8 Desember 2002

Tweede Sondag van Advent

Liturgiese voorstel

Fokusteks: Markus 1:1-8

Ander tekste: Jesaja 40:1-11; Psalm 85:1,2, 8-13; 2 Petrus 3:8-15

Tema: Berei die pad vir die Koning en sy beloofde ryk

God vergader ons voor hom

In die adventsaankondiging word verduidelik dat die hele liturgie op hierdie Sondag gelowiges en die kerk wil help om baanbrekers vir God se allesomvattende heilsboodskap te wees. Na die aansteek van die tweede adventskers word Jesaja 40:3-5 en 9c, 10a as votum gebruik. n Moontlike drumpelgebed is:

Here Jesus Christus, U kom telkens na ons toe met u aanbod van genade, liefde en verlossing. Skenk u reddende hulp opnuut aan ons en aan ons land sodat ons u liefde, geregtigheid en vrede sal ervaar. Laat ons deur hierdie erediens en deur die diens van ons lewe, n pad maak vir u koms. Amen

Na die seëngroet word Lied 151 of NSG 222 gesing. Daarna word 2 Petrus 3:8-15 gelees as skuldbelydenis oor die uitbuiting van mens en natuur. Na n tyd van stilte word die belofte van Psalm 85:9-14 gelees as woorde wat nuwe vergesigte van hoop open. Lofliedere oor God se nabyheid word gesing, bv Lied 326, 153, 163 of NSG 245, 88, 109

Diens van die Woord

Sing Psalm 85:3-5 of NSG 332 as gebed. Skriflesing en prediking: Markus 1:1-8

Diens van die tafel

Laat die doopbediening aansluit by die doop van Johannes. Klem word gelê op die feit dat die doop gelowiges telkens help om in gehoorsaamheid aan die Woord hulle lewens opnuut op God se beloftes te rig. Die credo gaan die doop vooraf; daarna steek die doop ouers addisionele adventskerse aan. Hierop volg intersessie en offergawes.

Uitsending

Na Lied 590 of NSG 138 volg die seën uit 2 Pet 3:17,18

 

PREEKSTUDIE MARKUS 1:1-8

Teks

Herman Waetjen merk op dat Markus se evangelie n herformulering is van die reeds geformuleerde goeie nuus van Jesus Christus. Saamgestel in die vorm van n verhaal, is dit n wêreld wat kreatief opgebou is uit materiaal van bestaande tradisies en sosiale gebruike. Dit bevestig sy eie outentieke karakter in die leesproses, asook in die begeleidende skepping van betekenis (Vertaal). Dié opmerking van Waetjen benadruk n paar sake. Allereers dat Markus deur die opbou van die evangelie en begrippe wat hy gebruik, n "beplande" boodskap oordra. Verder word die leser deur die verhaal, soos Markus dit vertel, meegeneem en uitgedaag tot n bepaalde opvatting van Jesus. Dirkie Smit skryf: "Wat n mens Christologie sou kon noem, vorm die hoofmotief van die Evangelie. Rondom Jesus Christus is die intrige van die verhaal geweef, en dan spesifiek om sy identiteit, dit wil sê om die vraag wie Hy waarlik is, asook om sy doel, sy taak, sy roeping en werking, sy destiny, dit wil sê die vraag wat Hy waarlik doen en gaan doen." Hoe n mens hierdie identiteit van Jesus verstaan, het belangrike gevolge vir die lewenstyl van die kerk. Christologie en dissipelskap is dus nou verweef in hierdie evangelie.

Markus 1:1 funksioneer as n samevatting van die inhoud van die hele evangelie (Gnilka). In die eerste vers van Markus word n hele klomp motiewe van die evangelie reeds aan die orde gestel. Die benaming "Jesus Christus, seun van God," is n gelade uitdrukking. "Seun van God" is n sleutelbegrip in Markus (1:1; 1:11; 3:11; 5:7; 9:7; 14:61; 15:39). Dit word op sleutelplekke in die evangelie aangetref om Jesus se verhewe rol as Messias te beklemtoon. Dit is egter onmoontlik om hierdie uitdrukking los te sien van die ander "titels" van Jesus, die verhaalopbou en verloop daarvan. Tereg merk Blomberg op dat die uitdrukking, "Seun van God" die verhaal omraam. Dit is die "opskrif" van die evangelie, maar word ook deur n "ousider", die Romeinse soldaat, by die kruissider", die Romeinse soldaat, by die kruisiging van Jesus op sy lippe geneem (15:39). Tussenin sê God dat Hy sy seun is (1:11). Die bonatuurlike wesens bevestig dit (3:11). In die evangelie sien ons dikwels dat hierdie titel iets is wat Jesus "geheim" gehou wil hê, in die literatuur bekend as die sogenaamde "Messias geheim" (Mark 1:4344; 5:43; ook 7:24). Hoekom moet dit geheim gehou word? Hierop antwoord Bauer dat die Jesus waarvan Markus vertel, nie as Seun van God verkondig wil word nie, totdat dit duidelik word dat sy goddelike seunskap nie in buitengewone wonders gesoek moet word nie, maar in lyding en dood (vertaal). Dit word deur die opbou van die evangelie bevestig.

Markus 8:27 is die draaipunt in die evangelie. Tot op dié punt is Jesus die Seun van God, die Heer oor die magte. Verderaan word Hy voorgestel as die lydende Seun van God. Dit is in hierdie verband dat n ander sleutelbegrip in die evangelie genoem moet word. Vorster sê dat die name "Seun van God" en "Seun van die mens" (2:10; 2:28; 8:31, 38; 9:9, 12, 31; 10:33, 45; 13:26; 14:21, 41, 62) die hele beeld van wie Jesus volgens Markus is, struktureer. Hierdie begrippe staan nie teenoor mekaar nie en die een word nie bo die ander verkies nie (Bauer). Vorster benadruk dat die evangelis twee vertelperspektiewe na vore laat kom. Markus 8:33 is in hierdie opsig n sleutelvers. n Mens kan na Christus uit n menslike of Goddelike perspektief kyk. Om na Jesus te kyk, is ook om Hom raak te sien as die "Seun van die mens." Niemand anders behalwe Jesus self gebruik hierdie uitdrukking nie. In al drie lydensaankondiginge word dit gebruik (8:31; 9:9, 12, 31; 10:33; ook 14:21, 41), maar ook in verband met sy aardse optrede (2:10, 28; 10:45); sy lyding en opstanding en sy wederkoms (8:38; 13:26; 14:62). Deur die benaming "seun van die mens", word die koninklike figuur, die seun van God, die Christus, een wat as Heer sy mag uitoefen deur sy lewe af te lê as losprys (10:45). Hierdie begrip dien in n sekere opsig as n korrektief op die opvatting van Jesus as die triomferende en die "glorie-en-mag-Christologie" (Smit), wat dalk met die gebruik van die titel "Seun van God" kon ontstaan. Die benaming "Christus" (1:1 en 9:41) word in die evangelie met "Seun van God" geïdentifiseer (Vorster). Dit verleen wedersyds inhoud aan mekaar. Die eerste deel van die evangelie bou op tot Petrus se belydenis van Jesus as Christus. Petrus kan egter nie aanvaar dat die Messias moes ly nie. Dit sê weer iets van Markus se intensie met sy evangelie. Die seun van God, die Christus, is die Seun van die mens, die een wat moes ly. As jy Hom nie só verstaan nie, verstaan jy Hom verkeerd. Volgens Blomberg wil Markus twee kern waarhede balanseer, naamlik Jesus se heerlikheid en die kruis, wat beide in Jesus se lewe en dié van die dissipels sentraal staan (veral 8:31-9:1) (Vertaal). Elkeen wat Jesus dus as seun van God bely, sal ook ontdek dat Hy die lydende kneg van die Here is, die seun van die mens. Die pad van die kerk is ook geen triomfalistiese navolging van Jesus nie, maar n teologie van die kruis.

Die ander begrip wat in hierdie vers van belang is, is "evangelie." Binne die konteks van die Nuwe Testament kan die begrip "evangelie" vertaal word met: "news that makes one happy' or 'information that causes one joy' or 'words that bring smiles' or 'a message that causes the heart to be sweet'" (Louw & Nida). Dit staan in noue verband met die begrippe "euangelizomai" en "kerussó" (sien 1:4 Johannes wat ook verkondig). Uiteraard gee Markus nou sy eie inhoud aan hierdie begrip. In die Nuwe Testament is Christus sowel die inhoud as die boodskapper van die goeie nuus. In die woorde van Markus 1:1 is Christus die subjek sowel as die objek van die evangelie (Gnilka). Die uitdrukking: "die evangelie begin só", kan nie los gelees word van die res van die evangelie nie. Die frase: "daar staan geskrywe", in vers 2, verbind die evangelie onmiddellik met die res van die boodskap in die boek. Daarby is dit die evangelie van "Jesus Christus, die Seun van God." Hieraan is reeds aandag gegee. Dit is alles deel van die evangelie. Bauer wys daarop dat Markus na die volle verhaal oor Jesus as "evangelie" verwys. Alles wat nou volg, vanaf die koms van Johannes die Doper (1:4), regdeur tot by die uitspraak oor die vroue se vrees (16:8). Die verhaal oor Jesus is die "evangelie" (Vertaal).

In Markus 1:2-3 word n atmosfeer van verwagting geskep (Williamson). Wanneer Markus na die profeet Jesaja verwys, is dit duidelik dat die kerk van sy tyd hierdie aanhaling vroeër reeds op Johannes die Doper van toepassing gemaak het (Jes 40:3; Mal 3:1; Eks 23:20). Dit was waarskynlik in n groep Ou-Testamentiese aanhalings wat deur die vroeë Christene bewaar is. Die hele gedeelte is waarskynlik aan Jesaja toegeskryf. Op grond van Jesaja 40:3 is n nuwe uittog aan die kom aan die einde van die tyd. Schweitzer sê dat hierdie aanhalings van Markus meer as net n inleiding is. Dit stel alles wat volg bekend as die vervulling van God se volle betrokkenheid by Israel. Daarmee verklaar hy reeds aan die begin dat God op n unieke wyse gehandel het (Vertaal). In God se program met die wêreld, word Johannes as Jesus se voorloper gesien. Johannes die Doper is redelik algemeen gesien as Elia wat na die aarde toe teruggekeer het (Luk 1:17; Mark 9:11-13). Hy dra selfs klere soos Elia (1:6; 2 Kon 1:8). Die klere van kameelhaar herinner aan die drag van die profete (Sag 13:4).

In hierdie vers is daar n belangrike verskil tussen hierdie lesing en dié in die LXX. In die LXX word gesê dat die pad vir God gereed gemaak moet word. Hier word dit vervang met die griekse woord "kurios" (Heer).

Die optrede van Johannes in die woestyn (1:4), is ook betekenisvol. Die woestyntyd is dikwels gesien as die tyd wanneer God n nuwe verhouding met die mense sou aanknoop. Dit was n tyd van sonde en genade (vgl Hos 2). Die eerste deel van Johannes se prediking, word aan die orde gestel. Sy boodskap is tweërlei. Enersyds word bekering verkondig. Andersyds word verwys na sy eie geringheid in die lig van die koms van die Een wat hy voorafgaan. Dit is duidelik dat die skrywer n verband tussen prediking, doop, bekering en vergifnis lê (Williamson). Bekering gaan vir Markus oor die "transformation of the total direction of his life, that is, of his relationship with God" (Schweitzer).

In Markus 1:5 word die sukses van die prediking benadruk deur die uitdrukking dat "die hele" landstreek en "al die inwoners" na Johannes toe gestroom het en op die boodskap gereageer het. Deur hulle te laat doop, plaas hulle hulself onder die oordeel en genade van God in hierdie beslissende tyd (Schnackenburg).

In Markus 1:6-8 word Johannes en Elia naas mekaar gestel: "men of God, of austere piety, figures called by God into the history of salvation, witnesses to Christ from the distance of the Old Testament and from the imminence of Christs arrival" (Schnackenburg). Markus, soos Schnackenburg sê, bekyk Johannes geheel en al deur Christelike oë. Hy is in diens van Jesus, die een wat met die Heilige Gees doop. Die basiese kontras is tussen Jesus en Johannes, nie tussen hulle onderskeie dope nie. Die Messias sal nie net deur die Gees toegerus word nie, maar die Gees aan mense gee. Hy sal mense van binne uit verander. Om iemand se skoene agter hom aan te dra, was die werk van n slaaf. Joodse slawe het nie nodig gehad om dit te doen nie. Rabbi Jesus ben Levi skryf: "Alle dienste wat n slaaf vir sy meester moes doen, moet n leerling vir sy heer doen, behalwe om sy skoene los te maak."

Konteks

Die tweede week van Advent fokus op verkondiging. Hierdie perikoop leen dit daartoe dat verkondiging n fokuspunt kan wees. Hóé n mens oor hierdie gedeelte sal preek, is natuurlik n ander saak. Dit is baie moeilik om dit te doen sonder om die hele Markusevangelie breedweg aan die orde stel. Daarom kan n belangrike aspek van die evangelie in die prediking uitgelig word.

Hoewel dit belangrik is dat Adventstyd nie al die aspekte van die evangelie gelyktydig aan die orde behoort te stel nie, is dit bykans onmoontlik om oor hierdie gedeelte te preek sonder om ook aan Jesus se lyding, dood, opstanding en wederkoms aandag te gee. Die evangelie plaas die aspekte van Jesus se identiteit as lydende kneg met die beginvers op die tafel. Daarom benadruk Vorster tereg dat ons goed moet verstaan dat die verhaal nie net handel oor dit wat in die evangelie staan nie: "Die Ou Testament vorm die interteks waarteen gegewens vertel word en daar is gedurig verwysings na die periode waaroor die Ou Testament handel. Die vertelde tyd strek tot by die koms van die Seun van die mens. Hierdie twee periodes bepaal die tyd waarbinne die verhaal afspeel, selfs al begin en eindig die verhaal nie daarmee nie. Beide die sinne waarmee die evangelie begin en waarmee dit eindig, is deurslaggewend in hierdie verband. Volgens Markus 1:1 handel die evangelie oor die goeie boodskap in verband met Jesus Christus die Seun van God. Die vertellyn word afgesluit met die uiters spannende, en vir baie onaanvaarbare opmerking, dat die drie vrouens uit die graf gegaan het en weggevlug het omdat hulle verskriklik bang was. Daar word vertel dat hulle vir niemand iets gaan vertel het nie omdat hulle bang was. Daarmee word die verhaal oopgelaat en word die leser gedwing om verwysings na die koms van die Seun van die mens en die voortgang van die verhaal te bedink nie in terme van 'n gelukkige einde nie maar in terme van die tyd na die leë graf en die koms van die Seun van die mens."

Dat Markus n nabye wederkomsverwagting het, word benadruk deur die feit dat Jesus ook die koninkryk van God as n nabye werklikheid sien. (9:1; 14:25; Sien ook 8:38; Mark 13). Die verhaal word daarom bekyk vanuit die oogpunt dat die koninkryk aan die kom is, selfs baie naby is (Mark 1:14): "Deur middel van koninkryk-van-God-uitsprake word daar 'n sterk appèl op die lesers gemaak om gereed te wees en korrek op te tree in die lig van die koms van koninkryk (Mk 9:47; 10:14-15, 23-25; 12:34)" (Vorster).

In die lig hiervan moet Markus se gebruik van die titels van Jesus in die beginvers deur die opbou en inhoud van die Markusverhaal belig word. Die eksegetiese opmerkings hierbo by 1:1, behoort gebruik te word. Uit die kerkgeskiedenis is dit duidelik dat die Reformasie die evangelie as die eintlike Woord van God beskou het. Hiermee is bedoel dat die hele Bybelse boodskap die blye boodskap (evangelie) bevat, met die doel om mense te herskep en sodoende tot hulle ware bestemming terug te lei. Uit die evangelie word die ware kennis van Christus, soos Hy deur die Vader vir ons aangebied word, ontvang, omdat Christus in die kleed van die evangelie na ons kom, sê Calvyn. Deur die evangelie word die skatte van "sy genade gewis vir ons oopgemaak. As dit vir ons gesluit bly, sou Christus weinig voordeel vir ons ingehou het" (Calvyn). Ons kan sê dat Markus deur die gebruik van die uitdrukking "die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God," die lesers onmiddellik konfronteer met alles wat in sy evangelie staan. Jesus as Seun van God, die Christus en Seun van die mens, kom in die kleed van die evangelie na ons toe. Die prediker moet die "andersheid" van hierdie Jesus, wat teen die verwagtinge van mense ingaan, nou reeds aan die orde stel.

Indien ons dit ernstig neem, moet ons ook Johannes se rol as voorloper ernstig neem. Sy hele voorkoms en optrede is dié van onderwerping aan die Seun van God en mens. Dit is wesenlik deel van die evangelie wat verkondig word. Verkondiging is een van Markus se hoofbelangstellings in hierdie gedeelte. Die woord "verkondig" word deur Markus gebruik wanneer hy kommentaar lewe oor verhale wat hy uit die tradisie ontvang het. Hiervolgens is Johannes (1:4, 7), Jesus (1:14, 38ev) en die dissipels (13:10; 14:9) almal verkondigers.

In hierdie verband bied James M King n interessante invalshoek met sy preek oor hierdie gedeelte. Sy tema is: "Geroep om anders te wees." Soms verskyn daar mense in die loop van die geskiedenis wat lyk of hulle uit n ander era kom. Hulle denke, kleredrag en optrede is uit pas met dit waaraan mense gewoond is. So was Johannes. Die vreemdste van alles was sy boodskap van bekering. Mense vind so n boodskap vreemd, omdat daar n lang tyd verloop het sedert iemand verkondig het dat God n nuwe tyd sou laat aanbreek. King vra dan of ons dink dat Johannes dit geniet het om so te wees. Sekerlik nie. Die rede waarom hy dit gedoen het, was omdat God hom die opdrag gegee het. Die grootste "sonde" wat n mens vandag kan doen, is om aanstoot te gee aan mense se "sensibilities", deur anders te wees. Tog is dit dalk wat die Here vandag van ons vra. Al was hy anders, het baie mense na hom gestroom. Dit was waarskynlik so omdat hy die waarheid gepraat het. Mense gee nie aandag aan ons boodskap nie, omdat ons nie anders is nie. Hulle kom agter dat ons soms bietjie in n verleentheid is omdat ons Christene is. Johannes was nie baie hoflik teenoor die leiers en godsdienstige leiers nie. Hy sou waarskynlik nie in die hedendaagse kerk n werk gekry het nie. Niemand kon egter sê dat hy nie die waarheid gepraat het nie. Mense hoor nie meer ons boodskap nie: "It strikes to close at home."

Daar is seker elemente uit hierdie boodskap wat gebruik kan word, maar dit beweeg dalk bietjie te ver weg van die boodskap wat in hierdie perikoop na vore kom. Markus kyk immers vanuit die dood en opstanding terug na die Jesusgebeure en wil die geloofsgemeenskap by die voortgang van hierdie verhaal betrek. In die lig daarvan word die vraag reeds van die eerste verse af gevra of die leser bereid is om n draer en navolger van hierdie evangelie te wees. Die evangelie moet immers aan al die nasies verkondig word (13:10). Die slot van die Markusevangelie word oopgelaat (sien die opmerkings aan die begin). Gaan julle vertel of nie? Gaan ons soos die vroue swyg? Gaan ons, wat die implikasies verstaan van Jesus as lydende kneg van God wat binnekort gaan terugkeer, hierdie verhaal verder dra en daaruit leef?

Preekvoorstel

Die evangelie van Jesus Christus, die seun van God, begin so Hoe? Begin dit by die bediening van Johannes? Is dit wat die evangelis in hierdie verhaal vertel, die hele evangelie? Klaarblyklik nie. Miskien moet ons die woorde "begin so" ernstiger neem. Wat bedoel ons daarmee?

Eerstens is dit duidelik dat Markus die verhaal van Jesus en Johannes se optrede as deel daarvan, as n vervulling van die woorde van die profete sien. Lank gelede het profete reeds gesien dat God nuut sou begin met sy volk (sien opmerkings onder teks).

Tweedens is Johannes se bediening een van die "onderafdelings" van die evangelie. Hy is nie werd om die Een wat na Hom sou kom se skoene los te maak nie. Sy boodskap is ondergeskik aan die boodskap wat sou kom. Sy hele bediening staan in diens van die Here, Jesus Christus, wat na Hom sou kom. Sy boodskap van bekering en vergifnis van sonde, berei die pad voor vir die boodskap van Jesus Christus, wat sy lewe as losprys vir die mense sou gee (10:45). Dit berei die pad voor vir die Een wat deur die Heilige Gees mense van binne-uit verander (1:8). Dit berei die pad voor op die nuwe begin wat God, soos in die woestyn (Hos 2 en 1:4), met sy mense begin loop. Gregorius die Grote het eeue gelede na die bediening van Johannes in hierdie gedeelte verwys: "Wie ookal die regte geloof en goeie werke preek, berei niks anders as n pad vir die Here voor nie. So kom Hy in die harte van die hoorders. So dring sy genadige krag hulle binne en word hulle deur die lig van die waarheid verlig. Die prediker maak die paaie vir God gelyk wanneer hy rein gedagtes in die siel vorm deur die woord van goeie prediking." Of Gregorius heeltemal in lyn is met die bedoeling van Markus, kan ons dalk bevraagteken. Wat wel waar is, is dat die Markusevangelie baie ernstig daaroor is dat die evangelie versprei moet word.

Derdens is dit duidelik dat die kerk na Jesus se dood, opstanding en hemelvaart, voor sy wederkoms hierdie evangelie sou voortsit. Die "oop einde" van die Markusevangelie kan hier benadruk word. Deur die getuienis van die kerk is die evangelie besig om steeds sy weg deur die wêreld te vind. Dit is dus duidelik dat die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, ver meer is as wat in die evangelie staan. Dit gryp terug op die Ou Testament. Dit vertel die verhaal van Johannes en Jesus se bediening. Dit daag die kerk uit om deel te word van die voortgang van hierdie evangelie van die koninkryk van God wat besig is om te kom.

Watter evangelie moet verkondig en geleef word? Dit is die evangelie van Jesus Christus, die seun van God. Hierdie woorde is baie meer as n inleiding tot die evangelie, of n opstapeling van titels van Jesus. Dit vat as t ware die evangelie wat Markus vertel, saam. Die verhaal wat volg gee inhoud aan wat hier staan. Markus het ten doel om die leser saam te neem en te betrek by die verhaal. Twee sake kan benadruk word:

Die identiteit van Jesus. Hier kan die aspekte wat by die teks hierbo oor Jesus as Seun van God en seun van die mens bespreek is, aan die orde kom. Dit is belangrik om te benadruk dat Adventstyd ons wel laat nadink oor die koms van Jesus na die wêreld, maar dat Markus ons nie toelaat om daaroor te dink los van die lyding van Jesus Christus nie.

Die kerk se identiteit: Die kerk wat die identiteit van Jesus Christus verstaan, kom ook in diens van die boodskap. Wanneer die kerk in die wêreld beweeg, beweeg dit onder die kruis. Johannes die Doper is simbolies van iemand wat nie skroom om in diens van die Seun van God te staan nie. Reeds in sy persoon sien ons wat die kruisweg beteken. Hy onderwerp Hom geheel en al aan die Messias (1:7, 8).

Gedurende Adventstyd dink ons aan die Here wat gekom het, maar wat ook aan die kom is. Markus se "inleiding" laat ons verstaan dat die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, geen neutraliteit by ons tot gevolg kan hê nie. Ons kyk terug op die verhaal van Jesus en ons kyk vorentoe na die koms van Jesus. In hierdie tyd word ons geroep om deur woord en daad draers van hierdie evangelie te wees. Die evangelie, sê de Reuver, kom én het gekom. Nee, dit kom nie tot stand asof dit nog moet word nie, maar dit kom aan die woord, dit kom ter sprake, dit kom op ons af, en dit kom ons te binne. Dit gaan op n oorwinningstog deur menselewens. Dit is lewend en kragtig, in die werksaamheid van die Gees, in die vryspraak van die sonde en die aanspraak op die ganse lewe. Dit is die evangelie! n Straal van die ewigheid midde in die tyd (vertaal).

Bibliografie

Bauer DR, 1992. Son of God, in Green, Joel G. Dictionary of Jesus and the Gospels. Blomberg, G L, 1997. Jesus and the Gospels. An introduction and survey; Cranfield, CEB, 1977. The gospel according to St Mark; Gnilka, J, 1978. Das Evangelium nach Markus. EKK II/1; King, JM, 1996. Called to be different, in The ministers manual, Edited by James Cox, 236-237; Schnackenburg, R, 1971. The gospel according to St Mark for spiritual reading; Smit, D J, 1992. Lyding, Christologie en dissipelskap volgens Markus en die prediking, in C W Burger, B A Müller en D J Smit, Woord teen die Lig I/8; Schweitzer, E, 1970. The good news according to Mark; Vorster, WS, 1991. Om te vertel dat Jesus Christus die lydende Seun van God is: Oor Markus en sy teologie, uit Teologie in Konteks; Waetjen, A. 1983. Reordering of power. A socio-Polical reading of Marks gospel; Williamson, L. 1983. Mark. A Bible commentary for teaching and preaching.