2 November 2003

Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Markus 12:28-34

Ander tekste: Rut 1:1-18; Psalm 146 en Hebreërs 9:11-14

Inleiding

Dit gaan in koninkrykstyd in besonder om die navolging van Jesus – om wat dit beteken om sy dissipels te wees. Daar is 'n fyn onderskeid tussen 'n blote godsdienstige lewe en 'n lewe van navolging van Jesus. 'n Mens kan godsdienstig wees (baie toegewyd) sonder om 'n dissipel te wees. Daarom moet die Gees ons leer om ons godsdienstigheid langs die weg van dissipelskap uit te leef. Dit is hieroor waaroor die volgende twee eredienste gaan.

Met die fokusteks as uitgangspunt wil hierdie erediens ons help om seker te maak dat ons wel dissipels van Jesus is en ons die geleentheid bied om ons tot die navolging van Jesus te verbind – dalk vir die eerste keer of by hernuwing. 'n Moontlike eredienstema is: Van kenners van die Skrif tot dissipels van Jesus.

Die storielyn van die liturgie kan aan die hand van die liturgiese tekste soos volg verloop:

Ons kan Rut 1:1-18 by die aanvang saam lees met die spesifieke bedoeling om op Naomi se ervaring te fokus. Haar ervaring van verlies en alleenheid en selfs dat die Here teen haar gedraai het, verwoord ook ons ervaringe. Die liturg kan die gemeente help om met haar te identifiseer en met hul ervaringe (patos) in die Here se teenwoordigheid te kom. Daar kan dan daarna ook op Rut se onwrikbare keuse om by Naomi te staan gefokus word. Hierin is sy tipe van God (Christus) en die kerk. God het onwrikbaar gekies om ons lief te hê (vgl Hosea 11:8-9) en dit in Jesus (Immanuël) gedoen. En die susters en broers wat nou saam met ons voor God is, is hier om ons laste te help dra - Rut vir ons te wees.

Psalm 146 kan gebruik word om in lof en aanbidding oor te gaan (doksologie).

Die preekteks – Mark 12:28-34 – roep ons op om met dieselfde onwrikbaarheid van God (en Rut) ons tot die navolging van Jesus te verbind. Om nie net die skrif te ken nie, maar ook die vleesgeworde Woord (Jesus) te volg.

Hebreërs 9:11-14 fokus ons aandag op die eenmalige en voldoende offer van Jesus Christus. Op grond van sy offer, is ons vergewe en geheilig en daarom kan ons in hierdie erediens andermaal nuut begin.

Wat hier volg is aanvullend tot die basisliturgie se voorstelle.

GOD VERgader ONS VOOR HOM

Aanvang

By die inleiding is reeds voorgestel hoe ons Rut 1:1-18 hier kan gebruik.

Aanvangswoord/Votum

In reaksie op die troosvolle versekering dat God onwrikbaar kies om ons lief te hê en broers en susters vir ons gee om ons te help dra aan ons nood, kan Psalm 146 hier deur die liturg en gemeente saam as lofgedig gebid word. Dit kan soos volg gedoen word:

Voorganger: (1) vers 1a

Gemeente: vers 1b-2

Voorganger: (2) vers 3-4

Voorganger: (1) vers 5

Voorganger: (2) vers 6-9

Gemeente: vers 10

Indien u oordeel dat dit gepas sal wees kan hier nog 'n lied ook gesing word – byvoorbeeld Lied 146 (Psalm 146) of NSG 33.

Seëngroet

Dieselfde seëngroet as die vorige Sondae kan hier gebruik word, waarna die gemeentelede kans kry om twee-twee mekaar die Here se seën toe te wens.

Sang

Aanvullend by die voorstelle van die basisliturgie kan NSG 142 of 148 hier gesing word.

Doop/doopherinnering

Kyk hiervoor na die opmerkings aan die einde van die basisliturgie.

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Die gebed kan ook gesing word – byvoorbeeld Lied 254 en NSG 332

Skriflesing

Respons

Lied 255 of NS 336 kan hier as reaksie op die Skriflesing gesing word.

Kindertyd/preek

Respons

'n Betekenisvolle geleentheid moet hier geskep word vir die hoorders om op die prediking te reageer. Hulle word in die preek uitgedaag om 'n algehele toewyding aan Jesus te maak. Die volgende kan oorweeg word:

gee geleentheid vir stil gebed waarin almal aangemoedig word om hul skuld te bely en dan 'n toewyding aan Jesus te maak. Enige van die Kyrie Eleisons kan as skuldbelydenis gesing word – Lied 242, 243 of NSG 233

of die liturg kan 'n gebed voorberei waarin hy/sy die gemeente voorgaan.

DIENS VAN DIE TAFEL

Vir hierdie beweging kan u gebruik maak van die gedagtes by die basisliturgie. Hebreërs 9:11-14 kan hier sinvol gebruik word om die implikasies van Jesus se offer te deurdink en die begeerte om 'n totale oorgawe aan Hom te maak verdiep. Die gee van die offergawes kan hier gedoen word as deel van 'n daad van algehele oorgawe aan Jesus. Lied 306 of 308 of NSG 260 kan tydens die offergawe gesing word.

UITSENDING

Wet

Jesus se opsomming van die wet in Markus 12:29-31 kan hier herhaal word met 8:34-38 daarby. As alternatief kan artikel 4 van die Belydenis van Belhar voorgehou word as lewensreël vir 'n dissipel van Jesus. Die gemeente kan hul instemming met die belydenis met 'n "Amen" betuig.

Sang

Lied 306 of 311 en NSG 146 kan hier oorweeg word.

Seën

Dit is nie maklik om 'n dissipel van Jesus Christus te wees nie. Vir ons navolging van Hom gee Hy die volgende belofte aan ons:

Ek is voor jou om die pad vir jou gelyk te maak.

Ek is langs jou om jou in my arms toe te vou.

Ek is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.

Ek is onder jou om jou te dra as jy mag val.

Ek is rondom jou om jou te beskerm.

Ek is bokant jou om jou te seën.

Ek woon in jou om jou te lei deur my Gees.

Ek is vir jou en pleit vir jou by die Vader.

Ek is by jou, van nou af tot in ewigheid.

Amen

Vredesgroet

Indien die vredesgroet nie by die tafel gegee is nie, kan dit hier gedoen word.

 

PREEKSTUDIE – MARKUS 12:28-34

Inleiding

Die volgende twee preekstudies kom albei uit die evangelie van Markus. Deur die jaar het ons verskeie kere uit hierdie evangelie gepreek. Die agtergrond en inleidende inligting tot dié evangelie, wat vroeër in die bundel voorkom, word hier veronderstel (Lees die kort inleiding tot Markus by die eerste Sondag in advent voor u hier verder lees). Diegene wat die Woord teen die Lig-reeks het, kan ook die inleidende artikel van Dirkie Smit tot die prediking uit Markus lees (Verdere Riglyne vir lydensprediking, I/8).

Ons maak hier 'n paar inleidende opmerkings wat vir beide die volgende twee preekstudies geld:

Beide gedeeltes (12:28-34, 38-44) is deel van die tweede deel van die Markus-verhaal wat by 8:27 begin. Vanaf 8:27 is die fokus op Jesus se reis na Jerusalem. En in hierdie reisberig val die klem op sy lyding en die implikasies daarvan vir dissipelskap.

Lyding (met die kruisdood van Jesus as dieptepunt) is dié sentrale tema van hierdie hele evangelie. Dit is egter veral die klem in hierdie tweede deel van die verhaal. 'n Mens kan net verstaan wie Jesus regtig is, indien jy Hom ken vanuit die waarheid van sy kruisdood. Dit verklaar ook die swyggebod van Jesus – tipies van Markus – tot so baie mense nadat hy hulle genees het. Dit is amper of Jesus wil sê: "Moenie praat oor wat ek gedoen het voor ek gesterf en opgestaan het nie, want eers dan sal jul alles wat ek gedoen het reg kan verstaan."

Kommentators is dit redelik eens dat dissipelskap groot klem kry by Markus. Hy wil die lesers en hoorders van hierdie verhaal help om te verstaan wat dit beteken om 'n dissipel van Jesus te wees. En dit is juis dissipelskap wat in ons twee gedeeltes die primêre fokus is. Daarom pas dit goed in by prediking in Koninkrykstyd, wanneer ons nadink en praat oor die navolging van Jesus.

Ons teksgedeeltes is deel van Jesus se strydgesprek met die Joodse leiers en eindig ook hierdie gesprek af. In sy gesprek met die Joodse leiers toon Jesus met groeiende klem aan dat hulle nie dissipels van God is nie, en daarom nie nagevolg moet word nie. Met sterk afwysende taal veroordeel Jesus die skrifgeleerdes se voorbeeld. En teenoor hulle, hou hy die arm weduwee as egte en navolgingswaardige voorbeeld van 'n ware dissipel voor.

Die verhouding tussen ons teksgedeeltes, kan soos volg voorgestel word: In 12:28-34 word dissipelskap deur Jesus in terme van die wet gedefinieer, as 'n lewe van liefhê. In 12:38-44 toon Hy hierby aan hoe dissipelskap lyk, deur die voorbeeld van die arm weduwee te kontrasteer met die voorbeeld van die skrifgeleerdes.

Teks en konteks

Iets oor die Skrifgeleerdes en Fariseërs: Die skrifgeleerdes het hul ontstaan gehad na Israel se terugkeer uit hul ballingskap in Babel (Neh 8:10). Hulle het die priesters in hul onderrigtaak gehelp om seker te maak dat elke Israeliet die wet ken, sodat die verlede nie herhaal sou word nie. Heelwat van die Fariseërs was ook skrifgeleerdes. Hulle was in Jesus se tyd waarskynlik die geestelike leiers van die volk. Teenoor die Sadduseërs, wat pro-Grieks was, en waarskynlik die meerderheid in die Sanhedrin (Joodse Raad), het die Fariseërs die volk geleer om streng volgens die wet te lewe en nie aan die druk van die Sadduseërs toe te gee nie. Hulle wou die volk van dwaling en verval red. Self was hul nougeset in hul eie navolging van die wet. Teenoor die dwalinge van die Sadduseërs, soos dat daar geen opstanding is nie, het die Fariseërs die onsterflikheid en opstanding van die liggaam geleer. Hulle was die bewakers en bewaarders van die waarheid – die wet (God’s Woord).

Wat opvallend is van Jesus se gesprek met die skrifgeleerde (volgens Matteus 'n Fariseër), is die feit dat dit in 'n positiewe atmosfeer plaasvind. Dit is amper asof die skrifgeleerde respek vir Jesus se insigte toon en 'n bewondering vir Hom het. Dit staan in kontras met die meeste ander gesprekke van Jesus met die Joodse leiers. Anders as Matteus, wat sê dat hierdie 'n doelbewuste poging van die Fariseërs was om Jesus vas te trek, sê Markus dat die skrifgeleerde nader gestaan het nadat hy die redenasie tussen Jesus en die Sadduseërs oor die opstanding (12:18-27) aangehoor het. Onder die indruk van Jesus se goeie antwoord is hy gretig om te hoor wat Jesus oor 'n vraag te sê sal hê wat dikwels onder hulle as skrifgeleerdes gedebatteer is: "Wat is die heel grootste gebod?" Jesus se antwoord beïndruk hom. Opgewonde sê hy in vers 32: "Pragtig, Meneer!" En dan beaam hy met enkele klein wysigings alles wat Jesus gesê het.

Onder leiding van die Fariseërs, het die Jode 'n hele stel wette ontwikkel wat volgens hulle nagekom moes word om vir God tevrede te stel. Daar was altesaam ongeveer 248 gebooie (moets) en 365 verbooie (moenies). Volgens Esser was daar in Jesus se tyd onder die Judaïsme twee strominge rondom die wet wat in spanning met mekaar gestaan het. Aan die een kant was daar 'n behoefte om die bestaande groep van wette uit te brei met nog wette, wat die lewe van die Jood omvattend sou dek en as etiese riglyne geleer kon word in die kategese. Aan die ander kant was daar 'n soeke en aandrang daarop om tussen die reeds baie bestaande wette te onderskei tussen die belangrike en minder belangrike wette. Die eerste vra nog wette en die tweede vra vereenvoudiging. Die vraag wat die skrifgeleerde hier vir Jesus vra, was dus baie aktueel. 'n Mens kan verstaan dat met so 'n klomp reëls dit nogal sou help om te weet watter gebooie die heel belangrikste is.

Vir Jesus was dit ook 'n baie belangrike vraag. Diep onder die indruk van die swaar las wat die skrifgeleerdes met al die wette die "gewone" mense opgelê het, en eintlik sodoende die Koninkryk vir hulle toegesluit het en hul van alle vreugde ontneem het, was dit deel van sy bediening om die hart van die wet in ere te herstel. Want wie die hart van die wet verstaan, sien die hart van God raak. Daarom doen Jesus moeite om hierdie vraag helder te antwoord.

Anders as wat gewoonlik gebeur het, selekteer Jesus nie die wette wat volgens Hom die belangrikste is nie. Hy stel nie sy eie orde in die baie wette voor nie. Hy herstel die wesenlike van die wet. Hy toon aan waarom dit eintlik in die wet gaan. Hy bevry die wet van God van al die wette van mense. Vir Hom is daar nie 'n klomp wette nie, maar net een. Want die twee wette wat Hy stel, is nie uitgekies tussen die baie nie. Dit is 'n opsomming van die hart van die wet.

Met sy opsomming gryp Jesus terug op die ou belydenis van Israel (Deut 6:4-5) dat daar net een God is wat jy met hart en siel en al jou krag moet liefhê (die Shema genoem) en verbind dit met Levitikus 19:18 se gebod om die naaste lief te hê soos die self. Eintlik is dit ook nie twee gebooie nie, maar net een. Want die tweede is deel van die eerste op 'n logiese wyse. Dit is soos die twee kante van dieselfde muntstuk. Dit is 'n twee-eenheid. Jy kan nie net die een kant hê nie. As jy die een het, het jy die ander. En anders om ook: as jy die een nie het nie, het jy ook nie die ander nie. Langs hierdie oorspronklike waarheid van die liefde tot God en die naaste, het 'n klomp mensgemaakte wette ontwikkel en bygekom – moets en moenies oor byvoorbeeld wat jy alles op 'n Sabbat mag doen en nie mag doen nie – soos hoe ver jy mag loop, watter soort werk gedoen mag word of nie. En al hierdie wette het die wesenlike van die wet verduister en selfs verhoed dat dit uitgevoer is. Die nakom van al die wette het dikwels daartoe gelei dat by die nood van die naaste verbygeleef is, ten einde nie een van die 613 voorskrifte te oortree nie. Daar was ook die neiging om die liefde tot God en die liefde tot die naaste los te maak van mekaar, en selfs teenoor mekaar te laat staan. God kom eerste en dan die naaste. Jesus doen twee dinge: Hy herstel die eenheid van die wet deur die wesenlike te beklemtoon (die liefde) en hy doen weg met die valse skeiding tussen belydenis en lewe. Esser stel dit sò: "He (Jesus) refused to play off the command to love God against the command to love men.... Jesus taught that love of God and love of man were inseparable...Jesus brought word and action into a unity. He stands in contrast to his opponents who burdened men with commandments." Dit verduidelik ook Jesus se opsetlike ignorering van hierdie wette ten einde aandag te gee aan die nood van mense. Hy kon nie anders nie, want mense was vir Hom (God) belangriker as wette. Dit verduidelik ook die ontsteltenis en woede van die skrifgeleerdes wanneer Jesus en sy dissipels die wette oortree het. Dit moes noodwendig op 'n breekspul uitloop.

Hierdie skrifgeleerde is egter beïndruk met Jesus – ten minste met sy antwoord. Sy hart sê "amen" op Jesus se beklemtoning. Hy het duidelik ook ernstig gesoek na die wesenlike van die wet. Daarom geniet hy Jesus se antwoord. Die nuwe Afrikaanse vertaling (1983) gee sy opgewondenheid en tevredenheid met Jesus sò weer: "Pragtig, Meneer!" Hierdie man was nie so vasgevang in wettisisme soos baie van sy mede Fariseërs nie. Hy kon hom in die wesenlike verheug. Dit blyk duidelik uit sy toevoeging tot Jesus se woorde dat die nakom van dit wat Jesus gesê het "van meer belang" is "as al die brandoffers en diereoffers" (vers 33) wat deur die wet van Moses vereis is. Hy was ook nie so negatief en hatig teenoor Jesus dat hy enigiets wat Hy sê, sou verwerp nie.

Nou is Jesus beïndruk. Met instemming en erkenning kondig Hy, wat self die Koninkryk is wat naby gekom het, aan: "Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie." Dit is nie eintlik Jesus wat onder beoordeling is nie. Dit is nie hy wat óf dwaal óf regsinnig is nie. Wat moet wys of hy die wet reg verstaan of nie. Eintlik is dit die regsinnige skrifgeleerde wat hier beoordeel word. Dit is hy wat óf naby óf vér is – binne of buite. Om oor die wet te praat, is om oor die koninkryk van God te praat. Die wet is die weg na die koninkryk toe – maar nie die koninkryk self nie. Die wet is die wyse waarop dit in die koninkryk daaraan toe gaan. Die wet wys jou hoe dit in die koninkryk is, maar bring jou nie daarin nie. Daarom is elkeen wat, soos hierdie skrifgeleerde, insig het in die hart van die wet, "nie vér van die koninkryk van God nie". Want wie die hart van die wet verstaan en insien, sien in die hart van God. Nou hoekom is dié man dan net, "nie vér nie"? Hoekom is hy net naby en nie daar nie? Wat kom hy kort? Hy moes nog een iets doen. Hy moes erken dat Jesus nie net 'n regsinnige leermeester ("Meneer") is nie, maar die koninkryk van God self. Hy moes erken dat Jesus die Messias is; die Seun van God; die vervuller van die wet; die verpersoonliking van die liefde; die koninkryk self! Hy moes die waarheid ontdek wat Paulus ontdek het: die wet is ons tugmeester na Jesus toe. Die vervulling van die wet is die navolging van Jesus. Om die wet te verstaan is een ding. Om dit uit te leef, vra dat jy Jesus se dissipel sal wees.

Of hy in die koninkryk sou kom, sou afhang van sy bereidheid om Jesus as sy lewenswet te omarm. Of hy bereid sou wees om Jesus te volg eerder as 'n klomp (goeie) reëls. Of hy bereid sou wees om ook (soos Jesus) homself ter wille van sy naaste prys te gee. Want Jesus is die wet - daadwerklik! En wie Hom volg doen ook die wet. En, sê Jesus, dus halle wat in die koninkryk van die Vader kom (Mat 7:21). Ons weet nie of hy 'n dissipel geword het nie. Die gesprek eindig oop. Want die gesprek gaan eintlik aan – tussen God en ons!

Bonhoeffer het aangrypend en omvangryk oor die waarheid van ons teks geskryf in sy "The Cost of Discipleship". Alhoewel hy nie die teks van Markus behandel nie, maar wel Matteus se weergawe van die bergrede, is die verhouding tussen wet, Jesus en dissipelskap dwarsdeur hierdie werk aan die orde. Wie oor dissipelskap wil nadink en preek, moet hierdie boek lees. Vir die van u wat dit nie het of kan bekom nie, volg hier enkele aanhalings:

In sy hoofstuk oor die roeping tot dissipelskap (hfst 2), bring hy roeping, genade en wet, op die volgende wyse by mekaar: "When we are called to follow Christ, we are summoned to an exclusive attachment to his person. The grace of his call bursts all the bonds of legalism (wettisisme). It is a gracious call, a gracious commandment. It transcends the difference between the law and the gospel. Christ calls, the disciple follows; that is grace and commandment in one."

In hoofstuk 8 skryf hy oor Jesus se geregtigheid, met die verhouding tussen Jesus en die wet as fokus (Mat 5:17-20). Daar is vir Bonhoeffer geen spanning tussen die alles-opeisende navolging van Christus en die nakom van die wet nie, want Jesus is die vervulling van die wet. Daarom is die navolging van Jesus die enigste weg waarlangs die wet gehoorsaam kan word. Jesus skaf nie die wet af nie. Hy is nie teen die skrifgeleerdes se klem op die wet nie. Daarom verwag Hy steeds van sy dissipels om dit nougeset na te kom. Hy verwag egter van hulle dat hulle "meer getrou" aan die wet moet wees as die Fariseërs. Dit was met die getrouheid van die Fariseërs dat Jesus 'n probleem gehad het. Bonhoeffer beskryf die verskil tussen die Fariseërs en die dissipels se geregtigheid (Ou Vertaling)/getrouheid (NAV) soos volg: "Certainly the Pharisees never imagined that the law must be taught but not obeyed: they knew their Bibles better than that! No, it was rather their ambition to be doers of the law. Their idea of righteousness was a direct, literal and practical fulfilment of the commandment; their ideal was to model their behaviour exactly on the demands of the law. Of course they knew that they could never realize that ideal, there was bound to be an excess which needed forgiveness of sins to cover it. Their obedience was never more than imperfect. With the disciples, also righteousness could only take the form of obedience to the law. No one who failed to do the law could be accounted righteous. But the disciple had the advantage over the Pharisee in that his doing of the law is in fact perfect. How is such a thing possible? Because between the disciples and the law stands one who has perfectly fulfilled it, one with whom they live in communion. They are faced not with a law which have never yet been fulfilled, but with one whose demands have already been satisfied. The righteousness it demands is already there, the righteousness of Jesus which submits to the cross because that is what the law demands... He is the righteousness of the disciples. By calling them he has admitted them to partnership with himself, and made them partakers of his righteousness in its fullness... In fact their righteousness consists precisely in their following him... It is a righteousness under the cross, it belongs only to the poor, the tempted, the hungry, the meek, the peacemakers, the persecuted - who endure their lot for the sake of Jesus...This is where the righteousness of the disciple exceeds that of the Pharisees; it is grounded solely upon the call to fellowship with him who alone fulfils the law...Again, it is not enough to teach the law of Christ, it must be done, otherwise it is no better than the old law."

Ons is 'n kerk wat erns maak met die wet. Dit het 'n vaste deel van ons liturgie in die erediens geword. Jesus se opsomming daarvan lees ons graag as spieël om ons te oortuig van sonde en ook as riglyn vir 'n lewe van dankbare navolging van Jesus. Dit is nogal opvallend hoe goed lidmate Jesus se opsomming van die wet uit hul kop ken. Jy hoef net die eerste paar woorde te sê, en hulle sal die res voltooi. Ons ken (ten minste met ons kop) die weg van die koninkryk van God. Ten minste twee gevare bedreig ons: Die een is dat ons die wet van Jesus sal losmaak. Dat ons lidmate sal leer om die wet te ken en te gehoorsaam, sonder om hul in te lei in 'n persoonlike verhouding en navolging van Jesus. Dan preek en leef ons 'n leer waarin dissipelskap vervang is met die nakom van wette – katkisasieboek-lidmate. Dan is ons rasegte Fariseërs, wat lidmate die ondraaglike las oplê om hulself te red en hul te laat dink dat hul dit sowaar sal kan regkry. Met hul aktiewe deelname by goeie liefdedade, soos offergawes, uitreike na die armes en uitgestotenes, vervul hul self die wet – maar dan buite Jesus om. Dan maak ons die liefdesopdrag tot 'n genadelose gebod, wat die koninkryk vir mense toesluit. Want die koninkryk is alleen beskikbaar in Jesus en daarom in 'n lewende verhouding met Hom. Die tweede gevaar is dat ons langs die navolging van Jesus allerlei ander reëls en wette maak wat geleidelik in belangrikheid toeneem, totdat dit Jesus se plek verdring – gebruike, bepalinge en artikels. Die maak van sulke reëlings, is opsigself nie sleg nie. Inteendeel, dit is nodig vir die ordening van ons kerklike lewe. Almal moet tog saamstem: dit is 'n vereiste dat gelowiges die byeenkomste van die gemeente sal bywoon (Heb 10:25). Tog kan dit gebeur dat hierdie noodsaaklike opdrag (reël) in botsing kom met die wesentlike opdrag van die wet, naamlik om jou naaste lief te hê. Dit gebeur wanneer hierdie goeie gebruik bo die opdrag tot naasteliefde verhef word. En dit gebeur as hierdie gebruik belangriker word as die diens aan die naaste – wanneer die nakom van hierdie gebruik maatstaf word vir gehoorsaamheid aan God se wet; as kerkgaan my gewete sus wanneer ek by my naaste se nood verbygaan, omdat kerk toe gaan dit maatstaf word vir liefde tot God. Dit kan met enige goeie gebruik/wet in ons kerklike lewe gebeur, soos byvoorbeeld die gee van dankoffers, die doop, die gebruik van nagmaal, en bywoning van gemeente-aktiwiteite. Elke prediker sal uit hul eie konteks die "wette" kon uitwys wat in die kerklike lewe, die liefdesgebod oorwoeker.

Die toets vir ware dissipelskap is nie die nakom van goeie godsdienstige gebruike nie. Dit lê in die navolging van God self. Ons ander liturgiese tekste kan goed gebruik word om hierdie waarheid te ondersteun. God is op 'n besondere wyse die God van die noodlydendes, daarom is Hy betroubaar (Ps 146). Jesus is God in aksie, wat deur sy selfverloënende dood verlossing bewerk het (Heb 9:11-14). En Rut is 'n uitstekende voorbeeld uit die Ou Testament van die Nuwe-Testamentiese idee van dissipelskap, as sy weier om haar naaste (skoonma), in haar pyn en alleenheid, alleen te los. Sy offer haarself met 'n totale oorgawe op, sodat haar skoonma weer kan leer lewe.

Preekvoorstel

Ons moet baie mooi luister wanneer Jesus met die skrifgeleerdes praat. Die leiers in die kerk en die toegewyde en meelewende lidmate is vandag se geleerdes van die Skrif. Al wil ons dit nie weet nie, het ons baie in gemeen met hulle - meer as wat ons dikwels wil toegee. Hoe beter ons hulle leer ken, hoe beter sal ons onsself ken. 'n Moontlike tema vir 'n preek (selfs die hele erediens): Só naby en tog só vér!

Ons het altyd as kinders mekaar probeer uitvang met die volgende vraag: Wat sal jy kies: amper raak of amper mis? Omdat ons almal graag raak wil kies, kies die oningewyde dan "amper raak". Maar dit gebeur wanneer jy nie mooi luister nie. Want die woordjie "amper", maak van raak eintlik mis. En so kies jy dan juis die een wat jy nie wou kies nie.

Dieselfde ding gebeur met ons wanneer ons nie mooi na die evangelie luister nie. En dan eindig ons op dieselfde plek: amper raak. Naby, maar tog nog altyd mis. Dit is wat Jesus vir hierdie skrifgeleerde gesê het. Jy is "nie vér van die koninkryk van God" nie. Naby, maar nog nie binne nie. 'n Mens kan dink – selfs oortuig wees – dat jou saak met God reg is, terwyl dit nie so is nie. En dit is sleg. Want dit beteken dat jy in 'n leuen lewe. 'n Leuen wat jou juis gaan uitbring waar jy nie wil wees nie (Vertel van 'n keer toe jy verdwaal het, toe jy gedink het jy ken die pad). Ons kan vanoggend seker maak dat ons nie net naby God se koninkryk lewe en eindig nie, maar werklik reeds daaraan deel het. Dit is waarmee Jesus ons wil help.

Wie was hierdie skrifgeleerde? (Gebruik die inligting by teks/konteks). Hulle was dus lief vir die wet (Woord van God) en baie begaan oor die verval en agteruitgang in hul samelewing - godsdienstig, moreel en polities. Hulle wou die bederf keer en teenwerk. Hulle wou die godsdienstiges vashou en die afgedwaaldes terugbring. Hulle het aan Psalm 119:9 vasgehou: "Hoe kan 'n jongmens sy pad suiwer hou? Deur hom te hou aan u woord!" Hulle was Woord-mense!

Hoe sal 'n Fariseër vandag lyk? Waar sal ons haar/hom kry? Hulle is die mense van die Bybel. Mense wat eerbied en respek het vir die Woord. Wat nie skaam is daarvoor nie en dit met erns bestudeer en vir ander leer. Hulle is onder diegene wat glo dat die genesing en herstel van die samelewing alleen sal plaasvind as ons terugkeer na die onvervalste Woord van God. Mense wat glo in gebed en dit met ywer beoefen. Hulle is onder die mees toegewyde en voorbeeldige lede van die gemeente (Brei uit volgens u eie aanvoeling).

En die dissipels van Jesus, waar sal ons hulle vandag kry? Onder dieselfde mense waar die Fariseërs is! Want hulle is ook lief vir die Woord van God en glo ook in gebed (Brei uit).

Wat is dan die verskil tussen 'n Fariseër en 'n dissipel? (Bonhoeffer se gedagtes by punt 5 en ook punt 6 onder Teks/konteks kan hier benut word). Die uitdaging is om helder en duidelik te formuleer, sodat die lidmate voor hulle 'n spieël kry om in te kyk wat hulle sal help om hulself raak te sien. Hier volg 'n paar ekstra los gedagtes:

‘n Dissipel volg vir Jesus en daarom ook die wet. 'n Fariseër volg net die wet, sonder Jesus. 'n Dissipel leef uit 'n verhouding met God self. 'n Fariseër bestudeer wette en die nakom daarvan. Hy is 'n slaaf van teksies, reëls en tradisies. Hy beklemtoon die letter en veroordeel elkeen wat dit nie nougeset nakom nie. Die Fariseër ken die Woord van God, maar nie die God van die Woord nie. Daarom ken hy of sy nie genade nie en weet hy of sy niks van die liefde nie. Die dissipel ken die God van die Woord, omdat hy of sy in 'n persoonlike verhouding met Jesus leef. Die dissipel ken en gehoorsaam die wet, omdat die hart van die wet - Jesus - in haar of sy hart woon. Die Fariseër is liewer vir die Bybel en gebed en uitreike as vir God. Die Fariseër stel meer belang daarin om reg te wees as om lief te hê.

Fariseërs is goeie mense wat hul met goeie dinge besig hou. Tog is hul net naby die koninkryk van God - nie daarin nie. Naby en tog so vér! Amper raak-mense. Dit is vir sulke mense wat Jesus aanmoedig om die finale en belangrike stap te neem, sodat hulle van naby na binne kan kom. Sy woorde is 'n aanmoediging aan die Fariseër om sy dissipel te word. En om ook die kruisweg (selfverloëning) te aanvaar as die enigste weg waarlangs die wet vervul kan word. Die uitdaging vir 'n Fariseër is dieselfde as vir enige ander mens: maak jou los van alles waaraan jy vashou; ja, ook van jou godsdiens, jou Bybel en al jou goeie dade - en volg Jesus. Jesus roep jou weg van jou sekerhede af in 'n lewe van onsekerheid. Weg van jou swart-wit-alles-is-eenvoudig lewe, na 'n lewe wat grys is. Weg van wette na 'n verhouding met Hom. 'n Verhouding waarin jy seker kan wees van Hom en dáárom van 'n toekoms. 'n Verhouding waarin jy kan weet: nou is ek nie net naby nie, maar binne in die koninkryk. Want die koninkryk woon dan in jou! Wat kies jy: amper raak of amper mis?

Bibliografie

MH Bolkestein, 1977. Het Evangelie Naar Marcus; Dietrich Bonhoeffer, 1976. The Cost of Discipleship; HH Esser, 1975. In Dictionary of New Testament Theology Vol. I, Colin Brown (ed); William Hendriksen. 1975. Mark, New Testament Commentary; Alan Cole, 1973. Mark: Tyndale New Testament Commentaries.