SONDAG 6 JULIE 2003

Derde sondag in koninkrykstyd

Liturgiese voorstel

Fokusteks: Markus 6:1-13

Ander tekste: 2 Samuel 5:1-25, Psalm 48, 2 Korintiërs 12:2-10

Daar is nie noodwendig ‘n gemeenskaplike lyn tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament teksgedeeltes nie. Die Samuel tekste wat in die volgende drie weke gebruik word bring die verbondsark en die latere tempel met mekaar in verband. In vandag se liturgie het ek ‘n keuse gemaak om nie die hele liturgie met ‘n sogenaamde verhaallyn te verbind nie. Eerder word die tekste gebruik om verskillende liturgiese gebeure tot diens te wees. So word Psalm 48 gebruik om die Naam van God te loof en die liedere sluit hierby aan.

Die fokusteks bestaan uit twee afsonderlike perikope. Die tweede perikoop is aanduidend vir die liturgie wat daarna volg. Vir my is die sentrale punt van hierdie verse dat volgehoue toewyding aan die Here Jesus soms ook met weerstand begroet sal word. Die teks herinner ons daaraan en die liturgie roep ons op daartoe.

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Votum

Psalm 48:11

"Net soos u naam, o God, so strek u lof oor die hele aarde. U mag het groot redding gebring."

Drumpelgebed

In aansluiting by die basisvoorstel sing die gemeente die "Ons Vader" gebed (Lied 266/NSG 325)

Na die Seëngroet word die Aanbidding en Lofliedere ingelei met die sing van Lied 595 vers 1 en 2. Ander liedere wat gepas kan wees is: Psalm 48 Lied 176/NSG 15, Lied 184/NSG 25 en veral Lied 587/NSG 137

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord/epiklese

" Lewende Here, ons bid nou dat u lewende woorde nie by ons ‘n hart van klip en ‘n kop van yster sal aantref nie, maar ‘n leergierige gees wat werklik soek na die betekenis van die nuwe lewe in U.

Laat ons hier werklik ervaar dat U ons Vader is wat ons as U kinders aangeneem het , dat U ons verlosser is wat namens ons gesterf het en weer opgestaan het en dat U deur u gees ons harte verlig om u stem te hoor. Amen " ( ‘n Gebed van Calvyn, opgeneem in Gebedeboek met Liturgiese voorstelle )

Indien daar nie ‘n nagmaalsviering volgens die basisvoorstel is nie, kan die volgende gebeur na die

Skriflesing en Prediking

Geloofsbelydenis

Lied 259

uitSENDING

In aansluiting by die basisvoorstel kan die Tien Gebooie gelees word of die samevatting daarvan. ‘n Gedeelte van die bergpredikasie sou ook die tema van die fokusteks verder kon belig.

Liedere wat gesing kan word is Lied 471/NSG 38, 491/NSG 157, 308/NSG 260,481/NSG242, 504/NSG 149,486/NSG 186

 

PREEKSTUDIE – MARKUS 6:1-13

Teks en konteks

Markus 4:35 tot 6:6a bevat ‘n groep vertellings wat met die verwerping van Jesus in sy tuisdorp, Nasaret, eindig (6:1-6). Die verwerping geskied ten spyte van die wonderwerke wat Hy voorheen verrig het. Daarna volg ‘n tweeledige tussenspel waarin (1) Jesus die twaalf uitstuur (6:7-13) en (2) inligting verskaf word oor Herodus wat vir Johannes die Doper tereggestel het (6:6b-29). Dan volg ‘n tweede reeks wonderwerke, gemeng met weergawes van Jesus se lering en die twisgesprekke met die godsdienstige leiers (6:30-8:21). Dit alles vind plaas in dié deel van Jesus se bediening wat in Galilea afspeel, voordat Hy na Judea en Jerusalem begin beweeg het. Jesus verlaat Nasaret onder ‘n wolk van omstredenheid en sou nooit weer daarheen terugkeer nie. Markus 6:1-13 val in twee verskillende verhale uiteen. Verse 1-6a herroep die situasie waarmee Jesus in sy tuisdorp gekonfronteer was en verse 6b-13 verhaal die uitstuur van die twaalf dissipels. Beide verhale bied goeie preekstof, maar sommige geleerdes reken dit sal moeilik wees om albei saam te gebruik en reg te laat geskied aan beide.

In die eerste verhaaleenheid (v 1-6a) keer Jesus na die dorp waar Hy grootgeword het, terug. Dit is opvallend dat Jesus aanvanklik ‘n groot indruk op die mense maak: "Baie het na Hom geluister en is deur sy woorde aangegryp" (v 2b). Die verwondering het egter gou plek gemaak vir verwyt, toe hulle Hom as die timmerman herken, die seun wat in die dorp voor hulle oë grootgeword het. Onmiddellik klop die gegewens nie. Daar is ten minste drie dinge wat die dorpenaars sou verhoed het om te aanvaar dat Jesus nou oor ‘n besondere gawe van wysheid sou beskik en dat wonderwerke deur Hom sou plaasvind. Die eerste is dat Jesus ‘n timmerman was. In die Grieks-Romeinse wêreld van destyds was daar ‘n groot sosiale kloof tussen mense wat met hulle hande gewerk het en die wat nié met hulle hande gewerk het nie. Die mense wat hoë status geniet het was priesters, regeerders, goewerneurs, militêre leiers, burokrate en handelaars. Aan die onderste punt van die sosiale leer was die vakmanne, kleinboere en die vissermanne. Die mense het gewonder hoe daardie harde hande van ‘n timmerman wonderwerke kan doen? Dit is tog onmoontlik! Die man is dan ‘n timmerman!

Die tweede rede is dat Jesus nie opgelei was as ‘n rabbi of ‘n skrifgeleerde nie. Al het Hy met groot wysheid onderrig, het die mense geweet dat Hy nie by die "kweekskool" gestudeer het nie. Hy was nie "gelegitimeer" nie. Ongeveer 95% van die Joodse bevolking was ongeletterd en dit is waarskynlik dat Jesus ook ongeletterd was. Ons weet dat mondelinge tradisie ‘n groot rol gespeel het in die Jodedom, asook in die vroeë kerk. Dit was nie ongewoon vir mense om die Skrif baie goed te ken deur mondelinge oorvertelling nie. Ook dit het meegewerk aan die mense se onvermoë om hulle sosiaal-kulturele vooroordele jeens Jesus te versoen met sy besondere gawe van wysheid en sy wonderwerke.

Die derde rede is dat Markus eksplisiet vir ons vertel dat die mense na Jesus verwys het (vers 3) as, "’n seun van Maria." Normaalweg sou daar na Hom verwys word as die Seun van Josef. Die feit dat Hy die seun van Maria genoem is, beteken waarskynlik dat die mense Hom boonop as buite-egtelik beskou het. Wanneer Jesus dan bomenslike wysheid vertoon in die sinagoge en ook in die dorp aankom met die reputasie dat Hy mense kan genees, is hierdie vooroordele genoeg om die mense daartoe te bring om Hom te verwerp. Dit was alles net te goed om waar te wees!

Dit is ironies dat die mense wat vir Jesus geken het, Hom verwerp het; die dorpsmense, maar ook sy familie. Die reaksie van die dorpsmense staan in skrille kontras met dié van die skares waarvan die eerste vyf hoofstukke van Markus skryf. Dit lyk asof dit al hoe moeiliker was om in Jesus te glo, hoe nader mense aan Hom geleef het. Die Markusevangelie is bekend daarvoor dat die dissipels negatief en nie as model-volgelinge van Jesus, uitgebeeld word nie. Só ingrypend was die ongeloof van die mense, dat Jesus daar geen wonderwerke kon doen nie (v 5). Dit sou sekerlik ‘n hele klomp mense se vermoedens bevestig het. In ‘n sekere sin was Jesus die gevangene van sy alledaagse verlede. Die mense kon maar net nie deur hulle harde en onverdraagsame vooroordele breek nie. Hierdie Man was eenvoudig te gewoon om só buitengewoon te wees!

Jesus se gewildheid sou nooit weer dieselfde wees na die gebeure in sy tuisdorp nie. Vir die eerste keer raak die leser bewus van donderwolke wat begin saampak oor die Man van Nasaret se kop. Hierdie donderwolke sou al digter saampak, totdat die storm uiteindelik oor Hom in Jerusalem aan die kruis sou losbars. Jesus se verwerping in Nasaret is ‘n duidelike antisipering van sy kruisiging. Dit is betekenisvol dat Markus die begin van sy einde na Nasaret, sy tuisdorp, terugtrek, en dat die rede daarvoor verband hou met die feit dat hierdie Man te gewoon was om alles te kon wees wat van Hom gesê is.

William Placher praat van die vermoë om ‘n "verrysende patroon" raak te sien. Waar ander mense niks sien nie, sien sommige ‘n verrysende patroon raak onder oënskynlik chaotiese en onverwante gebeure. Markus sien die patroon van Jesus se kruisiging raak in Nasaret se verwerping van Jesus. Die dorpenaars is nie instaat om die patroon van Jesus se Messiasskap, as gevolg van hulle veelvuldige vooroordele, raak te sien nie. Maar Markus sien juis daarin die diepste identiteit van Jesus raak. Jesus, die Man van Nasaret, was ‘n timmerman, buite-egtelik verwek en heel waarskynlik ongeletterd. En tog was juis Hy die Messias! Dit word bevestig in die tweede verhaaleenheid.

In die ou dae het sielkundiges mense na ‘n inkkol laat kyk en dan moes hulle sê wat hulle sien. Die patroon wat die oënskynlik onskuldige inkkol aan die kyker onthul, sou dan die diepste psige van die kyker ontsluier. Kortom: Die patrone wat jy raaksien, sê wie jy is! En die patrone wat jy nie raaksien nie, sê ook wie jy is. Watter patrone sien die kerk vandag raak en wat sê dit van ons? Sien ons die Gekruisigde in ons gebroke werklikheid, of sien ons net die bevestiging van al ons vooroordele?

Die tweede verhaaleenheid (v 6b-13) vertel van die uitstuur van die twaalf. Dit is interessant dat die twaalf reisigers niks vir die pad mag saamvat nie (v 8, 9): "…net ‘n kierie, geen kos, geen reissak, geen geld in die beursie nie. Hulle moes wel skoene aantrek maar nie nog ‘n kledingstuk saamvat nie." Dit is duidelik dat Jesus nie dit wat sopas in sy tuisdorp gebeur het, ernstig genoeg opgeneem het om nou die Goeie Nuus op ‘n meer sosiaal aanvaarbare manier te verpak nie. So sosiaal onaanvaarbaar as wat Jesus was, sou die dissipels ook wees. Hulle sou eenvoudig leef en gedurig afhanklik wees van ander mense se gasvryheid en goeie guns. Dit is duidelik dat die kenmerke van Jesus wat Hom sosiaal onaanvaarbaar gemaak het in sy tuisdorp, nie toevallighede was nie, maar dat dit iets dieper aangaande die Messias en volgelingskap wil ontsluier. Dit lyk asof eenvoud uiterlik deur hierdie reisigers vertoon word, omdat dit innerlik ook van belang is. Die medium is die boodskap. Die vere maak die voëls!

Markus vertel vir ons dat Jesus die uitgestuurdes mag oor die bose geeste gegee het. Dít was al wat hulle gekry het om saam met hulle te neem. Dit is sekerlik een van die mees basies metafore vir die ganse doel van die Christelike geloof: Om die bose te trotseer en om dit te verdryf. Dit is waarvoor Jesus gestuur is en dit is waarvoor die dissipels uitgestuur word. Al die ander goed is minder belangrik: kos, klere, weelde en sekuriteit. Gaan verjaag net die bose. Waar die bose verdryf word, word die koninkryk van God sigbaar – het die koninkryk van God naby gekom (Mark 1:15). Die koninkryk breek deur daar waar groepies reisigers met net die klere aan hulle liggame, gasvry ontvang word. Die koninkryk van God breek deur waar daar na hulle boodskap geluister word – só is hulle besig om die bose te verdryf.

Wonderlik is die selfvertroue wat Jesus uitstraal. In die eerste plek verander Hy nie van strategie deur Hom of sy dissipels voor te doen as anders as die eenvoudige mense wat hulle was nie. In die tweede plek sê Hy vir sy dissipels om die stof van hulle voete af te skud, indien mense hulle nie wil ontvang of na hulle wil luister nie. Dit is duidelik dat sulke mense nog binne die kragveld van die bose leef en nie die deurbreek van die koninkryk van God wil beleef nie. Só eenvoudig gebeur dit alles!

Watter vooroordele ontneem ons vandag om die patrone van God se genade raak te sien? Is ons só behep met ons eie bagasie dat ons blind geraak het vir die Profeet hier in ons dorp? Sien ons die profete in ons midde? Of is ons van voor af weer besig om hulle te verwerp? Selfs Jesus se broers en susters het nie raakgesien wie Hy is nie! Openbaar die Here Homself altyd daar ver van ons af? Of is die Messias dalk hier onder ons en in ons midde?

Preekvoorstel

Eerste voorstel

In die preekvoorstel word vers 4 as invalshoek gebruik: "‘n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin." Uiteindelik word ons uitgedaag om binne ons eie konteks die soort geloofsgemeenskappe te wees wat wel die profete in ons midde kan eien.

Beteken die gesegde: "onbekend maak onbemind" noodwendig dat die teenoorgestelde ook waar is?: "Bekend maak bemind." In Jesus se geval was dit beslis nie so nie. Sy bekendheid het Hom juis onbemind gemaak. Hy was oorbekend aan die dorpsbewonders van Nasaret. Voor hulle oë het Hy grootgeword. Hulle het alles van Hom geweet. Of so het hulle gedink. Boonop was Hy die seun van ‘n timmerman. Heel waarskynlik nie ‘n geleerde man nie, en kon moontlik nie eens lees of skryf nie. Opsigself was dit nie vreemd nie. Die oorgrote meerderheid van die bevolking was in presies dieselfde posisie. Die probleem het egter begin toe hierdie eenvoudige, ongeletterde timmerman begin het om wonderwerke te doen en met gesag in die sinagoge te onderrig. Die feite het eenvoudig nie geklop nie. Al die kennis en al die vooropgestelde idees van Jesus se dorpsgenote was van só ‘n omvang, dat hulle nie kon aanvaar dat Hy instaat sou wees tot goddelike werke en woorde nie.

Die woorde en die dade van Jesus het saam ‘n patroon gevorm wat klaarblyklik nie vir almal herkenbaar was nie. Vooroordele en bekendheid het die vermoë om hierdie patrone te onderskei, ondergrawe. Die Profeet was in hulle midde en hulle was blind vir Hom. Diep gewortelde oortuigings en gewoontes het die patrone van God se genade versluier. Ten minste vir die skrywer van die Markusevangelie was dit duidelik watter verhaal hierdie patrone vertel het. Die patrone kon vir hierdie skrywer nie anders nie as om die verhaal van God se genade in die persoon van Jesus van Nasaret te vertel.

Hoeveel keer versluier ons eie vooroordele, gewoontes en oortuigings, nie die profeet in ons midde nie. Die patrone van God se genade lê hier in my dorpie. Die voetspore in die grond vertel duidelik: God het pas hier verby beweeg – maar ons het hierdie voetspore al te veel gesien en ons is te gewoond daaraan. Dit vertel nie meer vir ons verhale van genade, liefde en hoop nie. Dit bevestig eerder net alles wat ons reeds weet. So het die Profeet onsigbaar geraak vir ons.

Christene het die vermoë om patrone van God se genade raak te sien in die alledaagse dinge – die dinge wat aan hulle oorbekend is. Christene, onder leiding van die Gees, put elke dag inspirasie uit gewone dinge wat patrone vorm. Vir ander mense sou sekere gebeurtenisse, menseverhoudings en ervarings blote toeval wees. Vir Christene is daar patrone geweef tussen skynbaar onverwante sake – patrone van God se genade en patrone van die Profeet wat deur sy Gees onder ons kom woon het. Hierdie vermoë om die patrone van God se genade in gewone dinge raak te sien, is nie is nie blote wensdenkery nie. Dit is geanker in ‘n diep ervaring met die Woord van God. Patrone van genade en van die Profeet is te bespeur alleen vir die wat die verhale van genade en van die Profeet hulle eie maak.

‘n Amerikaanse etikus, Stanley Hauerwas, in sy omstrede boek Unleashing the Scriptures, sê dat alleen diegene wat onder die dissipline van dissipelskap staan, die reg het om die Bybel te lees. Hy sê dat alleen mense wat die verhaal van die Bybel hulle eie maak, sal verstaan waaroor dit gaan. Mense wat ontdek het dat die verhale van die Bybel hulle eie verhale is, het die vermoë om hierdie patrone van God se genade raak te sien. Nou sal niks ooit weer heeltemal dieselfde wees nie. Oor alles, staan die teenwoordigheid van God geskryf.

Christene kan ook gerus gaan nadink oor hulle vooropgestelde idees wat hulle onkrities aanvaar: sosiale status, geleerdheid, finansiële voorspoed en uiterlike voorkoms. Dikwels veroorsaak hierdie vooroordele dieselfde blindheid by ons as by Jesus se dorpsgenote. Die mag van die gewoonte kan vierkantig tussen ons en die ontdekking van die Profeet hier tussen ons kom staan. Kom ons gaan soek Hom hierdie week, juis nié in die onondekte landskappe van ons lewens nie. Kom ons gaan soek die Profeet en Messias, in dit wat vir ons oorbekend is.

Tweede voorstel

Wanneer Jesus die dissipels uitstuur (verse 7-13) is daar ‘n ooreenkoms met die manier waarop Hy in sy tuisdorp ontvang is. Jesus word in sy tuisdorp verwerp omdat hulle vooroordele jeens sy nederige afkoms hulle verhinder het om te aanvaar dat Hy kragtige wonders kan verrig en met gesag kan preek. Die blote feit dat Jesus onmiddellik na sy verwerping voortgaan om die dissipels in groot eenvoud uit te stuur, wys vir ons dat nie eens sy verwerping Hom daartoe kon bring om van oortuiging te verander nie. Die dissipels was eenvoudige mense wat ‘n eenvoudige Leier gevolg het. In daardie hoedanigheid sou hulle ook uitgestuur word. Hulle sou nie eers na ‘n "beeldpoetser" gaan om die fynere kunsies aan te leer nie. Met dit wat hulle was en met nie veel meer nie, sou hulle uitgaan om die evangelie te verkondig.

Wanneer ‘n mens nadink oor die uitstuur van die dissipels, is daar ‘n kontras wat ‘n mens opval. Enersyds ontvang hulle bevel om niks vir die pad saam te vat nie. Andersyds gee Jesus aan hulle mag oor bose geeste. Dit is al wat hulle ontvang by wyse van toerusting: mag oor die bose. Indien ons sou wonder oor die doel van hulle uitsending, sal hierdie toerusting alle onsekerheid uit die weg ruim. Trouens, die Skrifgedeelte eindig dan ook met ‘n bietjie terugvoering hieroor: "Daarby het hulle baie duiwels uitgedrywe en baie siekes met olie gesalf en gesond gemaak" (vers 13). Die dissipels ontvang alleen toerusting vir dit wat voorhande was. Hulle moes die bose konfronteer en wegdryf. Dít was die basis van hulle sending, en daarvoor word hulle toegerus. Hulle het niks meer nodig gehad nie. Bagasie mag dalk net in die pad gekom het.

Vir baie Christene klink hierdie opdrag na iets wat eintlik tuishoort in die soort kerke waarvan hulle nou nie eintlik hou nie. En tog is die boodskap duidelik. Dissipels is gelowiges wat uitgestuur word om niks minder nie as die bose aan te vat! Natuurlik is daar baie maniere om dit te doen. Sommige mense vereenselwig hierdie opdrag met die donker, bose magte van Satanisme en okkultisme. Alhoewel dit hierby ingesluit is, gaan Markus 6 se "sendingopdrag" oor ‘n veel meer omvattende roeping. Markus word immers ingelei met Jesus se boodskap: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie" (1:14). Die bose in alle moontlike gedaantes, word weggedryf met die koms van die koninkryk in Jesus Christus. Siekes word genees en geestelike gevangenes word bevry. Die koms van die koninkryk behels die omvattende verlossing van die wêreld en dit is bloot ‘n ander manier om te sê: "Julle het mag oor die bose – dryf die duiwels uit, salf siekes met olie en maak hulle gesond!"

Jesus stuur die dissipels uit en al bagasie wat hulle saamvat is mag oor die bose. Dit is opvallend dat hierdie mag oor die bose deur Jesus aan hulle gegee word. Dit is nie iets waaroor hulle vanself beskik nie. Mag oor die bose kom van Jesus Christus af. Hy is die Bron daarvan. Dit is alleen geloof in die Bron van die liefde, wat aan dissipels die vermoë gee om die bose aan te vat, te verdryf, en so mee te werk aan die koms van die koninkryk. Dit is in die grootste eenvoud wat die dissipels uitgestuur word. Hulle besit niks nie. Allermins die vermoë om die bose te verdryf. Alles word aan hulle gegee. Uitgestuurdes is gelowiges wat niks het om te bied nie, behalwe hulle eie gewilligheid om te gaan. Dit wat hulle nodig het, sal aan hulle gegee word deur die Bron van die liefde. Volgens Markus is Jesus Christus die Bron waaruit die bose aangevat kan word, omdat Hy God se geliefde Seun is (Mark 1:11). Markus 6 sinspeel reeds op die toekomstige kruisiging van Jesus, wanneer Jesus se verwerping uitgebeeld word. Uiteindelik is dit die kruisiging en opstanding van Jesus wat die Bron van mag oor die bose word.

Bibliografie

Breytenbach, JC 1992. Dissipelskap volgens Markus: Om Jesus na te volg, in Breytenbach, JC en Lategan, BC (Reds), Geloof en opdrag. Perspektiewe op die etiek van die Nuwe Testament. Scriptura S9a; Johnson, LT 1986. The writings of the New Testament. An Interpretation; Soards, M (et al) 1993. Preaching the Revised Common Lectionary. Year B. After Pentecost 1; Vorster, WS 1988. Die Evangelie volgens Markus: Inleiding en Teologie, in du Toit, AB (et al), Handleiding by die Nuwe Testament, Deel IV. Die Sinoptiese Evanglies en Handelinge; Vorster, WS 1991. Om te vertel dat Jesus Christus die lydende Seun van God is, in Roberts, JH et al (Reds), Teologie in konteks.