Ander tekste: Gen 25:19-34; Ps
119:105-112; Rom 8:1-11
Die gelykluidende woorde in Matt. 7: 28, 11: 1, 13: 53, 19: 1 en 26: 1
verdeel die Matteus-evangelie op 'n natuurlike wyse in groot blokke. Hierdie woorde (in die NAV nie so eenders
vertaal nie) sluit telkens 'n groot toespraak van Jesus af. Op hierdie manier word verhalende stof en
toesprake van Jesus op 'n ooglopende wyse afgewissel.
|
1-4 |
Vertelling |
Geboorte en begin van Jesus se optrede |
|
|
Toespraak |
Bergpredikasie:
Toegang tot die koninkryk |
|
8-9 |
Vertelling |
Jesus se gesag en uitnodiging |
|
|
Toespraak |
Uitsendingstoespraak |
|
11-12 |
Vertelling |
Verwerping |
|
|
Toespraak |
Gelykenisse van die koninkryk |
|
14-17 |
Vertelling |
Dissipels kry insig |
|
18 |
Toespraak |
Dissipels kry insig oor die lede van die koninkryk |
|
|
Vertelling |
Jesus se gesag en uitnodiging |
|
23-25 |
Toespraak |
Weë uitsprake:
koms van die koninkryk |
|
|
Vertelling |
Dood en opstanding |
Uit hierdie ‘toebroodjie-struktuur’ is dit duidelik dat Jesus se
toespraak in Matt. 13 'n besondere plek in die evangelie inneem. In Hoofstuk 5 tot 7, met sy sewe
saligspreuke, vertel Matteus hoe Jesus gesê het mense die koninkryk kan
ingaan. In Hoofstuk 23-25, met sy sewe
weë-uitsprake, word vertel van die koms van die koninkryk. In Hoofstuk 13 word met behulp van sewe
gelykenisse vertel hoe die koninkryk is.
'n Ander manier om na die Matteus-evangelie te kyk, is om die
gelykluidende uitdrukkings in 4: 17 en 16: 21 as uitgangspunte te gebruik. Hierdie formules dui Matteus se visie op die
heilsgeskiedenis aan en lui telkens 'n nuwe fase in Jesus se lewe in. Op hierdie manier kom die verhaalstruktuur
van die evangelie duideliker na vore:
1. Matt. 1: 1-4: 16: Matteus gebruik die eerste deel van sy
evangelie om Jesus aan sy lesers voor te stel.
Jesus is die Seun van God; God met ons (1: 23). Johannes die Doper is sy voorloper en in sy
persoon en werk is Johannes 'n voorafskadu van Jesus se persoon en werk (en
lot). Die klimaks van die eerste deel
is by Jesus se doop waar Hy deur God self as Seun erken word en deur die Gees
bemagtig word vir sy werk. Wanneer
Johannes die Doper van die toneel verdwyn, begin Jesus met sy openbare
optrede.
2. Matt 4: 17-11: 1: ‘Van toe af (na Johannes in die tronk
opgesluit is) begin Jesus preek ...Bekeer julle ... die koninkryk van die hemel
het naby gekom’ (4: 17) In die tweede
deel van sy evangelie vertel Matteus sy lesers van Jesus se bediening aan
Israel. Hy leer, verkondig en genees
(4: 23 en 9: 35). Matteus gebruik
Hoofstuk 5-7 (Bergpredikasie) om vir die lesers te vertel van hoe Jesus geleer
het. In Hoofstuk 8-9 vertel hy hoe
Jesus genees het. Die genesings word
afgewissel deur perikope oor hoe Jesus gevolg moet word. Dit is immers hoekom Jesus gekom het: dat mense Hom in die koninkryk sal volg (28:
19-20). Deur sy bediening roep Jesus
Israel tot bekering. Hulle moet hulle
lewens inrig om in pas te wees met God se koninkryk wat in en deur Jesus
aangebreek het. In uitbreiding van sy
eie werk roep Jesus volgelinge/leerlinge/ dissipels en stel hulle aan om sy
bediening van verkondiging en genesing voort te sit. Hy het mos gesê dat Hy hulle vissers van mense sal maak (4: 19). Voordat hulle ander kan leer, moet hulle
egter self eers leer dat die Christus/Messias/ Gesalfde 'n lydensweg moet
deurloop en uit die dood opstaan. Eers
dan kry hulle opdrag om te leer (28: 19-20).
3. Matt. 11: 2-16: 20: In die tweede helfte van die tweede deel van
die evangelie word dit stelselmatig duideliker dat Jesus se optrede nie sonder
weerstand geskied nie. In die vorige
gedeelte het die godsdienstige leiers van die tyd nog net ‘by hulleself’ gemor
oor sy ‘godslasterlikheid’ (9: 3). Hierdie
houding van die godsdienstige leiers t.o.v. Jesus versleg dramaties totdat dit
'n punt van onversoenbare vyandigheid bereik en hulle saamsweer om sy lewe te
neem (12:1-8, 9-14).
4. Matt. 16: 21-28: 20: ‘Van toe af (na Petrus, as voorbeeld van al
die dissipels, se gedeeltelike verstaan van Jesus se Messiasskap) het Jesus ...
duidelik begin stel dat Hy ... baie moet ly ... doodgemaak moet word ... die
derde dag uit die dood opgewek moet word.’
In die laaste gedeelte van sy evangelie maak Matteus van 'n reismotief
gebruik waarin hy drie lydensaankondigings (16: 21, 17: 22-23 en 20: 18-19)
inbed om te vertel van Jesus se kruisiging en opstanding.
Vra 'n mens na die funksie van Hoofstuk 13 binne die Matteus-evangelie,
dan word twee sake duidelik:
Enersyds dien Hoofstuk 13 as instruksie aan die dissipels. In 10: 1-42 beskryf Matteus die sending van
die dissipels as 'n uitbreiding en duplisering van Jesus se bediening. In hulle sending moet hulle dieselfde doen
as wat Jesus in sy bediening doen: genees en verkondig (10: 7-8). In 'n onlosmaaklike eenheid van woord en
daad moet hulle, soos Jesus, verkondig dat die koninkryk naby gekom het. Maar, tot nog toe is daar nêrens in die
evangelie 'n duidelike aanduiding van hoe Jesus die koninkryk verkondig nie. Daar word bloot opsommend daarna verwys (4:
17). Die dissipels (en lesers as
aspirant volgelinge) is nog nie toegerus vir hulle verkondigingstaak nie. Hoofstuk 13 wil met behulp van voorbeelde
van Jesus se prediking hulle hiervoor toerus.
Op dié manier word 'n skrifgeleerde 'n leerling in die koninkryk van die
hemel (13: 52).
Andersyds dien Hoofstuk 13 as teregwysing aan die skare. In die eerste helfte van die hoofstuk praat
Jesus met die skare. In Hoofstuk 11-12
is beskryf hoe Jesus in konflik was met bepaalde segmente van die Joodse
volk. Nou kom hy te staan teen die
‘groot skare’ ongelowiges. In 13: 1-35
trek Jesus heftig te velde teen hierdie skare wat hoor en hoor en niks verstaan
nie, en kyk en kyk en tog niks sien nie.
Daarom wend Hy hom vanaf 13: 36 tot sy volgelinge. In sy gesprek met hulle neem Hy sy vorige
stelling op waarin hulle beskryf is as dié wat die wil van sy Vader doen (12:
50). Hy brei daarop uit deur hulle
gelykenisgewys te onderrig in wat dit beteken om die wil van die Vader te
doen.
In Matt. 13 is twee duidelike dele te onderskei, nl. v. 1-35 en
36-52. (Vir fyner onderskeidings kan
die kommentare geraadpleeg word.) In
die eerste deel skyn Matteus se nadruk te wees op idees wat in die tweede deel
voorkom. In v. 10-23 is daar 'n skerpe
teenstelling tussen die skare en die dissipels. Jesus verklaar duidelik dat die skare die gelykenisse nie kan
verstaan nie vanweë hulle skuldige verset teen sy boodskap. In Matt. 11 en 12 het Jesus reeds
beskuldigings en verwyte gerig aan die adres van die joodse volk of groepe
daarvan ( stede, Fariseërs en skrifgeleerdes).
Die eerste deel van Matt. 13 pas volledig binne hierdie konteks: hier is
dit nou die skare wat deur Jesus van verharding aangekla word. Hy spreek hulle aan in onverstaanbare
gelykenisse, omdat hulle nie sien, hoor en verstaan nie. So verdedig en regverdig Jesus sy gebruik
van gelykenisse.
Ander elemente van die eerste deel moet in die lig van hierdie
hoofgedagte gelees word. Die gelykenis
van die saaier funksioneer dus binne hierdie konteks van teenstelling, verwyt
en selfverdediging. Met behulp van die
gelykenis formuleer Jesus duidelik dat baie van die gesaaide woord verlore gaan
en slegs een gedeelte daarvan vrug lewer.
Dit dui op die feitelike toestand:
net die dissipels begryp, die hart van die volk is verhard. Die gelykenis is dus voorbereiding vir wat
in v. 10-17 uiters skerp geformuleer sal word.
Met die gelykenis van die onkruid tussen die koring wil Matteus waarsku
teen 'n moontlike verkeerde gevolgtrekking wat uit v. 10-17 gemaak kon
word. Jesus se uitspraak oor die
verharding is immers nog geen definitiewe en laaste oordeel nie. Die gelykenis waarsku teen 'n voortydige en
voorbarige skeiding en veroordeling - iets waartoe Matteus se lesers skynbaar
geneig was. Maar dat daar 'n skeiding
aan die einde sal wees, is gewis.
Netso kry die gelykenis van die mosterdsaad (v. 31-32) en die gelykenis
van die suurdeeg (v. 33) danksy die konteks 'n spesiale skakering. 'n Mens kry die indruk dat Jesus volgens
Matteus teenoor die skare wil sê: God
is sterker as julle weiering, sy heerskappy sal aanbreek!
Dit bly egter 'n ope vraag of hierdie gedagtegang werklik alle perikope
in die eerste deel van die hoofstuk beheers.
Daar is tog ook aansporing, nie net aanklag nie. Jesus praat in v. 10-17, oor die volk, nie tot hulle nie. Die
dissipels het die vraag gestel en hulle kry die antwoord. In v. 10-23 is hulle die
geadresseerdes. Hulle word gelukkig
geag en opgeroep om te luister. Hulle
is die bevoorregtes aan wie dit gegee is om die geheime van die koninkryk te
ken. Hulle is die teenhangers van die
nie-begrypende skare. Die positiewe
uitsprake oor die dissipels sorg vir die kontras. Tog is dit moeilik om in die uitleg van die saaier nie ook 'n waarskuwing
raak te sien nie. Soos wat Jesus die
dissipels aanspoor, spoor Matteus ook sy medegelowiges aan. Hulle moet die woord hoor, dit verstaan en
vrug dra. Hulle word gewaarsku teen
gemaklike geesdrif en onstandvastigheid.
Nie alleen die uitleg van die gelykenis van die saaier (v. 18-23) nie,
maar ook die daarby aansluitende gelykenis van die onkruid (v. 24-30) blyk 'n
waarskuwing aan die dissipels (kerk) te wees.
Nadat v. 18-23 gelees is, is dit inderdaad byna onvermydelik om die deur
Jesus verbode voortydige skeiding op die dissipels (en christene) te wil betrek
- hulle kan immers ook trou of ontrou, goed of sleg wees. Die Bose van v. 19 is ook in v. 25. Soos wat die gelykenis oor die onkruid 'n
aansporing bevat, is dit ook die geval met die gelykenisse oor die mosterdsaad
en suurdeeg. Hierdie dubbelgelykenisse
rig hulle ook tot die dissipels. Want
hulle verstaan die gelykenisse; hulle word daardeur opgeroep en aangemoedig om
hulle lewens in te rig op die sekerheid van die koninkryk.
Matt. 13 se eerste deel bevat dus beide apologetiese aanklag teen die
skare asook paranetiese aansporing tot die dissipels. Miskien oorheers die eerste gedagte in v. 1-17 (en v. 34-35) en
die tweede meer in v. 18-33. Dit sou
dus nie raadsaam wees om die eerste deel van Hoofstuk 13 in twee helftes te
verdeel nie. Daar is wel twee
swaartepunte. Die logiese nexus lê
waarskynlik in v. 18: Umeis oun akousate ... (let op die
klem). Die hoorders moet daarop let dat
hulle anders reageer as die volk van wie die hart verhard is.
Binne die tweede deel van Matt. 13 is daar 'n groter mate van eenheid. Alles gebeur as't ware binnenshuis. Die verklaring van die gelykenis van die onkruid tussen die koring, gevolg deur die dubbelgelykenisse oor die skat en die pêrel en die gelykenis van die treknet word net tot die dissipels gerig. Die gedeelte is 'n ononderbroke monoloog van Jesus. Die toespraak eindig met Jesus se vraag of hulle dit alles verstaan. As hulle bevestigend antwoord, word hulle vergelyk met 'n bekwame huisheer.
1. Noordmans (1980) identifiseer
die verskillende tipes grond aan die hand van karakters in die
evangelie(s). Die harde grond is dié in
die sinagoge in Nasaret wat hulle erg aan Jesus; klipbank-mense is die skare
wat ‘licht ontvlambaar’ is maar, ‘eveneens spoedig geërgerd.’ Goeie grond is waar mense ophou om
berekeninge te doen: Saggeus wat helfte
van sy goed weggee, vierdubbel vergoed; die vrou met die kosbare nardusolie -
alles lewens waarin God regeer. En
uiteindelik die moordenaar aan die kruis:
‘Is dit niet de goede aarde, dit Koninkrijk, der hemelen, op welks
drempel een rover zich ontpopt tot een engel Gods?’
2. Op soortgelyke trant is Tolbert (1989) se uitstaande werk, weliswaar
oor die Markus-evangelie, tóg met bruikbare insigte. Sy maak gebruik van die parallelle gedeelte in Markus 4 en toon
oortuigend aan dat dit as interpretasie-sleutel en sinopsis vir die eerste deel
van die Markus-evangelie dien. Elke
tipe grond word verteenwoordig deur bepaalde karakters binne die evangelie. Waar die prediking oor die Saaier teen
oorbekendheid kan stuit, is haar uiteensetting bruikbaar om, soos Noordmans,
die tipes grond te karakteriseer en om die ‘dis-soos-ek-is-ervaring’ by
hoorders te skep. Theron (1987) bied
bruikbare homiletiese stof, veral t.o.v. 'n inleiding.
3. Kreatiewe homilete kan
moontlik Gerhardsson (1968) se verhelderende insigte gebruik. Hy maak erns met die joodse agtergrond van
die evangelie en interpreteer die gelykenis op grond van die herhaalde
luister/hoor in terme van die Sjema
(Deut. 6: 4-9 vergelyk Matt 22: 34-40).
Die verbondsvolk moet God liefhê met hulle hele hart (lebab/kardia), hele siel/lewe (nefesh/psuge) en met al hulle
mag/goed/besittings (mad/dianoia). In die eerste deel van die gelykenis is die
saaier onsuksesvol want hardegrond-mense het God nie lief met hulle hele hart
nie. Daarom kan die Bose die saad in
hulle harte kom wegneem. Die tweede
groep mense het God nie met hulle hele lewe lief nie. As hulle verdruk word, word hulle gou afvallig omdat hulle aan
hulle lewens vasklou. Rykdom (ploutos=mammon) verdruk die saad in die
derde groep se lewens. Die ware
Godsvolk is hulle wat hoor, verstaan en vrug dra. (Sien ook Theron [1987: 95])
4. Die preekvoorstel hieronder is 'n poging om reg te laat geskied aan Smit (1987) se konklusies oor die prediking van die gelykenisse. Kortweg: (i) In die uitleg moet probeer word om die storielyn te volg. (ii) Die gelykenisse wil 'n bepaalde effek in die hoorders bereik en eers as dit gebeur het, het 'n mens dit verstaan. (iii) Gelykenisse wil nie ons insigte verander nie, maar ons lewens. Hulle moet omgesit word in dade van vernuwing en gehoorsaamheid. (iv) Vanweë die oorbekendheid van die vertellings beveel hy aan dat die skopus van die verhaal op argumentatiewe wyse uitgelig sal word. Die Skriflesing is Matt. 13:1-23.
Die gesig van so 'n groot skare moes balsem vir die dissipels se
onrustigheid gewees het. Immers moes
hulle teen dié stadium meer as effens bekommerd gewees het. In die vorige hoofstukke het Matteus enkele
voorvalle opgeteken wat vir hulle tot kommer moes stem - konflikte met die
Fariseërs; sameswerings tot moord; verwerping deur onboetvaardige dorpe; twyfel
by Johannes die Doper of Jesus werklik die Christus is; selfs beskuldigings dat
Hy in diens van die duiwel is.
Maar hier op die strand lyk dit nou asof Jesus se bediening uiteindelik
begin stoom optel. 'n Groot skare is
byeen - Hy moet van 'n bootjie 'n preekstoel maak. Ons kan amper die dissipels se kollektiewe sug van verligting
hoor.
Feitlik dadelik kan 'n mens ook hoor hoedat hulle weer hulle asems
intrek. Jesus besef skynbaar nie die
grootheid van die oomblik nie en laat hierdie gulde geleentheid deur die
vingers glip. Vanuit die boot kom daar
'n stroom raaisels, wat die skare eerder ontstig as stig.
Daarom vra hulle hom: ‘Hoekom gebruik U gelykenisse ...’ Hoekom nie prontuit sê wat U bedoel
nie? Jesus antwoord dat sy gelykenisse
'n respons op die geestelike blindheid en doofheid van die mense is. En amper onheilspellend haal Hy Jesaja aan -
daardie profeet aan wie die opdrag gegee is om 'n volk aan te spreek wat nie
wil luister, verstaan of glo nie.
As gelykenisse Jesus se respons tot die skare se botheid is, dan wonder
'n mens wat Hy daarmee wou bereik? Wat
moet die gelykenisse vir, of dalk, aan die skare doen? Dalk moet ons die vraag ook vir onsself vra,
ons ‘ken’ mos die gelykenisse, veral die gelykenis van die Saaier. Ons ‘ken’ die gelykenisse so goed, dat ons
die gevaar loop dat hulle by ons verby kan gaan.
Gebruik Jesus die gelykenisse as 'n kuur
vir die skare se doofheid en blindheid?
Miskien was die gelykenisse 'n besondere effektiewe manier om die
eenvoudige mense met behulp van treffende stories en lewende beelde uit hulle
alledaagse lewe te leer. Die probleem
met hierdie oplossing is dat dit nie die dissipels se verwarring verklaar
nie. As Jesus die gelykenisse gebruik
het om die skare te leer, dan sou die dissipels nie na sy gebruik daarvan gevra
het nie. Indien dit bedoel was om op 'n
treffende wyse te leer, sou dit mos duidelik wees hoekom Jesus daarvan gebruik
maak.
Gebruik Jesus dalk die gelykenisse om geestelike blindheid en doofheid te
veroorsaak? Miskien kan Jesus se woorde ‘Aan julle is dit gegee ... maar aan
hulle is dit nie gegee nie ...’(v. 11 ev.) op dié wyse interpreteer word. Die oomblik as ons dit sê dan stuit ons oor
'n paar vraagstukke. As God dan sy Seun
gestuur het, nie om te oordeel nie, maar om te red, en as God nie die dood van
die sondaar wil nie maar sy bekering tot Hom wil, hoe is dit moontlik dat die
Seun van God opsetlik mense daarvan weerhou om tot kennis van die redding te
kom? Ook dié oplossing deug nie.
Ons is nader aan die kol as ons sê dat Jesus gelykenisse gebruik om die
skare op hulle botheid te wys, om hulle traagheid van begrip te ontmasker. Miskien sal dit help om ons in die skoene van iemand in die skare
te stel. Gestel ek sou ver gereis het
om na Jesus te kom luister want ek is ten minste half oortuig dat hierdie man
die Messias is. Ek vind nou dat ek geen
snars verstaan van wat Hy sê nie. Dit
bring my voor 'n keuse. Óf daar is iets
fout met Jesus as spreker óf daar is iets fout met my as luisteraar; ek het óf
'n fout gemaak deur hom as Messias te beskou, óf daar lê vir my ernstige
selfondersoek voor oor hoekom ek Hom nie verstaan nie.
Die wyse waarop ek hierdie dilemma gaan oplos, gaan aantoon Wie of wat
die sentrum van my lewe is. Indien ek
self die hoogste gesag in my lewe is, dan gaan ek hierdie Messias as 'n bedrieër
beskou en teleurgesteld huiswaarts koers kies.
Op hierdie manier word die een wat self die gesag in sy lewe is se
bietjie geloof weggeneem.
Indien geloof in Jesus - vertroue in Hom en sekerheid dat Hy die Messias
is - die sentrum van my wese is, dan sal daardie oortuiging my optrede
bepaal. Eerder as om my
geloofsoortuiging in Jesus te laat vaar, sal ek eerder die probleem in myself
soek. Op die manier sal aan dié wat het,
gegee word.
As ons verstaan dat Jesus met gelykenisse ons wil laat sien waaraan ons
ons harte opgehang het, dan kan die gelykenis van die saaier dalk opnuut vir
ons iets beteken. Vir hulle wat besluit
het dat die fout by hulleself lê, is die gelykenis 'n uitnodiging en 'n riglyn
wat kan help in die proses van self ondersoek wat tot bekering en hernieude
dissipelskap kan lei.
Daarom moet ons vra na ons eie dissipelskap. In welke mate het beredeneerde kennis en abstrakte beginsels die
persoonlike verbintenis aan die lewende Here uit die sentrum van ons lewe
gestoot? Beteken dissipelskap net
instemming met die regte leer? Beteken
dissipelskap net om moreel-eties goed te leef?
Is dit al vrug wat die woord in my lewe dra?
En as die vrug ontbreek, waar lê die fout? Dalk moet ek aan die hand van die gelykenis begin vra na wat die
struikelblokke is. Miskien kan Jesus se
beelde die struikelblokke vir sy woord in my lewe ontmasker. Om waarlik te luister na die gelykenis vra
dat ons ons daarin sal inleef, sal ontdek; vra dat ek sal ondersoek doen na die
voëls wat die saad wegraap; dat ek die onkruid sal definieer; dat ek die diepte
van my verbintenis sal ondersoek; dat ek die Bose nie sal toelaat nie. Voordat ek nie dit gedoen het nie, het ek
nog nie die gelykenis gehoor nie.
Op die manier kom die woord van die koninkryk in my lewe te lande. Op die manier val die saad op vrugbare
grond. Op die manier dra dit vrug.
Wie ore het, moet
luister.
Gerhardsson, B 1968 . The parable of the sower and its interpretation. New Testament Studies 14, 165-93. Noordmans, O 1980. De Zaaier in Verzamelde Werken VIII, 112-5. Kampen: Kok. Smit, D J 1987. Die prediking van die gelykenisse in die evangelies, in Burger, C W, Müller, B A, & Smit, D J [reds.], Woord teen die lig II/2: Riglyne vir prediking oor die gelykenisse en wonderverhale, 11-26. Kaapstad: Lux Verbi. Theron, P F 1987. Markus 4: 1-20, in Burger, C W, Müller, B A, & Smit, D J [reds.], Woord teen die lig II/2: Riglyne vir prediking oor die gelykenisse en wonderverhale, 93-103. Kaapstad: Lux Verbi. Tolbert, M A 1989. Sowing the Gospel: Mark’s world in literary-historical perspective. Minneapolis: Fortress.