverhaal. Party, soos die tempelhoofde, het dit ignoreer of as ‘n leuen bestempel. Andere soos Petrus en Paulus het toegelaat dat dit hulle hele lewe verander. Vra aan die hele gemeente wat hulle gaan doen met dié geskenk? Vra hulle om dit in hulle lewens toe te laat.

Prediking

Doop

Dit is gebruiklik in die tradisie om op Paassondag die doop te bedien. Dit was Tertulianus wat in die Jaar 200 al berig dat die Paaswaak vanaf middernag op die "Saterdag van Lasarus" tot en met die sonsopkoms van Paassondag gebruik is vir die bediening van die doop. Die nuwe katkisante wat deur die hele lydenstyd hulle voorberei het om belydenis van geloof af te lê, het tydens hierdie diens by kerslig hulle doopbeloftes in die voor-Pase donkerte afgelê. Terwyl hulle hul bekeringstories met mekaar deel, het die res van die gemeente hulle mettertyd by hulle aangesluit vir hulle eerste nagmaal. Almal kon met sonsopkoms eendragtig bely dat die Here werklik opgestaan het.

DIENS VAN DIE TAFEL

Op Paasfees is nuwe bekeerlinge in die vroeëre geskiedenis van die kerk hier by die nagmaalstafel verwelkom, nadat die doop aan hulle bedien is.

Dink ‘n bietjie: waar en hoe ontmoet mense die opgestane Heer op ‘n tasbare manier? Petrus gee vir ons die antwoord: Handelinge 10:39-41 "En ons is getuies van alles wat Hy in die Joodse land en in Jerusalem gedoen het. Hulle het Hom doodgemaak deur Hom aan die kruis te hang. Maar God het Hom op die derde dag uit die dood opgewek en Hom laat verskyn, nie aan die hele volk nie, maar net aan ons vir wie God reeds gekies het om getuies daarvan te wees, ons wat na sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het."

In plaas daarvan die tekens te laat uitdeel, stel ons voor dat die lidmate na vore kom, terwyl Paasliedere gesing word! Die koor kan die tafelgemeenskap begelei!

Jesaja 25 verkondig dat die Here die Almagtige op Sionsberg, as die middelpunt van die Godsryk, ’n feesmaal gaan gereed maak. Net die beste voedsel en drank sal voorgesit word en dit is bedoel vir al die volke.

Aflegging van geloofsbelydenis

Die geloofsbelydenis kan aangepas word om spesifiek te handel oor die vrug van die opstanding, soos byvoorbeeld:

Liturg: Dood, waar is jou angel?

Gemeente: Hel, waar jou oorwinning?

Liturg: Christus is opgewek, en jy is oorrompel.

Gemeente: Christus is opgewek, en die duiwels is neergevel.

Liturg: Christus is opgewek, en die engele jubel.

Gemeente: Christus is opgewek, en die lewe kraai koning.

Liturg: Christus is opgewek, en geen dooie bly langer in die graf nie.

Gemeente: Want Christus, siende dat Hy opgewek is, het vir ons geword die eersgeborene uit die dood.

Almal: Aan Hom kom toe die eer en die krag vir altyd en altyd. Amen." (Chrysostomos)

Voorbidding

"Ons kom aanbid U, die God van barmhartigheid en liefde in ‘n wêreld wat draai om kompetisie, konflik en apatie. Dankie dat u lig, waarheid en geregtigheid ‘n nuwe lewe moontlik maak. Dankie dat ons in u krag u werk kan voortsit hier op aarde. Gee dat ons U nie weer sal kruisig nie, nadat U die oorwinning vir ons verkry het. Maak ons ore en oë oop vir die nood van die wêreld om ons. Gee ons krag om getuies te wees dat die evangelie skeidsmure afbreek. Stuur ons om met nuwe hoop ‘n vlam van inspirasie te wees vir ‘n wêreld in sy nood."

Gevolg deur ‘n gebed vir plaaslike behoeftes, landsake en wêreldwye nood.

UITSENDING

Sang

Sluit met Paasliedere af

Seën

Litanie vir die opstandingsdiens

(Gebaseer op die Morawiese formulier vir die geleentheid)

(Die gemeente vergader by die begraafplaas met hul gesigte na die opkomende son, terwyl die basuinekoor speel.)

Liturg: Die Heer het opgestaan!

Gemeente: Hy het waarlik opgestaan!

Gemeente: (Ges.115)

Gemeente: (Ges.118)

Liturg: Ek glo in een God, Vader, Seun en Heilige Gees; uit Hom en deur Hom en tot

Hom is alle dinge; aan Hom kom toe die heerlikheid tot in alle ewigheid.

Gemeente: Amen.

Liturg: Ek glo in God, die Vader van onse Here Jesus Christus, wat ons uitverkies het in

Hom voor die grondlegging van die wêreld; wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde, en ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus. Hy het ons toe al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees volgens sy genadige beskikking tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in sy geliefde Seun.

Gemeente: Dit is sekerlik waar.

Gemeente: (Ges.107)

Liturg: Vader, verheerlik u Naam!

Almal: Die Onse Vader

Gemeente: (Ges.112)

Liturg: Ek glo in die Naam van die eniggebore Seun van God deur wie alles is, en ons deur

hom.

Ek glo dat die Woord vlees geword en onder ons gewoon en die gestalte van 'n dienskneg aangeneem het. Hy is ontvang van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria.

Aangesien die kinders mense van vlees en bloed is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword. Hy is in die gestalte gevind as 'n mens en is in alle opsigte versoek net soos ons, maar sonder sonde.

Hy was die Here na wie ons gesoek het, naamlik die Engel van die verbond, na wie ons begeerte gehad het. Die Here Here het Hom gestuur, en sy Gees was op Hom, om uit te roep 'n jaar van die welbehae van die Here.

Hy het gespreek waarvan Hy weet en getuienis gegee van wat Hy gesien het. Aan almal wat Hom aangeneem het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

Hy het gely onder Pontius Pilatus, is gekruisig, het gesterf en is begrawe. Hy het neergedaal na die doderyk.

Hy het op die derde dag opgestaan uit die dood, en met Hom baie liggame van die ontslape heiliges.

Hy het opgevaar bokant al die hemele en het gaan sit aan die regterhand van die Vader.

Hy sal netso weer kom soos hulle Hom na die hemel sien wegvaar het.

Gemeente: (Ges.133)

Liturg: Ja, Hy sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God, en Hy sal sit op sy heerlike troon en die lewende en

dode oordeel.

Dit is my Here wat my, verlore en verdoemde mens, verlos, verwerf en losgekoop het van alle sondes, van die dood en van die mag van die duiwel, nie deur goud of silwer nie, maar deur sy heilige kosbare bloed en sy onskuldige lyding en sterwe, sodat ek sy eie sou mag wees en in sy koninkryk onder Hom lewe en Hom dien in ewige geregtigheid, onskuld en saligheid, net soos Hy uit die dood opgestaan het, leef en regeer tot in ewigheid.

Gemeente: Dit is beslis waar.

Gemeente: Ges.194)

Liturg: Ek glo in die Heilige Gees, die Trooster wat Jesus vir ons van die Vader gestuur het,

nadat Hy weggegaan het, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan om by ons te bly tot in ewigheid en wat alles in almal werk en aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.

Aan Hom die heerlikheid in die gemeente wat in Jesus Christus is deur alle geslagte in ewigheid!

Gemeente: Amen.

Liturg: Ek glo dat ek nie uit my eie verstand of krag in Jesus Christus, my Here, kan glo of na

Hom toe kan kom nie, maar die Heilige Gees het my deur die evangelie beroep, met sy gawes verlig en in die regte geloof geheilig en bewaar, net soos Hy die hele Christenheid op aarde beroep, vergader, verlig, heilig en by Jesus Christus bewaar in die regte, enige geloof; en dat Hy in hierdie Christenheid my en alle gelowiges daagliks alle sondes oorvloedig vergewe.

Gemeente: Amen.

Gemeente: I believe that I have been included in Gods covenant, through my baptism, rebirth and

renewal by the Holy Spirit; that I have been incorporated in the community of Jesus Christ, whom he loved and which he sanctified through his death and which he purified through his Word.

Gemeente: Amen.

Liturg: In this community of saints I find my comfort in my dear Lord and Saviour Jesus Christ,

who died for me, who shed his blood for me on the cross so that I may receive forgiveness for my sins, and who gave his body and blood as pledge in Holy Communion. Therefore he lives in me and I in him, and I have eternal life and he will wake me up on the last day.

Gemeente: Amen.

Gemeente: (Hymn 147)

Liturg: I have the desire to leave this life and be with Christ, because that is by far the best.

Because I keep his Word, I shall experience resurrection from death. We know that, after our earthly home is destroyed, we have a building from God, an eternal house in heaven, not build by human hands.

And if the Spirit of him who raised Jesus from death lives in you, then he shall also raise your earthly bodies through his Spirit.

Gemeente: Amen.

Liturg: I believe that all those who has died in Christ Jesus, joined the community of the

righteous and has entered the joy of their Lord.

We think in particular of those loved ones, who since our previous Easter – here or somewhere else – have passed away ...

Die name van die afgestorwenes van elke gemeente word hardop voorgelees.

Gemeente: (Ges.360)

Gemeente: Lord, help us who stay behind to fight the good fight, until we also are delivered

from our earthly pain, and we together will rejoice in you.

Gemeente: We, unworthy sinners, pray this. Hear our prayer Lord!

Liturg: Bewaar ons in ewigdurende gemeenskap met die hele gemeente van die reeds

Volmaakte regverdiges, en in die besonder met u diensknegte en diensmaagde wat reeds ontslaap het, en laat ons op u tyd saam met hulle by U van ons arbeid rus!

Gemeente: Amen.

Gemeente: (Ges.141)

Liturg: Eer aan Hom wat die opstanding en die lewe is! Wie in Hom glo, sal lewe al het hy

ook gesterwe. En elkeen wat lewe en in Hom glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Eer aan Hom in die gemeente wat Hom nog verwag en in die gemeente wat reeds by Hom is;

Gemeente: van ewigheid tot ewigheid! Amen.

Liturg: Die genade van ons Heer en Jesus Christus, en Gods ewige liefde en die

gemeenskap van die Heilige Gees

sy met u almal,

Gemeente: met ons almal

Amen!

Die gemeente word genooi vir ‘n nagmaalgeleentheid in die kerk.]

 

PREEKSTUDIE – Markus 16:1-20

Teks

Hierdie laaste hoofstuk van die Evangelie volgens Markus (wat verdeel word tussen v1–8 en v 9–20) is een van die omstrede tekste van die Bybel. Volgens sommige van die ou manuskripte ontbreek vers 9–20 en is die argument natuurlik dat dit later deur iemand toegevoeg is. Die rede vir die toevoeging sou wees dat ‘n evangelie darem nie kan eindig met die woorde nie: "Hulle het vir niemand anders iets gesê nie want hulle was bang". In die toevoeging word geen saak aangeraak wat nie deur die ander evangelies ook vermeld word nie (buiten vers 17-18). Die verse lewer groot probleme omdat dit eenvoudig en duidelik gestel word dat slangbyte en gifdrankies wat vir egte gelowiges geen probleem behoort te wees nie (In die "Bible Belt" van die VSA is daar natuurlik ‘n interessante groep(e) "serpent handlers" wat uit herlewings van vroeër ontstaan het en wat van hierdie verse die hart van die evangelie maak, maar daaroor hoef ons nie uit te brei nie, behalwe as die prediker wil preek oor een van die maniere om nie met die Skrif om te gaan nie!)

Die Leesrooster beveel die hele teks aan en die prediker wat wil, kan die argumente nalees in kommentare en dan self besluit of hy/sy die hele perikoop wil laat geld in die preek of nie.

Oorsigtelik gaan dit in hierdie hoofstuk om die afsluiting van die verhaal van Jesus se lewe en bediening… ‘n einde en afloop in die ontdekking en bevestiging van die opstanding en die kroning ("aan die Regterhand van God") van Jesus as Here oor die kerk en al die magte.

Inhoudelik kan die perikoop verdeel word in die volgende onderdele:

1:1-8 Die ontdekking van die opstanding

1:1-4 Aankoms by die graf
1:5-7 Die boodskap van "die jongman" in die graf
1:8 Die reaksie van die vroue

1:9-20 Die bevestiging van die opstanding

1:9-11 ‘n Verskyning aan Maria Magdalena & ‘n ongelowige respons

1:12-13 ‘n Verskyning aan twee ander op pad na die platteland

1:14 ‘n Verskyning aan die 11 en hulle ongeloof word verwyt

1:15-18 Opdrag aan die dissipels, gekoppel aan die doop en wondertekens

1:19 Hemelvaart en sit aan die Regterhand van God

1:20 Die aktiwiteit van die kerk na die opstanding

Wat die "wirkungsgeschichte" van die teks aanbetref, is dit interessant dat die klassieke uitdrukking "sit aan die Regterhand van God", wat in die 12 Artikels sy neerslag gevind het, juis in die verse gevind word. ‘n Ander interessantheid is om Markus se verwysings te vergelyk met die ander evangeliste. Dan val dit op dat daar meer dikwels uit die ander evangelies gepreek word. Die ongeloof van die dissipels en die Here se veroordelende verwysing daarna, is by Markus baie sterker as by die ander.

Konteks

1. Die Opstanding: In die lig van die Leesrooster se plasing, maak dit sin dat dit hier om die opstanding gaan en dat dit ‘n toepaslike gedeelte vir Pase is. As dit die primêre konteks is wat die prediker kies, kan hy/sy gerus fokus op 1:1-8. Kerugmaties lê die skopus ook nie in "die vroue as eerste evangeliste" of ander kleiner sake soos wie sal die klip wegrol nie, maar in die woorde van die jongman (Engel) in verse 6–7. Dit is die enigste plek waar Markus na ‘n engel (Jongman in lang wit kleed, ‘n Boodskapper van God) verwys in sy weergawe van Jesus se verhaal.

2. Die Identiteit Van Jesus: In die groter konteks van die Markus verhaal, gaan dit om die vraag: "Wie is Jesus?" Markus se antwoord is natuurlik: Die Seun van God. As dit die konteks word, bied die teks verskillende verwysings na Jesus wat as preekstof gebruik kan word, byvoorbeeld: Hy is …

Jesus van Nasaret

Gekruisig en uit die dood opgewek

Die Een wat vooruitgaan na Galilea

Wat verskyn aan sy dissipels

Wat opgevaar het na die Hemel

Sit aan die regterhand van God

En die Een wat met die kerk saamgewerk het.

Die goed ingeligte prediker kan die gedeeltes maklik gebruik om aan te sluit by die afgelope debat(te), boeke – ook in die sekulêre pers – oor Jesus. By Markus se teologie is Jesus by uitstek Seun van God, en wat hy daarmee bedoel het kan in kommentare nagegaan word.

3. Die einde van die storie? Fred Craddock het ‘n interessante benadering tot dié gedeelte gevolg. Hy vra: "Hoe eindig ‘n mens ‘n verhaal?" Matteus eindig met ‘n opdrag en belofte. Lukas met dissipels wat moet wag. Johannes met die uitnodiging: "Volg my!" Hy laat die suggestie dat ‘n verhaal met verskillende leestekens geëindig kan word. Sommige verhale se afsluiting is soos . . .
‘n Vraagteken: Die verhaal daag jou uit om self verder te gaan (te ant-woord), sonder om ‘n maklike oplossing te bied.
‘n Komma: Die verhaal kan nie sonder ‘n vervolg wees nie. Hierdie einde is net soos "‘n asemskep", ‘n vervat van die greep, voor die res van die sin volg of uitgebrei word.
‘n Uitroepteken: Ekstase. ‘n Oproep en/of uitroep. ‘n Afgeronde stelling met die vreugde van ‘n ontknoping wat nuwe beloftes, opdragte en vreugde skep.
‘n Aandagstreep: Die verhaal het jou tot hierdie punt gebring, en vra dat jy sal wag en spesiaal aandag sal gee aan dit wat volg.
‘n Punt: Die verhaal is afgehandel. Hier is "die end-van-die-prent".
‘n Paar kolletjies … Wat gaan nou volg? Die verhaal is oop en die leser/hoorder word ingetrek in die vervolg, wat nog onseker is.
Die prediker kan dit as ‘n raamwerk gebruik … melding maak van die probleme waarmee die slothoofstuk van Markus ons laat … en ‘n preek maak wat speel met die moontlikheid dat die verhaal by vers 8 geëindig het, of wat gebeur as die verhaal by vers 20 afsluit. Watter verskil maak dit? Hoe sou jy ‘n slot wou skrywe? Hier is ‘n baie goeie opening vir die verbeeldingryke prediker wat haar/sy gemeente goed ken!
Myns insiens is eersgenoemde afsluiting, "‘n paar kolletjies slot", terwyl die tweede opsie poog om "‘n punt agter die verhaal" van Jesus te sit. Iets soos … En so is dit. Punt (v 20 klink byna soos ‘n opsomming van die geskiedenis van die kerk van die opstanding tot met die wederkoms.). Tipies van ons (postmoderne!) tye word alles met ‘n vraagteken vertel?

4. Die Dissipels en (On)Geloof:

Daar is kleiner plotlyne binne die groter verhaal van Jesus – wat as Seun van God in konflik gekom het met die godsdienstige leiers en owerhede – wat gelei het tot sy kruisiging en waarop God gereageer het deur Hom op te wek. Een van die sub-verhale binne die groter verhaal, is die storie van Jesus en sy dissipels.

Markus teken die dissipels as lojaal aan Jesus, maar sonder begrip van:

die doel van Sy sending en bediening,

die betekenis van dissipelskap

Buiten vir Judas, beïnvloed ook nie een van die dissipels regtig die gang van die verhaal nie! By Markus is die dissipels definitief nie dapper "saints" nie, maar eintlik passief en baie traag.

Dissipelskap – binne die raamwerk van Markus – word bepaal deur die roepingsverhale: Jesus kies die twaalf dissipels (nie andersom nie), hulle volg onmiddellik (omdat Hy gesag het) en Hy het hulle aangestel met die dubbele opdrag: "om by Hom te bly", en; "sodat Hy hulle kon uitstuur" (3:14-15). Dit is die wese van dissipelskap. In Markus 6 word die dissipels uitgestuur en word ‘n paar sake bygevoeg (maar ten diepste gaan dit om die noue verband tussen Jesus se voorbeeld en dié van die dissipels as sy dissipels) sodat iemand wat hulle ontvang Jesus ontvang (9:37). Die reaksie by die dissipels is onbegrip en vrees. Dit begin al by die vertel van die gelykenisse (4:13) en word duidelik by die eerste episode op die see (4:40). Die voeding van die skare en die tweede episode op die see, bevestig hulle onbegrip en kleingeloof (6:51-52). Daar volg ‘n tweede vermeerdering van brode en nadat Jesus hulle na die skuit toe gevat het (8:17-21), hoor ons dat Jesus moedeloos raak omdat die dissipels nie kan begryp nie! Dit is omdat hulle nog soos "buitestanders" dink en omdat hulle met "‘n menslike" oog kyk.

Die tweede sleutelgedagte van dissipelskap, kom na vore in die tweede gedeelte van die verhaal van Jesus, waar Jesus op pad is na Jerusalem om te ly en om gekruisig te word. Jesus spel dissipelskap uit as "selfverloëning, kruis opneem en My volg" (8:34-38). Hiervoor is daar geen begrip nie (vgl die dissipels se praatjies oor wie die belangrikste is, en Jesus se antwoord - die dienaar, die een wat laaste is, die klein kindertjies!) (9:33-37). Nog erger word die onbegrip vir dienaarskap oopgevlek met Johannes en Jakobus se versoek om te domineer (10:35-45). Elke keer wanneer Jesus oor sy lyding en kruisiging praat, vertel Markus van die onbegrip hiervoor by die dissipels – geen wonder nie dat hulle Hom alleen gelaat het aan die kruis.

‘n Interessante vraag is wat van die dissipels in ons preekperikoop?

Dit is duidelik dat die vroue met vroom religieuse rituele – volgens die tradisie – hul Sondagoggend begin. ‘n Paar oomblikke later sien ons hulle … "groot geskrik, weg gehardloop, gebewe van die skrik, tjoepstil want hulle was bang". Ook as ons aanvaar dat verse 9–20 nie van Markus is nie, het die skrywer die dissipels in geen beter lig gestel nie. Hulle het Maria Magdalena "nie geglo nie" (16:11), die twee van die platteland (Emmausgangers!?) "ook nie geglo nie" (16:13). Later was Jesus self daar en het hulle hul ongeloof en hardheid van hart verwyt (Het hulle Hom ook nie geglo nie?). Die een prentjie is dat selfs die opstanding nie die dissipels verander het nie.

Die tweede voorstelling is dat kommentators reken daar het ‘n verandering (reconcilliation) plaasgevind tussen Jesus en die dissipels, met hul ongeloof en afvalligheid. Dit word ingelees in die woorde van 16:7, wat sê dat die dissipels – in besonder Petrus – moet terug gaan na Galilea (simbolies die plek van hul roeping) en daar sal hulle Hom sien. As ‘n mens die teks tot met vers 20 lees, is dit ook duidelik dat vers 20 getuig dat die dissipels – vanuit Jesus se opstanding, heerskappy en sy bekragtiging, Hom gevolg het.

Preekvoorstel

Hierbo by "konteks" is verskillende voorstelle.

Inleiding

Karl Barth het in sy groot sistematiese werk ‘n baie insiggewende indeling gemaak, waardeur ons tegelyk insig kry oor God en onsself. As ons God wil ken en verstaan, moet ons Jesus raaksien. Wie Jesus is, wat Hy gedoen en geleer het en wat Hy beteken, word deur Barth in drie groot hoofstukke ingedeel:

Die Heer as Dienaar – Jesus word mens, gehoorsaam, verneder, gekruisig

Die Dienaar as Heer – Jesus staan op, oorwin en word verhoog

Die Betroubare Getuie – Jesus aan die Regterhand van die Vader, Middelaar

1. Hoe is Jesus?

In ons teksgedeelte gaan dit uiteraard om die tweede deel van Barth se indeling: Jesus word opgewek. Hy het die dood oorwin. Iets wat vir ons nou al ou nuus is, maar wat vir die eerste hoorders ongehoord, ondenkbaar en onvoorstelbaar was. Die Jongman in die wit kleed, probeer weer rigting en lewe gee aan die asvaal geskrikte vroom vroue (verse 5 en 6) … wat op die Sondagoggend maar net ietsie goed wou kom doen vir iemand wat hulle liefgehad het ( verse 1 en 2). En dan ontdek hulle binne drie versies dat die groot klip weggerol is en dat die dienaar, die slaaf, die gevangene, die gespotte en ter dood veroordeelde Gekruisigde … Wel, Hy is nie hier nie … Kyk! (vers 6)

Die Dienaar wat Heer is (Paassondag), is niemand anders as Jesus van Nasaret (vers 6) nie – die Heer wat Dienaar is. So is God! So lief vir die wêreld, dat Hy Hom kom vereenselwig met sondaarmense – met die mees verwerplike – in hulle/ons doodsbestaan. So is God! So lief vir sy Seun en dié drommels waarvoor Hy Homself gegee het, dat Hy sy Seun opwek tot die lewe. God wil die lewe gee! Hierop eindig Lukas sy evangelie met dissipels wat "die hele tyd by die tempel gebly en God geprys het (Luk 24:53). Dit is die Hallel wat gesing word. Halleluja … vir die God en Vader van onse Here Jesus.

Maar dit is nie hoe Markus die dissipels teken nie!

2. Hoe is ons, die dissipels?

"Vrekgeskrik (vers 5), tjoepstil en doodbang (vers 8), gerattle en chickens" (vers 8).

So lyk die kerk by die opstanding .. op Paasfees.

As jy vir Barth sou vra hoekom, het sy skema jou geantwoord: Ons is van nature geneig tot die teenoorgestelde van Jesus. As dit tipies van God is om as Dienaar te kom, is hoogmoed (bravade!) nou weer tipies van die mens. En as die Opstanding – ja die Dienaar as Heer – die pad van God word, is traagheid so eie aan ons. Ons is so anders as Jesus.

By Markus kom traagheid ‘n lang paadjie …. (kyk Konteks hierbo en gebruik inligting wat jy nodig ag. By alle boeke oor die doodsondes is daar ook mooi gedeeltes oor traagheid – die doodsonde van Woensdag, ongeplaagdheid, onbetrokkenheid, acedia, sinisme, die siekte van die middeljare, ens).

3. Die doel van dissipelskap

Barth maak sy skema’tjies oor Jesus en oor sondaars om ons te oortuig dat daar versoening tussen God en mens gekom het. Hierdie pad wat die Dienaar-Heer en Heer-Dienaar geloop het, nooi ons uit om in versoening met God weg te draai van hoogmoed en traagheid … in navolging van Jesus.

Markus wil ons laat met die nugterheid van ontnugterde dissipels (1:1-8) en dan skryf die kerk verder aan ‘n slot. Het ons begryp dat dissipelskap beteken: "om by Jesus te bly, sodat Hy ons kan uitstuur" (3:14), en dat dit beteken dat ons "ons kruis opneem en Hom volg" in selfverloëning …, omdat dit die enigste manier is om te oorwin en te lewe? Of dink en doen ons na al die jare steeds as buitestanders aan die verhaal mee?