Wêreldvigsdag 1 Desember 2001

vir 2 Desember 2001 (ook Eerste Sondag van Advent)

Waarom?

Ons almal is bewus van HIV/vigs. Dit neem reeds ernstige afmetings in ons eie land aan. Statistiese projeksies toon

aan dat in die volgende nege jaar byna vyf miljoen burgers van die RSA aan vigs sal sterf. Dit sal noodgedwonge

gevolge hê vir ons land se ekonomie. Maar dis nie al nie — dink ’n oomblik aan die gesinne, families en die duisende

weeskinders wat daardeur geraak word.

Dit is nie Afrika se probleem nie; dit is óns probleem. Ons gaan in ’n enkele jaar of twee die realiteite aan ons eie

lyf voel ... in ons eie kringe ... Ons voel dit reeds! Wat doen ons?

Daar lê binne die kerk enorme potensiaal opgesluit om iets aan hierdie saak te doen omdat die kerk die enigste

instansie/organisasie/institusie is wat tot in byna elke uithoek van ons land reik. As daar op Wêreldvigsdag in elke

gemeente net iéts gedoen word om mense te herinner aan die realiteit en die nood van HIV/vigs, as die evangelie

van liefde en hoop ons almal dring om uit te gaan en ’n verskil te maak in onvoorwaardelike aanvaarding, as ons

ons kerke en huise se deure uitnodigend kan oopmaak vir mense wat leef in vrees vir viktimisering en verwerping,

sal HIV/vigs nie meer die gevreesde siekte wees waaroor ons verkies om te swyg nie. Inteendeel. Ons sal HIV/vigs,

soos ons met baie ander siektes doen, positief aanspreek. Die boodskap van verantwoordelikheid en voorkoming,

sal wyer gehoor word en houdings en gesindhede sal verander.

As ons in elke gemeente op hierdie dag iets doen rondom HIV/vigs word miljoene mense aangespreek.

Voorstelle

• Betrek mense van die plaaslike hospitale, klinieke, Hospices en vigsaksies om iets mee te deel oor die realiteit

van HIV/vigs en die situasie in julle gemeenskap/omgewing.

• ’n Uitstalling met foto’s, baniere, brosjures en projekte wat reeds geslaag het, dra ’n sterk boodskap uit. Vir

inligting, skakel Logy Murray van die Vigsburo by die Hugenote Kollege.

• Die getuienis van iemand wat reeds HIV/vigs het of die getuienis van iemand wat deur hierdie siekte geraak

word omdat ’n familielid of vriend dit het, kan mense se oë laat oopgaan.

• ’n Aksie tydens die erediens waar ’n kers aangesteek en daar gebid word vir almal wat geraak word deur hierdie

siekte sal ook gepas wees (sien gebede). ’n Mens sou ook die name kon lees van mense in die gemeente wat

aan HIV/vigs gesterf het en daarna in besonder vir hulle families bid.

LITURGIESE VOORSTEL (2)

• Almal kan op hierdie dag ’n rooi strikkie dra as gebaar dat hulle hulle vereenselwig met mense wat direk of

indirek deur hierdie siekte geraak word. (’n Belangegroep in die gemeente kan die strikkies van rooi lint maak

en dit by die deure uitdeel.)

• ’n Simbool kan voor in die kerk neergesit word – byvoorbeeld ’n kruis met ’n rooi strik of net ’n groot rooi strik

wat teen die muur hang.

• ’n Spesiale kollekte kan opgeneem word en geskenk word aan enige inrigting, projek of aksie wat betrokke is

by mense met HIV/vigs.

• Daag lidmate uit om by bestaande aksies in die gemeenskap betrokke te raak. Roep ’n kommissie in die lewe

wat die gemeente hierin kan help.

• Besoek inrigtings waar siekes en weeskinders versorg word.

Ons uitdaging

• Om duidelik standpunt in te neem teen die kondonering van ’n promiskue leefstyl.

• Om standpunt in te neem teen die lewenshouding dat alles aanvaarbaar is as dit goed voel.

• Om ’n radikale keuse te maak vir die lewe – joune sowel as ander s’n – soos die evangelie aan ons opdra.

• Om die stem te wees van hulle wat nie gehoor word nie, om in liefde uit te reik na hulle wat deur die

gemeenskap uitgeskuif is weens HIV/vigs.

• Om die stilswye wat ons gevange hou en ons weerhou om betrokke te raak, te verbreek.

Gebede

Hemelse Vader, ons buig voor U in eerbied en aanbidding. Ons prys U, Here Jesus, dat U na die wêreld gekom het

sodat ons kinders van God kan word – erfgename van die ewige lewe. Heilige Gees, ons loof U as ons Trooster en

ons Leidsman op die pad van geloof.

… want aan u liefde is daar geen einde nie.

Ons vra U, Here Jesus, die Bewerker van ons verlossing, skenk asseblief wysheid en insig aan die navorsers, die

wetenskaplikes en die tegnici wat soek na ’n geneesmiddel vir vigs en die verwante siektes.

… want aan u liefde is daar geen einde nie.

Wees by hulle. Gee aan hulle deursettingsvermoë. Seën hulle pogings met sukses, sodat daar vreugde kan kom

vir so baie wat tans sonder hoop en uitsig is, sodat daar lewe kan kom vir hulle wat die dood in die oë staar.

… want aan u liefde is daar geen einde nie.

Genadige God, ons dink vandag aan hulle wat siek is, veral almal wat ly as gevolg van HIV/vigs.

… want aan u liefde is daar geen einde nie.

Gee hulle die moed om met hierdie siektetoestand saam te leef. Help hulle om hulle vrese te erken en te oorwin.

Wees met hulle wanneer hulle alleen en verwerp voel. Troos en bemoedig hulle wanneer hulle sonder hoop voel.

Raak hulle aan, o Heilige Gees, sodat hulle lewe kan vind in die lewe wat U aan hulle wil skenk – die ewige lewe.

… want aan u liefde is daar geen einde nie.

Heilige en lewegewende God, vul ons harte en gedagtes met u liefde, en troos ons broers en susters en ook die

kinders wat elke dag lewe saam met iemand – ’n familielid, ’n vriend of vriendin – wat HIV-positief is of reeds vigs

het.

… want aan u liefde is daar geen einde nie.

Bind ons saam in ons pogings om om te sien na hulle behoeftes. Help ons om getrou te antwoord op ons roeping

as u dissipels om die evangelie uit te dra in woord en daad. Verwyder vrees en vooroordeel en haat uit ons midde.

… want aan u liefde is daar geen einde nie.

Hemelse Vader, vergewe ons gebrek aan aktiewe reaksie op hierdie epidemie – op die noodkreet van mense wat

ons nodig het. Vul ons met u liefde en deernis en maak ons draers van u hoop.

… want aan u liefde is daar geen einde nie.

Amen

Ons Vader, ons staan voor U in nederigheid en ootmoed. Ons loof U, Here Jesus, omdat U na ons wêreld gekom

het sodat ons kinders van God kan word – erfgename van die ewige lewe. Heilige Gees, ons dank U vir vertroosting

en krag.

… omdat u liefdevolle goedheid vir ewig is.

O geseënde Here Jesus Christus, u Naam is vir ons verlossing. Gee wysheid en kennis aan die navorsers,

wetenskaplikes en tegnici wat soek na ’n geneesmiddel vir vigs en verwante siektes.

... omdat u liefdevolle goedheid vir ewig is.

Wees met hulle in hulle verslaenheid en laat hulle pogings tog vrug dra sodat dié wat sonder hoop was, bly mag

wees en dié wat as dood beskou is, mag lewe.

… omdat u liefdevolle goedheid vir ewig is.

Genadige God, ons dink vandag aan almal wat siek is, en veral aan die mense met vigs en wat HIV-positief is.

… omdat u liefdevolle goedheid vir ewig is.

Gee hulle die bemoediging om met hulle siekte saam te leef. Help hulle om hulle vrese te oorkom. Wees met hulle

wanneer hulle alleen of verwerp voel. Bemoedig hulle wanneer hulle ontmoedig is en raak hulle aan met u

genesende Gees sodat hulle die ewige lewe mag vind en ervaar, nou en tot in ewigheid.

… omdat u liefdevolle goedheid vir ewig is.

Heilige en lewegewende Gees van God, vul ons harte en gedagtes met u liefde. Bemoedig ons broers en susters

en kinders wat met HIV/vigs saamleef.

… omdat u liefdevolle goedheid vir ewig is.

Vermenigvuldig ons verbintenis tot hulle nood en help ons in alles om getroue dissipels van die evangelie te wees.

Verwyder vrees, vooroordeel en haat uit ons geledere.

… omdat u liefdevolle goedheid vir ewig is.

Vergewe ons, Vader. Vergewe ons wanneer ons nalaat om op siekte, nood en dood te reageer. Vul ons met die vuur

wat net U kan gee. Maak ons boodskappers van u hoop.

… omdat u liefdevolle goedheid vir ewig is.

Amen

God van Hoop

Ons almal word geraak deur HIV/vigs.

Hier, aan die begin van Adventstyd waar ons gereedmaak om die koms van u Seun na die wêreld te vier, dank ons

U vir tekens van hoop ...

vir groeiende begrip

vir mediese deurbrake

vir veranderende houdings en optrede

vir groter bewustheid en omgee binne die kerk.

Laat ons u liefde en hoop aan ander deurgee wanneer ons by mekaar verbybeweeg.

God van die kerk

Bind ons as ’n familie aan mekaar met bande van liefde

sodat ons as gemeenskap ’n skuilplek, ’n tuiskomplek kan wees

vir hulle geraak deur HIV/vigs ...

’n plek waar vrees oorwin word deur liefde

’n plek waar stories vertel word en waar geluister word

’n plek waar omgegee word vir mekaar

’n plek waar u stem, u aanraking, gehoor en gevoel kan word.

Amen

"Where people are bruised

the Church supplies the balm.

Where people are battered

the Church restores their dignity.

Where people are broken

the Church brings healing.

Where people are banned from society

the Church provides a home."

(Tokonboh Adeyemo)

Prediking tydens Advent

Die viering van Advent is ’n tradisie wat sy wortels reeds vroeg in die geskiedenis van die Christelike kerk het.

Frederick Marais wys daarop dat daar reeds in die vierde eeu na Christus in Spanje en Frankryk begin is met

liturgieë wat dui op die voorbereiding vir Kersfees (Maak gereed vir die koms van die Koning, p 2). Tydens Advent,

wat strek oor die vier Sondae voor Kersfees, dink ons na oor Christus se koms na ons wêreld, maar ons dink in

afwagting ook aan sy tweede koms, sy wederkoms.

Twee bundels in die Woord teen die Lig-reeks is aan Adventsprediking gewy. In albei hierdie bundels verskyn daar

inleidende artikels deur prof Bethel Müller waarin verskillende aspekte van Adventsprediking belig word. Ons wys

hier onder op ’n paar sake wat aansluit by die hoofgedagtes in hierdie artikels, in die hoop dat dit predikers sal help

om hulle te oriënteer vir prediking tydens Advent.

1. Dit is belangrik om in Adventsprediking aandag te gee aan die profetiese aankondiging van die koms van

die Messias en aan die Jode se afwagting van sy koms. Met Jesus Christus se koms word die Ou-

Testamentiese beloftes oor die Messias vervul – iets waarna daar lank en met groot verlange en verwagting

uitgesien is.

2. Christus se koms moet as ’n inbreuk in hierdie wêreld gesien word en as ’n gebeure wat ’n beslissende

wending in die geskiedenis van die wêreld gebring het. Soos Müller sê: "Dit laat die vars lug van die hemel

weer waai in ’n wêreld wat muf geword het van lewe in die halfduister" (Woord teen die Lig I/7, p 6).

3. Die paradoksale aard van Christus se koms moet nooit uit die oog verloor word nie. Aan die een kant kom

Hy as die openbaring van God (Joh 14:9; Kol 1:15), en aan die ander kant is Hy ’n vreemdeling in hierdie

wêreld, ’n nederige dienskneg (Fil 2:6-7), en word Hy deur baie verag en selfs vervolg en doodgemaak.

4. Dit is noodsaaklik om in die Adventsprediking die lof aan God te beklemtoon. Volgens Müller moet die

doksologiese element sterk op die voorgrond staan, want die verskyning van Christus "is ’n wonder, dit is

van bo, dit het nie in die hart van die mens opgekom nie …" (Woord teen die Lig I/7, p 7).

5. Advent het te doen met oorwinning en triomf. Die Een wat gekom het, en wat ook weer sal kom, is die

Koning van alle konings. Hy het gekom om sy koninkryk tot by ons te bring en in ons wêreld sigbaar te laat

word (Mark 1:15). Die prediking moet die triomf van ons Koning met vreugde aankondig. Tog mag dit nie

triomfalisties wees nie, aangesien die koms van die koninkryk eers met Christus se wederkoms voltooi sal

wees.

6. ’n Kosmies-universele perspektief behoort nie in die Adventsprediking te ontbreek nie. Christus kom immers

as die lig vir die wêreld, "tot verligting van die nasies" (Luk 2:32). Volgens Efesiërs 1:22 het God alles aan

Hom onderwerp en Hom bo alles verhef. Christus se koms het dus implikasies vir die hele mensdom en die

hele skepping.

7. Die verwagting van die wederkoms van Christus, sy tweede advent, moet deur die Adventsprediking lewend

gehou word. Die prediking moet die gemeente lei om gereed te wees vir die onverwagse wederkoms van

Christus en om elke dag op die regte manier in hierdie wêreld besig te wees, in afwagting van die

wederkoms.

8. Adventsprediking moet mense midde-in hulle sosiale werklikheid aanspreek en in beweging bring. Müller

wys daarop dat eksegese en etiek in Adventsprediking by mekaar uitgebring moet word. Daar moet ontdek

word "waar die waarheid van die Kersboodskap vandag die werklikheid van die sosiale lewe en strukture

tref" (Woord teen die Lig I/7, p 10). Erns moet gemaak word met mense se honger en dors na geregtigheid

en met hulle verlange na die ware vrede van herstelde verhoudings met God en medemens.

Die verskillende aspekte van Adventsprediking wat hier bo genoem word, hoef natuurlik nie almal in elke

Adventspreek aan die orde te kom nie. Die verskillende teksgedeeltes wat vir die vier Sondae van Advent aangedui

word, sal immers ook nie die klem gelyktydig op al hierdie aspekte laat val nie. Deur die eksegese moet die

spesifieke beklemtoning(s) van elke teksgedeelte ontdek word sodat daar in die prediking daarby aangesluit kan

word.

Inleiding tot die Matteus-tekste

Prof H C van Zyl sê van die Matteusevangelie: "Daar is heelwat aanduidings dat die Matteusevangelie deur ’n Jode-

Christen vir ’n oorwegend Joods-Christelike gemeente, waarskynlik in Antiogië in die destydse Sirië, geskryf is" (Die

Bybellennium, p 1113). Van Zyl plaas die ontstaanstyd van Matteus in die tagtigerjare van die eerste eeu na

Christus. Hy wys ook daarop dat die Matteaanse gemeente in ’n stryd met hulle Joodse volksgenote verkeer het en

dalk selfs deur hulle vervolg is.

PREEKSTUDIE - MATTEUS 24:36-44

Kommentatore gee verskillende uiteensettings van die struktuur en opbou van Matteus. Die volgende uiteensetting

van die basiese struktuur (in terme van hoofstukke), wat redelik baie ooreenstem met die indeling wat in die 1983-

vertaling van die Afrikaanse Bybel gegee word, word in die Word Biblical Commentary gegee:

1-4 Inleiding: Die hoofkarakter word aan ons voorgestel.

5-7: Jesus se eise aan Israel.

8-9: Jesus se dade in en vir Israel.

10: Die uitbreiding van die bediening deur die woorde en dade van ander.

11-12: Israel se negatiewe reaksie.

13: Die verklaring van Israel se negatiewe reaksie.

14-17: Die vestiging van die nuwe volk van God, die kerk.

18: Die opdragte aan die kerk.

19-23: Die begin van die lyding, die begin van die einde.

24-25: Die toekoms: oordeel en verlossing.

26-28 Slot: Die lyding en opstanding van Jesus.

Die volgende teologiese temas kan as die belangrikste in Matteus beskou word:

1. Die koms van die koninkryk van die hemel. Matteus beklemtoon die feit dat die heerskappy van God in die

geskiedenis op ’n besonderse manier in vervulling begin tree het deur die teenwoordigheid van Jesus

Christus (sien 3:2; 4:17; 10:7). Jesus se woorde en dade is ’n demonstrasie daarvan dat die koninkryk van

die hemel werklik op aarde teenwoordig is. Die koms van die koninkryk bereik egter eers finaal sy voltooiing

by die wederkoms van Jesus.

2. Wie Jesus is. Matteus stel Jesus aan ons voor as die Christus, die beloofde Messias. Jesus is ook vir hom

die Seun van God, die Seun van die mens, die Here (kurios) en Immanuel (God by ons).

3. Wet en genade. Matteus is bekend vir sy klem op Jesus se getrouheid aan die wet van God (sien veral

5:17-18). Sy klem op die wet vind egter plaas binne die konteks van die goeie nuus van die teenwoordigheid

van die koninkryk van die hemel in ons wêreld. Hierdie goeie nuus kan ook beskryf word as die genade van

God in Jesus Christus.

4. Geregtigheid. Die doen van die wil van God, dit wil sê geregtigheid, is vir Matteus baie belangrik.

Waarskynlik is Joodse Christene deur ander Jode daarvan beskuldig dat hulle nie erns maak met die wet

van God nie. Jesus roep sy dissipels op om meer getrou (5:20) aan die liefdeswet van God te wees as die

Joodse skrifgeleerdes en Fariseërs.

5. Dissipelskap. Matteus beklemtoon die belangrikheid van dissipelskap sterk. Gelowiges moet in die

voetstappe van Jesus volg, wat onder meer inhou: selfverloëning, die opneem van jou kruis, om vervolging

te verduur en om met die nederigheid van ’n dienskneg of ’n kind te leef.

6. Gemeenskap/kerk. Matteus is die enigste Evangelie waarin die Griekse woord ekklesia (kerk) aangetref

word (sien 16:18; 18:17). Matteus se verstaan van die kerk word veral duidelik in sy beskrywing van die

optrede van Jesus se dissipelkring. Dit wil ook voorkom of hy sy lesers wil waarsku teen die gevare van

verdeeldheid en afvalligheid.

7. Eskatologie. In sy eskatologiese lering verskaf Matteus nie soseer inligting oor die toekoms nie, maar hy

probeer sy lesers motiveer tot die regte optrede en gedrag, in die lig van die naderende wederkoms en

oordeelsdag. Etiek is dus ’n belangrike tema in Matteus se eskatologiese gedeeltes.

8. Jode én nie-Jode. Dat die evangelie vir sowel Jode as nie-Jode bedoel is, blyk duidelik in Matteus. Jesus

stuur sy dissipels byvoorbeeld in 10:5-6 spesifiek na die Jode toe, terwyl Hy in 28:19-20 ook alle nie-Jode

in die oog het. Dat hierdie teks aan die einde van die boek staan, moet ons nie laat dink dat nie-Jode nie

deurgaans in Matteus ’n belangrike plek inneem nie. Prof H C van Zyl sê: "Die heidensending figureer

dwarsdeur die Evangelie en is nie ’n blote nagedagte nie" (Die Bybellennium, p 1114).

Tema

Om altyd gereed te wees vir die onverwagse koms van die Seun van die mens.

Teks

Die geraadpleegde kommentare gebruik verskillende indelings in hulle bespreking van hierdie gedeelte van Matteus

24. Die volgende indelings word almal in kommentare aangetref: verse 32-51, verse 37-44, verse 37-51 en verse

36-42. Ongeag die presiese indeling gaan dit in al hierdie verse oor die belangrikheid daarvan om altyd gereed te

wees vir die onverwagse koms van die Seun van die mens.

Vers 36 stel dit baie uitdruklik dat niemand behalwe God die Vader weet wanneer die presiese oomblik van die koms

van die Seun van die mens sal aanbreek nie. Hoe moet ’n mens dit verstaan dat selfs die Seun nie weet nie? Die

uitdrukking "ook nie die Seun nie" dui waarskynlik op die feit dat menslike kennis beperk is, iets wat Jesus by sy

menswording vrywillig aanvaar het. Dit is interessant dat hierdie uitdrukking nie in alle oorgelewerde manuskripte

van die Bybel voorkom nie. Dit is moontlik later weggelaat omdat dit nie gemaklik ingepas het by die leer van die

Drie-eenheid nie. Die skynbare "onkunde" van Jesus het ook moontlik later aanstoot gegee en veroorsaak dat die

uitdrukking in sommige manuskripte weggelaat is.

Wat word bedoel met die benaming "die Seun van die mens"? (vv 37, 39 en 44). Jesus het dikwels na Homself

verwys as die Seun van die mens. Hy het Homself daardeur vereenselwig met die hemelse figuur van Daniël 7:13

("iemand soos ’n menslike wese") aan wie ewige heerskappy oor alle nasies gegee is. As die Seun van die mens

sou Jesus triomfeer oor sy vyande, al het dit gelyk asof sy vyande eintlik die oorhand het en asof sy volgelinge aan

die verloorkant is. Dit is belangrik om daarop te let dat Jesus die benaming "die Seun van die mens" ook gebruik

het wanneer Hy gewys het op die noodsaaklikheid van sy lyding en plaasvervangende sterwe (sien bv Matt 20:18

en 28; 26:45).

In verse 37-39 word verwys na die optrede van die mense in die tyd van Noag net voor die sondvloed. Die

belangrike punt in hierdie verse is nie die boosheid van die mense van daardie tyd nie, maar dat die lewe soos

gewoonlik voortgegaan het – met geen tekens van die naderende oordeel en katastrofe nie. Matteus beklemtoon

hier dat die mense in Noag se tyd nie geweet het wat hulle binnekort sou tref nie en daarom geleef het asof niks

ooit sou verander nie.

Die woord parousia wat in vers 37 gebruik word om op die "koms" van Jesus te wys is in Hellenistiese Grieks gebruik

om die aankoms en besoek van ’n heerser aan te dui. Veral in die Romeinse keiserstyd het die gebruik van hierdie

woord die koms van die wêreldheerser van daardie tyd, die Romeinse keiser, aangedui. En so sal die koms van die

Seun van die mens dan die koms van die eintlike Wêreldheerser wees, die koms van die Koning van alle konings.

Verse 40 en 41 beklemtoon nie soseer die onverwagsheid van die koms van die Seun van die mens nie, maar die

skielike verdeling tussen mense wat deur sy koms veroorsaak sal word. Hierdie gebeurtenis het ’n openbarende

funksie deurdat dit sal duidelik maak wie gered is en wie nie. Dit bring ook meteens die bestaande orde tot ’n einde

en stel ’n nuwe een daar, naamlik die koninkryk van God. Op daardie dag word ’n mens aangeneem of verwerp,

sonder enige verdere tyd of geleentheid om jou te bedink of te bekeer.

Die uitdrukking "julle Here" in vers 42 dui in die eerste plek op die mag en heerlikheid van Christus as kurios (Here).

Dit gaan oor die grootheid van dié Een aan wie alle mag in die hemel en op die aarde gegee is (Matt 28:18), dié

Een voor wie elke knie sal buig en van wie elke tong sal erken: "Jesus Christus is Here!" (Fil 2:9-11). Die uitdrukking

"julle Here" wys egter ook op die persoonlike band wat Christus aan sy kinders verbind ("julle Here"), ’n band van

liefde wat soveel troos inhou vir elkeen wat aan Hom verbind is en aan Hom behoort. Hierdie verbintenis met

Christus is ook die groot rede waarom gelowiges sonder vrees op die koms van die Seun van die mens kan wag.

Die koms van die Seun van die mens (v 43) word op verskillende plekke in die Bybel vergelyk met die optrede van

’n dief in die nag (sien bv 1 Tess 5:2; 2 Pet 3:10; Op 3:3; 16:15). Die punt van hierdie vergelyking is natuurlik nie

dat Jesus op die een of ander manier ’n misdadiger is nie, maar dat sy koms net so onverwags en verrassend sal

plaasvind soos ’n dief wat skielik in die nag toeslaan.

Konteks

Dwarsdeur Matteus 24 word beklemtoon dat dit nie moontlik is om die presiese oomblik van die koms van die Seun

van die mens te bereken of te weet nie. Behalwe hier in ons teksgedeelte (vv 36-44) kom hierdie tema ook voor in

verse 6, 14, 23, 26 en 27 van hierdie hoofstuk. Die belangrike is dus nie wanneer die Seun van die mens kom nie,

maar dat Hy kom en dat Hy onverwags kom. Ons teksgedeelte wys op die implikasies van hierdie onverwagse koms

vir gelowiges se lewenswyse en gedrag. Die gedeelte wil gelowiges motiveer om elke oomblik van elke dag reg te

leef en het deurgaans ’n etiese klem.

Om as gelowiges "waaksaam" te wees (v 42) is nie net ’n passiewe en verveelde "wag dat die tyd verbygaan" nie.

Dit is ’n aktiewe soort wag, iets wat tot uitdrukking moet kom in die getroue en gehoorsame optrede van die dissipels

van die Here Jesus. Die Here wil ons by sy koms op ’n sekere manier aan die werk kry (Matt 24:46). In die Nuwe

Testament word ons byvoorbeeld opgeroep om altyd gereed te wees om die goeie te doen (Tit 3:1) en ook om altyd

gereed te wees om verantwoording te doen oor die hoop wat in ons lewe (1 Pet 3:15).

En gepraat van hoop: Ons teksgedeelte waarsku en vermaan nie net nie, maar is ook ’n gedeelte vol hoop. Die

gelowige kan nou reeds weet dat God deur die koms van die Seun van die mens sal ingryp en ’n heeltemal nuwe

bedeling sal laat aanbreek. Vir al Jesus se getroue dissipels sal dít die begin wees van ’n nuwe tyd en ’n nuwe

wêreld (Op 21).

Hoewel daar talle tekens is dat Jesus se koms naby is (Matt 24:5-14), sal hierdie gebeurtenis baie onverwags

plaasvind en baie mense onverhoeds betrap. Jesus doen daarom ’n beroep op sy dissipels en kerk om altyd gereed

te wees vir sy koms. Lövestam (soos aangehaal deur Hagner) sê dat waaksaamheid vir ’n gelowige beteken om te

leef "in communion with the Lord and in faithfulness to Him".

Ons teksgedeelte is relevant en belangrik vir hierdie tyd van die kerklike jaar aangesien ons tydens Advent nie net

aan Jesus se eerste koms na die aarde dink nie, maar ook aan sy wederkoms. Wat in sekere sin problematies is,

is die feit dat ons ongeveer 20 eeue ná Jesus se hemelvaart leef en steeds wag op die koms van die Seun van die

mens. Die verwagting van die vroeë Christene dat Jesus se wederkoms toe reeds baie naby was, het dus nie

letterlik so in vervulling gegaan nie (Matt 24:34). Ons moet egter onthou dat God genadig is en dat ons aan ons eie

tyd moet dink as iets soos die jaar van genade wat die vyeboom in die gelykenis van Lukas 13:6-9 ontvang het.

Ons moet ook in gedagte hou dat Jesus wel ook in die hede na ons toe kom. Prof Dirkie Smit stel dit só: "Ons is

slegs gereed vir sy (onverwagse) koms in die tóékoms, as ons sy onverwagse komste en gestaltes in die hede

herken en nóú reeds aan Hom herberg gee, vir Hom plek maak. Hy verskyn aan almal van ons, daagliks, duisende

kere, in onherkenbare gestaltes, op ongeleë tye, nes destyds daar in Betlehem en kyk of ons Hom herken en wil

dien" (Woord teen die Lig 6, p 98).

Die verwysing na die feit dat mense in Noag se tyd "soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou" het (v 38), klink of

dit ook ons lewe van vandag beskryf. Dinge gaan ook in die 21ste eeu "soos gewoonlik" voort, en dit is ook nie

verkeerd dat dit so voortgaan nie. Wat egter vir gelowiges belangrik is, is om die "gewone dinge" van die lewe (eet,

drink, trou, werk, sport, ens) te doen terwyl hulle volkome gereed is vir die onverwagse koms van die Seun van die

mens. Ons moet leef asof Jesus enige oomblik weer sal kom, asof hierdie dag die laaste dag voor sy wederkoms

is. Só ’n ingesteldheid en houding plaas die "gewone dinge" van die lewe binne ’n ander raamwerk as wanneer

hierdie dinge vir ons ’n doel op sigself is.

Ons gee graag kort opsommings van twee preekmeditasies oor ons teksgedeelte, dié van C S Pero (in Augsburg

Sermons 3) en M A Powell (in Proclamation 5):

Preekmeditasie – C S Pero

1. Pero begin haar meditasie met die woorde: "Gelukkige Nuwe Jaar! Ons begin vandag met die viering van

’n nuwe kerklike jaar." En dan vra sy: "Watter goeie voornemens het u vir hierdie nuwe kerklike jaar?"

2. ’n Nuwe jaar is ’n geleentheid om op ’n nuwe manier op Jesus te fokus. Ons teksgedeelte daag ons uit om

na te dink oor ons doelstellings en oriëntering.

3. Jesus moedig ons in hierdie gedeelte aan om gereed te wees vir sy wederkoms. Hy gebruik drie voorbeelde

om te illustreer hoe sommige mense nie gereed sal wees vir sy koms nie: (a) die mense in Noag se tyd wat

nie gereed was vir die sondvloed nie; (b) twee mense wat sy aan sy werk – maar die een is nie gereed om

die Here te ontmoet nie; (c) ’n huiseienaar wat nie voorsorg tref teen ’n dief wat in die nag in sy huis wil

inbreek nie.

4. Terwyl ons nadink oor die begin van ’n nuwe kerklike jaar moet ons ons afvra of ons wel alle nodige

voorbereidings getref het vir Jesus se koms. Ons moet ook vra: Hoe kan ons Jesus weer in die middelpunt

van ons lewe plaas? Teen die agtergrond van hierdie vrae moet ons ons lewe weer aan Jesus toewy en

ons voorberei om Hom te ontvang, wanneer Hy ook al kom. Gelukkige Nuwe Jaar!

Preekmeditasie – M A Powell

1. Advent is die viering van Christus se koms in die verlede, hede en toekoms. In ons teksgedeelte val die

klem op die aspek van die toekoms. Christus sal weer kom en dit beteken dat God se mense ’n toekoms

het. Hierdie wete is ook betekenisvol vir ons lewe in die hede.

2. By die meeste Christene is daar nie vandag ’n sterk verwagting van die wederkoms nie. Wanneer dit by

God se beloftes kom, moet ons egter onthou: Die sekerheid dat sy beloftes vervul sal word, is belangriker

as die presiese oomblik wanneer dit sal plaasvind.

3. Jesus sal weer kom. Intussen moet ons egter onthou dat Hy ook in die hede na ons toe kom, byvoorbeeld

waar twee of drie in sy Naam saam is (Matt 18:20), of in die vorm van ’n weerlose kind (Matt 18:5), of

wanneer behoeftiges oor ons pad kom (Matt 25:31-46). Ons mag nie so met allerhande dinge besig wees

dat ons die oomblik van Jesus se koms na ons (kairos) nie raaksien nie.

4. Hierdie tyd van die jaar is ’n tyd vir inkopies doen, Kerskaartjies pos en geskenke toedraai. Ons moet egter

versigtig wees dat ons nie net gereed maak vir die koms van Kersfees en nié ook vir die koms van Christus

nie. Ons moet ons met toewyding gereed maak vir sy koms.

Preekvoorstel

Die jaar 2000 het gekom en gegaan. Voorspellings dat die einde van die wêreld sou aanbreek, het toe nie waar

geword nie. Die lewe gaan elke dag sy gewone gang. Iemand onder ons sit en eet haar gunstelinggereg in die

eetplek wat uitkyk oor die see. Iemand anders onder ons drink ’n ietsie op die welslae van sy rugbyspan in die

Curriebekereindstryd. En nog iemand onder ons trou in die pragtige kerkie met sy gebrandskilderde ruite. Maar

skielik loop die uurglas leeg. Die Seun van die mens is hier! Hy het gekom soos Hy gesê het. En Hy het gekom

terwyl iemand nog kou en ’n ander sluk en ’n derde een die trouring oor haar vinger voel skuif. Dit alles gebeur

amper soos in Noag se tyd, toe die mense "soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou" het. En meteens is hulle

deur die sondvloed oorval.

Die koms van die Seun van die mens sal onverwags plaasvind: soos die vloed in Noag se tyd; soos ’n dief in die

nag. Dit is nie vir ons moontlik om ’n akkurate voorspelling van dié dag te maak nie. Groepe en individue wat in die

verlede sulke voorspellings gewaag het, het nog almal bedroë daarvan afgekom. Ook mense in ons eie tyd wat

voorspellings waag, sal dit sonder sukses doen. Die koms van die Seun van die mens sal onverwags plaasvind.

Daarom is Jesus se opdrag aan sy volgelinge: Wees altyd waaksaam. Wees altyd gereed. Wees altyd gereed om

die goeie te doen. Wees altyd gereed om verantwoording te doen oor die hoop wat in julle lewe. Wees op die regte

manier besig en aan die werk. Wag op so ’n manier dat julle My in die sentrum van julle lewe het, al is julle besig

met doodgewone dinge soos eet en drink en trou.

’n Mens sou op hierdie punt kon uitbrei oor hoe ’n gelowige nie op die koms van die Seun van die mens behoort te

wag nie. ’n Valse gerustheid en sorgloosheid sou verkeerd wees: om te lewe asof Jesus nooit sal kom en niks ooit

sal verander nie. Dit sou ook verkeerd wees om die dinge van die "gewone lewe" as ’n doel op sigself te beskou.

Natuurlik kan ’n mens nie op die regte manier op die koms van die Seun van die mens wag as jy nie in die regte

verhouding met die Here leef nie. Ook nie as jy nie in gemeenskap met Hom en getrou aan Hom leef nie.

Hoe om dan wel te wag? ’n Mens sou op die volgende gedagtes kon uitbrei: In gespanne verwagting, altyd gereed,

waaksaam, getrou aan die Here, gehoorsaam aan sy wil, met ’n uitsien na die nuwe orde maar ook met verantwoordelikheid

teenoor noodlydendes nou, diensbaar, heilig, wakker, nugter, met ’n gerigtheid op die koninkryk van

God terwyl ons tog hierdie wêreld wat verbygaan ten volle ernstig neem en voluit as God se verteenwoordigers

daarin leef. Dit sal goed wees as die prediker hier kan stilstaan by een of meer van die spesifieke uitdagings wat

juis in hierdie tyd deel uitmaak van die leefwêreld van die gemeente en haar lidmate, sake soos vigs, armoede,

versoening en morele verval.

Die koms van die Seun van die mens sal wel onverwags wees, maar gelowiges hoef gelukkig nie sy koms te vrees

nie. Wanneer ons in vers 42 van ons teksgedeelte lees dat die Een wat kom "julle Here" is, hou dit vir ons baie groot

troos in. Aan die een kant wys hierdie uitdrukking op die mag en majesteit en heerlikheid van Jesus, die Een aan

wie alle mag in die hemel en op die aarde behoort. Aan die ander kant sê hierdie uitdrukking vir ons: Hy is júlle

Here. En dít wys op die band wat reeds tussen ons en Hom bestaan. Hierdie band is gelê deur die Seun van die

mens self, Hy wat vir elkeen van ons kom ly en in ons plek aan ’n kruishout kom sterf het. Hierdie band is met sy

bloed beseël. Daarom hoef ons as sy gelowige kinders en volgelinge nie sy onverwagse koms te vrees nie. Ons

weet mos dat ons Regter terselfdertyd ook ons Verlosser is.

Advent is ’n tyd om na te dink oor Jesus se koms na die aarde. Die woord Advent beteken mos koms. In Adventstyd

dink ons na oor Jesus se eerste koms, maar ook oor sy wederkoms. Dis ’n tyd om Hom opnuut te prys vir wat sy

eerste koms vir ons beteken, vir die verlossing en bevryding en nuwe lewe wat Hy vir ons gebring het. Maar Advent

moet ook ons oë rig op Jesus se tweede koms, sy wederkoms, sy terugkoms na sy eiendom toe. Dit moet ons

motiveer om reg besig te wees, soos Noag destyds, al steur soveel mense rondom ons hulle glad nie aan Jesus of

sy wederkoms nie. Ons moet leef asof Jesus enige oomblik weer kan kom. Ons moet leef asof vandag die laaste

dag van ons lewe gaan wees. En as ons met so ’n ingesteldheid leef, watter dinge sal ons dan anders doen? Of

glad nie doen nie? Of vir die eerste keer doen omdat ons dit gewoonlik maar uitstel tot môre of tot volgende jaar?

Dit kan ons ook help om daaraan te dink dat Jesus in sekere sin elke dag na ons toe kom. Hy kom na ons toe waar

twee of drie in sy Naam bymekaar is, waar ons die brood en wyn van die nagmaal geniet, waar ons met kinders of

ander weerloses te doen het, waar behoeftiges ons pad kruis. Hoe leef ons om gereed te wees vir hierdie maniere

waarop Jesus ook vandag na ons toe kom?

Ten slotte kan die prediker wys op die feit dat die koms van die Seun van die mens ná ongeveer 20 eeue nog nie

aangebreek het nie. Hierdie feit moet ons egter nie verlei om ons waaksaamheid te verslap of te laat vaar nie. Die

sekerheid dat God se beloftes vervul sal word, staan vas. En vir ons is die belangrikste nie die vraag wanneer

hierdie beloftes vervul sal word nie, maar die feit dat dit vervul sal word. Ook dat die belofte van die koms van die

Seun van die mens vervul sal word. Dit sal onverwags vervul word, terwyl mense "soos gewoonlik" eet en drink en

trou. Onverwags, maar beslis!

Bibliografie

New Interpreter’s Bible. Word Biblical Commentary (D A Hagner). Die Bybellennium. Kommentare van E Schweizer,

D Hill en H N Ridderbos. Proclamation 5: Advent/Christmas, Interpreting the lessons of the church year, Series A.

Augsburg Sermons 3, Gospels, Series A. Woord in beweging 4 – Advent tot Epifanie 2. Woord teen die Lig I/6:

Riglyne vir eskatologiese prediking.