Ander tekste: Gen 29:15-30; Ps
105:1-11 (of Ps 128); Rom 8:26-39
Wat v. 31-33 betref is dit duidelik dat waar in die vorige twee
gelykenisse vrugbaarheid en onvrugbaarheid gekontrasteer is, die kontras hier
tussen die begin en voltooiing van die koninkryk lê. Die kleinste saadjie lewer 'n plant groter as die tuinplante. 'n Klein bietjie suurdeeg wat in 'n groot
skottel meel ‘weggesteek’ (enekrupsen)
word, deursuur die hele baksel.
Vanuit die eksegese by die sesde week in Koninkrykstyd gedoen is, is dit
duidelik dat hierdie twee gelykenisse aan die ongelowige skare gerig is. Dit is asof Jesus aan die skare wil sê dat
ten spyte van die feit dat 'n groot deel van die saad verlore gaan, en ten
spyte van die feit dat die Bose ook werksaam is, en ten spyte van die feit dat
God se koninkryk tans dalk vir hulle onsigbaar is (kleinste saadjie, suurdeeg
is weggesteek), is dit tog teenwoordig.
Meer, nie net teenwoordig nie, maar aan die groei, en die resultaat
daarvan sal groot wees. Ten spyte van
hulle doofheid, blindheid en afgestomptheid is God se koninkryk onkeerbaar in
teenwoordigheid, koms en groei.
Vanaf v. 36 is Jesus as't ware binnenshuis en rig Hy die verklaring van
die onkruid tussen die koring en die laaste drie gelykenisse aan sy
dissipels. Op dié manier bed Matteus
die gelykenisse in 'n bepaalde konteks in wat die verstaan en interpretasie
daarvan beïnvloed (Vorster 1985: 148-63).
Combrink (1987: 50) wys op ooreenkomste tussen die gelykenisse van die
mosterdsaad, suurdeeg, skat en pêrel: a
Mosterdsaad (klein), b Suurdeeg
(verberg) (enekrupsen), b Skat
(verberg) (kekrumeno), a Pêrel (klein).
Hy wys dan ook daarop dat in die eerste paar gelykenisse (wat tot die
skare gerig is) dit gaan oor die wyse waarop die koninkryk van die hemel kom en
groei. In die tweede paar (aan die
dissipels gerig) gaan dit oor die verrassende genade karakter van die koninkryk
en wat dit vra van hulle wat die koninkryk wil binnegaan.
Combrink wys ook daarop dat in beide van die laaste twee paar gelykenisse
die eintlike aksent nie op die vinder val nie, maar op die vonds. Die skat en die pêrel is die werklik
handelende subjekte, terwyl die mens net reageer. Dit beteken nie dat die koninkryk gekoop of geruil kan word
nie. (Dit sou 'n is-gelyk-aan-teken
tussen koninkryk en skat/pêrel plaas, terwyl Jesus sê dat met die koninkryk
gaan dit soos 'n skat én álles wat daarop volg / 'n handelaar én álles wat
daarop volg.) Die koop of ruil moet
eerder as aflos of vervang gesien word.
Dit gaan om die vreugde waarmee die ruil gedoen word. 'n Mens vind die koninkryk van die hemel
onverwags omdat God hom so aan die mens openbaar. Dan word alle ander dinge gerelativeer. Wanner die hoorder dít verstaan, móét hy handel.
Alhoewel nie deel van ons teks nie, moet daar tog ook op die besondere
raakpunte tussen die verklaring van die gelykenis van die onkruid tussen die
koring en die gelykenis van die treknet gewys word. In beide gevalle is daar sprake van kontras tussen die twee
groepe en die skeiding tussen goed en kwaad wat sal plaasvind. In beide gevalle is daar sprake van 'n oes,
die een op land en die ander op see.
Die feit dat hierdie twee gedeeltes soos dubbelegelykenisse funksioneer
het belangrike implikasies vir die prediking.
Is die vals dissipels nie dalk hulle wat nie bereid is om alles vir die
koninkryk van die hemel prys te gee nie?
Combrink huldig die mening dat dit hieruit afgelei sou kon word, mits
die genadekarakter van die vonds van die koninkryk van die hemel nie hierdeur
in 'n nuwe legalisme verander word nie.
Oor die kriterium waarvolgens onderskei sal word, wys Combrink daarop dat
in Matteus daar alleen twee weë moontlik is (7: 13-14). Die kala
en sapra (v. 48) korrespondeer met
die dikaioi en poneroi in v. 49. Poneros bevat in Matteus veral die
gedagte van dubbelhartigheid en konflik van lojaliteit. Poneros
dui veral ook op liefdeloosheid. Hierby
kan die valse profete gevoeg word - slegte boom wat slegte vrugte voortbring (to de sapron dendron ponerous poiei- 7:
17). Poneroi dui dus mense aan wat skuldig is aan morele en religieuse
laksheid en akute liefdeloosheid. Dit
is ingrypend dat hierdie mense ek mesou
diakaion afgeskei sal word. Hulle
is dus vals dissipels in die koninkryk en nie bose mense in die algemeen
nie.
Die rol van die gelykenisse binne Matt. 13 kan kortliks saamgevat word: Die gelykenis van die mosterdsaad en suurdeeg dui op die triomfantlike groei van die koninkryk ten spyte van teenstand en teleurstelling. In die gelykenisse van die skat en die pêrel gaan dit om die onbegryplike en onverwagte selfopenbaring van die koninkryk van die hemel. Deur die chiastiese opbou van die tweede deel van die gelykenisrede wat spesifiek tot die dissipels gerig is, word die genadige aanbod van die koninkryk wat tot handeling moet dring omraam deur die ernstige vermaning aan die dissipels om rekening te hou met die eskatologiese eindoordeel.
1. Smit (1990: 187), in sy
postille oor die derde bede van die Onse Vader, gee 'n bondige oorsig oor die
maniere waarop die koninkryk in die geskiedenis verstaan is: mense bring die koninkryk in verband met die
persoonlik individuele, met die kerk of met die samelewing. Hy gee dan voorbeelde van al drie. Combrink (1987: 56) skets ook
koninkryksverwagtinge in die tyd van Jesus.
2. Smit (1990: 186) toon ook aan
dat van die belangrikste insigte wat oor die koninkryk ontstaan het, is dat dit
onmoontlik is om die inhoud van die koninkryksmotief in die evangelies saam te
vat, omskryf, te definieer, of te verduidelik.
Daar is niks waaraan dit gelyk gestel kan word wat alles daaroor sê nie. Hy wys op Perrin se onderskeid tussen
‘steno-symbols’ en ‘tension-symbols’.
Eersgenoemde het 'n een-tot-een verhouding met dít wat dit voorstel, bv.
die matematiese pi. Laasgenoemde het 'n stel betekenisse wat nie
deur 'n enkele referent uitgeput of genoegsaam tot uitdrukking gebring kan word
nie.
3. Oor die verborgenheid van Christus en sy
koninkryk skryf Thielicke (1978: 85) dat die koninkryk van God verborge is en
nie op straat lê nie. Eintlik is dit
altyd die grootste ergernis dat God so min ophef van Homself maak. Daar was iemand wat vir Jesus wou help om 'n
ophef van Homself te maak, om die oog van die publiek op straat te soek, maar
dit was die duiwel. Jesus het 'n ander
weg gevolg. Hy het by die mees verborge
deur wat 'n mens jou kan indink, die wêreld binnegekom. Hy loop die pad van die nederiges sodat
mense nie oorweldig sal word deur die marsgedawer van twaalf legioene engele
wat Hy kan ontbied nie. Op dié manier
word Hy die verborge heimlike koning wat maklik misgekyk kan word.
4. Wie kyk Hom mis? In die konteks van Hoofstuk 13 word die gelykenisse
van die mosterdsaad en die suurdeeg aan die afgestompte skare gerig. Is dit net hulle wat Hom miskyk?. Op grond van die eksegese wat by die sesde
week in Koninkrykstyd gedoen is, sou dit verkeerd wees om hierdie gelykenisse
nie ook op die dissipels/kerk van toepassing te maak nie. Hulle verstaan immers die geheime van die
koninkryk. Barth skryf op 'n plek dat
die Bybel net op 'n indirekte manier
krities deur die kerkvenster na die wêreld daarbuite spreek. Tot hulle wat in die huis van God is, spreek
die Bybel altyd direk krities.
5. Die koms van die koninkryk van
die hemel beteken die volledige verrassende geskenk van die liefde van God,
asook die inbreek van Gods oordeel oor die selfvoldane mensheid. Die tragedie is dat die wêreld te blind is
om te sien dat God in aksie is en hiervoor wil Jesus deur die gelykenisse die
oë open.
6. Sien 'n mens God raak in die
alledaagse van die saailand en die handel en wandel, en struikel jy nie oor Hom
nie (Thiellicke oor die landbouer wat die skat raak ploeg: Dekselse klip!), dan word jy oorweldig deur
die genade. Die mensgemaakte,
sintetiese en onegte klatergoud word verruil vir die skat. Smit (1990: 191) haal Barth aan oor die
magte wat deur die koninkryk oorwin moet word.
7. Combrink maan dat t.o.v. die treknet die aksent moet val op die tipies Matteaanse beklemtoning van die doen van die wil van God, die oorvloediger getrouheid aan die wet, die onderhouding van die koninklike wet van die liefde as die kenmerk van die ware volgeling van Jesus. Vals dissipels is mense wat nie in beweging gebring kan word nie, selfs nie deur 'n oorweldigende verrassende fonds nie.
'n Preek oor die gedeelte kan as volg verloop: Inleidend kan gevra word wat Jesus bedoel met die koninkryk van God. Deur die eeue het mense baie hieroor
gespekuleer, selfs probeer om die koninkryk te realiseer. Combrink en Smit se insigte (1) kan hierin
verwerk word met as konklusie die opmerking van Perrin (2).
Daarom vertel Jesus gelykenisse.
Vir die skare is dit geheimenisse, maar aan navolgelinge is dit gegee om
die geheimenisse te verstaan. Daarom
moet kerkgangers hulle ook afvra in welke mate hulle blind geword het vir die
koninkryk en koninkryksperspektief.
Dalk selfs aanstoot neem - Thielicke:
Dekselse klip! Dit is immers
iets wat gesoek, nagejaag behoort te word (6: 33). In welke mate druk ons ons oë en ore daarvoor toe? Barth se insigte onder 7 kan hierin ook
bygewerk word.
Hoe anders is dit nie as die koninkryksperspektief ontdek word nie! 'n Liefde so volmaak en vry, eis alles, ook
van my. Vir hierdie skat sal ek al die
klatergoud (sien Barth, 7 hierbo) verruil.
Die vonds verander die vinder.
Sy kyk anders, sy sien die pêrel in meer dinge raak, huwelik,
vriendskap, arbeid, naaste. En as hulle
dit nog nie in dié dinge vind nie, dan kom die opdrag, beywer jou daarvoor (6:
33).
Wees versigtig dat jy nie twee Here dien nie. Op dié manier is jy 'n hipokriet, vals, dra jy nie goeie vrugte
nie, word jy verwerp - wees versigtig want daar kom 'n skeiding. Predikers moet versigtig wees om nie die
preek op 'n negatiewe toon te laat eindig nie.
Tog is die vermaning van die treknet 'n ernstige vermaning. Laat jou dus vind deur die koninkryk, én
soek die koninkryk. Vir die egtheid
daarvan kan ons immers alles op die spel plaas.
Combrink, H J B 1987. Matteus 13: 44-50, in Burger, C W, Müller, B A, & Smit, D J [reds.], Woord teen die lig II/2: Riglyne vir prediking oor die gelykenisse en wonderverhale, 49-60. Kaapstad: Lux Verbi. Smit, D J 1990. Matteus 6:10a, in Burger, C W, Müller, B A, & Smit, D J [reds.], Woord teen die lig II/5: Riglyne vir prediking oor die bergrede, 186-95. Kaapstad: Lux Verbi. Thielicke, H 1978. God se prenteboek: gelykenisse van Jesus (Verkorte Afrikaanse weergawe). Kaapstad: Tafelberg. Vorster, W S 1985. Gelykenisse in konteks. Matteus 13 en die gelykenisse van Jesus, in Hervormde Teologiese Studies 41, 148-65.