Matteus 15:(10-20),21-28 (Kobus Smit)

15 Augustus 1999

Elfde week in Koninkrykstyd

 

Ander tekste: Gen 45:1-15; Ps 133; Romeine 11:1-2,29-32.

Die geloof, wat ten spyte van alle teenwinde en struikelblokke, aan God en sy woord vashou en die poorte van die nuwe Jerusalem oopstoot, is hierdie week in die fokus.

Teks

Die bron van die teks lê waarskynlik in Mark 7:24-30.  Anders as Markus laat Matteus die aksent nie op die genesing val nie, maar op die gesprek.  Die genesing vorm net die raamwerk vir die gesprek, wat, anders as by Markus, baie direk is en 'n byna harde, bytende toon (vgl. vv. 24, 26) bevat.

 

Ons teks toon ook ooreenkomste met Matt 8:5-13, wat in kommentare nagegaan kan word.  Die vrou se noodkreet in vers 22 herinner aan Matt 9:27.  Jesus se antwoord in vers 24 hou verband met Matt 10:5v.  Die slotvers (28) herinner aan Matt 8:13.

Die voorafgaande perikoop (15:1-20) handel oor die skeiding tussen rein en onrein.  Matt 15:21-28 toon aan dat die skeiding tussen rein en onrein mense nie deug nie, want die Messiaanse mag van Jesus deurbreek die diskriminerende struikelblokke wat mense skei. Dit bevry nie net mense tot 'n nuwe lewe nie, maar bied ook aan hulle nuwe hoop.

 

Eksegete is glad nie eenstemmig dat Jesus werklik na die heidense stede Tirus en Sidon gegaan het nie.  Matteus is egter nie in die heilshistories-geografiese probleem geïnteresseerd nie, maar in die ontmoeting tussen Jesus en die heidense vrou.  Soos andere, wat in hul nood ook by Jesus hulp soek (8:29; 9:27; 20:30v), skreeu sy aanhoudend.  Matteus is ook nie geïnteresseerd of sy 'n ongetroude vrou of 'n weduwee was en of sy Griekssprekend was nie.  Sy inligting oor haar is beperk. Haar onophoudelike geskreeu dui die grootheid van haar nood aan.  Nood leer mos immers bid! Dit word allerweë aanvaar dat sy gerugte oor Jesus, die Messias, gehoor het.  Die nood van haar kind (duiwelbesetenheid of epilepsie?) en die goeie gerugte oor Jesus dryf haar na Hom toe.  Haar noodkreet weerklink in die taal van die Psalms (6:3; 9:14).  Die hoe van haar roep is egter nie belangrik nie, maar wat sy roep:  Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid!  Met die titel 'Seun van Dawid' beroep die heidense vrou haar op die Messias, die Barmhartige, wat Hom ontferm oor die armes en noodlydendes (Jes 61:1ev).  Haar geloof blyk uit die feit dat sy na Jesus roep, terwyl sy weet dat Hy na Israel gestuur is.

 

Jesus se skynbare gevoellose yskoue swye word verskillend verstaan:  as teken van die onoorbrugbare kloof tussen Christus en die heidendom (eerste na die verlore skape van Israel gestuur);  as uitdrukking van die Messiasgeheim; as eerste afwysing wat deur die geloof oorwin moet word. Die dissipels vervul 'n negatiewe rol soos in Matt 14:15 en 19:13.  Hulle beleef haar as irrelevant en irriterend en hoor nie die nood agter haar hulpgeroep nie. Die indruk word gewek dat hulle meer oor Jesus begaan is, terwyl hulle eintlik meer oor hulleself besorg is!  Die vraag is:  Is hulle verteenwoordigers van die kerk van alle tye?

 

Jesus se tweede afwysing en sy verstaan van sy sendingmissie (24) moet nie geïnterpreteer word asof Hy die vrou permanent wou uitsluit nie, want dit sou in stryd wees met die universaliteit van Matteus se boodskap (vgl. Matt 28:19-20).  Vers 24 dui slegs die orde van die heil aan: éérs die Jood end dán die Griek (Rom 1:16).  Die verwerping van Christus aan die kruis baan die weg vir die heil na die heidene (Joh 16:22).  Die vrou volhard in haar pleit, omdat sy haarself as deel van die verlorenes verstaan.   Nood maak die vrou se tweede toenadering eerbiedig (vgl. ook 8:2 en 9:18), maar ook kort en kragtig:  Here, help my (25).  Sonder enige motivering of regsaanspraak beroep sy haar volledig op Jesus, die Barmhartige.

 

Jesus se derde afwysing van die vrou klink hard en onbarmhartig (26) en tog moet dit nie so verstaan word nie, want kunarion (honde) verwys nie na groot, wrede honde nie, maar na huishonde wat van die tafel af gevoer word.  Die toespeling op die heidene moet dus nie in 'n veragtelike sin verstaan word asof daar vir hulle geen hoop is nie.  Anders as by Markus is die onderskeid tussen Jood (kinders) en heiden (hondjies) vir Matteus tog baie belangrik (vgl. ook v. 24):  kinders en honde deel nie dieselfde kos nie.   Die vrou stem ootmoedig met Jesus saam:  sy is net 'n hondjie (27).  Tog laat sy haar nie deur Jesus se antwoord (26) ontmoedig nie, maar benut die beeld om Hom te weerspreek:  ook vir die huishonde val daar van die kinders se oorskiet van die tafel af!  Sy erken sy het nie die regte van 'n kind in die huis nie en aanvaar haar nederige plek:  onder die tafel.  Die oorskiet is egter vir haar genoeg, want sy glo dat die genade van God toereikend is vir Jode én heidene.  Daaraan hou sy vas.

 

Die teks eindig op 'n hoogtepunt:  jou geloof is groot (28).  Groot is die geloof wat onvoorwaardelik op Jesus alleen vertrou.  Hierdie heidense vrou se geloof bestaan daarin dat sy ten spyte van haar nood vashou aan die woord van die Here en die Here van die woord.  Sulke geloof kry wat dit wil (vgl Joh 15:7;  1 Joh 5:14), want wat dit wil, is Gods wil, dit gee God gelyk. Tog is die daad van die wonder vir Matteus, nie so belangrik as die geloof wat die wonder moontlik maak nie.

Konteks

Müller (1987) wys tereg daarop dat die perikoop nie vergeestelik mag word deur byvoorbeeld te preek oor die sewe eienskappe van die unswerving God-given faith van die vrou wat bestaan uit eerbied vir God, vereenselwiging met nood, nederigheid en volharding nie.  Dieselfde geld vir 'n preek oor die gebed as die beoefening van die teenwoordigheid van God.  Müller waarsku ook tereg teen tipologiserende toepassings soos Jesus wat as die liefdevolle en bevrydende God voorgestel word; die dogter wat as simbool dien van hulle wat onskuldig vir die gevolge van die sonde moet boet;  die vrou wat as voorbeeld dien van 'n volgeling van Jesus wat alle vervolging, versoeking en lastering verduur.

 

Die sentrale tema wat in die meeste preekstudies voorkom, handel oor die aard en wese van geloof.  Ons gaan verkeerdelik van die veronderstelling uit dat ons aan sekere voorwaardes moet voldoen om te glo, byvoorbeeld 'n minimum van godsdienstige oortuigings en 'n morele aanvaarbaarheid voor God.  Dit is nie waar nie.  Hierdie wonderverhaal toon juis dat geloof nie steun op bepaalde menslike kwaliteite nie.  Hierdie vrou het niks gehad waarop sy kon steun nie, behalwe dat sy 'n verlorene, 'n hond was.  Sy het geen handvatsel of regte gehad om aan vas te hou as net die geloof self nie.  Sy het haar met leë bedelaarshande volkome op Jesus se genade en barmhartigheid beroep. 

 

Hoewel dit hier om 'n aanvegbare geloof gaan, gaan dit nie om die toetsing van haar geloof nie.  God se besluit om haar kind te genees, hang nie daarvan af of sy die toets van die geloof slaag al dan nie.  Die aard van geloof kom ook hier na vore in 'n volhardende geloofsaktiwiteit, wat ondanks alle versperringe, biddend en pleitend aan Jesus vashou.  Sonder om haar deur iets te laat afskrik hou sy net vas aan die Here en sy woord.  Sy oorwin Hom as te ware deur sy woord deur te aanvaar dat sy maar net 'n hondjie (sondaar) is:  Hy het immers vergifnis vir alle sondaars belowe!

 

Die tweede lyn wat in die preekgeskiedenis van die teks gevolg word, is die heilshistoriese-missiologiese lyn. Hiervolgens word ons teks binne die raamwerk van die sendingbevel van Matt 28:18-20 verstaan, wat Bosch e.a. as sleutel vir die verstaan van die hele Matteus evangelie gebruik.  Hierdie lyn van interpretasie hang nou saam met die vorige in die sin dat die geloof gesien word as 'n toegangspoort vir die verlossing wat uit die Jode kom (Joh 4:22).  Homilete wat hierdie lyn in die prediking volg, gaan van die veronderstelling uit dat Matteus se primêre belangstelling in die toelating van die heidene in die kerk lê.  Die offisier van Kapernaüm en die Kanaänitiese vrou is die voorlopers op hierdie pad.  In hulle breek die dag van universele heil deur. Die partikularisme in ons teks sluit dus nie die universalisme uit nie.

Preekvoorstel

Dit is tog interessant dat gelowiges, die kerk, so van skeidinge en grense hou.  Soos wat die Filistyne vir Simson agter die hoë stadsmure van Gasa toegesluit het (Rigt 1), hou ons van skeidinge en grense tussen:  rein en onrein;  Jood en Kanaäniet;  gelowig en ongelowig;  nasionaal en internasionaal;  Kommunisme en nasionalisme;  ANC en NP.  Ons hou daarvan om mure en verskansinge rondom onsself te bou.  Ons teks sinspeel ook op die gevaar van nasionale en godsdienstige grense.  Sover dit die Jode destyds aangegaan het, het Jesus net vir die verlore skape van die volk Israel gekom.  Hy was slegs hulle Messias.  Sy heil was dus tot die volk Israel beperk en begrens.  Die Jode, as die seuntjies van Dawid, was die bevoorregtes, die geestelike have's en die veragte heidense Kanaäniete, die geestelik have' nots.  

 

Nasionale en godsdienstige skeidinge en grense veroorsaak dat gelowiges en geloofsgemeenskappe/kerke agterdogtig en bevooroordeeld op 'n afstand na mekaar loer en  mekaar nie hoor en vertrou nie.  Grense/skeidinge maak dat mense van 'n ander kultuur en nasionaliteit gelowiges en die kerk irriteer en omkrap.  Soveel so dat hulle selfs kontak met mekaar vermy en die gesindheid van die dissipels openbaar:  Stuur hulle weg (1857: vanweë die swakheid van sommige broers).  Ons vooroordele en agterdog maak dat ons ten alle koste die skeidinge en grense ter wille van onsself wil handhaaf.  Jy op jou klip en ek op myne;  jy in jou woongebied en ek in myne;  jy in jou kerk en ek in myne.  Die gevaar van grense en skeidinge lê daarin dat ons oor die grense heen na mekaar loer en selfs mekaar oor die grense heen bestook (al is dit net d.m.v. woorde en karikatuuragtige koerantberigte).  Ons hoor egter nie mekaar se noodkrete nie.  Grense is geneig om van ons hartelose, selfgerigte, onsensitiewe gelowiges en geloofsgemeenskappe (kerke) te maak, wat nie 'n oor of 'n hart vir ander het nie.  Dawidseuntjies wat die heil vir hulself in die stad van Dawid wil stoor en oppot.

 

Ironies genoeg is dit nie hier die kerk wat die grens na die heidene met die evangelie oorsteek nie, maar 'n desperate heidense vrou.  Sy het bly glo ten spyte van alle struikelblokke (vgl. vv 23, 24, 26).  Sy het vermag wat heiliges nie kon regkry nie:  sy het Jesus in sy eie woorde gevang waaraan sy soos 'n neut vasgeklou het  Toe sy Hom krummels vra, toe verkrummel Hy en laat haar wen.  Vir so 'n swakke, ootmoedige geloof (vgl vv 26-27) kon Hy nie nee sê nie.  Met hierdie geloof het sy die grens na God toe oorgesteek en die lig van die evangelie in die heidense streke van Tirus en Sidon laat deurbreek.  Deur haar geloof het sy die hemelse poorte oopgestoot en die dam van heil na alle volke, tale en nasies laat breek. Soos wat Simson die stadspoorte met grendel en al uitgebreek het toe die Filistyne hom in die stad Gasa toegesluit het, so breek twee heidene (8:5-13) in Matteus evangelie met hulle groot geloof die poorte van die nuwe Jerusalem oop.

 

By die aanskoue van hierdie geloof het Jesus ook die grens na die heidene oorgesteek deur vir haar te sê:  jou geloof is groot.  Jou wens word vervul (28).  Hierdie gelowige vrou het Hom verby die kruis, opstanding, hemelvaart en pinkster laat kyk na baie mense wat van die ooste en die weste af gekom het om saam met Abraham, Isak en Jakob aan die tafel te gaan in die koninkryk van die hemel (8:11).  Dit kon ook nie anders nie, want Hy het mos die middelmuur van skeiding tussen Jood en Griek afgebreek (Ef 2:14).

 

Die kerk mag hom nie vanweë vooroordeel, rassisme, agterdog teenoor ander nasionaliteite of godsdienstige groepe begrens nie, want dan sal die evangelie in sy hand vereelt en verhard en gaan hyself in die duisternis onder.  Die kerk wat die noodkrete hoor van hulle wat smag na die brood van die lewe, moet gelowig saam met die Kanaänitiese vrou en God die grense na die hongeriges met die blye evangelie oorsteek.  Om die lig in die aardse duisternis in alle sektore van die samelewing te laat deurbreek, sal die kerk as kinders van die lig moet leef.

 

Bibliografie

Luz, U. 1990:  Das Evangelium nach Matthäus.  Band I/2.  Benziger Verlag.  Nielsen, J.T. 1975:  Het evangelie naar Mattheüs.  Nijkerk: G.F. Callenbach B.V.  Ridderbos, H.N. 1941:  Het evangelie naar Mattheüs.  Kampen: J.H. Kok N.V.  Müller, B.A. 1987:  Matteus 15:21-28, in Burger, C.W., Müller, B.A. en D. J. Smit (reds.):  Woord teen die lig II/2. Riglyne vir die prediking oor die gelykenisse en wonderverhale.  Jonker, W. & F. Theron  1989:  Vreemde bevryding. Kaapstad: Lux Verbi.