SONDAG 13 JULIE 2003

Vierde sondag in koninkrykstyd

Liturgiese voorstel

Fokusteks : Markus 6:14-29

Ander tekste: 2 Samuel 6:1-19, Psalm 24, Efesiërs 1:3-14

Die teks gee nie net n historiese weergawe van Johannes die Doper se dood nie, maar wys ook hoe hy in baie opsigte deur Markus beskou is as Jesus se voorganger. " In a sense, then, this story is a forceful reminder of the manner in which humans choose to deal with Gods appointed representatives." ( Preaching the Revised Common Lectionary year B bl.108 )

Omdat daar nie n duidelike lyn loop tussen die Ou Testament en Nuwe Testament tekste sal vandag se liturgie ook bepaal word deur die fokusteks en veral die sin wat in die vorige paragraaf aangehaal word, sal n invloed hê.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Aanvangswoord/Votum

Ons glo en weet dat die Here besig is om in hierdie wêreld die tekens van sy Koninkryk op te rig deur vernuwend in elkeen van ons lewe en die samelewing te werk, selfs wanneer dit vir ons moeilik is om dit te sien. Hy tree tot ons toe selfs al probeer ons Hom soms onwetend uitsluit . God sluit egter self die deur na ons oop

Kom ons hoor die aankondiging in hierdie Psalm :

Lees

Psalm 24:7-14

Drumpelgebed

Here, onse God. In die Naam van Jesus Christus aanbid ons U. Dankie dat U deur die werking van u Heilige Gees die poorte van ons harte oopstoot. Dankie dat U ons lewens binnekom . In Jesus Christus het ons die magtige werking van u liefde gesien . U is ons Heerser en eienaar . Ons is bly en dankbaar dat ons aan U behoort en niks of niemand ons sal kan skei van u liefde nie. Amen

Aanbidding en lofliedere

Dit kan baie gepas wees om sonder aankondiging te begin met Lied 176 deur dit drie keer te sing. Omdat die Ou Testament tekste vir vandag vertel van die ark se verskuiwing kan Psalms met verwysing na die Tempel in die Sionstad ook gebruik word. (bv Ps 84, 24, 100). Die verskuiwing van die ark is die begin van n oorgang in die aanbiddingsgebeure van Israel. Dit loop uiteindelik uit op die inwyding van die tempel in Salomo se tyd.

Ander liedere is Lied 167,169/NSG 4,197,202 Die sing van die lofliedere kan ook onderbreek word sodat iemand Efesiërs 1:3-14 hardop vir die gemeente lees.

Verootmoediging

Die Samuel teks kan gebruik word as n inleiding vir n geleentheid van verootmoediging

Gee n kort verduideliking van die teks en gebruik liedere soos Lied 231/NSG61,238/NSG 216,246/NSG 18, 247 en 248.

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord/Epiklese

Here, ek wil nie meer na regs en na links kyk nie.

Ek soek nie meer my bietjie hoop nie,

Nie meer my klein lewe hier of daar nie.

Ek soek nie meer myself nie,maar net vir U.

My jare gaan verby, maar U bly.

Onttrek U nie, laat my U vind.

Ek wil loskom van selfbedrog en valse hoop.

Ek wil voor U staan.

U verwag, U vind.

U verstaan. In U glo.

Here, U bly.

En ek bly by U.

Nog dood nog lewe sal my van U skei.

Ek verwag niks meer nie as U alleen.

( Aangehaal en verkort uit "Pad van Gebed" van Jorg Zink bl.184)

Gebruik eerder die woord "ons" as "ek".

Na die Skriflesing en prediking kan, in plaas van n Geloofsbelydenis, die volgende aanhaling van Matthias Claudius in "Christus gedagtes" gelees word:

"Wie nie in Christus glo nie, moet sien kom klaar sonder Hom. Jy en ek kan nie. Ons het iemand nodig wat ons optel en vashou solank ons lewe, en wat Sy hand onder ons hoof sit wanneer ons moet sterf. Dit kan Hy doen volgens wat van Hom geskryf staan, en ons ken niemand van wie ons dit eerder wil hê nie."

uitsendING

Liedere wat gesing kan word is Lied 532/NSG 36,585,587/NSG 137

PREEKSTUDIE MARKUS 6:14-29

Teks en konteks

Markus 6:14-29 is n vertelling in drie verse (14-16), onderbreek deur n terugflits (17-29). Herodes hoor van Jesus en daar is n klomp spekulasie oor wie Hy is. Herodes se teorie is dat Jesus eintlik Johannes die Doper is wat hy laat onthoof het en wat nou uit die dood opgewek is (v 16). Onmiddellik volg daar n terugflits wat begin by die arrestasie van Johannes die Doper (v 17) en eindig by Johannes se volgelinge wat sy lyk kom wegneem en begrawe nadat hy onthoof is (v 29). Hier is dus twee verhale wat deur Markus ten nouste aan mekaar gekoppel word. Die wyse waarop die verhouding tussen die twee verhale verstaan word, is van deurslaggewende belang vir die uiteindelike prediking daarvan.

Die verhaal van Johannes die Doper se dood onderbreek die verhaal van die uitstuur en terugkeer van die dissipels, en speel af in die tydperk van Jesus se bediening in Galilea, voordat Hy na Juda en Jerusalem begin beweeg het. Markus se verhaal is altyd op weg na die kruis toe. Markus 6:14-29 antisipeer die lyding en kruisiging van Jesus. Die vertelling van Johannes die Doper is die enigste vertelling in die Markusevangelie wat nie vir Jesus insluit nie. Boonop is daar geleerdes wat meen dat Markus se vertellings oor Johannes die Doper, nie betekenis op sigself het nie, maar dat dit betekenis verkry in die lig van Jesus se lyding. Soos Johannes gely het, sal Jesus ook ly. Markus gebruik dan die vertelling oor Johannes die Doper se tragiese einde, om Jesus se tragiese einde parallel te beskryf. In die Markusevangelie is Johannes se geskiedenis n parallel van Jesus se geskiedenis. Johannes is vir Markus die voorloper van Jesus wat moes ly. Johannes is die voorloper van die nuwe koninkryk.

Die vertelling van die dood van Johannes die Doper word ingebed tussen die uitstuur van die twaalf (6:7-13) en hulle terugkeer (6:30-34). Hierna volg verskeie wonders wat die eerste vermeerdering van die brood (6:35-44) insluit. Dit is ook opvallend dat Johannes aan sy einde kom binne die konteks van n feesmaal. Kort op die hakke van Herodes se dodelike feesmaal, volg nóg twee feeste: Die eerste vermeerdering van die brood (6:35-44) en die tweede vermeerdering van die brood (8:1-10). Wanneer Jesus en die dissipels in die skuit klim en wegvaar na afloop van die tweede vermeerdering van die brood, merk Jesus veelseggend op: "Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes" (8:15). Lê Markus met opset n verband tussen Herodes se feesmaal en die vermeerdering van die brood? Vir Christene is daar onmiddellik n verband tussen die vermeerdering van die brood en die nagmaal. Herodes se feesmaal was n soort "swart nagmaal" met as dodelike liturgie die tragiese onthoofding van Johannes die Doper. Die "swart nagmaal" en die dodelike liturgie in Markus 6:17-29, verkry verdere betekenis wanneer die lyne deurgetrek word na die "swart nagmaal" van Jesus se kruisiging, as liturgie van die lewe.

Die vertelling van Johannes die Doper se dood, word omring deur vertellings van die uitsending en terugkeer van die dissipels. Het Markus dit opsetlik gedoen?

6:7-13

Die uitstuur van die dissipels

 

6:14-29

Vraag: Wie is Jesus (v 14-16)

Antwoord: Vertelling van Johannes se dood (v 17-29)

6:30-34

Die terugkeer van die dissipels

 

Sentraal in die Skrifgedeelte is die vraag na die identiteit van Jesus. Dit herinner onmiddellik aan Markus 8:27-38, spesifiek die bekende vers 27: "Wie, sê die mense , is ek?" Soos in Markus 8, word hier ook vertel dat Johannes die Doper, die profeet Elia, en "een van die profete", van die moontlikhede was wat by navrae oor die identiteit van Jesus genoem is. Dit is verder opvallend dat beide Markus 6 en 8 se vraag na die identiteit van Jesus, gevolg word met vertellings van lyding. In Markus 8 volg Jesus se eerste lydensaankondiging (v 31-33) en die opdrag aan Jesus se volgelinge om hulle kruise op te neem (verse 34-38). In Markus 6 volg die verhaal van die sterwe van Johannes die Doper, as parallel van die sterwe van Jesus.

Albei verhaaleenhede in onderskeidelik Markus 6 en 8, worstel met die vraag na Jesus se identiteit. Albei word beantwoord met vertellings van lyding en in die proses word hierdie tema deur verskeie ander verbande tussen die twee gedeeltes bevestig:

Dissipelskap as mag oor die bose (6:7); Petrus wat deur Jesus bestraf word, verteenwoordigend van die bose, omdat hy sy lyding van Hom wou wegneem (8:33)

Dissipelskap as die uitgaan van (6:7-13) en terugkeer na Jesus (6:30-34), met as hartklop die lyding van Jesus (6:14-29); dissipelskap as die opneem van die kruis van Jesus (8:34-38).

Markus 6 en 8 vertoon verskeie parallelle:

Verse

Markus 6

Markus 8

Verse

14

Vrae ontstaan oor die identiteit van Jesus

Jesus: "Wie, sê die mense, is ek?"

27

14

Party: Johannes die Doper

Party: Johannes die Doper

28

15

Party: Elia

Party: Elia

28

15

Party: een van die profete

Party: een van die profete

28

16

Herodes: Die onthoofde Johannes,

wat nou opgestaan het uit die dode.

Jesus: Ek gaan ly, sterf, opstaan uit die dode.

31

17-29

Johannes word onthoof en begrawe

Jesus: As jy my wil volg: Neem jou kruis op

34-38

Uit dit alles is daar ten minste twee teologiese momente wat baie sterk na vore tree:

a. Die identiteit van Jesus hou ten sterkste verband met sy lyding en kruisiging.

b. Die identiteit van Jesus vorm die hart van dissipelskap hulle uitstuur en terugkeer na Jesus.

Dit is egter ook nodig om aandag aan die verhaal van Johannes die Doper te gee. Die Doper se ondergang is die uiteindelike resultaat van n wrok wat Herodias, die vrou van Herodes jeens Johannes gekoester het. Volgens die Markusevangelie het Herodes met sy broer, Filippus se vrou, Herodias getrou (vers 17). Johannes het hierdie gedrag veroordeel en daarmee het hy Herodias klaarblyklik kwaad genoeg gemaak dat sy hom wou laat doodmaak. Sy kon dit egter nie doen nie, aangesien Herodes vir Johannes "onder sy beskerming geneem het" (vers 20). Hiermee word waarskynlik verwys na die feit dat Johannes in die tronk opgesluit was. Volgens Markus het Herodes en Johannes gedurig in ernstige woordewisselings betrokke geraak, maar ten spyte hiervan het Herodes "graag na hom geluister" (vers 20).

Die eerste eeuse Joodse geskiedkundige, Josefus, skryf ook aangaande Herodes en Herodias. Herodes in Markus 6 is Herodes Antipas, die seun van Herodes die Grote (37vC-4nC). Volgens Matteus 2 was dit Herodes die Grote wat al die seuntjies onder tweejaar laat doodmaak het. Volgens Josefus was Herodes Antipas se eerste vrou die dogter van Aretas, koning van die Nabeteërs. Dit is blykbaar dieselfde Aretas van wie gepraat word in 2 Korintiërs 11:32. Dit was die einste koning Aretas se verteenwoordiger wat die stad Damaskus laat bewaak het om vir Paulus te vang. Terwyl Herodes Antipas by sy halfbroer oorgebly het oppad na Rome, het hy n verhouding aangeknoop met sy broer se vrou, Herodias. Volgens Josefus het dit daartoe gelei dat Herodes Antipas en koning Aretas se dogter geskei is. Hiermee het Aretas die vyand van Herodes geword. Toe Aretas vir Herodes Antipas later in n veldslag verslaan, was dit die populêre mening dat dit goddelike weerwraak was vir die egskeiding.

Herodes se herhaalde eed aan die dansende dogter van Herodias, was dat sy kon vra net wat sy wou hê tot selfs die helfte van sy koninkryk. Hier word herinner aan twee gedeeltes in die Ou Testament. Die eerste is in Ester 5:3, waar koning Ahasveros só deur Ester bekoor is, dat hy vir haar gesê het: "Wat kan ek vir jou doen, koningin Ester? Wat is jou versoek? Al is dit ook die helfte van my koninkryk, dit sal vir jou gegee word." Uiteindelik word Ester koningin in die plek van koningin Vasti. Die tweede sinspeling op die Ou Testament, vind ons in 1 Konings 21. Isebel sorg met slim speletjies dat Nabot uiteindelik sy wingerd én sy lewe verloor.

Herodias se dogter gaan egter reguit na haar ma en vra haar ma se advies. Herodias het sonder om te huiwer vir haar dogter gesê dat sy moet vra om Johannes die Doper se kop in n skottel. Die Markusevangelie vertel vir ons hoedat Herodes verslae was, maar moes toegee op grond van die openbare eed wat hy herhaaldelik afgelê het. Soos Jesus later, sterf Johannes onskuldig. Soos Johannes, sou Jesus ook n afgryslike en openbare dood sterf. Ook die motiewe vir beide moorde kom volgens Markus se evangelie as heeltemal belaglik voor. Behalwe dat die kruisdood n skande, en Jesus onskuldig ter dood veroordeel is, was dit onverstaanbaar dat die skare kon verkies dat die moordenaar, Barabbas, bó Jesus uit die tronk losgelaat kon word (Mark 15:10).

Johannes was nie alleen die voorloper van Jesus se bediening nie, hy het Hom ook vooruitgeloop in sy sterwe. In die figuur van Johannes die Doper aan die begin van die Markusevangelie, vind ons n vroeë Pase. Die begin en die einde van die Markusevangelie word gebalanseer deur sinspeling op en uitbeelding van die lyding en sterwe van Jesus Christus. Markus 6:14-29 antisipeer egter nie net die lyding en sterwe van Jesus nie. Wanneer Herodes hoor hoe daar oor die identiteit van Jesus gespekuleer word, maak hy onmiddellik n denksprong. Herodes word onmiddellik teruggevoer na die tragiese dood van Johannes die Doper. Vir Herodes is daar net een moontlike verklaring vir die identiteit van hierdie Jesus. Dit kon alleen die Johannes gewees het wat hy laat onthoof het en nou "uit die dood opgewek" is (v 16). Op n ironiese manier word die opstanding van Jesus vroeg reeds in die Markusevangelie by monde van n teenstander voorspel. Die verhaal van Johannes as antwoord op die vraag na die identiteit van Jesus, bied dus ook n opstandingsperspektief.

Vir die prediking van die gelese gedeelte is dit beter om nie Johannes die Doper as fokuspunt te gebruik nie, maar is dit belangrik om te onthou dat die verhaal van Johannes die Doper eintlik n antwoord bied op die probleem rondom die identiteit van Jesus. Johannes die Doper kan gebruik word om die identiteit van Jesus te verhelder. Johannes die Doper is slegs n middel tot hierdie doel. Preke kan op die identiteit van Jesus Christus as die gekruisigde en opgestane Christus fokus. In sulke preke bied Johannes die Doper as voorloper van Christus dan die perspektiewe op Jesus se komende lyding, kruisiging en opstanding. Onthou die dubbele (ironiese!) antisipasie van Jesus se opstanding by monde van die mense wat spekuleer oor wie Jesus is in verse 14 en 16.

Preekvoorstel

Na aanleiding van die wyse waarop die verhale van dissipelskap ingevul word met die verhaal van Johannes die Doper as antwoord op die vraag na Jesus se identiteit, kan daar in die voorbereiding van preke gewerk word met die gekruisigde en opgestane Jesus, as die hart van dissipelskap. Indien die fokusteks gepreek word met spesifieke verwysing na die onmiddellike konteks van dissipelskap, kan dit verrykend wees om in die preek aan te sluit by die konteks waarin die kerk haarself vandag bevind. Hoe lyk die wêreld waarin ons dissipels moet wees? Watter soort dissipels is ons in hierdie wêreld? Watter faktore in ons eie tyd maak dit moeilik vir ons om getroue dissipels van die Here Jesus te wees? In dié verband bied John Roxburgh n paar waardevolle insigte in die identiteit van die kerk in n postmoderne konteks.

Roxburgh vertel van n Kanadese televisie-advertensie wat die negatiewe kant van die postmoderne tydgees goed uitbeeld. Dit is n advertensie van die Bank van Montreal. Die advertensie begin met n groep kinders wat deur n pragtige, idilliese landskap loop, terwyl hulle op n soort pelgrimstog gaan. Terwyl hulle loop, sluit meer kinders langs die pad by hulle aan, en almal sing die ou Bob Dylan liedjie, The times they are a changin. Die Bank van Montreal het nie bloot toestemming verkry om van die liedjie gebruik te maak nie hulle het die regte daarvan gekoop! Dit verteenwoordig n groot bemarkingsverbintenis. Terwyl die kinders al singend hulle pelgrimstog voortsit, gaan hulle verby n ou man wat in n stoel sit en in die agtergrond staan n ou plattelandse kerkgebou. Die toekoms is besig om verby die ou man en die kerkgebou te vloei. Hulle is slegs herinnerings van wat eens belangrik was, maar nou het dinge verander, want "the times they are a changing". Dit is belangrik, sê Roxburgh, om te onthou dat hierdie advertensie nie gemik is op die kinders nie, maar op hulle ouers, die sogenaamde Boomers. Die Boomers is mense wat grootgeword het met Bob Dylan se musiek in die sestiger- en sewentigerjare. Die boodskap aan hulle is eenvoudig: Nuutheid is die antwoord op al ons probleme. Enigiets wat nie hierdie oortuigings of emosies deel nie, behoort tot die verlede.

Bob Dylan se liedjie gaan verder: "Come, fathers and mothers, throughout this ol land, and dont criticize what you cant understand. If you cant lend a hand, then get out of the way, for the times, they are a changing." Die advertensie het daarin geslaag om die hooftema vas te vang van Boomers wat leef in n postmoderne, post-industriële wêreld. Die antwoord vir probleme lê altyd in die toekoms, in dit wat nuut is en volgende aan die beurt kom. Die Boomers moet altyd voor bly, relevant en kontemporêr wees, veral gereed om weer en weer te verander. Uiteindelik vra Roxburgh waarheen die kinders met hulle pelgrimstog oppad is. Aan die einde van hulle reis, wag daar nie n glinsterende, nuwe wêreld wat hulle almal aan mekaar verbind nie, maar n bleek, leë toekoms sonder gemeenskap en identiteit.

Roxburgh vra twee vrae aan die kerk in n postmoderne konteks: (i) Watter verhale vorm op die oomblik die lewens van gemeentes?; (ii) Sal gemeentes primêr gevorm word deur die spesifieke intellektuele en sosiale verhale van die postmoderne konteks, of sal gemeentes interaksie hê met hierdie konteks op n wyse wat in lyn is met hulle eie verhale wat deur die evangelie gevorm is? Roxburgh gebruik dan nuutheid as metafoor van die sogenaamde postmoderne kerk as n kerk wat haar identiteit verloor het. Hierdie metafoor kan gebruik word in die prediking as aanduiding van die konteks waarbinne ons geroep word om dissipels te wees. Uiteindelik moet postmoderne dissipels hulle pad vind tussen, enersyds die metafoor van die ewige soeke na nuutheid, en andersyds die metafore van die Bybel wat altyd op n manier haaks kom staan op die kultuur van die dag.

Postmoderne kultuur beweeg in twee rigtings, volgens Roxburgh: Dit is veranker in die modernistiese ideaal van individue om hulleself van die konvensionele te bevry, en; dit gebruik as vertrekpunt die vryheid van individue om hulle eie identiteit voortdurend te rekonstrueer volgens eie behoefte. Só ontstaan n wêreldbeeld, sê Roxburgh, wat wentel rondom dit wat nuut is en volgende aan die beurt gaan kom: "We are thus immersed more and more in a world that propels us toward some future that is next, while denying any validity or power to all that has gone before." Hoe meer die mitologie van nuutheid uitgeleef word, hoe meer verloor mense hulle identiteit. Wanneer mense hulleself weer en weer moet "oormaak", verdwyn hulle. Die "ek" in die sentrum van die proses, verdwyn later. Dit alles gebeur omdat die groter verhaal waarmee die werklikheid tot dusver verduidelik is, nou verwerp word. In plaas van die groot verhale, word identiteit in individue en gemeenskap nou voortdurend gevorm deur dit wat nuut is en volgende aan die beurt gaan kom. Kortom, die mitologie van nuutheid ontwortel individue en gemeenskappe. Mense word "ontkoppel" aan verhalende raamwerke wat sin, betekenis en identiteit gee. Die gevolg is n geslag wat ewig soekend is.

Wat het geword van dissipelskap in só n wêreld? Die kern van dissipelskap, volgens Markus 6, is die lyding en opstanding van Jesus Christus. Hierdie verhale vorm gemeenskappe van dissipels. Die verhale van Christus omvorm gewone mense tot dissipels. Christene behoort krities bewus te wees van die trek- en stootkragte van die wêreld waarbinne hulle beweeg. Die alternatiewe wêreldbeeld wat vanuit die sekulêre wêreld aangebied word, is nie altyd so onskuldig was hulle lyk nie. Dit kan selfs die kerk van Christus verlei om op te gaan in dit wat nuut is en as oplossings om die draai lê en wag. Intussen word die kerk as gemeenskap van dissipels ontwortel aan haar vormingsverhale die verhale van Jesus, die gekruisigde en opgestane Heer.

Dissipels word uitgestuur in hierdie wêreld. Dit kan nie anders nie. Christene hoef hulle nie te skaam vir groot verhale waaraan hulle glo en waardeur hulle as dissipels gevorm word nie. Die groot verhaal van Jesus se kruisiging en opstanding, bly die grond waarop dissipelskap bou n die inhoud van die dissipel se boodskap in die wêreld. Daarsonder is daar geen dissipelskap nie. Daarsonder het die dissipels geen boodskap of leefstyl waarmee hulle uitgestuur kan word nie. Daarsonder het hulle geen Here om na terug te keer nie. n Toekoms wat nie veranker is in die verlede nie, is leeg en sonder die Dissipelmaker.

n Ontdekker het dit in n sneeustorm buite sy skuiling gewaag. Hy het nie soos gebruiklik aan die reddingstou vasgehou wat aan die basis vasgemaak is nie. Hy het vermis geraak. Na n lang soektog in die sneeustorm, het sy makkers sy liggaam uiteindelik gevind, net buite die reikwydte van die reddingstou. Die dissipels is soos reisigers in n sneeustorm. Hulle kan nie vorentoe sonder om aan die reddingstou vas te hou wat aan die basis vasgemaak is nie. Die verhale van die Bybel, in die besonder dié van die Gekruisigde en Opgestane, is die basis wat die toekoms bepaal. Op dié manier is die verlede en die toekoms ten nouste verbind. Die Dissipelmaker wat die dissipels uitgestuur het (verlede), is ook die Een wat vir hulle wag wanneer hulle terugkeer van hulle sending (toekoms) af. Tussen die uitgaan en die terugkom, word identiteit geskep deur die gekruisigde en opgestane Here.

Bibliografie

Breytenbach, JC 1992. Dissipelskap volgens Markus: Om Jesus na te volg, in Breytenbach, JC en Lategan, BC (Reds), Geloof en opdrag. Perspektiewe op die etiek van die Nuwe Testament. Scriptura S9a; Johnson, LT 1986. The writings of the New Testament. An Interpretation; Roxburgh, AJ 1999. The Church in a postmodern context, in Van Gelder, C (Red), Confident witness changing world. Rediscovering the Gospel in North America; Soards, M (et al) 1993. Preaching the Revised Common Lectionary. Year B. After Pentecost 1; Vorster, WS 1988. Die Evangelie volgens Markus: Inleiding en Teologie, in du Toit, AB (et al), Handleiding by die Nuwe Testament, Deel IV; Vorster, WS 1991. Om te vertel dat Jesus Christus die lydende Seun van God is, in Roberts, JH et al (Reds), Teologie in konteks.