Markus 15:1-47 (Willie Cilliers)

16 April 2000

Sesde sondag in lydenstyd

PALMSONDAG

 

Ander tekste:   Markus 11:1-11; 14: 1-72; Psalm 31:8-16 Jesaja 50: 4-9; Filippense 2:5-11

Die ironie van die kruis. 

Teks en konteks

Mark 15:21-32 word bespreek in Woord teen die Lig I/8, 174-186.  Die klem word geplaas op ‘n paar van die ironieë rondom die kruisgebeure:

Dit was “die soldate” wat “iemand wat daar verbygekom het”, “gekommandeer” het om Jesus “se kruis te dra”.  Die “rede waarom Hy gekruisig is”, is op ‘n bordjie geskrywe: Die Koning van die Jode! 

Saam met Hom is  “twee rowers gekruisig”. Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster om Homself te red en van die kruis af te kom. Die “priesterhoofde en die skrifgeleerdes” spot met Jesus dat Hy van die kruis moet afkom sodat hulle dit kan sien en in Hom glo. Ook die twee wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.

Die preekvoorstel in Woord teen die Lig sluit daarby aan dat die Markusevangelie nadruk lê op die lyding en sterwe van Jesus. Die paradoks wat na vore kom is dat die reddende en bevrydende woord en daad van God deur Jesus Christus nie in heerlikheid en mag  nie, maar wel in  nederigheid en (skynbare) mislukking geopenbaar word.  ‘n Ander voorstel sou wees om te kyk na die vyf ander persone en groepe wat deur Markus onder die aandag van die lesers gebring word, te wete Simon van Sirene; die soldate; die verbygangers; die priesterhoofde en skrifgeleerdes en die twee wat saam met Jesus gekruisig is.  Binne die lydensverhaal is die middelpunt uiteraard Jesus self.  Juis in die interaksie tussen hierdie mense rondom die kruis met Jesus as die hoofkarakter word dit duidelik Wie Hy was en wat sy taak was.  In hul onderskeie reaksies word ook duidelik uitgebeeld wat mense se houding teenoor Jesus was en is (al lyk die uitingsvorme vandag net ‘n bietjie anders).  Hier word in ‘n sekere sin dieselfde voorstel gedoen wanneer gekies word vir die sogenaamde “teologie van die kruis” teenoor ‘n teologie van die glorie, of ‘n teologie van heerlikheid. 

Die volgende aspekte van die teks moet dan in ag geneem word:

Die veroordeelde moes self die kruis na die plek van teregstelling dra.  Dit wil volgens Markus voorkom asof fisieke uitputting veroorsaak het dat Jesus nie die kruis tot by die eindpunt kon dra nie.  Daarom word Simon van Sirene gekommandeer om die kruis te dra.  Sy seuns, Aleksander en Rufus moes aan Markus se lesers in Rome bekend gewees het en sou omtrent die waarheid van alles wat gebeur het, ondervra kon word. 

Die kruisiging sou volgens wet op ‘n heuweltjie buite die stad plaasvind (Lev 16:27).  Voor die kruisiging het “hulle” vir Jesus wyn gemeng met mirre aangebied om te drink.  Daar word meesal aanvaar dat die drank as ‘n verdowingsmiddel moes dien om Hom die volle skerpte van die pyn te spaar.  Jesus weier om dit te drink. 

Met ‘n enkele kort sinnetjie vermeld Markus “die hoogtepunt van die geskiedenis” (Groenewald): “Toe kruisig hulle Hom”.  Die Evangelies deel geen besonderhede mee omtrent die wrede marteling van die kruisiging nie.  Dit sou “allig jammergevoel wek; en Jesus verlang liefde” (Groenewald).  Meer tyd word spandeer om te sê hoe laat die kruisiging plaasgevind het as aan die gebeure van die kruisiging self.  Dit het op ‘n bepaalde uur in die geskiedenis plaasgevind. Sy klere word onder die soldate verdeel “deur te loot oor wat elkeen moet kry”.  Só gaan Psalm 22 in vervulling.  Volgens die gewoonte hang die tereggestelde naak aan die kruis. 

Dit was volgens uitleggers die gebruik om die rede vir die veroordeling aan die kruis te heg.  Dié beskuldiging lui dan spottend: “Die Koning van die Jode”.  Dit is die beskuldiging wat voor die Joodse Raad en voor Pilatus teen Hom aangevoer is.  Dit wil voorkom asof Pilatus uit minagting vir die Jode en as waarskuwing teen enige verset teen die Romeinse owerheid, dié woorde van die opskrif laat aanbring het.  In die werklikheid sterf Jesus ook as die Koning van die Jode, maar in ‘n ander sin as dié waarin Pilatus die naam bedoel het.  Jesus is die Messias wat sou kom, en Hy sterf soos in die profesieë aangekondig (veral in Jes 53:3 en Ps 22).

Twee rowers word saam met Hom gekruisig.  Hulle kon ook politieke opstandelinge gewees het.  In elk geval word Jesus onder die misdadigers gereken en also word Jesaja 53:12 vervul. Die kruisiging het soos gebruiklik naby ‘n hoofweg plaasgevind.  Die verbygangers het tot sy smaad bygedra deur Hom te laster. Die godsdienstige leiers het allerlei aanmerkings onder mekaar gemaak wat bedoel was om Jesus geestelik te martel. 

Selfs diegene wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig. 

Preekvoorstel

In Nietzsche se “Zarathustra” staan êrens: “Jy ly nog nie genoeg nie, want jy ly nog nie aan die mens nie.” 

Christus ly aan die mens.  Van sy geboorte af is dit die grondtoon van die melodie van sy lewe.  En as mense Hom toejuig: “Hosanna” dan is dit beslis ‘n misverstand.  Sodra hulle merk wie hulle hier ontmoet, skreeu hulle: “Kruisig Hom!” 

Christus ly ook onder mense – mense wat nie weet wat hulle doen en sê nie.  Soms was dit wat hulle gesê het die waarheid, maar dan het hulleself dit nie so bedoel nie:

Dit is die vyandige soldate wat iemand wat daar verbygekom het, gekommandeer het om Jesus se kruis te dra.  Natuurlik het Jesus self gesê dat as iemand agter Hom aan wil kom, moet hy sy kruis opneem.  Dit is die waarheid wat die soldate vir Simon beveel, maar hulle bedoel dit anders.  Simon is vir Markus egter nie onbelangrik nie.  Hy noem hom by die naam, waar hy vandaan gekom het en ook wie sy twee seuns was.  Sirene is ‘n stad in Noord-Afrika en die twee seuns was aan die lesers van Markus se Evangelie goed bekend.  Die historisiteit van die kruisiging kon bevestig word.  Simon word egter deur soldatereg gedwing om die kruis van Jesus te dra.  Die soldate doen dit nie uit simpatie met Jesus nie – hulle wil maar net vinniger oor die weg kom en hul taak so gou as moontlik afgehandel kry.  Jesus verwag ook nie medelye nie.  Hy soek nie jammerte nie, maar spontane en oortuigde en vrywillige kruisdra.  Sy dissipels moes eintlik aangebied het om sy kruis te dra.  ‘n Vreemdeling uit Noord-Afrika word deur vreemdes gedwing om die dissipels se taak oor te neem. 

Hulle bring Jesus toe na ‘n plek, Golgota, wat Markus vertaal met “Kopbeenplek”.  Die noukeurige ligging van Golgota kan nie vandag op ‘n atlas aangetoon word nie.  Die Evangelie het sy eie kaart waarop die plekke vir die prediking geplaas word.  Dit was buite die stad geleë.  Deur die Heilige Gees word dit van die aarde losgemaak en omskep tot ‘n evangelie van versoening.  Golgota word tot ‘n oordeel oor alle dinge.  Dit laat aan die wêreld sien hoe God die Bose en die bose oorwin.  Dit is die geboortegrond van ons geloof.  Dit is die plek waar God ons sondes dra.  Dit is die voorland van die hemelse paradys.  Die hemelse brood word hier toeberei.  Die moontlikhede van die ewige lewe word hier geskep. 

Hulle het vir Jesus wyn gemeng met mirre aangebied om te drink.  Moontlik was dit simpatiseerders met die bedoeling om sy lyding te verdoof.  Jesus weier om dit te drink.  Hy is eerder besig om die bitter lydensbeker onvermeng te ledig. 

“Toe kruisig hulle Hom”.  Net soos by die ander evangelies word geen uitvoerige beskrywing van die grootste gebeurtenis in die geskiedenis gegee nie. 

Dit is merkwaardig dat in die Apostoliese Geloofsbelydenis alleen maar vertèl word, wat Jesus oorgekom het, byna asof dit ‘n lot was wat Hom getref het.  Hy het gely, is gekruisig, het gesterf en is begrawe.  As naakte feite word dit aan ons meegedeel.  Al ons heil lê in hierdie feite opgesluit.  Dit is die rotsvaste oortuiging van die Christendom van alle eeue.  Maar wat die heil is en hoe dit daarin opgesluit lê, word in geen woord gesê nie. Jesus se bedeesde aanvaarding van wat met Hom gebeur is tekenend van die liefde en versoening. 

Van Ruler meen dat in hierdie merkwaardige houding van die belydende kerk die houding van die lydende Middelaar weerspieël word.  Jesus het, volgens die evangelieverhaal slegs ‘n paar woorde aan die kruis gespreek.  Swygend het Hy die lyding gedra, totdat dit volbring was. 

Die kruisdood was ‘n wrede manier om misdadigers om die lewe te bring.  Dit was ook skandelik om op so ‘n manier tereg gestel te word.  Dit is met name net op slawe en die ergste misdadigers toegepas.  Die klassieke nagmaalsformulier verstaan dit dat Hy “ontelbare smaadhede gely het, sodat ons nooit meer in skande sou geraak nie”; dat Hy tot in die allerdiepste smaad en angs van die hel verneder is, sodat ons deur God aangeneem en nooit meer deur Hom verlaat sou word nie”. 

Die apostel Paulus sien in die feit dat Jesus gekruisig is ook ‘n ander betekenis.  In Galasiërs 3:13 haal hy die Ou Testament aan wat in Deuteronomium 21:23 sê: “Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang.”  Die kruis is ‘n galg.  ‘n Gekruisigde is ‘n gehangde, maar in die Ou Testament staan dat ‘n gehangde ‘n vervloekte is.  Hy hang tussen hemel en aarde.  God se vloek tref Hom.  Die evangelie van die kruis is die boodskap dat Hy hierdie vloek van God op Hom geneem het.  Die kruis is die bliksemafleier op die huis van die wêreld, sê van Ruler.  Die Heidelbergse Kategismus het direk die vraag gestel of daar iets meer in sit dat Christus juis gekruisig is en nie op ‘n ander manier gesterf het nie.  Die Kategismus wys ons dan hoe die menslike handelinge deurkruis word deur die Goddelike handeling wanneer die antwoord lui: “Ja, want daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my gerus het, op Hom geneem het, omdat die kruisdood deur God vervloek is.”

Noordmans sê dat diegene wat gewoonlik by die dood vra: Waarom? Hoor hier, die goddelike antwoord: Daarom!  Om ‘n plek te beklee wat ander nie kon vervul nie!  Om ‘n skuld te delg waarvoor ander nie kon boet nie!  Hier word die toorn van God geopenbaar oor alle goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense.  Maar hierdie toorn teen die sonde van die ganse menslike geslag word gedra deur Jesus.  Die verskriklikste woord wat in die Bybel voorkom, naamlik verdoemenis, is hier van letterlike toepassing.  Maar van hierdie verdoemenis word ons deur die sterwe van Jesus Christus verlos.

Helmut Thielicke skryf in sy boek “Ik geloof”:  Die sterwe van Jesus wil vir ons sê dat God self geregtigheid en liefde met mekaar versoen; Hy self gaan staan in die kloof en gee die liefste wat Hy het.  Dit beteken vir Thielicke dat dit wat hier gebeur alleen maar uitgedruk kan word met die eenvoudige en tog ondeurgrondelike woord dat God ons “vergeef”.  Wat gebeur as ek ‘n ander mens vergeef?  Dit kan immers nie beteken dat ek sou kon vergeet wat hy my aangedoen het nie.  Dit kan ek nie.  Nee, as ek ‘n ander vergeef, dan gaan ek self in die tweespalt staan; dan sê ek vir myself: “Dit waaraan die ander skuldig geword het aan jou, waarin hy jou gehaat en gemeen behandel het, dit is daar ook in my eie hart.  Jy is in alles solidêr met hom.  As ek van harte vir my naaste sê: “ek vergeef jou”, dan neem ek om so te sê die las van sy skuld oor in my eie hart, asof dit my skuld was.  Ek sê dan ook nie vir hom: dit was nie so erg nie.  Nee, ek sê: Dit was erg wat jy my aangedoen het; dit was verskriklik.  Maar ek weet van myself, hoe wankelmoedig en boos die menslike hart is.  Daarom kan ek daarin kom, wat jy my aangedoen het.  Dit alles is ook ‘n moontlikheid van myself.  En so ly ek dan ook saam met jou.  As ek iemand vergeef, dan neem ek die las van sy skuld mee op my.  Dan word ek sy broer en sy suster, dan word ek ‘n lasdraer naas hom. 

Dit is wat op Golgota gebeur het.  In Jesus Christus, die lydende en gekruisigde, kom God self naas ons.  Alle versoeking en bedreigdheid van ons hart maak Hy self deur.  Lyding en angs, eensaamheid en vrees vir die dood, al die menslike in sy twyfelagtigheid en gebrekkigheid neem Hy op Hom, as Hy Homself plaas onder die druk van die menslike geskiedenis en ingaan in die eindigheid en verlorenheid.  God neem ons las op Hom omdat Hy vergeef.  Golgota is ‘n pyn in God. 

Maar waarom is hier sprake van “versoening” en “plaasbekleding” en “skulddra”?  As die kruis van Golgota ‘n teken van versoening en plaasbekleding en skulddra is, veronderstel dit tog dat daar ‘n konflik tussen God en die mens moet wees.  Maar wie van ons beleef God so as sy teenstander, as Iemand met wie sake weer in orde gebring moet word?  Waarom moes juis sy Seun die offer wees, die pynlike dood sterf, om alles weer nuut te maak?  Waarom moes die pad terug na die Vaderhuis juis oor die heuwel van Golgota gaan? 

Die Heidelbergse Kategismus sê God is wel barmhartig, maar Hy is ook regverdig.  God is beide.  Hy is regverdig en daarom moet Hy die verkeerde en onheilige veroordeel.  Hy is egter ook ‘n hart vol van ontfermende liefde, wat nie wil veroordeel nie, maar wil red en opsoek en terugbring. 

Helmut Thielicke verwys in hierdie verband na die gelykenis van die verlore seun.  Hy sê hierdie dinge moes in die gedagte van die verlore seun gewees het in die vreemde land daar tussen die varke.  Die ongelukkige en verwese mens moes daar geredeneer het: “My pa is ‘n man van die reg; hy is streng en nougeset en laat hom nie sommer enigiets wysmaak nie.  Ek kan my nie aan hom vertoon nie.  Ek moet vergaan van skaamte as ek dink aan sy regverdigheid en sy heilige erns.”  Maar terselfdertyd dink die seun: “Tog ly my pa aan my ellende, omdat hy my liefhet.  En tog hou hy my vas, omdat ek sy kind is, en hy hou voortdurend die vensters verlig sodat ek die sein van sy liefde kan opvang!  Ek mag inkom”. 

In die hart van die verlore seun is dus ‘n stryd van twee stemme.  Die een sê: “My vader is ‘goed’; ek mag my in my veragtelikheid nie meer laat sien nie”.  En die ander stem sê: “My vader is ‘n ‘goeie vader’, ek mag by hom tuiskom.”  Dit is hier waar die sterwe van Jesus vir ons wil sê: God self versoen geregtigheid en liefde met mekaar; Hy self gaan staan tussen die twee dinge wat vir ons soos ‘n onoorbrugbare kloof lyk.  Hy versoen sy geregtigheid en barmhartigheid deur die offer van sy Seun aan die kruis.  Hy gee Homself as versoening; Hy dra self die skuld; Hy neem self die plek tussen God en mens in. 

Markus vertel ons van nog ‘n groepie mense rondom die kruis.  Hy sê die soldate het Jesus se klere onder mekaar verdeel deur te loot wat elkeen moes kry.  Psalm 22:17-19 klink teen die agtergrond van Markus se beskrywing.  Daar lees ons hoe Dawid sy nood beskryf: “Soos honde omsingel hulle my, die bende misdadigers sak op my toe, hulle bind my hande en voete vas.  Al wat been in my is, kan ek tel; hulle kyk na my met leedvermaak.  Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel.”  Volgens Romeinse gebruik kon die soldate, nadat hulle ‘n teregstelling afgehandel het, die besittings van die veroordeelde onder hulle verdeel.  Dit was deel van hul vergoeding.  Jesus was maar net nog iemand wat hulle gekruisig het.  Hulle het nie veel erg aan Hom nie.  Hulle is te besig om dit wat hulle uit die transaksie kan maak, vir hulle op te eis.  Markus teken vir ons in rou realisme hoe die kruisiging van Jesus heeltemal midde in die  gewone, alledaagse lewe van mense plaasvind.  Maar deurdat Markus die Ou Testament aanhaal, sien hy ook dit wat die soldate doen as ‘n daad van God.  Hulle stroop Hom van alle menslike waardigheid.  Hy hang naak aan die kruis – soos alle ander kruiselinge, maar tog gee Markus daaraan die diepte wat wys op die totale offer wat van God gevra word.

Gewoonlik is ‘n bordjie met die beskuldiging, op grond waarvan die misdadiger ter dood veroordeel is, aan die kruis geheg.  Moontlik wou Pilatus ook met die Jode die spot dryf wanneer hy die opskrif bo die kruis laat plaas met die woorde: “Die koning van die Jode”.  Jesus is natuurlik die ware Koning, maar Pilatus bedoel dit nie so nie.  Maar juis langs hierdie weg van totale teendeel ís Hy die koning van die Jode en is Hy besig om ook aan die kruis sy ryk te laat kom.  Hy laat dit gebeur onder mense se oë (en hande) sonder dat hulle dit besef. 

Markus vertel vir ons dat hulle saam met Jesus ook twee rowers gekruisig het.   Hulle kon nasionalistiese opstandelinge gewees het.  Jesus hang tussen hulle asof Hy ‘n nasionalistiese Messias wou wees. 

Markus noem vir ons drie groepe mense wat met Jesus aan die kruis gespot het: die verbygangers, die priesterhoofde en skrifgeleerdes, en die mede-kruiselinge.  Die verbygangers het Hom gelaster, altans volgens die opvatting van die evangelis.  Jesus is veroordeel weens blasfemie (14:63), maar die blasfemie is aan die kant van die verbygangers!  Hulle het hulle kop geskud as teken van smaad en gesê: “Toe, jy wat die tempel afbreek en in drie dae weer opbou!  Red jouself en kom van die kruis af.”  Hulle gryp terug op woorde van Jesus self.  Hy het gepraat van die tempel, wat hulle maar kan afbreek, en Hy sou dit in drie dae weer opbou.  Hy het daarmee sy liggaam bedoel, maar die mense het dit letterlik opgeneem ten opsigte van die tempel.  Nou spot hulle met sy magteloosheid.  Hulle besef nie dat die tempel wat Hy bedoel het, besig is om voor hulle oë afgebreek te word en dat daarin die betoning van sy goddelike krag geleë is nie. 

Ook die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het spottend vir mekaar gesê: “Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie!  Laat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons dit kan sien en in hom kan glo!”  “Ander het hy gered” – hulle het dit óf as spot bedoel, naamlik dat hy beweer het dat die redder van mense was, óf hulle het erken dat sy bevrydende dade nie weg te redeneer was nie.  Dit is waarskynliker dat hulle dit wat Jesus gedoen het, nie kon ontken nie.  Nou spot hulle egter daarmee dat Jesus homself nie kan red nie.  Wat hulle nie verstaan het nie is dat Jesus nie gekom het om Homself te red nie, maar dat Hy aan die kruis steeds besig was om ander te red.  Hy het nie net gekom om siekes te genees, blindes te laat sien, duiwels uit te dryf, of selfs mense op te wek uit die dood nie.  Juis deur te sterf aan die kruis neem Hy die vloek van God oor die sonde op Hom.  Dit kan hulle nie met die blote oog sien nie.  Daarom weet hulle nie wat hulle vra as hulle wil hê dat die Christus, die koning van Israel, nou van die kruis moet kom, sodat hulle dit kan sien en in Hom glo nie.  Hulle moet eerder glo wat hulle nie sien nie! 

Die derde groep mense wat met Jesus aan die kruis gespot, of eerder beledig het, was die twee manne wat saam met Hom gekruisig is.  Ons weet nie wat hulle vir Jesus gesê het nie, maar as die veronderstelling is dat hulle politieke opstandelinge was, kan aanvaar word dat hulle Jesus sou gekonfronteer het met hulle politieke Messias-ideale.  Dit is net onbegryplik hoe mense in die aangesig van die dood steeds in staat kan wees om beledigings te maak. 

Meer onbegryplik is hoe God deur alles wat die mense Jesus aangedoen het, besig was om sy heilsplan te ontvou.  Aan die een kant sien ons in die spotters rondom die kruis die verdorwenheid van die mens– hoe die sonde alles in die teendeel kom keer het.  Hulle sien en praat die waarheid, tog bedoel hulle nie die waarheid nie.  Aan die ander kant sien ons God se liefde.  ‘n Mens kan daarmee spot en dit verwerp, óf dit aanvaar.  Christus ly genoeg, want Hy ly ook aan die mens.

 

Bibliografie

McMaster, L L M  Markus 15:21-32, in Woord teen die Lig, I/8, 174-186.  Van Ruler, A A Marcus 14,15&16. Kampen, 1972.  Achtemeier, Paul J Mark. Philadelphia, 1986.