1 Desember 2002

Eerste Sondag van Advent

Liturgiese voorstel

Fokusteks: Markus 13:24-37

Ander tekste: Jesaja 64:1-9; Psalm 80; 1 Korintiërs 1:3-9

Tema: Verwagting en waaksame afwagting

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Na die adventsaankondiging en aansteek van die eerste adventkers kan ‘n koor Psalm 80:2,3 sing. Daarna volg die votum en drumpelgebed uit Jesaja 63:15a en 64:1,5. Dit word gevolg deur liedere van versugting en roep na God, byvoorbeeld Psalm 42:3,4; Lied 163 en 587 of NSG 352, 340 en 137. Die verootmoediging en skuldbelydenis volg aan die hand van Jesaja 64:6,7. Die genadeverkondiging is op hierdie Sondag ‘n roep-kreet om genade uit Psalm 80:18-20.

Diens van die Woord

Na ‘n vrye epiklese volg die Skriflesing en prediking: Markus 13:24-37.

Diens van die tafel

Aangesien gelowiges en gemeentes volgens Markus 13:34 tot "deurwagters" geroep is, word na die doop en nagmaal verwys as sakramente/sinjale wat ons laat wakker bly en versterk om vas te staan (1 Kor 1:7). Daarby is die credo belangrik om te sê op Wie die gemeente wag. Markus 14:22-25 kan aansluitend as instellingswoorde gebruik word. Na die kommunie volg die intersessie vir mense en ‘n wêreld in nood. Die offergawe volg.

Uitsending

Die slotsang van afwagting kan goedskiks Lied 320:1-5 of NSG 137 wees, waarop die seën volg.

 

LITURGIESE VOORSTEL(2)

Voorlesing

Mens kan dink aan Psalm 25; Jesaja 63:16b-64, 1 Korintiërs 1:3-9; met Psalm 85 as oorgang van die lesing uit die briewe na die evangelies.

Liedere

Oorweeg die volgende liedere uit die Liedboek as toespelings op die eerste en tweede Advent.

Advent en Kersfees-rubriek : 326:3,4; 328:1-3; 343:1,2; 350:2,3; 372:2,3.

Hoop en Voleinding-rubriek: 584:1,4; 586:1,2,3; 595:1,2; 596:1,2,3.

 

PREEKSTUDIE – MARKUS 13:24-37

Inleiding tot Markus

Hier word net kortliks sekere aspekte aan die orde gestel, sonder om enigsins volledig te wees (vgl Du Toit 1980). Die bedoeling is om – sover moontlik – sake deur te gee wat relevant met die oog op die prediking sal wees. Die Markusevangelie is 'n verhaal en moet ook as sodanig gelees word. Die tipiese kenmerk van Markus se verhaal is dat dit ons nie toelaat om net bloot lesers of toeskouers te wees en te bly nie. Ons word betrek om van die posisie van mense wat, aan die begin van die verhaal, net lesers en "toe-skouers" mag wees, mense te word wat as 't ware ons skouers self onder die uitdagings van die verhaal indruk en self betrokke raak by die voortgaande verhaal van Jesus en die kerk van die Here. Anders as mense wat bloot passiewe toeskouers bly, moet ons ore kry om mee te hoor (4:9), sodat ons van ons blindheid genees kan word om te kan sien en Jesus te volg (10:51v). Dit is 'n verhaal wat bepaalde verrassings inhou, veral vir ons wat ook die ander evangelies ken. Veral die begin van die verhaal is opvallend omdat ons hier niks lees oor die geboorte van Jesus nie. Ook die einde van die verhaal in Markus 16:8 is nogal vreemd, met die vroue wat bewend van skrik van die graf af weghardloop. Dit laat die gevoel dat hier sekerlik iets moet ontbreek.

Die vraag na wie die skrywer was, is nie werklik so belangrik vir die prediking nie. Daar kan verklaar word dat die Markusevangelie deur iemand met die naam "Markus" geskryf is, maar dis nie baie waarskynlik dat dit die Johannes Markus van Handelinge 12:25; 13:5,13 was nie. Die skrywer was wel 'n eerste eeuse Christen wat nie self 'n dissipel van Jesus was nie, waarskynlik 'n heiden-Christen (nie 'n Jood, soos Johannes Markus nie) (Breytenbach 1992:46). Uit Markus 15:21 kan ons aflei dat die skrywer en lesers die kinders geken het van iemand wat by die kruisiging teenwoordig was. Hy ken dus wel mense wat die dinge rondom Jesus van naby meegemaak het.

Op die vraag na waar die evangelie ontstaan het, kan ook nie 'n definitiewe antwoord gegee word nie. Volgens die tradisie ontstaan Markus in Rome. Dit sou ook klop met die algemene oriëntasie van die boek wat 'n heiden-Christen as skrywer veronderstel. Tog weerspieël Markus 'n besonder sterk belangstelling in Galilea, terwyl Markus 13 lesers veronderstel wat blykbaar êrens in Palestina verkeer (vgl ook 13:14). Sommige navorsers dink ook aan lesers in die noorde van Palestina, moontlik in Galilea. Tog kan nie met sekerheid vir 'n spesifieke plek van oorsprong gekies word nie.

Die ontstaanstyd van die Markusevangelie hou na alle waarskynlikheid verband met die krisis van die Joods-Romeinse oorlog van die jare 66-70 nC. Waarskynlik wys spesifieke formulerings in Markus 13 nog daarop terug. Die situasie van geweld tussen Jode en heidene wat hier weerspieël word kom ooreen met die situasie van net voor of net na die val van Jerusalem in 70 nC. Uit 13:24-27 lyk dit ook of die ingrype van die Messias deur sommige in daardie tyd verwag is. In daardie tyd word die bedreiging van twee kante af beleef – enersyds van die Romeinse besettingsmagte, andersyds kennelik ook van valse profete en messiasse wat die gemeente in die war probeer bring. Omdat die indruk bestaan dat 13:14 nog nie vervul is nie, kan tog geredeneer word dat die val van Jerusalem nog nie plaasgevind het nie (Collins 1992:86).

Om die teks van Markus te kan verstaan, moet ons besef dat die betekenis van 'n teks eintlik ontstaan as gevolg van die wisselwerking tussen die teks (die storiewêreld-konteks van die situasie) en die sosio-historiese konteks van die kultuur waarbinne Markus geplaas is. So kry ons ook begrip vir die apokaliptiese ingrype van die koninkryk van God volgens die Markusevangelie (Blount 1998). Ons moet dus steeds die groter raamwerk van God in ag neem wat in die konkrete wêreld van die kultuur en geskiedenis ingryp en dat hierdie gebeure in die vorm van 'n heel besondere verhaal as die Markusevangelie tot ons kom. So was daar in daardie tyd 'n duidelike kloof tussen ryk en arm, maar ook klowe tussen mense op grond van die skeiding tussen rein en onrein in die lig van die kultus en die heiligheidswette van Israel. Tydens Jesus se lewe was die meerderheid mense met wie Hy gemeng het, buite die groep wat vir die Jode sosiaal aanvaarbaar was. Markus se lesers moes ook blykbaar leer om op 'n nuwe manier te verkeer met mense wat kulties as "onrein" beskou is.

Teks

Voordat meer in besonderhede aan Markus 13:24-27 binne die groter perikoop van verse 24-37 aandag gegee word, kry die hoofstuk as geheel eers aandag. Behalwe Markus 4, is Markus 13 die enigste uitgebreide "toespraak" van Jesus in Markus. Dit is 'n gedeelte van Markus waaroor menings uiteenloop. Sommige verklaarders probeer die agtergrond en bronne van Markus 13 opspoor. Een hipotese is dat 'n apokaliptiese vlugskrif in 'n periode van verdrukking en nood in 39/40 nC ontstaan het, en dat die evangelis dit heelwat later in 66-70 nC met behulp van woorde van Jesus uit die mondelinge oorlewering, bewerk en van kritiese kommentaar voorsien het (Den Heyer). Dit is wel waar dat die oorlog van Rome teen die Jode (66-70 nC) en die verwoesting van Jerusalem en die tempel in 70 nC, beslis verhoogde aktualiteit aan Markus 13 vir die hoorder/leser van Markus in sy finale vorm sou verleen.

Die inhoud van Markus 13 vertoon raakpunte met afskeidsgesprekke soos Genesis 47:29-49:33; Deuteronomium 32; Josia 23:1-24:30; 1 Kronieke 28-29; die Testament van die Twaalf Patriarge; Johannes 14-17 en Handelinge 20:17-38. Anders as by ander Bybelse afskeidsgesprekke is hier egter geen verwysing na die spreker se verlede nie. Gewoonlik word gesê dat die leier sy take voltooi het, maar hier is geen verwysing daarna nie. Jesus berei hier in die lig van sy komende lyding, sy dissipels voor vir hulle taak en die teenstand wat nog op hulle wag. Hier is ook definitiewe apokaliptiese trekke aanwesig, hoewel verskillende tipiese elemente van die apokaliptiek ook ontbreek. Jesus se toespraak word hier in die konteks van die Grieks-Romeinse tradisie van 'n tempeldialoog geplaas (Robbins). Soos mens van jouself vir die tempel gee, moet jy jou lewe vir die evangelie gee. Op hierdie wyse beeld Markus 13 die finale fase in die verhouding tussen Jesus as Leermeester, en sy dissipels uit. Op die oog af is die toespraak wel gerig aan die vier dissipels (13:3), maar volgens vers 14 is dit beslis ook vir die lesers bedoel: "wie dit lees, moet dit goed begryp".

Daar is verder 'n besliste verband aan te wys tussen 10:(41-)45 en 13:3-37 – met die gedeelte in 11:12-27, die konfrontasie oor die tempel, wat in die sentrum van Markus 10:46-13:37 staan (Ridderbos; Den Heyer). Dit beteken dat die sogenaamde apokaliptiese rede van Jesus in Markus 13 nie los van sy lydensgeskiedenis, kruis en opstanding gesien kan word nie.

Die basiese funksie van Markus 13 is nie om aan die eerste lesers en aan ons, esoteriese inligting oor die einde van alle dinge deur te gee nie, maar om in 'n tyd van aanvegting, geloof en gehoorsaamheid te bevorder. Die apokaliptiese inligting dien eintlik as motivering vir die oproepe tot waaksaamheid. Dit gaan dus nie oor die apokaliptiese inligting as sodanig nie (Lane). Die hoop op die koms van die Seun van die mens moet die dissipels staande hou. Ons moet telkens eers rekening hou met die impak van die teks op die eerste lesers in die verwarrende tyd van die Joods-Romeinse oorlog in 66-70 nC, voordat ons die lyn na onsself, ons eie tyd en konteks, deurtrek.

Terwyl ons veral op 13:24-27 wil let, is dit belangrik om op die opbou van Markus 13 as geheel te let (ook Van Iersel). Markus 13:1-4 is 'n dialoog tussen Jesus en die vier dissipels, waarna in verse 5-37 'n monoloog van Jesus volg.

A. Oproep tot Waaksaamheid

valse profete 5-6

rampe en oorloë 7-8

vervolgings 9-13 (10-11 in sentrum: evangelie; Heilige Gees)

ontheiliging en vlug 14-20

valse messiasse 21-23

B. Koms van die Seun van die Mens

hemelruim ontwrig 24-25

koms van Seun van die mens 26

versameling van uitverkorenes 27

A’. Oproep tot Waaksaamheid

gelykenis van vyeboom 28-31

dag en uur - net God weet, ook nie Seun nie 32

gelykenis van deurwagter 33-37

Gedeelte B, oor die koms van die Seun van die mens (v 26 die sentrum), vorm eintlik die sentrum van Jesus se toespraak en word omraam deur die oproepe tot waaksaamheid in A (v 5-23) en A' die gelykenisse van waaksaamheid in verse 28-37. Let ook op die merkwaardige korrelasie tussen vers 26 (koms van die Seun van die mens) as sentrum van B en vers 32 (selfs die Seun weet nie!) as sentrum van A'. Die sentrum van A is verse 10-11: die evangelie wat verkondig moet word en die Heilige Gees wat in die dissipels sal praat.

In vers 24-25 word geantwoord op die vraag van 13:4. Vers 24-25 speel in die lug af met die klem op die vernietiging en disintegrasie; vers 27 vind op die aarde plaas, en hier gaan dit om 'n genesende, integrerende handeling. In vers 26 is die Seun van die mens aan ’t kom tussen hemel en aarde. Vir mense in antieke tye is ander assosiasies met hierdie beelde opgeroep. Die son, maan en sterre is met goddelike mag toegerus. Op Romeinse munte verskyn die songod Sol en die maangod Luna. Die planete Jupiter, Mars, Saturnus en Venus dra die name van gode. Nero laat 'n 30 meter hoë bronsbeeld in sy paleis oprig om hom as songod uit te beeld. Wanneer Markus 13 na hierdie kosmiese tekens verwys, is dit 'n aanduiding dat die wêreld van die Grieks-Romeinse gode besig is om uitmekaar te val. Hierdie kosmiese gebeure kan gesien word as slottoneel van die wêrelddrama. Dit volg op die dae van groot nood van verse 19-20, en teken geweldige versteurings in die hemelliggame in die taal van Ou-Testamentiese profesieë. Volgens die antieke voorstelling van die lugruim as 'n koepel bo die aarde, sal alles in die voleinding in duie stort, die voorwaarde vir die ontstaan van die nuwe hemel en nuwe aarde (Groenewald).

Volgens sommige verklaarders is daar 'n spanning tussen verse 24-25 en vers (26-)27. Verse 24-25 roep die agtergrond van die Dag van die Here na vore, wanneer die oordeel van die Here die vyande van Israel sal tref (vgl Jes 13:10 LXX (v24b); 34:4 LXX (v25); Eseg 32:7-8; Am 8:9). Hier is 'n vrye vermenging van Ou-Testamentiese tekste. Daarteenoor staan verse 26 en 27, waarin dit gaan om die redding van die uitverkorenes (Dan 7:13-14). Sommige meen dat die gedagte van oordeel en die toorn van God wat in die Dag van die Here metafore aanwesig is (24-25), ook in die koms van die Seun van die mens om te oordeel, aanwesig is (Pesch). Hierteenoor toon Verheyden aan dat ons in verse 24-25 die tipiese taal van die teofanie het. Die hele skepping en die hemele reageer wanneer God na die wêreld kom. Dieselfde soort metaforiese taal word gebruik wanneer die val van Babel beskryf word, al het alle sterre beslis nie toe uit hemel geval nie. Volgens Hooker is die taal hier meer as metafories, en minder as letterlik. Die doel van verse 24-25 is om die redding aan te kondig (v 27), al kom die Ou-Testamentiese tekste uit kontekste van oordeel. Die teofanie van die Here in die figuur van die Seun van die mens, bou wel voort op die teofanie soos bespreek in die Dag van die Here tradisies, maar die klem bly steeds op die reddende handelinge van die Here. Bowendien pas die gedagte van oordeel nie so goed in Markus 13 nie – die rampe van 13:5-22 kom nie in die konteks van oordeel ter sprake nie, niemand word verder spesifiek daarvoor verantwoordelik gehou nie. In verse 24-25 is ook nie werklik sprake van oordeel op aarde, of van die Dag van die Here nie. Dit staan eintlik in kontras met die oordeelsaankondiging in Jesaja 13, waaraan die teks ontleen word. Eintlik kry ons hier net 'n "fragment" van die Ou-Testamentiese agtergrond, net die kosmiese fenomene, nie die volle uitbeelding van die oordeel nie. Verder word die woord "skud" (grieks saleuo), 'n standaard term in die Ou Testament, in die konteks van die teofanie, gebruik. Dit word gewoonlik gesê van die aarde of sy fondamente, die berge, die heuwels. In 13:25 geld die geskud/ontwrig word van die kragte van die hemelruim.

Konteks

Hierbo is reeds aandag gegee aan die feit dat 13:24-27 waarskynlik teen die agtergrond van die teofanie tradisie van die Ou Testament verstaan moet word. Dit is ter sake wanneer in die Adventstyd by hierdie gedeelte stilgestaan word. Dit is belangrik dat die kerkjaar in die driejaar-siklus van die leesrooster met 'n evangelieteks begin, maar nie noodwendig uit die begin van die evangelie nie, die bekende geboorteverhale nie, maar wel uit die toekomstige en eskatologiese stof in die evangelies. Daarom dat Markus 14:24-37 vir hierdie Sondag aangegee word. Gewoonlik word as adventsteks aan die waaksaamheidsgelykenisse aan die einde van die sogenaamde sinoptiese apokalips aandag gegee (Fuller). Tog kom hierdie gedeelte dikwels veral in die laaste Sondag van die kerkjaar aan die orde, in die oorgang van die tyd na Pinkster na die tema van die laaste dinge, kort vóór Advent. In hierdie konteks val die aksent dikwels op die koms van die Seun van die mens in 14:24-32. Aan die einde van die kerkjaar beleef mens soms gevoelens van beklemming, 'n bewussyn van die einde wat nader, ook ons einde, en die gedeelte spreek dit dan aan (Riemer).

Hoewel dit vreemd kan voorkom om op die eerste Sondag van Advent aan die laaste gedeelte van Markus 13 te fokus, is dit juis gepas in die lig van die sentrale posisie wat die koms van die Seun van die mens in hierdie hoofstuk inneem (opbou van die hoofstuk hierbo). In ons voorbereiding om die eerste koms van Jesus te vier, is dit beslis ter sake om as 't ware by sy eerste koms verby te kyk na sy tweede koms. Dit kan wel 'n probleem vir die prediker wees. In die kerk is ons so geneig om die nabyheid van die parousie te ignoreer met 'n beroep op 13:32, dat ons nie weet wanneer dit sal wees nie. Of ons suggereer dat Markus 13 gedateerde Joodse apokaliptiese verwagtings behels wat nie meer vir ons as moderne mense relevant is nie. Wie werklik Advent wil vier, kan nie anders nie as om ook weer soos die dissipels in 13:4 te vra na die tyd en die tekens van die tweede koms. Ons speel immers nie Advent nie, ons weet dat Jesus reeds gekom het, en juis daarom vier ons die eerste koms in die konteks van die verwagting van die tweede koms.

Die konteks waarbinne Markus ontstaan het, moet steeds in gedagte gehou word. Daar was die verwagting dat God, wat in die verlede telkens in die geskiedenis van Israel ingegryp het, op die punt gestaan het om dit weer te doen. Die simbool hiervoor was die koms van die koninkryk van God. Terselfdertyd was daar ook valse messiasse met hulle volgelinge wat aanspraak maak om deel van God se plan te wees, meesal met 'n plan tot gewelddadige rewolusie teen die Romeinse Ryk. In hierdie konteks kom die boodskap van Markus met die verhaal oor Jesus waarin die aanvaarde grense van sy tyd op politieke, ekonomiese, kultiese, etniese en wetlike terrein telkens oorskry word.

Aan die ander kant is mense ook geneig om wanneer hulle deur die harde realiteit van die gebroke werklikheid oorweldig word, meer vatbaar vir 'n apokaliptiese ingesteldheid te wees. Trouens, as dit regtig sleg gaan, is mens geneig om na apokaliptiese denke te gryp – dit gaan so sleg dat al wat oorbly is om die direkte ingrype van God te verwag (Riemer). Juis die twyfel aan die moontlikheid dat dinge nog veel langer so kan aangaan, lei dikwels tot 'n apokaliptiese verwagting by mense.

In Markus 13 geld dit ook van die dissipels in die lig van wat alles voor Markus 13 gebeur het. Juis in onseker tye is die vertroosting en bemoediging van die versekering dat die woorde van die Here nooit sal verbygaan nie (13:31) dringend nodig. 'n Aantal jare gelede sou die wedloop in kernwapens en die dreigende gevare daaraan verbonde miskien 13:24 en volgende verse meer aanvaarbaar vir sommige gemaak het (Rogers). Na 11 September 2001 leef ons in 'n wêreld waarin enigiets ondenkbaar blykbaar wel denkbaar en doenbaar geword het. Ons leef in 'n wêreld waarin 'n mens weens omstandighede in jou eie persoonlike lewe, op die mikrovlak die gevoel kan kry dat alles as 't ware om jou begin disintegreer. Advent mag nooit 'n romantiese ontvlugting van hierdie werklikheid, 'n goedkoop troos en bemoediging word nie. Daarom is dit goed dat die eerste Sondag van Advent ons vierkantig in hierdie werklikheid plaas, maar tegelyk die sentrale verwagting van die koms van die Seun van die mens aan die orde stel. Die afwagting van die tweede koms moet ons die moed gee om te volhard en aan te hou, te midde van die gebrokenheid van die lewe.

Hierdie gedeelte staan in Markus net voor die lydensgeskiedenis van Jesus. God kom in eie persoon as mens om ons gebroke mensheid op Hom te neem en dit te dra. Hy gaan met ons die dood in en deur die dood heen. In Advent moet daaraan vasgehou word dat God waarlik mens word en ons swakke en gebroke menslike bestaan met ons kom deel. Maar hierdie nederige Seun van die mens wat gekom het om te dien en nie om gedien te word nie (Mark 10:45), die Een wat in totale selfoorgawe Homself met ons kom vereenselwig het en ons voete kom was het, is tegelyk ook die Een wat as die Seun van die mens in heerlikheid en met gesag weer sal kom. Markus 13:26 verklaar dat die mense sal sien Jesus verskyn as die Regter van die wêreld, die Koning van die konings. Hy wat nou nog die vernederde Seun is en weldra na die kruis gaan. Maar eenmaal sal hulle sien wie Hy werklik is. Hoewel die werkwoord "sien" dikwels in die kontekste van oordeel gebruik word, val die klem hier nie op oordeel nie, maar daarop dat Hy sy engele sal uitstuur om uitverkorenes saam te bring. Dit is presies waaroor dit in Advent gaan – dat Hy sy volk sal versamel en van hulle sondes sal verlos. Die uitstuur van die engele trek nou Deuteronomium 30:4 en Sagaria 2:6 saam. Dit is 'n tradisionele tema van die Joodse eskatologiese hoop dat Israel wat verstrooid was, nou byeengeroep word. Solank die tempel daar was, was dit die sigbare punt waaromheen die verstrooides sou saamtrek. Nou is die tempel vernietig. Nou versamel die nuwe volk van God rondom die Seun van die mens.

Dit val op dat ná die verdrukking wat in die voorafgaande gedeelte veral in 13:7-20 geteken is, God (in die Seun van die mens) nou hier in sy glans verskyn. Wanneer God verskyn gaan sy glans voor Hom uit en verdwyn alle aardse glans. Dan sien mense (13:27) wat hulle nie anders kan sien nie (Riemer). En wanneer mense in angs terugdeins om voor Hom te verskyn, is dit Hy wat sy verkorenes sal versamel uit alle uithoeke van die wêreld.

Die sien van die Seun van die mens lei die res van die hoofstuk in. Uit 13:28-29 is dit duidelik dat mens iets aan die vyeboom kan sien, dat mens dan kan weet die tyd is naby, al weet ons nie die uur nie. Dit klop met Markus 1:15 waar ons lees dat die tyd vervul is, dat God se heerskappy tot by ons gekom het. Let ook daarop dat die teken hier nie die verdroogde vyeboom is wat die beeld is van die oordeel oor Israel (Mark 11:12-14; 20-25) nie. Dit wat hulle sal sien is die groen vyeboom as vreugdevolle teken van die einde wat naby is. Maar niemand weet presies wanneer dit sal wees nie. Daarom hoor ons telkens die oproep om letterlik uit te kyk (vers 23 en weer vers 33. In die laaste geval word dit verder gekombineer met die oproep om te waak en wakker te wees. Hierdie oproep wat nou na die vier dissipels kom, word later in Getsemane vir drie van hulle herhaal!

Vir mense wat die eerste koms van die Seun herdenk, maar ook wag op die koms van die Seun van die mens, is die gelykenis van die man wat ver weggaan, besonder relevant. In plaas daarvan dat mense met die verwagting van die Advent van ons Here hulle aan die lewe onttrek, leef hulle soos mense aan wie die Here "elkeen sy werk" gegee het (13:34).

Preekvoorstel

'n Eerste lyn vir die prediking, is die volgende: Advent bring onherroeplik 'n dubbele verwagting – ons verwag die Kind in die krip, maar ook die (tweede) koms van die Seun van God in heerlikheid. Die eerste koms wys vooruit na die tweede, en die tweede is die vervulling van die eerste. Ons vier nie Advent asof ons onseker is oor die koms van Kersfees nie. Maar die sekerheid van die koms en die uitsien na die tweede koms, verminder niks aan die ware vreugde wanneer Kersfees aanbreek nie. Ons maak nie tydens Advent asof ons nie weet hoe alles afloop nie. Ons weet dat Advent die begin is van die verhaal van Jesus. Juis daarom kan ons – oor die kruis en die graf heen – ook na sy tweede koms met gespanne afwagting uitsien (Bartlett). Herinneringe is die voedingsbodem vir hoop. Daarom kan ons deur ons viering van die eerste koms van Jesus gesterk word in ons verwagting van sy wederkoms. Waar Matteus en Lukas die bekende geboorteverhale het, ontbreek so iets in Markus. Wat in die tweede Adventsondag in die fokus staan, is Johannes die Doper se aankondiging dat ná hom dié Een kom wat sy meerdere is, wat sterker as hy is (Mark 1:8). Hier is ons eintlik ver weg van enige sentimentele toneeltjies van Kerskaartjies. Jesus begin in Markus 1:14 sy optrede met die aankondiging van die aanbreek van die koningsheerskappy van God.

Op die eerste Adventsondag word die gedeelte uit Markus 13 as 't ware as opskrif oor die hele verhaal van Jesus geskryf, om daarmee ons verwagting in die regte perspektief te plaas. Wanneer ons die eerste koms vier, doen ons dit as mense wat juis weet dat Hy as Seun van die mens op die wolke weer sal kom –in mag en heerlikheid. Maar dit is Hy wat uit die hemel gekom het, wat sy hemelse heerlikheid moes aflê (Fil 2), wie se koms ons vier. Mens hoor dikwels allerlei voorspellings oor die einde van die tye. Maar so dikwels ontbreek in hierdie voorspellings die terughoudendheid ten opsigte van detail, 'n terughoudendheid wat wel in Markus 13:32-33 aanwesig is. Bowendien word van gelykenisse gebruik gemaak, wat opnuut onderstreep dat hier in beelde gepraat word. Interessant genoeg maak Jesus in Markus 4, sy eerste "toespraak" in Markus, juis van gelykenisse gebruik om oor die koninkryk van God te praat. Wat hierdie gelykenisse en beeldende taal aan ons bevestig, is dat God in beheer van die geskiedenis is (Bartlett). Advent herinner ons daaraan dat God se geskiedenis onkeerbaar voortbeweeg na daardie punt wanneer die Seun van die mens inderdaad weer sal kom. In die prediking moet hierdie versekering opnuut aan die gemeente bevestig word. Terwyl sommige mense deur die loop van die jaar tydig en ontydig kan bereken presies hoeveel dae dit nog voor Kersfees is, wil Markus 13 ons verseker – sonder eksakte berekeninge – dat die Seun van die mens weer sal kom. Die eerste lyn beklemtoon dat ons Adventsverwagting nie werklikheidsvreemd en sentimenteel is nie, nie net terugkyk nie, maar ook vooruit kyk met hoop en in volharding.

Daar is 'n tweede lyn wat gevolg behoort te word. Hier gaan dit om die etiese kant verbonde aan die afwagting van die Jesus se tweede koms. Die gevaar is wesenlik dat mense in die Adventstyd hulleself tot 'n mate aan die wêreld wil onttrek om in die intimiteit van die geslote gesinsverband voor te berei om die koms van Jesus in herinnering te roep en te vier. Daarom is dit sinvol om in Advent ook die res van Markus 13 in herinnering te roep. Wanneer ons tussen die eerste en tweede koms van die Seun van die mens verkeer, moet ons veral ook let op die gelykenis van die man wat ver weggegaan het en vir sy slawe elkeen sy werk gegee het. Ons het 'n groot verantwoordelikheid om waaksaam en op ons hoede te bly, om die werk wat Hy aan ons opgedra het uit te voer, sodat wanneer Hy onverwags kom, Hy ons nie aan die slaap sal kry nie! Dit moet in verband gebring word met die radikale boodskap van Markus, waarvolgens Jesus kom om Hom te wend tot mense wat in sy tyd tot aan die rand van die volk van God en die samelewing geskuif is, en werklik gemarginaliseer was. Dan is die versekering van die stelligheid van die koms van die Seun van die mens en die oproep tot waaksaamheid vir die lesers in die krisistye van die Joodse oorlog en net daarna, net so ter sake vir ons teen die einde van 2002. Ons moet ook hierdie boodskap van die eerste en tweede koms van die Seun van die mens, wat grense deurbreek en mense bevry tot ware diens aan God en mekaar, verder verkondig en as dissipels uitleef (Blount). En wanneer mense in die kerk begin leef asof Hy reeds hier is, moet ons steeds op die uitkyk bly, waaksaam wees, en steeds wag op finale koms van die Here (Fuller).

Bibliografie

Kommentare

Den Heyer, C J 1985. Marcus: Een praktische bijbelverklaring. Vol. 2, Tekst en toelichting. Kampen: Kok; Groenewald, E P 1948. Die evangelie volgens Markus. Pretoria: Van Schaik; Groenewald, E P 1973. Die Evangelie van Markus. Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers; Hooker, M D 1991. A commentary on the Gospel according to St Mark. London: Black. (BNTC.); Lane, W L 1974. The Gospel according to Mark: The English text with introduction, exposition and notes. Grand Rapids, MI: Eerdmans. (The new international commentary on the New Testament.); Pesch, R 1977. Das Markusevangelium II. Teil: Kommentar zu Kap. 8, 27-16, 20. Vol. 2. Freiburg: Herder. (HtKNT 2.); Van Iersel, B M F 1998. Mark: A reader-response commentary. Sheffield: Sheffield Academic Press. (JSNT SS 164.)

Homileties

Bartlett, D L 1999. First Sunday in Advent, in Bartlett, D L et al. (eds), New proclamation: Year B, 1999-2000: Advent through Holy Week, 3-10. Minneapolis, MN: Fortress; Fuller, R H 1984. Preaching the lectionary: The word of God for the church today. Rev ed. Collegeville, MN: Liturgical Press; Ridderbos, J N 1984. Marcus 13:33-37: Eerste Advent, in Van der Laan, J H, Klijn, A F J& Noort, E (eds), Woord in beweging: Exegetisch-homiletische commentaren: 1. Advent tot Epifanie I, 13-21. Kampen: Kok; Riemer, M 1997. 33. Sonntag im Jahreskreis (B): Markus 13,24-32, in Ruhbach, G, Grün, A& Wilckens, U (eds), Meditative Zugange zu Gottesdienst und Predigt. VII,2: Marginaltexte (LPO) / Evangelientexte (OLM): Rogate bis Ewigkeitssontag, 340-44. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht; Rogers, J B 1985. Pentecost 3. Philadelphia, PA: Fortress. (Proclamation 3: Series B.)

Ander

Breytenbach, C 1992. Die Markusevangelie, in Swanepoel, F A (red), Die Bybel in 'n nuwe tyd, 44-63. Pretoria: C B Powell-Bybelsentrum, UNISA; Blount, B K 1998. Go preach! Mark's kingdom message and the Black church today. Maryknoll: Orbis. (The Bible & liberation series.); Collins, A Y 1992. The beginning of the Gospel: Probings of Mark in context. Minneapolis, MN: Fortress; Du Toit, A B (red) 1980. Die Sinoptiese Evangelies en Handelinge: Inleiding en Teologie, (Handleiding by die Nuwe Testament IV). Pretoria: N G Kerkboekhandel; Den Heyer, C J 1978. Exegetische methoden in discussie: Een analyse van Markus 10,46 - 13,37. Kampen: Kok; Robbins, V K (1984) 1992. Jesus the teacher: A socio-rhetorical interpretation of Mark. Paperback with new introduction. Philadelphia, PA: Fortress; Verheyden, J 1997. Describing the Parousia: The cosmic phenomena in Mk 13,24-25, in Tuckett, C M (ed), The scriptures in the Gospels, 525-50. Leuven: Leuven University Press.

 

PREEKSTUDIE – 2 SAMUEL 9:1-13

INTERNASIONALE DAG VIR GESTREMDES

Skriflesing

1 Samuel 20:11-17; 2 Samuel 4:4; 5:6-8; 9:1-13 (Tydens die Skriflesing word die storie van Dawid, Jonatan en Mefiboset verduidelik); Matteus 15:21-28

Woordverkondiging

Die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies het op 14 Oktober 1992 in hulle Resolusie 47/3 besluit om elke jaar op 3 Desember, Internasionale Dag vir Gestremdes te vier. Die dag was aanvanklik aangekondig om die aanvaarding van die Wêreld Program van Aksie betreffende gestremde persone deur die Algemene Vergadering te vier. Later het die dag (besluit van Alg Verg van die VN) die Internasionale dag vir gestremde persone geword. Volgens my Internet-bron, bied die dag geleentheid aan alle instansies om op die "freedoms and potentials" van gestremde persone te konsentreer.

Dit is die voorreg en plesier van die NG-kerk op Worcester om op die beskeie manier by dié dag in te skakel. Vandaar ook ons Skriflesing oor ‘n gestremde in die Ou Testament – Mefiboset. Die VN vra dat ons sal konsentreer op die vryhede, die moontlikhede, die vaardighede en bydraes van gestremde persone. Maar as kerk, kyk ons spesifiek na die posisie van die gestremde voor God. Wat is ons posisie voor God? Anders gestel: Hoe kyk God na ons as gestremdes?

In Mefiboset en Dawid se geskiedenis is daar dalk iets vir ons opgesluit. Mefiboset, die kreupel seun van ‘n boesemvriend. So word dit vir ons vertel.

Ek noem sy naam moontlik te vinnig en gee ek te gou gesig aan die gestremde.

Ek sê so want ons verteller gee nie dadelik "gesig" aan die gestremde nie. Het u mooi geluister toe ons gelees het? As Dawid vir Siba vra of daar nog iemand van Saul se huis oor is, dan antwoord Siba sonder om ‘n naam aan die gestremde te gee. "Ja," sê Siba, "daar is iemand oor, ‘n gestremde, ‘n kreupele." Maar hy noem nie sy naam nie.

Op die manier word die gestremde voorgestel as ‘n non-mens. Nog meer, hy kom van Lo-Dabar. Letterlik – Geen Saak/Woord/Plek.

As Siba gevra word of daar iemand oor is, is sy antwoord: "Ja, daar is." Maar, koning Dawid, dit is nie nodig om aan hom aandag te gee nie. Hy is gestremd. Dit is nie eens nodig dat u sy naam hoef te weet nie, en boonop is hy van nêrens nie.

Siba doen dit dalk om vir Mefiboset te beskerm. Siba is moontlik bewus van Dawid se teësin aan blindes en kreupeles en weet dat Dawid hulle blywend gehaat het (2 Sam 5:6-8). Maar Siba maak hom moontlik ook skuldig aan die suksesmoraal waaraan ons ook verslaaf is. Suksesmoraal – want die samelewing dikteer dit aan ons.

Sukses baar sukses sê ons. Om suksesvol te wees, moet jy suksesvol lyk. Die samelewing waarin ons ons bevind, soek nie gebrokenes nie, maar kragdadiges. Die samelewing soek nie swakkes nie, maar sterkes. Nie magteloses nie, maar magtiges. Kyk maar na die televisieadvertensies. Al die mense daarin lyk so blakend gesond en soveel mooier as die gemiddelde. As dit nie die familie rondom die tafel is wat so breed glimlag omdat die ontbytkos so gesond is nie, dan is dit die aanvallige jong dame wat die aantreklike jong man om die nek val oor sy reukweerder wat so lekker ruik.

So, sê ons moet die lewe lyk. Nie die grou werklikheid waarin ons ons bevind nie – stukkend en gebroke – maar ‘n paradys wil ons hê. Speeltuin, die beste, volmaakte, sonder ‘n sweempie van onperfektheid. Dit is dalk Siba se beskouing. Koning, dink hy, sê hy implisiet, Koning u haat blindes en kreupeles, moet u nie nou moeg maak met hierdie naamlose vent van ‘n ewe naamlose plek af nie.

En Dawid se reaksie? Hoe reageer die koning? – die suksesvolle koning.

Tog jammer dat ons vertaling die oorspronklike woorde so effens weg vertaal. Vers 1 en 7 se "onder my sorg neem", is ‘n vertaling van "ek wil guns aan hom bewys". As vers 3 sê: "ek wil ‘n besondere guns aan hom bewys", staan daar eintlik: "ek wil die trou/guns van die Here aan hom bewys." Vers 3 is baie belangrik. Want hierin gaan dit nie oor so ‘n algemene weldaad wat Dawid wil bewys nie. Hierin gaan dit oor die guns van God (Hesed elohim). "Hesed" is ‘n woord wat feitlik op elke plek voorkom waar daar oor die troue liefde van God gepraat word.

"Hesed wi-emet" – liefde en trou, trou en liefde. Twee woorde wat God se standvastigheid, sy uit-een-stuk-wees, sy onverdeelde trou, sy goedgesindheid teenoor die mens, sy onbeskryflike liefde teenoor ons, beskryf. Dawid sê: "ek wil hê dat Mefiboset iets van God se goedheid moet smaak."

Nou dat ék iets van God se goedheid gesmaak het – was die Here dan nie by my soos my vriend Jonatan my reeds in 1Samuel 20 belowe het, my geseën het nie? Hier sit ek nou in Jerusalem, hier is ek aan die toppunt van my loopbaan. God se liefde en trou aan my was groot. Laat ek daarom liefde en trou bewys. Laat ek vir my naaste so lief wees soos vir God.

Wat is Dawid se aansporing om die trou/guns van die Here aan ander te bewys? Dit wat Jonatan hom toegewens/gebid het in 1 Samuel 20.

Hierop sê Dawid: "Ja, ek haat dalk die blindes en die kreupeles, dit is moontlik hulle wat my teengestaan met my inname van Jerusalem. Dalk het ek ‘n persoonlike afkeer aan hulle, maar…, maar die trou van die Here is groter as my persoonlike voorkeure en groter as my persoonlike afkere". Dan sê Dawid: "Die trou en guns van die Here aan my is groter as sy persoonlike afkeer aan my"

En broers en susters, die heilige God het groot afkeer aan ons sondigheid, maar Dawid weet hierdie heilige God het aan ons trou gesweer. En God se guns aan ons, vra dat ons sy guns aan ander sal bewys.

Die trou van die Here is groter as wat ek is. Die trou van die Here was groot oor my. Trouens, die trou van die Here aan my vra dat ek die trou sal deurgee aan ander, "Want Dawid het Jonatan so liefgehad soos homself" (1 Sam 20).

Ten spyte van die feit dat ‘n blinde en ‘n kreupele nie in die tempel of naby die koning mag kom nie, herstel Dawid vir Mefiboset. In die vertelling is dit Dawid wat vir die eerste keer vir Mefiboset op sy naam noem. Die vraagteken agter sy naam in ons teks, kan net sowel ‘n uitroepteken wees. Daardeur sê hy: "Ek erken jy is ‘n mens, ek erken jou menswaardigheid, jou regte, jou potensiaal, en daardeur herstel ek jou weer tot mens in my oë. Trouens, nog meer as dit, ek herstel jou ook ekonomies. Ek maak dit vir jou moontlik om te leef. En dit wat jy nie self kan doen nie, help ek jou mee". Herstel grond en slawe, ens.

Maar broers en susters, dalk moet ons nie te veel van Dawid maak nie. Want ten spyte van al sy weldade aan Mefiboset bly Dawid maar mens. En soos ons wat mense is, is daar maar altyd bymotiewe.

Ek sê "bymotiewe", want u sien, Mefiboset het ‘n seuntjie. Eintlik moet ek sê Saul het ‘n kleinkind – Miga. En baie Bybeluitleggers wys daarop dat Dawid bymotiewe het. Want deur vir Mefiboset by sy tafel te laat aansit – deur vir Mefiboset in sy hof op te neem – kan Dawid ‘n ogie oor Mefiboset en Miga hou. Daardeur kan Dawid sorg dat Saul se afstammelinge nie weer op ‘n manier die koningskap oorneem nie. Lees maar 2 Samuel 16 en 19. Daar word weer ‘n relletjie tussen Siba, Mefiboset en Dawid beskryf.

Maar dan is dit tog wonderlik dat die Here ook tog Dawid se goeie dade teenoor Mefiboset gebruik – hoeveel sy goeie dade ook met eie gewin deurspek is.

Ek sê die Here gebruik Dawid se goeie dade teenoor Mefiboset selfs al is hulle met eie gewin deurspek. Want op dié manier word die Dawidshuis tog in stand gehou. Op dié manier word daar jare-der-jare later ‘n Seun van Dawid gebore. Volgens God se guns en trou aan Dawid, word ‘n Koning vir die Jode gebore, ‘n Redder wat die sonde van die wêreld wegneem.

En as Dawid se motiewe vir sy goedheid betwyfelbaar is, is hierdie Seun van Dawid se motiewe bo verdenking.

Want ons lees in die Nuwe Testament dat Hy wat in die gestalte van God was, Homself ontledig het deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan ons mense gelyk te word. Hy het Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja die dood aan ‘n kruis.

U sien, as ons bedenkinge het oor Dawid se goedheidsmotiewe, hoef ons geen bedenkinge te hê oor hierdie Seun van Dawid se goedheidsmotiewe nie. Hy klou nie ten alle koste aan sy koningskap vas nie. Hy deel nie paternalisties, meerderwaardig geskenke aan gestremdes uit nie. Hy word self ‘n gestremde. Paulus skryf op ‘n plek dat Hy wat sonder sonde was, om ons onthalwe tot sondaar gemaak word.

Ek sê: "Hy word ‘n gestremde." U sien, Mefiboset was gestremd omdat hy geval het. Hy is laat val. Ons het ook geval. Al is ons liggame soos die TV-advertensies sê ons moet lyk, is ons nogtans gestremd.

Trouens, ek hoop daar is net gestremdes in die kerk vanoggend. Net siekes, lammes, blindes, kreupeles, dowes en blindes – al blyk dit nie so ooglopend by ons almal nie – hoop ek daar is net hulpeloses in die kerk, net siekes – want Hy het gekom vir dié wat genesing nodig het. Hy het nie gekom vir die wat nie ‘n geneesheer nodig het. Hy is die hulp vir die hulpeloses. Troos vir die troosteloses. Troos vir die wat troos soek. Hoop ek daar is net goddelose gestremdes in die kerk – want Hy spreek die goddeloses vry (nie die vromes en die heiliges en die skynheiliges nie)

U sien, God is ‘n God vir die gebrokenes. Dalk is daarmee nie genoeg gesê nie. Dalk moet ons dit nog sterker stel. Hy is ‘n God vir ons, vir ons gebrokenes. God is self ‘n gebroke God. Die gebrokenheid van mense, van die wêreld breek Hom. Op Golgota het die lading van ons ellende die lewe uit Hom gepers. Hy is ‘n gebrokene vir gebrokenes.

Hoekom? Hoekom doen Hy dit?

Net maar een rede, omdat Hy sy trou aan ons beloof het. Omdat God Hom Homself voorgeneem het om ons God te wees. Omdat Hy in sy troue guns en goedheid Hom voorgeneem het om dié wat glo, tot kinders te maak. Nie soos ‘n Dawid dalk met verborge motiewe nie, maar sy onverdunde, onverdiende Goddelike trou. Nie net aan ons nie, maar ook aan ons kinders tot in die duisendste geslag.

Dawid het Mefiboset by die naam genoem. God roep ons ook by die naam. Claude, Martine, Johan, Philip, Gerda, Antoinette – ek sien jou gebrokenheid raak. Ek sien jou verlorenheid raak. Maar hier by die doopvont roep ek jou by die naam. Hier beloof ek my troue guns, genade, liefde en goedheid aan jou. Ek roep jou by die naam, trouens ek gee my naam aan jou. Van nou af is jy Christen.

Wat sal ons reaksie wees? Hoe sal ons reageer op God se goedheid, op sy troue guns?

Wat was Mefiboset se reaksie? "Koning, wat is ek tog dat u aandag gee aan ‘n dooie hond soos ek? Koning, ek het niks om te bring nie."

Amper soos ‘n Kanaänitiese vrou wat vir Jesus sê. "U oordeel oor my is waar, U is reg, ek is niks meer as ‘n verlorene, ‘n onreine, ‘n gevalle deur die sonde aangetaste nie – ek is niks meer as ‘n hond nie."

U oordeel oor my is korrek. Maar as ek niks is, net wanneer ek niks is, kan ek my op u genade beroep … dan beroep ek my net op u genade, u guns u trou."

En sê Jesus: "Dit is ‘n groot geloof. ‘n Geloof wat nie op homself gerig is nie, ‘n geloof wat hom net maar op die trou van God beroep, dit is ‘n groot geloof."

Broers en susters, wat is ons posisie voor God? As gestremdes? Almal van ons?

Dooie honde. Maar op grond van sy hesed/trou/liefde word ons herstel, by die naam geroep, Christene gemaak.

Sal ons nie maar God se goedheid/guns/troue liefde aan mekaar bewys nie?

Amen