Markus 9: 30-37 (Wynand Retief)

24 September 2000

Veertiende Sondag in Koninkrykstyd

           

Ander tekste:            Spreuke 31: 10-31; Psalm 1; Jakobus 3: 13-4:10

Die ordes en rangordes van die koninkryk is radikaal anders as die wêreld s'n.  Die belangrikstes en invloedrykstes van die wêreld is die onbelangrikstes in die koninkryk, en omgekeerd.

Teks

Vers 30-37 bevat nie noemenswaardige tekskritiese of grammatikale probleme nie. In vers 31 is die agent van die passiewe werkwoord “oorgelewer” (paradidontai) God is gelyk aan God lewer Jesus oor in mense se hande (= mag).  Die logiese verband tussen 35, 36 en 37 is met die eerste oogopslag onduidelik. Vers 35 gee te kenne dat dit die dissipels (soos dit die geval is met Jesus)  die gesindheid van 'n kind moet hê  (vgl Matt 18:3vv, Mark 10:15, Luk 14:11, 18:14).  Vers 36-37 het dit egter oor die gesindheid van die "grootmense" teenoor die kind. Dit gaan nie hier om sogenaamde kinderlike naïewiteit of onskuld of  vertroue nie, maar oor status.  In die destydse  wêreld het die kind geen status/aansien geniet nie, en  was sprekend van die “laaste/minste”.  Christene is baie keer "kinders" genoem deur die samelewing en veral die sinagoge . Binne die vroeë kerk  het hierdie, in plaas van 'n spotnaam, 'n erenaam geword, en so sy oorspronklike betekenis verloor.  (En daardeur is die Bybelse boodskap van kind-wees begin misverstaan as sou dit dui op onskuld, kinderlike vertroue of  naïewiteit.)

Jesus self is natuurlik by uitstek die “laaste” en “almal se dienaar” (vgl 10:45). Daarom, wie so ‘n kindjie ontvang/verwelkom, doen dit in werklikheid aan Jesus, en dus aan God.  In die woorde van Anderson: Jesus identifiseer Homself met hierdie kind, met die noodlydende dissipel wat nie streef na status nie. Om so ‘n dissipel te ontvang in sy kleinheid en geringheid is om op die evangelie van die lydende Seun van die mens te reageer. En om so te reageer op die evangelie wat deur sulke mense gebring word, is om te reageer op God. Aldus Anderson. 

Dit gaan dus oor identifisering met die minste/geringste, in die sin dat kerkmense afbuk na en saam met die wat reeds afgebuk het.  Dat Christene soveel aandag aan die geringstes gee dat hulle op 'n radikale manier self gering word.  Dat die kerk met ope arms die magteloses omarm, só dat  die kerk self deel van die magteloses  word.  Volgens Jesus is Hyself en inderdaad God self  in die sentrum van hierdie kring van magtelose "kinders". 

Konteks

Die interpretasie van die preekteks hang baie nou saam met die breër verband waarin Markus hierdie perikoop/perikope geplaas het. Die Markus-evangelie val breedweg uiteen in drie groot blokke:  Hoofstuk 1-8 (Jesus die Wonderwerker), Hoofstuk 8-10 (Jesus die Leraar) en Hoofstuk  11-16 (Jesus se laaste week in Jerusalem). Die middel blok, waarbinne ons perikoop val, word omraam deur twee berigte van genesings van blindes (8:22-26 en 10:46-52). Omdat dit ‘n strukturele tegniek van Markus is om ‘n storie binne ‘n raamwerk te plaas waarbinne die storie geïnterpreteer moet word, moet dit ook met 8:23-10:45 gebeur.  Dit sou beteken dat niemand (geen dissipel, hoe na ook al aan Jesus) Jesus se lering kan verstaan voordat hulle oë deur ‘n goddelike wonder geopen is nie.

Binne hierdie middel blok leer Jesus die dissipels dat Hy gaan ly, sterf en weer opstaan uit die dood. Drie maal herhaal Hy sy lering (8:31, 9:30-32 en 10:33-34). Telkens is die dissipels se respons dié van totale onbegrip (8:32-33, 9:33-34,  10:35-41).  Elke keer gaan Jesus egter voort om die dissipels te leer wat die aard van dissipelskap is (8:34-38, 9:35-37 en 10:42-45).  Dit word weer opgevolg deur ‘n beskrywing of storie oor Jesus se andersheid en bomenslike krag – wat mense verwar en wat hulle nie verstaan nie (9:2-29 = die verheerliking op die berg en genesing van die doofstom seun;   9:38-41 = die krag van Jesus se naam in die wêreld;   10:46-52 = die genesing van die blinde Bartimeus). 

Markus 9:30-37 gaan dus oor Jesus se lering oor Homself en sy toekoms (30-32), die dissipels se onbegrip  hiervan  (33-34), en Jesus se lering oor die aard van dissipelskap (35-37). Dis die middelste van drie soortgelyke patrone in 8:31-38 en 10:33-45. Genoemde gedeeltes help ons dus om 9:30-37 te interpreteer. Die drieledige herhaling dui op die erns van Jesus om dié sake by sy dissipels tuis te bring, en die dissipels se totale onvermoë (hulle blindheid) om sy lyding, dood en opstanding en hulle eie weg agter Jesus aan te verstaan.

Die aanduiding van plekname in die drie genoemde gedeeltes dui daarop dat Jesus op weg is na sy eindbestemming: eers by die dorpies in Sesarea-Filippi (8:27),  daarna deur Galilea (9:30) (en in Kapernaum – v 33), en op pad na Jerusalem (10:32). Dis die weg waarop die dissipels se vrees toeneem en hulle onvermoë om te begryp, vererger,  ten spyte daarvan dat Jesus spesiaal moeite doen om privaat vir hulle te onderrig (4:10, 34; 7:17, 9:28,  30-33, 10:10 ). 

Hierdie tema van onbegrip en vrees by die mense, ook  (in besonder?) die dissipels, loop in ‘n stygende lyn deur Markus. In hierdie verband is daar twee opmerkings van Achtemeier wat in ag geneem moet word vir die uitleg van die teks: 

Jesus kan nie verstaan word voor sy finale lot nie bekend is nie. Op hierdie stadium in die verhaal het die dissipels dit nog nie gesien nie. Hulle onbegrip is dus nie ‘n psigologiese saak nie, maar gegrond op Markus se Christologie. 'The disciples fail to understand Jesus apart from knowledge and acknowledgement of his suffering.'  (p 112).  Op die ou end is dit nie net Jesus se lyding en dood wat raakgesien en erken moet word nie, maar ook sy opstanding. Aan die einde van die Markus-verhaal (16:8) vlug die vroue in vrees weg omdat hulle Jesus se opstanding nie begryp of erken nie. 'Dead or alive, Mark seems to say, Jesus remains the one finally beyond our understanding.' (p 113).

Markus se beeld van die dissipels is nie eenvoudig negatief nie, maar ‘n gekompliseerde prentjie. Die dissipels het alles verlaat om Jesus te volg (1:16-20), en wanneer hulle Hom daaraan herinner, is sy reaksie dat as hulle dit ter wille van die evangelie gedoen het, hulle saam met vervolging, die ewige lewe sal kry (10:28-30). Die dissipels se motiewe kan bevraagteken word, maar die feit is dat hulle ten spyte van toenemende onbegrip en selfs vrees, volhou om Jesus te volg.  Die Markusevangelie is vir sulke mense geskryf, mense wat bereid is om Jesus te volg, al verstaan hulle Hom nie, en al verstaan hulle hulle navolging soms (hoe langer hoe meer!) baie sleg.

Een van die (belangrikste) redes vir die dissipels se onbegrip, lê in die godsdienstige konteks waarin hulle opgegroei het.  

Uit die eerste lydensaankondiging, Petrus se reaksie daarop, en Jesus se reaksie op Petrus (8:31-33) kan afgelei word dat dit 'wat die mense wil hê' ‘n Messias is wat sonder lyding die mag sal oorneem. Dit is so ‘n magsfiguur wat die dissipels gemotiveer het om aan te hou om Jesus te volg, en terselfdertyd dit vir hulle al hoe moeiliker en onbegrypliker gemaak het om Hom te volg.

Die onderlinge gesprek op die pad oor wie die belangrikste/grootste is (v 33-34), met ander woorde die vraag na rang en voorrang  binne die godsdienstige gemeenskap, was blykbaar ‘n algemene besprekingspunt by die sinagoge, godsdienstige tribunale en maaltye waar die vromes byeen was, soos wat ook na vore kom uit die Qumran-geskrifte. Die eschatos (laaste) (v 35) was die laagste in rang – moontlik die nuweling, gewoonlik die kind wat sopas in die geloofsgemeenskap opgeneem is. Die eschatos was dan ook in die praktyk “almal se dienaar” (diakonos). So 'n nuweling het mettertyd uit ‘n diensposisie gegroei na ‘n ampsposisie binne die gemeenskap, tot uiteindelik die “belangrikste” of “eerste” in rang/status.  Om te aspireer na hierdie posisie, is dus nie beleef as hoogmoed (soos sommige kommentatore en predikers dit stel) nie, maar godsdienstige voortreflikheid. Die dissipels is bes moontlik besig om die saak te bespreek wat, binne hulle verstaan , die hart van dissipelskap, van kerkwees, raak, naamlik wie die 'eerbiedwaardigste' lid van die dissipelkring is.

Binne die destydse (godsdienstige) kultuur was Jesus se woorde dus rewolusionêr: 'n totale ommekeer van tradisionele rangorde.  (Miskien daarom  dat die evangeliste Jesus se uitspraak "Wie eerste is, sal laaste wees" so dikwels herhaal.)  Binne die konteks van die drie uitsprake van Jesus oor sy lyding, dood en opstanding,  word dit duidelik dat Jesus se uitspraak in 35-37 verstaan moet word in samehang met sy vorige uitspraak in 31: Jesus word die geringste /minste  ('n kind) – tot in die dood.  God maak Hom inderdaad op hierdie wyse 'n "kind".  Jesus se woorde is dus  vir die dissipels se begrip nie net rewolusionêr nie, maar ekstreem:  die Messias /Seun van die mens wat  (volgens Goddelike opdrag en profetiese belofte!) gedien sal en moet word,  sal (nie net deur mense nie, maar deur God!) oorgelewer word om doodgemaak te word.  Daarom verstaan hulle Jesus doodeenvoudig nie.  Hy is wat hulle betref in teenspraak met die godsdienstige tradisie in alle opsigte: die Skrifuitleg en praktyk van die sinagoge.  Jesus se uitspraak dat Hy op die derde dag (na sy dood) sal opstaan, is vir hulle 'n raaisel,  want die leer van die opstanding (wat net in sekere groepe gehuldig is) was dié van die opstanding na die eindoordeel.

Preekvoorstelle

Vier duidelike temas struktureer die teks, naamlik: die weg,  misverstand en vrees,  belangrikheid/grootheid en die voorbeeld van die kind.   Die preek kan enige van hierdie temas as invalshoek gebruik,  die spesifieke tema ontwikkel, en dan van die ander temas aansny.  Die volgende is preekmoontlikhede vanuit:

'Die weg'   van dissipelskap, lyding, die kruis, die minste wees, almal se dienaar wees.  Markus vertel: uit eie keuse, en teen wil en dank, is ons as Christene/kerk op hierdie weg.  Dis 'n weg waar ons keer op keer moet hoor van sy lyding, sterwe en opstanding.  En dit nie verstaan nie, of dit dalk (onbewustelik) so goed verstaan dat ons dit vrees, en onder mekaar begin praat van 'n ander weg, dié van belangrik wees, van rangorde, van wie gedien moet word, wie die mag in die hande het. Dis 'n weg wat, hoe verder, hoe meer, werklike lyding inhou.  Die hoogtepunt is die laagtepunt (dieptepunt) – die kruis.  In teenstelling met ons idee dat dit al hoe beter en gemakliker met mekaar en met Jesus moet gaan, gaan dit al moeiliker.  Jesus praat natuurlik ook van opstanding, maar na die dood.  En dit verstaan ons ook nie.  Jesus self open egter sy kerk, sy dissipels, se oë soos wat Hy gedoen het met die blindes (8:22-25; 10:46-52). 

'Misverstand en vrees'.  Markus vertel vir ons:  hoe langer die dissipels in Jesus se geselskap is, hoe groter word die misverstand.  Hy praat van lyding; hulle verstaan dit blykbaar glad nie.  Hulle sien in Hom dié leier, die sterk man, die kandidaat om dinge reg te ruk, om die onderdrukkende Romeinse bewind omver te werp en die ryk van Dawid van ouds weer op te rig.  En nou, op die vooraand van die bewindsoorname sê Jesus Hy is nie beskikbaar vir hierdie werk nie. Hy is van die begin af nie deel van die politieke wedloop nie.  Onverstaanbaar!  Al wat die dissipels aanvoel, is dat die bodem besig is om uit te val.  Dat hulle bootjie sonder stuurman besig is om te sink. Dat die volk in die steek gelaat word. Hulle is bang vir magteloosheid en lyding.  Heel moontlik is Jesus se lydensaankondiging juis die motivering hoekom hulle onder mekaar praat van belangrikheid/rangorde.  Iets moet gedoen word.  Iemand moet die leiding neem.  Daar moet 'n leier wees om minstens met Jesus te gaan praat, te probeer om 'sense' in sy kop in te praat.  Of so nie, die leiding totaal en al by Hom oor te neem.  Daarom die onderlinge gesels op die pad, die insinuasies:  wie is die grootste, die belangrikste? Wie kan ons (kerk, land, volk) red? 

Markus is geskryf in simpatie met sulke mense (soos ons in ons situasie vandag).  Dis menslik om 'sterk' leiers te soek in krisistye.  Om die orde weer te probeer herstel deurdat elkeen sy plek ken. (Dit was 'n ope en deurlopende gesprek en wedywering in die sinagoge wie die eerste en wie die laaste is, ook ter wille van die goeie orde.)   In die Jesus-gemeenskap wys die Leier egter 'n ander weg aan, loop self voor en roep sy kerk om Hom te volg.  Veral in tye van al groter wordende krisis, onsekerheid, en gevoel van magteloosheid.  Dit bly vir dissipels onverstaanbaar en angswekkend.  Maar dis die manier hoe God die wêreld red.  Deur selfoorgawe en diens.  En die identifisering met hulle wat magteloos en sonder status is. 

'Grootheid/belangrikheid/rangorde'.   Die vraag hierna onder die dissipels oor wie die belangrikste, die grootste, die eerste in rang was, was eintlik nie iets waaroor hulle hulle in die gewone samelewing en sinagoge hoef te geskaam het nie.   Dit was die voortdurende gesprek.  Wie is die beginners?  En wie is die veterane?  Wie is die leiers en wie die volgelinge?  Wie is die wat gerespekteer behoort te word, meer as die ander? Wie is die eerbiedwaardigste?  Diegene met die meeste mag, die grootste sê, die meeste invloed?

Die samelewing en geloofsgemeenskap word op grond van hierdie waardes gestruktureer.  Dit gee sekerheid en stabiliteit as ons weet wie is baas en wie is klaas.  Wie het aanspraak om gedien te word en wie moet die vuil werk doen. 

Natuurlik gee dit maklik 'n stryd af waarin dit ook nie saak maak wie getrap word en om watter redes die belangrikste bo uitkom nie.  Mense kan maar in die proses so 'n bietjie seerkry, solank die samelewingstrukture net intak bly.  So werk die demokrasie.  Die ekonomie.  En ook die kerk wat 'n rol wil speel in so 'n samelewing.  So redeneer ons.  So doen ons, want dit pas ook in ons sondige aard.

In Jesus se teenwoordigheid raak die dissipels egter skielik stom verleë oor so 'n instelling.  Hulle voel aan dis nie Jesus se styl nie.  Eintlik moet hulle weet:  dis net mooi die teenoorgestelde van wat Jesus so pas gesê het oor die pad van lyding.  (Dalk juis die reaksie daarop!)   Jesus keer die orde totaal en al om.  Wie aspireer na 'n eerste plek in die koninkryk, moet die minste wees, almal se dienaar.  En bereid wees om die minste ('n kind) te verwelkom; om 'n mens wat vir jou nie kan terugbetaal nie, te bedien.  Wie dit doen, sal vind dat Jesus, dat God self, in so 'n gemeenskap teenwoordig is. 

''n Kind'.  As Jesus vandag 'n kind vir ons sou voorhou,  sou ons dink Hy verwys na kinderlike vertroue of onskuld of naïewiteit.  Maar in sy dag het die dissipels verstaan: hier staan in lewende lywe die verpersoonliking van die minste, die laaste en laagste in orde.  'n Kind het nie status nie,  tel nie, is beskou as 'n soort laspos. Die rabbi's het geleer:  'n Belangrike en wyse man hou hom nie op met kinders en kinders se praatjies nie. Hulle het geleer: oggendslapies, wyn in die middel van die dag, onkundige mense en kinders se geselskap is nie vir manne bedoel nie; dit verban jou uit die wêreld van goeie geselskap. Maar hier bring Jesus 'n kind in hulle geselskap in. En dan sê Jesus:  Elkeen wat so 'n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het. (In ander gedeeltes sê Jesus dat sy dissipels soos die kind moet word.)  Jesus sê  hier, almal wat die mense sonder status,  magtelose mense, die klein mensies op die rand van die samelewing ontvang, hulle verwelkom, met hulle identifiseer,  is besig om in werklikheid vir Jesus en daarmee vir God te verwelkom.  Want God is in hierdie wêreld nie in die gestalte van die magtiges, die belangrikes, teenwoordig soos ons dink nie, maar in die persoon van Jesus,  in die gestalte van die magtelose/s.  God staan by jou deur in die mense wat vir jou nie kan vergoed nie, niks vir jou kan terugdoen nie.  Nie iets vir die samelewing of die kerk kan beteken in ons terme nie.

Deur die eeue het die kerk van die Here hierdie woord gehoor, en dit probeer doen – sonder 'n hartsverandering.  Die gedagtes van die harte, die binnekring geselsies, bly nog dieselfde:  wie is die belangrikste?  Wie het die mag in die hand?  Wie is die eerbiedwaardigste van ons? En met so 'n hart loop die verwelkoming van die minstes altyd uit op groot pyn en verleentheid vir hulle.  Want hier bevind hulle hulle in 'n kring, in 'n kerk, wat hulle ingetrek het, net om op 'n subtiele manier oor hulle te heers.  Hulle bewus te hou van hulle armoede.  Hulle afhanklik te hou van "handouts".  Hulle as 't ware aan te hou net om die gewete van die belangrike mense stil te hou.  Ons noem dit vandag paternalisme.  Vaderlikheid.  Daar is die eerbiedwaardige vaders (en moeders) wat afbuk na die 'kinders' en maar net altyd vir hulle gee. En hulle moet net dankbaar en tevrede wees dat hulle kinders is.  En so bly hulle:  kinders.  Nooit word hulle werklik broers en susters nie.  En dan bly die vraag na waar Jesus en waar God ten opsigte van so 'n gemeente/kerk staan.  Nog buite?!

 

 

Bibliografie

Kommentare:  

Groenewald, EP, 1973:  Die evangelie volgens Markus,  NG Kerk-Uitgewers; Klostermann, E, 1971:  Handbuch zum Neues Testament, das Markusevangelium, Tübingen;  Pesch, R:  Herders Kommentar zum NT II/2;  Anderson, H, 1976:  New Century Bible Commentary;  Meyers, C,  1988: Binding the Strong Man, a political reading of Mark’s story of Jesus,  Orbis Books;   Soards, M et al, 1993:  Schweizer, E, 1976:  Das Neue Testament Deutsch  (Markus),  Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen;  Preaching the Revised Common Lectionary (Year B, After Pentecost 2), Abingdon Press;  Breuggemann, W et al, 1993:  Texts for Preaching, A Lectionary Commentary Based on the NRSV – Year B,  Westminster/ John Knox.

Preekhulpe en ander werke:

Interpretation, volume 30, 1976, pp 178-183; Folge der Nachfolge, Miteinander im Lebensraum Christi, 1979, JF Steinkopf Verlag, Stuttgart,  pp 60-65  (Richard Kötter en Hans Nagel oor Markus 9:33-37);  Busch,  W,  1975 (derde druk),   Angefochtene Gottesknechte in der Seelsorge Gottes, pp 92-97,  Schriftenmissionsverlag, Gladbeck  (Markus 9:33-34), Achtemeier, PJ, 1986, Proclamation Commentaries: The structure of the Gospel of Mark,  Fortress Press