Al vier evangeliste berig oor die spysiging van die vyfduisend. Kommentare kan geraadpleeg word vir die ooreenkomste
en verskille tussen die verhale.
Matteus se berig hieroor bestaan uit drie dele: 'n uiteensetting (vv 13 -14), wat nog nie
met die wonder te doen het nie; 'n
gesprek tussen Jesus en sy dissipels (vv 15-18) en die eintlike wonder (vv
19-20). Vers 21 vorm nie deel van die
verhaal nie. Dit val op dat die
dissipels se gesprek in die voeding van die vierduisend (Matt 15:32-39) byna
woordeliks herhaal word!
Die ontferming van die Messias oor sy volk Israel is vir Matteus
belangrik. Daarom berig hy dat Jesus die groot menigte mense gesien en hulle
innig jammer gekry (14) het. Sy medelye
met die skare blyk uit die feit dat Hy hulle siekes genees het, maar ook dat Hy
hulle gevoed het. Die genesing en
voeding het hier nie simboliese of sakramentele betekenis nie, want dit het
letterlik gebeur.
Die dissipels probeer aan die te-min-kos-situasie ontkom deur by Jesus
aan te beveel dat Hy die menigte mense na hulle dorpe toe moet terugstuur. Jesus sit egter die bal terug in die
dissipels se hok en konfronteer hulle met die te-min-kos-situasie: Gee julle vir hulle iets om te eet
(16). Op die oppervlak beskou, klink
dit na 'n absurde bevel. Hoe kan 5000
honger mense deur 2 visse en 5 brode (die gewone daaglikse voedsel van 'n
Galilese man) gevoed word? Markus se
weergawe van die dissipels se antwoord klink byna arrogant (Mark 6:37), terwyl
Matteus s'n die dissipels se twyfel en kleingeloof weerspieël: Ons het hier net vyf brode en twee visse
(17). Met dié opmerking word die teks
nie vergeestelik nie, want vir Matteus hoort die konkrete vrae oor
lewensmiddele ook tot die geloof (Matt 6:25-34). Met hierdie bevel (18), wat Jesus se soewereiniteit aandui, lei
Matteus die eintlike wonder in.
Anders as Markus, meld Matteus nie dat die skare in groepe van 50 en 100
gegroepeer is nie. Vir sy verstaan van
die gebeure is die gedagte van die herstel van die Godsvolk in die woestyntyd,
wat soms hieraan gekoppel word, ook nie belangrik nie. Die verdere verloop van die verhaal herinner
sterk aan die gewone Joodse maal wat in die aand genuttig is: neem brood, kyk op na die hemel, spreek die
seën (beraka) uit, breek die brood, gee dit aan die dissipels wat dit op hulle
beurt weer aan die skare moet uitdeel.
Dit was die normale handeling van 'n Joodse huisvader by elke
aandete.
Die vraag of ons teks na die Nagmaal al dan nie verwys, is in die
navorsing baie omstrede. Dit kan nie
bewys word dat Matteus (15) meer as Markus na die avondmaal verwys nie. Die teenstelling tussen Nagmaal en die
gewone Joodse maaltyd is vals. Dit is
ook baie twyfelagtig of Matteus die dissipels, wat by die Here se avondmaal
optree, as tafelbediendes sien. Dat
Jesus, die Huisvader, nie alleen vir sy 5000 gaste die brood kon breek nie,
spreek vanself en het nie verdere verduideliking nodig nie. Die 12 mandjies
oorskietkos onderstreep God se oorvloedige sorg. Daar is egter geen teksgetuienis dat die getal 12 na die twaalf
apostels of die 12 stamme van Israel verwys nie.
By gebrek aan 'n historiese kern is daar oor die loop van eeue 'n rykdom
simboliese betekenisse aan die teks geheg:
a) Sedert die tyd van die
Reformasie is die teks deur middel van 'n allegoriese uitleg heilshistories
geïnterpreteer. Volgens hierdie uitleg
gee die spysigingswonder uitdrukking aan die totale aard van die geloof. Die melding van getalle bied hier 'n
verskeidenheid van verstaansmoontlikhede.
So word die 5 brode gelyk gestel aan die 5 boeke van Moses. Die 12 mandjies verwys na die 12
apostels. Jesus verander die Tora en
Profete in nuwe geestelike spyse in die woestynland, ver van God.
b) Sedert die bestaan van die
vroeë kerk is die teks ook moralisties uitgelê. Hierdie soort uitleg sluit veral aan by Jesus se gesprek met die
dissipels: Hy wil hulle oorhaal om met
ander te deel. Die gedagte is dat mens
met weinig middele veel meer kan doen as wat jy vermoed. Die min brood en vis toon ook hoe eenvoudig
en gebrekkig gelowiges se lewens is.
c) Die teks is ook sosiaal
geïnterpreteer in die sin dat Jesus nie net na die geestelike nie, maar ook na die
liggaamlike nood van die mens omsien.
Die teks gee dus 'n antwoord op die gebed om brood in die Onse
Vadergebed.
d) Die teks is ook
vergeestelik. Hiervolgens leef die mens
nie van brood alleen nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom. Brood en vis word verstaan as die woord van
God.
e) Tussen 'n sosiale en
vergeestelike interpretasie van die teks is daar ook 'n eucharistiese
verstaan. Hierdie soort uitleg gaan van
die standpunt uit dat daar tussen die danksegging en broodbreking, asook die
instellingwoorde van die Nagmaal, 'n ooreenkoms bestaan.
f) Die ekklesiologiese uitleg is
verwant aan die heilshistoriese en eucharistiese interpretasies. Die dissipels is hiervolgens die
vertrekpunt: as apostels sal hulle in
die toekoms Christus se goedere verdeel.
Ten opsigte van die volk ken die eucharistiese uitleg aan die dissipels
'n bemiddelingsfunksie (priesters) toe.
Die moderne redaksioneel-historiese interpretasie van Matteus verstaan
die dissipels se optrede as kleingeloof.
Watter interpretasie korrek is, is onmoontlik om te bepaal. Die vergeesteliking van die teks is in stryd
met die letterlike liggaamlike ontferming (genesing en voeding) wat hier van
God uitgaan. Die ekklesiologiese,
sosiale en eucharistiese interpretasies het redelike ooreenkomste met die teks.
Die absolute soewereiniteit van Jesus, wat sy mag konkreet teenoor siekte
en honger toon, is vir Matteus belangrik.
Dit is ook vir hom belangrik dat die volk eenmaal die mag en ontferming
van die Messias ervaar. Die dissipels
is ook vir Matteus belangrik. Vir hulle geld hierdie wonder op 'n besondere
wyse. Hoewel hulle maar baie ongelowig
was, het hulle die barmhartige mag van Jesus beleef. Hulle sou dit weer ervaar (15:32-39) en deur sulke belewenisse
tot insig kom (16:5-12). Agter die
dissipels het die gemeente gestaan, wat ook iets van die wonder beleef
het. Tog is die heilshistoriese
dimensies, dit is die herinnering aan die wonderbare spysiging van Elisa en die
manna in die woestyn, nie vir hulle belangrik nie, want in Matteus se
vertelling lê dit ver op die agtergrond.
Dit is dan ook baie opvallend dat hulle juis in die woestyn vergader is
wanneer Jesus hierdie wonders doen (Matt 14:15; 15:33). Die Bybel sien die woestyn as 'n
vreesaanjaende plek (Jes 21:1 v.; Ps 107:4 v.; Eks 14:11; Num 14:32; 16:13) en
as die woonplek van die duiwels.
Woestyne pas nie binne God se goeie skepping in nie, want Hy het die
aarde gemaak om vrugbaar te wees en om plante voort te bring sodat mens en dier
gevoed kan word (Jes 45:18). Daarom
sien die Ou Testament die heilstyd (d.i. die tyd wanneer die heerskappy van God
volkome op aarde herstel sal word) as die tyd waarin die woestyn weer sal blom
en sy vrug sal lewer (Jer 33:11 v.; Jes 35:1 v.; 41:19). Op die nuwe aarde sal daar dus geen woestyne
wees nie!
Honger was 'n wapen in die hand van Satan (Rom 8:35) waarmee hy God se
goeie skepping aangeval en bedreig het (vgl. Mark 13:8). Deur die broodwonder breek Jesus die mag van
die Satan en beïendig Hy die chaos wat hy veroorsaak. Ons teks het dus ook 'n eskatologiese
dimensie: die koms van die koninkryk
van God.
Teenoor Satan wat die mens se lewe wil bedreig, staan Jesus, wat nie net
vir mense wil sorg nie, maar wat letterlik oorvloedig wil sorg. Daarom maak Hy by elke voedselwonder te veel
kos, sodat daar mandjiesvol oorbly.
Daarom laat Hy met die wonderlike visvangs (Luk 5:1-11) die nette
skeur! Die kosmiese wonders toon dat
God goed is vir mense. Die feit dat
Jesus gekom het sodat ons lewe in oorvloed kan hê, moet dus nie net geestelik
verstaan word nie (Joh 10:10).
Die gelykenis het 'n vertroostende rol binne die Matteusevangelie. Dit onderstreep dat God in beheer is en by
magte is om in krisisse en nood uitkoms te gee. In dié sin vervul die broodwonder 'n geloofsversterkende
rol. Dit wil gelowiges aanmoedig om in
afhanklikheid op God te vertrou en op sy goedheid en sorg te reken. Terselfdertyd wil dit ons oë open vir die
gebrokenheid, lyding, en pyn wat die sonde en sy gevolge inhou, sodat ons ook
daarteen sal begin protesteer en na Gods koninkryk sal verlang.
God is 'n God wat vermeerder. Hy
vermeerder anders as wat ons ooit kan dink.
William Carey het sy orige 5 brode en 2 vissies in God se hand gelê en
Hy het hom gebruik om Indië te evangeliseer.
Florence Nightingale het haar 5 brode en 2 vissies aan God gegee en Hy
het haar gebruik om verpleging in gevangenisse radikaal te verander. Martin Luther King het sy 5 brode en 2
vissies in die hand van die God gelê en Hy het hom gebruik om 'n einde aan
diskriminasie in Amerika te maak.
Die gehoor sal natuurlik bepaal hoe die teks gepreek moet word. Hierdie preekskets kan gebruik word vir
mense wat oorvloed het. Ons leef in 'n land waarin 35, 2% (nagenoeg 18 miljoen)
mense, dit is hoofsaaklik vrouens (broodwinners) en kinders, elke aand honger
gaan slaap. Die massamedia het 'n
geneigdheid om 'n mens apaties te maak teenoor dié soort van nood omdat ons
elke dag met die soort inligting oordonder word. Ons beperkte voorrade laat ons ook dikwels magteloos staan
teenoor die armoede en hongersnood in ons land. Soos die dissipels van destyds kan ons ook in ongeloof ons hande
saamslaan en ons rug op die honger massas draai deur te sê: Ons het hier net vyf brode en twee visse
(17). Ons sit ook maar by wyse van spreke in die woestyn.
Die broodwonder roep ons egter op om moed te skep en weer opnuut te glo
in God se goedheid en sorg en om rekening te hou met sy voorsienigheid. In Christus het die koninkryk van God in
hierdie wêreld ingebreek. Hy het gekom
sodat ons lewe in oorvloed kan hê (Joh 10:10).
Hy wil dus nie hê dat mense honger moet ly nie. In Christus het hy gekom om die woestyn te
laat blom en 'n einde aan Satan se wanbestuur te maak, want Hy is begaan oor
elke mens se fisiese en geestelike nood.
Daarvan is die broodwonder 'n teken.
God kan vandag nog die broodwonder herhaal en sy koninkryk hier laat
inbreek, maar dan mag ons nie hongersnood en die gepaardgaande lyding as
onoplosbare krisisse aanvaar en in ongeloof na ons kosvoorrade kyk nie. Dan mag ons nie vra: Wat kan my 2 visse en 5 brode nou aan die
honger mae van miljoene mense doen? Die
staat moet eerder maar na die hongeriges omsien. God kan weer vermeerder en voorsien indien ons maar net bereid is
om in biddende afhanklikheid en vertrouend op Hom ons oortollige 5 brode en 2
vissies in Sy hand te lê (dink net hoeveel mense kan eet as 1000 mense een ete
per week afstaan!). In die hande van
die Here word ons klein gawetjies 'n oorvloed (vgl. Carey; Nightingale;
King). 'n Klein gebaar op die regte tyd
het magtige langtermyn gevolge! Tot
sulke mededeelsaamheid verander God ons.
Bibliografie
Loubser, J.A. 1987: Markus 6:30-44, in Riglyne vir die prediking oor die gelykenisse en wonderverhale: Woord teen die lig II/2 (reds. C.W. Burger, B.A. Müller en D.J. Smit). Kaapstad: N. G. Kerk-Uitgewers. Nielsen, J.T. 1975: Het evangelie naar Mattheus II. Nijkerk: G.F. Callenbach Dawson, S 1978: The multiplication factor. The Expository Times, Vol. 90. Maier, G 1979: Matthäus-Evangelium. 1. Teil. Stuttgart: Hänsler-Verlag. Luz, U. 1990: Das Evangelium nach Matthäus. 2. Teilband. Benziger Verlag.