Markus 8:31-38 (Johan van der Merwe)

19 Maart 2000

Tweede Sondag in Lydenstyd

 

Ander tekste: Genesis 17:1-167; 15-16; Psalm 22:23-31 (24-32); Romeine 4:13-25

Om van Jesus te weet en naby Hom te wees, is nog nie ‘n waarborg dat jy iets van Hom verstaan nie.

Teks en konteks

Markus 8:27 word algemeen beskou as die skarnier van die Markusevangelie.  Die lydensweg van Jesus begin hier en die klem verskuif van Jesus se wondertekens voor die oë van ‘n nuuskierige skare, na intieme onderrig van sy dissipels.  Ons teksgedeelte bevat die eerste van drie lydensaankondiginge (8:31;  9:31 en 10:32-33) word volgens Smit (p 90) telkens deur vier elemente gekenmerk, te wete Jesus se voorspelling, die dissipels se onbegrip, Jesus se lering om misverstand op te klaar en ‘n skets van Jesus se uniekheid en grootheid.  Die aankondiging word in ons gedeelte ook ‘n aankondiging van die dissipels se eie lydensweg wat hulle sal bewandel, doodgewoon vanuit hulle verbintenis en identifikasie met Jesus. 

Petrus is in die gedeelte die eerste voorbeeld van ‘n dissipel.  Een van die groot raaisels is hoe dit moontlik is dat Petrus pas tevore, in vers 29, die suiwerste belydenis denkbaar oor Jesus se identiteit, kon uitspreek, maar net daarna Jesus so misverstaan dat hy Hom selfs berispe as gevolg waarvan hy hom vasloop in Jesus se kras afwysing, naamlik dat Petrus die Satan personifieer.  Die dissipels vind dit moeilik om van die Joodse Messias-konsep van ‘n triomfantelike militęre leier af te sien, en Jesus as die lydende Seun van die mens te sien wat op pad is kruis toe.  Dit is geen toevalligheid nie dat die begin van Jesus se lydensweg in vers 27 volg op die genesing van die blinde in Betsaida.  Die suggestie is dat mense eers van hulle blindheid genees moet word om insig in Jesus se ware identiteit en die aard van sy taak te verkry.  Jesus wil die blindheid genees deur sy dissipels te leer oor lyding en navolging.  Die dissipels se optrede is eintlik baie ambivalent (vgl Smit p 84).  Daar is ook goeie kante aan hulle: hulle verlaat alles om Hom te volg en bly by Hom, ten spyte van  hulle onbegrip.  Maar op beslissende oomblikke oorheers hulle eiesinnige interpretasies van wie Jesus is. 

Dit is opvallend hoe die navolging van Jesus dinamies as ‘n “weg” en nie ‘n vaste “bestemming” nie aangedui word.  Reis is nie bloot die beweging van een geografiese plek na ‘n ander nie, maar wat Henri Nouwen sou noem die “downward mobility” waarmee Jesus al dieper in ons nood indaal.  In terme van die dissipels is die reis reeds “navolging” waarin hulle algaande geleer word dat daar geen ander weg as die kruisweg is nie, nie vir Jesus nie en ook nie vir hulle nie.  ‘n Noodwendige keuse lę voor die dissipels se deur tussen die twee “ideologieë” van “om te dink aan wat God wil hę” of “om te dink aan wat die mense wil hę” (v 33). 

Vers 35 se verwysing na “My en die evangelie”, dien om die skare en dissipels se verhouding tot die aardse Jesus, gelyk te stel met die destydse en huidige lesers en hoorders se verhouding tot die evangelie.  Dit is die navolging van sy woorde, leringe en die “goeie nuus” van sy koms ter wille van ons. 

In verband met die kruisdra-opdrag van Jesus, moet gewaak word teen die oorvereenvoudigende verklaring as sou ons “kruise” die ongerief, kwale of alledaagse krisisse van ons lewens wees waaraan ons niks kan doen nie en dan nou maar net moet aanvaar (“jou kruis dra”, “elke huis het sy kruis”).  Veral Bonhoeffer argumenteer in “The cost of discipleship” dat hierdie dinge maar doodgewoon die ontberinge van die węreld is, maar dat die kruis smaad en verwerping ter wille van Christus impliseer.  Die beeld wat ons voor oë moet hę, is dié van ‘n veroordeelde misdadiger wat deur die strate loop met die kruis waartoe hy veroordeel is, op sy rug.  Deur dit te dra vertoon hy sy neerbuiging voor die gesag van dié owerheid teen wie hy hom voorheen deur sy misdadigheid verset het.  As simbool is die kruis tekenend van onderwerping, gehoorsaamheid, dood, verwerping en bespotting.  Daarom sę Bonhoeffer “alleen die gelowige is gehoorsaam en alleen wie gehoorsaam is, glo”.  Gehoorsaamheid aan en navolging van Jesus, selfs met die risiko’s van verwerping en lyding in berekening gebring, is eie aan die weg saam met Hom en die beginpunt van die ervaring van volle oorgawe en die intimiteit wat daarmee gepaard gaan.  Hierdie navolging van Christus moet dus nie verwar word met ‘n defaďtistiese gelatenheid waarin alle swaarkry met selfbejammering maar aanvaar word nie.  In werklikheid is die lyding van Christus geen passiewe houding nie, maar ‘n subversiewe, byna hardkoppige vashou aan die waarheid voor die aangesig van die leuen. 

In ons konteks is die kruisdra en die eis om radikale gehoorsaamheid nog ewe relevant.  Een van die grootste vyande van die Christendom is sy eie middelmatigheid en gemaksugtigheid.  Kierkegaard skryf oor die gebrek aan lyding in die Christendom: “Tribulation is unknown nowadays among Christians, particularly the Protestants, particularly in Denmark … a progress of the same kind as the doctor’s cure in Barselstuen:  the patient died, but the fever left him entirely.” (in Smit p 101)  Al die vrae rondom die identiteit en taak van geloofsgemeenskappe en die herdefiniëring van lidmaatskap, kom hier ter sprake. 

Preekvoorstel

‘n Preek oor die gedeelte sou kon begin met die weerlegging van ons populęre beskouing van wat dit sou beteken om jou kruis te dra, naamlik enige ongemak of persoonlike krisis.  Die gedeelte kan dan in die konteks van die begin van Jesus se lydensweg geplaas word en dit kan verduidelik word as die gelyktydige aankondiging van die dissipels se “lydensweg” wat in die aard van navolging van Jesus lę. 

Dit kan aangetoon word dat ons baie gemaklik geword het in ons soort “Christenskap” (vgl Kierkegaard se aanhaling hierbo).  Skielik in die laaste tyd word weer gevra wat lidmaatskap van ‘n geloofsgemeenskap van ons vra en wat navolging van Christus beteken.  Die gemaklikheid van ons geloofslewe kan geďllustreer word met die anekdote van die man wat sy kruis opgeneem het om die Here te volg, maar dit het so swaar geword dat hy begin het om stukke daarvan af te saag.  Die kruis het ligter en ligter geword en die reis al hoe makliker.  Toe kom hy egter by ‘n wye rivier wat hy moet oorsteek en hy kon nie swem nie.  “Ek sal my kruis as vlot gebruik en oorvaar,” het hy by homself gedink.  Toe hy opklim was die kruis te lig.  Dit het met hom gesink en hy het verdrink.  Ons anoreksiese geloof is nie opgewasse vir die eise van die tyd nie.  Tiperend van ons geloof is dikwels soos die arm man eendag vir die ryk man gesę het:  “For you the gospel is very complicated, but it’s easy to be a Christian, but for me the gospel is very simple, but it is complicated to be a Christian.”  Ons vind allerlei intellektuele worstelings met die evangelie, maar worstel selde op ‘n diepgaande wyse met die eise van dissipelskap oftewel die konsekwensies van gehoorsaamheid aan Christus. 

Die beeld van die misdadiger met sy kruis as teken van hoe sy vroeëre rebellie nou plekgemaak het vir onderwerping kan hier dien as oorgang om die kruisdra as volledige identifikasie met die lydensweg van Christus te beskryf. 

Die prediker sou hom hier kon inleef in Petrus se belewing van Jesus se uitlating dat Hy moet ly en sterf.  Dit kan selfs gedramatiseer word:  hoe verontwaardig Petrus is dat Jesus so “papbroekig” kan wees, hoe geďrriteerd omdat Jesus nooit hulle goedbedoelde raad volg nie, hoe hulle alles gelos het om Hom te volg en geen beloning kry nie, maar slegs die belofte van meer swaarkry, ensovoorts.

Die eise van dissipelskap is inderdaad hoog.  So het C.S. Lewis ook geweet en geskryf:  “Christus sę:  gee my alles, ek wil nie soseer van jou geld hę of jou werk hę nie, ek wil jou hę.  Ek het nie gekom om jou ou self so bietjie op te knap nie, maar om jou ou self dood te maak.  Halfpad is nie ver genoeg nie.  Ek wil nie ‘n takkie hier en daar regsnoei nie, ek wil die boom afkap.  Ek wil nie ‘n gaatjie in ‘n tand stop of die tand kroon nie, ek wil dit uittrek.  Gee my jouself.”  (Vry vertaal uit “Beyond personality”)  Lewis vervolg egter:  “Maar Ek sal Myself vir jou gee en my wil sal joune word.”  Dis die betekenis van vers 35 se “wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.”  Die wins is Christus self! 

Dat die navolging sinvol is, kan geďllustreer word deur die “Fabel van die voëls” wat vertel hoe al die nuwe diere met die skepping rondgeloop het en die gawe van die lewe geniet het en gespog het met hulle voorkoms.  Net die voëls het niks gedoen nie behalwe geloop en kla omdat God vir hulle letterlik ‘n “las op hulle skouers” geplaas het:  daardie simpel, swaar en onooglike uitsteeksels op die rug wat geen ander dier gehad het nie.  Hoekom straf God ons so, het hulle gewonder?  Eers veel later sou ‘n paar van die meer avontuurlike voëls die “uitsteeksels” geroer het, later gefladder het en uiteindelik ontdek het dat dit wat hulle as ondraaglike las beskou het ‘n wonderlike gawe was wat hulle hulle vryheid in die lug gegee het. 

Die eise van dissipelskap dra soms die skyn van ‘n sware las.  Die geloofskuns is om dit te ontdek as dinge wat vrymaak, omdat dit jou aan Christus verbind.  Petrus het dit klaarblyklik wel veel later so verstaan, want die legende vertel mos dat hy met die vervolging van Christene in Rome uit die stad gevlug het, net om by die poort vir Jesus te ontmoet, op pad in Rome in.  “Domine, quo vadis?” (“Here, waar gaan U heen?”) het Petrus gevra, waarop Jesus antwoord dat Hy die stad ingaan om weer gekruisig te word.  Petrus sou volgens die legende net daar omgedraai het en self ‘n kruisdood te sterf, met dié verskil dat hy onderstebo gekruisig is, omdat hy aangedring het dat hy nie waardig is om soos sy Meester gekruisig te word nie.

 

Literatuur

Smit, D.J. Woord teen die lig I/8 p 73-105