9 November 2003

Een-en-twintigste Sondag in Koninkrykstyd

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Markus 12:38-44

Ander tekste: Rut 3:1-4:17; Psalm 127 en Hebreërs 9:24-28

Inleiding

Verlede Sondag se erediens het ons uitgedaag en opgeroep tot die navolging van Jesus. Hierdie diens gee 'n praktiese demonstrasie van 'n lewe van 'n dissipel en nooi ons (daag ons uit!) om dit na te volg.

Moontlike temas vir die erediens: Dissipelskap – 'n berekende loslating van aardse sekerhede en 'n berekende afhanklikstelling van God / Of: Om met niks behalwe God te gaan slaap nie.

Die liturgiese tekste kan soos volg aangewend word:

Psalm 127 is 'n belydenis dat God dit geniet om hulle wat Hy liefhet te seën met rus. Menslike inspanning kan geen rus bring nie – selfs nie eers as jy vroeg op is en laat gaan slaap nie. God gee vir sy geliefdes alles wat hul nodig het – in hul slaap. God sorg vir hulle wat Hy liefhet! Uiteindelik is dit nie ons harde werk en toewyding wat lewensvervulling en rus bring nie – maar wel God! Dit is hierdie waarheid wat die arm weduwee in ons preekteks baie goed verstaan het en uitgeleef het. Daarom sou hierdie psalm op 'n verskeidenheid van plekke in die liturgie gebruik kon word: by die aanvang om die erediens met hierdie waarheid te laat begin; saam met die preekteks om die optrede van die weduwee te begrond en ondersteun; by die uitsending as die belydenis waarmee die gemeente die week ingaan; of selfs 'n kombinasie van genoemde drie moontlikhede.

Rut 3:1-4:17 vertel van die absolute oorgawe waarmee Rut haar oorgee aan die raad van haar skoonma en haar op die genade van Boas werp. Wetende dat sy as vreemdeling en vrou absoluut afhanklik is van die genade van ander, werp sy haar lewe en toekoms berekend in Boas se hande. Sy weet – sy moet ontvang. Juis in hierdie houding en optrede vertoon sy die lewensingesteldheid van 'n dissipel – afhanklikheid. Die teks sou dus ook gelees kon word saam met die fokusteks. Ongelukkig is dit 'n bietjie lank. Dit kan verkort word deur dit vertellend te lees: vertel die storie en lees hier en daar sleuteltekste uit die Skrif self.

Hebreërs 9:24-28 besing die eenmalige en voldoende offer van Jesus Christus vir ons sonde. Nou kan diegene wat Hom verwag uit die waarheid leef dat hul saak met God reg is. Hulle hoef nie sy wederkoms te vrees nie, want as Hy weer kom, is dit nie om hul te oordeel nie, maar te verlos. Hierdie waarheid help die dissipel van Jesus om te weet dat sy/haar toekoms in Hom verseker is en om onbevange en in vryheid om te gaan met die aardse dinge. Hulle lewens hang nie daarvan af nie, maar van Hom wat sy lewe vir hul opgeoffer het. Hulle skat (Jesus Christus) is verlossend op pad na hulle toe! Hierdie teks kan sinvol gebruik word by die nagmaalbediening of -herinnering om die gemeente te help om op Jesus te fokus en te besef wat hul aan Hom het.

Die volgende voorstelle is aanvullend by die basisliturgie vir koninkrykstyd en volg dieselfde struktuur.

GOD VERgader ONS VOOR HOM

Aanvangswoord/votum

(Psalm 127:1-verwerk)

Voorganger: As die Here die huis nie bou nie,

swoeg die wat daaraan bou, tevergeefs.

Gemeente: Ons is afhanklik van U, Here!

Voorganger: As die Here die stad nie beskerm nie,

waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.

Gemeente: Ons is afhanklik van U, Here!

Voorganger: Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap

om met moeite 'n bestaan te maak.

Gemeente: Ons is afhanklik van U, Here!

Voorganger: Vir dié wat Hy liefhet,

gee die Here dit in hulle slaap.

Gemeente: Dankie dat U sorg, Here!

Sang

NSG 57, Lied 519 of Psalm 127 kan hier gesing word. Kondig dit voor die tyd aan, sodat dit die psalm spontaan kan volg.

[Vergelyk die inleidende opmerkings vir ander gebruike van Ps 127.]

Seëngroet

Soos die vorige Sondag.

Sang

Lied 199 of NSG 26

Doop of doopherinnering

Sien die opmerkings hieroor aan die einde van die basisliturgie.

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Die gebed kan voorgedra of gesing word. Die gesang van die vorige Sondag kan hier herhaal word.

Skriflesing

Rut 3:1-4:17 kan hier saam met die fokusteks gelees (vertel) word.

Respons

Sien die vorige Sondag se liturgie.

Kindertyd/Preek

Indien die preek verhalend van aard is kan dit so gedoen word dat die kinders sinvol betrek word.

Respons

Die hoorders moet kans kry om op die prediking te antwoord. Hier kan geleentheid geskep word vir hulle om hul skuld voor die Here te bely in stil gebed, 'n lied of 'n litaniegebed. Hulle kan ook hier tyd kry om hul voor te berei vir die gee van hul offergawes. Laat hulle nadink oor die gawe wat hul saamgebring het. Wat sê die wyse waarop jy op dié offer besluit het en hoe jy daagliks lewe oor jou verhouding teenoor God? Wat dink jy dink Jesus van jou gawe? Wat sal in jou lewe moet verander? Hulle kan in stilte oor hierdie vrae nadink, terwyl die liturg die vrae een-een stel met genoeg stilte tussen in.

DIENS VAN DIE TAFEL

Sien die opmerkings en voorstelle hieroor by die basisliturgie. Vir die gebruik van Heb 9:24-28 kan u weer die inleiding tot hierdie liturgiese voorstel lees.

Dit is 'n baie ou gebruik in die kerk om die offers na die nagmaalstafel te bring. Die nagmaal herinner ons aan Jesus se offer. Die offers kan hier by die aanvang van die nagmaal as deel van die toetrede gebring word of aan die einde as reaksie op Jesus se offer. Gemeentes wat 'n skatkis het kan dit op of by die tafel neersit, sodat lidmate na vore kan kom om hul gawe in te gooi.

UITSENDING

Wet

Die voorstel oor die gebruik van Artikel 4 van die Belydenis van Belhar by die vorige liturgiese voorstel kan hier herhaal word. Dit help ons om te onthou wat die navolging van Jesus prakties beteken en gee ons kans om ons daartoe te verbind.

Sang

NSG 260, 271 of Lied 308

Seën

Dieselfde seën as die vorige Sondag kan hier gebruik word.

Vredesgroet

Indien dit nie by die nagmaal of by die seëngroet gedoen is nie, kan die lidmate mekaar hier die vrede van die Here toewens.

 

PREEKSTUDIE – MARKUS 12:38-44

Inleiding

Werk eers deur die preekstudie van 2 November voordat u hier voortgaan.

Teks en konteks

Muller behandel in die Woord teen die Lig-reeks (I/8) Markus 12:41-44 deeglik. U word ook weer verwys na Smit se inleidende artikel tot prediking uit Markus in dieselfde publikasie.

Ons het reeds aangetoon dat dissipelskap sentraal staan in die evangelie van Markus. Dit is veral waar van hierdie Sondag se teks. Die tekskeuse wat verse 38 tot 40 insluit, beklemtoon die kontras tussen die vroomheid van die skrifgeleerdes en van die arm weduwee. Die onmiddellike konteks van die teks is die afsluiting van Jesus se strydgesprek met die skrifgeleerdes in die tempel. Saam met die vorige Sondag se teks (v 28-34), lyk dit asof Jesus hier met die skrifgeleerdes praat. Gesien in die konteks van die hele evangelie van Markus, is dit egter ook deel van Jesus se voortdurende gesprek met sy dissipels. Hy definieer hier die aard van 'n lewe van navolging vir elkeen wat kies om sy dissipel te wees – natuurlik ook vir skrifgeleerdes.

Die vroomheid van die skrifgeleerdes en Jesus se dissipels skiet vér tekort. Die vroomheid van die skrifgeleerde in vers 28-34, wat die skrifgeleerdes op hul beste verteenwoordig, bring hom steeds net tot naby die koninkryk van God (v 34a). En Markus doen moeite om deurgaans in sy evangelie aan te toon hoe die dissipels sukkel om ware dissipels te wees. Hulle misluk telkens. En Petrus, as verteenwoordiger van die dissipelkring, word veral deur Markus in hierdie lig geteken (vgl 8:27-33). Dit is opvallend dat die dissipels veral gesukkel het met die feit van Jesus se lyding. Hulle kon dit nie met die Messias rym nie. Die kontras wat Jesus tussen die skrifgeleerdes en die arm weduwee teken, is dus aan beide die adres van die skrifgeleerdes en van die dissipels gerig. Hulle word almal tot ware dissipelskap geroep.

In verse 38-40 waarsku Jesus teen die vroomheid van die skrifgeleerdes. 'n Vroomheid van vertoon en selfhandhawing. 'n Vroomheid van voorkoms, posisie en eer. En hul houding teenoor die weduwees, ontstel Jesus veral. Nie alleen minag hul die weduwees nie, maar hulle buit hul ook uit. Hul vererger die weduwees se armoede deur hul huise in te palm. En hulle kan tog so mooi en lank bid! Maar dit is alles skyn. En daarom "sal hulle baie swaar gestraf word." Dit is asof 'n mens die profete van die Ou Testament in Jesus se stem hoor oor die onreg teenoor die armes. God druk sy ore toe vir sulke gebede en verag die offers van hulle wat sy liefdesopdrag teenoor die weduwees so minag (Jes 1). En met hierdie woorde roep Jesus die skrifgeleerde met wie hy in verse 28-34 gesels het, uit die vroomheid van die skrifgeleerdes uit, na die ware vroomheid toe. 'n Vroomheid wat die wet van God doen – wat die weduwee, wese en vreemdeling (die armes) onder sorg neem. En so stap Jesus dan saam met sy dissipels en die skrifgeleerdes na die voorhof van die vroue in die tempel. Want dit is juis 'n arm weduwee by wie hulle sal leer wat ware dissipelskap is.

Daar het 13 offerkiste in die tempel gestaan, elkeen vir 'n spesifieke doel. Gesamentlik het hulle voorsien in die finansies waaruit die tempel se aktiwiteite bekostig is. By elke kis het 'n priester gesit wat waarskynlik kommentaar gelewer het op die gawes wat ingegooi is. Party kommentators sê dat besonder groot bydraes met die priester se lofbetuiging en selfs trompetgeskal aangekondig is. Die gewers van klein bydraes is dikwels deur die priester berispe en vermaan. Dit is hier waar die groot les in dissipelskap geleer word – waar mense hul offers gee.

Jesus neem stelling in naby een van die offergawekiste om te sien hoe die mense geld ingooi. Daar was twee groepe mense wat geld ingegooi het – rykes en armes. Die armes word verteenwoordig deur 'n weduwee. Die dissipels se aandag is elders. Jesus roep hulle nader om te kyk en te sien wat Hy sien en te sien soos Hy sien. Markus sê die rykes wat kom ingooi het, was baie. Die armes se getalle was dus maar min. Ook te verstane. Want wie wil nou kom ingooi as jy weet die priester gaan jou afransel! Die rykmense en die arm weduwee se gawes word soos volg gekontrasteer:

RYKES ARM WEDUWEE

gee baie geld bydrae is min werd (eintlik niks)

gee uit oorvloed gee uit haar gebrek

gee iets (hou baie oor) gee alles wat sy het (hou niks oor nie)

gaan steeds ryk huis toe gaan nog armer huis toe

Dit is logies dat die bydrae van die weduwee geen indruk op die priester sou maak nie. Hy kyk na die grote van die bedrag. Dit is in die geld wat hy belangstel. Haar twee lepta (kleinste geldstukkies destyds) was niks werd nie. Tot die tempelonderhoud dra dit niks by nie. Sy kon dit net sowel gehou het. Wat kan ons vandag met twee sente doen?

Jesus kyk ook. Hy kyk ook na die hoeveelheid wat die mense ingooi. Dit gaan nie hier eerstens oor die gesindheid waarmee gegee word nie. Dit gaan oor die allesopofferende en oorvloedigheid van die gawe – wat natuurlik die gesindheid insluit en veronderstel. Anders as die priesters, sien Jesus die bydrae binne die konteks van die gewer se lewe. Die priester sien net die geld. Jesus sien die hele persoon. In hul ryk konteks, gee die rykes eintlik min en selfs niks. Hul gawe is eintlik glad nie 'n offer nie. Dit maak nie seer nie. Hulle hou nog so baie oor dat hul gawe glad nie hul geloof toets nie. Hul gawes lyk op die oogaf groot, maar eintlik is dit klein en vir die koninkryk van God baie min werd. Vir die onderhoud van die tempeldiens doen dit baie, maar vir die koms van die koninkryk – niks! Want die koninkryk van God is nie in die eerste plek 'n saak van geld en kerkhou nie, maar van menslike lewens wat die wil van God doen. Dit is 'n saak van 'n totale God-gerigtheid -–'n lewe waarin God onvoorwaardelik en roekeloos vertrou word. En as die gawes van die rykes en die arm weduwee binne konteks gesien en gelees word, draai die rolle volledig om. Die aangrypende van die vrou se gawe lê in die feit dat sy albei haar geldstukkies ingooi. Sy gee alles wat sy het. Sy gaan bankrot huis toe. Sy eindig haar dag by nul. En so sal sy die volgende oggend ook wakker word. Sy kies om te leef binne die ruimte van 'n totale afhanklikheid van God. Sy kies om haar laaste geld weg te gee, sodat God in die sentrum van haar lewe kan staan en bly staan. Ek vertrou U vir môre, Here! Deur die oë van Jesus gesien, lyk die rolle nou só:

RYKES ARM WEDUWEE

gee iets gee alles

ryk in geld ryk in God

selfstandig volledig afhanklik van God se sorg

godsdienstig dissipel

Die weduwee verlaat die tempel met niks geld nie, maar ryk in vertroue op God en ware vrede. En dis sulkes wat die belofte ontvang: "...en kyk Ek is met julle." En dis sulkes se lewens wat die ruimte word waarbinne God sy wondere doen, omdat Hy daarin woon en sy koningskap gelowig daarin erken word.

Dit gaan nie hier oor 'n verheerliking van materiële armoede nie. Dit gaan hier oor die verheerliking van 'n lewenswyse wat vanuit 'n totale afhanklikheid van God geleef word. Vir rykes beteken dit inderdaad die weggee van hul rykdom (vgl Jesus se uitdaging aan die ryk jongman). Want waar jou skat is, sal jou hart ook wees. En heel dikwels is materiële dinge ryk mense se skat. En vir hulle is die eis van die navolging van Jesus niks anders as die weggee van daardie skat nie. Ek moet my ander skat(te) (en dit kan enigiets wees, nie net geld nie!) los-laat, weg-gee en verloor, voordat ek my hart met Jesus kan vul en Hom aankleef. Dit is die paradoksale waarheid van die koninkryk van God: hulle wat hul lewe prysgee, ontvang dit dan eers werklik. Want eers dan kan God die skat(te)/gawes wat Hy ons gegee het (ook ons materiële rykdom), weer aan ons toevertrou. En sal dit in sy diens en in diens van ons naaste wees en nie in diens van selfsugtige belange nie. Dan sal ons dit op 'n Jesus-gelykvormige manier gebruik – in diens van die liefde. Die gawe van hierdie weduwee getuig daarvan dat sy gekies het om volledig van God afhanklik te leef. Sy kon net een lepta ingegooi het en die ander een vir môre gehou het. Maar sy kies om alles te gee. En dít is die ingesteldheid van die ware dissipel van Jesus. Die enigste pad vir 'n dissipel is die pad van self-leegmaking, want dit is die pad van Jesus (Fil 2:5-11). En die arm weduwee se gawe het van hierdie leegmaking getuig.

Die arm weduwee wys deur haar optrede ook vooruit na Jesus se selfontlediging. Haar optrede getuig vooraf van sy bereidheid om langs die weg van uiterste lyding homself prys te gee en die dood van die kruis te sterf as 'n daad van uiterste liefde (Joh 13:1). So is sy 'n heenwysing na Hom. Dit is juis omdat haar daad so ooreenstem met sy daad, dat Hy haar as voorbeeld uitsonder. En daarom is sy 'n ware dissipel. Want die dissipel van Jesus volg sy voorbeeld van selfprysgawe (Fil 2:3-5). Jesus verteenwoordig die koninkryk van God in sy selfopofferende liefde. En oral waar sy dissipels op dieselfde wyse as Hy offer, daar is en kom die koninkryk van God.

Met die oog op die preek kan u weer gebruik maak van die gedagtes van Bonhoeffer by die vorige preekstudie (punt 5).

In die Woord teen die Lig-reeks (I/8), verwys Müller na verskeie beklemtonings in die preektradisie oor verse 41-44. Hy dui aan dat die meeste kommentatore dit eens is dat dit nie hier gaan "om 'n navolgingswaardige voorbeeld of om 'n beter offergesindheid nie, maar om 'n heelhartige geloof wat die totale oorgawe moontlik gemaak het - en hierdie geloof word gebore in die nabyheid aan die ryk van God, wat Christus deur sy koms, sy kruis en opstanding laat deurbreek in die wêreld." Hy sê dan dat hulle veral drie dinge beklemtoon: a) Die weduwee demonstreer aan die skrifgeleerde in 12:34 wat dit beteken om naby aan die koninkryk te wees. Ek sou dit wou verder voer en sê: sy demonstreer wat dit beteken om deel van die koninkryk te wees - daarin te wees - nie net naby nie. Sy openbaar, sê hy, 'n "byna naïewe, roekelose, maar berekende oorgawe waarin sy haar resloos en voorbehoudloos aan God toevertrou"; b) Haar volledige oorgawe is nie net 'n verborge voorteken van Jesus wat sy totale lewe in die hande van die Vader sou lê nie, maar ook 'n vooruitgrype daarop; c) Haar optrede word 'n oproep tot Jesus se dissipels tot navolging -–ook tot elkeen daarna (dus ook ons) wat kies om navolgers van Jesus te wees. Hy verwys dan ook na Iwand wat beklemtoon dat die swaartepunt vir die verkondiging (preek) nie lê "by die aanprysing van die regte gesindheid nie, maar 'in Jesus se intrede vir die arm weduwee teenoor die rykes (Mat 5:3ev).' Hiermee neem hy die armes in beskerming teenoor die kerkleiers wat alle bydraes in terme van hul omvang meet (vgl 1 Kor 1:28)." Muller sê verder dat dit veral belangrik is "vir 'n rykmanskerk, 'n kerk van middelklas en bo, om in die skool van die arm weduwee te gaan sit – as dit (dié kerk) 'n tuiste, 'n asiel wil word vir die armes, verontregtes, verdruktes, en vir die nuwe verskynsel van ons tyd: straatkinders." Hy verwys ook na die interessante preekvoorstel van Schmitz, wat waarsku teen die "alternatiewe vir die twee kwartjies" – teen die dinge in die gesekulariseerde lewe waaraan mense met ewe groot roekeloosheid en resloosheid hulle lewe gee! Hy het dit veral ook oor die velerlei godsdienstige pogings wat aangewend word om die "bedreigde Godsryk" te red met allerlei organisatoriese en bestuursmeganismes, om met 'n allesopeisende kerklike aktivisme ... 'n soort "Gospel Defense Leaque" op die been te kry. Hierteenoor staan die vrou wat nie die tempel wil red met groter boustene van klip nie – maar wat buig voor God in wie se heerskappy sy berus. Dis die oorgawe van die dissipel wat vreugdevol en sorgeloos sy krag put uit die wete dat die opgestane Christus in beheer is. Dis die teenoorgestelde van religieuse oorspannenheid, beheptheid met bestuur en beplanning en organisatoriese kontrole.

Muller se eie preekvoorstel het die volgende struktuur: In Markus 12:43 roep Jesus die dissipels nader om te kom kyk wat navolging is. En ons moet oor die dissipels se skouers kyk. Wat ons sien is: 1) Die styl van die navolging – ontdoen van die strewe na aansien en eer – bereid om God toe te laat om te oordeel oor die waarde van my gawe; ek bring dit net; 2) Dissipelskap op die weg van die geloof - Die weduwee gee alles: wie hul beursies só omdop, het niks meer oor nie – net die Here. Sy verloor haarself by die offerkis; 3) Dissipelskap op die weg van die liefde. Ons moet God bo alles liefhê, bo vader en moeder, bo huis en haard, bo swembad en gemak ...; 4) Dissipelskap op die weg van die hoop. Nou beskik Hy oor haar lewe. Oor haar hele lewe, oor die brood in die broodblik, oor die medisyne in die kas, oor haar hele dag, oor haar hele toekoms. As sy wegstap uit die tempel is haar hande leeg. Sy volg God "los hande".

Ons fokusteks en die ander liturgiese tekste kan soos volg verbind word. In Rut 3:1-4:17 leer ons nog 'n vrou ken wat weet wat dit beteken om jou toekoms in die hande van iemand anders te plaas. Rut waag dit om resloos haar aan die genade van Boas toe te vertrou. En haar vertroue is nie beskaam nie. En God is baie meer betroubaar as Boas – dan nie! Psalm 127 besing die sorgsaamheid van God teenoor hulle wat Hom vertrou. Hulle wat oorgegewe aan Hom leef en sorgeloos aan die slaap kan raak – al het hulle hul laaste opgeoffer - ontvang geskenke. Hebreërs 9:24-28 verseker alle dissipels daarvan dat Jesus, na sy opstanding, die hemel ingegaan het "om nou ter wille van ons voor God te verskyn" (vers 24). Vir eens en vir altyd het hy klaar gespeel met ons sonde en God se oordeel daarop. Daarom kan ons seker wees dat God nou vir ons is. En ons hoef Jesus se wederkoms nie te vrees nie, want "Hy kom om verlossing te bring vir die wat Hom verwag" – verlossing en nie oordeel nie!

Preekvoorstel

Die uitdaging vir die prediker is om hierdie teks só te preek dat die skrifgeleerdes en die dissipels in die erediens duidelik hoor wat die eis van dissipelskap is. Die ryker lidmate in ons kerke moet gehelp word om die uitdaging van ons teks te verstaan en daarop te reageer. Die arm lidmate van die kerk moet eweneens uitgedaag word om God resloos te vertrou en te bly vertrou. Almal – nie net ryk en arm nie – moet uitgedaag word om te doen wat die weduwee gedoen het – om te kies om God volledig te vertrou vir lewe en toekoms. Die prediker moet die hoorders help om die skat(te) in hul lewens te identifiseer en dit dan af te gee, los te laat en onbevange en met oorgawe hulle in God se sorg te stel. Momente kan in die liturgie ingebou word om die prediking hierin te ondersteun.

Die preek kan die teks verhalend oorvertel met die inligting wat onder teks en konteks gegee is. Een moontlikheid is om die gee van die offers uit twee gesigspunte te vertel. Eers soos die priester by die offergawekis dit gesien het en dan hoe Jesus dit gesien het. Wat dink u sal Jesus sê van die offergawes wat in die kollektebordjies/offergawekis in julle gemeente kom? Wat sal hy sê as Hy na die groter konteks van die lidmate se lewens kyk? Daag die lidmate uit om met die oë van Jesus na hul eie gawes te kyk. Help die kinders om te verstaan dat 'n mens nie eers hoef geld te verdien voordat jy 'n dissipel kan wees nie. Die manier waarop hul hul speelgoed, toebroodjie, talente, ens. met ander deel sê ook of hul ware dissipels van Jesus is of nie. Dink 'n bietjie na oor die soort vrae wat kinders sou vra by die hoor van hierdie verhaal en spreek dit aan. Gesang 260 in die Nuwe Sionsgesang/308 in die Liedboek gee die houding van die arm weduwee treffend weer en kan as 'n lied van oorgawe gesing of as gebed voorgedra word.

Bibliografie

MH Bolkestein, 1977. Het Evangelie Naar Marcus; Dietrich Bonhoeffer, 1976. The Cost of Discipleship; HH Esser, 1975. In Dictionary of New Testament Theology Vol. I, Colin Brown (ed); William Hendriksen. 1975. Mark, New Testament Commentary; Alan Cole, 1973. Mark: Tyndale New Testament Commentaries; Muller, BA 1992. Woord teen die Lig, I/8, Verdere Riglyne vir Lydensprediking.