Ander
tekste: Levitikus 19: 1-18; Numeri 11: 4-6,
10-16, 24-29; Ester 7: 1-10, 9: 20-22; Psalm 124, Jakobus 4: 11 - 5: 11; Jakobus 5: 12-20
Vers 38-50
is moeilik om as preekteks vir die dag te hanteer, om twee redes:
Daar is op
die oog af geen eenheidstema nie: vers 38-50 bestaan uit kleiner eenhede wat
elkeen sy eie tema het, sonder 'n ooglopende logiese oorgang of verband.
Die eenhede is vers 38-40 (wie in Jesus se naam optree, is nie teen nie,
maar vir Jesus), vers 41 (wie goed doen aan Jesus se dissipels, sal daarvoor
beloon word) , vers 42-48 (die oorsake van afvalligheid moet verwyder word),
vers 49 ( beproewing) en vers 50 (julle moet vrede hou). Om hierdie kleiner eenhede aan mekaar te
probeer verbind of te harmonieer omdat dit as 'n eenheid ingedeel is vir
vandag, hou die gevaar in dat die skerpheid van elke uitspraak afgewater
word. Die Rooms Katolieke leer van die
vagevuur het heel moontlik ook sy aanleiding
(of Skriftuurlike 'gronde') vanuit 'n eksegese wat vers 49 verstaan het
in aansluiting by vers 43-48.
Daar is
teksvariasies, veral in 49-50, wat daarop dui dat hierdie van die staanspoor
af 'n moeilik teks is wat op
verskillende maniere vertolk is. Dit beteken in kort: die moontlikheid van
wyduiteenlopende interpretasies en afbakening van vandag se teks, is
groot.
Vers 38-40: In
opvolging van 37, toon Johannes (as
verteenwoordigend van die dissipels) 'n verdere onbegrip vir Jesus. Hy verander die onderwerp (dalk uit
verleentheid?). Vir Johannes gaan dit
egter om die eer van Jesus. Hier is 'n
buitestaander besig om duiwels uit te dryf in Jesus se Naam. In die vroeë kerk was dit 'n probleem
situasie (dink maar aan die sewe seuns van Skeva in Hand 19:13vv). Vir die dissipels was dit 'n wettige rede
tot kommer. Die krag waarmee die
buitestaander werk, nogal in Jesus se Naam, laat by die dissipels 'n gevoel van
magteloosheid. Daarom moet hulle hom
probeer keer. ('n Poging aanwend om die
mag weer terug te kry in hulle hande, hulle kring, 'ons', waar die mag oor die duiwels hoort.) Verklaarders wys op die ooreenkoms met
Numeri 11:26-29 waar Josua baie bekommerd is oor Eldad en Medad,
buitestaanders, wat ook begin profeteer, waarop Moses dan sê hulle moenie
gekeer word nie, maar hy wens dat almal profete mag wees. Dis dieselfde storie van dissipels wat meen
hulle meester is die magtige figuur, en die mag is beperk tot hulle, sy
volgelinge. Die oomblik dat mense buite
die eie kring die krag van God toon, word dit as bedreiging ervaar, en word die
geledere gesluit en die buitestaanders verbied om op te tree. Dit terwyl die Meester 'n heel ander siening
oor sake daarop nahou.
In
aansluiting by verlede week, lyk dit of dit hier steeds gaan om die
belangrikheid-kompleks by die dissipels, en dat die belangrikheid/mag/grootheid
vir hulle daarin geleë is dat Jesus se mag eksklusief is, en tot hulle alleen
behoort. Die ironie wat nie misgekyk
mag word nie, is dat toe iemand sy seun na die dissipels toe neem om die duiwel
uit hom te dryf, toe was hulle nie daartoe in staat nie! (9:14-29).
Die dissipels het dus geleef in die waan van mag; hulle het op Jesus se
mag 'geparasiteer', aanspraak gemaak daarop, terwyl hulle dit nie self kon
uitoefen nie. Daarenteen het 'n
buitestander wat geen aanspraak op Jesus of sy mag kon maak nie, Jesus se
goddelike mag oor die duiwels uitgeoefen.
Ten opsigte van Johannes (sic
die dissipels) se reaksie, maak Ched Meyers 'n opmerking waaroor nagedink kan
word: 'Jesus seems to understand the
relationship between the power of monopoly and monopoly of power'. Meyers lees hierdie gedeelte van Markus as
Jesus se oprigting van 'n nuwe sosiale orde deur lydelike (nie-geweldadige)
verset teen die 'establishment', soos
vergestalt deur die dissipels. Meyers
kan gelyk gegee word met sy waarneming dat Jesus die dissipels se beheptheid
met mag konfronteer. Jesus doen egter
meer: Hy keer die dissipels se konfronterende, eksklusiewe
'wie-nie-vir-ons-is-nie-is-teen-ons'-houding om in 'n inklusiewe 'wie nie teen
ons is nie, is vir ons'. By Jesus is,
soos die kind (vers 37), ook die buitestander welkom. Inderwaarheid is die buitestander alreeds binne die kring. Die dissipels is egter 'agter die tyd', vasgevang in hulle benepe angs dat Jesus se
Naam oneer aangedoen sal word. (In Matt
12:30 sê Jesus binne 'n totaal ander verband: 'Wie nie vir My is nie, is teen
My, en wie nie saam met my bymekaar maak nie, verstrooi'.)
Vers 41 word deur baie by 38-40 gevoeg op grond
daarvan dat dit ook hier gaan oor 'n buitestander wat 'n goeie daad teenoor 'n
dissipel verrig 'in my Naam'. Die
weldoener is dus 'n tweede voorbeeld van 'n buitestander wat eintlik al binne
die kring van God se genade, binne
Jesus se mag oor die bose ingetrek is.
Jesus gee die versekering, die belofte, dat so 'n persoon sy/haar
koninkryksloon sal kry. Die strekking
van vers 41 kom ooreen met dié van vers 37.
Dis hier duideliker dat die 'elkeen' nie net slaan op die dissipelkring
nie, maar op almal, ook buite die dissipels se waarneembare kringetjie.
Volgens
Herder is vers 41 die derde begronding van Jesus se antwoord aan Johannes:
Jesus antwoord eerstens uit die ervaring (vers 39), gevolg deur 'n algemene
stelreël (vers 40), afgesluit met 'n amen-woord (vers 41). Jesus sê dus op drie maniere vir Johannes:
jy is verkeerd. Jy moet weer gaan dink
oor jou 'ons'. ('Ons het hom probeer
keer, omdat hy ONS nie volg nie.')
Vers 42 sluit antiteties by vers 41 (en vers 37)
aan: Jesus sê wat sal gebeur met elkeen
wat sy volgelinge benadeel, in plaas van bevoordeel (vers 41). Die 'kleintjies' (mikroi) is dieselfde as die 'kindjie' (paidion) van vers 37:
diegene wat hulle eie geringheid voor God besef omdat hulle in die
samelewing ook nie geag word nie. In
gemeenteverband kan dit letterlik die kinders wees, die 'minste' in die opset
van die sinagoge (sien verlede week).
Jesus se uitspraak is beide 'n waarskuwing en bemoediging teenoor die
dissipels: hulle is in God se bewarende hand as kinders/kleintjies, maar sodra
hulle die geringes in die gemeente laat struikel, is God se oordeel oor
hulle. Presies wat hierdie
struikeling/afvalligheid is, is nie op die oogaf duidelik nie.
Vers 42 word ook beskou as die inleiding tot 42-48,
en dus 'n oorgangsvers. Dit gaan hier
oor die lede van die liggaam wat, sodra hulle 'n struikelblok word, van die
liggaam afgesny moet word. Indien dit
letterlik verstaan word as van toepassing op elke indiwidu, het ons
natuurliklik probleme, en is verklaarders gou om daarop te wys die bedoeling is
nie selfverminking nie, maar die radikale afsê van dit wat so kosbaar word dat
dit inderwaarheid Christus vervang het.
Volgens
Ched Meyers gaan dit egter nie oor individue nie, maar oor die gemeente as
liggaam. Die lede wat afgesny moet
word, is die verraaiers van die gemeente in krisistye, ter wille van die behoud
van die res van die liggaam (gemeente).
Meyers sê die groot gevaar vir die kerk is eksklusiwiteit wat op twee
wyses na vore kom: buitestanders word summier 'afgesny' (vers 38-41), terwyl die mense binne
onkrities aanvaar word. Jesus se
antwoord spreek beide kante van die gevaar aan. Anders gestel: die gevaar/fout is dat die eie groep onkrities
gelyk gestel word aan die kinders van die koninkryk. 'n Kerk waar dit so daaraan toegaan, word 'in die hel gegooi', of te wel, ondervind
later dat God/Christus nie meer in hulle midde is nie; geen toekoms het
nie. Die simboliek van die hel, die
onsterflike wurm en die onblusbare vuur, is na aanleiding van die Hinnom-dal
buite Jerusalem wat as afvalhoop gedien het waarop lyke weggegooi is. Dié onwelriekende plek het natuurlik van die
wurms gewemel en is gereeld aan die brand gesteek. Dit was prakties gesproke 'n ope krematorium. Geen been van so 'n lyk kon op die ou end
geïdentifiseer word nie. Vir die Joodse
gemoed was daar geen hoop op die opstanding vir iemand wat gesterf en hier beland
het nie.
Die
korporatiewe verstaan van 41-48 maak sin teen die agtergrond van die hele
gesprek, maar loop hom effe vas teen die uitsprake van Jesus oor die helse
vuur. Kan dit regtig van toepassing
gemaak word op die gemeente as sulks?
Ons sal moet aanvaar dat die teks in die geskiedenis van sy
interpretasie van toepassing gemaak is op die indiwidu, en dat dit nog steeds
'n legitieme interpretasiemoontlikheid is.
Vers 49-50 het verskeie teksvariasies. Dit word saamgegroepeer, maar kan uiteenlopende
opmerkings wees. Uit die latere glos by vers 49 'en elke offer sal met sout
gesout word' (OAV), blyk byvoorbeeld dat die 'masjal' van sout en vuur reeds in die vroeë handskrifte nie meer
verstaan is nie (Herder), en dat die teks aangepas is by die latere verstaan
daarvan. Vers 50a en 50b kon dalk
onafhanklike uitsprake gewees het (NCB).
Die interpretasie is dus moeilik.
Sout en vuur word gewoonlik simbolies verstaan as middels van behoud en
reiniging. Die laaste uitspraak van
Jesus dat die dissipels vrede onder mekaar moet hou, slaan dalk terug op die
onderlinge argumentasie (en stryd?) oor wie die belangrikste is (vers 34). So 'n stryd sal net voorkom word indien die
loutering van die vuur en die behoudende krag van die sout aan die werk is.
Vandag se
perikoop is nou verbonde aan dié van verlede week (vers 30-37) in die sin dat
die gedeelte vers 33-50 as 'n deurlopende, ononderbroke, gesprek opgeteken is
deur Markus (of sy redaktors). Dit is
moontlik kategetiese materiaal in die vroeë gemeente wat deur die sleutelwoorde
(“Stichwörter”, “catch words”) “in die/my naam”, “struikel(blok)”, “vuur” en “sout”
aaneengeryg is. Vir die breër verband
waarin hierdie gedeelte in Markus voorkom, moet u asseblief teruggaan na
verlede week se preekstudie. In kort kom dit daarop neer dat die misopvatting
by die dissipels oor Jesus se sending en die doel en inhoud van hulle
dissipelskap hier na vore kom. Johannes
(vers 38) is die spreker namens al die dissipels ('ons'). Die res van die
perikoop word gestruktureer as Jesus se antwoord. Ons moet die keuse maak om te konsentreer op een of meer van die
losstaande uitsprake, of probeer om een sentrale tema te ontdek. Elkeen van dié metodes het hulle
nadele. Vir ons doel kies ek laasgenoemde moontlikheid omdat dit myns
insiens die hooflyn van Markus se boodskap beter verreken.
Die
dissipels by monde van Johannes, dink eksklusief. Let op die 'ons' (ons het hom
belet omdat hy ons nie volg nie). In
die meeste Engelse vertalings lui dit min of meer: '…because he is not one of us/our group'. Die buitestander wat
nie deel is van die ons-groep nie, word vanselfsprekend gereken as 'n
teenstander. Jesus word vanselfsprekend
gereken by die 'ons', en die 'ons' by Jesus – wanneer dit gaan oor sigbare mag
oor die duiwels! (Wanneer dit gaan oor
lyding, is die identifisering glad nie
vanselfsprekend nie, inteendeel!)
Jesus, sy Naam, sy mag oor die duiwels, sy belangrikheid/grootheid word
deur die dissipels opgeëis as hulle s'n.
Ja, in Naam is Hy die Meester, volg hulle Hom. Maar in werklikheid is hulle nie meer die volgelinge nie, maar
die voorlopers onder die vaandel van Jesus se (kragtige) Naam. Hulle probleem met die vreemdeling is nie
net dat hy in Jesus se Naam duiwels uitdryf nie (wat hulle nie kon regkry nie! –
9:18) maar dat hy hulle nie volg nie.
(Die teksvariasies waar die woorde 'wat ons nie volg nie' herhaal word
(sien die ou vertaling), spruit waarskynlik uit hierdie waarneming: dat dit die crux van die probleem is:
hy volg ons nie.) Daarom belet/verbied hulle die
duiweluitdrywer om verder voort te gaan met die werk – net soos hulle net
hierna die kindertjies verbied om na Jesus te kom (10:13-16). Die eksklusivisme van die dissipels word
ontbloot. Die sukses van die
buitestander in die lig van hulle eie vroeëre mislukking, is 'n bedreiging vir
hulle status.
Jesus se
antwoord kan as universalisme vertolk word: dat elkeen buite die
kerk/dissipelkring deel het aan die saligheid/koninkryk; dat die koninkryk
sonder meer alle mense insluit. Hier is
naamlik deurlopend sprake van 'elkeen' (vers 37, 39 – in die negatief, 41, 42, 49). Die teks is egter nie 'n begronding vir universalisme nie. Die duiweluitdrywer en water-uitdeler doen
wat hulle doen in Jesus se Naam, en met die oog op die welsyn van Jesus se
volgelinge. Hulle is bewus van Jesus se
aanspraak as messias, en dien Hom en sy kerk omdat hulle Hom as Heer
erken. En vanuit sy krag. Hulle staan in der daad nie neutraal nie,
maar vir Jesus (en sy dissipels – hoe verkeerd die dissipels ookal mag wees in
hulle verstaan van Jesus!). Jesus se
antwoord is bedoel as 'n korreksie op die dissipels se ideologiese denke en
statusbeheptheid.
In hierdie
lig sou dit verkeerd en onvanpas wees om vers 42-48 as teks vir 'n 'hell and brimstone'-preek te
gebruik. Ons moet dit eerder probeer
interpreteer as die res van Jesus se antwoord.
Meyers se voorstel dat die hier gaan oor die gemeente as geheel, is
aanvaarbaar, sonder om daarmee die indiwidu uit die oog te verloor. Die ideologiese 'ons'-denke van die dissipels
lei naamlik tot twee foute: mense wat
nie konformeer met die 'ons' nie, in besonder hulle wat 'ons' mislukkings
uitwys, word uitgesluit/afgesny, selfs
(as dit kan) uit die koninkryk! Aan
die ander kant ontbreek selfkritiek by
'ons' (al meer), tot op die punt dat daar lede is wat afvallig raak en
die res afvallig maak van Christus, sonder dat hulle ooit getug word. Of meer persoonlik: persoonlike denke en gevoelens wat struikeling
vir andere, vernaamlik die 'kleintjies' (vers 42) veroorsaak, gaan tugteloos,
ongebreideld voort. Op so 'n punt moet
die kerk en Christene baie duidelik weet hulle is nie meer op die pad van Jesus
nie, maar op die helse pad. Waar Jesus
Homself totaal en al van hulle 'ons' distansieer..
Jesus roep
dus op tot selfkritiek, kritiek na binne (42-48), in plaas van die voortdurende
en skerpe kritiek na buite (38). Die metafore van die meulsteen om die nek, om
gegooi te word in die see, die helse vuur en wurm wat nie sterf nie, is bedoel
as 'n skoktaktiek om die volle aandag te kry en die erns van die saak te
onderstreep. Op een of ander wyse moet
dit in die preek verreken word sonder om mense te dreig of van die hoofpunt af
te wyk, naamlik 'n heelhartige verbintenis tot God se heerskappy.
In
aansluiting hierby kan vers 49-50 verstaan word as 'n waarskuwing van Jesus dat
louterende vervolging voor die deur is. Die dissipels word vermaan om nie hulle
eie-aard as kerk (die soutfunksie) prys te gee en voor die druk van die
standaarde en etos van die dominante sosiale strukture te swig nie. As die sout laf word, kan dit nie meer smaak
gee en bederf weer nie. Slegs deur
hulle uniekheid as navolgers van die lydende Seun van die Mens te behou, sal
die dissipels in staat wees om die omringende kultuur te beïnvloed. Dit is geensins 'n maklike taak nie, nie vir
die oorspronklike dissipels nie, en ook nie vir die lateres nie. Dis egter presies vir hierdie rede dat hulle
uitgekies is – nie ter wille van status nie, maar vir diens.
Die finale
bevel is tydig: 'leef in vrede met
mekaar'. As die toekoms loutering
inhou, is daar geen plek vir onderonsies oor wie die belangrikste is nie. 'Gesoute'
Christene kan dit nie alleen maak nie, maar het mekaar nodig in die
gemeenskap van herinnering en hoop.
Die
volgende is moontlike temas en invalshoeke van waaruit die teks gepreek sou kon
word:
Hoeveel
onse in jou pond? – om lidmate te laat nadink wie 'ons' (die groep waarin mense tuis is)
is en hoe hulle lyk. Die dissipels in
die Markus storie aanvaar dat ons by Jesus is, omdat ons aan die begin alles
gelos en Hom gevolg het. Die insident met die buitestander ('Ons het hom
verbied omdat hy ons nie volg nie'), en Jesus se reaksie daarop, onthul wie ons
eintlik is: Jesus is nog by ons, maar ons gee die pas aan en beskerm sy eer soos
ons goeddink. Jesus word die geëerde
gelukbringer (mascot), vir wie ons beheer.
Sy beheer, sy krag deur ons, ontbreek
(9:18). Dit lei tot vrees en
verleentheid, en maak dat ons al meer beheer en sê wil hê oral waar daar sprake
van Jesus is. Hierdie 'ons' is lankal
nie meer krities na binne nie, en is voortdurend uit op kritiek na buite, ter
wille van die groep se behoud. Jesus se
waarskuwing is 'n genadewoord: loutering, lyding, die vuurproef, die sout wat
reinig, wag. Maar juis daarom moet dissipels agter Jesus aan in ambisievrye
vrede met mekaar leef.
Is Jesus
nog in hierdie kerk? Om lidmate te
laat nadink of die kerk/groep/lidmaat
nog op die pad van selfverloëning agter Jesus aanloop, en of hulle alreeds op
die 'hellepad' sonder Jesus en sonder God is.
Die vraag ' Is Jesus nog in hierdie kerk?' is verkeerd. Dit moet wees: Is hierdie kerk nog by Jesus?
So 'n kerk dink anders oor hulleself,
oor buitestanders, oor Jesus se eer en goeie Naam. Oor belangrikheid en beheer en kontrole. So 'n kerk oordeel na binne, en nie na buite
nie.
Kom ons kyk
deur ander oë na die kerk…
Die
doel: om lidmate 'n kykie te gee in wat
buitestanders van die kerk (eintlike: ons) dink, en hoe Jesus/God die kerk
sien, om so tot 'n nuwe siening van onsself te kom – en selftug toe te
pas.
'n Goeie
volgorde sou wees: 1. Hoe ons onsself tans sien 2. Hoe buitestanders ons sien 3. Hoe Jesus/God ons sien 4.
Hoe ons onsself nou sien deur die oë van die God en hulle daar
buite.
Die teks
self of die huidige situasie sou as
vertrekpunt geneem kan word. Omdat
mense dit moeilik vind om aan die dink te kom oor hulleself, sou dit miskien gerade wees dat lidmate
vanuit die teks begin. Die moontlikheid
vir 'n meditatiewe aanbieding is goed.
Lidmate word gevra (en gehelp deur 'n kort agtergrond ) om te
visualiseer hoe die dissipels (of Johannes) moes voel, wat die buitestander-duiweluitdrywer van die
dissipels moes dink die oomblik toe hy gekonfronteer is, en hoe Jesus daaroor
moes voel.
Indien die
situasie daarvoor geskik is, kan verskillende groepe te gelyker tyd besig wees
om vanuit die verskeie hoeke die saak te beskou, en daarna aan die groot groep
te rapporteer. Die doel is egter om 'n
nuwe siening van die eie groep te hê deur die oë van buite af, ten einde te kom
tot selfkritiek.
Indien 'n
geskikte persoon gevind kan word wat as buitestander eerlike kritiek op
kerkmense se negatiwiteit, vooroordele, vrese, kleinlikheid, benepenheid,
magshonger, elitisme of eksklusiwisme kan lewer, sou dit baie goed wees. (Die
buitestander kan 'n buite-kerklike wees, iemand van 'n ander kerk of geloof,
of 'n lidmaat van 'n ander kerk in die
NG-familie.) Die blootstelling van die
gemeente aan moontlike onvriendelike en onbillike kritiek behoort nie vir ons
af te skrik nie. Dis juis 'n toets vir
die mate van openheid wat daar is of ontbreek.
Hoe groter die skokeffek van so 'n blootstelling, hoe nodiger het die
gemeente dit gehad! Verstarde ideologie
kan net oopgebreek word deur een of ander skok. (Jesus doen dit deur die gebruik
van skokkende simbolisme.)
Dis egter
nodig – vir die in-groep en buitestanders – dat ons deur Jesus se oë moet kyk
na onsself. Hier kan dan oorgegaan word
tot woordverkondiging, in aansluiting by die onthullinge wat gemaak is – en
dalk die reaksie daarop! Die preek
spreek op die ou end vertroostend tot buitestanders (wat ook gemeentelede kan
wees wat elke Sondag in die kerk is!), en sit hopelik die in-groep aan die
dink.
Bibliografie
Kommentare:
sien by vorige Sondag
Preekhulpe en ander werke:
Gepredigt den Völkern, Band 5, 1970, pp 210-212 (Markus 9:43-48), Golwitzer, H, Zuspruch und Anspruch Neue Folge, pp 139-146 (Preke 1954-68, Markus 9:49), Chr Kaiser Verlag; Göttinger Predigtmeditationen, Jaargang 60, Band 4, Apr 1971, pp 313-319 (Karl Martin Fischer oor Markus 9:43-48 – Sondag na Trinitatis), Predigt Studien V/2, 1972/73, pp 135-138 (Thomas Bonnhoeffer oor Markus 9:43-48 – Sewende Sondag na Trinitatis); Augsburg Sermons, Gospel Series B, 1975, pp 243-247 (Paul G Bretscher oor Markus 9:38-50), Achtemeier, PJ, 1986, Proclamation Commentaries: The Gospel of Mark, Fortress Press