16 februarie 2003

sesde sondag na epifanie

Liturgiese voorstel

Fokusteks: Markus 1:40-45

Ander tekste: 2 Konings 5: 1-14; Psalm 30; 1 Korintiërs 9:24-27

Inleiding

Die genesing van Naåman (2 Kon 5: 1-14) is een episode uit n groep verhale oor die profeet Elisa. Die wonderwerk in die fokusteks uit Markus is weer n episode uit n groep verhale oor Jesus wat, aan die begin van sy openbare optrede, n reeks genesings verrig. Die boodskap van dankbaarheid in die psalmteks bind hierdie twee tekste aanmekaar. Die psalm lê vir Naåman en die onbekende man in Markus se verhaal letterlik woorde in die mond om God te dank vir die wonder van genesing. In die Naåman verhaal verdwyn Elisa op die agtergrond. In die Markusverhaal is daar n dringende begeerte by Jesus om op die agtergrond te bly. Uiteindelik gaan dit in altwee die verhale oor God wat deur sy Gees in mense lewens werk en genesing bewerk.

Paulus (1 Kor 9:24-27) is, soos in die ander Korintiërstekste in die Sondae na Epifanie, steeds gemoeid met die vorm wat ons lewe as Christene moet aanneem. Die Christen se lewe vra dissipline en onderwerping aan die Heilige Gees, n sekere afhanklikheid van die werking van die Heilige Gees in ons lewens. Paulus gebruik metafore uit die atletiekwêreld wedloop en boksgeveg. Hy wil deur hierdie twee beelde die gelowiges aanspoor tot n aktiewe lewenstyl in die gemeente eerder as om n kompetisiegees onder gelowiges aan te wakker. Die prys, suggereer Paulus in vers 25 is die verlossing en opstanding in n nuwe lewe.

Die wyse waarop hierdie lyn in die liturgie gevolg word, hang onder andere saam met die gebruik van die Markusteks as fokusteks vir hierdie Sondag.

God vergader ons voor hom

Votum

Neem steeds Efesiërs 3, soos voorgestel in die basisliturgie vir die Sondae na epifanie, as vertrekpunt.

Voorganger: Ons kom vrymoedig en met vertroue na God.

Gemeente: Ek is vas aan Hom.

Voorganger: God het sy Seun Jesus Christus na ons gestuur om sy uit te voer.

Gemeente: Ek Glo in Jesus Christus die Here.

Voorganger: God gebruik die kerk om die wêreld te laat sien hoe wonderlik sy plan daarmee is.

Gemeente: Ek is deel van sy liggaam, die kerk.

Seëngroet

Aanbiddingslied

Verbondsvernuwing

Skriflesing

2 Konings 5: 1-14

Die voorganger kan vir die kinders op die aktiewe rol wys wat die slavindogtertjie in die genesing van Naåman gespeel het. Verwys dan na die doop as teken van die afwassing van die sondes. Dis goed om hierdie Sondag net na hierdie een besondere aspek van die doop te verwys. Naåman se was in die Jordaan het sakrament-betekenis in soverre dit teken is daarvan dat hy nou weer rein is en genees is van sy onreinheid. Dit geld in dieselfde mate van die verhaal in Markus. Die man se verlossing lê ook daarin dat hy deur Jesus gereinig word van die afskuwelike vuil van sy sonde en siekte terwyl Jesus se vermoë en gesag om te genees, ook weer bevestig word.

diens van die tafel

Terwyl die Markus-teks hierdie week as fokusteks dien, kan daar van die preek direk oorgegaan word na die tafel. Die tafel is die sigbare en proebare bevestiging dat Jesus juis dit wat in die lewe van die melaatse gebeur het, deur sy dood finaal en vir ewig ook vir ons moontlik maak.

Die nagmaalsgebed van die basisliturgie word gebruik.

uitsending

Om die verhaal van hierdie Sondag te voltooi, kan die Korintiërsteks gebruik word. Die gemeente word uitgestuur met die wete dat die Christen se lewe dissipline en onderwerping aan die Heilige Gees vra, n sekere afhanklikheid van die werking van die Heilige Gees in ons lewens. Een van die metafore wat Paulus gebruik, kan uitgebou word om die noodsaak van n aktiewe lewenstyl in die gemeente wêreld daar buite te bevestig. Die gemeente kan met n positiewe beeld, om te lewe en te dien soos God dit in sy wet vra, huistoe gestuur word.

PREEKSTUDIE MARKUS 1:40-45

Teks en konteks

Aan die een kant vertoon die perikoop die klassieke patroon van die evangeliste se genesingsverhale:

Die probleem word gestel: vers 40

Jesus tree op: verse 41-44

Die genesing word bevestig: vers 45

Aan die ander kant is daar merkwaardige elemente verweef met die verhaal, wat ons nuuskierigheid prikkel:

Jesus spreek die melaatse "ernstig" aan om nie daaroor te praat nie wat die melaatse terstond ignoreer.

Verder lei hierdie gebeure daartoe dat Jesus so gewild word, dat Hy verkies om te ontvlug van die skare deur eerder in die oop veld te gaan bly maar dit help nie regtig nie want Hy word steeds gewilder.

Die kommentare is dit eens dat die boodskap nie soseer geleë is in die historiese feitelikheid van die verhaal nie, maar in die literêre en teologiese plasing daarvan wat ons noodsaak om iets van die Markusevangelie se onderliggende teologie te weet. Kingsbury het baie gedoen om die "setting" en die "plot" van Markus se evangelie bloot te lê. Hier volg die breedste raamwerk, wat dadelik n paar perspektiewe en n teologiese raamwerk bied vir die prediking van die perikoop.

In die Markusevangelie, word betoog, gaan dit om die "identity" (karakter) en "destiny" (kruisiging) van Jesus. Verskeie name, titels en Jesus se "doen-en-late", openbaar algaande wie Hy is as die Seun van God (1:1). Die verhaal van Jesus word as n soort reisverhaal vertel, wat in drie hoofstukke verdeel word:

n Inleiding

Die "Galilese lente" en

Die "Jerusalem winter".

Oorsigtelik beskou, is Jesus as Seun van God die Lydende en die Gekruisigde. As sodanig, daag Hy sy ware dissipels uit om " hul kruis op te neem" en Hom te volg.

Hierdie basiese verhaal van Jesus ontplooi in die Markus evangelie met n paar ander onderliggende plot- en storielyne, byvoorbeeld:

Jesus se konflik met die geestelike owerhede van sy tyd wat geen gesag het nie,

Jesus in kontras met die dissipels wat geteken word as lojaal maar eintlik is hulle "sonder begrip en insig"

Die skare wat belangstel en wat in n goeie lig gestel word sonder dat hulle geloof het, en

Sommige individuele persone wat Jesus teenkom en wat ten spyte van een of ander groot hindernis wel duidelik aantoon wat "ware geloof" is en wat dit beteken "om te dien".

Die perikoop van die genesing van die melaatse van Markus 1, sou op n legitieme manier enige van bogenoemde temas kon neem as sleutel tot interpretasie en prediking.

 

Preekvoorstelle

Voorstel 1. Wie is Jesus?

WIE IS JESUS? (Dit is by uitstek die vraag van Epifanie-tyd)

Daar het oor die afgelope jare weer n lewendige debat ontstaan rondom wie Jesus nou eintlik is. In die dagblaaie en op akademiese verhoë word baie emosionele en rasionele argumente aangevoer en weerlê. Dikwels kan n mens uit die argumente aangebied as feite eintlik meer aflei oor die persoon wat argumenteer, as wat n mens iets wyser word van Jesus self. Jesus is en was nog maar altyd omstrede!

Markus is een van die vroegste geskrifte wat probeer sê wie Jesus is en in sy verhaal is dit so dat die meeste mense in elk geval nie juis begrip en insig toon vir wie Jesus is nie. Ook dié wat Hom eerstehands gesien en geken het, het nie begryp wie Jesus werklik is nie. Dit is vandag steeds so. Maar kom ons loop op Markus se voetspoor en dalk net dalk gaan daar vir ons n lig op!

As n mens iemand wil ken, moet jy sy storie(s) ken. In die groter verhaal wat Markus van Jesus vertel, kom daar ook n klomp kleiner stories na vore. In Markus 1 word Jesus kort na mekaar voorgestel as: (1) n Bekeringsprediker; (2) n Leier wat dissipels roep; (3) n Leermeester met gesag; (4) wat ook duiwels uitdryf; (5) en n ou tannie genees. Hy is: (6) n Bidder in die vroeë môre, wat; (7) die hoogste prioriteit gee aan prediking en dan kom die melaatse op die toneel. Wat sou hierdie storie sê van die identiteit van Jesus?

Soos ook later in die Markus weergawe, is Jesus die Seun van God wat by uitstek God se barmhartigheid openbaar. Dit is wat in die kleine van hierdie verhaal van die melaatse gebeur.

Om begrip te kry vir God se barmhartigheid, moet ons ons weer inleef in die plek van n melaatse in die destydse samelewing. Die ouer samelewings het n redelik duidelike en rigiede stelsel gehad rondom wie rein en wie onrein is (Vergelyk gerus die wetgewing in Levitikus). Dit is soos om te bepaal wie is in en wie is uit, wie kan lewe en wie nie. Hierdie maatskaplike oordele is direk religieus gewortel; hoewel mense die beslissing en die reëls maak, is dit God wat bepaal wie is in en wie is uit en uit was uit! Melaatses was baie duidelik uit. Kommentare kan nagelees word oor presies hoe onaanvaarbaar melaatses was. Dit was baie erger as Vigs (wat dalk vandag na n parallel kan klink), want laasgenoemde kry darem in sekere kringe simpatie. Melaatse mense het destyds geen simpatie by mense gekry nie en daarom sal n mens allermins die goeie aandag van die gode verwag.

In hierdie konteks is Jesus Seun van God op n skokkende manier besig om on-goddelik te handel. Hy kry die melaatse jammer. Hy reik uit na hierdie sosiaal/religieus veroordeelde (steek sy hand uit) en Hy doen die ongehoorde om hom aan te raak. Dit maak Jesus natuurlik wettiglik onrein en dan sê Hy nog boonop: "ek wil" dit doen. Wat n skokkende storie en wat n totaal ander prentjie van God. Die God wat op n besondere manier Hom by die noodlydende skaar. Dit is mede-lye, mee-gevoel, deernis, em-patie, com-passion, saam-voel en "jou-probleem-myne-maak". Sommige kommentatore wys daarop dat Jesus boonop besonder sensitief was vir die godsdienstige mense van sy tyd (sy opponente in die evangelie), deur die melaatse die opdrag te gee om ook aan die wetlike vereistes te voldoen. Daar kan geen ander afleiding gemaak word nie: God is baie barmhartig diep in sy wese Hy kan nie anders wees nie.

Dat Jesus die melaatse vra om hieroor stil te bly, kan nie te doen hê nie met obskure motiewe soos :

(1) dat Hy bang is vir die gevolge vir Homself indien iemand uitvind wat Hy gedoen het nie, of

(2) omdat hy op subtiele wyse besig was met "reverse marketing" waarvolgens iemand iets vra terwyl hy/sy juis die teenoorgestelde daarvan wil bereik (n Goeie voorbeeld van "reverse marketing" is om by n program/item/saak te adverteer dat "as jy n nuuskierige mens is, moet jy asseblief hiervan wegbly").

(3) Die vraag na die rede waarom Jesus vra dat daar nie oor hom gepraat word nie, het al verskillende antwoorde uitgelok. Die antwoord lê tien teen een in die "geheimsinnigheid" van die groter verhaal waarin Jesus se openbaring ook deurentyd verborge is. Geestelikes, teoloë en dissipels, "ken" en "erken" Hom nie, maar die duiwels ken Hom by die naam!

Die vraag en die verhaal van Markus is inderdaad: WIE IS JESUS? En so eenvoudig en reguit soos wat Markus dit vertel, so seker is dit ook dat dit nie vanselfsprekend is dat iemand Hom sal ken (= sy kruis opneem en volg) nie. Hoe vertel ons die verhaal van Jesus? Getuig ons verhaal as volgelinge van Jesus ook van die barmhartigheid van God wat uitreik na mense in nood, die siekes, die uitgeworpenes die melaatses? En doen ons dit omdat dit ons tweede natuur is, sonder dat die regterhand weet van die linkerhand, sonder om enige erkenning daarvoor vir onsself op te eis?

Voorstel 2: Egte Christen Getuienis

Epifanie is die tyd in die kerkjaar, waarop Jesus aan die wêreld voorgestel word. Ons as Kerk die draers van die evangelie van Jesus, word dus uitgedaag ten opsigte van ons voorstelling van Jesus aan die wêreld.

Sommige oordenkings oor hierdie perikoop (Van Ruler byvoorbeeld) benader hierdie verhaal vanuit die melaatse as "hèt beeld van de christengetuige". Die spontaniteit, egtheid, sonder opdrag of aanmoediging maar vanselfsprekend omdat hy nie anders kan nie word uitgelig.

Die geneesde melaatse staan in skrille kontras tot die alledaagse en die meeste gelowiges waarvan die vuur (blykbaar) uitgedoof is. Die vraag kan wees of die meeste gelowiges dan nie eg is nie dalk nie regtig iets beleef het of God regtig ontmoet het nie? Hoekom neem spontaniteit af? Is dit natuurlik? Kan dit weer opgewek word? Is dit net "wonder" ervarings wat ons daarmee kan help? Waarin lê egtheid van getuienis en wat sou effektief getuig vandag beteken?

Van Ruler vra opeenvolgend n paar kritiese vrae oor getuienisse wat "te opgewonden" is: "Men schroeft zich op tot verzekeringen en uitroepen die loos zijn". Christene kan en moet ook met beskeidenheid en eenvoud getuig solank dit waar is dat mense self by Jesus die bron uitkom. Die mense moet nie na ons getuienisse stroom nie, maar na Jesus toe.

Voorstel 3. Wil die Kerk regtig gewild wees?

Inleiding

Fred Craddock maak n oulike preek, deur die wenk te neem van Markus wat elke keer die kontras tussen die dissipels en Jesus in sy verhaal uitlig. Dit is n tema reg deur die Markus evangelie. Jesus is die Seun van God, die Korrekte een, die een wat God verteenwoordig, die een wat die werklikheid sien soos God dit sien, en wat gevolglik optree soos dit behoort te wees. Die dissipels is menslik, kyk met n menslike oog (bv na die storm op die see, die voeding van die skares en oor wie belangrik is in die koninkryk). Die saak waarna hy in hierdie perikoop kyk is gewildheid.

Jesus en gewildheid?

Die verhaal van hoofstuk 1 loop uit op die hoogtepunt van hoe dit gekom het dat Jesus so gewild in Galilea geword het (1:28, 33, 37, 45). In die gedeelte sien ons ook hoe Jesus op gewildheid reageer en hoe die dissipels daarop reageer. Hoe het Jesus dit reggekry om soveel mense te bedien en tog nie vir die versoeking van populariteit geval het nie? Daar is 4 indikasies in die teks:

a. Volgens Markus se rangskikking van die teks, is Jesus se publieke optredes elke keer afgewissel met privaatheid.

1:21-28 = publiek; 1:29-31 = privaat;

1:32-34 = publiek; 1:35-38=privaat;

1:39-45 = publiek; 2:1 = privaat.

Hierdie afwisseling kan dalk iets sê oor Jesus se bereidheid om te dien en om sy inspanning te balanseer met fisiese en geestelike herstel. In die lewe wat doelbewus omgang met God soek waarin die benediktynse rus, bid & werk belangrik is word balans en perspektief behou. Die kerk het dit nodig beide om baie mense effektief te bedien en om "groot getalle en sukses" dan reg te hanteer (En laat ons nie vergeet dat Jesus dalk in die begin in Galilea gewild was, maar later in Jerusalem heel ongewild gekruisig is).

b. Jesus doen moeite met gebed: Jesus sê in Markus 3:14 dat dissipels mense is wat "by Hom bly, sodat Hy hulle kan uitstuur" om sy werk voort te sin. Gebed is beide om by Hom te bly en om opdragte te hoor Soos Jesus ook kontak met die Vader behou het.

c. Jesus verkies om voort te beweeg na die mense wat die evangelie nog moet hoor in plaas van om terug te keer na die applous van die vorige skare (vers 38). Is die Kerk anders as normale mense in staat om die bedwelming van applous te ignoreer? Is ons nie geneig om applous as God se bevestiging te interpreteer nie?

d. Jesus vra dat daar oor Hom geswyg word (1:25,34,44; 3:12; 5:43; 7:36; 8:26;30; 9:9). Een dissipel wat sy kruis opneem en Jesus volg, beteken meer as n 1000 Galilese manne wat met elmboë stamp om n plekkie in die skare te kry. Jesus vermy gewildheid, omdat dit sê die latere verhaal volgens Markus Hy ook sy lyding en kruisiging voorspel het.

Die dissipels en gewildheid

Jesus se dissipels het glad nie verstaan nie, daarom het hulle ook verward en insigloos weggevlug toe die applous opgehou het by die kruis. Terwyl Jesus nog gebid het, het Simon en die wat by hom was, Jesus naarstigtelik gesoek ("chased him down"). Onthou dat by Markus het "dié wat Jesus gesoek het", n negatiewe konnotasie (vgl 11:18; 12:12; 14:1,11,55). Hulle het Hom onderbreek met dit wat hulle gedink het die Blye Nuus was: "Almal soek U!" Dat almal die Here soek, is nie die evangelie nie. Dat God al die mense soek en hulle liefhet nie omdat hulle oulik is nie is die evangelie

Die dissipels het glad nie verstaan dat daar "soekers" en "sóékers" was nie kom-kykers en kruisdraers. Jesus soek kruisdraers (8:34-38) en dienaars (9:3337). Selfverloëning en bediende-wees was nog nooit die gewildste aktiwiteite nie.

Slot

Daarom vra ons: Wil die kerk regtig gewild wees?