29 Junie 2003

Tweede Sondag in Koninkrykstyd

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks: Markus 5:21-43

Ander tekste: 2 Samuel 1:1-27; Psalm 130; 2 Korintiërs 8:7-15

Inleiding

Om 'n storielyn deur die leesroostertekste heen te vind, is nogal 'n uitdaging. Dalk moet ons volstaan deur te sê dat dit in die koninkrykstyd gaan om 'n persoonlike geloofsverhouding met die lewende Christus wat in 'n gebroke wêreld herskeppend teenwoordig is en besig is om sy koninkryk te bou. Daarom is daar hoop vir die gelowige ten spyte van skynbaar hoop-lose omstandighede. Opwekking uit die dood is 'n gestalte van die koninkryk.

GOD vergader ONS VOOR HOM

Gemeente van die Here, God het ons vanoggend weer hier saamgebring. Wat is daar in u lewe wat swaar op u druk en waarvoor kom krag soek het in die erediens? Ons dink vir 'n oomblik in stilte hieroor na.

Na 'n oomblik van stilte lees die liturg Psalm 130:1, 2 drie keer.

Sang

(Beurtsang soos afgespreek) Lied 162/NSG 44

Votum

Gemeente van die Here, ons vier die koms van God se Koninkryk in 'n gebroke wêreld.

(Stilte waartydens 'n kind die Paaskers aansteek.)

God herinner ons: Deur sy Gees werk Hy nuwe lewe, bring Hy 'n nuwe koers: in gesinne, in die gemeenskap, by ons werk, ons land en wêreld en Hy kom weer om uiteindelik alles heeltemal nuut te maak.

Gemeente bid hardop saam

"Ons Vader, wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word, laat u Koninkryk kom, laat U wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Amen." (Stilte)

Seëngroet

Liturg: Gemeente, ek groet u in Naam van die Vader wat vir ons in alle omstandige sorg en voorsien;

En die Seun wat die dood oorwin het;

En die Heilige Gees wat lewend maak.

Gemeente: (Draai na mekaar, kan selfs handgee) Ek groet jou in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Sang

Die gemeente reageer deur staande met Taize 12 in beurtsang wat drie keer herhaal word (die bladmusiek is by boekwinkels verkrygbaar).

Wag op die Heer, sy Ryk kom gou.

Wag op die Heer, bly waak en bid.

DIENS VAN DIE WOORD

Gemeente, die lewende Here Jesus Christus, vir Wie God uit die dood opgewek het, is hier by ons. Die Paaskers herinner ons aan Hom. Ons het nou die genade-voorreg dat Hy deur die Bybelgedeeltes wat ons gaan lees, met ons gaan praat.

 

Aankondiging van die Skrifgedeeltes wat gelees word.

Laat ons luister wat die Here deur die volgende Skrifgedeeltes vir ons sê.

Epiklese

Die gemeente sing Psalm 119:18 twee keer as gebed.

Skriflesing 1

Markus 4:26-29

Skriflesing 2 en kindertyd

Kinders (wat darem al duidelik kan lees) word as beurtlesers aangewys. 'n Verteller, Jaïrus, Jesus, 'n dissipel, iemand van Jaïrus se huishouding.

(Kinders voer graag rollespel op en dit kan hier met voorafwaarskuwing, benut word.)

Responsgebed

Die gemeente lees Psalm 130:5 en 6 saam in 'n spreekkoor.

Prediking

Geloofsbelydenis

As respons op die prediking

DIENS VAN DIE TAFEL

Die basisliturgie vir koninkrykstyd word vir die diens van die tafel gevolg.

Uitdeling

Tydens die uitdeling word Lied 519/NSG 51 sag gesing.

Danksegging

Ter wille van die oorgang van die Tafel na die Bulletin, is een of ander vorm van afsluiting / lof / dank hier gepas.

Bulletin

Die Bulletin word voor die voorbidding behandel, sodat vir sake wat daarop voorkom, gebid kan word.

Voorbidding

Spesiale aandag word aan die voorbidding vir spesifieke mense se nood gegee.

UITSENDING

Wet

Gemeente, deur die doen van die Wet van die Here getuig ons van die vernuwing wat Jesus Christus in mense se lewens en in ons samelewing bewerk.

Lees

Eksodus 20:1-17

Sang

Lied 590:1, 2, NSG 138

Seën

Sang

Sing een van die Amen-liedere (312-315/NSG 355/356).

 

PREEKSTUDIE MARKUS 5:21-43

Teks

Markus 5:21-43 is n wonderverhaal in twee vertellings, inmekaar verweef en saamgevoeg, sodat hulle op mekaar kommentaar lewer en mekaar interpreteer.

Vers 21-24: Begin van die eerste wonderverhaal.

Vers 25-34: Onderbreking deur die tweede wonderverhaal.

Vers 35-43: Voltooiing van eerste wonderverhaal.

Markus begin in verse 21-23 sy vertelling met n geloofsdaad. Die vader van die dogtertjie, Jaïrus, wie se dogter in die laaste fase van n siekte is, kom na Jesus toe en spreek sy geloof in Jesus uit as hy vir Jesus vra om sy hande op die dogter te kom lê! In vers 25 word die verhaal onderbreek met n tweede verhaal. Toe Jesus op pad is na die huis van Jaïrus, word sy reis onderbreek deur n vrou wat vir twaalf jaar bloedvloeiing gehad het. Haar siekte het veroorsaak dat sy blywend onrein was (Lev 15:19), en dus van sosiale verkeer uitgesluit is. Daarom huiwer sy om dit in die openbaar aan Jesus te sê, en raak eerder ongemerk die soom van sy kleed aan. Na die aanraking merk die vrou dat sy genees is, terwyl Jesus agterkom dat daar krag van Hom uitgegaan het. Dit is die enigste wonderverhaal in Markus se evangelie waar Jesus nie die genesing geïnisieer het nie. Dié gedeelte is ook n aanduiding daarvan dat fisiese kontak vir Jesus belangrik was (verse 30-34).

Volgens Schweitzer kon die vrou se optrede maklik as bygeloof verstaan word. Daarom moet daarop gelet word dat Jesus beide woord en aanraking as belangrik beskou. Wanneer Jesus genees, kom die krag van Hom af, en nie van die gees van die siek persoon nie. Jesus se genesing het nie net n effek op die gees van die sieke nie, maar dit genees ook die liggaam. Daarom is die gesag waarmee Jesus optree baie belangrik. Die daad van genesing gaan gepaard met persoonlike kontak tussen Jesus en die persoon in nood (verse 30 en j31).

In vers 34 ("Gaan in vrede") word die Griekse woord gebruik wat sinoniem is met redding (vgl Joh 14:27; 16:33; 20:19). Hierdie vrede is nie n vrede van gemoed nie, maar die herstel van die verhouding tussen mens en God. Die vrou se geloof het genesing in n omvattender sin as bloot fisies herstel gebring. Haar geloof is meer as blote vertroue in iemand wat wonderwerke verrig! Vanaf vers 35 kom die berig dat Jaïrus se dogter gesterf het. Jesus doen n appél op Jaïrus se geloof, en wek die dogter weer op. In teenstelling met die vrou, het Jaïrus vir Jesus in die openbaar genader.

In die twee verhale is verskeie ooreenkomste wat die verhale aanmekaar bind. Alhoewel die kontraste tussen die verhale opmerklik is, is die ooreenkomste meer. By albei is die tema van geloof belangrik. Beide die man en die vrou het in geloof gehandel. Hulle het albei geglo dat Jesus die krag het om te genees, en in beide gevalle het Jesus hulle wense verhoor. Hierteenoor staan die ongeloof van die mense wat by Jaïrus se huis geween het oor die dogter se dood. Albei karakters is ritueel onrein en van die gemeenskap uitgesluit; die vrou vanweë haar siekte, en die kind vanweë haar dood. Die getal "twaalf" (twaalf jaar) is in albei gevalle opvallend. Die vrou het al twaalf jaar die siekte, terwyl die dogtertjie op dié stadium twaalf jaar oud is. Die gesag van God word in sy Seun Jesus Christus geopenbaar. In albei gevalle neem Jesus die rituele onreinheid van die karakters weg, en gee aan hulle die lewe terug. Hy aanvaar nie dat die onrein situasies finaal is nie, en tree gesagsvol op! Hy openbaar sy krag en heerskappy oor siekte en dood.

Konteks

Markus 5:23-41 is n verhaal met n storie binne n storie. Die skrywer wil sy lesers tot geloof in Christus aanspoor. Hier word vertel dat Jesus krag het om mense fisies te genees, maar dit word ook duidelik dat geloof n persoonlike verhouding tussen die persoon in nood en Jesus veronderstel. Dié teks is by uitnemendheid geskik om oor geloof na te dink, maar sou ook as opstandingsboodskap waarde hê. Die boodskap gaan oor die krag van God; sy heerskappy oor lewe, dood en siekte. In die teks word die band tussen geloof en hoop sigbaar.

Dat dit waarskynlik vandag moeiliker is om die opwekking uit die dood te aanvaar as vir mense van Bybelse tye, behoort ons meer sensitief te stem vir die boodskap in dié gedeelte. Mense sou vandag seker baie ander verklarings wou gee, soos dat die dogtertjie nie regtig dood was nie. Dit is egter n feit dat dié verhaal handel oor n kind wat uit die dood opgewek is. Schweitzer meen dat daar nie van die moderne mens verwag kan word om bloot te glo dat God mense kan lewend maak, en dat hulle dan met die lewe kan aangaan soos voorheen nie. Dié opvatting ontneem mense die geleentheid om die wonder van God se handeling in dié verhaal raak te sien; dat geloof ook vertroue in God se mag vra, en dat God self oorwinnaar oor die dood is. Volgens Schweitzer moet die indruk nie gewek word dat die opstanding van die dooie bloot n terugkeer na die aardse werklikheid is nie. Dit sou n verskraling wees van wat die Bybel met die opstanding bedoel. In die Bybel is die opstanding uit die dood n oorgang tot n totale nuwe lewe. Volgens Schweitzer is die teenoorgestelde ook n wesenlike gevaar. Jy kan ook nie sê dat Jesus nie iemand uit die dood kan opwek nie. God sou dit kon doen. Maar dit gaan nie in die verhaal daaroor of God dit kan doen of nie. Dit gaan oor geloof en vertroue in Jesus; dat Hy jou lewe kan verander en herskep, deur persoonlike kontak met Hom.

George Aichele worstel met die woorde: "Talita koem." Hy ontleed die hele gedeelte taalkundig en verklaar dat die woorde van Jesus vir lesers probleme kan veroorsaak. In die een deel word gesê dat die dogter dood is. In die ander deel sê Jesus self dat sy slaap. Hy meen dat as die dogter regtig geslaap het, Jesus nie werklik n wonderwerk gedoen nie, maar as sy dood is, het Hy inderdaad n wonderwerk gedoen. Hy vra ook waarom Jesus sy wonderwerk en getuienis wou versag deur te sê sy slaap. Hiervolgens het Hy sy daad in die oë van mense kleiner gemaak. Uiteindelik sê hy net dat die teks sy eie taal praat: "No, referential, extratextual truth emerges from this speech; instead it manifests itself merely as a disruption of every attempt to understand the text." Tog lyk dit asof dié vraagstuk nie werklik die ander verklaarders hinder nie. Die meeste sien Jesus se uitspraak dat sy slaap, as n geleentheid waarin Hy wil sê dat die situasie nie hooploos is nie: "Julle moet nie treur nie, maar hoop hê!" Die ongelowiges lag vir Jesus, want hulle kyk met wêreldse oë. Geloof kyk deur Jesus se oë; met hoop. William Hendriksen beklemtoon ook die hoop karakter van dié verhale. Dit word ondersteun deur die openbaring van die Here se mag en heerlikheid. Hy sê dat Jesus die hoop is tussen die hooploses, en dat Markus 4 en 5 tot n klimaks oploop, waar Jesus die kind uit die dood opwek. Die opstanding is dan die hoogtepunt van die hoop wat Jesus bring.

Hendriksen, soos Schweizer, beklemtoon die persoonlike verbintenis met Jesus as noodsaaklike element van geloof. In sy preek met die tema van hoop, gebruik Giles Ekola die metafoor van die dood van n kind, om n ervaring van hooploosheid te illustreer. Die metafoor van die dood het verskillende aspekte: Die treurende moeder; die verstaan van die dood; hoop van Jaïrus; pleitroep van Jaïrus vir sy dogter, en; die reaksie van Jesus. Sy konklusie is dat n mens vanuit hoop lewe. Hoop gee n nuwe dimensie aan jou geloofslewe en open die toekoms vir nuwe lewensmoontlikhede.

Preekvoorstel

Ons leefwêreld het sy eie kwota aan seerkry (onlangse voorbeelde uit eie gemeenskap kan genoem word). Hoe help n mens iemand wat in groot nood verkeer, of emosionele seer beleef, om te glo in en te hoop op Jesus vir uitkoms? Hoe laat n mens iemand wat al deur diep seerkry gegaan het verstaan dat die Here ook na hom/haar wil luister? Dat hy/sy maar hulle seerkry en nood voor die Vader van Jesus Christus kan neersit? Dat hulle maar kan glo en hul hoop op God kan vestig? Dat Hy die een is wat hoop gee? Die een wat jou weer n nuwe uitkyk op die lewe gee? Natuurlik sal n mens dit nooit self regkry nie! Alleen die Heilige Gees kan dit doen. Hy doen dit deur die Woord en oortuig mense dat hulle hoop in Jesus is; dat hulle in hulle seerkry by Hom troos en heling vind!

In Markus 5:23-41 word vertel van die Here se liefde, sy omgee vir almal. Hier word vertel van sy betrokkenheid by mense in nood, en dat mense net by Hom nuwe perspektief op die lewe kan kry! In die Skriflesing is twee wonderverhale wat mekaar verklaar; die verhale van Jaïrus en van die vrou met bloedvloeiing. In die verhale is twee sake wat my aangegryp het. Die een is dat die Here altyd vir mense in nood hoop gee, en die ander is dat die Here nie onderskeid maak tussen mense in nood nie

Daar is vir ons elkeen hoop maak nie saak wie jy is nie! As daar n krisis in mense se lewens kom, maak dit ons almal gelyk. As gesiene of welgestelde mense hul kind aan die dood afstaan, of as arm mense hul kind aan die dood afstaan, is hulle in hulle pyn én in hulle hoop voor die Here gelyk. As n gesiene persoon in n gemeenskap sy/haar werk verloor of gelikwideer word, en n minder gesiene persoon in die gemeenskap sy/haar werk verloor, is hulle in hulle pyn en vernedering gelyk voor die Here. Is hulle afhanklik van dieselfde geloof en dieselfde hoop! Hulle het dieselfde worsteling met die Here, dieselfde seerkry, en verlang dieselfde troos. Die minder gesiene persoon het nie meer troos nodig nie, so ook nie die gesiene persoon nie. Hulle is albei afhanklik van Jesus Christus, en albei het toegang tor God deur n persoonlike verhouding met Jesus.

Hierdie twee wonderverhale wat mekaar verklaar, beskryf twee situasies van mense wat min met mekaar te doen het, maar tog so baie in gemeen het. Let ook daarop dat die vrou 12 jaar lank siek is, en die dogter twaalf jaar oud. Albei word deur die Here as "dogter" aangespreek. Dit is asof die skrywer iets wil sê van die gelykheid van die twee persone, wat in twee wêrelde geleef het. Maar hulle was in hulle nood voor God gelyk. Die man was leier van die sinagoge, n gesiene man, sy dogter was sterwend. Die vrou wat siek was, was uitgewerp uit die gemeenskap en eintlik as onrein beskou. Sy het nie eens die moed gehad om persoonlik met Jesus te praat nie, omdat sy skaam was. Maar in hulle nood was hulle gelyk voor die Here. In die verhaal word vertel dat hulle gelyk was voor die Here, maak nie saak hoe die samelewing na hulle gekyk het nie.

Ek wonder soms of ons die voorbeeld van Christus ook na die wêreld in nood uitdra en navolg. Ek wonder soms of daar nie tog by baie Christene n klasseverskil is, waarop hulle hul hoop vestig nie. Gebeur dit nie soms dat sekere mense meer aandag in nood verwag as ander nie? Dit is voorwaar n troos dat die Here nie so n onderskeid ken nie. Die Bybel wys dit uit. Maak nie saak wie jy is, of wat jou nood is nie. Die Here gee hoop deur sy Seun Jesus Christus, aan almal wat in Hom glo!

Daar is vir elke gelowige hoop, maak nie saak wat jou seer is nie! Die persoonlike kontak wat albei persone met die Here gehad het , asook hulle geloof in Jesus, was belangrik vir die hoop wat hulle sou ontvang! Geloof en hoop is twee kante van dieselfde muntstuk. Om te hoop is om seker te wees dat dit wat jy glo waar gaan word! Iemand het eenkeer gesê hoop is geloof in die toekoms. In die gedeelte wat ons gelees het is daar n verband tussen jou hoop dat Hy jou kan dra deur enige krisis heen, en jou persoonlike geloof in Hom. Die vraag na hoop is dus ook n vraag na geloof! As jy vandag kan sê jy glo in Christus, kan jy ook hoopvol leef vanuit die seker wete dat Hy jou in elke krisis sal troos. Jesus is jou hoop, en as gelowige hoef jy nooit daaraan te twyfel nie!

A.W. Tozer het gesê: "n Mens kan 40 dae sonder kos lewe, 3 dae sonder water, 8 minute sonder suurstof , maar enkele sekondes sonder hoop!" Die vrou met die siekte het in geloof die kleed van Jesus aangeraak, omdat sy hoop gehad het. Sy het Jesus vertrou! Dit is n wonderlike troos dat jy die Here kan vertrou wat ookal jou krisis. Jy kan vashou aan die hoop dat Jesus uitkoms gaan gee! Soos die mense wat by Jaïrus se huis geen hoop gehad het vir haar nie en selfs onthuts was oor die Here Jesus se troos dat sy nie dood was nie, so het die wêreld dikwels geen insig in die hoop van gelowiges nie. Die wêreld is dikwels gesteurd deur die geloof en hoop van mense wat weet Jesus Christus het opgestaan.

In die opstanding van Jesus word die hoop waarop n gelowige in krisistye moet staatmaak, geopenbaar. In die opwekking van die dogtertjie van Jaïrus, is haar opstanding n bevestiging van die hoop waarop Jaïrus se geloof gebou is. Hoop is net sigbaar as jy deur die oë van geloof na Jesus kyk. Hoop laat jou anders dink en leef. Hoop laat jou vorentoe kyk en maak die lewe die moeite werd; dit maak nie saak wat jou seerkry en jou krisis is nie!

Piet Naude vertel die verhaal van die gevangene in n konsentrasiekamp wat toegelaat is om sy kitaar by hom te hou: "Sy gees was vry en sy vingers was vaardig en wanneer hy musiek gemaak het, het die ander prisoniers kom luister. Dan het hulle nuwe hoop gekry en net soos hy vreesloos gevoel. Toe die kampowerheid dit oplet, het hulle die man verbied om te speel. Maar die volgende dag het hy maar weer sy musiek gemaak. Die wagte was woedend en het sy vingers afgekap. Kort daarna was hy egter terug. Met sy verminkte hande het hy so goed hy kon, gespeel en sag gesing. Die wagte het die kitaar gegryp en teen die grond stukkend geslaan. Die volgende dag het hy sonder begeleiding gesing, uit volle bors. Die prisoniers het hom gehoor en hulle harte het lig geword. Solank die sang geduur het, was hulle gees net so vry en onoorwonne soos syne. Die kampkommandant was so woedend dat hy die man se tong laat uitsny het. Nou was dit doodstil in die kamp. Tot almal se verwondering was die gevangene die volgende dag terug. Op die maat van musiek wat net hy kon hoor, het die man begin dans. Een vir een het die gevangenes nader gekom, hande gevat en op dieselfde ritme begin wieg. Daar was hoop in hul oë; hul harte was vry. En die wagte was magteloos!"

Hoop in Christus maak jou vry! Hoop in Christus laat jou uit jou omstandighede uitstyg! Dit maak dat jy nie vaskyk in jou seerkry en jou krisis nie. Dit maak dat jy nie vaskyk teen jou eie onvermoë nie! Hoop laat jou opkyk na die Here. Laat jou glo dat net die Here Jesus jou kan help om weer aan te gaan, maak nie saak wie jy is nie!

Bibliografie

Augsburg Sermons- Gospels series B, 1975; G. Aichele. Jesus Framed; E.P. Groenewald. Evangelie van Markus; W. Hendriksen. Mark ( NTC); P. Naude. Stories vir die Lewe; H. Thielicke. En sê nou God bestaan..? E. Schweitzer. Good News According to Mark.