Markus 13:1–8 (Jaap Durand)

19 November 2000

Twee-en-twintigste Sondag in Koninkrykstyd

 

Ander tekste:            1 Samuel 1:4–20, 1 Samuel 2:1–10, Psalm 16.

Waaksaam kan ons, sonder verskrikking, die toekoms tegemoet gaan wat God vir ons weggelę het, wetende dat uit die leed en die smart telkens weer die nuwe gebore word.

Teks

Jesus gaan uit die tempel uit (13 :1)!  Met hierdie woorde kondig die Markus-perikoop die finale breuk aan tussen Jesus en die godsdienstige Jodedom van sy tyd. Die werkwoord en die sinskonstruksie beklemtoon die finaliteit van Jesus se handeling. Hy gaan uit die tempel uit om nie weer daarheen terug te keer nie. Dit is asof ons hier te doen het met die dramatiese afsluiting van Jesus se konfrontasie met die Joodse godsdienstige leiers in Jerusalem. Jesus het naamlik kort vantevore op ‘vernietigende wyse hulle huigelary bloot gelę (12  38 – 40). Nou is Hy klaar met hulle en die tempel wat hulle ontwy het. In Matteus-weergawe kom dit nog duideliker uit. Hier is die oorgang tussen Jesus se gesprek met die skrifgeleerdes en die Fariseërs en sy uitgang uit die tempel meer direk en volg op sy woorde : “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie…”

Die dissipels begryp nie hierdie oomblik van beslissing nie. Soos goeie toeriste roep hulle hul bewondering uit vir die tempelgebou. Nou volg Jesus se aankondiging van die vernietiging van die tempel (v 2). Dit is ‘n oordeelsaankondiging en nie maar net ‘n blote profetiese voorsegging wat gaan kom nie. Weer eens kom hierdie kant van Jesus se uitspraak sterker na vore by Matteus, omdat hy dit teen die breër agtergond plaas van Jesus se laaste openbare toespraak in Jerusalem waarin Hy Jerusalem se onbekeerlikheid aan die kaak stel (Matt 23 : 37 – 38).

Die dissipels se vraag na wanneer hierdie dinge gaan gebeur, word nie direk deur Jesus beantwoord nie, maar Hy rig twee waarskuwings: 1) hulle moet waak teen misleidings wat gaan kom en 2) hulle moet nie verskrik word deur die gebeurtenisse wat die einde voorafgaan nie.

Die misleidings het te doen met persone wat hulle as verlossers (messiasse) sal voordoen (v 6). Dit word vry algemeen aanvaar dat Jesus se uitspraak dat baie onder sy Naam sal kom, nie verwys na pogings om letterlik impersonasies van Jesus self te wees nie, maar na mense met die pretensie om ‘n messiasrol te vervul.

Die oorloë waarna verwys word in vers 7 staan waarskynlik in verband met v 6 en het te doen met oorloë wat die gevolg is van messiaanse fanatisisme.

Al hierdie dinge, die oorloë, die aardbewings en beroeringe word in vers 8 die begin van die smarte (archč oudinoun) genoem. Die woord wat hier gebruik word, kan ook met “geboortepyne” vertaal word. Daarom bied die 1983-Afrikaanse Bybel ‘n omskrywende vertaling, miskien nie ten onregte nie : “Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd”.

Konteks

Saam met Matteus 24 en Lukas 21 vorm Markus 13 deel van die sogenaamde Sinoptiese Apokalips waarin Jesus ‘n profetiese blik op die toekoms werp. Hy doen dit in die taal van die Ou-Testamentiese apokaliptiese profesie soos ons dit veral by Daniël aantref (sien bv  v 14) en van die laat-Joodse apokaliptiek wat Hom voorafgegaan het. Die vraag is natuurlik na watter tyd hierdie uitsprake van Jesus verwys.

Met die oog op die prediking kan ons goedskiks die standpunt ignoreer van sommige histories-kritiese teoloë wat beweer dat hierdie woorde in Jesus se mond gelę is deur ‘n skrywer of skrywers wat reeds bekend was met die inname en verwoesting van Jerusalem deur die Romeine in die jaar 70. Hiernaas is daar egter nog steeds meer as een moontlike interpretasie.

Populęr by sekere kerklike groepe is die siening dat Jesus  se profetiese rede, as deel van die Nuwe-Testamentiese eskatologie, na die “eindtyd” verwys. Jesus is met ander woorde besig om hier die tekens van die aanbreek van die eindtyd en sy wederkoms aan te dui. Dit is asof ons hier te doen het met ‘n stuk toekomsgeskiedenis wat vooruit geskryf is, ‘n beriggewing wat ons presies vertel hoe dit teen die einde gaan lyk. Dit is egter duidelik dat Jesus nie hier besig is met ‘n verre toekoms nie. Hy spreek die huidige geslag aan en waarsku hulle om te waak teen die misleiding en die verskrikking wat hulle te beurt sal val. Sonder twyfel het Jesus se profesie hier te doen met die val van Jerusalem ongeveer 40 jaar na sy kruisdood. Maar, soos in die geval van die Ou-Testamentiese profesieë, het Jesus se voorsegging nie net te doen met die huidige geslag van hoorders en die onmiddellike toekoms nie. Dit het ook betrekking op alle geslagte vorentoe om die tye en die tekens te onderteken, en om, sonder dat hulle verskrik word deur die omstandighede, voortdurend op hulle hoede te wees vir misleiding deur sogenaamde redders. Die waarskuwing en troos van Markus 13 is ‘n saak wat deur elke geslag Christene gehoor en toegepas moet word.

Hierdie herhalende en meervoudige vervulling van Jesus se profesie sluit natuurlik nie die eindvervulling uit nie waarop alles ten slotte afstuur. Indien die gelowiges egter te veel konsentreer op die eindvervulling as iets van 'n verre toekoms, is die gevaar groot dat hulle hulle werksaamheid in die hede kan verloor. Die hede is immers reeds deel van die einde; ons leef in die “laaste dae” wat aangebreek het met opstanding van Christus en sy terugkeer na ons toe in die Heilige Gees. 

Dit alles geld natuurlik nie net die waaksaamheid teen misleiding nie, maar ook die bemoediging in allerlei vorme van verskrikking. Die groot vertroosting is dat die smart en lyding wat die gelowige ervaar, nie net aan die einde nie, maar nou reeds en by herhaling ervaar kan word as die begin van ‘n nuwe, beter, tyd.  Die geheim van eskatologiese prediking is dat dit sy aktualiteit in die hede sal behou en nie, soos dikwels gebeur, by die gemeente die gedagte oproep van ‘n verre toekoms nie. In so ‘n geval word alles ‘n bietjie onwerklik en leef die gemeente nie meer uit die dringende besef dat die einde reeds voor die deur is nie.

Preekvoorstel

‘n Preek oor die Markus-perikoop sou kon begin deur daarop te wys dat vrae oor die einddinge, oor die wederkoms van Christus en oor die “tekens van die tye” telkens opleef in tye van onsekerheid oor die toekoms. As alles oënskynlik onverstoord en rustig voortgaan, bekommer mense hulle nie maklik oor die toekoms nie. Sodra groot probleme begin opduik en dit lyk of die gevestigde dinge aan die wankel is, word bekommerde vrae oor die toekoms gestel. Die toekoms is dan ook nie meer iets waarna uitgesien kan word nie, maar word gevrees.

Vervolgens kan gepoog word om ‘n korreksie aan te bring op die populęre opvatting oor die eskatologie in die gemeente. Die wederkoms van Christus en die tekens wat dit aandui, is nie iets van ‘n verre toekoms nie, maar van die hede. Christus kom tot ons in die hede. “Hy verskyn aan almal van ons, daagliks, duisende kere, in onherkenbare gestaltes, op ongeleë tye…” (DJ Smit, Woord teen die Lig, 6, 98). Die begeleidende tekens is ook duidelik om te lees. Hoeveel “messiasse” word nie aan ons voorgehou nie. Suid-Afrika het ook al sy deel van sulke redders gehad. Dit is nie altyd dat hulleself hulle as sodanig aandien nie (soms wel), maar dikwels word hulle deur die publiek só gesien en in dié siening deur die gemeente gevolg sonder die nodige gelowige diskresie. Later ontdek ons dat ons mislei was!

Die vermaning tot waaksaamheid en die onderskeiding van die geeste is nie al wat in die prediking weerklank moet vind nie. Die vertroosting van Markus 13 is net so belangrik, indien nie belangriker nie. Die probleme waarmee die gemeente in die hede gekonfronteer word en die dinge waaroor die toekoms gevrees word, mag nie tot verskrikking lei nie. Jesus gee geen belofte dat van hierdie dinge nie sal gebeur nie, maar wel belowe Hy dat selfs in die weg van smarte die nuwe gebore word. Dit is hierdie sekerheid wat die apostel Paulus daartoe bring om uit te roep dat alles ten goede meewerk vir die geroepe kind van God (Rom 8 : 28).  Daar kan inderdaad ‘n tyd kom dat alles slegs donker en uitsigloos is. Okke Jager skryf iewers dat nimmereindigende van leed en ongelukkigheid die beste onder ons kan knak en breek (sien aanhaling by Woord teen die Lig, 6, 89). Maar dit is juis dan dat ons weet dat die Here naby is. Hy regeer, al vind ons dit moeilik om die aard van sy regering te verstaan. In ons leed kom Hy na ons toe, al herken ons Hom nie…totdat ons skielik ontdek dat alles op ‘n onverklaarbare wyse nuut geword het. Dan weet ons weer eens, met groot stelligheid, die nuwe hemel en die nuwe aarde lę voor die deur.