Matteus 13:24-30, 36-43 (Johan Rossouw)

18 Julie 1999

Sewende Sondag in Koninkrykstyd

 

Ander tekste: Gen 28:10-19a; Ps 139:1-16; Rom 8:12-25

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring moet ons versigtig maak in ons oordeel oor ander.  Dit vra ook dat ons selfondersoek sal instel na die aard van die vrug in ons lewens. 

Teks

Burger (1987: 40-9) bespreek die gedeelte volledig.  Wat hier volg is 'n précis daarvan.  Eksegeties kies hy vir 'n hoofstukindeling wat die gelykenis en die verklaring daarvan in een afdeling groepeer, nl. v. 24-34.  Daarin gaan dit dan oor die verborge en oënskynlike teenstrydigheid van die koms van die koninkryk. 

 

Tweedens bespreek hy die historisiteit van die gelykenis en die interpretasie daarvan.  Hy kies vir 'n standpunt wat die teks en basiese historisiteit van Matteus volledig ernstig wil neem en daarom die verband en eenheid van gelykenis en interpretasie wil handhaaf.  (Sien Luz [1994: 77-82] vir 'n standpuntinname contra Burger.)  Burger erken egter die problematiek tussen die gelykenis en uitleg daarvan.  (Sien kommentare.)  Hy los die probleem op deur v. 36-43 te sien as 'n vervolg op 24-30 waarin die punt(e) van 24-30 aangevul of uitgebrei word.  Die uitleg maak dan 'n aanvulling tot die gelykenis en terselfdertyd word die bestaan van ander aspekte wat sterk figureer in die gelykenis, maar latent bly in die uitleg, nie daarmee ontken nie. 

 

Hy identifiseer 'n aantal verkondigingsmomente:  Die basiese gegewe in die gelykenis is die koms van die koninkryk wat nooit van Christus losgemaak kan word nie (v. 37).  Naas die werklikheid van die koninkryk het ons met 'n tweede werklikheid te make, die werk van die Bose.  Uit die reaksie van die arbeiders is dit duidelik dat hulle nie daarvan hou nie.  Hierdie geïrriteerdheid is waarskynlik die uitgangspunt vir Jesus se vertel van die gelykenis.  (Sien ook Combrink [1989: 20].)  Die arbeiders ontvang duidelike opdrag.  Hulle kan niks meer doen as om te aanvaar dat die koninkryk in die tussentyd onder aanvegting is nie.  Vir die verkondiging is dit belangrik om daarop te let dat Jesus duidelike redes vir sy opdrag gee:  dolik en koring lyk in 'n vroeë stadium dieselfde; hulle wortelstelsels is verstrengel; die hele gelykenis spreek van God se verdraagsaamheid en lankmoedigheid.  (Sien hier veral Noordmans [1980: 290-1].)  In 40-43 is daar 'n paranetiese toon.  Die gelykenis wat oor mense buite die koninkryk handel, eindig met 'n vermaning aan die adres van die dissipels.  (Sien ook Combrink [1989: 20].)

 

Ten slotte vra Burger of dit die kerk wat 'n corpus mixtum is, of die wêreld.  Hy wys dan op veral gereformeerdes se beswaar teen die identifikasie van kerk en koninkryk in Matt. 13.  In hul erns met die tug is dit duidelik dat diesulkes nie die ideaal van 'n suiwer kerk wil prysgee nie.  Andersyds waarsku hy teen 'n té rigiede tug-ideaal vir die kerk. 

Konteks

1.  Burger waarsku teen gevaarlike interpretasielyne:  Die problematiek rondom die ‘vyand’ moenie predikers so fassineer dat die troos in die gedeelte agterweë bly nie.  Daar moet tweedens gewaak word om vanuit 'n deterministiese verkiesingsteologie die teks te misinterpreteer.  Onkruid kan inderdaad nooit koring word nie, maar mense kan tog besluite neem en verander.  Derdens sou dit juis 'n poging wees om die onkruid uit te trek as daar 'n oorhaastige aanwysing van saad en onkruid vanaf die kansel sou plaasvind.  Hy gee vervolgens 'n bondige samevatting van vier preke. 

 

2.  Om die vervlegdheid van goed en kwaad in ons maatskappy te illustreer, kan predikers van Meads (1991) se insigte gebruik maak.  Meads (om vir 'n oomblik af te wyk van Burger) beskryf drie maniere waarop die kerk haar apostolaat beskou het.  In die ‘apostolic paradigm’ van die vroeë kerk was daar duidelike skeiding tussen gemeente en wêreld.  In die post-Konstantynse ‘christendom paradigm’ is die staat en kerk as christelik beskou.  In hierdie paradigma is die sending-grens die staat se grens en nie meer die gemeente se grens, soos in die apostoliese paradigma nie.  In die derde paradigma waarin die kerk nou in beweeg, is die kerk en die empire nie meer dieselfde nie.  ‘We now have to deal with the fact that in any geographic area the majority of the people may have no interest in the chuch whatever’(Meads 1991: 25).  Die omgewing waarin die kerk haar tans bevind is dubbelsinnig. 

 

'n Paar aanhalings uit Meads se boekie illustreer die komplekse vermenging van ‘onkruid en koring’:

‘... the environment beyond the boundary (of the church) is ambiguous.  It is not always hostile, although sometimes it is.  It is not identical with the church, although sometimes it still is.  Much that is in the environment is somewhere in between; the school systems, for example, attempt to teach truth and justice, but disconnected from their roots in biblical witness.  The outside boundary of the congregation is porous and permeable...  People move in and out with little sense of responsibility ... and little knowledge of what the congregation is about...  A very uncertain congregation, then, looks ... to an environment that appears less and less friendly and wonders...  It wonders how to differentiate itself from its environment.  It does not know how to deal with environmental ambiguity in its own life and values’ (Meads 1991: 27). 

Preekvoorstel

Burger stel voor dat die Skriflesing in perspektief gestel moet woord deur vooraf 'n opmerking te maak.  Aan die hand van Jesus se optrede teenoor Saggeus (Luk. 19: 7), die Kanaänitiese vrou (Matt. 15: 23), die kindertjies (Mark. 10: 13) kan illustreer word dat sy volgelinge geïrriteerd kon raak met sy optrede en hantering van sake.  Dalk was Hy soms net té gelate, te rustig, te oop en te genadig na hulle sin.  Hulle sou wou sien dat Hy meer ferm moes optree.  Daarom vertel Hy by geleentheid 'n gelykenis.  Dan volg die Skriflesing. 

 

'n Alternatief tot Burger se inleiding sou wees om die gelykenis binne sy konteks in Matt. 13 te plaas.  Deur Jesus se woorde in hierdie volgorde op te teken waarsku Matteus sy lesers teen 'n verkeerde konklusie uit Matt. 13: 10-17.  Jesus se uitspraak oor die verharding in daardie verse is by verre nog geen definitiewe ‘laaste’ oordeel nie.  Om op grond van daardie verse 'n voorbarige en voortydige skeiding te wil maak, iets waartoe Matteus se lesers (Matt. 18:15, 21 ev.) (en ons) skynbaar geneig is, sou verkeerd wees.  (Sien eksegese by Sesde week in Koninkrykstyd.) 

 

Met die eerste deel van sy preek wil Burger Jesus se bedoeling met die gelykenis weergee.  Met die koninkryksgelykenis wil Jesus 'n paar aspekte van die aarde en werking van God se koninkryk verduidelik.  Die dissipels moenie nou al veroordeel nie, want God se oordeel kom beslis.  Op die manier word hulle besorgdheid oor reg en geregtigheid besweer.  Intussen moet hulle aanvaar dat hulle in 'n gemengde gemeenskap woon waar die Bose ook werk en 'n rol speel.  Dit moet ons egter nie laat twyfel aan die werklikheid (en werklikheid - vergelyk 13: 31-33) van God se koninkryk nie. 

 

Wat gebeur nou as mense hierdie geheim van die koninkryk verstaan?  Ten eerste leer hulle geduld.  Toleransie is 'n teësinnige duldende gewag.  Geduld daarenteen is lankmoedigheid wat ten nouste saamhang met 'n dieper verstaan van God se liefde.  Dit het te doen met die feit dat God bereid is om mense (v. 38) kans te gee.  As 'n mens aan eie lyf ervaar het dat God onkruid kan verander, dan word jy bereid om vir ander te wag.  Die tweede wonder wat gebeur is dat 'n mens jou ewige lus om altyd te oordeel verloor.  Die gelykenis is dalk 'n verduideliking van Jesus se woorde in 7:1. 

 

Waarom dan nie oordeel nie?  Ten eerste omdat dit oor die koring gaan.  Vanweë die verstrengeldheid (vergelyk Meads) van koring en onkruid kan jy deur te oordeel die baba met die badwater uitgooi.  Tweedens kan jy jou vergis, die twee lyk na mekaar, ons kyk mense voor die kop, nie in die krop.  'n Laaste rede is dat daar in ons eie lewens 'n hele klomp onkruid oorgebly het.  As jy dan móét oordeel, begin maar voor eie deur te vee. 

Bibliografie

Burger, C W 1987.  Matteus 13:24-30, 36-43, in Burger, C W, Müller, B A, & Smit, D J [reds.], Woord teen die lig II/2: Riglyne vir prediking oor die gelykenisse en wonderverhale, 40-8.  Kaapstad:  Lux Verbi.  Combrink, H J B 1989.  Die evangelie volgens Matteus, in Verklarende Bybel, 1-41.  Kaapstad: Lux Verbi. Luz, U 1994.  Matthew in history: Interpretation, influence and effects.  Minneapolis: Fortress.  Meads, L B 1991.  The once and future church: Reinventing the congregation for a new mission frontier.  New York: The Alban Institute.  Noordmans, O 1980.  Verzamelde Werken VIII, 286-91. Kampen:  Kok.